Читать книгу Emma se eerste keuse - Elsa Hamersma - Страница 3

1

Оглавление

Vlug of veg. Dit is van altyd af die mens se opsies wanneer sy lewe bedreig word, dink Emma. Nie dat haar lewe bedreig was nie, nee, eerder was dit asof die bodem van haar wêreld uitgeval het.

Naas veg en vlug was daar seker een ander alternatief, peins sy met haar kop agteroor teen die vliegtuigsitplek geleun, maar daarvoor sou sy in die vorige eeu moes geleef het. Sy kon soos ’n outydse heldin flou geword het. Dié prentjie kan sy skielik duidelik voor haar geestesoog sien: hoe sy uitgestrek lê, bene natuurlik kuis toe, hare in ’n stralekrans om haar kop – en hoe sy later sagkens bykom, dalk met die hulp van vlugsout wat iemand voor haar neus hou.

Maar afgesien daarvan dat haar liggaam nie daarvan hou om voorgeskryf te word nie, sou dit fisiek bloot onmoontlik gewees het in die beknopte ruimte van die toilet waar sy was.

Eintlik was vlug haar enigste realistiese opsie, want sy was nog nooit bakleierig nie. En vlug het sy gevlug. Sommer van een kontinent na ’n ander. Die kwetsende woorde het nog nie eens behoorlik van haar ore na haar brein geflits nie, toe weet sy al sy moet wegkom. Sy kan nie ’n oomblik langer as wat nodig is in Londen bly nie.

Die plat kruin van Tafelberg neem die plek in van die oneweredige kuslyn en die seegroen water van die Atlantiese Oseaan, maar vandag vervul dit haar nie met opgewondenheid of verwondering nie. Sy is net bly dat daar geen twyfel is nie: Sy is in Afrika en dit is Kaapstad wat onder haar lê.

Die makrostraler laat sak sy linkervlerk grasieus na links en begin met die finale daling na die Kaapstad Internasionale Lughawe. Die piepklein lughawegeboutjies word vinnig groter en sy gee ’n sug van verligting. Dankie tog. Nou is daar ’n goeie sesduisend myl tussen haar en Londen, tussen haar en haar ma, en tussen haar en haar sogenaamde vriendinne met hulle skerp tonge. In kilometers klink dit selfs beter, want dan trek dit by tienduisend. Nie dat dit regtig saak maak nie. Wat belangrik is, is dat sy nou ver genoeg is sodat sy nie een van hulle hoef te sien of hoor nie. Sela.

Dis net bitter jammer dat sy die gesprek wat sy per ongeluk gehoor het, nie op een of ander wonderbaar­like manier in Londen kon gelos het nie. Of dit uit haar geheue kon delete soos sy op die rekenaar maak om van ongewenste goed ontslae te raak nie. In die regte lewe werk dit natuurlik nie so nie. Die kwetsende woorde lê soos swaar sementdolosse in haar kop en laat weinig plek vir enige ander gedagtes.

“Sticks and stones may break my bones, but words can never harm me,” meld ’n refrein uit haar kindertyd skielik ongenooid in haar kop aan. Sê wie? Daar is niks, maar niks, wat so seer kan maak soos woorde nie.

Dis wárm, kondig die kaptein hulpvaardig aan. Pas twaalfuur en reeds meer as dertig grade. Dis somer in die suidelike halfrond.

Welkom in Suid-Afrika.

Ná die sagte landing wag sy saam met die ander passasiers totdat die wiele tot stilstand gekom het en die deure oopmaak. Vroegoggend, toe die meeste van die ander passasiers nog geslaap het, het sy badkamer toe gegaan, haar tande geborsel, haar gesig gewas en ander klere aangetrek. Haar kunspelsstewels en warm baadjie kon sy nie in haar handbagasie inkry nie en sy voel nou bietjie verleë met die stewels in die hand.

Sy is bewus daarvan dat sy in ander opsigte ook bietjie vreemd moet lyk. Sy het reeds die somerklere waarop sy haar hande kon lê in haar tas gepak gehad, toe sy onthou het dat sy iets in haar handbagasie moet hê om aan te trek wanneer sy in Suid-Afrika land. Daar was nie meer veel in die kas oor nie en die gevolg is dat die sandale wat sy in haar handbagasie gegooi het, nie regtig geskik is nie. Daar is net dun bandjies oor haar voete en die hakke is hemelhoog. Dieselfde geld vir die T-hemp. Die bling oor haar bors is eintlik vir ’n aandafspraak bedoel.

