Читать книгу Altyd die verkeerde man - Elsa Hamersma - Страница 3
1
ОглавлениеVandag moes sy liewer in die bed gebly en die kombers oor haar kop getrek het, dink Ebbie. Dit sou beter gewees het as om kantoor toe te kom en te maak asof niks verkeerd is nie. Omdat dit haar verjaarsdag is, verwag almal op die koop toe dat sy stralend en gelukkig moet wees.
Min weet hulle dis haar slegste verjaarsdag ooit.
Maar die lewe gaan aan. Daarom het sy soos gewoonlik koek en botterbroodjies vir teetyd gebring.
“Wat doen julle vanaand om jou verjaarsdag te vier?” vra Jeannie, die jong, snipperige sekretaresse.
Ebbie moet eers dink voor sy antwoord. Daar’s nie meer ’n ons nie, kan sy sê. Al vir ’n maand lank is daar nie meer ’n ons nie. Dit sal die waarheid wees, maar dan sal sy moet verduidelik. En daarvoor sien sy nie kans nie. Nie vandag nie. Jok kon sy nog nooit maklik nie en dit laat haar dus nie met te veel keuses nie.
“Niks,” sê sy uiteindelik en kyk na die wit merk aan haar regterhand waar die silwer ringetjie sewe jaar lank gepryk het. Snaaks dat Jeannie dit nie raakgesien het nie, maar dis ook so ’n onbeduidende ou merkie.
“Hoe boring,” reken Jeannie. “Julle is al soos ou getroudes. Mý ou het my op my verjaarsdag Oceans toe gevat. Oe-e, dit was ’n perfekte aand … Die maan het oor die see gesak en ons het eers op die stoep sjampanje gedrink. Alles was so romanties … Ons het kreef geëet en calamari. Toe begin die orkes speel en ons het gedans tot die son amper opgekom het …”
Ebbie luister net na sleutelsinsgrepe as Jeannie praat, want haar stories word gewoonlik eindeloos uitgerek. Daarom knik sy net van tyd tot tyd haar kop asof sy die gesprek noukeurig volg. Die onderwerp van verjaarsdae en romantiese uitstappies is regtig nie een waarna sy vandag wil luister nie.
“Ebbie!”
“Skuus,” skrik sy uit haar mymering op toe sy besef Koot, haar baas, praat met haar.
Koot wuif met sy hand in die rigting van sy kantoor. “Ek sê: as julle klaar getee en gekoek het, moet jy asseblief deurkom na my kantoor toe. Daar’s iets wat ek met jou wil bespreek.”
“Ek’s klaar, ek’s nóú by jou, Koot. Jy kan alles wat oorbly vir jou kinders vat, Rebecca,” sê Ebbie vinnig vir die kantoorhulp. “En sal jy asseblief die koppies en glase agtertoe vat wanneer Jeannie en Piet klaar is?”
“Dankie vir die eetgoed, Ebbie,” brom Piet deur ’n mond vol koek. “Lekkerrr.”
Ebbie knik vir hom en glimlag vir Rebecca se dankbare handeklappie terwyl sy Koot na sy kantoor volg.
“Hier’s ek, baas. Reporting for duty.”
“Dankie vir die verversings,” sê Koot fronsend. “Sit. Daar’s iets waaroor ons moet praat.”
“Klink ernstig?”
“Dit is.”
Hy speel met sy pen, rol dit heen en weer tussen sy hande terwyl hy skynbaar gefassineer daarna sit en kyk. “Ek het ’n joppie vir jou.”
“Dis goed. Ek hoop net dit beteken goeie geld vir my.”
“Dit sal, maar ek’s ’n bietjie in two minds daaroor om jóú die joppie te gee.”
“Hoe so?” vra sy verbaas.
“Om mee te begin is dit vir Liam Murray.”
“Wie’s Liam Murray?”
“ ’n Eiendomsontwikkelaar.”
“En? Dis mos die mense vir wie ons hoofsaaklik werk?”
“Ja.”
“Nou wat’s die probleem?”
“Die man het ’n reputasie, my girlie. In meer as een opsig. Daar’s baie stories wat die ronde doen oor die kêrel.”
“Watse stories?”
“Om mee te begin dat hy soos ’n stoomroller is – onstuitbaar. En dit beteken miskien dat al sy saketransaksies nie … hoe sal ek sê … heeltemal above board is nie.”
Sy steek ’n glimlag weg. Soos altyd amuseer Koot se Engelse invoegsels haar. Hy verbeel hom hy praat perfekte Engels, maar hy het so ’n sterk Afrikaanse aksent dat die Engels as “ ’n baf bort” uitkom.
“Bedoel jy dat hy by onwettige transaksies betrokke is?” vra sy, skielik bewus van die implikasie van sy woorde.
“Wie sal weet?” Koot gooi sy hande, pen en al, in die lug. “Niemand kon nog ooit iets teen hom bewys nie.”
“Nou waarom moet ons met so ’n man besigheid doen?”
