Читать книгу Altyd die verkeerde man - Elsa Hamersma - Страница 4

2

Оглавление

Toe Jeannie Ebbie die volgende oggend kort voor elf kom roep, het sy klaar haar huiswerk oor Liam Murray gedoen. Die internet is darem ’n wonderlike bron van inligting, dink sy meewarig. En verder skinder eiendomsagente alte graag.

Sy weet nou dat Liam in die eiendomsmark woeker en baie suksesvol is. Sy het gesoek, maar kon nêrens ’n aanduiding kry dat daar vraagtekens oor party van sy ontwikkelings hang nie. Sy talent, lyk dit vir haar, is om grond vir behuising gesoneer te kry waar ander ontwikkelaars lankal tou opgegooi het.

Kransbaai moet een van daardie gevalle wees, dink Ebbie. Sy kan steeds nie glo dat hy toestemming gekry het om ’n gholfbaan en ’n sekuriteitslandgoed daar te gaan bou nie.

“Meneer Murray is hier!” kondig Jeannie met ’n trilling in haar stem aan.

Ebbie kyk gesteurd na haar. “Ek kom. Dis nog nie heeltemal elfuur nie.”

“Ek sou my roer as ek jy was. Die man is omtrent ’n dish,” rammel Jeannie voort. “Oe, as ek darem –”

“Sê vir hom ek kom,” sny Ebbie die relaas kort. Sy vat haar tas wat in die hoek staan, gooi haar handsak oor haar skouer en stap uit.

Haar maag maak ’n onverwagte draai toe sy Liam sien. Vandag dra hy ’n ligte langbroek en ’n sporthemp wat so blou is soos sy oë. Sy vertrou nie haar stembande nie en knik ’n groet. Maak dan keel skoon.

“Koot is ongelukkig nie hier nie. Hy moes onverwags uitgaan en het gevra dat ek verskoning maak vir hom.”

“Nie ’n probleem nie. Sal ons dan maar ry?”

Inskiklik en aantreklik, dink Ebbie sinies toe hulle na sy motor aanstap. Gelukkig dat Koot haar van al sy foute vertel het.

Die motor waarmee hulle Kransbaai toe ry, is presies so luuks soos sy gedink het ná die ete by The Pink Pomegranate. Aantreklike man, duur motor – ’n onweerstaanbare kombinasie. Dis seker die maklikste ding in die wêreld vir hom om vroue in sy bed te kry.

En nou wil hy die pragtige Kransbaai in stukkies gaan opsny en verkoop om nog meer geld te maak. Haar ongemak met die opdrag wat Koot haar gegee het, neem met elke kilometer wat die kragtige Duitse motor voortdreun toe.

“Ek’s bly jy gaan saam Kransbaai toe, Ebbie. Vandat ek die kantoor daar geopen het, ry ek amper weekliks hierdie pad alleen en dit kan ’n mens na ’n wyle nogal begin vang. Nie dat dit nie die moeite werd is nie, bygesê. Kransbaai is werklik die mooiste ou plekkie. Een van die min egte vissersdorpies wat nog bestaan,” sê Liam sonder om sy blik van die pad af te haal.

Sy kyk na die sterk hande wat liggies op die stuurwiel rus en teenstrydige emosies bruis deur haar. “As dit so mooi is, hoekom wil jy dit dan met jou gholflandgoed vernietig?” vra sy stram.

“Waarom op aarde sou ek dít wou doen?” vra hy verstom en kyk vinnig sydelings na haar.

“Vir geld, sou ek raai? Is dit nie die beweegrede vir die meeste van jou projekte nie?”

Sy kan hoor hoe skerp haar stem is, maar dit pla haar glad nie. Die aantreklike, ryk meneer Liam Murray draai haar nie ’n rat voor die oë nie. Gister miskien, maar nie vandag meer nie.

Sy stem bly rustig. “Natuurlik maak ek geld uit wat ek doen. Jy maak ook geld uit jou beroep. Dis waarom ’n mens werk, dan nie? Maar waar kom jy aan die idee dat ek Kransbaai wil vernietig?”

“Jy’t nou-nou nog gesê dis ongerep. Hoe lank dink jy gaan dit so bly as jy eers met die stootskrapers daar ingevaar het?”

Sy sien dat sy hande op die stuurwiel begin trommel en dit verskaf haar genot toe sy besef dat sy hom omkrap, al hou hy sy stem so egalig.

“Ons gaan ons bes doen om die dorpie en die kaai so min as moontlik te verander. Die area wat goedgekeur is vir die gholfbaan met huise en ’n hotel is hoog bokant die dorp. Dit lê op die plato waar die ou visfabriek vroeër was. As jy die dorp ken, sal jy weet dis waar die steil kranse is. Dit bied ’n pragtige uitsig oor die dorp en oor die see.”

