Читать книгу Armblankes - Edward-John Bottomley - Страница 5

Оглавление

Inleiding


Dít is die verhaal van die grootste towerkunsie ooit.

Terwyl die mindere towenaars van die geskiedenis – die alchemiste van die Middeleeue en hul moderne eweknieë in moderne Las Vegas – doodgelukkig was om lood in goud te probeer verander of ’n olifant te laat verdwyn, het die goëlkunstenaars van Afrika ’n hele volk uit niks geskep.

Met die grond van Suid-Afrika, waar wind en weer op hierdie verhoog hul merk gelaat het, het hierdie towenaars ’n geharde ras in die lewe gebring – ’n taai groep boere en jagters – en hulle ’n kultuur gegee. Van liedere en taal voorsien. Hulle in hoede en kappies geklee. ’n Geskiedenis, ’n tuiste en ’n land gegee wat hulle hul eie kon noem. En aan hulle die geskenk van wit velle en steil hare gegee.

Maar dit was net die eerste deel van die towerkunsie. Terwyl die mense trots op die verhoog gestaan en buig het, het die gordyn gesak. ’n Tromgeroffel, ’n flitsende lig, ’n knal en ’n bol rook. Toe die gordyn weer opkom, het baie van dié op die verhoog verdwyn. Verstommend genoeg het niemand het dit agtergekom nie.

Dit was eers baie later, nadat die towenaars self verdwyn het, dat die gehoor dit besef het. Baie van dié wat verdwyn het, het teruggekeer. Die gehoor het begin sien dat die ander nooit regtig verdwyn het nie. Hulle was heeltyd daar.

Hierdie verhaal vertel hoe die towenaars hul toertjie uitgevoer het. Belangriker nog, dit is die verhaal van hoekom hulle besluit het om dit uit te voer. Dit is nie die volle verhaal nie. Dít sal baie jare en baie boeke verg, maar dit is ’n storie.

Hierdie besondere verhaal eindig – as daar gesê kan word dat dit wel eindig – in omstreeks 2010, toe Suid-Afrika die grootste sportgeleentheid ter wêreld aangebied het – en die wêreld-kollig weer eens op die jong demokrasie geskyn het.

Meer as 15 jaar ná sy eerste volledig demokratiese verkiesings betree Suid-Afrika wat sommige kommentators ’n ‘tweede wittebrood’ met die wêreld gedoop het. Die hernieude aandag het iets van ’n herontdekking van die land deur die internasionale pers tot gevolg gehad. Die nuusdiens Reuters, byvoorbeeld, was veral geïnteresseerd in die verskynsel van wit armoede in Suid-Afrika.

In ’n land wat so deur wit bevoorregting en die kragdadige handhawing van wit baasskap gedefinieer is, is die voorkoms van akute wit armoede as besonder nuuswaardig beskou. ’n Fotograaf met ’n Pulitzer-prys agter sy naam het opdrag gekry om ’n foto-essay oor die ‘nuwe’ armblankes saam te stel, waarop wye kommentaar vanuit Suid-Afrika en die res van die wêreld gevolg het. In ’n onderhoud met The New York Times het die fotograaf, Finbarr O’Reilly, benadruk dat wit armoede in Suid-Afrika ‘nie ’n nuwe verskynsel is nie, maar dit lyk of die getalle meer opvallend is as wat dit in die verlede was’.1

Dit was nie die eerste keer dat The New York Times oor dié kwessie verslag gedoen het nie. ’n Dekade vroeër het die koerant iets soortgelyks gepubliseer, waarin opgemerk is dat ‘om ’n wit man in Suid-Afrika te wees, het vantevore ’n vaste werk, ’n huis, ’n motor, ’n sekere aansien beteken. Vir ’n oorweldigende meerderheid van wit mans is dit steeds die geval. Maar vir ’n toenemende aantal wittes is daar ontstellende nuwe werklikhede’.2

In die Reuters-artikel wat O’Reilly se foto’s vergesel, word gemeld dat ‘onder apartheid, wat in 1948 ingestel is, wittes wye beskerming en beskermde arbeid geniet het. Die swakste en mins opgevoede is beskerm deur die staatsdiens en nywerhede in staatsbesit wat as werkskeppingskemas gefunksioneer het, (en) wat selfs die armste wittes van ’n huis en lewensonderhoud verseker het’.3

Daar was gemengde Suid-Afrikaanse reaksie op O’Reilly se foto’s. Die invloedryke nuuswebwerf Daily Maverick het byvoorbeeld gefokus op die probleem van armes se essensialisasie volgens ras, maar wend geen poging aan om historiese konteks te bied nie.4

Dié ‘nuwe’ wit armoede word as vanselfsprekend aanvaar. Hoewel hierdie artikels impliseer of reguit sê dat wit armoede in Suid-Afrika ’n nuwe verskynsel (of nou meer akuut as ooit is), is dit eenvoudig verkeerd. Geen melding word gemaak van wat voor apartheid gebeur het nie.