“Bucks, my girlie.” Hy vryf sy voorvinger teen sy duim om te beduie van die “baks”.
“Die joppie wat jy vir my het, is dus saam met hierdie man wat – sal ons maar sê – ongewone metodes gebruik in sy saketransaksies?”
“Net so.”
“Waar’s die ontwikkeling wat hy wil doen?”
“By Kransbaai aan die Weskus. Hy gaan, soos ek verstaan, die hele strook kuslangs gelyk laat stoot en van voor af ontwikkel. En hy wil hê ons moet van die eerste fase af al betrokke raak by die bemarking. Dis hoekom ek vir jou sê dat dit báie geld vir ons kan beteken.”
“Kransbaai? Maar dis ’n pragtige klein vissersdorpie! Dit lyk soos ’n Griekse eiland met al die wit huisies wat om die soom van daardie blouselblou see gebou is! Dit sal ’n sonde wees om die eiesoortige karakter van die plekkie te verander!”
Koot loer onder sy ruie wenkbroue uit, stoot sy bril met sy een hand hoër op en sug. “Ja. Dis die ander probleem: ek het geweet jy gaan nie van die idee hou nie.”
Ebbie frons. “Jy’s reg, Koot. Ek hou nie van die idee nie, en ek wonder nou net hoekom jý nie liewer die joppie doen nie? Ek sou dink dis so reg in jou kraal, veral as daar baie geld betrokke is.”
Koot Erlank is ’n legende in die bedryf, want hy het die vermoë om enige eiendom oënskynlik moeiteloos en vinnig te verkoop. Sy kan haar goed indink dat Liam Murray hom genader het om sy ontwikkeling te verkoop.
“Dis nou waar die probleem lê: ek kan nie. Ek moet hospitaal toe gaan. Geringe ou dingetjie, maar ek gaan vir ’n hele ruk buite aksie wees. Daarna gaan ons op die toer Amerika toe wat ek Linda al jare lank belowe. Dit werk goed uit, want daar’s ’n eiendomsekspo daardie tyd in New York. Ek wil ’n bietjie gaan kyk hoe die Amerikaners dit doen. Maar ja, dit beteken ek sal so ses maande uit sirkulasie wees.”
“Hospitaal?” Sy kyk oorbluf na hom. In al die jare wat sy Koot ken, kan sy nie aan een dag dink wat hy nié by die werk was nie.
“Ja. As jy moet weet, dis prostaatprobleme. Maar hou dit tussen ons,” brom hy.
“Ek sien,” sê sy stadig. “Maar waarom so ’n lang wegbreek? En nog ’n ekspo ook? Jy was dan pas by een in Londen.”
“Dis waar ek die tricks of the trade leer en kontakte opbou. My dokter reken ook ek moet goed rus ná die operasie.”
“En wie gaan jou verpligtinge oorneem terwyl jy weg is?”
“Ek het vir At gevra om die show te run tot ek terug is. Hy is ongelukkig uit op ’n groot jop, anders sou ek hom vanoggend by ons vergadering ingesluit het.”
“Hmm …” Ebbie weet nie wat om van dié verwikkeling te dink nie. “En ek? Wat verwag jy nog van my terwyl jy weg is?”
“Maak vir ons geld, ou girl. Soos ek gesê het, wil ek hê jy moet jou gewig by die Kransbaaiprojek ingooi. Dit sal jou besig hou totdat ek terug is. Jy sal aanvanklik net oor die beplanning hoef te dink, die strategie vir die bemarking en so aan, maar daar’s baie werk om te doen. Jy sal byvoorbeeld ekstra agente moet aanstel – plaaslike mense sal goed werk – en met die banke oor die lenings onderhandel. Teen die tyd dat die dienste in is, moet Panorama – dis wat Liam die ontwikkeling noem – uitverkoop wees.”
Sy kyk lank by die venster uit voor sy reageer.
“Koot, kan jy nie ’n ander plan maak nie? Ek is regtig nie lus vir dié storie nie. Ek kan seker maar oë toeknyp vir die onstuitbare stoomroller se ongewone praktyke – mits dit natuurlik binne die grense van die wet val – maar jy weet hoe ek oor natuur- en omgewingsbewaring voel. Kransbaai is werklik ’n unieke dorpie, en dit gaan vir my baie moeilik wees om aandadig daaraan te wees om sulke rare ongeskondenheid te vernietig. Ek weet julle spot agter my rug oor my obsessie met bewaring, maar as daar nie mense soos Anton Rupert was wat gekeer het dat historiese geboue platgeslaan word nie, het ons vandag in ’n land sonder bewyse van ons vroeëre bestaan hier gelewe.”
“Jy’s nie Anton Rupert nie, jy’s ’n eiendomsagent. En ons praat darem nie van historiese geboue nie.”
