Читать книгу Een nag in Vegas - Elize Mitchell - Страница 3

1

Оглавление

Telani Malan kyk dankbaar op toe die kelner die cappuccino voor haar neersit. Sy gooi suiker in, roer die romerige skuim bo-op om en om. Ingedagte, ken in die hand, dink sy hoe haar vakansie in Amerika verbygevlieg het. En nou sit sy hier in ’n straatkafee in Las Vegas en lê die teruggaan Suid-Afrika toe so hoog soos Tafelberg voor haar.

Senuweeagtig beweeg die teelepel ál vinniger in die rondte, sodat sirkels in die koppie vorm. Net so het haar lewe in ’n draaikolk verander toe Paul hul verlowing drie weke voor die troue verbreek het. Toe die bom bars, het sy al haar werk bedank gehad, haar woonstel opgegee – alles oor die naderende troue.

Sy moes wegkom, so gou en so ver as moontlik, weens die skande dat hy haar so skielik gelos het, en dit vir ’n bloedjong dingetjie. Dis hoekom sy op die vliegtuig geklim het en eers drie weke lank kom vakansie hou het. Sy was die hele Amerika vol. Sy weet sy het in die proses hopeloos te veel geld geblaas, maar in haar agterkop was daar die aanloklike aanbod wat ’n Amerikaanse opvoedkundige instansie haar ’n tyd gelede gemaak het, om haar beroep as arbeidsterapeut hier in Las Vegas te kom voortsit. In daardie stadium moes sy dit van die hand wys, omdat die troue net om die draai was. Sy het nie verder daaraan gedink nie. Later, in haar uur van wanhoop, het sy gedink dit sou haar reddingsboei word. Dit sou die uitweg uit haar dilemma wees, deel van die nuwe lewe wat sy vorentoe beplan. Daar was by haar nie die minste twyfel dat die maatskappy haar steeds met ope arms sou ontvang nie.

Die laaste paar dae van haar vakansie het sy oop gehou om hier in Vegas te wees. Sy sou die maatskappy gaan sien en haar nuwe betrekking beklink. Toe sy vanoggend daar instap, was sy so seker van haar saak, oortuig dat dit net ’n formaliteit sou wees. Hoe groot was haar ontnugtering toe sy moes hoor hulle het reeds iemand anders in die pos aangestel. Boonop is daar die kwessie van ’n werkpermit wat deur die werkgewer gereël moet word. Wat het sy gedink, dat mens sommer in ’n vreemde land by ’n onderneming kan instap sonder die vereiste dokumente? Punt is, sy het nie gedink nie, sy moes net wegkom van die seerkry, die vernedering en die jammerte in die oë van vriende en bekendes.

Vandag was die laaste strooi – sy sal moet terug, al is daar niks om na terug te gaan nie. Waar tel mens weer die drade op ná twee jaar in ’n vaste verhouding, hoe begin jy weer van voor af op jou eie lewe, sonder geld, ’n blyplek of werk? Haar hand woel koorsagtig, sy draai ’n string hare om en om haar vinger, iets wat sy knaend doen as sy nie weet watter kant toe nie. Sy kyk op, staar nikssiende na die twee mans wat ’n entjie weg op ’n tafel staan en wag . . .

“Wow, hier’s darem wraggies mooi meisiekinders.” Riaan de Klerk fluit saggies en kyk ingenome om hom rond.

“Jy’s reg, en ek het gedog ons het die mooistes in die heelal.” Simon van Breda volg sy vriend terwyl dié agter die kelner tussen die tafels deur beweeg. Sy oë bly vasgenael op die meisie wat so eenkant sit. “Nou dáár’s enetjie wat ek graag beter sou wou leer ken.”

“Waar?” vra Riaan nuuskierig.

“Daai swartkop by die hoektafel wat so droomverlore en hartseer lyk. Moenie nou loer nie, sy kyk hierheen.”

“Hmm, ja, ek het jou.”

Telani kyk op, reguit in Simon se oë. Sy voel ineens ontbloot omdat sy nie gou genoeg haar emosies kon wegsteek nie. Hy moes tot in haar siel gekyk en elke stukkie van haar gebroke hart gesien het. Hoekom kyk die man nie weg nie? vervies sy haar en voel hoe haar wange rooi word toe hulle nader kom.

“Seker ’n Franse mademoiselle, of dalk Italiaans,” raai Riaan.

“Nee, jong, hulle het nie sulke grasgroen oë nie.” Simon vryf oor die kepie in sy ken.

Telani is verras om te hoor hulle praat Afrikaans, en tot haar ontsteltenis gaan sit hulle skuins oorkant haar. Sy draai weg, verleë omdat sy elke woord van die gesprek kan volg terwyl hulle dink dat sy van ’n ander land is.