Wel, die mense moet maar kyk. Ten minste gaan sy nie warm kry nie. En dis eintlik ’n absolute wonderwerk dat sy hoegenaamd daaraan gedink het om sandale en ’n T-hemp in haar handbagasie te gooi. In daardie stadium van die geveg was haar kop so deurmekaar dat sy kwalik rasionele besluite kon neem.

Senuweeagtig vroetel sy in haar handsak. Het sy haar paspoort nog? En die kaart wat haar pa so sorgsaam geteken het? Gerusgestel volg sy die lang ry ander mense.

Kort voor lank soek sy na die motorhuuragentskap. Gelukkig dat haar pa onthou het sy moet haar Britse bestuurderslisensie inpak.

Daar is ’n chic koffiekleurige dametjie wat haar help. Pearl, volgens haar naamplaatjie. Dié gesels vriendelik en aanmekaar op Engels met ’n Afrikaanse aksent.

“Het jy pas geland?”

“Ja.”

“Was seker koud in Engeland?” nadat sy Emma se lisensie geïnspekteer het.

“Ja. Vreeslik,” voeg Emma traag by toe sy hoor hoe bot sy klink. “Die ergste Februarie in jare.”

“Oe, ek hou so van daardie hoë Engelse uitspraak van jou. Dis so classy,” sê Pearl met bewondering. “Mens kan nie leer om so te praat nie. Jy moet daarmee grootword. Soos die koningin.”

“Dankie,” sê sy. Die kompliment is opreg, maar Pearl het die feite nie reg nie. Sy het darem nie geheel en al in Engeland grootgeword nie. Haar aksent is eerder die noodwendige uitvloeisel van die goeie, duur hoërmeisie­skool waar sy was en daarna die Britse universiteit. En natuurlik die feit dat haar pa nie ’n enkele woord Afrikaans praat nie.

“Kom jy bietjie vakansie hou in Suid-Afrika?”

“Ja. Ek sal nog sien vir hoe lank,” spring sy Pearl voor met die volgende antwoord.

“Ag, lekker! Alleen?”

“Ja.” Is Pearl net ’n baie nuuskierige mens? Of word die personeel van die firma opgelei om met die kliënt te gesels en hulle op hulle gemak te probeer stel? Dit het die teenoorgestelde uitwerking op Emma. Sy is nie lus om met die vreemdeling te gesels nie; sy is lus om met niemand te gesels nie.

Toe sy eindelik dankbaar in die motortjie sit, wonder sy vir die eerste keer of sy die regte besluit geneem het. Hier sit sy nou, duisende myle van haar bekende wêreld, in ’n land wat deesdae ’n gevaarliker plek is as vier jaar gelede toe sy laas hier was, het haar pa haar gewaarsku. En tog was hý die een wat die voorstel gemaak het dat sy Kaap toe kom.

Selfs hy kon sien dat sy teen elke prys moes wegkom.

Sy haal die GPS uit haar handsak en stel dit voor haar op. Die kaart wat haar pa geteken het, sit sy op die sitplek langs haar neer. Net ingeval. Sy byt op haar lip, draai die sleutel met ’n vasberade hand, sit die motortjie in rat en trek weg. Sy sal eenvoudig die beste van die saak moet maak.

Vandag is die eerste dag van haar vakansie. En ook die eerste dag van ’n nuwe, onafhanklike lewe.

Die pad lyk redelik bekend, maar sy volg die meganiese stem se aanwysings stiptelik totdat sy op die R27 kom. Van daar af onthou sy die pad baie goed wat pylreg­uit noord tussen die wit sandduine langs die see sny. Sy ontspan vir die eerste keer sedert sy op Heathrow op die vliegtuig geklim het. Sy is vasbeslote om haar malende gedagtes en selfbejammering kort te knip.

Skaars veertig minute later sien sy die imposante hek van Pelikaanbaai aan die seekant van die pad en draai sy in, tog verlig dat sy nie verdwaal het nie.

