Читать книгу Een nag in Vegas - Elize Mitchell - Страница 4

2

Оглавление

Telani word wakker van die hinderlike gelui van ’n telefoon. Sy is sommer vies. Wie pla so vroeg, en dit op haar laaste dag? Sy wou juis vanoggend laat geslaap het. Net toe sy haar hand uitsteek om te antwoord, hou die gelui op. Sy klim gegrief uit die bed. Sy kan nou netsowel onder die stort inspring en van haar frustrasie ontslae raak.

Terwyl sy stort en aantrek, dink sy hoe sy haar laaste dag in Vegas gaan deurbring. Vandag wil sy die strate invaar en ’n geskenkie vir Marissa koop. As dit nie vir dié vriendin van haar was wat haar deur die hartseer tyd bygestaan het nie, het sy seker nou nog in sak en as gesit en wonde lek. Sy skud haar kop vererg – genoeg hiervan. Die lewe gaan aan. Wanneer sy terug is in die Kaap, moet almal sien die vakansie oorsee het haar die wêreld se goed gedoen en haar hart is ver van gebroke af.

’n Harde geklop aan die deur onderbreek haar gedagtes. Eers die telefoon, nou ’n laspos by die deur. Wat is dit van­oggend? Sy maak die deur oop, wil sommer lelik praat, maar die woorde stol. Voor haar staan Simon.

“Pla ek?” vra hy met ’n onseker glimlaggie.

Telani sluk haar woorde. Moet die dekselse man so aantreklik wees? Selfs in jeans en ’n T-hemp lyk hy soos die held van ’n sepie.

“Ek was juis op pad uit,” sê sy en tel haar handsak op sodat hy die boodskap moet kry.

“O, ek sien,” sê hy terwyl hy haar op en af bekyk. “Jy lyk baie mooi.”

Sy wonder selfbewus of die rok nie te veel van haar borste vertoon nie. Die lae hals beklemtoon juis die gleufie waar die ronde kurwes teen mekaar druk. Toe sy dit gekoop het, was sy desperaat en uitdagend, maar nou sien sy watter uitwerking dit het.

“Wil jy inkom? Daar is darem nog tyd. Ontvangs het my vroegoggend al wakker gebel. Toe staan ek maar op en besluit om die beste van my laaste dag te maak.”

Hy vryf sy hande. “Dis ek wat gebel het. Ek het jou nommer by hulle gekry.” Hy lyk ongemaklik. “Telani, daar’s iets wat ek met jou wil bespreek.”

“O,” sê sy verbaas. “Kom sit. Wat op aarde is daar waaroor ons so vroeg in die dag moet praat?”

“Dis persoonlik. Ek lê al heelnag wakker en dink.”

Hulle gaan sit teenoor mekaar. Sy wonder of sy haar dit verbeel dat sy oë bekommerd lyk. Sy glimlag. “Ek’s ’n arbeidsterapeut, onthou, nie ’n sielkundige nie.”

“Presies. Jy’t gisteraand genoem dat jy sonder werk is en . . .”

Sy spring op en gaan staan hande op die heupe voor hom sodat hy effens terugskuif. “Dit het regtig niks met jou uit te waai nie. Vergeet daarvan.” Dis die laaste ding waaroor sy wil praat. Sy mik na die deur.

Simon spring op. “Ek het jou hulp nodig, Telani.” Hy trek haar aan die arm terug. “Luister net eers, asseblief, dis oor my seuntjie.”

Sy kyk ongelowig na hom, haar oë op skrefies. “Jou wát?”

“My kind.”

“Wil jy my nou kom vertel jy’s getroud?” Sy ruk los en gaan maak die deur oop. “Ek dink jy moet liewer loop, Simon. Ek weet nie onder watter indruk jy is nie, maar ek is nie ’n los meisie wat afleiding soek met getroude mans nie. En moenie op my gevoelens probeer speel met die storie van die kind wat kastig hulp nodig het nie. Ek is nie vyftien nie.”

Simon druk haar weg en maak die deur weer toe, maar Telani is so boos, sy kan slange vang.

“Jy weet, julle sakemanne is almal dieselfde. Gaan kastig oorsee op besigheid, maar iewers pas julle ’n los gelukkie in, so asof dit julle reg is, en deel van die pakket. En om dan boonop jou kind voor te hou.” Sy voel asof sy gaan stik. “Jy behoort jou te skaam!”