Hy het haar onkant gevang en sy weet vir ’n oomblik nie wat om te sê nie. Aan Koot se praat het sy afgelei dis die vissershuisies op die strand wat in die slag gaan bly. Sy onthou gelukkig betyds van iets anders.

“En die toeriste? Gaan hulle geen impak op die dorpie hê nie?”

“Ons moes impakstudies doen voordat die ontwikkeling goedgekeur is. Gaan kyk gerus daarna – dis vir algemene insae in my kantoor op die dorp,” sê hy, sy stem nog steeds rustig.

“Ek is seker dit wys dat die ontwikkeling die beste ding ooit vir die dorp sal wees,” sê sy sarkasties.

“Wel, dit toon onder andere dat dit ’n paar honderd permanente werkgeleenthede sal skep. Werk wat die mense van Kransbaai broodnodig het,” antwoord hy ongesteurd.

Sy sien dat sy hande stil geword het. Meneer Murray dink natuurlik dat hy nou op veilige terrein is.

“En hoe verklaar jy dit dat al die ander aansoeke vir soortgelyke ontwikkelings afgekeur is? Daar’s nie genoeg water vir gholfbane aan die Weskus nie, meneer Mur- … Liam.”

Haar stem het omtrent ’n oktaaf geklim, hoor sy en verwens haarself. Sy klink soos ’n feeks!

“Water sal nie ’n probleem wees nie. Ons gaan water uit die see pomp en ontsout.” Hy lag saggies. “Moet net nie vir my sê jy’s bang ons pomp die see leeg nie?”

Sy vriendelikheid en redelikheid begin haar irriteer. Sy wens hy het hom ook vererg en dat sy antwoorde minder beskaaf was. Dan kon hulle oor die saak argumenteer en dit uitpraat. Nou voel dit vir haar asof sy tennis speel sonder dat iemand anders die bal van die ander kant van die baan af terugslaan.

“Jy oortuig my nie, maar dit sal interessant wees om te sien waar en hoe jy die ding gaan laat werk,” sê sy koel.

“Wag totdat jy op Kransbaai is. Dan kan jy met jou eie oë sien wat jy moet bemark. Ek is seker jy sal dan geen besware meer hê nie.”

“Wat sê die vissers wat daar bly?” vra sy skielik. “Ek’s seker hulle is nie so ingenome met jou planne nie.”

“Hoekom gaan praat jy nie met ’n paar van hulle nie? Ek is weer seker die oorgrote meerderheid ís ingenome met die vooruitsig van my ontwikkeling.”

“Dankie, ek sal. Ek wil juis graag gaan praat met die groep mense wat jou ontwikkeling teenstaan. Die Fishermen’s Forum, of so iets.” Sy is bly dat Koot haar van dié mense vertel het.

Die blik wat hy na haar gooi, gaan met ’n hewige frons gepaard. “Ek sal jou met die grootste liefde aan dié mense gaan voorstel. Hulle – of hy dan – is tans my grootste nagmerrie. Maar daar sal niks van sy besware kom nie.”

Sy trek haar wenkbroue kamma in verbasing op en onthou te laat dat hy dit nie eens sal opmerk nie. “Waarom is hy dan jou ergste nagmerrie?”

“Omdat hy die wêreld onnodig moeilik vir my maak.”

“Wie’s hy?”

“Damon Oktober, ou inwoner en voorsitter. Hy’s totaal teen die ontwikkeling gekant. Hy is die stigter van ’n drukgroep wat vertoë tot die minister wil rig om die ontwikkeling stop te sit. Hy noem dit die Fishermen’s Forum, maar sover ek weet, is daar nie veel vissermanne in die groep nie.”

“En jy gee nie om dat ek met hom gaan praat nie?” Die verbasing in haar stem is dié keer eg.

“Dit sal juis goed wees as jy met hom kennis maak. Jy is die een wat al die vrae van die voornemende kopers sal moet beantwoord. Persoonlik dink ek dat Damon se kop heeltemal uitgehaak het, maar ek wil jou nie beïnvloed nie. Praat met hom. Hoor wat hy te sê het en besluit dan self of ek oordryf.”

“Hoe ver is hy met sy vertoë?”

“Ek weet nie. Dalk moet jy uitvind. Dis nie iets waaroor ek slapelose nagte het nie.”

“Ek sal sien,” sê sy vies, terwyl sy wonder of hy al die ander dinge waaroor Koot haar gewaarsku het ook so vinnig en glad onder die mat gaan probeer invee.

“Ek moet jou egter vooraf oor Damon waarsku. Ek vertrou hom net so ver as wat ek hom sien. En hy’s op die koop toe ’n vreeslike rokjagter.”

Sy glimlag vlietend. Dis seker maklik vir een rokjagter om ’n ander een te herken, dink sy.

“Ek kan seker nie verwag dat jy goeie dinge van hom sal sê as hy teen jou ontwikkeling gekant is nie, of hoe? Troos jou daaraan dat ek glad nie belangstel in sy persoonlike lewe nie, net in sy siening oor die ontwikkeling.”