Die hekwagte met die kakiegroen uniforms wat weer­s­­­-kante van die hek staan, lyk nie bekend nie en kyk met geslote gesigte na haar. Die een staan dadelik nader met ’n knypplank waarop daar ’n papiervorm en ’n pen is.

“Môre,” groet hy op Engels.

“Môre,” antwoord sy. “Ek is Emma Smith. My ouers het ’n huis hier.”

“A! Die Smiths se dogter.” Die knypplank sak. Skielik is die wag se oë belangstellend.

“Ja.” Die nuwe Emma se woorde het opgedroog. Sy weet presies wat hy dink. Dat dit mos onmoontlik is dat twee sulke groot, donker mense so ’n uitgewaste blonde kind kan hê. Haar ma en haar pa is besonder lank en albei het oor die jare lyf gekry. Hulle is ruim mense, het iemand een keer gesê. “Ek kom bietjie vakansie hou.” Sy hoop dit klink effens vriendeliker.

“Jy gaan maar eensaam wees,” antwoord die man. “Die mense wat nou deur die hek gaan, is die klomp wat permanent hier bly en hulle is amper almal afgetredenes. Die vakansiegangers is almal vort toe die skole begin het.”

“Ek weet,” sê sy sag.

“Jy kan maar deurry. Die sleutel sal jy by Lizzie in die kantoor kry.”

Lizzie? Sy kan nie onthou dat haar pa so ’n naam genoem het nie. Hy het van ’n Malie gepraat en van Tim Morrison van wie hy baie hou. Beide van hulle is nuut op die reservaat. Daar is niemand van die kantoorpersoneel of natuurbewaarders wat sy sal ken nie, het hy gesê.

Die hek gly glad oop en sy ry deur. Die pad vleg tussen digte fynbos deur af see toe en halfpad teen die bult af sien sy die baai uiteindelik. Dit lê uitgestrek en groen, ’n komma, ’n smarag met wit fraiings. Die huise lyk klein waar hulle in groepies teen die kuslyn hurk en verder, see-in, sien sy Dasseneiland met die vuurtoring duidelik sigbaar op die verste punt.

Onwillekeurig glimlag sy. Dís soos sy Pelikaanbaai onthou. Prentjiemooi, maar afgesonder. Die ideale wegkruipplek.

Die area voor die kantoor is met wit klippies uitgelê sedert haar laaste besoek vier jaar gelede en die geboue lyk asof hulle pas afgewit is. Alles lyk beide bekend en vreemd.

“Hallo,” groet sy toe sy instap en ’n meisie agter ’n rekenaar aantref. Dit moet die Lizzie wees by wie sy die sleutel kan kry.

“O, hallo,” antwoord die meisie koel op Engels met ’n swaar Afrikaanse aksent.

“Ek is Emma Smith. Van Londen. My pa het gebel en met Malie Pretorius gepraat om te sê ek sal vandag arriveer,” antwoord Emma ook op Engels. Na vyftien jaar in Engeland kan sy, ondanks die Britse hoërskool en universiteit, steeds feitlik sonder aksent Afrikaans praat, maar sy antwoord gewoonlik in die taal waarop sy aangespreek word. “Die ding is dat ons nie ons sleutel kon opspoor nie. My pa het gereël dat ek die ekstra sleutel hier kry.” Dit is natuurlik nie die hele waarheid nie, maar dit het niks met die meisie te doen nie.

Die meisie lyk ergerlik, asof Emma iets baie belangrik onderbreek het. “O, ja,” sê sy dan, “die kantoorsleutel. Malie het gesê van die Engelsman wat gebel het. Die sleutels is almal daar op die bord.” Sy wuif ongeërg met haar hand regs van Emma waar sleutels aan hakies hang en draai terug na haar rekenaar toe.

Emma is bietjie uit die veld geslaan oor die meisie se onbelangstellende houding. Sy is jonk, dalk nog nie twintig nie, skat sy, met ’n sproeterige gesig en wortelrooi hare. Aantreklik op ’n manier, maar nie popmooi nie. Emma en haar sleutel interesseer haar eenvoudig glad nie.