Dan raak ’n glimlaggie aan haar mond. Wat ’n aantrek­like mansmens, dink sy. Terwyl hulle na die spyskaart kyk, benut sy die kans om Simon te beloer. Sy lang, atletiese lyf is bruingebrand, asof hy baie in die son is. Seker ’n beach bum wat heeldag op die strand rondparadeer en sy spiere bult om almal wat wil kyk te beïndruk, takseer sy hom. Sy bruinerige hare is geknip soos die mans dit deesdae dra, effens deurmekaar, maar dis sy oë, blouer as die see by die Griekse Eilande, wat jou tref. Dan is daar nog die aantreklike kepie in sy ken, sodat niemand sy sensuele lippe kan miskyk nie . . .

Asof hy gedagtes kan lees, glimlag hy breed en ’n ry spierwit tande laat haar nog ’n paar punte byvoeg. Dis nou die soort ou wat menige meisie se hartsnare kan pluk en hulle hormone deurmekaar roer.

“Ek wonder wat sy alles onder daai jas wegsteek,” spekuleer Riaan lustig voort. “As ek moet skat, seker niks minder as die spreekwoordelike volmaakte nommer tien nie.”

Telani se wange brand toe sy agterkom sy’s weer onder bespreking. Sy beter hier wegkom voordat die twee se ontleding van haar bates nog meer intiem raak. Sy gryp haar handsak en druk ’n paar dollars in die kelner se hand. Sy probeer by hom verbyskuur, maar hy is tydsaam besig om ’n bestelling te neem en steur hom nie aan haar haas nie. Terwyl sy wag, bekruip ’n moedswilligheid haar. Sy loop tot by die twee Suid-Afrikaners se tafel, maar hulle gesels so lekker dat hulle haar eers gewaar toe sy langs hulle is.

“Ekskuus, ek kon nie help om te hoor waaroor julle netnou so geesdriftig gesels het nie, maar ek is nie ’n nommer tien nie. Ons Suid-Afrikaanse meisies is mos lekker mollig – nie naastenby so skraal soos party van hierdie skoonhede nie. Lekker dag, menere.”

Die een wat so seker is van haar mates kyk verskrik op. Sy hand, met die bier halfpad na sy mond, ruk sodat die wit skuim oor die rand van die glas stort. Die ander een, die oulike ou wat sy dink ’n lewensredder moet wees, het pas ’n groot sluk gevat en skrik so toe sy hier langs hulle praat dat hy aan die stik gaan. Sy oë begin traan.

So ja, dit sal hulle leer om ander te bespreek. Sy glimlag innemend en verdwyn tussen die menigte op die sypaad­jie.

Op pad hotel toe probeer Telani om nie na die pragtige klere in die eksklusiewe boetieks te kyk nie. Sy het skaars genoeg geld oor om deur te kom totdat sy weer in Kaapstad is. Sy weet sy was onverantwoordelik, maar as sy net vooraf geweet het dat sy ’n bloutjie met die werk gaan loop . . . Sy sou nooit so maklik geld uitgegee het nie. Sy was seker dat haar nuwe toekoms hier in Amerika gaan wees.

Nou is sy werkloos en sit met ’n dolleë bankrekening, en hoe sy gaan oorleef tot iets opduik, weet sy nie. Die ergste is, sy moet weer stert tussen die bene terug na alles waarvan sy wou wegkom. Sy sal maar weer moet inval by Marissa, waar sy gebly het nadat sy haar woonstel opgegee het. Al haar besittings is in elk geval daar.

Heelwat later stoot Telani die hotelkamer se deur toe. Dis amper etenstyd, en sommer vir die lekker en om haar gedagtes af te lei van die teleurstellende dag, trek sy een van die rokke aan wat sy gekoop het toe haar geldsake die laaste ding was waaraan sy gedink het. Sy kyk tevrede na haarself in die spieël en dink aan die twee ouens se opmerkings. Sy’t nie gejok oor haar rokgrootte nie, maar omdat sy lank is, lyk sy heelwat skraler.

Sy wag geduldig op die hysbak. Ten minste gee die nuwe klere haar die nodige selfvertroue, want op hierdie oomblik voel sy bitterlik alleen en jammer vir haarself. Hier is sy, uitgevat vir ’n aand se jolyt, en niemand om dit mee te deel nie. Sy is vingeralleen in ’n stad soos Las Vegas wat nooit slaap nie, waar daar elke denkbare vorm van vermaak is, en sy is so eensaam soos ’n goudvis op sy eie in ’n bak water. Raak gewoond daaraan, dis hoe dit van nou af gaan wees, vermaan sy haarself.

Die hyser se deure gly geluidloos oop en sy stap in. Sy staan met haar rug na die mense toe, haar oë stip op die monitor wat wys hoe die verdiepings een vir een verby­skiet. Uiteindelik is hulle op die vlak waar die restaurante is, en Telani is eerste by die deur uit.