“Dis goed om objektief te bly,” sê hy asof hy haar paai.

Ebbie byt op haar tande. Liam Murray se selfbeheersing is seker lofwaardig, maar op haar het dit die teenoorgestelde uitwerking. Dit hits haar net aan om hom te probeer uitlok tot ’n argument.

Die motor se sterk enjin is vir ’n rukkie al geluid in die kajuit. Haar gedagtes skarrel wild na ’n volgende vatplek.

“Jy sê die Damon-kêrel is ’n gerekende man? Is hy die leier van die gemeenskap? En daarmee bedoel ek spesifiek die vissersgemeenskap. Dis immers hulle wêreld wat gaan verander.”

“Nee. Damon sien homself miskien as die leier, veral noudat hy die Forum op die been gebring het, maar ek dink die werklike leier is Jan Cupido. Jan is nogal ’n indrukwekkende kêrel. Hy’s ’n ouderling in die kerk en leef volgens sy oortuigings. Mense het respek vir ou Jan.”

Ebbie herkou aan dié inligting. “En wat dink Jan Cupido van jou planne?”

“Dis nog iemand met wie jy self kan gaan praat. Al wat ek jou nou al gaan sê, is dat Jan die grootste boot in die dorp het. ’n Boot waarmee hy tans feitlik niks kan doen nie.”

“Hoekom nie?” vra Ebbie vinnig.

Liam se kop ruk in verbasing op. Hy kyk ’n oomblik na haar voordat hy weer sy aandag by die pad bepaal. “Dis tog algemene kennis dat die vis weg is. Daar’s mos ’n hele verskuiwing van die vis na die Oos-Kaap. Die bietjie vis wat oorgebly het, is skaars genoeg om die mense se mae vol te hou.”

Dit pas jou seker goed, meneer die onstuitbare stoomroller, dink sy sinies. Met dié kom sy agter dat Liam van die hoofpad afgedraai het.

“Waarheen ry jy nou?” vra sy onseker.

“Ons is hier by die Rocherpan. Koot het my vertel dat jy sterk voel oor natuurbewaring. Ek het gedink jy sal daarvan hou om te sien hoe dit hier lyk.”

Sy is verbaas dat Koot hom vertel het natuurbewaring is een van haar passies. Waarom het hy Liam Murray nie liewer gewaarsku dat sy net so sterk voel oor die bewaring van ou geboue nie? wonder sy. Of het hy dalk?

“Ons kan sommer ons bene bietjie rek en iets eet. My sekretaresse het vir ons ’n piekniekmandjie gepak.”

“Dis gaaf van jou,” sê Ebbie halfhartig. Kransbaai is so na aan Kaapstad dat sy hoegenaamd nie gedink het dat hulle sal stilhou nie.

Sy kyk by die venster uit en sien net verlatenheid om hulle. Geen mens of dier is êrens te sien nie. ’n Piekniek op dié afgeleë plek is seker dan die volgende stap ná gister se restaurantete. Dis alles natuurlik planne om haar hart te wen. Hoop hy dat sy teen vanaand reeds soos klei in sy hande sal wees?

“Wel, ons kan darem seker die tydjie wat ons saam deurbring aangenaam maak? As alles volgens plan verloop, sal ek en jy nog baie ure saam deurbring,” gaan hy geselsend voort.

“Dis nou ás alles volgens plan verloop …” Sy kan nie die frons op haar voorkop of die koelheid in haar stem keer nie.

Ja-nee, hy het definitief planne, en dit het niks met eiendomsverkope te make nie. Die arrogante man aanvaar eenvoudig dat sy gewillig sal wees om by sy planne in te val. Wat hy nié weet nie, is dat sy vooraf gewaarsku is en dat sy daarom nie so geredelik vir sy speletjies te vinde gaan wees nie. As sy nie vir Koot gewerk het en moes sorg dat hulle die kontrak vasmaak nie, het sy Liam Murray en sy planne – vir die ontwikkeling én met haar – op hierdie oomblik na die warmplek gestuur.

“Is jy altyd so negatief, of is jy ongelukkig oor iets? Ek kan nie mooi agterkom wat jou pla nie?” vra hy.

“Ek’s g’n negatief nie, ook nie ongelukkig nie en vir die huidige is daar niks wat my pla nie!” antwoord sy blitsig.

“Wel, jy’s negatief oor iéts,” sê hy koel. “Lyk my jy’s een van daardie mense wat die glas half leeg in plaas van half vol sien.”

Voordat sy kan antwoord, trek hy die motor van die pad af en skakel die kragtige enjin af. “Hier is ons.”

Toe hy uitklim, gaan staan hy eers eenkant skewekop en luister. Daarna stap hy om die motor en maak vir haar die deur oop.

“Vergeet nou eers van al jou probleme en griewe en luister ’n bietjie na die voëls. Dis verstommend om te hoor hoeveel verskillende geluide mens kan onderskei.”