Met ’n skouerophaling stap Emma na die bord waar die sleutels hang. Elke sleutel is gemerk met die huisnommer en die eienaar se naam, en van die laagste tot die hoogste nommer gerangskik. Waar hulle huis se sleutel behoort te hang is egter ’n leë hakie.

“Ek sien dit nie,” mompel Emma.

“As jy mooi kyk . . .” Die meisie sug oordrewe, skuif haar stoel agtertoe en kom langs Emma voor die bord staan. “Dis uit,” sê sy asof sy Emma iets vertel wat sy nie weet nie. “Dan moet die huishulp dit hê. O, ja! Nou onthou ek. Lettie het dit vanoggend kom vat om die huis te gaan skoonmaak voordat jy arriveer. Jy kan maar soontoe ry. As die sleutel nie terug is nie, werk sy seker nog in die huis.”

“Dankie,” antwoord Emma en hoop die meisie hoor die sarkasme. “Is meneer Morrison hier?”

“Nee. Net Simon Sutherland. Hy’s die senior natuurbewaarder.”

“Kan ek met hom praat?” vra Emma.

Daar is skielik lig in Lizzie se oë en met ’n wip in haar stap, loop sy na een van die deure toe, klop liggies, draai die knop en praat dan Afrikaans met die persoon in die vertrek. “Simon, hier’s ’n Engelse meisie wat met jou wil praat.” Sy staan terug sodat Emma verby kan kom.

Die man agter die lessenaar sit die pen neer en staan op. Emma se eerste indruk is dat hy sy lang lyf in inkremente moet ontvou totdat hy regop staan. Haar tweede gedagte is dat hy die aantreklikste man is wat sy in jare gesien het. Sy pikswart hare is kort en agteroor gekam, maar van die voorste hare het losgekom en val effens oor sy groot, oop voorkop. Hy het ’n reguit, prominente neus en ’n sterk vierkantige ken. Toe hy om die lessenaar na haar gestap kom, sien sy dadelik dat sy bene en arms wat by die kakiegroen uniform uitsteek, dieselfde heuningbruin as sy gesig is.

Sy sluk toe hy by haar kom, want sy moet haar kop teruggooi om hom in die oë te kyk – kakiegroen oë soos die uniform wat hy dra – en sy is self nie kort nie, veral nie met die skoene wat sy aanhet nie.

Die hand wat hy na haar uitsteek om te groet het ’n vierkantige palm en lang vingers – groot en sterk soos die man waaraan dit behoort. “Middag,” sê hy met ’n diep stem op perfekte Engels. “Ek is Simon Sutherland.”

“Emma Smith,” antwoord sy en trek haar hand selfbewus uit syne. Sy is verleë, maar weet nie waarom nie. Dalk omdat haar hand heeltemal in syne verdwyn het of omdat haar vel so bleek teen syne vertoon het? Miskien is dit net omdat hy ’n uniform dra.

Hy lyk net so ánders as enige man waarmee sy onlangs in kontak was. Dalk is dit sy sonbruin vel, moontlik die kortbroek, miskien sy lengte. Vergeleke met bleek, kunssinnige Jonathan wat skaars so lank soos sy is, lyk hy asof hy van ’n ander planeet af kom, nie ’n ander land nie.

“Dan is jy seker die dogter van Mark Smith, die voëlkenner? Van Londen?”

“Ja,” antwoord sy op al twee die vrae.

“Ek het gehoor jy kom vandag.” Hy glimlag en sy dink terstond aan ’n advertensie vir tandepasta. “Jou pa se boeke oor die endemiese en standvoëls van die Weskus is die voëlkykers se Bybel. Die man is ’n wonderlike navorser en ’n legende onder almal wat in voëls belang stel.”

“Ja. Hy het sy hele lewe daaraan gewy.” Dis lekker om te weet dat die aantreklike vreemdeling ’n bewondering het vir haar pa.

Hy kyk haar opsommend aan. “As ek moet raai, sou ek sê jy deel nie sy belangstelling en passie nie.”

Haar ingenome glimlag verdwyn.