Simon laat haar begaan, gaan sit net stadig.

“Kan ek nou my kant stel sonder dat jy my in die rede val?” vra hy uiteindelik. “Moet asseblief tog nie so oor my troon nie. Kom sit asseblief.”

Sy plak haar vererg op die randjie van die bank neer en vou haar arms oor haar bors. “Eintlik wil ek niks hoor nie, maar maak gou, ek wil loop.”

“Ek is nie getroud nie, ek is al ’n paar jaar ’n wewenaar. Jaco, my seuntjie, is vier.” Hy vryf oor sy oë, lyk asof hy na die regte woorde soek. “My vrou het leukemie gehad en is dood toe Jaco skaars twee jaar oud was.” Hy bly so lank stil dat Telani wonder of hy hom bedink het. “Jaco is ’n pragtige kind, maar hy’s meestal teruggetrokke en besig met sy eie gedagtes. Partymaal verander hy handomkeer en gaan vreeslik te kere, gewoonlik oor onbenullighede, as hy iets nie kan regkry nie.” Simon vryf oor sy knieë en sy sien die hulpeloosheid op sy gesig. “Telani, ek weet daar is iets wat nie reg is nie. Die kleuterskool se verslae noem ook dat daar afwykings is, dat hy nie altyd optree soos ander kinders van sy ouderdom nie. Ek weet Jaco het hulp nodig, maar ek het nog altyd weggeskram, gehoop dit sal vanself regkom, gedink dis omdat hy nie ’n ma het nie.”

Teen wil en dank luister Telani aandagtig. Sy het al met so baie kinders met dieselfde simptome te doen gehad. Sonder dat sy dit kan help, boei sy storie haar, wil sy meer weet.

“Toe jy gister noem dat jy ’n arbeidsterapeut sonder werk is” – hy glimlag skeefweg – “was dit asof daar ’n lig vir my opgaan.”

“Ek verstaan nie waar ek inpas nie, behalwe dat ek jou kan verwys na verskeie instansies met uitsonderlike sukses­rekords.”

“Ek het baie goed hieroor gedink, Telani. Ek wil jou ’n aanbod maak. Wil jy my nie met Jaco help nie? Dis nogal ’n teer saak vir my.”

“Maar jy vermoed net daar skort iets, dis nie te sê dis wel so nie. Baiemaal is ouers net oorsensitief omdat hulle kinders nie so fluks vorder soos hulle vriende s’n nie.”

“Ek weet, maar ek het my redes.” Sy blou oë soebat. “Trou met my, Telani, dan sien ons dit as ’n saketransaksie waar ek jou dienste as vrou en arbeidsterapeut koop vir ’n jaar.”

Sy gooi haar hande in die lug. “Jy’s van lotjie getik!”

“Luister klaar. Ek betaal jou ’n miljoen rand daarvoor –’n halfmiljoen ná ses maande en die res aan die einde van die jaar.”

Haar oë rek en sy val agteroor teen die bank se rugleuning, voel hoe histerie in haar opbou. Dan bars sy uit van die lag asof Simon so pas ’n baie snaakse grap gemaak het.

“Jy’s nie dalk op drugs nie, nè?” Sy bedaar effens toe sy sy gesig sien. “Jy’t skielik baie geld om rond te gooi.” Sy kyk op, soek in sy oë vir ’n aanduiding dat hy met haar die gek skeer, maar hy is doodernstig. “Die meeste gewone mense is platsak ná so ’n vakansie, maar jy’t sommer nog ’n miljoen iewers in jou gatsak wat jy wil blaas.” Sy vlieg op, hande op die heupe. “En die troustorie? Wil jy hê ek moet dit vir soetkoek opvreet?”

Sy oë trek op skrefies. “Jy sal nog leer, Telani, daar is een ding wat vir my dodelike erns is, en dis my woord,” sê hy. “Ek is ’n sakeman, ek gooi nie geld rond nie.”

“Yeah right, ons trou, sommer net so.” Sy skud haar bos swart hare agteroor. “Nee, Simon, nou het jy dit heeltemal verloor.”

“Hoekom nie? Jy moet tog ander werk kry, en dan kan jy sommer ook geld spaar op verblyf. Dink ’n bietjie uit die boks uit. Dis voordelig vir almal van ons.”

“Dis net so goed jy vat ’n miljoen rand en gaan dobbel daarmee in een van Vegas se casino’s. Jy het niks waarborge nie.”

