Читать книгу Periandros van Korinthe - D.J. Opperman - Страница 7

TWEEDE TONEEL

Оглавление

Periandros en Melissa in hulle slaapkamer, waarin die sederkis nou staan.

PERIANDROS

En hierdie kissie vol albasterpotjies? Hierdie keur

van al die olies en reukwaters van die fynste geur?

MELISSA

Pas op, moenie ’n druppeltjie daarvan uitmors!

Dis palmolie vir die wange, die ronding van die bors,

tiemie vir die keel en knieë, en die donkerbloue

is ’n marjolein vir hare, wimpers en wenkbroue,

die kruisement is vir die arms, en die soete

vir die heupe, die mirre vir die bene en die voete …

PERIANDROS

Ja, ja! Maar wie het nogal dié vermetele en duur

present agter my rug so stilletjies aan jou gestuur?

Is dit dié keer dik Ganguloon, ons oliekoning,

wat nou selfs instink tot die binnekamers van my woning?

MELISSA

Toe nou, toe nou! Keer tog net die woede;

jy is verniet jaloers en altyd op jou hoede.

Ja, ek het dit van ’n ander man, ’n fyn jong man …

van Lukophroon die aand voor sy vertrek ontvang!

PERIANDROS

En soos gewoonlik ons verhouding weer met hom bespreek

en skimpend hom so stilweg teen sy vader opgesteek.

MELISSA

So ’n beskuldiging het ek nog nooit verdien.

Hy het self ore om te hoor en oë om te sien.

PERIANDROS

Met dié geskenk sterk hy jou in jou kwaad: al die rokke

en reukwaters waarin jy sweef om ander mans te lok.

MELISSA

Maar waarom nie van ander mans die aandag soms ontvang?

Jy stel mos min in my of in jou eie huis belang.

Wanneer ons tuis as ’n gesin probeer vergader,

vind ek in jou geen eggenoot, die kinders ook geen vader,

maar altyd die heerser of die kunstenaar wat praat,

praat, praat … oor die Skone, oor die Wyse, oor die Staat …

die man wat skaars aan eie vrou en kinders aandag skenk

maar net belang stel in die hoë en die helder denk.

En as Kuupselos miskien die kamer binnestap

met sy ou kou en kwarteltjie is jy klaar omgekrap,

maar met die grootste stommerik van ander mense

ken jou bedagsaamheid en jou geduld geen grense.

En elke keer wanneer jy daardie seun afjak,

voel ek dat jy so onderlangs na my as moeder kap.

PERIANDROS

Melissa, ek het van jou tog meer begrip verwag

as die uitvaar oor foefies en betoë om aandag.

Maar al sou ek sondig, hoef jy nog nie met rokke

en reukwaters losbandig op die feeste ander mans te lok.

MELISSA

Nee, ek moet altyd vir my heer en meester leef,

en praat ’n ander man met my, dan kyk jy skeef.

Ek herhaal, soos dikwels: ek lok geen ander mans,

dis jy wat altyd eis dat ek moet geur en glans,

en kom bewondering, dan kom ook jou verwyt.

Jy en jou stad vertroetel die losbandigheid.

Jy versamel in Korinthe professionele boemelaars

wat hulself wysgere noem en groot kunstenaars;

wat strewe om gewone dinge altyd slim te sê –

dit smul en suip en skimp om langs mekaar te lê.

Jy rig ’n standbeeld en ’n silwertempel op ter ere

van die huwelik en die jaloerse, trotse Hera,

maar andersyds het jy die grofste slet beveilig,

selfs haar bestaan deur Aphroditee gewettig en geheilig.

PERIANDROS

Melissa, die heerser van ’n vrye en volwasse staat

moet die bestaan van elke soort daarin toelaat.

Ek het matrose en soldate, ander manne wat hard werk,

en raak die beloning in hul eie huis miskien beperk,

of ontbreek ’n eie huis, moet hulle nog die brame van geluk

by die gasvrye vroue van Korinthe kan gaan pluk.

MELISSA

Dis presies net wat ek sê! Jy troetel die losbandigheid,

maar my wil jy met Ganguloon en de joos weet wie verwyt.