Sy oë het opsigtelik oor haar geswiep. Eers by die blinkers van die T-hemp vasgesteek, toe by die kort rompie en toe op die sandale gedraal. Sou hy haar op grond van haar kleredrag geweeg en te lig bevind het? Wel, dan is hy ’n idioot. Natuurlik is sy nie reg aangetrek vir die natuurreservaat nie. Sy kon hom vertel het dat sy binne oomblikke besluit het om Kaap toe te vlieg en dat haar kaartjie ’n paar uur later bespreek en haar tas gepak was. En dít terwyl sy onder erge stres was. Maar dit het niks met hom te doen nie. Laat hy dink wat hy wil.

Emma glimlag haar mooiste kuiltjieglimlag – die een wat al menige man soos botter in die son laat smelt het. “Nee, maar ek is –”

“Nie so gedink nie.”

Haar glimlag stol. Vir die eerste keer in haar lewe is sy met stomheid geslaan. Sy wou sê dat dit vanselfsprekend is dat sy in voëls belangstel. Wie kan saam met Mark Smith in een huis bly en nie wees nie? Dit is haar pa se beroep en sy lewe. Hy gee klas in ornitologie en bestee al sy krag en tyd om sy formidabele kennis van voëls uit te brei.

Sy maak haar mond oop om te sê dat sy waarskynlik meer van voëls weet as hy, meneer Krities, maar hy spring haar voor.

“Wat gaan jy hier aanvang?” vra hy kortaf. “Die reservaat is nie eintlik ’n plek vir stadsmeisies nie, veral nie as jy aan die besige lewe van Londen gewoond is nie. Of sal jou ouers binnekort ook arriveer?” Sy stem is hoflik, maar koel. Die stemtoon wat mense gewoonlik vir vreemdelinge gebruik.

’n Wolk van melancholie vou onverwags om Emma. Sy het inderhaas besluit om Suid-Afrika toe te kom, na die reservaat toe, in die hoop dat as sy wegkom uit die intense koue, ver van die mense wat haar seergemaak het, sy haar balans sal herwin.

In Engeland het haar gemoed selfs die bittere koue en aanhoudende reën geëwenaar. Sy het gedink dat die warm strale van die son op haar lyf, haar kaal voete op die strand gou weer perspektief oor haar lewe en haar toekoms sou bring.

Maar as al die mense op Pelikaanbaai so koel en krities is soos Lizzie en Simon Sutherland, gaan daar niks van kom nie. Dan kan sy haar die moeite spaar om haar tas uit te pak en net mooitjies omdraai en teruggaan.

“My ouers kom nie dié keer nie,” sê sy sag, “maar jy hoef jou regtig nie oor my te bekommer nie. Ek kan my besig hou.”

’n Vlietende frons trek vir ’n oomblik tussen sy oë saam, maar voordat hy kan antwoord, gaan sy voort. “Daar’s een probleem waarmee jy kan help. Ek moes ’n motor huur om hier te kom. My pa het ’n reëling met meneer Morrison om die motor wat ons op die lughawe huur, terug te neem Kaapstad toe. My pa los ’n motor in die motorhuis vir ons gebruik hier. ’n Ou Land Rover.”

Sy stem, verbeel sy haar, is selfs ’n graad koeler toe hy antwoord. “Dis nie ’n probleem nie. Sover ek weet, is dit nie ’n spesiale vergunning nie. Dis ’n diens wat aan al die swaeltjies gebied word.”

Hy maak baie seker dat sy verstaan sy word nie uitgesonder vir gunsies nie, maar sy gaan hom nie die tevredenheid gee om te wys dat sy dit agtergekom het nie.

“Ons is nie swaeltjies in die ware sin van die woord nie. Die term verwys eintlik na mense wat vir die somer kom en in die winter teruggaan. My ouers kom en gaan wanneer dit hulle pas. Soms drie keer per jaar, en nie net in die somer nie.” Sy probeer haar stem so koel soos syne hou.

“Ek verstaan so. Tim het dit vir my verduidelik, want ek is nuut hier en ken die meeste van die afwesige eienaars nie. Maar jou ouers was nie onlangs hier nie en jý, as ek hom reg verstaan het, was baie lanklaas hier?”

“Vier jaar laas.”