“Ek dobbel nie en vir my is dit ’n belegging, vir my seun se toekoms.” Sy gesig is ongewoon ernstig. “Toe, komaan, wat sê jy? As ons trou, is jy ten minste seker van ’n huis, en as jy ná ses maande wil opskop, staan dit jou vry. Ek betaal jou steeds.”

“As jy ernstig hieroor is, watse stertjies word alles bygelas?” vra sy agterdogtig.

Hy lag. “Jy is verniet agterdogtig. Ek sal ’n kontrak laat opstel, dan’s ons al twee gedek.”

Sy betrag hom. Hy kyk haar vierkant in die oë, sy gesig ernstig. “Kan ek hieroor dink?” vra sy uiteindelik huiwerig. “Ek sien nog kans om jou kind te help, maar die troue­ry is ’n ander storie. Dis ’n gek idee, om die minste te sê. Dalk is jy ’n reeksmoordenaar en probeer my so in jou nes inlok met die aandoenlike storie.”

“Ek ken jou ook nie, moenie dit vergeet nie. Maar dink gerus daaroor, jy kan net wen.” Hy staan op. “Wel, ons het al vordering gemaak as jy bereid is om dit te oorweeg. Wat ek jou eintlik wou vra, is om saam met my die stad te gaan verken, dan kan ons sommer die transaksie vier. Miskien sal jy, nadat ons ’n dag in mekaar se geselskap deurgebring het, sien dis nie so ’n vergesogte idee nie. Toe, hoe lyk dit?” vra hy hoopvol.

Telani wil nie oorgretig lyk nie, maar dit sal eintlik lekker wees. Sy het nie daarna uitgesien om die laaste dag van haar vakansie alleen te moet deurbring nie.

Hy sien dat sy twyfel. “Asseblief?”

“Ek weet nie. Ek het my eie goeters om te doen en ek moet nog kom inpak. Dalk is ek net in jou pad.”

“Kom nou, moenie verskonings soek nie.”

Wat sal een ou daggie nou saak maak? Dalk sien sy ’n ander sy van hom wat haar sal help om te besluit. Dis voorwaar ’n sappige wortel wat hy voor haar neus hou. Dit sal al haar probleme oplos. ’n Huis waar sy vir niemand hoef weg te kruip nie, en sy kan die werk doen waarvoor sy opgelei is én ’n hengse klomp geld daarvoor verdien. Sy moet mooi dink voor sy nee sê.

“Wat het jy in gedagte gehad?”

“Ek sou baie graag weer na die Strip toe wou gaan. Ek was een keer daar, maar daar was nie genoeg tyd om alles behoorlik te bekyk nie. Ek het myself belowe om terug te kom, want ek wil dit weer sien, al is ’n hele dag ook nog te min.” Toe hy sien dat sy aandagtig luister, sê-vra hy: “Maar jy was seker al daar?”

“Nee, ek was nie. Ek het daarlangs gery, maar ek was nie in ’n bui om stoksielalleen daar rond te dwaal nie.”

“Nou waarvoor wag ons?” nooi hy weer.

Sy twyfel nie meer nie. “Oukei, ek is in jou hande, solank jy my veilig terugbring. Ek is maar bra rigtingloos.”

“Reg so. Moenie jou kamera vergeet nie, en vat iets warms saam. Mens sal nie sê dis in die middel van die winter nie, want dis so ’n pragtige dag, maar dit kan nog geniepsig koud word. Gelukkig reën dit bitter min hier in die middel van die woestyn.”

Terwyl hulle op ’n taxi wag, is menige oë bewonderend op die aantreklike paartjie, en dit ontgaan Telani nie. Natuurlik oor die hunk hier langs haar, dink sy geamuseerd. Sy hand rus beskermend op haar arm en sy staan bietjie nader. Vir hierdie een dag kan almal maar dink hy behoort aan haar, dink sy. Sy kan doen met ’n bietjie selfvertroue.

Die taxi vleg deur die verkeer en toe die eerste hotelle opduik, vra Simon die bestuurder om te stop.

“Kom ons klim hier uit, Telani. Hiervandaan kan ons stap en besluit wat om te sien. Tussenin is daar volop vervoer, en wanneer ons moeg word, ry ons verder.”

Sy is klaar besig om haar aan alles te vergaap. “Jy was reg, Simon, ek is bly ek het na jou geluister.”

