Читать книгу Seisoen van ons liefde - Elize Mitchell - Страница 3

1

Оглавление

“Die son is vinnig besig om te sak, Tanya, hoe ver dink jy is dit nog na die kampeerplek?”

Die stem langs haar bring haar terug na die werklikheid. Sy kyk vervaard na die kaart.

“Dit kan nie meer té ver wees nie, Andries.”

“Goed, as jy so sê,” antwoord hy, maar daar is ’n effense klankie van ongeduld in sy stem.

Die twee viertrekvoertuie beur dapper voort op die klipperige grondpad wat kronkelend oor die ruwe terrein loop. Vandag is dit warm en droog hier in die Richtersveld en omdat daar amper geen wind is nie, dam die stof in dik walms agter elke voertuig op. Tanya van Heerden sit en kyk na die barre wêreld om haar, verlustig haar in die verskillende skakerings van pers en blou van die rye bergreekse wat ingeryg in die dynserige verte lê. Sy is ’n vryskutjoernalis en geniet hierdie ekspedisies terdeë; sy sal glad nie omgee om elke keer so ’n projek mee te maak nie. Dis sekerlik een van die interessantste streke wat hulle nog besoek het en sy verkyk haar aan die eiesoortige plantegroei en die majestueuse kokerbome wat hoog die lug in troon.

“Ek weet nie so mooi nie, Tanya, maar ek dink ons is besig om in sirkels te ry. Hoe seker is jy van jou feite?” Andries se stem is nou openlik geïrriteerd.

Sy bestudeer weer die kaart aandagtig, glad nie meer so seker van haarself nie.

“Verbeel ek my, of moes ons lankal afgedraai het?” praat sy hardop met haarself.

“Moenie dit sê nie, ons kan wraggies nie nou terugdraai nie. Ons is al ure lank op hierdie roete.” Andries klink moedeloos. “Al waaraan ek nou dink, is om kamp op te slaan en te ontspan met ’n yskoue bier. Jy beter seker maak. Die twee hier agter gaan glad nie ingenome met jou wees as hulle uitvind ons is op die verkeerde pad nie.”

Tanya kyk skuldig weg. Sy was so droomverlore dat dit heeltemal moontlik is dat sy die afdraaipad misgekyk het. Sy sit skielik regop.

“Kyk, Andries, daar teen die koppie is ’n beweging. Dit lyk vir my soos ’n veepos. Ry stadiger sodat ons kan sien of daar lewe is. Miskien kan hulle vir ons sê waar ons is.”

Sy leun gretig vorentoe om beter te kan sien. Hulle nader die veepos stadig, hul oë soekend na ’n teken van lewe. ’n Tent is teen die koppie opgeslaan. Die oop tentflap klap lui in die namiddagbriesie. Verder aan is daar ’n groterige matjieshut en ’n netjiese kookskerm waaruit ’n rokie trek. ’n Paar donkies wei in ’n kampie, maar sy gewaar geen ander lewende siel nie.

Dan sien sy iemand wat besig is om vee heelwat verder aan in ’n kraal te jaag. Twee honde hardloop in kringe om die skape en bokke en help om hulle aan te keer.

“Kyk, daar is ’n man by die veekraal. Stop eers hier, Andries, ek sal gaan hoor waar ons ons bevind.”

Die ander voertuig trek agter hulle in. Tanya spring rats uit en begin haastig aanstap na waar die man besig is om sy vee in die kraal te jaag. Hy kom nie eens agter dat daar besoekers is nie. Tanya loop versigtig nader, nie seker wat om te verwag nie.

Hy staan met sy rug na haar toe; sy blonde hare blink in die son. Al wat sy sien, is sy soepel kaal bolyf, kastaiingbruin gebrand deur die genadelose son. Bultende spiere span met elke beweging van sy arms, sy natgeswete lyf glimmend in die namiddagson. Hy maak die hek met draad vas en draai dan om toe die honde begin blaf.

Die woorde stol in Tanya se mond. Die man is baie langer as sy en twee blouselblou oë in ’n bruingebrande gesig kyk verras en vraend op haar neer. ’n Stoppelbaard bedek sy gesig. Dit gee aan hom ’n ruwe voorkoms, maar een wat pas in hierdie wêreld. Sy kan haar blik nie losmaak van sy sterk ontwikkelde skouers en breë borskas nie. Sy sien sy harde maagspiere en haar oë volg die lyn fyn haartjies wat by sy naeltjie begin en wegraak in sy kortbroek.

Eindelik kry sy haar stem terug toe hy ’n tree nader aan haar gee. Sy glimlag huiwerig.

“Hallo, ek is jammer om lastig te wees, maar ek dink ons het verdwaal. Kan jy miskien help? Ons soek ’n kampplek vir die nag en ek weet nie hoe ver ons nog moet ry nie.”

Haar woorde droog op en sy word heeltemal ontsenu deur sy stilswye en die blou oë wat haar indringend staan en beskou. Sy draai hulpsoekend om na die res van haar geselskap, maar almal sit in afwagting na haar en kyk.

Eindelik praat hy. ’n Sweempie van ’n glimlag raak nou aan sy mondhoeke wat opwaarts krul.

“Ja, sekerlik. Julle is so te sê by die lieflikste kampeerplek in die hele Richtersveld. Dis op die oewer van die Oranjerivier. Kom, ek stap saam met jou, dan verduidelik ek sommer die pad om tot daar te kom.”

Sy is verras omdat sy stem welluidend en sonder die tipiese aksent van die mense van hierdie kontrei is. Sy val verlig langs hom in en moet haar treë rek om by te bly. Hulle stap saam terug na waar die res van die geselskap wag. Andries klim uit en sluit by hulle aan.