Die manier waarop hy na haar kyk, laat haar voel asof sy bevestig wat hy vermoed het. Dan kyk hy op sy horlosie. “Wil jy hê ek moet sommer nou saam met jou na julle huis toe ry? Dan kan ek met die motortjie terugkom en óf ek óf Tim dit later vanmiddag, of op die laatste môre, terugneem lughawe toe.”

“Dis moontlik die beste plan,” sê sy.

“Ek verstaan jy sal aanvanklik ons sleutel moet gebruik, maar ek sal bly wees as jy so gou moontlik ’n duplikaat kan laat maak. Die reël is dat ons altyd ’n sleutel in die kantoor moet hê ingeval ons in ’n huis moet inkom, om watter rede ook al. En dis natuurlik al manier waarop die huishulpe kan inkom wanneer die eienaars nie hier is nie.” Hulle staan steeds en hy maak die deur vir haar oop sodat sy kan deurstap.

“Ek sal so maak.”

“Het jy die sleutel al by Lizzie gekry?”

“Nee. Dit was nie hier nie.” Sy wys na die jong meisie wat voor die rekenaar sit. “Sy het gesê die huishulp het dit kom haal en nog nie teruggebring nie. Die huis sal oop wees.”

Hy frons. “Lizzie, het jy al na die Smiths se huis toe gebel om te hoor of Lettie nie al op pad terug kantoor toe is nie? Want as sy is, sal sy mos die huis toegesluit het,” sê hy op Afrikaans.

“Nee, ek het nie. Sy kan mos maar gaan kyk. Anders kan sy hier sit en wag totdat die sleutel kom,” brom Lizzie wat duidelik dink Emma verstaan nie Afrikaans nie. Sy kry dit wonderbaarlik reg om tegelykertyd vir Emma te frons en vir Simon te glimlag.

Dit is die strooi wat die kameel se rug breek. “Ek wíl nie hier sit en wag nie,” sê Emma afgemete op Afrikaans. “Dis al meer as agttien uur sedert ek van die huis af weg is. Omdat my vlug vertraag is, moes ek rondsit op die lughawe en daarna het ek die res van die nag op ’n vliegtuigsitplek ingedruk gesit soos ’n toebroodjievulsel tussen twee van die grootste mense in die heelal. Nou’s ek moeg, dankie. En jy, Lizzie, behoort aan jou ingesteldheid te werk, want ek dink jy is besonder onvriendelik en onbehulpsaam.”

Lizzie se gesig vlam bloedrooi en Emma is te laat spyt dat sy toegelaat het dat haar geïrriteerdheid so oorkook. In die swanger stilte wat volg, kyk sy vinnig na Simon. Sy gesig is geslote, maar sy sien dat sy wenkbroue omhoog geskiet het.

“Ek is jammer dat jy so verontrief is, juffrou Smith,” antwoord hy in sy koel stem, dié keer op Afrikaans. “Ek sal dadelik bel en jou sleutel opspoor.” Hy draai na Lizzie. “En intussen kan jy vir juffrou Smith ’n lekker koppie tee maak. Asseblief, Lizzie?”

Emma kan nie help om te sien hoedat sy gesig versag terwyl hy met Lizzie praat nie en dat sy dadelik omdraai om te maak soos hy sê.

Toe sy uit die vertrek is, kyk hy na Emma. “Ek vra verskoning vir Lizzie se gedrag. Sy neem tydelik waar in die plek van haar suster, Malie, en sy haat elke oomblik daarvan. Sy het die nodige rekenaarvaardighede, maar weet nie hoe om met mense te werk nie. Malie sal binne ’n paar dae terug wees. Ons het haar vir gevorderde rekenaaropleiding gestuur en sy sal dit, soos ek haar ken, sommer gou kafdraf.”

Emma kyk na sy aantreklike gesig en wonder of hy weet dat Lizzie halsoorkop verlief is op hom. “Ek’s ook jammer,” antwoord sy sag. “Ek is nie gewoonlik so kwaai nie, maar op die oomblik voel ek soos ’n . . . soos ’n . . . nat, pap roomyshorinkie waarop almal trap.”

Sy wenkbroue skiet weer omhoog asof hy wonder hoe dié prentjie sal lyk, maar hy sê niks. Hy trek ’n stoel uit. “Kom sit solank hier totdat ek die sleutel het.” Sy oë is warmer as tevore en in plaas daarvan dat dit Emma beter laat voel, word haar keel dik van trane.