Sy kyk na die hotel voor hulle, waar ’n magdom spuitfonteine op maat van musiek ’n skouspel lewer.

“Sjoe, dis verskriklik mooi,” fluister sy in vervoering.

“Ek het gedog dit sou jou beïndruk, en dis nog net die begin. Kom, die dag stap aan.”

Hulle loop verder, maar Simon moet Telani kort-kort aanjaag. “Ek wil jou my gunsteling wys, maar dan sal ons moet aanstoot.”

Daar is te veel om te sien, en sy wens hulle het meer tyd gehad. Duidelik kan mens hierdie roete nie in een dag doen nie. By die hotel met die gekleurde glaswerke en Romeinse beelde binne en buite, sukkel Simon behoorlik om Telani weg te kry. Sy wil elkeen deeglik bekyk.

“Ek wil jou nog die hoogste hotel hier wys. As jy wil, kan ons tot heel bo gaan. Daar is goed soos uitskop­swaaie wat jou ’n asemrowende uitsig reg rondom die hotel gee.”

Haar stem styg van pure angstigheid. “Nee, dankie, daarin sal jy my nooit kry nie. Ek het ’n verskriklike hoogtevrees, en as jy die res van die dag met iemand in ’n semi-koma opgesaal wil wees, moet jy my in een van daai goed vasmaak.”

“Nie eens as ek jou hand vashou nie?” terg hy.

“Nee, nie eens dan nie. Baie dankie, ek bly veel eerder op die grond.”

“Nes jy wil, dan los ons dit liewer. Kom ons loop verder.”

Die tyd vlieg verby. “Dankie dat jy my omgepraat het, Simon,” sê Telani naderhand. “Dis hoekom ek nie alleen hierheen wou kom nie. So iets moet mens met iemand deel.”

“Ek het geweet jy sou daarvan hou.” Hy kyk op sy horlosie. “Dis al namiddag en ons het nog niks geëet nie. Ek weet van net die regte plek.”

“Ek kan doen met ’n happie, die stappery maak mens lekker honger.”

“Dis nie veel verder nie, net hier voor om die draai.”

“Nou maar kom, waarvoor wag ons?” Sy wil sommer aanstryk.

Maar Simon hou haar terug en wys na die hotel voor hulle. Sy stop en kyk met groot oë na die toneel voor haar. Breë kanale waarin turkooisblou water vloei, omring die majestueuse gebou. Gondels vaar rustig heen en weer op die water.

Sy gryp Simon se arm. “Dis asemrowend, Simon. Ons kon netsowel in Venesië gewees het.”

“Ja, sy naam is nie verniet die Venetian Hotel nie. Ek sê jou wat, kom ons eet hier. Daarna neem ek jou vir ’n rit op ’n gondel.”

“Ek sien so uit daarna, ons hoef nie eers te eet nie.”

“Nee, ons eet eers. Daarna behoort dit al sterk skemer te wees, en as die stadsliggies begin aanskakel, gaan dit prentjiemooi wees.”

Die swier waarmee die ete bedien word, is ’n belewenis op sy eie, maar vir Telani duur dit glad te lank. Sy kan nie wag om in die gondel te kom nie, maar Simon laat hom nie aanjaag nie.

Uiteindelik is hulle buite en wag geduldig hulle beurt af. Toe hulle hul sit gekry het, wieg die boot liggies oor die water weg, en vir Telani is dit so rustig dat al die knope wat oor die afgelope weke in haar binneste vasgeknoop het, losgaan. Sy kan voel hoe die spanning uit haar vloei.

“Jy’s baie mooi, weet jy dit?” onderbreek Simon haar gedagtes.

Sy lippe raak skrams aan haar wang en sy draai haar kop weg. Dis lekker om te weet iemand komplimenteer haar nog, maar iewers pieng ’n waarskuwingsklokkie en sy skuif weg.

“Nou skiet jy darem lekker spek, en amper glo ek jou,” maak sy dit ligweg af.

“Ek jok nie.” Sy oë is warm en sy sien die eerlikheid daarin. “Ek bedoel elke woord. Ek kan nie ophou kyk na jou as jy so ontspanne is nie.”

Sy skuif weg. “Ek is net ’n vaal, doodgewone mens, en” – haar stem bewe sonder dat sy dit kan keer – “boonop aan die mollige kant.”

