Читать книгу Speurhond Willem en die diamantdiewe - Elizabeth Wasserman - Страница 6

2

Оглавление

Voorbereidings

Die ouers het oorgeneem. Vergaderings word saans in die skoolsaal gehou en lysies word afgerol oor wat die ma’s alles moet saamstuur. Mens sou sweer ons gaan maan toe.

Pouses staan die ouens en spog oor hoe goed hulle kan roei.

“Ek het eenkeer tussen drie krokodille deur geroei op my oom se plaas!” spog Bertus.

“Sowaar?” vra Carla.

“Ja, en die grootste een het so naby gekom dat ek hom met die roeispaan tussen sy oë moes slaan. Daardie krokodil het geskrik, hoor!”

Carla se mooi blou oë rek. “Maar daar is seker nie krokodille in die Oranjerivier nie?” vra sy benoud.

“Mens weet nooit,” sê Bertus en stoot sy bors uit.

Ek probeer planne maak om nie saam met Karel in ’n kano te beland nie. Karel is my beste vriend, maar hy is nie baie sterk nie en dit klink vir my of die roeiery soms rof kan raak.

“Adriaan, sal jy saam met my roei?” vra Carla skielik en fladder haar wimpers. Ek voel hoe die bloed in my gesig opstoot.

Ek prewel iets en die ander ouens lag.

Ek is veral opgewonde oor die uitkampery saans. Ek ont­hou hoe mooi die sterre was op Tromelin-eiland en wonder of hulle ook op die grens van Namibië so helder skyn. Hulle sê mos die sterre skyn helderder in die woestyn, ver weg van al die stadsliggies.

“Die gebied rondom die Oranjerivier is een van die belangrikste landboustreke in Suid-Afrika,” vertel meneer Schutte, ons aardrykskunde-onderwyser. “Terwyl julle daar is, sal ons julle op ’n toer neem na een van die groot druiweplase. Dit is klaar met die eienaar gereël. Natuurlik sal julle vroeg in die nuwe kwartaal ’n opstel oor die landbou van die Gariep moet skryf. Let dus op en leer wat julle kan!”

Die kinders kreun.

My ma gaan tekere asof ek nog nooit sonder lopende water en haar kookkos moes klaarkom nie. Hoe moet sy ook nou weet hoe ek en Willem moes leef toe ons voort­vlugtendes was in Europa? Om nie eens van die paar dae op die Internasionale Ruimtestasie te praat nie!

Maar my ma weet natuurlik van niks.

“Dit word koud in die aand daar, Adriaan,” beduie sy terwyl sy die rooi mus en die serp in my rugsak pak wat ek in New York gedra het.


Ek sug.

Willem lê in sy mandjie in die hoek van die kamer en snork. Willem lê net in sy mandjie wanneer my ma kyk, andersins slaap hy op my bed – reg in die middel daarvan!

Die boomhuis sou ’n goeie idee gewees het, dink ek. Dan kan ek soms ook ’n bietjie rus en vrede hê in my eie kamer.

Stuk vir stuk val al ons reëlings in plek.

Die skoolbus vertrek agtuur môreoggend en my rugsak is reg.

Speurhond Willem en die diamantdiewe

Подняться наверх