Haar emosies is aan flarde. Afhangende van wat hierdie vreemde mense sê, raak sy kwaad, hartseer of bly. Dis pateties. Sý is pateties, net soos Victoria gesê het. Sy klad haar oë voordat die trane wys en sluit haar gedagtegang net daar af. Dis nie waaraan sy nou gaan dink nie, nog minder gaan sy wonder of dit ’n onbesonne, impulsiewe besluit was om vingeralleen Afrika toe te kom.

En van teruggaan is daar nou nie sprake nie. Sy sal eenvoudig die beste van ’n slegte saak moet maak.

Sy luister hoe Simon oor die telefoon praat. Op Afrikaans het hy ’n effense streeksuitspraak, mooi en sag op die oor.

Lizzie is gou terug met ’n netjies gedekte skinkbord. “Dis rooibos,” sê sy toe sy dit voor Emma neersit.

“Dankie. Ek hou daarvan.”

“Oukei.”

“Jy bedoel seker: ‘Dis ’n plesier’, Lizzie,” help Simon haar reg.

“Oukei,” sê sy weer en glimlag van oor tot oor vir hom. Sonder ’n verdere blik in Emma se rigting gaan sy weer voor die rekenaar sit.

“Goeie nuus,” sê Simon vir Emma. “Lettie was net mooi klaar en is op pad met die sleutel. Sy sal binne ’n paar minute hier wees.”

Emma knik en skink vir haar tee. Voordat haar koppie koud is, kom ’n jong meisie ingestap wat haar oë skaam op die grond hou.

“Dis Lettie wat deesdae ’n hand hou oor jou ouers se huis, en dis juffrou Smith,” stel Simon hulle aan mekaar voor.

“Gaan Juffrou my weer die week nodig kry?” vra Lettie met ’n skugter blik na Emma.

“Noem my asseblief Emma. En nee. As jy dalk volgende week kan kom? Ek sal hier by die kantoor kom reël.”

“Dis reg so,” antwoord sy met haar oë weer op die vloer.

“As jy klaar is met jou tee, kan ons seker ry?” vra Simon wat met die huissleutel in sy hand staan.

“Dit sal gaaf wees, meneer Sutherland,” sê sy en sit die leë koppie op die skinkbord terug.

“My naam is Simon,” is al wat hy sê terwyl hy saam met haar buitetoe loop.

Sy bestuur die motortjie die entjie na die huis toe en is heimlik geamuseerd toe sy sien hoe ingedruk hy sit, selfs nadat hy die passasiersitplek tot heel agter geskuif het. Dié karretjie is nie vir ’n man van sy proporsies gemaak nie. Of dalk is dit andersom. So ’n groot man is nie vir ’n klein karretjie gemaak nie.

Die huis lyk net soos sy dit onthou. Vandat sy dit die eerste keer gesien het, het sy gedink dit lyk asof dit gegroei het uit die duin waarop dit gebou is. Die mure is ’n sagte roomwit soos die sand, nie verblindend wit nie. En die kleur word verder versag deur die groen fynbos wat tot dig teenaan die huis groei. Die geelgroen dak, amper soos ’n omgekeerde boot, sit knus en laag op die mure. En hierdie tyd van die middag glim die middagson warm in die vensters.

Sy haal haar stewels uit die bak, maar Simon tel haar tas uit en dra dit tot by die voordeur. Nadat hy oopgesluit het, gee hy die sleutel vir haar. “Ek hoop jy kuier lekker op Pelikaanbaai,” sê hy formeel voordat hy omdraai, hom weer in die klein karretjie invou en wegry.

Hy is ligtelik geïrriteerd, erken Simon teenoor homself, toe hy terugry kantoor toe. Dit moet wees omdat die karretjie so klein is, want dit voel behoorlik asof sy knieë teen sy borsbeen druk.

Die vroumens wat hy pas afgelaai het, krap hom ook om. Emma Smith gaan vir hom probleme skep – so seker soos wat sy naam Simon Sutherland is en hy in die simpel klein karretjie sit. Toe sy in sy kantoor ingestap kom met haar hemelhoë hakke en blink hemp, was hy verbaas om te hoor dat sy Mark Smith se dogter is.