“Stadig, wag vir my,” sê ’n diep stem hier langs haar. Die hand op haar arm is ferm en sy beur vererg weg, maar die man laat nie los nie. “Ontspan, ek is nie van plan om jou te ontvoer nie,” lag hy. “Jislaaik, ek kan nie glo die wêreld is so klein nie. Dat ons nou sowaar in dieselfde hotel moet wees!”

Sy kyk verbaas na die aantreklike ou langs haar met sy warm glimlag. Sy ontspan effe toe sy hom herken. Dis wraggies een van die uitgesproke mans wat sy vroeër vandag in die kafee teëgekom het.

“En terloops, ek glo glad nie die storie van jou rokgrootte nie,” voeg hy skertsend by asof hy om verskoning vra vir hulle ongevraagde kommentaar.

“Asof jy sal weet.” Daar is net ’n sweem van ergernis in haar stem. “Net toe ek dink dit kan net Amerikaners wees, moet ek my woorde sluk. Ons ou nasie is ook glad nie op ons bek geval nie, nè?” kap sy terug.

Hy lag hardop. “Ja, dit wys net weer. Ons mense is al so dwarsoor die wêreld versprei, jy moet twee keer dink voor jy iets sê. Dit was ’n goeie les, ek sal beslis in die toekoms meer versigtig wees.” Dan kyk hy nuuskierig na haar. “Waarheen is jy op pad?”

Hy is nog langer as wat sy aanvanklik gedink het en sy moet opkyk na hom.

“Restaurant toe.”

“Ek ook,” sê hy ingenome. “Gee jy om as ek saamstap? Ek so honger, ek kan vanaand een van Texas se beeste opeet.” Sy gesig verhelder. “Ons kan mos sommer saam eet,” nooi hy terwyl hulle wag vir die kelner. Sy blou oë vra so mooi dat sy wegkyk.

“Liewer nie. Ek ken jou nie, en buitendien hou ek daarvan om op my eie te wees,” skerm sy.

Sy hand is liggies onder haar elmboog terwyl hulle die kelner volg. “Twak. Dis die ideale kans om mekaar te leer ken.”

Sy twyfel nog, maar miskien help dit om die lang aand korter te maak.

“Jy gaan my sowaar nie wegstuur nie, ons mense is mos bekend vir ons gasvryheid,” dring hy aan.

“Ook weer waar.”

Die kelner trek haar stoel uit en sy gaan sit. Ten minste eet sy nie weer alleen soos iemand wat melaats is nie.

“Kom ons begin van voor af. Ek is Simon van Breda.” Hy steek sy hand plegtig na haar uit en sy neem dit huiwe­rig.

“Telani Malan,” sê sy.

“Aangename kennis, Telani. Dis ’n mooi naam.”

Sy is steeds nie op haar gemak nie, maar ’n halfuur gelede het sy haarself bejammer omdat sy stoksielalleen is, en nou eet sy saam met een van die aantreklikste mans wat sy in ’n lang tyd gesien het. Hy herinner haar aan die een of ander filmster, en vir een aand kan sy darem seker die mooie man se geselskap geniet, troos sy haarself.

“En as jy nou so droomverlore lyk?” Sy stem is sag en sy kyk op, vas in sy vraende oë. “Verlang jy huis toe, na iemand?”

“Miskien. As mens alleen in die vreemde is, raak ’n vakansie partykeer net te lank, dan is dit tyd vir huis toe gaan,” probeer sy hom om die bos lei. Sy druk haar hare agter haar oor in. “Waar is jou vriend, die een wat saam met jou was?”

“Na sy suster toe. Ons is hier vir sake, maar hy gaan eers agterbly en by haar kuier. Sy woon al vyf jaar hier en hulle sien mekaar maar min. Hulle het baie om in te haal en ek was nie vanaand lus vir familiebesprekings nie.”

Die kelner skink wyn en neem hulle bestellings. Simon skuif haar glas tot voor haar. Hy lig syne en wag vir haar om dieselfde te doen.

“Op nuwe vriendskappe, nuwe uitdagings en nuwe horisonne,” sê hy geesdriftig, maar Telani neem net ’n slukkie sonder om te antwoord. Sy sien dat hy fronsend na haar kyk.

“Ja, veral op die nuwe uitdagings en horisonne kan ek drink,” sê sy teësinnig, net om iets te sê, en vat nog ’n slukkie.

“Wat beteken dit?” vra hy geïnteresseerd. “Dalk ’n nuwe werk?”

“Nee, net die teenoorgestelde. Ek soek werk.”