“Dagsê, ek is Andries van Blerk. Ek hoop jy sal ons kan help met die rigting. Eintlik is dit hierdie meisiekind se skuld, want sy was vandag die navigator,” sê hy verskonend. “Terloops, haar naam is Tanya.”

“Aangename kennis, en ek is Pierre.” Die blonde man steek sy hand uit om te groet.

“Jy behoort hierdie wêreld mos goed te ken as jou veepos hier is en jou vee hier rond wei?” vra Andries belangstellend.

’n Glimlaggie flits om die aantreklike man se lippe en daar kom lê ’n ondeundheid in sy oë.

“Ja, dit is so. Waar is julle veronderstel om te kamp?”

“Dit moet jy liewer vir Tanya vra, sy is die een wat die kaart het,” sê Andries onbehulpsaam.

Tanya bloos bloedrooi.

“Ook altyd die arme vroumense se skuld,” sê Pierre guitig. “Ja, ek ken hierdie streek soos die palm van my hand. Ek sal julle die beste kampplek hier rond wys.”

“Dankie tog,” sug Andries verlig.

“Al probleem is dat ek môre met die vee verder moet trek en die pad loop daarlangs verby. Dit kan hinderlik en stowwerig wees, so as julle nie daarvoor en vir die geraas omgee nie, sal julle nie ’n beter plek kry nie.”

“Dit sal wonderlik wees. Ons gaan in elk geval môre vroeg die terrein hierlangs verken, so dalk is ons al weg as jy daarlangs gaan,” sê Andries.

Tanya se hare is vaal van die stof en in ’n poniestert vasgebind en sy voel maar taamlik verlep van heeldag se hitte. Sy hou die kaart na Pierre uit. Hy neem dit by haar en hulle vingers raak vlugtig aan mekaar. Hulle oë vleg inmekaar en daar is skielik ’n klomp vlinders wat uitgelate in haar maag te kere gaan.

Hy vou die kaart oop en beduie sorgvuldig hoe die pad loop. Tanya verkyk haar aan hom, hoe sy hande beduie terwyl hy praat. Iets vreemds is aan die gebeur – sy ken nie hierdie gevoel wat besig is om haar hele wese te verlam nie. Hy is darem deksels aantreklik, en heeltemal anders as die mense wat hulle tot dusver langs die pad teëgekom het.

Andries se stem bring haar terug na die werklikheid. “Het jy geluister, Tanya, of droom jy al weer?”

Hy draai terug na Pierre. “Vroumense en rigting loop nou eenmaal nie saam nie, en hierdie een is altyd in ’n droomwêreld. Gaaf, dit klink darem asof dit nie meer te ver hiervandaan kan wees nie.”

Hy steek sy hand uit om te groet. “Baie dankie vir jou hulp, Pierre. Ek weet nie wat jy in die aande hier so alleen doen nie, of is daar iemand … ’n vrou dalk?”

Pierre lag sorgeloos en Tanya se hart klop woes toe hy omdraai en in haar oë kyk terwyl hy antwoord: “Nee, ek is ’n losloper. Ek loop maar nog my eie pad.”

“Nou maar as jy lus is, kom maak gerus later ’n draai en drink ’n bier. Dan kan ons ’n bietjie gesels. Ons soek juis soveel inligting as moontlik oor hierdie wêreld.”

“Goed dan, en baie dankie. Miskien maak ek nog so. Voorspoedige reis.” Sy oë priem in Tanya s’n, net om die vlinders in haar maag van voor af deurmekaar te jaag.

Toe die voertuie weer in beweging kom, sien Tanya hoe hy bewegingloos bly staan, sy blik vasgenael op hulle, die honde al spelende om sy bene. ’n Ontsettende gevoel van deernis vir hierdie eensame mens spoel oor haar. Sy kan haar nie vir een oomblik indink hoe dit moet wees om so afgesonder en alleen te leef nie. En tog, daar is ’n rustigheid en vredigheid in die man se oë wat sy nie kan peil nie. Sy hoop hy kom kuier later, want sy kan nie wag om meer van hom uit te vind nie.

“Foei tog, wat dink jy sou in daardie arme ou se lewe verkeerd geloop het dat hy so alleen hiér beland het?” vra Andries.

“Dit lyk darem nie of hy ongelukkig met sy omstandighede is nie. Maar hoe ’n mens so alleen en blootgestel aan hierdie uiterste elemente kan leef, sal ek nooit weet nie.”

Andries knik instemmend. “Miskien boer hy op een van die plase hier in die omgewing en laat hy net sy vee hier wei. Party mense verkies dit bo ’n lewe in die stad.”

Hulle bereik uiteindelik die kampplek. Dis inderdaad soos ’n oase in die woestyn. Groen gras reik tot aan die rivieroewer en groot bome gooi lang skaduwees.

“Dankie dat jy daardie ou oorreed het om ons hiervan te vertel, Tanya. Dis absoluut idillies,” sê Paul, die fotograaf. “Ek kan nie wag om te begin kiek nie.”

Hulle begin tent opslaan voordat die donkerte hulle oorval, en kort voor lank is dit ’n gesellige groepie wat koffie drink. Gelukkig is dit ’n stil tyd van die jaar en daar is geen ander besoekers nie.

Tanya se tent is ’n entjie weg van die ander s’n. Sy soek ’n bietjie stilte wanneer sy saans werk, en dan kan die geselsery om die kampvuur steurend wees. As sy nie elke aand getrou die dag se besienswaardighede en inligting op haar rekenaar vaslê nie, is dit baie maklik om van die fyner detail te vergeet.

Maar haar gedagtes bly wegdwaal na Pierre. ’n Honderd vrae maal deur haar kop en sy kan nie die beeld van daardie soepel liggaam uit haar gedagtes kry nie. Sy wonder of hy hulle ooit sal kom besoek.

Dan hoor sy die vrolike gebaljaar van die ander in die rivier en sy los alles net so en gaan spring self in die koel water.