Maar haar gesig pas nie by die klere nie, dink hy. Sy het so ’n érnstige gesiggie. Wat nog beswaard lyk op die koop toe. Hy ken vroumense, want hy het twee susters. In sy ondervinding lyk hulle só wanneer daar iets verkeerd oor hulle pad gekom het, iets soos ’n groot teleurstelling. En nege-en-negentig persent van die tyd het daardie teleurstelling met ’n man te doen.

Sy het een maal geglimlag, onthou hy. Dit was ’n pragtige glimlag wat haar gesig laat lewe het, maar haar oë hartseer gelaat het. En dit was ’n berekende glimlag – bedoel om hom te bekoor. Dankie, maar nee dankie. Van blondines met suikersoet glimlaggies het hy ook al iets geleer en hy staan nie in die tou om meer te leer nie.

En dan het sy nog ’n humeur ook. Sy het haar vererg vir Lizzie. Met rede, moet hy toegee. Vir tien sekondes het sy soos ’n regte geitjie gal afgegaan. Sy glimlag word stram. Daar was trane in haar oë, onthou hy, wat hy eers later opgemerk het toe sy dit ongemerk probeer afvee het.

Daar moet ’n goeie rede wees waarom sy hier is. Hy raai ’n liefdesteleurstelling wat haar hart gebreek het. En toe vlug sy van die kêrel en almal wat hulle geken het af weg. Sommer na ’n ander land toe. As jy geld het, kan jy sulke goed doen.

Wel, dis nie sy besigheid nie en op sy skouer gaan sy nie huil nie. As daar praktiese hulp gegee moet word, moet Tim dit gee.

Gelukkig voorsien hy nie dat sy veel langer as ’n week alleen op die reservaat sal wees nie. Pappie en Mammie sal haar seker binnekort agternasit. En as hulle dit nie doen nie, sal sy na ’n week in elk geval uitgekuier wees.

Emma trek haar tas tot in die kamer, skop haar skoene uit en stap terug na die woonvertrek waar sy die skuifdeur oopmaak. Die geruis van die branders, die skril gekrys van seemeeue en die reuk van die see warrel in die huis in. Sy teug die vars lug diep in haar longe. Sy het nie besef hoeveel sy dit gemis het nie.

Die blouselblou lug, die son, die isolasie en die eindelose uitsig oor die see. Dis die soort plek waar mens kan sit en staar sonder om te sien, en hoor sonder om te luister.

Sy stap uit op die voorstoep en verlustig haar in die uitsig. Links lê die uitgestrekte strand met Tafelberg in die verte. Na regs kronkel die wit sand tot by die eerste rotse. Dit lyk steeds vir haar, soos toe sy ’n kind was, asof ’n oerdier groot happe uit die rotse gebyt het. Skuins voor haar in die seegroen water, sewe kilometer verder, lê Dasseneiland, die eiland waar die pelikane broei waarna die reservaat vernoem is.

Sy wik en weeg ’n oomblik lank of sy haar pa moet bel. Hy sal onrustig wees. En dis haar skuld dat hy moeilikheid gaan kry wanneer haar ma by die huis kom en ontdek sy is weg. Siestog, sy kry Daddy eintlik jammer. Sy kan dink hoeveel vrae hy sal moet beantwoord.

Maar dis nie regtig nodig om onmiddellik te bel nie. Sy sal ’n SMS stuur dat sy veilig aangeland het op Pelikaanbaai. Sy is lank genoeg deur haar ouers opgepiep. Dis beter dat sy sommer van dag een af ’n nuwe blaadjie omslaan.

Sonder meer stap sy na die motorhuis toe waar sy ’n stoel en klein tafeltjie gaan haal en uitdra stoep toe. Dis wat sy nou gaan doen: sit en na die see en die spel van die sonstrale op die water kyk. En dis ook waar sy beplan om baie tyd deur te bring terwyl sy die legkaart van haar lewe uitmekaar haal, en daarna ’n nuwe prentjie saamstel van wat sy wil wees en waarheen sy wil gaan.

’n Ander prentjie as die een wat haar ma vir haar in gedagte gehad het.

Emma se eerste keuse

Подняться наверх