“Kransbaai het pragtige ou vissershuise – dié met die snaakse dakkie en die bakoond aan die kant. Ek is seker party kwalifiseer al as historiese geboue! Selfs as kind het ek gesien dat dit besonders is, iets anders. Ek kan regtig nie dink dat ek die een moet wees wat Liam Murray help om dit plat te stoot nie.”
Koot frons. “Die plaaslike regering het dit goedgekeur, waaruit ek aflei dat die ontwikkeling nie in ’n ekosensitiewe gebied is nie en dat die geboue nie kwalifiseer as histories nie. Deesdae is die ouens nogal op die ball met dié tipe ding.”
Hy dink ’n oomblik. “Tensy daar ander faktore is wat hulle in berekening gebring het.”
“Bedoel jy dat Liam Murray hulle omgekoop het?” Ebbie voel hoe ’n warm gloed in haar nek opstoot.
Koot trek sy skouers op. “Ek weet nie,” sê hy huiwerig. “Nee,” sê hy dan beslis. “Ek dink nie die kêrel sou só iets gedoen het nie.”
“Ek weet van twee aansoeke vir ontwikkelings noord van Yzerfontein wat sommer heel aan die begin afgekeur is. Om die waarheid te sê: dis makliker om vere te pluk van ’n padda as om so ’n aansoek te laat slaag. Hoe sou Murray dit dan reggekry het? Is jy seker die ontwikkeling is klaar goedgekeur?”
“Ek reken so. Die man sou ons nie genader het as hy nie baie seker was van sy saak nie.”
Koot tel weer sy pen op en rol dit met mening tussen sy hande. “Hy sê wel daar’s ’n groepie in die dorp wat die ontwikkeling teenstaan. Fishermen’s Forum, noem hulle hulleself. Maar Liam dink nie daar’s enige moontlikheid dat hulle die saak in die wiele sal kan ry nie. Mag dalk die ding ’n bietjie uitrek. Irriterend, met ander woorde, maar dis al.”
“Hoe meer jy praat, hoe minder hou ek van die man! Hy klink soos iemand wat dink hy’s verhewe bo die landswette. Daar is baie sulke mense.”
“Nee, nee! Ek dink darem nie Liam sal willens en wetens die wet oortree nie. Maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Soos ek gesê het, hy laat hom deur niks stuit nie.”
“Jy bedoel hy bréék nie wette nie, hy buig hulle net,” sê Ebbie met afkeer. “Dit maak alles nou vir my sin. Net so ’n tipe man sal ’n plekkie soos Kransbaai wil vernietig deur dit sogenaamd van nuuts af te ‘ontwikkel’.”
“Kyk, ek wil nie verder met jou oor die meriete van die saak argumenteer nie. Aanvaar nou maar dat Liam Murray ’n sekuriteitslandgoed met ’n gholfbaan op Kransbaai gaan bou. Dit staan soos ’n paal bo water. Nie ek of jy kan iets daaraan verander nie. Wat ons wel kan doen, is om ’n deeltjie van die geld na ons kant toe te hark.”
“ ’n Gholfbaan op die koop toe! Vadertjie tog, gee my krag. Dit raak net erger!”
“Ja. Ek moet erken die man het dalk meer afgebyt as waarop hy gebargain het, want dis groot geld wat in so ’n ontwikkeling ingaan. Ek’s verbaas dat hy nie vennote het nie. Nietemin, dis nou besides the point. Ons moet net die erwe bemark en dié, kan ek jou sê, gaan soos soetkoek verkoop. Die ander agente gaan almal dikbek wees oor hierdie meevallertjie wat ons kant toe gekom het.”
“As dit so maklik gaan wees, waarom het hy juis op óns besluit?”
“Ek het Liam by die ekspo in Londen raakgeloop. Ons het aan die gesels geraak en hy sê toe hy het ons dopgehou toe ons die ontwikkeling by Crystal Bay bemark het en hy was baie beïndruk. Daarom bied hy ons die hele pakket op Kransbaai aan. Die erwe gáán maklik verkoop, maar dit behels meer as net verkope. Nie alle agente het die kennis en ervaring om so ’n omvattende diens soos ons s’n aan te bied nie. Dis ons jare se ondervinding wat die groot geld gaan inbring.”
“Geld is nie alles in die lewe nie,” sê sy sag.
“Geld kan nie alles koop nie, ja,” erken Koot. “Maar dit help as jy ’n gesondheidsprobleem het en jy kan betaal vir die operasie,” voeg hy droogweg by. “En as jou tyd om af te tree nader kom, begin geld ook meer belangrik word.”
Dit lyk nogal so, dink sy, want Koot het nog nooit tevore soveel klem gelê op geldmaak nie. Hy het oud geword, besef sy skielik. Sy ruie wenkbroue is silwer en die yl hare op sy kop ook. En hy is regtig bekommerd oor sy gesondheid, anders sou hy nooit van aftree gepraat het nie. Hy moet ouer as sestig wees, weet sy. Dis seker nie onrealisties dat hy van aftree praat nie, maar dis iets waaraan sy glad nie wil dink nie.