Toe die son soos ’n goue bol vuur agter die berge wegsak, is dit skielik koelerig. Die mans begin dadelik om hout vir die vuur op te stapel. Kort voor lank maak almal hulleself gemaklik om die kampvuur. Tanya tuur droomverlore in die vlamme, maar raak skielik ongemaklik toe sy Lindi, die ander rubriekskrywer, se blik op haar voel.

“Vir wat is jy die hele middag al so stil, Tanya? Of het daardie spierpaleis jou voete onder jou uitgeslaan?”

Tanya bloos bloedrooi. “Wel,” sê sy skuldig, “as dit nie vir hom was nie, het ons nooit hierdie heerlike kampplek ontdek nie.”

“Hoekom bloos jy so? Ek sou glad nie omgegee het vir ’n bietjie van sy aandag nie,” sê Lindi, “maar hy het net oë vir jou gehad.”

“Ek het so half gehoop hy kom vanaand ’n bietjie kuier, want hy moet seker oor ’n skatkis van kennis beskik. Ons sou gewis baie inligting by hom kon kry,” sê Andries.

Die geselsery is gemoedelik en hulle is besig om die volgende dag se roete te beplan. Tanya sit ingedagte sonder om eintlik aan die gesprek deel te neem. Sy dink onophoudelik aan die man met die blou oë wat voel asof hulle tot in jou siel kan sien.

Skielik is daar ’n beweging tussen die bome en dan staan hy afgeëts teen die lig van die vlamme. Sy sit regop en kyk verras na hom en haar hart mis tien slae. Hy lyk heeltemal anders as vanmiddag. Met sy skoon T-hemp en verbleikte blou denim is hy nog aantrekliker as vroeër die dag. Die vuur tower ligstrepies uit sy langerige, songebleikte hare.

Lindi is die eerste een wat opspring. “Sowaar ons Griekse god in lewende lywe. Wat ’n lekker verrassing! Kom sit sommer hier langs my.” Sy gryp sy arm en wys na die leë stoel langs haar.

Andries staan op en kom nader. “Naandsê, ons het nou net van jou gepraat. Ek is baie bly jy het besluit om te kom gesig wys. Kom sit gerus en maak jou tuis. Ons gaan later ’n vleisie braai, so ek hoop jou kuier is lank genoeg sodat jy dit saam met ons kan geniet.”

Hy stel Pierre aan die ander voor en stop hom ’n bier in die hand. Gou-gou is Pierre die middelpunt van belangstelling en word hy met vrae gepeper.

Tanya is stil en probeer nie eens om aan die gesprek deel te neem nie, want vir haar is dit genoeg om net na hom te sit en kyk. Ek is beenaf soos ’n skooldogter op die skool se rugbykaptein, dink sy.

Sy mooi hande beweeg in die lig van die vlamme wanneer hy iets verduidelik en dis met moeite dat sy haar blik wegskeur en op die lekkende vlamme probeer konsentreer. Netnou is haar gesig weer bloedrooi en sien almal hoe kinderagtig sy is.

“Is julle met vakansie, of waarvoor benodig julle al hierdie inligting?” vra Pierre geïnteresseerd.

“Ons werk almal vir ’n tydskrif wat spesialiseer in die buitelewe. Hierdie projek is daarop gemik om inligting in te samel oor die Richtersveld se roetes en besienswaardighede, en die San-mense se leefwyse.”

Pierre knik, maar wei nie verder uit nie. Tanya sit oorkant hom en betrap sy blik kort-kort op haar. Die magnetisme tussen hulle is onmiskenbaar. Sy oë speel tergend met hare, en sy beantwoord die seine wat hy uitstuur.

Andries se stem onderbreek die spel tussen hulle. “Het jy tyd om môre saam met ons te gaan en die wêreld ’n bietjie te help verken, Pierre? Daar moet honderde plekke en plante wees waarvan die gewone besoeker nie weet of eens naby kom nie.”

“Jy is reg, maar ongelukkig kan ek nie môre nie. Ek moet die vee aanjaag na die volgende kamp verder op. Die Namas trek gedurig met hulle vee volgens die seisoene om oorbeweiding te voorkom, sodat die natuurlike plantegroei kan kans kry om te herstel.”

“Maar is dit nie ’n geweldige groot taak om so ’n klomp vee te hanteer nie?”

“Ja, dit is, maar die Africanis-honde doen eintlik die grootste werk.” Hy vryf waarderend oor een van die honde se kop. “As die vee nie gereeld verskuif word nie, sal daar niks oorbly van al hierdie plantsoorte met hulle medisinale waarde nie.”

“Maar daar moet soveel meer verborge skatte hier rond wees?”

“Natuurlik, maar moenie dink ek beskou myself as ’n kenner op die gebied van die Nama-kultuur en die San nie. Hierdie is ’n wonderlike wêreld met hope natuurlike hulpbronne.”

“Hoe verwyl jy jou dae?” verander Lindi die gesprek.

Dis skielik stil rondom die vuur. Ook Tanya kyk afwagtend na Pierre.

“Dis partykeer moeilik om te boer in hierdie harde weerstoestande, en wanneer dit lamtyd raak, is daar min kans vir ander dinge. Maar daar is niks so vervullend soos om nuwe lewe te aanskou nie – om ’n brose, pasgebore lammetjie in jou hande vas te hou en te sien hoe sy bekkie na die eerste soet moedersmelk soek nie. Dan bly jy besig en moet jou oë oral wees. Dis veral die jakkalse wat tydens lamtyd so lastig kan raak.”

Hy glimlag skielik. “Verder verlustig ek my elke dag in die vreedsaamheid van die natuur en in die grootsheid van die skepping.” Sy oë glinster. “En in die aande wanneer dit stil is en die sterre so helder soos vanaand skyn, wil ek nêrens anders wees nie. Kyk net op en julle sal sien wat ek bedoel.”

