Читать книгу Seisoen van ons liefde - Elize Mitchell - Страница 4

2

Оглавление

Terug op kantoor is daar geen tyd vir stilsit en terugdink aan wat gebeur het nie. Saktyd vir die volgende uitgawe van die tydskrif is om die draai en almal werk koorsagtig om betyds klaar te kry.

Dis weke later toe dinge eers weer rustig raak en Tanya tot verhaal kan kom. Sy wonder hoekom sy al die hele oggend so pap voel, so asof sy iets onder lede het. ’n Mislikheid stoot skielik in haar op en sy moet hardloop om betyds by die badkamer te kom. Koue sweet bars oor haar lyf uit en drup in straaltjies oor haar voorkop. Sy voel skoon bewerig, asof sy kouekoors het.

Dis al die laaste paar dae dat sy so voel, dit was net nie so erg nie, onthou sy nou. Hemel, sy hoop nie sy het malaria of dalk ’n virus onder lede nie. Miskien is dit die nagevolge van die spinnekop se byt, of dalk nog bosluiskoors, dink sy paniekerig. Sy maak onmiddellik ’n afspraak by die dokter.

Sy het lanklaas so olik gevoel, maar die volgende middag breek uiteindelik aan. Nadat die dokter haar deeglik ondersoek het, sit sy onrustig voor hom en wag op die diagnose. Sy het hom vertel waar sy oral die laaste tyd besoek afgelê het en dat iets giftigs haar gebyt het.

Hy sit en maak aantekeninge in haar lêer en kyk nie op nie. ’n Vreemde onrustigheid kruip oor haar. Hoekom praat hy nie? Watter vreeslike siekte het sy opgedoen?

Uiteindelik sit hy sy pen neer en kyk op, glimlag gerusstellend. “Wel, meisiekind, eintlik is jy perdfris. Jy kort net ’n bietjie ekstra vitamiene.”

Sy kyk verlig op, probeer uitvra, maar hy gaan voort: “Ek moet jou gelukwens, Tanya, jy is swanger.”

’n Skoot koue water kon haar nie harder getref het nie. “Ek is … wát?” Die woorde kom stamelend uit.

“Jy gaan ’n baba hê. As alles goed gaan, behoort die outjie so oor sewe maande sy opwagting te maak.”

Haar gesig voel koud en dood.

“Is alles reg?” vra hy besorg.

Sy sit versteen voor hom. Hoe kan dit wees? Hoe is dit moontlik dat sy swanger kan wees ná slegs een aand? Haar verstand weier om die feit te aanvaar en sy sukkel om die woorde uit te kry.

“Dokter, is jy seker?”

“Ja, Tanya, eenhonderd persent, maar ons kan verdere toetse doen.”

“Nee, dis nie nodig nie. Dis net so skielik … Ek het nooit gedink so iets kan gebeur nie.”

Hy kyk simpatiek na haar.

“Wat nou, dokter?” stotter sy.

“Jy sal my gereeld moet kom sien, en ’n bietjie later sal ons sonars doen. Ek wil hê jy moet eers rustig oor alles gaan nadink. Weet die pa?”

“Die pa? Watter pa?” Haar verstand steek botweg vas.

“Die pa van die baba, Tanya. Jy weet mos daar moet ’n pa wees.” Die dokter kyk geamuseerd na haar.

“Nee, hy weet nie. Ék het dan nie eens iets vermoed nie, dokter.”

“Daar is natuurlik ander keuses ook. Aanneming en aborsie, om maar twee te noem.”

Sy staar die dokter ongelowig aan, maar sluk die verontwaardiging terug. Dis seker sy plig om die verskillende opsies aan haar voor te lê.

“Gaan dink goed hieroor na. Ek dink jy en die kind se pa moet eers praat voordat jy besluite neem. Dis nie net deels sy verantwoordelikheid nie, maar hy het ook ’n reg om te weet dat hy ’n pa gaan word. Gaan maak ’n afspraak by my sekretaresse vir jou volgende besoek. As jy intussen enige hulp of raad nodig het, bel my asseblief.”

Sy gaan reguit huis toe. Met die beste wil ter wêreld kan sy op niks anders konsentreer nie. Sy krul haar op in haar geliefkoosde leunstoel. Die nuus het haar heeltemal uitgeboul. Wat gaan sy doen?

Sy dínk nie eens daaraan om van die baba afstand te doen nie. En hoe kan sy dit selfs net oorweeg om Pierre te gaan besoek en hom te vertel dat sy sy kind verwag? Watse toekoms kan hy hulle bied?

Sy vryf oor haar maag en kan nie glo dat sy werklik swanger is nie. Hier dra sy nou in haar die produk van twee mense se onbeteuelde drif vir mekaar. Dit maak nie saak hoe baie sy na Pierre verlang en na hom wou teruggaan nie, daar is geen manier dat sy hom nou tot verantwoording kan roep nie. Sy sal ook nie met haar werk kan voortgaan nie. Die skande van ’n buite-egtelike kind is net te erg, selfs in vandag se vrye lewe. Sy sal elke dag in haar kollegas se gesigte moet vaskyk en die onuitgesproke vrae daarop lees.