“En nou? As jy so hartseer lyk?”
“Niks. Ek hou net nie daarvan dat jy hospitaal toe gaan en van aftree praat nie.”
“O. Ek was vir ’n oomblik bang dis oor Thys. En ek’s juis so bly jy het uiteindelik van hom ontslae geraak.”
Ebbie voel hoe die bloed na haar gesig stroom. Toe sak dit na haar voete en sy voel letterlik hoe sy yskoud word. Hoe sou Koot van haar hartseer weet? Sy het niemand daarvan vertel nie.
“Jy’s bly?” vra sy sag. “Ek het gedink jy en Linda hou van hom?”
“What’s not to like? Hy’s aangenaam, interessant en intelligent. A man’s man; kan oor al die sport gesels. Maar hy het nooit planne gehad om met jou te trou nie. En ek weet dis wat jy wil hê: om te trou. ’n Familie – man en kinders. ’n Voorstedelike huis.”
Koot se woorde val soos ’n loodreën oor haar. “Jy’t geweet ék wil trou, maar hy wil nie. Hoe het jy geweet?”
Daar is simpatie in Koot se oë. “Ek ken jou al vyf, ses jaar, my girl. Dink jy ek weet nie wat jy wil hê nie? Dink jy ek sien nie hoe jy na die kinders van die kopers en verkopers kyk nie? Jy kom dit nie eens agter nie, maar jy meet elke huis wat ons kry om te verkoop aan jou standaarde. Of jý lekker en gerieflik daar sal kan bly. Jy en jou familietjie.”
Koot is absoluut reg. Sy droom van ’n groot, soliede ou huis in ’n boomryke voorstad met ’n slaapkamer vir haar en haar man, en een vir elke kind: ’n seuntjie en twee dogtertjies. Die leefkamer het rakke vol boeke en groot houers vol speelgoed. Daar is ’n kat op die bank en ’n hond by die voordeur. Die tuin is oud en gevestig en daar is ’n boom met yslike dik takke wat uitwaaier soos ’n sambreel. Aan een tak hang ’n swaai en tussen die takke nestel ’n boomhuis.
Sy moet twee keer sluk voordat sy kan praat. “En hoe … hoe weet jy Thys het nooit planne gehad om met my te trou nie?”
“Linda het die eerste keer toe ons hom ontmoet het, gesê sy dink jy mors jou tyd met hom. En een aand by jou woonstel, oor ’n glas whisky terwyl jy en Linda aan die kosmaak was, het hy vir my gesê hy dink nie ’n man is gemaak vir ’n monogame verbintenis nie. Dat mans wat trou dom is. Dè, hier’s my sakdoek.” Hy vryf saggies oor haar hand toe hy die sakdoek oor die tafel na haar toe skuif.
Ebbie het nie agtergekom sy huil nie. Koot se sakdoek is groot en sag – soos hy.
“Hy het dit nooit vir mý gesê nie,” fluister sy.
“Hy sou seker nie. Dit sou nie slim gewees het nie, en dit kon hom ’n voordelige verhouding gekos het.”
Haar suster Hélène het ook al die jare gesê dat dit vir Thys ’n voordelige verhouding was.
“Wie het jou vertel hy’s weg?” vra Ebbie en blaas verwoed haar neus.
“Hom op straat raakgeloop. Hy’t gesê jy’t hom uitgegooi.”
Daar is stilte in die kantoor terwyl Koot sy speletjie met die pen hervat en Ebbie haar wange afdroog.
“Wat doen ek nou, Koot?” vra sy eindelik. “Sewe jaar van my lewe weggegooi. Sewe maal drie honderd vyf en sestig dae se liefde, verdraagsaamheid en hoop weg. In die asblik.”
“Sewe jaar ís ’n lang tyd. Maar jy kan bly wees dit het nou end gekry, terwyl jy nog jonk genoeg is om ander mans te ontmoet. Dink nou as jy eers oor nog vyf jaar jou fout agtergekom het. Jy kon jou hele jong lewe op hom gemors het. Terloops, wat het jou uiteindelik die moed gegee om hom onder sy jêk te skop?”
“Hy’t my verjaarsdag vergeet. Planne gemaak om in dié tyd sonder my vir ’n paar dae in die berge te gaan kamp saam met sy pelle. Toe ek hom daaraan herinner, het hy net sy skouers opgetrek. Gesê hy’t vergeet en wat daarvan? Net kinders raak opgewonde oor verjaarsdae en Krismis.” Sy snuif weer by die herinnering. “So asof ek nie vir sý verjaarsdag dertig mense in die woonstel moes onthaal en dae lank daarna skoongemaak het nie.”
“Maar girlie, wil jy vir my sê jy’t nooit agtergekom dinge loop skeef nie?”
“Natuurlik was daar lankal ander tekens, maar ek het dit geïgnoreer en gehoop dat dit weer beter sal gaan. Maar toe hy my so op en af staan en kyk asof ék die een is wat onredelik is, het ek besef dat my suster al die jare reg was. Toe stel ek vir hom ’n ultimatum: óf ons trou binnekort óf hy trek uit. Het hy dít nie vir jou vertel nie?”
