Читать книгу Speurhond Willem en die diamantdiewe - Elizabeth Wasserman - Страница 8
4
Оглавление’n Oproep om hulp
“Max is uit sy diepte met hierdie saak,” sê hoofkommissaris Servin oor die videoverbinding in die motor. Ons is op pad lughawe toe, en ’n klein televisieskerm teen die rugkant van die bestuurdersitplek van die swart motor projekteer sy beeld vanuit sy kantoor in Londen. Op sy lessenaar langs hom pryk ’n foto van Boris omring deur ses babahondjies. Hulle is al mooi groot en minstens drie van hulle trek beslis baie op Willem: Sherlock, Clouseau en Poirot. Die drie wollerige outjies, Laika, Belka en Strelka, lyk weer meer na hulle ma.
Ek het reeds alle gedagtes laat vaar om saam met my skoolgroep op die Oranjerivier te gaan roei. Ek is reeds weer vasgevang in die wêreld van aksie en intriges, die ander wêreld van my buitengewone hond: Speurhond Willem.
“Die afgelope jare was die diamantsmokkel-ding mooi onder beheer. Net ’n paar kleintjies het van tyd tot tyd voete gekry. Maar nou het dinge skielik verander en die diamantmyne loop sleg deur. Ons reken dat tot twintig persent van die diamante wat die afgelope maande gemyn is in die area wat voorheen as die Sperrgebiet bekend gestaan het, voete gekry het – veral van die groteres,” gaan die hoofkommissaris voort.
“ ’n Internasionale sindikaat?” vra Willem en loer na my, seker om te kyk of ek nou al belangstel in ernstige sake soos boewe, eerder as skooluitstappies.
“Vir seker. Dit is nie so maklik om die diamante verby die veiligheidsmaatreëls, wat van die modernste ter wêreld is, te smokkel nie. En om dit dan boonop uit die land uit te kry, is nie sommer iets wat elke Jan Rap en sy maat kan organiseer nie!”
“H’mm … dit sal nie maklik wees vir buitestanders om sonder hulp só suksesvol te wees nie. Dit ruik dus na ’n saak waarby van die werkers dalk betrokke kan wees. En wat word van die diamante wat uitgesmokkel word? Enige leidrade van julle kant af?” wil my slim hond weet.
“Gerugte wil dit hê dat van die Namibiese diamante op die swartmark in Amsterdam beland het, en sommige van hulle – spesifiek die gesogte pienk diamante – duik eensklaps in Rusland op.”
“Rusland?” vra ek verbaas.
“Ja, Adriaan. Die Russiese oliebaronne is ryk en spandabelrig en hulle is bekend vir hul smaak vir ongewone foefies. Pienk diamante is van die skaarsste, veral grotes soos wat mens in Namibië kry.”
“My paspoort!” onthou ek skielik net toe ons by die lughawe aankom. Ons is by Fisantekraal, ’n klein privaat lughawe. Ek twyfel of hier ’n doeane is, maar as ons in Namibië afklim, sal hulle ons seker nie sommer net laat deurstap nie.
Willem beduie na my voete en ek sien sy rugsakkie, dieselfde een wat hy op ons Europese avontuur gebruik het, op die vloer van die motor lê. Ek maak dit oop. Binne-in is sy beertjie, ’n krummelrige kolwyntjie en my paspoort. Ek vee die kolwyntjie-versiersuiker met my vinger van die buiteblad af en stop die paspoort in my sak.
’n Beechcraft Baron staan gereed op die aanloopbaan. Willem het laas Kersfees vir my ingeteken op ’n vliegtuigtydskrif wat nou elke maand by ons huis afgelewer word. Hy het natuurlik my pa se kredietkaart gebruik om dit oor die internet te doen, maar dit is sowaar ’n beter present as die legkaart wat ek by my ma-hulle gekry het.
Ek is mal oor vliegtuie en kan nou al die meeste soorte uitken. ’n Beechcraft Baron 58 is ’n gerieflike dubbelskroef-vliegtuig met ses sitplekke. Die Beechcraft kan tot 200 knope op ’n hoogte van twee kilometer vlieg, en … “Adriaan!” raas Willem. “Los nou jou vliegtuigery en bepaal jou aandag by die saak wat ons gaan ondersoek!”
Hy is reg. Ek het nie ’n woord gehoor wat hy en die hoofkommissaris vir mekaar gesê het nie.
“Ek praat eerder weer met julle wanneer julle daar is!” is hoofkommissaris Servin se laaste woorde voor ons satellietverbinding verbreek word.
Die donkerbril-agent trek weg en ek en Willem begin aanstap na die vliegtuig. Die loods sit reeds agter die stuurstang, besig om iets in ’n notaboek te skryf en met Vlugbeheer te gesels deur die stel oorfone op sy kop. Hy skakel die enjins aan en die skroewe begin draai.
Langs die vliegtuig staan ’n ou mannetjie in kakieklere. Hy lyk amper soos Livingstone self: wilde grys hare peul onder ’n kakie-laphoed uit. Die hoed het sulke materiaalflappe wat oor sy nek en ore hang, asof hy sonsteek probeer vermy. Sy hemp en kortbroek het soveel sakke dat dit lyk asof hy genoeg voorrade daarin sal kan ronddra om maande lank in die Namibwoestyn te oorleef. Dik wolsokkies is opgetrek tot onder sy benerige knieë en hy dra opryg-stapskoene met sole so dik soos die bande van kruiptrekkers.
Hy trek sy waterige blou ogies op skrefies teen die son en die wind wat die twee vliegtuigskroewe opskop en steek ’n vereelte hand uit om myne te skud.
“William Travis, prospekteerder!” skree hy bo die lawaai van die enjins.
“Adriaan Senekal,” antwoord ek en pomp sy hand entoesiasties. “En hierdie is my hond, Willem.”
Hy buk en skud Willem se poot.
Dit is ’n goeie begin. Willem is gesteld daarop dat hy met respek behandel moet word, selfs deur vreemdelinge.
Ons gooi ons rugsakke in die bagasieruim in die stert van die vliegtuig en klim in. Ons gordels is skaars vas, toe begin die Beechcraft al stadig in die rigting van die aanloopbaan beweeg. Die oorverdowende lawaai in die kajuit word harder soos die enjins gereed maak vir die aanloop. Dan flits die droë gras by die vensters verby, die loods druk die hefboom wat die flappe op die vlerke laat lig vorentoe en die vliegtuig styg op.
Ons is op pad!