’n Vreemde vorm van kollektiewe geheueverlies bestaan wat Suid-Afrika se ‘armblankes’ betref. Dié geheueverlies is opsetlik en is oor jare tot stand gebring met die onuitgesproke instemming van Suid-Afrika se heersende klasse.

Wittes word spesifiek uitgebeeld asof hulle nooit arm was nie, of as synde groot getalle van hulle beslis nooit arm was nie.

Tydens die eerste dekades van die twintigste eeu het die ‘armblankeprobleem’ egter só ’n omvang aangeneem dat dit die uitslag van nasionale verkiesings beïnvloed het. Dit was van kardinale belang vir die standaardisering van rasseverhoudinge in Suid-Afrika en die uiteindelike instelling van apartheid. Die armblankeprobleem is allermins ’n nuwe kwessie. Dit was instrumenteel in die skepping van ’n hele volk en wesenlik vir sy identiteit.

Hierdie mense is die Afrikaners, meestal van Hollandse afkoms, wat ’n eeu gelede die meerderheid van arm wittes uitgemaak het en, so wil dit voorkom, ook die meerderheid van arm wittes vandag. Tussen die 1880’s en 1939 het ’n reeks natuurrampe, oorloë en ekonomiese insinkings die Afrikaners in grootskeepse armoede gedompel. In 1916 het die regering byvoorbeeld geraam dat daar meer as 121 000 arm wittes was.5 Teen 1924 het minstens ’n kwart van Afrikaners in die armblanke-kategorie geval en teen 1930, toe die Groot Depressie sy tol begin eis het, was sowat 300 000 – ’n derde van alle Afrikaners – ‘absoluut armlastig’.6

Daar was egter nooit sekerheid oor die getalle nie, en volgens sommige ramings het die aantal ‘verarmde’ wittes teen 1932 meer as die helfte van die Afrikanerbevolking beloop. Dit is ’n verstommende getal.

Minder as ’n eeu gelede was Afrikaners nie bekend vir apartheid of wit bevoorregting nie, of vir hul gerieflike voorstedelike huise met swembaddens, veiligheidsalarms en Sondag-plesierritte nie.

Nee – minder as ’n eeu gelede was Afrikaners bekend vir hul armoede, as mislukte boere en agterplaasbewoners.

Die armblankes het aanvanklik meestal op die platteland gewoon, maar met die ontdekking van diamante en goud het die toenemende industrialisasie van Suid-Afrika daartoe gelei dat groot getalle arm wittes na stede gestroom het. Dié stedelike armes het grootliks bepaal hoe die staat en die onderskeie regerings die probleem probeer takel het. Die spoedige groei van veelrassige krotbuurte, veral in die mynstad Johannesburg, het problematies geblyk te wees vir die koloniale owerhede wat daarop ingestel was om wit aansien te handhaaf.

Die armblankebevolking, 1908–19327

Jaar Raming Deel van wit bevolking Deel van Afrikanerbevolking
1908 35 000 2.8% 5.2% (in Suid-Afrika)
8.0% (in Transvaal)
1916 106 518 7.7% 14.3%
1921 120 000 7.7% 14.4%
1923 160 000 12.5% 20.0%
1924 223 333 13.8% 25.0%
1932 300 000 armblankes 16.1% 28.8%
en 300 000 uiters armoedig 32.2% 57.7%

Selfs nou spook armoede by Suid-Afrika. Die projekte wat van stapel gestuur is en die politieke speletjies wat gespeel is om arm wittes se guns te wen, het ’n groot rol gespeel om die rasseverhoudinge en ekonomiese landskap van die moderne land te vestig. Die wit armes van vandag word steeds in die hoeke van die samelewing bespeur. Mans met ou klere wat by treinvensters uitleun, rokend en starend. Tussen taxi’s wat musiek na verbygangers slinger. In die helder sonskyn. Agter vroue wat trots die sheriff-kenteken van die Zionist Christian Church vertoon. Coca-Cola-tekens. Shoprite. Die soet, snuffelgeur van braaiende vleis en warmgebakte lug. ‘Oom, kan ek jou kar was, Oom?’ Hy sit ’n pet op, gaan sit dan weer om na iets ver weg te staar. Geroeste motorwrakke in klein erfies. ’n Vuil woonwa. ’n Klein kaia. ’n Skraps gemeubileerde wit kamer. ’n Geborduurde lap met die woorde ‘God is Liefde’.