Hy gooi sy arms in die lug. “Watter dommie het jou dit vertel?” Hy probeer haar hand vat, maar sy ruk dit weg. “En hoekom glo jy sulke bog?”

Haar oë is so vol seerkry dat hy wegkyk.

“Ek moes dit aan my eie bas voel, Simon, en dis ’n bitter pil om te sluk.”

Hy sê niks, wag tot die boot vasmeer en help haar uit.

Vir Telani voel dit asof ’n seepborrel gebars het. Hoe het dit gebeur? Vir die eerste keer in weke het sy dit geniet om iets saam met iemand te doen, en skielik het alles versuur. Sy sal moet leer om nie alles persoonlik op te neem as iemand iets oor haar voorkoms sê nie. Hier probeer hy uit sy pad gaan om haar goed te laat voel, en sy jak hom af net omdat een man haar selfbeeld aan flarde het . . .

“Telani.” Hy wag totdat sy langs hom staan, maar sy kyk opsetlik weg. Sy het nie lus vir ’n preek nie en sy hoef niks aan hom te verduidelik nie.

“Luister nou na my. Ek weet nie wat in jou verlede gebeur het nie, behalwe dat iemand jou seergemaak het. Onthou, mense het verskillende idees van mooi wees en goed lyk, maar uiteindelik is dit die innerlike wat tel.”

Mooi woorde, net jammer die persoon van wie sy dit die graagste sou wou hoor, het anders gedink. Sy sluk hard om die trane te keer wat ongevraag oor haar wange begin drup, en hy sien dit. Sy hande vou om haar gesig en sy vingers streel die trane weg. “Vir my is jy pragtig. En jou lyf” – hy glimlag tergerig, hoewel sy oë ernstig is – “jou lyf is net reg. Ek het nog nooit van die skraal, benerige soort meisie gehou nie.”

Sy glimlag dapper. “Jammer, Simon, en dankie vir die troosprysie. Amper verongeluk ek die hele dag met my simpelgeit. Vergewe my.”

“Dit was allesbehalwe ’n troosprys, maar ek aanvaar dit op een voorwaarde. Ons gaan nou ’n plek soek en lekker yskoue sjampanje drink voordat ons teruggaan. Dalk oortuig dit jou van my goeie bedoelings en besef jy hoe ’n voordelige saketransaksie dit kan wees.”

Sy lyk skepties. “Het jy jou nog nie bedink nie?”

“Nee, en ek wag in spanning op jou antwoord.”

“Gewoonlik drink ek nie sjampanje nie, maar skielik is ek lus daarvoor. Miskien is dit tyd dat ek wegdoen met ’n paar van my vooropgestelde idees.”

Sy hand is warm op hare. “Kom, nie ’n woord verder nie. Die res van vanaand is dit net ons twee, niks en niemand gaan dit bederf nie.”

Sy lag flouerig. “Nou toe dan, waar kry ons die sjampanje? My keel is skielik baie droog.”

Dit neem nie lank om ’n plek te kry waar hulle privaat kan wees nie. Sy sien hoe aandagtig hy die dranklys bekyk en sy luister hoe selfversekerd hy aan die kelner verduidelik presies waarna hy soek.

“Op ’n heerlike dag. Hopelik is daar nog sulke tye in die toekoms, Telani. Hierdie een is spesiaal op jou besluit,” glimlag hy terwyl hy die glas aangee.

Sy proe versigtig. Die man ken beslis die verskillende soorte sjampanjes, want vir haar is dit amper so lekker soos koeldrank.

“Dankie, Simon, dis heerlik.”

“Wanneer kan ek ’n antwoord kry?”

“Nie nou nie. Ek wil vannag daaroor slaap, dan sien ons wat môre bring.”

“Is dit ’n belofte?”

“Ja, daar’s ’n paar los drade wat ek moet uitsorteer, maar dan behoort ek te weet watter koers om te vat.”

“Nou ja, dan drink ons daarop.”

Ná die tweede glas voel sy lighoofdig, maar ook sonder die swaarmoedige gedagtes wat die laaste tyd deel van haar lewe is. Sy gaan nie toegee aan swartgalligheid nie, sy gaan ten minste hierdie een aand enduit geniet.

Sy raak kriewelrig toe sy sien hoe Simon na haar kyk sonder om ’n woord te sê.

“Hoekom kyk jy so na my?”

