Читать книгу Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe) - Eleanor Baker - Страница 5

Оглавление

Inleiding tot Die kwart-voor-sewe-lelie as roman

LEESGIDS

Terwyl poësie en drama al van die tyd van die antieke Grieke af in skriftelike vorm gedy het, het die verhalende prosa eers heelwat later ontwikkel.

Die woord “roman” is in die twaalfde eeu gebruik om ’n onderskeid te tref tussen werke in die volkstaal (Romaans) en dié in Latyn (die formele taal vir opgevoede mense in die Middeleeue) – by implikasie dus ’n werk wat meer “populêr” is. Vanaf die dertiende eeu word die term gebruik vir avontuurlike vertellings, totdat dit later algemeen gebruik word vir enige lang fiktiewe prosawerk. Die roman, as die belangrikste eksponent van die verhalende prosa, het in werklikheid maar eers in die afgelope paar eeue ontwikkel. Cervantes se Don Quijote (1605) word gewoonlik beskou as die eerste roman in die moderne sin van die woord (Smuts 1998). Die roman as genre se gewildheid het toegeneem in die agtiende eeu, met die werke van Engelse skrywers soos Daniel Defoe, Samuel Richardson en Henry Fielding.

Die kernelemente van ’n roman is karakters, tyd, ruimte en gebeure. In elke roman figureer karakters wat aan tyd en ruimte gebonde is. Binne ’n bepaalde tyd en ruimte is daar iemand wat besig is om iets te doen of aan wie iets gedoen word. ’n Organisasie van die gebeure lei tot ’n verhaalplan of intrige.

In Die kwart-voor-sewe-lelie herken die leser elemente van die ou familieroman, die negentiende-eeuse Engelse roman en die liefdesverhaal, maar Eleanor Baker speel eintlik met hierdie konvensies.

Charles Dickens se Great Expectations en Leo Tolstoi se Anna Karenina is voorbeelde van die familieroman uit die wêreldletterkunde. ’n Familieroman bevraagteken die betekenis van familie, dit kyk na verhoudinge binne gesinsverband en dan breër na die familie as deel van die sosiale wêreld. Die kwart-voor-sewe-lelie gaan oor die wel en wee van ’n stadsgesin wat bestaan uit ’n vergeetagtige ma, ’n gemoedelike pa, die hoofkarakter, Iris, en haar twee susters, Elsa en Kara, hul “Hollandse” hond, ’n huishulp wat presies weet wat sy wil hê en ’n buiteaardse beskermengel met ’n aardse humorsin.

In hierdie roman word daar op fyn ironiese wyse gespot met die stereotiepe gesin. Ma is die vergeetagtige, niestereotiepe huisvrou/moeder wat as ’t ware in ’n wêreld van haar eie woon (wat hoofsaaklik die tuin insluit). Sy is nie soos die meeste ma’s die bewaker van haar dogters se sedes nie en sy laat haar man toe om alleen te gaan boer en sluit eers jare later by hom aan. Iris se oudste suster, Elsa, kies aanvanklik ’n konvensionele lewe: ’n man, huis, kinders, maar dinge verloop ook anders as wat sy verwag het. Hul suster Kara wil aanvanklik ’n non word, maar wanneer sy die aantreklike donker Claude in die vreemde ontmoet, verloop ook haar lewe anders as verwag. Die Suid-Afrikaanse situasie tydens die apartheidsjare beïnvloed nie een van die familielede negatief teenoor Claude nie. Johanna, die inwonende huishulp wat nooit haar eie kinders gehad het nie, vervul die rol van die moeder in die gesin. Sy maak die kinders groot, voed hulle, onderskraag hulle emosioneel en help ook later om Elsa se kind groot te maak.

Jane Austen, Baker se gunstelingskrywer, is seker die bekendste eksponent van die negentiende-eeuse Engelse roman. Alhoewel essensieel komies en satiries, onderstreep Austen se storielyn dikwels die vrou se afhanklikheid van die huwelik ter wille van sosiale status en ekonomiese sekuriteit. In Die kwart-voor-sewe-lelie aanvaar die hoofkarakter, Iris, egter ’n “minderwaardige” werk omdat ekonomiese sekuriteit en sosiale status nie vir haar belangrik is nie.

Menige leser sal Die kwart-voor-sewe-lelie bloot as ’n liefdesverhaal lees, maar die roman is op twee vlakke gekonstrueer: die konvensies van die liefdesverhaal versus ’n ironiese blik daarop.

Blomme in ’n populêre liefdesverhaal dui gewoonlik op liefde of ’n dramatiese lewensinsig of karakterinkeer. In Die kwart-voor-sewe-lelie ironiseer die skrywer hierdie simbool. Die blom gaan “oombliklik” oop, so vinnig dat, sou Iris haar oë knip, sy dit sou gemis het.

Baker is goed bekend met die resep vir populêre liefdesverhale, want sy het onder die skuilnaam Christine le Roux haar pen aan ’n hele paar gewaag. Sy het egter in ’n stadium besluit om dit vir eers opsy te skuif omdat “dit ’n resepmatige genre (is) wat weinig uitdaging bied” (Lategan 2001).

Dit is interessant om Die kwart-voor-sewe-lelie te meet aan die algemene vereistes van die liefdesverhaalgenre (die vereiste is elke keer kursief gedruk) en na te gaan hoe sy dit op ’n geestige, ironiserende manier hanteer:

* Die leser wil identifiseer met ’n vurige en sterk heldin. Alhoewel sy ’n gesonde sin van ironie het wat sy gebruik om haarself as vrou te laat geld, kan die hoofkarakter, Iris, beswaarlik as die tradisionele vurige en sterk heldin beskou word. Van vroeg af het haar lewe die smaak van mosterd na die maal (Pakendorf 1989): niemand luister regtig na haar nie en haar susters se lewens lyk opwindender en interessanter as hare.