“Nee. Dalk nie gedink dit was belangrik nie. Maar ek is seker jy’t geweet hy gaan nie trou kies nie.”
“Ja. My hart wou dit nie glo nie, maar my verstand het gewéét.”
Sy glimlag baie effentjies. “Hy’t vir seker nie verwag dat ek hom sommer sou uitgooi nie. Beslis nie dat ek hom dieselfde dág nog uit my huis sou wou hê nie. Weet jy, ek was so kwaad, ek het sy tennisrakette uit die gangkas geruk en een vir een by die voordeur uitgesmyt terwyl hy soos ’n standbeeld bly staan het, te geskok om te reageer.”
“Ek begin die man amper jammer kry,” antwoord Koot droogweg. “G’n wonder hy’t so half in ’n dwaal gelyk nie! Waarnatoe is hy met al sy goed?”
“Glo sommer by die hotel om die hoek ingetrek en vinnig gereël om sy besittings te stoor. Al sy tente, kampeergoed, tennisrakette, gholfsakke, visstokke. Daai blerrie kano wat hy aan die motorhuis se dak vasgemaak het en wat my altyd laat voel het ek moet koes,” sê sy met gevoel. “Skielik lyk my huis soos ’n woonplek en nie meer soos ’n sportwinkel nie.”
Koot vat haar hand oor die lessenaar. “Van hier af kyk jy vorentoe en vergeet van hom. Ek en Linda het juis ’n baie oulike kêrel ontmoet wat ons graag aan jou wil voorstel.”
“Koot, nee! Asseblief tog nie nou al nie. Ek wil nie ondankbaar klink nie, maar ek is op die oomblik emosioneel nog heeltemal te rou.”
“Hoe nou, girlie? Jy wil mos trou?”
“Ja. Wanneer ek eendag oor hierdie ding is, ontmoet ek dalk iemand wat vir my bedoel is.” Sy kyk in Koot se oë. “As daar iemand vir my is, ’n man wat my drome deel, sal hy na my gestuur word. Dis so opgeskryf in die groot boek daarbo. Of dit is nie. En as daar ’n man kom, sal ek dié keer baie mooi kyk om nie weer dieselfde foute te maak nie, dit belowe ek jou.”
“Vergeet net so vinnig as moontlik van Thys.”
“Makliker gesê as gedoen,” sê sy stram. “Dis die gewoontes van sewe jaar wat moeilik is om te laat vaar. Dis skielik so stil, weet jy? Maar ek sal dit mettertyd seker gewoond raak.”
“Wees liewer dankbaar dat jý hom uit die huis kon gooi en dat dit nie andersom was nie.”
“Jy’s so reg. Ek sal jou ewig dankbaar bly dat jy my destyds die raad gegee het om die woonstel te koop.”
“Ja. En dáár’s die silwer randjie om die donker wolk. As Thys daardie tyd die woonstel om die helfte saam met jou gekoop het, was dit nie so maklik om hom uit te gooi nie.” Hy sug. “Ja, my girlie, hindsight is ’n wonderlike ding.”
Sy snuif en sit Koot se sakdoek in haar handsak om by die huis te gaan was. “Genoeg van my persoonlike dinge. Om terug te keer tot ons gesprek vroeër: kan At of Piet nie maar in jou afwesigheid met die stoomrollende, amorele Liam Murray onderhandel nie? Jy sien mos ek is broos op die oomblik.”
Dit lyk amper asof Koot skrik. “Magtag, girlie, dis darem nie só erg nie! En toe ek vir Liam sê dat ek met verlof gaan, het hy spesifiek gevra dat jy dan die projek moet oorneem.”
“Hoe so? Wat weet hy van my af?”
Koot haal sy skouers ongeërg op. “Hy sê hy’t na die rekord van oordragte en kontrakte van Crystal Bay gekyk en jy het baie goed gedoen. Die ander eiendomsagente het glo nie een naastenby soveel erwe verkoop of soveel lenings gereël nie.”
“Is dit so?” vra sy ingedagte. “Ek het dit nogal nie besef nie, maar ek weet wel ek het goeie besigheid daar gedoen.”
“Jy’s ’n goeie agent. Dis hoekom ek jou saam met my gebring het toe ek Erlank Eiendomme begin het.”
Sy dink ’n bietjie na. Besef dan dat sy nie eintlik kan weier nie, veral in die lig van Koot se operasie.
“Koot, as ek nie so lief vir jou was nie, het ek wraggies nee dankie gesê vir hierdie opdrag. Maar nou ja, dalk lei dit my gedagtes af. Wanneer moet ek met die man gaan praat?”
“Hy het gevra dat jy hom halfeen by The Pink Pomegranate ontmoet.”
