Читать книгу Die dingesfabriek 3: Jannus en Kriek krimp - Elizabeth Wasserman & Astrid Castle - Страница 6

Huiswerk

Оглавление

Later daardie dag ry die tweeling met hulle fietse terug huis toe.

“Dink jy hy gaan ’n goeie troeteldier wees?” vra Jannus vir sy suster terwyl hy koes vir ’n minibus wat skielik voor hom inswaai.

“Jy bedoel Albertus?”

“Ja,” hyg Jannus. Hy moet hard trap om sy suster weer in te haal.

“Albertus is ’n reënspinnekop. Hulle is heeltemal onskadelik.”

“Behalwe vir die hartaanval wat hy amper vir juffrou Frot gegee het!” lag Jannus. Dan raak hy weer ernstig: “Ma gaan jou kierankies laat braai oor jou kosblik se deksel wat jy vol gate gesteek het!”

“Ek glo nie,” sê Kriek. “Sy breek dan gedurig goed.”

“Soos die aartappelskiller wat sy nou die dag gebuig het toe sy dit gebruik het om die magasyn van haar masjiengeweer skoon te maak.”

“En die versapper wat sy opgeblaas het toe sy klonte uit haar kanonkruit wou haal.”

“En die gordyne in die woonkamer wat sy per ongeluk afgebrand het toe sy haar vlamgooier wou toets!”

Nee wat, ’n paar gaatjies in ’n kosblik is sommer niks nie.

“Is jy nie bang Meneer Snoek vreet vir Albertus op nie?” vra Jannus.

Daaraan het Kriek nog nie gedink nie! Meneer Snoek is hulle mak meerkat, en meerkatte eet graag allerhande grillerige insekte.

“Toemaar, Kriek,” sê Jannus. “Ek reken Albertus is heeltemal te lelik, selfs Meneer Snoek sal nie vir hom lus wees nie.”

Die twee draai in ’n nou straatjie af. ’n Paar rondloperhonde hardloop agter hulle aan en Kriek kyk na ’n kraai wat aan ’n appelstronk op die sypaadjie pik.

“Ek hou nie van kraaie nie,” sê sy. “Hulle is regte aasvreters.”


“Ek dink ’n kraai sal jou spinnekop opvreet as hy net ’n kans kry!”

“Toemaar, Albertussie, ek sal jou loslaat tussen die mees doringrige kaktusse in ons tuin. Daar is oorgenoeg wegkruipplek vir jou.”

Die straatjie loop teen die bult op en eindig teen Huis Deurmekruis se geroeste hek.

Middagverkeer dreun in die agtergrond. Die oprit na die baie besige snelweg is bykans regoor die torings en dakkappe van die Knoets-familie se groot ou huis gebou.

Die kinders stoot hulle fietse deur die tuin. ’n Paar groot doringbome, kaktusse en ’n verskeidenheid koolplantjies groei welig langs die paadjie wat na die voordeur lei.

Kriek leun haar fiets teen die fontein waarin ’n draak-standbeeld speel, en haal haar kosblik uit haar skooltas.


Sy maak dit oop en sit dit tussen ’n bondel digte kaktusse neer.

“Vaarwel, Albertus! Soek vir jou ’n mooi spinnekopbruid en wees vir altyd gelukkig!” sê Kriek.

Jannus snork vies. Meisiekinders, tog!

“Ek gaan liewer kyk wat is vir ete,” sê hy en stap met die klipperige paadjie op tot by die groot voordeur.

Die dingesfabriek 3: Jannus en Kriek krimp

Подняться наверх