 •Die heldin se beroep is belangrik omdat die lesers wil lees oor die heldin wat haar roeping in die lewe gevind het. Alhoewel Iris ’n universiteitskwalifikasie het, het sy geen beroepsambisie nie. Tot almal se skok aanvaar sy die “nederige” werk as stoelassistente by ’n tandarts. Sy soek nie ’n uitdagende werk waarvan die konsentrasie inmeng met haar romantiese fantasieë nie. Sy sou ook ’n posbode of buskondukteur kon wees.

 •Alhoewel die held ’n sterk persoonlikheid het, verstaan hy die heldin se diepste behoeftes en menswees. Peter het geen benul hiervan nie. “Omdat ek geen idee het hoe jou kop werk nie.”

 •Die held en heldin moet voortdurend kontak hê. Iris en Peter sien mekaar bitter min: hulle ontmoet by ’n partytjie, hy kom drie weke daarna vir haar kuier en die volgende jaar besoek hy haar tydens ’n drie weke vakansie terwyl hy in Amerika studeer. Tussenin is daar geen kontak nie en sy is elke keer verbaas as sy hom sien, asof hy toevallig in die omgewing is.

 •Die romanse is karakter- en emosioneel gedrewe en seks speel eers teen die einde ’n rol. Die “uitgestelde begeerte” is ’n belangrike konsep by die skryf van ’n populêre liefdesverhaal. Met Iris en Peter se eerste ontmoeting gaan hulle tot die seksuele daad oor, so ook die tweede en derde keer dat hulle mekaar sien. Dit is duidelik dat emosie glad nie ’n rol speel nie, veral nie by Iris nie.

 •Die held en heldin moet botsende idees oor bepaalde kwessies hê, bykomend tot die emosionele konflik. Omdat daar so min kontak is, is daar min geleentheid vir botsende idees. Die enigste voorbeeld is wanneer Peter nie saamstem oor haar toekomstige modelloopbaan nie en sy dan sommer goedsmoeds toegee (heeltemal teenstrydig met die konvensies van populêre liefdesverhale).

 •’n Gelukkige einde. Alhoewel Iris en Peter trou, ervaar die leser nooit ’n “and they lived happily ever after”-einde nie. Iris vra nog op haar troudag vir die Engel of sy die regte ding doen. Sy leer ook dat die lewe nie ’n storieboek is nie.

 •Lesers hou van eksotiese bestemmings. In plaas van ’n romantiese wittebroodsbestemming moes Iris die volgende dag assisteer by ’n moeilike stukkie kaakchirurgie. Ook New York en die sneeubedekte Vermont wat sy saam met Peter besoek, word as onromanties uitgebeeld. Peter was nie daar om haar met ope arms in New York te verwelkom nie en die hotelkamer was leeg en gemeubileer in hotelkleure met twee enkelbeddens.

 •Populêre liefdesverhale het dikwels ’n derdepersoonsverteller waar die hoofkarakter die fokalisator is (dinge word vanuit haar perspektief beskou). In Die kwart-voor-sewe-lelie is daar ’n eerstepersoonsverteller aan die woord en die komplekse hantering van die vertelinstansie behoort die leser reeds te waarsku dat hier meer op die spel is as in ’n populêre verhaal. Die verteller het ’n ligte, satiriese aanslag.

Dit is duidelik dat Baker ’n dieper dimensie aan die klassieke grondpatroon van die populêre liefdesverhaal gee en juis hierin lê die werklike leesavontuur vir die leser opgesluit. Hambidge noem dit “’n ironiese sousie wat die kenmerkende romantiek van die damesroman opstuur” en meen dat Baker goël met konvensies van die ontspanningsverhaal (Hambidge 1999). Brink sê dat sy die liefdesverhaal slegs as ’n voorwendsel en as ’n uitgangspunt gebruik. Hierdie vernuftige omgang met die konvensies van ander genres is natuurlik ’n tendens van die postmodernisme.

Baker se speelse omgang met populêre genre-, styl-, karakteriserings- en ander tegnieke kom ook in haar ander werk voor. In Weerkaatsings omskep sy die vorm van die Mills & Boone-sprokie vernuftig. In Dossier van ’n gyseling omvorm sy die uiterlike eienskappe van die spanningsverhaal so dat die allerfynste menslike interaksies nagespeur kan word.

Die toeganklikheid sowel as veelvlakkigheid van haar tekste maak dat dit geniet kan word deur sowel die leser wat soek na ’n lekker storie as die fynproewer. Baker het sterk gevoel oor letterkunde wat té eksklusief is (Lombaard 2002). Haar standpunt was dat die Sestigers die Afrikaanse letterkunde té elitisties gemaak het. Met Die kwart-voor-sewe-lelie en Weerkaatsings wou sy dan ook die liefdesverhaal legitimiseer en die stigma verwyder dat liefdesromans nie noodwendig goeie letterkunde is nie. “Miskien omdat ek so ’n verterende leser self is en alles lees van kinderboeke tot geskiedenis tot pure ontspanning en dus hou van ’n boek wat nie net literêr gesproke ‘goed’ is nie, maar wat met sy storie en inhoud kan boei” (Prinsloo 1993).

Die-kwart-voor-sewe-lelie (skooluitgawe)

Подняться наверх