Die geselskap om die vuur is skielik stil voor die skouspel van die sterrehemel.

“Maar vang die eensaamheid jou nie partykeer nie? Het jy nog nooit daaraan gedink om ’n vrou te vat nie?” vra Lindi.

Pierre lag hardop. “Natuurlik dink ek daaraan. Maar om ’n vrou te kry wat bereid is om in hierdie omstandighede jou lewe te deel, is soos om ’n naald in ’n hooimied te soek. Hier val vrouens nie sommer uit die lug uit nie.” Sy oë glimlag guitig in Tanya s’n.

Toe die vuur al kleiner brand, staan hy op. Die honde, wat heeltyd rustig by sy voete gelê en smaaklik aan die bene gekou het, spring dadelik op. Hy verduidelik aan Andries waarvoor hulle die volgende dag op die uitkyk moet wees.

“Dit was ’n baie lekker aand, want dit raak maar eensaam hier. Maar dis tyd om huis toe te gaan. Môre het ek ’n besige dag. Geniet die kamp.”

“Ons is nog môreaand hier. Kom maak gerus weer ’n draai as jy so voel,” nooi Andries gul.

“Dankie, maar ek moet eers sien hoe dit môre gaan. Gewoonlik is so ’n trekkery met die vee uitputtend.” Hy steek voor Tanya vas. “Jy was besonder stil die hele aand? Is jy in die ander se slegte boeke oor jou swak navigasievermoëns?” vra hy tergend.

Sy lag. “Glad nie. Ek is net moeg en julle ander het so lekker gesels.”

“Is hierdie wêreld vir jou ook net ’n deurgangsroete? Of sien jy dieper as die kokerbome en veldplante?” Sy stem is sag en spreek net tot haar.

“Dis heeltemal anders as wat ek verwag het. Niemand kan vir die eerste keer hierheen kom en verwag om alles gelyktydig in te neem nie. Ek sou baie graag wou terugkom om ’n meer intensiewe studie van alles te maak.”

Sy oë is vol belangstelling. “Dan moet jy nie lank wegbly nie, Tanya. Tyd staan nie stil nie en die natuur verander met elke seisoen in iets heeltemal nuut. Ek sou jou graag wou wys.” Hy neem haar hand in syne, vou dit toe met sy ander hand terwyl hy diep in haar oë kyk. “Jy moet lekker slaap.”

Verbeel sy haar of is daar verborge beloftes in sy oë? Sy voel nog die warmte van sy hand op hare en kyk hom met ’n wildkloppende hart agterna tot hy tussen die bome verdwyn.

“Wat ’n hunk van ’n man om hier so alleen in die sandwêreld te moet leef,” prewel Lindi.

Tanya se hart sing en sy hou haar hand teen haar warm wang.

“Kom, dis laat en ons moet gaan slaap,” maan Andries. “Ek dink Pierre is uiters belese vir iemand wat so afgesonder lewe. En hy het ’n fyn waarnemingsvermoë. Ek kan nie wag om alles te gaan verken waarvan hy ons vertel het nie. Môre is ons laaste dag en ons moet vroeg vertrek, anders is die dag verby sonder dat ons iets uitgerig het. Ons het mos besluit ons gaan die sirkelroete doen en die kwartsbesaaide sandgrond verken, nè, ouens?”

“Jy’s reg, Andries.” Paul strek hom uit en gee ’n lang gaap. “Ons moet gaan inkruip.”

Lindi is glad nie lus vir die volgende dag se ekspedisie nie. “Kan ek nie maar môre afkry nie, Andries? Ek is nie lus vir nog ’n dag in die warmte nie.”

“Nee, jammer. Ons is almal saam hierby betrokke, en môre is in elk geval die laaste dag. Lekker slaap, julle.”

“Hoe gouer ons van hierdie godverlate plek af wegkom, hoe beter vir my. Ek is in elk geval moeg van al die stof en grondpaaie,” mor Lindi vir oulaas en verdwyn in haar tent.

Tanya word die volgende oggend met ’n kloppende hoofpyn wakker. Haar been voel loodswaar en sy sien met skok die groot, opgehewe rooi swelsel bokant haar knie. Sy weet sommer iets giftigs moes haar deur die nag gebyt het en dat die hoofpyn as gevolg daarvan is.

Sy staan later langs die vuur en drink haar koffie, haar been polsend en vuurwarm.

“Ek is jammer, Andries, ek sal vandag moet stokkies draai. Ek voel glad nie goed nie. Waar is ons noodhulpkissie?”

“Wat is fout?” vra hy besorg.

Sy wys hom die opgehewe, rooi kol op haar been.

“My magtig, Tanya, hoekom praat jy nou eers? Dit lyk glad nie goed nie. Kom kyk hier, Paul. Jy het mos ’n noodhulpkursus gedoen en weet van sulke goed. Jy bly net hier, Tanya, Lindi kan vandag die notas byhou. Sy steek hoeka lekker lyf weg.”

Met haar been ontsmet en behandel, drink Tanya twee hoofpynpille en gaan lê weer. Sy voel koorsig en hoor nie eens toe die voertuie vertrek nie. Sy raak amper onmiddellik aan die slaap.

Dis eers ’n paar uur later dat sy wakker word. Die hoofpyn is beter en die bytplek klop nie meer so pynlik nie, alhoewel dit nog kliphard en bloedrooi opgeswel is. Sy maak vir haar iets om te eet en gaan sit dan in die koelte langs die rivier. Die sonnetjie steek nou venynig en die sonbesies skree hulle eentonige gesang. Daar roer nie ’n luggie nie en die sweet loop in straaltjies uit haar hare.