“Omdat jy nie weet hoe ’n aantreklike prentjie jy maak nie.”

“Is dit nou jy of die vonkelwyn wat praat?”

“Nee, Telani, jy is baie mooi. Jou groen oë wat so skerp afsteek teen jou swart hare is baie treffend, om nie te praat van daai lang, swart wimpers nie.”

Sy bloos bloedrooi. “Hou op, Simon, jy sien al my blapse raak.”

Hy lag skuldig en wink na die kelner. “Jy’s reg. Ek sal my heelaand aan jou kan sit en vergaap.”

Sy is amper spyt toe Simon opstaan. “Komaan, dis tyd om jou terug te neem.” Hy trek haar aan haar hand orent en hou haar vas toe sy effens onvas op haar voete is.

Sy giggel soos ’n skooldogter. “Oepsie, my kop draai ’n bietjie. Jy beter my nie laat los nie.”

“Ek is net hier langs jou. Kom, ons kry ’n taxi.”

Maar Telani stribbel teë. “Nee, dis darem nie so erg nie. Ek wil liewer stap, vars lug kan my net goed doen.”

Hy kyk geamuseerd na haar. “Ons hotel is ver hiervandaan.”

“Ek sien kans om Kilimandjaro uit te klim. Wat was in daai sjampers?”

Hulle loop met hulle koppe naby mekaar, sy arm be­skermend om haar middellyf.

’n Ent verder steek Telani vas. “Watse ligte flikker so, Simon? Dit lyk amper asof dit mens nader lok.”

Hy lag kliphard toe hulle voor die helder verligte ingang gaan staan. “Wil jy nou meer. Dis een van daardie kapelle waar mens sonder enige fieterjasies kan trou.” Hy kyk na die naam. “As ek my nie misgis nie, is dit hier waar ’n bekende popsangeres ook halsoorkop getroud is.”

“Jy speel seker.” Sy loer met groot oë binnetoe. “Kan ons nie ingaan sodat ek net hier voorlangs kan sien hoe dit lyk nie? Asseblief, Simon, ek het nog net hiervan gehoor. Dan kan ek spog dat ek ook in so ’n plek was.”

“Jong, ek weet nie. Netnou gooi hulle ons uit as ons nie besigheid wil doen nie,” skerm hy. “Tensy . . .”

Skielik is sy in ’n roekelose bui. “Komaan, bangbroek. Ek sal voor loop. Bly jy net agter my,” nooi sy ewe kordaat.

Binne is alles romanties in die oortreffende trap en strelende musiek speel in die agtergrond. Sy gaan staan voor ’n boog wat oordadig versier is en kyk rond. Agter daardie toe deure is seker waar die seremonie voltrek word, dink sy.

Simon kom agter haar staan en sy arms vou om haar lyf.

“Trou met my, Telani,” fluister hy in haar nek. “Sommer net hier.”

Sy ruk weg. “Ek is wragtag aangeklam. Amper het ek jou verkeerd verstaan.”

“Jy’t reg gehoor. Hoeveel keer moet ek nog vra?”

Sy draai om na die aantreklike man hier by haar. “Ja, sure, hoekom nie? Ons kan netsowel die kans gebruik,” speel sy saam. “Dink net hoeveel geld ons kan spaar.”

“Ek bedoel dit, Telani, ek herhaal my aanbod, ek wil met jou trou.”

Hoekom is sy stem so ernstig? wonder sy. Dis mos ’n hengse groot grap, veronderstel om haar op te beur.

“Jy is sowaar ernstig, nè, Simon? Kom ons loop liewer, die plek tas jou sinne aan.”

Sy arms hou haar stywer vas. “Ek het netnou jou paspoort en identiteitsboekie in jou handsak gesien. Ons het alles wat ons nodig het. Jy moet net ja sê, asseblief, Telani?”

Sy kyk in sy pleitende oë, bewus van sy strelende hande op haar arms. Aag, wat de heng? Sy’s mos weer ’n alleenloper, sy gaan instem, kyk hoe ver die speletjie gaan.

“Oukei, hoekom nie? Ons is mos in Vegas. Hier word alles in die oortreffende trap gedoen. Ek het niks om te verloor nie, kom ons gaan trou,” willig sy giggelend in.

Hy lag verlig. “Gedog jy gaan nooit ja sê nie,” sê hy en trek haar saam.