“The Pink Pomegranate, nogal?” Ebbie is beïndruk. “Ek lees gewoonlik net in die tydskrifte en koerante van sulke eetplekke. Ek kan nie bekostig om daar te eet nie, en Thys …” Sy besluit om liewer nie verder uit te wei nie.
“Nou ja, dis jou kans. Vra net by die kelner vir meneer Murray se tafel en dan gaan doen jy jou ding.”
Ebbie staan op.
Die telefoon begin skel lui op Koot se lessenaar en hy wys met sy hand in die lug vir haar om te wag. Die oproep moet belangrik wees, want hy laat sy stem sak, druk dan die gehoorstuk toe en sê vir haar: “Sal later weer met jou praat. Kom rapporteer terug ná die middagete.”
Wit marmer en swart graniet is gebruik om ’n elegante voorkoms in The Pink Pomegranate te skep, en wit blomme in swart vase onderskryf die tema. ’n Kelner in ’n spierwit hemp neem Ebbie se baadjie terwyl nog een haar na die tafel begelei.
Sy voel ’n bietjie oorweldig deur die deftigheid, maar sy stap saam asof sy gewoond is aan duur, luukse restaurante. Met ’n swierige swaai van die hand beduie die kelner vir haar dat hulle by meneer Murray se tafel is en trek dan vir haar ’n stoel uit.
Die tafel is effens eenkant in ’n alkoof en sy het skaars gesit toe ’n groot man langs haar verskyn. “Ek’s Liam Murray,” sê hy glimlaggend en steek sy hand na haar uit.
“Ebbie Basson,” antwoord sy.
Sy is beïndruk, want sy kan nie onthou wanneer laas sy ’n man ontmoet het wat ’n kraakwit hemp, das en strepiespak dra vir middagete nie. Thys, dink sy onwillekeurig, besit nie eens ’n pak nie.
Die man wat oorkant haar gaan sit, het taamlik growwe gelaatstrekke, maar sy helderblou oë trek dadelik haar aandag. Vasberadenheid word in sy vierkantige ken en die lyn van sy kaak weerspieël en sy verstaan sonder meer dat hy hom nie maklik sal laat stuit nie. Sy sandkleurige hare begin net-net grys wys by sy slape, wat verraai dat hy nie meer so jonk is nie. Maar om ’n onstuitbare, stoomrollende ontwikkelaar te word, gebeur seker nie oornag nie, besluit sy sinies.
Die kelner is dadelik by met ’n wynlys en ’n spyskaart, wat hy eerste vir Ebbie aanbied. Daar is nie pryse op die spyskaart nie, sien sy. Miskien beter so, want sy weet sommer dit sal haar eetlus bederf.
Eers toe die besigheid van wyn-, water- en kosbestellings afgehandel is, leun Liam Murray vorentoe en kyk indringend na haar asof hy haar beter wil sien.
“Dan is jy nou Ebbie,” sê hy en sy blik gly oor haar gesig asof hy elke detail in fyn besonderhede inneem.
“Ja,” sê sy ongemaklik onder sy bestuderende blou oë. Dit kan tog beswaarlik iemand anders wees.
“Nou kom, laat ons besigheid praat. Laat ek jou van my voorgenome ontwikkeling vertel,” sê hy. “Vanweë die wonderlike uitsig het ek besluit om die landgoed Panorama te noem. Die grond wat ek gaan ontwikkel, is op Kransbaai, omtrent honderd en vyftig kilometer van Kaapstad af. Dis maar ’n uur of twee se ry uit die middestad. Daar gaan honderd en vyftig erwe uitgesit word, wat Erlank Eiendomme – as ons die kontrak sluit – van die hand moet sit. Die hele landgoed sal onverbeterlike sekuriteit hê; dis baie belangrik vir oorsese kopers. Daar gaan ’n agtienputjie-gholfbaan wees en die uitsig van die baan af is absoluut skouspelagtig. Ons naaste dorp is Vredenburg, waar daar ’n privaat hospitaal is en baie goeie mediese sorg. Daar is ’n lughawetjie vyftien kilometer van Kransbaai af wat ingerig is vir kleiner vliegtuie, wat beteken dat mense van Kaapstad af sal kan vlieg om na die ontwikkeling te gaan kyk as hulle sou verkies om nie te ry nie. Dit, in ’n neutedop, is waarmee julle moet werk. Enige vrae sover?”
Ebbie het aandagtig gesit en luister. Sy wil graag met Koot praat oor hulle strategie en dan moet sy die feite ken of sy soek moeilikheid.
Sy kyk op in die skokblou oë. “Prys?”
“Dit, Ebbie, sal ons nog moet bereken.” Hy kyk oor die vol restaurant. “Ek kan byna enige prys vra en ek sal dit kry, want mense sal oor mekaar val om te koop.”
Die kelner verskyn met ’n bottel wyn en ’n bottel mineraalwater. Die sakebespreking word onderbreek terwyl ’n bietjie wyn geskink, geproe, meer geskink en daar ’n hele gesprek oor die oesjaar en die kwaliteite van die wyn gevoer word.