Sy besluit op die ingewing van die oomblik om in die rivier af te koel. Sy duik met klere en al in en die water is verfrissend koud. Omdat sy weet daar is niemand in die nabyheid nie, besluit sy om die kans te benut en haar klere te was. Sy trek alles uit en spoel die klere tydsaam uit. Toe sy klaar is, gooi sy dit oor ’n tak om droog te word.

Daarna spring sy terug in die rivier en swem met vinnige hale dieper in tot by ’n groterige rots. Sy klouter daarteen uit en strek haar naakte lyf op die warm rots uit. Die son streel oor haar koue, ontblote lyf en sy drink die warmte daarvan behaaglik in.

Pierre het gehoop dat die groep nog nie vertrek het nie en dat hy betyds sou wees om saam met hulle te gaan, maar dis al taamlik laat toe hy die vee klaar versorg het. Hy nader die kamp haastig, maar alles is verlate. Net ’n laaste rokie van die oggend se vuurtjie trek lui die oggendlug in.

Hy skop sand op die as en besluit om maar terug te gaan, want hy kan sommer voel dat dit vandag weer skroeiend warm gaan word. Die oggendson is klaar besig om hittegolfies oor die vlaktes te jaag. Hy het so gehoop om Tanya weer te sien. As hulle net nog ’n dag saam kon wees, sou hulle meer van mekaar kon uitvind.

Sy blik gly teen die oewer af op soek na ’n verlore skaap en dan trek sy oë op skrefies toe hy die beweging op die rots gewaar. Hy dink eers dat sy oë besig is om hom parte te speel. Dit kan mos nie Tanya wees nie? Hoekom is sy nie saam met die res van die geselskap nie?

Sy blik is vasgenael op die prentjie voor hom. Hy sien hoe sy haar kop agteroor gooi en haar hare tuimel in ’n goue stroom oor haar skouers. Soos ’n meermin sit sy daar. Haar vol borste du puntig na bo en haar slanke liggaam smelt saam met die rots. Hy wens dat hy haar kan skilder, die beeld op doek kon vaslê. Hy voel ongemaklik omdat hy weet dat hy op verbode terrein is, maar hy kan homself nie sover kry om weg te kyk nie.

Tanya is salig onbewus van die oë wat haar deur die bome dophou. Maar dan, asof iets haar selfbewus maak, kyk sy behoedsaam om haar rond. Sy kom stadig orent, verken eers die water om haar. Dan strek sy haar lenige liggaam uit en duik terug in die rivier.

Pierre weet hy moet nou maak dat hy wegkom, maar dan sien hy hoe sy skielik na haar been gryp. Vir een angsvolle oomblik dink hy dat sy onder die water gaan verdwyn. Hy wag nie langer nie, spring in die rivier en begin na haar toe swem. Sy probeer paniekerig om bo te bly.

Hy bereik haar net betyds en gryp haar in ’n stewige greep vas.

“Dis alles reg, ek sal jou uitkry, moet net nie so spartel nie. Dis gelukkig nie ver nie.”

Hy probeer sy bes om haar te kalmeer. Toe hulle eindelik die wal bereik, trek hy haar saam met hom uit.

Sy is so verlig om terug op die wal te wees dat sy eers ná ’n paar oomblikke besef dat sy geen klere aanhet nie. Boonop hang dit nog steeds papnat buite haar bereik aan die tak. Haar gesig is bloedrooi. Sy vou haar arms beskermend om haar borste en draai haar rug op hom.

“Ek is jammer, Pierre. Wat maak jy hier?”

Sy kan nou beswaarlik op haar been trap en weet nie hoe om haar klere in die hande te kry nie.

Hy sien hoe sy hulpeloos probeer om haar teen sy blik te beskerm. “Waar is jou klere?” vra hy.

“Dit hang daar in die son om droog te word.”

Hy staan besluiteloos, pluk dan sy hemp oor sy kop en hou dit na haar uit.

“Dankie,” stamel sy verleë.

Hy wag tot sy dit aangetrek het en kyk dan terug.

Tanya staan nou op een been, omdat die ander een soos ’n sak lood hang.

“Wat is verkeerd, Tanya?”

Sy antwoord nie; die trane is baie naby. Maar toe hy sien hoe opgehewe haar been is, tel hy haar in sy arms op en begin met haar aanstap na die kamp.

Sy draai haar kop weg, maar sy kan sy blik brandend op haar voel. Sy probeer selfbewus om die hemp verder af te trek sodat dit meer bedek. Haar kop sing, maar sy weet nie of dit deur sy kloppende hart so teenaan haar oor veroorsaak word nie. Sy gee ook nie eintlik om nie, want dis veilig in sy arms en sy wens hy wil net aanhou stap.

In haar tent lê hy haar versigtig op die kampbed neer. Hy neem ’n ligte kombersie en gooi dit oor haar, bekyk dan die opgehewe rooi kol op haar been.

“Wanneer het dit gebeur?” vra hy. Sy geoefende vingers gly ondersoekend daaroor, druk saggies aan die opgehewe knop.

Die aanraking van sy hande op haar vel stuur rillings langs haar ruggraat af. Sy wonder of sy koorsig is, want haar hele lyf raak skielik hoendervleis.

“Ek weet nie, seker maar ’n giftige ding wat my in die nag gebyt het. Ek het vanoggend met ’n hengse hoofpyn wakker geword. En netnou toe ek wou terugswem, het dit gevoel asof ek nie my been kon beweeg nie. Baie dankie dat jy daar was om my te help.”

Sy onthou skielik van haar naaktheid. “Ek is jammer dat jy my so … sonder klere betrap het,” maak sy blosend verskoning.

Hy glimlag, maar daar is duiweltjies in sy oë. “Ek is bly ek was in die nabyheid om te kon help,” sê hy galant. “Ek gaan gou iets haal om op die plek te sit. Bly jy net so lê. Ek is nou-nou terug.”

