Читать книгу Emma se eerste keuse - Elsa Hamersma - Страница 4

2

Оглавление

Emma word die volgende oggend wakker toe die son deur ’n skrefie in die gordyne op haar gesig skyn. Sy strek en gaap voordat sy op haar horlosie kyk en sien dis al halfnege. Toe glimlag sy. ’n Goeie, lang nagrus, sonder nagmerries of selfs drome, laat enige mens beter voel.

Te lui om dadelik op te staan, lê sy eers en rondkyk in haar kamer. Sy het die vorige aand al gesien dat dit anders lyk, maar gedink dit was net die nuwe dubbelbed waarmee haar ouers die twee enkelbedjies vervang het. Nou sien sy dat die kamer ’n sagte blou geverf is en dat daar nuwe blou gordyne met skulppatrone voor die vensters hang. Vier jaar gelede toe sy die laaste keer hier was, was die kamer nog presies soos dit was al die jare wat sy daarin vakansie gehou het.

Verstommend, dink sy suur. Haar ma het die kamer intussen met haar gewone selfversekerdheid reggemaak vir besoeke van ’n getroude dogter.

Teen die een muur is ’n geraamde foto van haar en haar ouma wat seker tien jaar gelede op die strand geneem is. Sy is nog kind, veertien of vyftien, wat met ’n oop mond lag. Haar hare is lig gebleik deur die son, kort en verwaaid in die wind. In haar hand hou sy ’n groot nautilusskulp. Ouma Betsie is kleiner as sy, ’n wit en grys bondeltjie mens met dieselfde kuiltjieglimlag en ligte oë.

Die foto is geneem ’n ruk voordat ouma Betsie, die ouma wat nét hare was, dood is. Ouma het net vir Dora gehad en Dora net vir Emma. Broers en suster of niggies en nefies het Emma nooit geken nie.

Geneties is sy haar geliefde ouma se kind in geaardheid en voorkoms. Soos Ouma is sy skraal met ’n ligte vel en hare. Haar ma, Dora, daarenteen, aard na haar pa se kant van die familie. Sy is ’n Basson in murg en been, donker en groot soos die mense op die familiefoto’s wat in die gang gehang het. En hulle persoonlikhede is ’n verlenging van hulle voorkoms: sterk en dominerend. Ouma moes dit swaar gehad het met so ’n eggenoot en toe nog so ’n dogter ook, dink Emma. Seker dié wat sy altyd gebrom het oor wonderwerke wat nodig is om elke dag te oorleef. Emma het die moeilike oupa nooit geken nie, maar uit die baie staaltjies en stories kon sy later ’n duidelike prentjie van hom opbou.

Sy kyk op die horlosie en kry skielik skaam dat sy so lui is. Dis hoog tyd dat sy opstaan en haar tas uitpak.

Toe sy die kasdeur oopgooi om haar klere uit te pak, is sy verstom om nog van haar strandklere en skoene in die rakke te ontdek. Dit was al die jare die gewoonte om dié klere in die strandhuis te los – wat op aarde sou hulle in elke geval daarmee in Londen doen? – maar sy was so lanklaas hier dat sy nie regtig gedink het hier sal nog iets wees nie. Haar ouers het nogal ’n suinige streep. Ondanks al hulle geld, kan hulle komies versigtig wees met klein uitgawetjies. Die klere wat in die kas is, is weer eens bewys daarvan.

Vandag is sy dankbaar daaroor. Veral aangesien die klere wat sy saamgebring het vir seker verkreukel in die tas lê – omdat sy nie netjies ingepak het nie. Sy haal ’n uitgerafelde kortbroek en ’n hemp wat onder haar borste knoop uit die kas en trek hulle aan. Dit laat haar lekker voel, jonk en onbesorg soos toe sy ’n tiener was. Vir die pret besluit sy om voor ontbyt daarin te gaan stap. Die klere sit los aan haar lyf, en bietjie verbaas daaroor, kyk sy krities van die foto teen die muur na haar refleksie in die lang spieël teen die muur. Tien jaar gelede het sy beslis meer geweeg. En haar hare was ligter.

Sy gooi haar hare vorentoe en maak dit met ’n rekkie bo-op haar kop vas. Haar gesig is skielik heeltemal oop en dié keer skrik sy toe sy die twee beelde van haarself vergelyk. Sy lyk soveel ouer en moeër! Op die foto is haar wange vol en rosig en haar oë lag. In die spieëlbeeld is daar donker kringe onder haar oë, is haar wange hol en staan haar wangbene skerp uit. Die donker kringe kan wees weens die stresvolle vlug, maar sy kan nie dink hoekom sy so maer is nie. Dis maar net die afgelope paar dae wat haar lewe skielik op sy kop gaan staan het.