Ebbie bly vir ’n oomblik gespanne sit. Sy is in ’n situasie wat sy nie weet hoe om te hanteer nie. Tog, toe die motordeur oopgaan en sy die voëlsang hoor – soos ’n groot koor wat sukkel om al die stemme te sinchroniseer – ontspan sy genoeg om uit te klim.

Terwyl sy verstom staan en luister en die unieke omgewing indrink, maak hy die motor se bak oop en haal ’n piekniekmandjie, ’n koelsakkie en ’n groot geruite kombers uit. Die kombers sprei hy onder ’n boompie oop en toe sit hy die mandjie en die koelsak daarop neer.

“Lyk my jy is ’n geoefende piekniekhouer,” sê sy spottend toe sy omdraai en sien hoe netjies en mooi alles lyk.

“Ja, ek hou daarvan om piekniek te hou, veral as dit op ongerepte plekke in die natuur is.” Dit het hom blykbaar nie opgeval dat sy met hom spot nie.

“Sappie vir jou?” vra hy nonchalant en rits die koelsak oop.

Die vrolike voëlsang is wonderlik mooi. Dit laat Ebbie so ontspanne voel dat sy nie werklik lus het om verder met hom te stry nie. Buitendien sien sy nou weer kans vir Liam Murray. Sy verkneukel haar eintlik daarin dat hy al die moeite gaan doen met die piekniekhouery en dat sy nie beïndruk gaan wees nie. Sy weet mos waarom hy dit doen.

“Dankie.” Sy gaan sit op die verste punt van die kombers, half met haar rug na hom.

“En hier’s ’n yskoue bottel wyn,” sê hy. “Ek sal self nie nou ’n glasie drink nie, want ek bestuur, maar my sekretaresse het dit ingepak ingeval jy lus het daarvoor.”

Ebbie lewer geen kommentaar nie.

“Dis nou wat ’n mens ongerep noem,” sê hy rustig. “Ons is nie altyd bewus van wat natuurbewaring doen nie. Vir hierdie voëlparadys behoort ons hulle werklik te bedank.”

Hy maak die vadoek los wat bo-op in die mandjie geknoop is en loer in. “Hmm, Shirley het weer haar ding gedoen,” sê hy goedkeurend.

Ebbie loer onder haar wimpers deur en sien hoe hy die netjies verpakte disse een na die ander uitpak.

“Gerookte salm op bruinbrood – een van my gunstelinge,” sê hy. “En dan is hier gesnyde biltong en rookwors. Ek hoop nie jy’s ’n vegetariër nie?”

Ebbie skud haar kop. Haar maag het skielik besef dat dit etenstyd is en sy is honger.

“Daar’s darem ’n Griekse slaai ook,” sê hy, “ingeval jy nie vir die ander kos lus is nie. Dis nou nie in dieselfde liga as gister se ete nie, maar hier is darem messe en vurke ook. My sekretaresse het seker gemaak dat ons nie die slaai met ons hande hoef te eet nie,” lag hy.

“Sy pak seker gereeld vir jou piekniekmandjies en weet teen hierdie tyd presies wat om in te sit en waarvan jy hou,” sê Ebbie bot.

Sy wonder hoe gereeld die arme sekretaresse vir hom ’n piekniekmandjie moet pak om saam met een of ander vrou êrens te gaan eet. Daagliks? Weekliks? Maandeliks? Dis seker ’n ou laai van meneer Ryk-en-Aantreklik om vrouens mee te beïndruk. En siestog, vir al wat sy weet, stort die sekretaresse stilletjies ’n paar trane terwyl sy die mandjie pak omdat sy ook beenaf op hom is en weet dat so ’n romantiese ete in die natuur haar nooit beskore sal wees nie.

“Kan ek vir jou ’n glasie wyn skink?” vra hy vriendelik. “Dis ’n baie ligte wyn – ideaal vir ’n piekniek.”

“Ek drink nog my sap,” sê sy moedwillig, alhoewel haar laaste suigslag ’n onmiskenbaar droë geluid opgelewer het. “Dis buitendien onnodig om ’n bottel net ter wille van my oop te maak.”

“Nes jy wil,” sê hy steeds vriendelik. Hy skink vir homself ’n glas mineraalwater en sit terug met die glas in sy hand.

“Ai, maar dis mooi hier,” sê hy weer waarderend. “Ek geniet veral die rustigheid.”

“Dit ís mooi,” gee sy styf toe.

Dit maak nie saak wat sy motief is nie, die man is so aangenaam dat sy nie ongeskik kan wees nie. Ter wille van hulle toekomstige werksverhouding sal sy nie kan aanhou om so onvriendelik te wees nie. Selfs in haar eie ore begin sy ’n bietjie soos ’n rissiepit klink.

“Vertel my van jouself, Ebbie?” vra hy.