Sy lê doodstil en sluit haar oë. ’n Geluksaligheid spoel oor haar en sy kan nie wag dat hy moet terugkom nie. Hoekom het hy hierdie onverklaarbare uitwerking op haar? Is dit die andersheid van sy lewenswyse wat hierdie gevoelens in haar laat ontstaan? Of is dit omdat hy totaal en al buite haar bereik is dat sy hierdie deernis ervaar? Dalk voel hy ook die vreemde aantrekkingskrag tussen hulle.

Hy keer later terug met ’n stuk van ’n soort vetplant. Eers ontsmet hy haar been en dan sny hy die blaar oop en smeer die sap oor die opgehewe deel. Daarna plak hy die oopgesnyde blaar oor die plek en verbind dit stewig.

Haar oë hou elke beweging van sy mooi, sterk hande gefassineer dop. Sy vingers is lank, die naels kort en hoekig. Hy kyk skielik op en betrap haar blik op hom.

“Ja?” vra hy geamuseerd, maar toe sy nie antwoord nie, gaan hy voort: “Hou die verband op tot vanaand en sit dan ’n nuwe blaar op. Jy het mos nou gesien hoe ek dit doen. Dit behoort die gif gou-gou uit te trek.”

Sy bly lê en trek sy hemp onder die kombersie uit.

“Baie dankie, Pierre. Ek wil nie eens daaraan dink wat sou gebeur het as jy nie vandag hier naby was nie.”

“Dis niks, ek sou dit vir enigiemand doen. Maar ek moet nou gaan. Die vee wag.” Sy blik streel oor haar lyf.

Hy staan op, druk die hemp teen sy lippe voordat hy dit aantrek.

“Sien ons jou weer vanaand?” vra sy hoopvol, onwillig om hom te laat gaan.

Hy lyk verras. “Ek weet nie, dit hang alles van die vee af. Hulle is nou in ’n nuwe kamp en ’n mens moet dan maar altyd in die nabyheid bly. Maar as ons mekaar nie weer sien nie, laat dit goed gaan op jou pad vorentoe.”

Hy buk af. In sy oë skyn ’n vreemde lig en haar hart begin onstuimig klop. Haar liggaam verstyf toe sy die taal in daardie blou oë lees.

“Jy het die mooiste mond, Tanya, en jou lippe vra om gesoen te word.”

Sy vol, sensuele lippe raak vlugtig aan hare. Haar mond gaan ontvanklik onder syne oop en sy lippe sluit warm oor hare. Sy sluit haar oë sodat hy nie kan sien hoe gretig sy is vir sy aanraking nie.

Maar hy staan skielik op, kyk tergend op haar neer. “Ek wou dit al doen vandat ek die eerste keer in jou groen oë gekyk het.” Dit lyk of hy besluiteloos is, maar homself bedink. “Kom kuier weer eendag vir my,” sê hy met ’n ondeunde glimlaggie.

En met dié woorde verdwyn hy by die tent uit.

Tanya se liggaam ontspan stadig. “Moenie gaan nie, asseblief!” roep sy agter hom aan. Sy kan nie glo dat hy weg is nie, dat hy sommer net so kon omdraai en wegloop nadat hulle lippe ontmoet het nie. Sy raak liggies aan haar mond.

“Pierre!” roep sy weer, maar daar is geen reaksie nie, net die sonbesies se eentonige gesing.

Hy is weg, kreun haar hart. Hy het sy rug op haar gedraai en weggeloop. Maar wat anders het sy verwag? Sy lewe is hier in die veld tussen die klipkoppe en rante saam met sy vee. Dit was net ’n tussenspel, ’n lekker bietjie afleiding vir hom.

Moenie dat jou hormone met jou op hol gaan nie, meisiekind, praat sy driftig met haarself. Hy is so ver verwyder van my wêreld soos ek van syne. Twee pole wat nooit by mekaar kan uitkom nie.

Sy sluimer weer in, sy soen nog warm op haar lippe.

Toe sy later wakker word, voel sy baie beter. Sy staan op, trek aan en gaan dan buite sit.

Droomverlore sit en kyk sy na die oorkant, waar die grens van Namibië begin. Maar die natuurskoon voor haar vervaag en al wat sy sien, is ’n lang, atletiese man met blou oë en sy warm lippe wat hare aanraak en sy glimlag geluksalig.

Baie later hoor sy die gedreun van die voertuie wat terugkeer. Andries is eerste by haar.

“En toe, hoe het dit hier gegaan? Ek is al heeldag bekommerd oor jou omdat jy alleen by die kamp is.”

“Baie beter, dankie. Ek voel sommer ’n nuwe mens.”

Lindi staan ook nuuskierig nader. “En wie het die been so mooi verbind? Dit lyk amper soos ’n dokter se handewerk,” vra sy agterdogtig.

“Pierre het julle kom soek omdat hy wou saamgaan. Toe hy my been sien, het hy ’n soort vetplant se sap daarop gesit en dit verbind. Dit voel sommer stukke beter, en hy het my gewys hoe ek dit vanaand weer moet doen.” Tanya vererg haar vir die alewige blos op haar wange.

Paul sit sy fotografiese toerusting versigtig neer.

“Wat ’n jammerte dat ons mekaar gemis het. Ons sou sy kennis darem deeglik kon inspan.”

“En ek sou die kans gebruik het om hom op ’n ander vlak te leer ken. Sou dit nou nie interessant gewees het nie,” sê Lindi spytig.

“Jy het ook net een ding op jou brein, Lindi,” sê Andries. “Maak net eers seker dat hy ook belangstel. Terloops, jy het werk om te doen. Tanya gaan nie vanaand weer vir jou instaan nie.”

“Ja, ja, sy is mos die witbroodjie,” pruil Lindi en gaan haar tent binne.