In die aande gloei die neon bo die straathoeke van die stad. In die skaduland onder die Hotel 224 hang hulle rond, of praat, of rook, of bid, of slaap in deuropeninge. By verkeerskruisings met ’n klein, verweerde teken, lelik geskryf. ’n Arm swart mens in soortgelyke omstandighede sal min, of vlugtige, simpatie ontlok. ’n Arm wit mens in Rome of Londen sal nie opgemerk word nie. Maar in Suid-Afrika veroorsaak dit ’n kort, skerp pyn in die bors. ’n Mengsel van ongerigte hartseer en gerigte jammerte sak soos ’n kombers oor die waarnemer. Vanwaar dié reaksie?

In sy outobiografie het Nelson Mandela oor dieselfde vraag nagedink:

Terwyl ek een dag in die stad loop, sien ek ’n wit vrou in ’n afvoersloot wat aan ’n paar visbene knaag. Sy is arm en skynbaar haweloos, maar jonk en nie onaantreklik nie. Ek het natuurlik geweet dat daar arm wit mense is, wittes wat net so arm is as Afrikane, maar jy het hulle selde gesien. Ek is gewoond daaraan om Afrikaan-bedelaars op straat te sien, en was ontsteld om ’n witte te sien. Hoewel ek gewoonlik niks aan Afrikaan-bedelaars gee nie, word ek oorval met ’n drang om aan die vrou geld te gee. Eers toe besef ek die streep wat apartheid my trek, want die daaglikse geswoeg van Afrikane word as vanselfsprekend aanvaar, terwyl my hart onmiddellik uitgaan na dié verslonste wit vrou. In Suid-Afrika was dit normaal om arm en swart te wees, maar arm en wit was ’n tragedie.8

Die verhaal van die armblankevraagstuk is die verhaal van die evolusie van armblankes tot ‘suiwer blankes’ tot ‘wit gemors’ en dit begin in 1885 met die totstandkoming van Johannesburg en die lang rye armes op pad na die stad en sy myne. Dit was nie ’n Afrikanerprobleem nie – aanvanklik het die koloniale Britse regering wat oor Suid-Afrika toesig gehou het, dit gehanteer. Die arm wittes het krotbuurte gevestig baie soos die oorwegend swart townships van vandag. Dit was in dié buurte waar die staat hulle gedefinieer en ontdek het, en studies deur verskeie ‘kundiges’ aangevra het om dié nuwe verskynsel te verklaar. Later is die armblankevraagstuk in die belang van rasse-superioriteit deur instrumente soos segregasie ontplooi. Die Afrikaner-nasionaliste9 het ernstig in die armblankes belang gestel en hulle gekoöpteer in die etniese verbeelding van die ‘nuwe’ Afrikanervolk. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die staat daarin geslaag om die armblankevraagstuk op te los, al was dit tot reuse-nadeel van die ander rasse, en die arm wittes het uit sig verdwyn, weggesteek in enklaves van armoede waar hulle geleer is hoe om soos behoorlike blankes op te tree. Dit is eers onlangs, ná die demokratiese verkiesings van 1994, dat die arm wittes weer opduik. Maar die wêreld het aanbeweeg en die ‘armblanke’ het ‘wit gemors’ geword – bedelaars, diewe en swendelaars. Laeklas, ingeteel, gewelddadig en dronk. Nie liefdadigheid waardig nie en ’n vermorsing van enige welwillendheid aan hulle.

Hierdie is die armblankes se verhaal, maar ’n mens moet altyd in ag neem dat swart armoede in Suid-Afrika altyd ernstiger was en is. Enige poging om die situasie van die armblankes te verbeter, het swart Suid-Afrikaners noodwendig benadeel, en het op hul wreedaardige onderdrukking onder apartheid uitgeloop. ’n Fokus op die arm wittes negeer nie die ongeregtighede van ’n regime wat van sy koloniale oorsprong tot by die nasionalistiese era rassisties was nie. Inteendeel, dit is nie moontlik om die historiese onderdrukking van swart, Indiër- en bruin Suid-Afrikaners te verstaan sonder om die verhaal te hoor van hul arm wit eweknieë en die konstruksie van ’n wit samelewing waarin nie-wit armoede tipies geïgnoreer is nie. Tog was die armblankes en die armblankeprobleem deel van die materiaal wat gebruik is om Suid-Afrika te bou, net soveel as goud en bakstene, diamante en steenkool, en hul verhaal – daardie ongelooflike towerkunsie – verdien om vertel te word.

Armblankes

Подняться наверх