“Daar is regtig niks aan my lewe wat jou sal interesseer nie,” sê sy, dadelik weer op die verdediging.

“Hoe weet jy wat my interesseer?” vra hy tergend.

“Dis juis die punt,” antwoord sy bytend. “Ons ken mekaar glad nie.”

“Dit gaan natuurlik binnekort verander,” antwoord hy steeds vriendelik, asof hy nie die kilheid in haar stem opgelet het nie. “Hoe het dit gekom dat jy in die huismark beland het?”

Ebbie wik eers voor sy praat. Dit kan seker nie kwaad doen om hom iets van haar werk te vertel nie, want dis seker van toepassing dat hy vra.

“Dit het heel toevallig gebeur. Tipiese storie: eers het ek nie geweet wat om ná matriek te doen nie, toe’s ek maar universiteit toe. Nadat ek graad gekry het, het ek steeds nie geweet wat ek wil doen nie. Toe begin ek vir ’n huisagent werk omdat ek geld wou verdien. Daar ontdek ek toe tot my verstomming dat ek die kontak met mense en hulle eienaardige obsessies oor eiendom geniet. En nou ja, jare later is dit nog steeds wat ek doen.”

“Watse obsessies het mense oor eiendom?”

“Ag, vir die een is ’n groot tuin die begin en einde. Dan kom iemand wat groot slaapkamers soek. Of as ’n huis nie ’n aparte opwasplek het nie, wil party kopers die horries kry. Deesdae gaan dit heel dikwels oor veiligheid – of daar ’n muur om die eiendom is, ’n alarmstelsel, kameras, dié tipe ding. En dan vra die voornemende koper gewoonlik of daar vorige inbrake was.”

“Ek hoor jy’s ’n baie goeie agent?”

“Jy weet mos waartoe ek in staat is? Jy het mos jou navorsing gedoen voordat jy besluit het dat ek die een moet wees om jou projek te bemark?”

Sy is klaar weer vies. Koot het tog gesê die man het spesifiek vir haar gevra omdat sy soveel sukses by Crystal Bay gehad het.

Hy hou skielik sy hand omhoog asof hy haar wil stilmaak. “Wat hoor ek?”

Sy draai haar kop skeef om te luister. “Dis definitief nie voëlsang nie.”

Teen dié tyd is die gedoef-doef van ’n motorradio en die harde geluide van ’n motor waarvan die knaldemper gebreek is, duidelik hoorbaar.

“Genade! Kyk hoe swaai die motor oor die pad! Die bestuurder moet óf nog leer hoe om op die pad te bly óf hy’s gedrink.”

“Ongeskikte mense. Die kêrel het sommer sy leë blikkie by die venster uitgegooi!” roep Ebbie verontwaardig uit. “Agge nee! Hulle parkeer sowaar reg langs ons.”

“Dis nou nonsens. Bly jy doodstil sit. Ek sal ’n bietjie gaan hoor of hulle nie verder weg wil parkeer nie. Met die lawaai wat hulle maak, kan ek myself nie hoor dink nie, wat nog die voëlsang geniet.”

“Moet jy regtig? Hulle lyk vir my nogal dronk en gevaarlik,” sê Ebbie verbouereerd.

“Wel, ek gaan nie in hierdie lawaai bly sit nie. ’n Beskonke skorriemorrie gaan my nie intimideer nie.”

Liam staan vinnig op en stap na die motor toe.

“Meneer,” sê hy vir die man wat pas uit die motor geklim het en daarteen aanleun om regop te bly, “sal julle nie asseblief ’n entjie verder aanry nie? Ons vind julle musiek nogal steurend. Ons wou eintlik na die voëls geluister het.”

Sy stem is vriendelik maar ferm, dink Ebbie waar sy op die kombers sit. Hy klink soos ’n redelike man met ’n redelike versoek.

“Sê jy ons lawaai? As jy nie van ons music hou nie, vat jý jou kar en ry ’n ent aan,” sê die man met ’n sleeptong.

“Ons was voor julle hier,” sê Liam paaiend. “Kyk, al ons goed is uitgepak. Daar’s baie ander koelteplekke verder met die pad langs waar julle kan stilhou.”

“Ek like jou attitude net niks,” sê die man hard.

Dan roep hy na sy maat, wat aan die ander kant uitgeklim het: “Hei, wat dink jy, Boytjie? Dink jy nie ook hierdie ou het attitude omdat hy in so ’n smart kar ry nie?”

“Ek dink hy het attitude, Sam,” sê Boytjie en kom staan langs sy maat.

“Die pan is ’n plek vir natuurliefhebbers,” probeer Liam nog ’n keer. “Julle pla ons én die voëls.”

“Natuurliefhebbers! Jy joke seker! Julle sit dan hier en suip.”

Van waar sy sit, kan Ebbie die rooi in Liam se nek sien opstoot. Dan is die man tog nie van klip gemaak nie, dink sy verbaas.

