Читать книгу Speurhond Willem in New York - Elizabeth Wasserman - Страница 6
3
Оглавление,n Slang in die gras
“Hoe het dit gegaan?” vra my ma toe sy ons later oplaai.
My kop duisel nog steeds van verbasing. Kan die vroumens nie die reusebeker op my skoot raaksien nie?
“Ons het sowaar gewen, Ma!”
My ma snak na haar asem. Willem maak keel skoon op die agterste sitplek.
“Wel, Willem het gewen. Hy is nou amptelik die mooiste hond in die noordelike voorstede, met ’n goeie kans om gekies te word as die land se verteenwoordiger op die Internasionale Hondeskou.”
“Sowaar?” ’n Bestuurder lê op sy toeter skuins agter ons. My ma het vergeet om die motor in die regte rat te sit toe die robot groen word, seker van skone verbasing, en die enjin ruk dood.
Ek los haar eers so ’n bietjie uit sodat sy kan konsentreer. Wie het gesê vroumense is goed met meer as een ding op ’n slag doen?
Maar die goeie nuus het geen einde nie!
Laat Maandagmiddag kry my ma ’n telefoonoproep.
Willem beduie vir my ek moet die gehoorstuk in hulle slaapkamer gaan optel en afluister wat daar gesê word.
Ek kan die versoeking nie weerstaan nie.
“… die wenhond en sy versorger sal in een van die beste hotelle gehuisves word, en alle reëlings word deur ons getref.”
“Maar my seun is net twaalf jaar oud!”
“Dit is geen probleem nie, mevrou. Hy sal net so goed soos een van die skouhonde opgepas word. Ek wil u net weereens, namens die Komitee, hartlik gelukwens met u hond se voortreflike prestasie. Die punte wat hy in die kompetisie behaal het, was ver bo dié van enige hond in die res van die land, en dit maak hom ’n gemaklike wenner. Weereens veels geluk!”
Dit is sowaar Sibelius Sprok se hoogdrawende stem wat daar praat, en stadig sink die betekenis van wat hy sê by my in.
Is my doodgewone swart-en-wit gespikkelde spanjoel nou werklik die mooiste hond in die land?
Dan tref ’n nare gedagte my: Willem is alreeds so verwaand. Noudat hy sowaar die Suid-Afrikaanse Hondekompetisie gewen het, gaan ek nooit die einde daarvan hoor nie!
“Maar meneer Sprok,” protesteer my ma nog, “ek het nooit besef dat Adriaan se hond so raseg en besonders is nie?”
“Ja, ja, mevrou. Hy is miskien nie ’n baie aantreklike hond nie,” – ek giggel hardop en moet die gehoorbuis met my hand toedruk sodat hulle my nie kan hoor proes nie – “maar die kompetisie beoordeel vele dinge. Ons kyk na kondisie, karakter en uitsonderlikheid ook!”
Ja, dit maak meer sin. Kondisie: Willem is bietjie vet. Karakter: hy is selfgesentreerd en hardkoppig. Uitsonderlik: hy is ’n pratende speurhond wat al vele internasionale boewe aan die pen laat ry het.
Maar daardie laaste feite weet die beoordelaars natuurlik nie.
Nietemin, hy het sowaar gewen!
Ek plaas die gehoorstuk saggies terug en draai om na waar Willem my met ’n breë glimlag op sy hondebakkies sit en aanstaar. Sy stert swaai soos ’n eierklitser.
“Willem, ou brak, ek en jy gaan New York toe!”
* * *
“Onder geen omstandighede nie!” help my pa my dié aand aan die etenstafel reg. “Jy kan nie alleen New York toe gaan nie, dit is heeltemal buite die kwessie.”
“Maar Pa …”
“Dit help nie om daaroor te redekawel nie, Adriaan. New York is ’n groot stad, vol onheil en gevaar. Jy is eenvoudig net te jonk om dit alleen aan te durf.”
Ek jaag my ertjies in my bord rond met my vurk. As ek hom maar net kan sê waar ek al oral alleen was, selfs in die buitenste ruimte op die Internasionale Ruimtestasie, net ’n maand of wat gelede!
Willem lê en slaap by my voete onder die tafel. Dit lyk asof hy hom aan niks steur nie.
Dan kry ek skielik hulp uit ’n onverwagte oord.
“Werner,” sê my ma liefies, “dit is ’n wonderlike geleentheid vir hom. Dink jy nie ons piep hom te veel op nie? Hy word nou vinnig groot, jy weet.”
Ek dink nie ek hou daarvan om as “opgepiep” beskryf te word nie, maar my ma het ’n punt daar beet.
My pa sny sy aartappel met die onwrikbare uitdrukking op sy gesig wat sê: “Ek het klaar gepraat!”
Net toe lui die telefoon weer.
Gewoonlik antwoord my pa nie die telefoon nie, maar dit is asof hy besef hy sal bietjie orde en dissipline in sy huishouding moet herstel, en hy skuif sy stoel agteruit om dié keer self te gaan optel.
Ek en my ma hoor hom gedemp praat van sy studeerkamer se kant af. Ons loer onderlangs vir mekaar en eet stil-stil verder.
Na ’n rukkie kom hy terug. Sy oë blink en dit lyk sowaar asof hy liggies bloos. Hy gaan sit en kug effens voor hy verder praat.
“Nou ja toe! Dit was sowaar ons hoofdirekteur in Johannesburg. Ek het nog nooit eens die man ontmoet nie. Maar hy sê hy het in die koerant gelees van ons hond se prestasie en hy wou my net persoonlik gelukwens. Hy is blykbaar self ’n groot hondeliefhebber!”
“Dit is fantasties, Werner!” sê my ma. “Maar het jy hom gesê dat Willem ongelukkig nou nie verder in New York gaan deelneem nie?”
My pa kyk effens verleë af na sy ertjies.
“Die direkteur wil hê dat jy vir hom ’n foto van jou kampioenhond voor die aandelebeurs in Wall Street moet gaan neem, Adriaan.”
Dan sê hy vir my ma: “Miskien is jy reg, skattie. Ons piep ons seun te veel op. Miskien moet hy tóg maar gaan!”