Читать книгу Speurhond Willem in New York - Elizabeth Wasserman - Страница 4
1
ОглавлениеBadtyd
“Was my, asseblief!”
“Hoe nou?” vra ek, stomgeslaan.
“Jy het goed gehoor wat ek vra. En borsel my ook, asseblief. Miskien kan ek van jou tandepasta leen?”
Is my hond siek? Ek voel aan sy neus om seker te maak. Ek het iewers gehoor dat ’n hond se neus droog en warm is as hy koors het.
Willem se neus is definitief nat.
Ek vee my hand aan my broek af en kyk hom bekommerd aan.
“Hoe so, Willem? Jy weet jy haat dit om gebad te word. Gewoonlik laat jy my net toe om jou te was as Ma dreig om jou na die Poedelplek te stuur.”
Dit is wat Willem die hondesalon noem. Eenkeer, toe ons belangrike kuiermense van my pa se werk gekry het, het my ma hom daarheen gevat. Ek sal nooit vergeet hoe boos hy was toe ons hom weer gaan haal het nie. Hy het ’n pienk strikkie in sy kuif gehad en die meisie het ewe trots vir Ma gesê: “There’s your lovely girl! You can have her back now, Mrs Senekal!”
Natuurlik kon Willem nie teëpraat in die hondesalon nie. Willem weet dat pratende honde ongewoon is, en sy taalgebruik alleen sou seker die arme dame ’n hartaanval gegee het.
Van toe af het ons ’n ooreenkoms: ek was hom elke tweede Saterdag, en borsel hom die Saterdag tussenin.
So bly ons uit die moeilikheid en Willem se natuurlike hond-aroma bly in toom. Soort van.
Maar vandag is Vrydag en Willem is laas week gebad.
“Gaan jy my nou bad of nie?” vra hy ongeduldig.
Ek kry hond se gedagte.
“Willem, is dit daardie wollerige enetjie af in die straat?”
“Moenie vir jou laf hou nie. Ek hét ’n meisie, al bly sy nou in Engeland. En hondewyfies hou in elk geval nie van geparfumeerde pierewaaiers nie.”
Ek voel weer aan sy snoet. Definitief steeds nat. Miskien het hy ’n ander soort siekte?
Ek sleep die plastiekbadjie op die agterste grasperk uit en gaan haal ’n gieter.
“Warm water, asseblief!”
Partykeer wens ek regtig Willem kon nie praat nie. Hy is soms erger as my ma. Doen dit, doen dat!
Hy klim sommer self in die bad. Ek gooi hom nat met die gieter en begin hom inseep.
“Wat gaan aan, Willem?” wil ek weet.
“Môreoggend elfuur moet julle my asseblief na die kerksaal toe vat. Daar is ’n hondeskou en ek het myself ingeskryf.”
“Wat?”
Nou is ek sommer diep bekommerd. Miskien moet ek my pa bel dat ons vir Willem veearts toe neem?
“Ek ís immers die mooiste hond in die voorstad. En die hond wat wen, se punte word vergelyk met die ander finaliste regoor die land, en die een met die hoogste telling verteenwoordig ons land op die Internasionale Hondeskou.”
“Wat waar gehou word?” vra ek nuuskierig.
“In New York.”
New York! Ek vryf sommer vinniger by die blote gedagte, en die skuimbolle spat.
Willem knyp sy oë toe van lekkerkry. Soos alle honde, kan hy nie ’n goeie rugvryf weerstaan nie.
“Maar Willem, die kans is baie skraal dat jy dit sal wen. Ek meen …”
“Jy meen wat?” vra hy stuurs.
“Wel, jy is ’n opregte hond, dink ek … miskien. Maar jy het nie papiere nie en jy is nie meer ’n jong hond nie.”
Dit is die mooiste manier waaraan ek kan dink om hom te herinner dat hy ’n optelhond is wat ons by die Dierebeskermingsvereniging gekry het, dat hy ongeveer sewe mensjare oud is en dus amptelik middeljarig is, en boonop ’n bietjie oorgewig is.
“Ek is ’n bloubloed-speurhond. Hulle sal gelukkig wees om ’n inskrywing soos ek te kry!”
Iets is nie pluis nie. Willem is windmakerig, ja. Hy is selfgesentreerd en onbeskeie. Maar inskryf vir ’n skoonheidskompetisie? Hý?
Nee.
“Willem, wat wil jy in New York gaan maak?” vra ek.
Hy antwoord my nie.