As sy elke nag so goed slaap en elke dag genoeg oefening kry, behoort sy gou weer net so gelukkig en ontspanne te lyk soos die meisie op die foto, troos sy haarself. Haar gemoedstoestand gaan verbeter sodra daar son op haar lyf kom. Dit kan nie anders nie.

Daar is nog ’n paar uitgetrapte tekkies onder in die kas, en dié trek sy vinnig aan.

Sy is skielik lus vir koffie, iets wat sy selde in Londen gedrink het . . . en honger. Die vorige aand het sy ’n bottel van haar pa se goeie wyn oopgemaak en ’n glas gesit en teug terwyl die son oor die see gesak het. Dit was dalk nie ’n goeie keuse op haar leë maag nie en nadat sy amper in die bad aan die slaap geraak het, het sy in die bed geval. Haar soektog in die spens lewer nou elke moontlike vorm van blikkieskos, beskuitjies in verseëlde pakkies en al die nodige speserye op. Daar is ook tee, ’n bottel koffie en etlike blikkies kondensmelk. Dit is ’n jammerte daar is nie graankos en rakmelk nie, maar sy sit dié items solank op ’n verbeeldingslysie in haar kop.

Die leë yskas en vrieskas se liggies brand. Lettie moes die twee toestelle aangesit het. Snaaks dat sy die vorige dag nooit aan kos gedink het nie. Sy het tog verby Melkbos gery waar daar winkels is. Kon sy nie gedink het om ten minste brood, eiers, melk, botter en vrugte te koop nie? Waar was haar gedagtes?

In Londen in die silwerskoon badkamer van The Princess Royal Research Hospital. Dís waar.

Sy glimlag wrang omdat sy dit darem regkry om bietjie met haarself te spot. Op ’n meer praktiese vlak beteken dit egter dat sy dadelik ’n plan sal moet maak om vars kos in die hande te kry – en sommer genoeg daarvan om die yskas vol te pak sodat sy nie kort-kort na die naaste dorp hoef te ry nie.

Met ’n beker soet koffie gaan sit sy buite op die stoeptrappie en kyk na die seevoëls wat mossels uit die see duik, hoog opvlieg en die skulpe laat val om hulle te breek.

Net toe sy wil ingaan, sien sy ’n bokkie aan die kant van die huis. Met sy ore gespits en sy oë op Emma, wei hy heerlik aan die sappige blomplantjies wat in netjiese rye geplant staan – definitief nie fynbos nie. Doodstil sit sy en kyk. Skielik begin sy ore senuweeagtig wikkel, hou hy op kou, en die volgende oomblik laat spaander hy. Dan eers hoor Emma die geluid van ’n naderende voertuig. Kort daarna draai ’n wit bakkie met die reservaat se embleem op die deur in na die huis toe.

Die bakkie hou stil in die sagte wit sand nie ver van haar af nie. Simon Sutherland spring uit. Met lang treë stap hy doelgerig na haar toe.

“Môre!” groet hy kortaf.

Hy lyk lekker bedonder, is haar eerste gedagte. Regte ou knorpot. Maar dan knip sy haar oë en kyk weer. In die helder lig van die oggend is hy selfs aantrekliker as wat sy die vorige dag gedink het. Definitief die aantreklikste man wat sy in ’n lang tyd gesien het, en nie net omdat hy ’n kortbroek aanhet nie.

“Goeiemôre, meneer Sutherland,” antwoord sy bedees. ’n Uniform beklemtoon natuurlik manlike bates. Eien­skappe soos Atlas se skouers, smal heupe en sterk arms en bene. Sy netjiese kort hare lyk asof hy dit met mening plat gekam het toe dit nat was, maar dit maak klaar sagte golwe en een wederstrewige sliert sak reeds weer oor sy voorkop. Sy oë is verskuil agter ’n donkerbril, maar sy kan die kleur presies onthou. Kakie, net soos die uniform. Maklik.

“Simon,” antwoord hy dadelik, “of anders sal ek jou elke keer juffrou Smith moet noem.”

“Dit sal totaal onaanvaarbaar wees,” glimlag sy, “dus is dit Simon.”

Hy glimlag nie terug nie, knik net met sy kop. Dan frons hy weer. “Jou pa het vanmôre vroeg kantoor toe gebel. Hy wou weet of ek jou gesien het en hoe dit met jou gaan.”

“Dit gaan goed,” sê sy koel, maar sy kan voel hoe ’n blos teen haar wange opkruip. Dit moet die rede wees waarom hy so vies lyk, en dis haar skuld. Sy het doelbewus nie gisteraand gebel nie. ’n Teksboodskap behoort tog genoeg te gewees het. Maar waarom het Daddy kantoor toe gebel? Sy het immers ’n selfoon en daar is ’n foon in die huis.