“Liam, kom ons ry,” sê sy haastig. Sy staan op en begin die goed vinnig in die mandjie terugpak.

Hy ignoreer haar heeltemal. “Dis die laaste keer wat ek julle gaan vra om te ry,” sê hy dreigend vir die twee baie jonger mans. “En slaap in hemelsnaam eers julle roes af. In julle huidige toestand is julle ’n gevaar op die pad!”

Boytjie en Sam kyk na mekaar en lag onderlangs. “Die laaste keer? En wat gaan jy dán doen, jy, mister met die smart kar en die mooi cherrie?” vra Sam met ’n grinnik.

“Hy wil hê ons moet move sodat hy sy cherrie kan tune, dink ek,” gooi Boytjie sy stuiwer in die armbeurs.

“Ma’ ek like daai sexy cherrietjie van hom ook. Dink jy nie hy moet haar met ons share nie?” wil Sam van Boytjie weet. “As hy die decent tipe was, sou hy sy drinks en die eats en die cherrie met ons geshare het. Ma’ nee, hy offer ons niks van die lekker goed nie.”

“Ebbie, pak op,” sê Liam oor sy skouer vir haar.

“Ek’s amper klaar,” antwoord sy verbouereerd. Dié onverwagte wending in die gesprek het haar totaal onkant betrap.

“Klim in die kar en sluit die deure,” sê Liam vinnig.

“Kom jy ook! Laat ons ry!” roep sy ontsteld, maar sien dan dat die tyd vir vlug verby is.

Tot haar ontsteltenis is die twee jonger mans besig om Liam vanuit verskillende rigtings te bekruip. Aan die slingerende manier waarop hulle beweeg, is dit duidelik dat hulle onder die invloed van drank of dwelms is, maar Liam is een mens en hulle twee.

Dan is daar net ’n warreling van arms en bene. Versteen staan Ebbie en kyk. Eers toe sy die een man kruppel en skel-skel sien weghardloop en merk dat Liam bo-op die ander een sit en hom slaan, besef sy dat die gevaar verby is.

“Liam, stop!” skree sy benoud toe sy sien dat hy nog ’n hou na die man mik, alhoewel dié lyk asof hy klaar sy bewussyn verloor het.

Hy hou onmiddellik op – asof haar stem hom tot nugterheid gebring het – en sit terug op sy hurke. “Misgewas,” brom hy en vee die bloed van sy mond af.

“Het jy seergekry?” vra sy benoud.

“Nee wat,” sê hy en staan op. “Waarskynlik net my tong raakgebyt.”

“Laat ek sien?”

Sy stap tot by hom en draai sy gesig na haar kant toe. Eers toe sy sy ligte stoppelbaard onder haar hand voel, besef sy wat sy doen. Haar hand brand soos vuur en sy staan dadelik terug. “Wat doen ons nou?” vra sy versigtig.

“Niks,” brom hy weer en spoeg bloed op die sakdoek wat hy uit sy sak gehaal het. “Daai dronk lieplapper en sy vriendjie het nou ons hele dag opgeneuk. Papdronk en domastrant – wat ’n kombinasie. Ek is baie jammer daaroor. En dit nou op so ’n mooi dag en mooi plek …”

“Wat van hom?” vra Ebbie en wys na Sam wat kreunend in die stof lê. “Moet ons hom probeer lawe?”

“Sy maatjie kan hom kom help. Hy’t seker nie te ver gehardloop met sy dronk lyf nie. Hierdie een makeer nie veel nie. Hy sal nou-nou weer net so vol sprankel wees soos voor die tyd.”

Onwillekeurig lag Ebbie. “Sprankel?”

“Ja. En moet jou nie bekommer nie, hy sal skaars ’n hoofpyn oorhou van ons onderonsie, en dié sou hy in elk geval gekry het.”

“Dan ry ons maar? Alles is klaar opgepak.”

“Ja. Wat ’n jammerte. As jy baie honger is, kan jy maar aan iets in die motor peusel, maar nou wil ek net by die hotel kom sodat ek my hande kan was.”

“Jou kneukels is nerfaf! Het jy ’n eerstehulpkassie in jou motor?”

Sonder om te dink, vat sy sy hande in hare en draai hulle na alle kante om die skade te bekyk. “Laat ek gou jou hande ontsmet en verbind.”

“Nee wat, ek gaan nie nou soek vir die noodhulpkassie nie. Mens gaan nie maklik dood van nerfaf kneukels nie, en by die hotel sal hulle wel ’n paar basiese goed soos ontsmetmiddel en pleisters hê. Moet jou nie verder bekommer nie. Die kans is goed dat ek dit sal oorleef.”

Sy los sy hande en lag weer, onseker of dit van senuweeagtigheid is of vir sy aweregse sin vir humor.

Die volgende uur is dit stil in die motor. Ebbie kyk ’n keer of wat na die sterk profiel langs haar, maar hy konsentreer op die pad en is skynbaar diep ingedagte.