Die ontvangsdame is vriendelik en behulpsaam toe Simon hulle besonderhede gee.

“Jy wil seker ’n trourok dra, of . . .” vra hy onseker.

“Natuurlik wil ek,” val sy hom in die rede. “Dis immers elke meisie se groot dag. En jy dra niks anders as ’n swawelstertpak met ’n keil nie.” Sy waai vir hom toe sy agter die meisie aanstap.

“Ek gaan solank die registrasie en papierwerk afhandel,” roep hy agterna.

Telani kyk geamuseerd om haar rond na al die bruidsuitrustings en toebehore. Sy vat die eerste die beste bruids­gewaad en verdwyn in die aantrekkamer. Sy trek vinnig aan, smoor haar gedagtes aan die ingevoerde skepping wat nou nutteloos in ’n kas by die huis hang.

Toe sy na haarself in die spieël kyk, moet sy hard sluk om die snikke te keer, maar die trane stroom oor haar wange. Dis heeltemal anders as wat haar smaak is, maar hierdie hele besigheid is soos popspeel – hoe verder van die waarheid, hoe beter.

Die assistent rangskik die sluier op haar kop, druk ’n paar blomme in haar hand en beduie waarheen sy moet gaan. So ja, ten minste kan Simon nie die trane sien nie. Sy stap hom stadig tegemoet en kyk twee keer na die aantreklike ou voor die altaar om seker te maak dis die regte man met wie sy gaan trou.

Sy oë is vol bewondering op haar en hy glimlag bemoedigend terwyl sy oë haar gerusstel. Sy stap stadig op maat van die troumars tot langs hom, haak by hom in en kry dit reg om selfs liefies te glimlag toe die meisie die sluier oor haar kop lig.

Sy hoor niks van die seremonie nie. ’n Onbeheerste lagbui wil haar oorval toe sy dink hoe lekker hulle nog in die toekoms hierdie storie aan hulle vriende gaan vertel –nie asof iemand dit sal glo nie. Dis amper soos kleintyd toe sy en haar maatjies so lekker trou-trou gespeel het. Sy sien nog die wit laken om haar lyf gedrapeer en haar ma se teenet op haar kop, kompleet soos ’n sluier. Net die bruidegom het ontbreek, maar in daardie stadium was hy van minder belang. Alles het om die bruid in al haar kinderlike glorie gegaan.

Toe Simon die ring aan haar vinger moet steek, onthou albei daar is nie een nie. Maar hier word aan alles gedink. Die dame wat getuie van die seremonie is, is blitsig by met ’n houer vol ringe en Simon kies een wat naastenby reg lyk. Hy glip die ring aan Telani se ringvinger en hou haar hand styf vas. Sy oë blink toe hulle man en vrou verklaar word en die ampsbekleër sê dat hy sy bruid mag soen. Simon se lippe raak net vlugtig aan hare en Telani glimlag mooi toe daar selfs foto’s van hulle geneem word.

Ná die plegtigheid handel Simon die dokumentasie af terwyl Telani gaan verklee. Sy hou die rok ’n oomblik styf vas. Dis seker die naaste wat sy aan trou sal kom, dink sy hartseer.

“Dit was nou lekker, onverwagse vermaak,” wag Simon haar in. “Hulle het sowaar vir alles gesorg, daar het niks ontbreek nie.”

“Het jy onthou om die foto’s te vat?” vra Telani. “Ons pelle sal hulle doodlag as hulle dit sien.”

Hy gee die koevert aan en sy soek tussen die papiere en haal ’n foto van haar en ’n glimlaggende Simon uit. Sy hou dit triomfantelik omhoog asof hulle ’n eerste prys in die skoolkonsert gewen het.

“Hierdie een gaan ’n lekker storie wees.” Sy draai na hom. “Het ons dit regtig gedoen, Simon?”

Hy knik, kyk by die venster uit, ontwyk haar oë. “Jip, ons is man en vrou.”

“Nou kan ek ook sê ek is getroud waar party van Holly­wood se bekendes al getrou het,” sê sy selfvoldaan.

Simon wink ’n taxi nader. Hy is ongewoon stil. Telani is skielik lomerig, asof die lang en opwindende dag besig is om sy tol te eis. Die sagte geruis van die motor laat haar kop knak en sy is skaars bewus daarvan toe Simon haar saggies teen sy skouer laat rus.

Een nag in Vegas

Подняться наверх