Jy vereis van my: ek moet altyd kuis en keurig wees,

maar jy flankeer met ander vrouens op elke fees,

en sonder dat jy juis ag slaan op die fatsoen

vind jy regverdiging vir alles wat jy sê en doen.

PERIANDROS

Ek het vermoed waarna jou baie woorde stadig voer

en sien alreeds die skerpioene onder klippe loer.

MELISSA

Maar hoe sal ek ooit die vernedering en al die leed

wat jy met die klein Sappho my aangedoen het, kan vergeet?

Omdat sy ook gedigte skryf, kon julle vrylik praat

oor hoër dinge en was kamma net geestelike maats!

PERIANDROS

Ek het jou gesmeek: vergewe en vergeet. Probeer!

Ek kon die liefde toe, soos nou vir jou, nie keer.

MELISSA

Mens kan die skerwe van die gebreekte kruik vaslym,

maar die vertakte bars sal nooit daaruit verdwyn.

PERIANDROS

Moet jy my altyd weer aan dié geval herinner?

Selfs die straf van ’n misdadiger word daeliks minder.

MELISSA

Alles het om my verander, niks is soos dit hoort;

die dae sleep hul in verbittering en pyn net voort.

PERIANDROS

En nou wil jy jou op my wreek: met al die rokke

en skerp reukwaters ander mans na jou toe lok.

MELISSA

Al doen ek selfs ook dit, die polsing van die pyn

kan onder so ’n rok nie uit die hart verdwyn.

PERIANDROS

Asseblief, Melissa, laat ons wedersyds mekaar vergeef

en weer opreg probeer, soos vroeër, as bemindes leef.

MELISSA

Jy my vergeef? Jy is jaloers al bly ek my gedra

dat jy geen rede het om ooit te kla.

PERIANDROS

Ag, dit kom maar altyd, altyd terug op die verwyt,

waarop ek altyd net kan sê: Melissa, ek het spyt.

MELISSA

Jy vergeet: deur jou mag as heerser, krag as kunstenaar

word die bose van die mens in jou ’n dubbele gevaar.

Jy steur jou nie daaraan dat jy ook geen gedig meer skryf,

maar gee jou nou vrylik oor aan die leë, vuil bedryf

al óm die kuns: die klets oor kuns en brassery …

PERIANDROS

Ek wil en kan nie met jou oor dié sake stry,

want ek is radeloos gevange in ’n soek na prikkels

dat ek as digter en as heerser verder kan ontwikkel;

en daarom smeek ek jou tog asseblief om geen verwyt,

maar help my, help my teen myself in hierdie stryd.

MELISSA

Maar hoe kan ek jou help of iets vir jou beteken

as jy jou dade keer op keer tot my vernedering bereken?

PERIANDROS

Jy herhaal, herhaal! Jy maak my mal en radeloos!

Jy sien in alles wat ek doen en sê iets boos.

Ek is heerser en as ek jou miskien nie meer bemin,

dan volg ek sonder vrees vir iemand net my eie sin;

maar met so ’n mag wys ek dat ek jou nog verkies,

en vra vergifnis en hulp … Ag! jy maak my vies.

MELISSA

Dit spyt my, Periandros. So erg het ek dit nie bedoel,

maar ek wou tog hê jy moet begryp hoedat ek voel.

PERIANDROS

’n Man se liefde wil ook nie altyd sy volle aandag verg,

en met die jare raak dit al hoe meer verberg.

MELISSA

Ek vra nie dat jy jou liefde altyd moet bewys,

maar in ’n verhouding is getrouheid tog die eerste eis.

PERIANDROS

Melissa, ek belowe dan vanaand ek sal opreg probeer.

MELISSA

Jy maak my nou verleë … en van die vreugde seer.

PERIANDROS

Word dit ons tweede bruilofsnag?

MELISSA

As jy my so bemin,

kan ons twee weer, my lief, probeer van voor begin.

PERIANDROS

Smeer tiemie aan die keel en knieë, die soete

aan die heupe, mirre aan die bene, aan die voete …

Gordyn

Periandros van Korinthe

Подняться наверх