Moet sy dit nie maar met Lindi bespreek nie? Maar Lindi sal onmiddellik weet wie die pa is. Tanya krimp ineen van skaamte by die gedagte dat almal agter haar rug sal wonder hoe sy sommer een aand met ’n wildvreemde man in die bed kon spring – sy wat nog altyd ’n voorstander van vaste beginsels was.

Nee, sy sal moet bedank en iewers gaan wegkruip tot tyd en wyl die baba gebore word.

Toe haar ouers vyf jaar gelede in ’n motorongeluk gesterf het, was sy op haar eie aangewese, al is sy geldelik deur die trust onderhou tot haar mondigwording. Met haar spaargeld sal sy darem vir ’n paar maande kan oorleef voordat sy ’n ander werk moet vind. Maar hoe op aarde gaan sy as enkelma ’n baba versorg en terselfdertyd ’n loopbaan aan die gang hou om te kan voorsien in die behoeftes van haar en haar kind?

Vir die eerste keer is sy bly dat haar ouers nie meer daar is om aan so ’n skande blootgestel te word nie. Sy sit ingedagte, gee haar gedagtes vrye teuels. Miskien sou hulle nie kon wag om hulle eerste kleinkind vas te hou en lief te hê nie …

Teen die aand is die enigste besluit waartoe sy met sekerheid kon kom, die feit dat sy nooit van hierdie baba afstand gaan doen nie. Dis haar en Pierre se vlees en bloed en sy sal dit met elke vesel in haar liggaam beskerm. Die reis na hom wat sy so sorgvuldig beplan het, is vir altyd in die vergetelheid.

Die volgende oggend gaan dien Tanya haar bedanking in. Andries en die res van haar kollegas kan nie glo dat sy so skielik besluit het om hulle te verlaat nie. Sy verduidelik dat sy deur Europa wil gaan toer en omdat hulle weet dat sy nie enige afhanklikes het nie, aanvaar hulle dit.

Sy tref die nodige reëlings om haar huis te verhuur en handel alle verdere noodsaaklikhede stelselmatig af. Sy weet nie wat die toekoms vir haar inhou nie, maar sy gaan elke dag tegemoet in die hoop dat die dag van môre ’n oplossing sal bring.

Sy dink skielik aan haar tante, haar ma se enigste suster. Hulle woon op ’n plaas in die Laeveld en hoewel hulle mekaar so elke dan en wan bel, is daar nie veel meer kontak tussen hulle nie. Sy moet darem seker vir iemand laat weet dat sy die land gaan verlaat? Eintlik wil sy net van die aardbol af verdwyn.

Sy skraap al haar moed bymekaar en skakel die nommer, hoop hulle is nie tuis nie. Maar dan hoor sy haar tante se opgewekte stem aan die ander kant.

“Tanya, is dit regtig jy? Wat is verkeerd? Jy bel mos nie gewoonlik sommer net nie?”

“Nee, tant Lilla, alles is piekfyn. Ek bel net om te sê dat ek beplan om ’n bietjie oorsee te gaan toer. Ek wou net hê dat julle daarvan moet weet.”

“Waarheen presies gaan jy?” Sy klink opreg belangstellend.

“Ek weet nog nie. Ek het gedink Europa of miskien Engeland, maar ek sal laat weet as ek eers daar is.”

Lilla bly stil; haar gedagtes werk teen hoogste versnelling. Sy voel nog altyd skuldig omdat hulle so min kontak met hierdie enigste kind van haar oorlede suster het.

“Tanya, wil jy nie voordat jy vertrek eers hier by ons ’n draai maak nie? Miskien kan ek jou help besluit, want ons is nou net terug van Leonie-hulle af. Ons was daarna ook by Ziegfried en sy vrou in Switserland. Jou oom en ek is bitter alleen sonder ons kinders wat so ver oor die water is. Asseblief, Tanya, sê ja! Ek sal jou op die lughawe kom haal. Jy hoef mos nie lank te vertoef nie.”

“Tant Lilla, ek sal eers daaroor moet dink. Ek het nou wel nog geen besprekings gedoen nie, maar dit was nie deel van my plan nie.”

“Dan is dit afgespreek! Ons verwag jou. Laat weet my net sodra jy jou vliegkaartjie bespreek het. Oom Deon sal uit sy vel wees. Sien jou binnekort.”

Tanya staan verslae met die foon in haar hande. Dis nie wat sy beoog het nie en sy is nie regtig lus vir ’n familiebesoek nie. Wat staan haar nou te doen? Sy wil niemand anders by haar toestand betrek nie, veral nie familie nie.

Maar miskien sal dit tog lekker wees om haar oom en tante vir oulaas te sien. En hulle hoef van niks te weet nie. Daar is geen rede hoekom sy nie vir ’n paar dae daar kan oorbly nie. Sy het mos nou gehoor haar niggie en neef is steeds oorsee en sy sal alleen daar wees.

Vandat my ouers oorlede is, het ek hulle so min gesien, dink sy. Wat sal ’n paar dae nou saak maak? Miskien is dit die regte ding om te doen, en tant Lilla het heel opreg geklink. Dalk sal hulle my kan help om te besluit waarheen om te gaan.

Seisoen van ons liefde

Подняться наверх