“Lyk vir my jy’s nogal ’n wynkenner?” vra Ebbie.
“Ja. Ek is passievol oor wyn en soos met alles waarvan ek hou, het ek ’n studie daarvan gemaak.”
“En is jy passievol daaroor om eiendomme te ontwikkel?”
“Vanselfsprekend.”
Sy sit en wonder of sy hom trompop moet vra of die vissershuise op die strand van Kransbaai platgestoot gaan word, en of die bewaring van ou, geskiedkundige huise nie ook een van sy passies is nie, toe sy onthou dat sy verjaar en uit hierdie onverwagte oord ’n eetbelewenis gebied word. Vandag gaan sy nié vir Liam Murray oor sy sake-etiek of sy verbondenheid tot bewaring uitvra nie.
Die geregte wat hulle bestel het, word voor hulle neergesit. Hulle het beide ’n slaai bestel en die twee geregte lyk soos iets wat Ebbie gewoonlik net in tydskrifte sien.
“Kom ons eet eers,” sê hy en glimlag vir haar. “Dis moeilik om oor besigheid te praat tussen sluk en kou deur.”
Dit pas Ebbie en sy geniet die maaltyd ten volle.
Haar waterglas en sy wynglas word van tyd tot tyd so vaardig en onopsigtelik gevul dat sy dit amper nie eens agterkom nie. En toe hulle klaar geëet het, word die borde net so flink weggeneem.
Die lewe gooi darem snaakse draaie met ’n mens, dink Ebbie. Haar verjaarsdag het op ’n hartseer, vervelige noot begin en sy het verwag dat dit so sou bly die res van die dag. Toe kom Koot met sy “joppie” en nou sit sy in hierdie wêreldbekende restaurant!
Net toe verskyn die kelner langs die tafel en sit versigtig ’n middelslagkoek voor haar neer.
“Ek hoor by Koot dis vandag jou verjaarsdag?” sê Liam.
Sy knik net, stom van verbasing.
“Baie geluk, hoor! Ek is baie lief om van hierdie koek vir nagereg te eet. Toe was ek so voor op die wa om ’n hele koek te bestel ter ere van jou verjaarsdag. Dis ’n smaaksensasie – The Pink Pomegranate se soetgebak-sjef bestee baie tyd daaraan om dit op te tower. Ek hoop regtig jy sal so baie daarvan hou soos ek.”
Ebbie moet op haar tande byt om nie te begin huil nie. Dat ’n wildvreemde man haar nou so op haar verjaarsdag moet bederf! Is dit nie wat Thys ná sewe jaar se samesyn en saamleef moes doen nie?
Trane is egter nie ’n opsie nie. Sy neem die aangebode mes en sny versigtig die pragtig versierde koek.
Heelwat later kom sy op ’n wolkie van geluk terug by die kantoor. Sy gaan klop dadelik aan Koot se deur om verslag te doen.
“En nou? Jy lyk soos ’n kat wat ’n piering room gekry het,” sê Koot fronsend.
“Hy’t vir my ’n hele koek vir nagereg gekoop,” sê Ebbie tevrede en sit die res van die koek op Koot se lessenaar neer.
“Hy wil hê ek moet môre saam met hom Kransbaai toe gaan om na die gebied te gaan kyk wat hulle wil ontwikkel voordat die stootskrapers begin. Ek het nie kans gehad om met hom te praat oor die bewaring van die vissershuise en die karakter van die dorpie nie, maar ek sal dit doen as ons daar aankom,” vertel sy vir Koot.
Sy frons. “Soos hy gepraat het, het dit tog nie geklink asof daar huise is wat platgestoot gaan word nie. Het hy vir jou gesê hulle gaan?”
“Uhmm,” maak Koot keel skoon en ignoreer die vraag. “Ek weet nie of dit al te laat is nie, maar ek wou jou nog waarsku.”
“Waaroor?”
“Ek hoor Liam is ’n hartebreker. Hy los glo ’n mooi vrou moeilik uit, maar dan los hy haar weer net so vinnig. Hulle sê die pad agter hom lê besaai met vrouens wat gedink het hulle gaan hom voor die preekstoel kry. En al wat ’n vrou is, swig skynbaar voor hom.”
Ebbie voel hoe haar wolkie geluk onder haar padgee. “G’n wonder hy’s al aan die grys word en steeds sonder vrou nie!”
Koot kyk haar berekenend aan. “Jy sal baie versigtig moet wees vir Liam. Geld, sjarme en die aandag van ’n aantreklike man kan na enige vrou se kop toe gaan. Onthou dat jou verhouding met hom ’n sakeverhouding is en hou dinge ten alle tye baie professioneel.”
Ebbie voel afgehaal. Die bietjie nagloed van die middagete wat nog oor was, verdwyn. Die verjaarsdagkoek en die intense, opsommende blikke was dan maar die standaardprosedure van ’n hartebreker.