Hy sit sy glas neer en kyk belangstellend na haar. Telani kan haar tong afbyt dat sy dit laat uitglip het, maar dis omdat sy heeltyd daaraan dink.

“Het jy iets in gedagte?”

“Nee . . . ek bedoel . . . ja,” stotter sy. “Ek is seker my vorige werkgewer sal my terugvat.” Hierdie gesprek moet sy nou kortknip. “Vergeet daarvan, die etenstafel is beswaarlik die plek om oor so iets te praat.”

Hy kyk haar opsommend aan en tel weer sy glas op.

“Nou toe dan, met al die formaliteite agter die rug, kan ons lekker gesels. Ek brand om te hoor van watter deel in ons mooi land jy kom,” verander hy die onderwerp.

“Kaapstad.” Sy brei nie uit nie.

“Interessant, dis toevallig waar ek ook woon, maar die Kaap is groot, Telani.”

Sy hoor versigtigheid in sy stemtoon, asof hy nie te voorbarig wil klink nie.

“Ek weet, so vertel my liewer van jouself. Jy woon seker naby die see – jy’s so bruingebrand.” Sy probeer ’n glimlaggie optower. “ ’n Surfer of lifesaver op Clifton, miskien?”

Hy lag. “Ek wens ek was, maar jy’t verkeerd geraai. Ek speel gholf.”

Sy begin eet sonder om te wys dat sy verder belangstel.

Die ete verloop stil, by tye ongemaklik, want Telani doen geen moeite om ’n praatjie aan te knoop nie, raak net nou en dan iets kwyt oor die kos.

“Gaan jy my niks oor jouself vertel nie?” probeer hy weer voordat hy die laaste stukkie steak in sy mond sit.

Telani kyk na sy leë bord, dan na haar kos waaraan sy skaars geraak het. Sy moes nooit vanmiddag so ’n groot sny van die swartbessiekaaskoek geëet het nie, dink sy spytig.

Hy vou sy servet op. “Ek wil nie jou CV hoor nie, net so ’n ietsie, soos watse werk jy doen?”

“Jammer, nie geweet jy sou belangstel nie,” glimlag sy verskonend. “Ek is ’n doodgewone arbeidsterapeut.”

Hy sit haar so ingedagte en bekyk dat sy ongemaklik rondskuif.

“Wat’s fout? Weet jy nie wat ’n arbeidsterapeut doen nie?” vra sy geïrriteerd.

Sy oë is vol belangstelling. “Ek het so ’n idee, maar jy kan my gerus meer vertel.”

“Ons werk met mense en veral kinders wat probleme het – moeilik lees of skryf, of sukkel met handvaardigheid, maar daar is hope ander goed ook.” Sy skud haar kop. “Aag, dis ’n breë veld, en ek is seker dit interesseer jou nie regtig nie.”

“Inteendeel, dis uiters interessant.”

Hy wag dat sy aangaan, maar sy’t genoeg uitgelap. Hoe minder hy van haar af weet, hoe beter.

Sy kyk na die nagereg wat die kelner voor hulle neersit, stoot dit dan terug sonder om daaraan te raak.

Die frons tussen sy oë keep dieper. “Jy kan gerus maar jou poeding eet, daar’s niks fout met jou lyf nie, Telani. Ek weet ons aanmerkings was ongevraag, maar dit was as ’n kompliment bedoel, nie afbrekend nie.”

“Sal jy my verskoon?” Sy staan op. “Dis nie die rede nie, Simon, ek hou net nie van trifle nie, en wat ander oor my lyf te sê het, traak my regtig nie. Daar is ander dinge wat seerder maak as om te hoor jy’s . . . uhm, groot.” Sy glimlag. “Nou ja, geniet die aand verder,” sê sy en vat haar handsak. “Dalk loop ons mekaar eendag in die Kaap raak.”

Simon staan beleef op. “Ag nee, kom nou. Hou my ten minste geselskap, ek is amper klaar. Dis net, ek moet nog leer om nee te sê vir roomys met sjokoladesous. Hoekom kry jy nie ook nie?”

Die teleurstelling op sy gesig laat haar amper ingee, maar sy besluit daarteen. Liewer nie, dis net moeilikheid soek. “Geniet gerus joune, maar ek het genoeg gehad.”

“Sien ons mekaar môre?” vra hy hoopvol. “Dalk kan ons ’n paar besienswaardighede gaan bekyk – saam met iemand is dit altyd lekkerder.”

“Ek het nog nie planne nie, maar eintlik moet ek begin pak.”

“Goed dan, ons kyk maar hoe dit gaan. Lekker slaap.”

“Nag, Simon, jy ook.”

Toe sy wegstap, kyk sy om. Sy sien dat hy ingedagte met die lepel sit en speel, ’n frons tussen sy wenkbroue.

Een nag in Vegas

Подняться наверх