Ná so ’n dag in die veld is almal moeg en kort na ete gaan kruip hulle vroeg in, want die volgende dag is die laaste skof.

Tanya het aangebied om op te ruim en sy pak die laaste skottelgoed in die houers terug. Elke beweging en geluid laat haar hart bokspring in die hoop dat dit Pierre is. Sy is teleurgesteld omdat sy seker was dat hy weer ’n draai sou kom maak.

Sy hou haar besig, maar later gee sy moed op en besluit om ook maar te gaan inkruip.

Sy lê met wawyd oop oë en herleef weer die aanraking van sy hemp op haar naakte vel toe hy haar in sy arms na die tent gedra het. Wanneer het sy al ooit so oor ’n man gevoel? Wat is dit wat in haar aangewakker is wat sy nie ken nie? Wat noem ’n mens dit – verliefdheid, begeerte, passie? Al wat sy weet, is dat dit iets is wat sy verder saam met hom sou wou ontdek. Dat sy die emosies wat die aanraking van sy hande in haar veroorsaak het, verder sou wou ontleed.

Dit klink asof daar takkies buite haar tent kraak. Sy luister met gespitste ore. Is dit dalk wilde diere wat hier buite rondsluip op soek na kos?

“Tanya, Tanya, is jy wakker?” fluister Pierre digby haar kop aan die buitekant van die tent.

Haar asem stol in haar keel en sy sit regop. Wat moet sy doen? Sê nou die ander hoor hy is hier? Sy spring op, maak die tent saggies oop en laat hom in.

“Sjuut, wat maak jy hier? Netnou hoor die ander jou,” fluister sy.

“Hoekom? Is jy skaam vir my?” lag hy tergend. “Niemand sal eens weet ek is hier nie, jou tent staan mos ver weg van die ander s’n af.”

“Ek wil net nie môre aan almal moet verslag doen nie.”

“Dis hoekom ek nie vroeër wou kom nie.” Sy oë is vasgenael op haar skamel geklede lyf. “Ek het net gou kom kyk hoe dit met jou been gaan,” sê hy ernstig.

Sy gaan sit op die bedjie, onseker van haarself oor die skielike opwinding wat sy intieme nabyheid hier by haar in die dof verligte tent veroorsaak. Hy lig haar been versigtig op en laat dit oor syne rus. Dan haal hy die verband met stadige bewegings af.

Hy knik sy kop tevrede toe hy sien hoe mooi die swelsel gesak het. Sy vingers vryf saggies oor die rooi kol, beweeg al verder terwyl hy haar hele been met ritmiese bewegings masseer. Die streling van sy hande is lankal nie meer net gerig op die bytplek nie, dit gaan soekend oor haar been en het ’n liefkosing geword. Sy ril onder sy aanraking.

Skielik kyk hy op, sy oë nou twee donker poele soos die see in die nag. Sy hande raak stil en daar is ’n vraag in sy oë. “Tanya, wat is besig om tussen ons te gebeur? Dis heeltemal onsinnig.”

Sy is meegevoer deur ’n onbekende betowering. “Ek weet nie, maar ons kan dit nie keer nie,” fluister sy.

Sy sien die twyfel in sy oë, maar met ’n skielike, onbeheerste drif ruk hy haar teen hom aan. Sy lippe is brandend op hare terwyl sy hande die fyn nagklere van haar lyf afstroop. Sy sit eers roerloos, maar dan help sy onhandig om sy hemp uit te trek.

Sy hande gaan strelend oor haar lyf, oor die duike van haar middellyf en vou dan oor die sagte rondings van haar boude. Sy arms is so styf om haar dat die hardheid van sy liggaam teen hare haar skok. Hy raap haar in sy arms op en sit haar saggies op die kampbed neer. Sy lippe op hare is ’n verterende vuur en sy beantwoord sy liefkosings met passie.

Dit sleur hulle mee soos ’n golf waarteen hulle magteloos is om langer te veg. Hulle naakte lywe is warm teen mekaar, soekend na die vervulling van ’n emosie groter as hulleself. Hulle word willoos rondgemaal en opgeslurp deur die ekstase van die storm wat in hulle losgebars het. Sy arms vou stywer om haar en die oeroue roepstem om vervulling van die liefde word gehoorsaam toe hulle een word met die wildheid van die natuur daar buite.

Toe die drif uiteindelik uitgewoed is, lê hulle stil in mekaar se arms.

Met sy lippe in haar hare fluister hy: “Tanya, wat het ek gedoen? Hoe kon ek my selfbeheersing so totaal verloor het?”

Haar vinger streel teer oor die ronding van sy lippe. “Dit was wonderlik. Jy het emosies in my laat ontbrand wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie.” Sy probeer nog nader aan hom skuif.

“Maar jy is nog so jonk, ek moes van beter geweet het,” sê hy verwytend.

“Nee. Hoe kon jy my saam met jou tot bo-op daardie golf neem en dan verlaat het? Jy het my die ekstase van vrouwees laat smaak, Pierre, die volheid daarvan laat ervaar soos ek nie geweet het moontlik is nie.”

“Ek weet nie wat om te sê nie, ek kon myself net nie keer nie. Ek het nie vanaand hierheen gekom om –”

“Moenie dit sê nie,” maak sy hom stil met haar lippe op syne.

Sy stem is skor. “Vandat ek gister omgedraai en jou agter my sien staan het en ek die eerste keer in jou oë gekyk het, het iets met my gebeur. Dit was asof twee siele mekaar ontmoet en gevind het.”

Hy bly stil, probeer om die regte woorde te vind. “Daar is iets wat ek jou moet vertel, Tanya, iets waaroor ek moet bieg. Ek was nie heeltemal eerlik met jou nie. Ek is nie …”

Sy lê op haar sy na hom en kyk en haar oë is vraend.