Net voor hulle afdraai na Kransbaai, sê hy nadenkend: “Dis darem jammer om te sien dat mense hulle lewens so kan weggooi.”

“Hulle kom seker uit swak huise en weet nie van beter nie.”

“Elke mens het keuses,” antwoord hy kortaf.

Hy stuur die motor in die rigting van die hotel, wat gebou is op die hoogste deel van die dorpie. Dit lê aan die voet van die heuwel wat in die kranse eindig wat bo-oor die dorp uittoring en waaraan die plekkie sy naam te danke het.

Liam stop feitlik reg voor die deur.

“Was jy al tevore op Kransbaai?” vra hy toe hulle albei uit die motor geklim het en na die uitsig staan en kyk.

“Een keer, jare gelede. En dis net so mooi soos ek dit onthou. Kyk net die vissersbote in die hawe.”

“Dis pragtig kleurvol, maar dit sou beter gewees het as hulle op die see uit was en die manne besig was om vis te vang.”

“Dalk is die weer vandag nie goed vir visvang nie.”

Kopskuddend staan hy haar en betrag. “Dit lyk my dit gaan moeilik wees om jou te oortuig van die realiteite op Kransbaai. Maar kom, ek wil gaan inteken.”

Hy hou die swaaideur galant vir haar oop.

Die ontvangsdame is kennelik opgewonde om hom te sien. “Meneer Murray! Môre, môre! Lekker om jou weer te sien,” koer sy.

“Ek was net twee dae weg,” antwoord hy droogweg, “maar dis lekker om weer hier te wees, Cheryl. Ek het gebel en gesê ek wil twee kamers hê. Een vir my en een vir juffrou Elizabeth Basson.”

Cheryl verwerdig haar skaars ’n terloopse blik in Ebbie se rigting. “Meneer se gewone kamer op die boonste vloer, neem ek aan?” vra sy stroopsoet.

Ebbie slaan haar oë ten hemele. ’n Mens sal sweer dis prins Charles wat gearriveer het. En die meisie maak só ooglopend vir Liam ogies dat dit haar skoon naar maak. Dit moet seker maar moeilik wees om nie te vat wat so op ’n skinkbord vir jou aangebied word nie, dink sy sinies.

“Asseblief, ja. En ek hoop daar’s nog ’n kamer op die boonste vloer vir juffrou Basson ook. Eintlik wil ek haar graag in die kamer langs myne hê,” sê Liam innemend.

Dit moes sy verwag het, dink Ebbie. So ’n jakkals. Reg langs hom maak dit net soveel makliker. Sy moet seker bly wees hy het haar nie sommer by hom in die kamer gesit nie.

Cheryl skroei Ebbie met haar blik. “Ek sal op die rekenaar moet kyk,” sê sy traag. “Ek glo amper nie.”

Ebbie steur haar nie aan die ontvangsdame se manewales nie. “Ek gee glad nie om as daar nie plek is op die boonste verdieping nie,” sê sy koel.

Sy gaan Liam Murray nie met sy gewone slenters laat wegkom nie. As hy nagtelike kuiertjies beplan het, kan hy daarvan vergeet. En hoe het hy geweet haar doopnaam is Elizabeth?

“Enige ander kamer beskikbaar?” vra sy vriendelik vir Cheryl met die kalfsogies.

Cheryl se vingers dans oor die toetse van die rekenaar. “O, ja! Wat van die grondvloer? Kan ek –”

“Die uitsig is baie mooi van die boonste verdieping af,” val Liam haar in die rede. “En dis belangrik dat ek jou vinnig in die hande kan kry as iets opduik, Ebbie.”

“Opduik?” vra sy met kwalik verborge sarkasme.

“Wel … dinge gebeur. Kyk wat het etenstyd gebeur.” Hy wys terloops na sy gekneusde, velaf hande.

“Ag, shame!” sê Cheryl met ’n gilletjie en spring amper oor die toonbank. “Kan ek vir meneer pleisters en salf gee?”

“Ek sal dit waardeer. Jy is altyd so behulpsaam,” komplimenteer hy haar.

“As-se-blief!” prewel Ebbie onderlangs. Sy sal maar bes gee oor die kamer, want dit sál lekker wees om ’n mooi uitsig te hê. Maar as hy dink hy kan enige tyd van die dag óf nag by haar kamer inwals, ken hy haar nog nie.

Die uitsig is inderdaad baie mooi, moet sy toegee toe sy kort daarna vinnig deur die venster van haar kamer loer. Sy is haastig om weer onder te kom, want sy is honger. Ná die episode by Rocherpan het sy en Liam nooit geëet nie. Sy voorstel dat hulle tee en toebroodjies in die sitkamer gaan geniet, het sy entoesiasties aanvaar, maar sy het eers kamer toe gekom om haar hande te was. Alhoewel sy nie met iemand handgemeen geraak het nie, voel sy vuil en stowwerig.

