Читать книгу Die dingesfabriek 3: Jannus en Kriek krimp - Elizabeth Wasserman & Astrid Castle - Страница 5

’n Spinnekop

Оглавление

“Kinders, maak julle boeke op bladsy sewentien oop,” sê juffrou Frot.

Dit ritsel in die klas soos die kinders na die regte bladsy blaai. Dit is Vrydag en buite skyn die son. Wie is nou lus vir skoolwerk?

Juffrou Frot vroetel in haar handsak en haal die kassie uit waarin sy haar leesbril bêre. Sy maak dit oop. Dan, skielik, weergalm ’n oorverdowende gil deur die klaskamer. Juffrou Frot gil so hard dat Jannus haar kleintongetjie agterin haar keelgat kan sien tril. Juffrou Frot gil so skril dat Kriek se oordromme ratel, net soos Huis Deurmekruis se vensters wanneer die donderweer om die Oostelike Toring blits.

Juffrou Frot gil, want oor haar tafel kruip daar ’n reusagtige, harige spinnekop. Die spinnekop was in haar bril se kassie!

Dries Doringkop proes van die lag. Kriek draai om en gluur hom aan.


Die spinnekopgrappie is duidelik Dries Doringkop se handewerk!

Kriek frons. Hoekom is seuns so simpel? Hulle dink dit is snaaks om mense skrik te maak. Jannus giggel. Hoekom is vroumense so simpel? Dit is maar net ’n onskuldige ou spinnekoppie.

Dries besluit dit is tyd om tot aksie oor te gaan en die held te wees. Hy trek sy skoen uit en storm op juffrou Frot se lessenaar af.

Sy gil steeds.

“Toemaar, Juffrou, ek sal hom doodslaan!” Dries mik met sy skoen.

“Nee!” skree Kriek en duik voor hom in. “Los hom uit!” Kriek is niks bang vir spinnekoppe nie!

Dries staan verbaas terug en laat sak sy skoen.

Hy kyk gedwee hoe Kriek ’n bondel penne en potlode uit ’n beker gooi wat op juffrou Frot se lessenaar staan. Die spinnekop hurk op die bladsy waarop sy die klaspunte van hulle aardrykskundetoets neergeskryf het. Hy is op ’n vreemde plek en hy weet nie waar hy kan wegkruip nie.

Kriek keer die beker oor die spinnekop om. Sy tel die bladsy op en dra dit versigtig weg, spinnekop en al.


Die ander kinders hou asem op.

Kriek dop die spinnekop uit in haar kosblik. Sy hou juffrou Frot se bladsy met die toetspunte eers oor die kosblik terwyl sy behendig ’n paar gaatjies in die deksel steek met ’n skêr. Dan maak sy die kosblik versigtig toe, terwyl sy die vel papier wegtrek.

Sy gaan sit juffrou Frot se beker weer op haar lessenaar neer en pak die penne terug daarin. Dan gaan sit sy weer op haar plek.

Die kinders klap hande. Juffrou Frot sug verlig.

“Wat gaan jy met hom doen?” fluister Jannus vir haar.

“Ek gaan hom huis toe vat,” sê Kriek. “Sy naam is Albertus.”

Kriek draai om en steek vir Dries tong uit.

Die dingesfabriek 3: Jannus en Kriek krimp

Подняться наверх