“Toemaar, jy weet tog ek is altyd professioneel, en dis mos werk waarvan ons praat, of hoe?” sê sy sarkasties. “Buitendien is ek nie mooi genoeg vir iemand soos Liam nie.”
Sy onthou dat sy gedink het daar is waardering in sy oë toe hy na haar kyk. Nou besef sy dat hy seker so na alle vroue kyk.
Koot frons. “Ebbie, moenie so praat nie. Jy moet die Here dank dat Hy jou so mooi en slim geskape het.”
“Wel, as ek so mooi geskape is, waarom wou Thys nie eens met my trou nie?”
“Thys wil met niemand trou nie! Dis hoe eenvoudig dit is. En vergeet nou van hom. Al wat hy jou ooit gegee het, is ’n minderwaardigheidskompleks.”
“Toemaar, kom ons laat dit daar,” snuif sy en vee die lastige klammigheid met die agterkante van haar hande van haar wange af.
“Wanneer gebeur die trippie Kransbaai toe?” vra Koot asof hulle nooit oor iets anders as werk gepraat het nie.
“Hy sal my môreoggend teen elfuur hier by die kantoor kom oplaai. Dan gaan ons deurry Kransbaai toe; dis so twee uur se ry daarheen. Die gedagte is om vir my die plek te gaan wys waar hy die ontwikkeling wil doen. En dan gaan ons oor die bemarking en so aan gesels. Besluit hoeveel geld hy bereid is om daarvoor te begroot, en of ons net een bank gaan kry om die finansiering te doen.”
“Dan ry julle môremiddag terug?”
“Nee, hy’t gepraat van ’n nag of twee in die hotel oorslaap. Hy dink nie ek kan die dorp deurkyk en op ’n strategie vir die bemarking met hom ooreenkom in die bestek van een dag nie.”
Miskien het hy ander planne gehad toe hy dié voorstel gemaak het, besef sy nou.
“Dis dalk ’n goeie idee om dadelik met die local kopers te begin gesels – ’n gevoel te kry van die verwagtinge wat die kopers het.”
“As-se-blief! Die mense wat in sy ontwikkeling gaan koop, sal van Gauteng, Kaapstad en oorsee kom. Die mense van Kransbaai is vissers. Waar moet hulle geld kry om in ’n gholfbaan te belê?”
“Daar’s altyd mense met geld in elke klein dorpie. En onthou, ek wil die agente in die dorp betrek. Jy sal met hulle moet gaan kennis maak. Maak net seker dat hulle verstaan ons is die mandaathouer en dat ons ’n persentasie van die kommissie van elke verkoop gaan vat, al is hulle die verkoper.”
“Ek weet nie of ek ’n sukses van hierdie ding kan maak nie, Koot.”
Sy stoot haar hand deur haar hare en laat dit soos ’n waterval terugval. Al waaraan sy kan dink, is Liam se helderblou oë en hoe sy haar daaraan sit en verkyk het oor die tafeltjie in die restaurant.
“Dink jy ek is opgewasse teen ’n ouer, ervare man wat dink landswette kan na willekeur gebuig word en vroue het harte om te breek? Dalk lag hy as ek probeer om hom te beïnvloed oor bewaring. Soos ek die saak nou sien, is hy nie ’n redelike mens wat die voorstelle van die agentjie wat sy eiendomme moet verkoop ernstig sal oorweeg nie.”
“Jy’s ’n sterk girlie. Try your luck en kyk wat gebeur. Dalk sien hy die ding van jou kant af. Moet hom net nie kwaad maak en ons uit die deal uit praat nie. Daarvan gaan ék nie hou nie. Onthou asseblief dat hy nog nie die kontrak geteken het wat ons alleenreg op die verkope gee nie. Sy prokureur sit nog daarop, en ons sal seker eers volgende week kan teken. Mits alles goed gaan.”
“Nee, ek sal ons nie uit die deal uit praat nie, maar ek sal saggies probeer om hom te beïnvloed om sy planne so ’n bietjie te wysig.”
“Doen so,” sê Koot kortaf.
“Wanneer gaan jy vir die operasie?”
“Volgende week of die week daarna. Ek sal nog hier wees as jy terugkom om te hoor wat alles gebeur het.”
Ebbie staan traag op. “Dan moet ek seker maar huis toe gaan en ’n paar stukkies klere in ’n tas gooi. Gelukkig sal ek nou nie eers die helfte van die sportwinkel moet afpak om by my tas uit te kom nie,” voeg sy sinies by.
“Dankie, my girlie. Ek waardeer dit. En koop vir jouself ’n mooie erfie in Liam se ontwikkeling, waar jy ’n huisie kan bou en elke jaar met jou man en kindertjies kan gaan vakansie hou. Dis nou gratis goeie raad.”
“Ja, Koot. Dit sou ’n goeie idee gewees het mits daar ’n man en kindertjies in die prentjie was,” sug sy. “Die probleem is net dat stap een – die regte man – ontbreek.”