Toe sy ná ’n vinnige opknapsessie by Liam in die sitkamer aansluit, staan ’n groot bord toebroodjies reeds op die tafel voor hom. Hy sit met ’n koppie tee in die hand, maar hy sit dit dadelik neer, kom orent en wag totdat sy gaan sit.

“Hoop nie jy gee om dat ek solank begin het nie,” sê hy verskonend. “Maar ek het ontbyt vanoggend ook misgeloop en my bloedsuiker was skielik gevaarlik laag.”

“Natuurlik gee ek nie om nie,” sê sy ongeërg en help haarself aan ’n broodjie. Dit maak nie vir haar saak wanneer hy aan sy broodjies begin eet het nie. Dis mos nie ’n sosiale uitstappie waarop hulle is nie – sy is hier vir werksdoeleindes en vir niks anders nie.

En dis iets wat sy hom vinnig aan die verstand moet bring, anders gaan daar probleme kom. Mans is nie op die oomblik baie hoog op haar Tien Bestes-lys nie. Om die waarheid te sê, haal hulle die lys glad nie. Nie eens die Honderd Bestes nie. En ás sy weer begin uitgaan, sal sy nie ’n enkele dag mors op iemand soos Thys of Liam nie.

Darem jammer van die man se swakheid, dink sy, want hy het so ’n kalm geaardheid. Verder is hy aantreklik en galant. Hy is eintlik die tipe man wat ’n wonderlike man en ’n goeie pa sou maak.

“Wat het jy met die kos in die piekniekmandjie gemaak?” vra sy.

“Die meeste vir Cheryl gegee. Ek het al my smaak daarvoor verloor,” erken hy met ’n skewe glimlag.

“O.”

Dit klink vir haar na die tipe emosionele besluit wat sy nie van hom verwag het nie. Die onderonsie het hom dalk meer ontstel as wat hy laat blyk.

“Ek gaan jou vanmiddag afgee,” sê hy toe hulle die toebroodjies kafgedraf het.

“Dankie. Dis vriendelik van jou!” Lyk vir haar hy dink klaar hy’s haar baas.

“Sarkasme pas jou nie,” antwoord hy rustig. “Jy kan die dorpie ’n bietjie deurkyk en ’n gevoel kry vir die plek. Dan spring ons môre aan die werk. Ek het ’n paar dinge by die kantoor waaraan ek dringend aandag moet gee, maar ek sal laatmiddag of vroegaand terug wees. Aangesien ons piekniek op so ’n fiasko uitgeloop het, het ek gedink ons kan ’n bottel wyn strand toe vat en daar ’n glasie drink terwyl die son sak.”

Sy maak haar mond oop om te protesteer, maar hy hou sy hand op en gaan dadelik voort: “Die sonsondergang op Kransbaai is ’n ervaring wat jy nie wil misloop nie. Ek het foto’s daarvan wat jy dalk in jou advertensieveldtog kan gebruik, of ons kan professionele foto’s laat neem. Dit gaan werk wees, nie net plesier nie,” eindig hy met ’n glimlag.

Sy frons. Weet dan bloot nie wat om te antwoord nie.

“Daarna kan ons by die hotel kom aandete eet. Hier is nie eintlik ’n ander plek waar ’n mens kan gaan eet nie.”

Hy het die uitstappie na Kransbaai fyn beplan, dink Ebbie. ’n Romantiese aandjie op die strand, gevolg deur aandete by die hotel. Daarna is dit seker op met die trap en reguit bed toe.

Hoe slim van hom om ’n werksbesoek na so ’n mooi plekkie te reël en dit dan soos ’n romantiese wegbreek te hanteer. Gelukkig dat sy gewaarsku is en deur al sy planne sien! Dat sy van sy streke bewus is, gaan sy vir haarself hou, want sy het ’n werksopdrag wat afgehandel moet word.

“Dankie,” sê sy dus stemmig. “Ek sal net nie te lank kan bly nie, want ek het ook ’n paar goedjies om te doen. Hoe laat moet ek jou in die voorportaal ontmoet?”

Sy hou haar stem koel en afsydig. Hoe gouer Liam Murray verstaan dat sy nie een van die vrouens is wat aan sy voete swymel nie, hoe beter.

“Ek weet nie presies hoe laat ek terug sal wees nie,” sê hy fronsend. “Dit sal makliker wees as ek sommer aan jou deur klop wanneer ek inkom.”

Sy stem, hoor sy, bly gelykmatig, alhoewel hy haar ondersoekend aankyk.

“Reg so.”

“Tot later dan.”

Sy gooi haar lang blonde hare terug oor haar skouers terwyl sy sy breedgeskouerde lyf agternakyk. Hy het enige tyd net so ’n goeie lyf soos Thys, dink sy. Wonder dan of hy ook so sportbehep is.

Been there. Got the T-shirt, dink sy.

Altyd die verkeerde man

Подняться наверх