“Niks maak saak nie, solank jy my net nie gaan vertel dat jy ’n getroude man is nie.”

“Nee, glad nie. Maar môre is jy weg en bly ek alleen hier agter met my skuldgevoelens. En wat gebeur dan?”

Sy laat haar kop op sy bors rus. Sy hoor die ritmiese klop van sy hart. “Niks nie. Ook vir my was dit asof iets spesiaals tussen ons gebeur het toe ek jou die eerste keer daar tussen die vee gesien het. Partykeer is daar dinge wat in die lewe gebeur waaroor ons geen beheer het nie, wat lank gelede al deur die eeue heen so bestem was. Hierdie was een daarvan. Daar was ’n mag, sterker as ons begeerte na mekaar, teenwoordig. Ek gaan môre terug en ons gaan met ons lewens aan. Moet asseblief nie skuldgevoelens hieroor hê nie, anders sal jy alles bederf. Jy is niks aan my verskuldig nie.”

Haar oë kyk tergend in syne en haar vinger streel teer oor die stoppelbaard op sy gesig. “En wie weet, dalk kom ek jou gou weer besoek.”

“Ek wens dit was ’n belofte, Tanya. Maar onthou, ek weet nou waar jy werk, so ek kan jou enige tyd in die stad kom soek.” Hy klink ongewoon ernstig, so asof hy haar reaksie wil toets.

Sy lag saggies. “Jy sal verdwaal in die grote stad, liewe Pierre. Dis so geheel en al anders as die vrye wêreld wat jy ken en waaraan jy gewoond is. Maar dalk kruis ons paaie eendag weer.”

Sy lippe vou weer warm oor hare. Die res van die nag gaan verby en hy neem haar op ’n onbekende tog van passie en hartstog wat haar willoos in sy arms laat.

Vroeg die volgende oggend neem hy afskeid.

“Gaan ek jou ooit weer sien, my mooie Tanya?”

Sy nestel stywer teen hom aan. “En jy? Gaan ek jou weer sien, Pierre?”

“Laat die toekoms ons lei. Wie weet wat vorentoe op ons pad wag.”

Hy kelk haar gesig tussen sy hande en hulle oë kyk diep in mekaar. Vir oulaas verslind hulle lippe mekaar en sy hande gaan strelend oor haar liggaam asof hy elke lyn daarvan in sy geheue wil vaspen.

Sy klou aan hom vas asof sy die finaliteit van sy vertrek daardeur kan stuit, maar uiteindelik moet hy haar arms om hom losmaak. ’n Laaste aanraking van sy lippe op hare, en toe draai hy om en verdwyn in die skemerte van die dag wat besig is om te breek.

Nadat hy weg is, lê en staar sy in die niet. Sy voel die warmte van sy liggaam waar hy nou net nog by haar was. Sy herleef oor en oor elke tere liefkosing, sy liggaam teen hare in elke oomblik van driftige passie, die bevredigende emosie van eenwording.

Sy is rusteloos en besluit om op te staan. Sy begin solank koffie maak.

Eers heelwat later kruip die ander uit hulle tente. Sy skink die bekers vol om haar besig te hou, skielik bang dat hulle sal kan sien wat die nag gebeur het. Die gloeiende blos van Pierre se liefkosings is steeds op haar gesig.

Sy skrik toe ’n stem skielik langs haar praat. “Jislaaik, jy is op en wakker vanoggend, en nogal met sulke pragtige rooi wange!”

Andries kyk haar vraend aan. “Hoe voel jou been? Jy is nie dalk koorsig nie?” vra hy bekommerd.

Sy draai selfbewus haar rug op hom. “Glad nie, dis sommer maar die koue byt in die fris oggendlug. My been voel beter, dankie. Kom kry vir jou koffie.”

Lindi staan ook nader. “Wat het gisteraand in jou tent aangegaan? Ek kon sweer ek het heelnag geluide gehoor,” probeer sy uitvis.

Sonder om te blik of te bloos antwoord Tanya: “Jy is reg, my been was ’n bietjie lastig en ek het heelnag gelê en rondrol.”

“Ek wonder of Pierre ons darem sal kom groet,” sê Lindi hoopvol. “Snaaks ons het hom nie weer gewaar nie.”

“Wel, dit was lekker om hom te leer ken. Ek sou hom ook graag weer wou sien, maar hy is seker al douvoordag weg met die vee,” sê Andries.

Tanya draai haar rug op die groepie en sê liewer niks.

Hulle slaan die tente af en begin later die terugtog. Sy kyk verlangend terug in die hoop om Pierre vir oulaas te sien, maar al beweging is die groen blare aan die bome se takke wat lui in die oggendluggie roer.

Die hele ent pad terug sing Tanya se hart. Sy kan aan niks anders dink as die man wat in een nag haar hele lewe kom verander het nie. Sy glimlag geluksalig en haar gedagtes sit op loop.

Ek wil na hom toe teruggaan, besluit sy. Ek wil weer sy warm lippe op myne voel. Ek sal terugkom so gou as wat hierdie werksprojek voltooi is, neem sy haar voor. Daar is baie toeroperateurs wat die Richtersveld besoek. Ek sal al my kennis gebruik om Pierre weer op te spoor – ek weet ten minste waar sy veepos geleë is.

Ek sal by hom kom kuier sodat ons die geleentheid kan hê om mekaar beter te leer ken en hierdie waansinnige drang na mekaar kans gee om te ontwikkel. Anders sal dit ’n natuurlike dood sterf en sal ons weet dat hierdie een nag van hartstog slegs drogbeelde was, ’n vlug van ons verbeelding. Maar ek weet hy smag na my soos ek na hom. Ek kan voel hoe hy na my roep, hoe hy my in sy arms wil hou, net soos ek weer sy lang, lenige lyf teen myne wil voel.

Seisoen van ons liefde

Подняться наверх