Sy sit haar beker koffie langs haar neer en besef terselfdertyd dat sy die kort, uitgerafelde broekie dra wat sy in die kas ontdek het. En om die minste te sê, maak dit omtrent net die nodigste toe. Gelukkig dat sy nog op die trap sit, want met haar arms oor haar bobene gedrapeer, voel sy nie so ontbloot nie.

“Is jy seker dit gaan goed?” bring sy stem haar tot die werklikheid terug. Hy is besig om haar gesig te bestudeer, vermoed sy, maar omdat sy nie sy oë kan sien nie, bly dit ’n vermoede.

“Natuurlik! En ek hoop dis wat jy vir my pa gesê het.”

“Ek het gesê jy het veilig aangekom op die reservaat en ek het jou by die huis afgelaai.” Hy lyk asof hy ’n oomblik dink oor sy volgende woorde. “Ek kon vir hom gesê het ek dink jy lyk sieklik en baie bleek, maar dít het natuurlik niks met my te doen nie.”

Sy vererg haar onmiddellik. “Sieklik? Waar kom jy daaraan? Ek is net bleek omdat ek nou uit die winterweer van Engeland kom en dit het vir séker niks met jou te doen nie!”

“Daar is donker kringe onder jou oë.”

“En daarvan maak jy allerhande afleidings?”

“Wel . . . as jy só lyk wanneer dit met jou goed gaan, wil ek jou nie sien wanneer dit met jou sleg gaan nie.”

Sy sluk twee keer voordat sy kan antwoord. “Dis regtig ’n baie ongevraagde opmerking. Jy ken my nie. Dis ongeskik om sommer so . . . so persoonlik te raak.”

“Jy’s reg. Ek vra om verskoning.”

Sy wens sy kon sy oë agter die donker brilglase sien. Lees wat hy dink. “Ek is nie hier om van een of ander siekte te herstel nie. Allermins. En my welsyn het werklik niks met jou te doen nie, al het my pa jou gebel om te hoor of alles reg is.”

“Daarvan gepraat,” sê hy koel, “jou pa het ook gevra dat ek moet kyk of hier nog genoeg krag is. Hier maak ons gebruik van koopkrag en dis baie onaangenaam wanneer die ligte byvoorbeeld saans sommer sonder kennisgewing afgaan.”

Deksels en verduiwels, swets sy sag binnensmonds. Dít ook nog. Dit was een van die honderd-en-twaalf goed waaroor haar pa gepraat het terwyl sy moes besluit wat om in te pak. “Ek het heeltemal daarvan vergeet. Ek sal daarna kyk.”

“Kyk sal nie help nie,” sê hy droogweg. “Ek het koepons saamgebring en jou pa belowe om dit vir jou te laai.”

“Waar ons in Londen bly, kry mens ’n rekening aan die einde van die maand,” verweer sy haarself. “Ek is nie gewoond aan vooraf betaalde krag nie.”

“Dis die nuwe neiging in Suid-Afrika. En dit werk goed.”

“Ek stry nie, ek sê net ek’s dit nie gewoond nie.” Hulle het dit in Engeland ook, net nie in hulle woonhuis nie. Traag staan sy op en verwens die ou klere wat sy aanhet. Maar hoe moes sy weet dat hy sommer vroeg-vroeg al weer op haar spoor sou wees?

“Jy moet dit seker op die kragbord in die motorhuis laai, nè? Stap saam,” sê sy. As hy die pad geken het, kon sy agter hom aangestap het. Nou moet sy vóór hom uit stap in die eina broekie. So ver as wat sy loop, wens sy dat ’n towermantel uit die hemel sal val en haar skraps geklede lyf bedek.

“Dis ’n groot plek,” sê hy toe hulle deur die woonarea stap na die deur wat na die motorhuis lei.

Hy klink effens verbaas daaroor. Enersyds is sy bly dat hy na die huis en nie net na haar bene kyk nie, andersyds vererg sy haar summier weer.

“Ja. My ouers is groot mense en hou nie van klein ruimtes nie,” sê sy koel. “En hulle hoop om later meer tyd hier deur te bring.”

“Dink jy hulle sal dit regtig doen?”

“Ja. My ma sal binne die volgende jaar of wat moet aftree. Dit was nog altyd hulle droom om die hele Engel­se winter hier deur te bring. En ek sien juis hulle het die huis laat verf en ander verbeteringe laat aanbring. Dis dalk nie so ver in die toekoms nie.”

“Maar jy is seker nie van plan om saam te kom as hulle lang tye hier bly nie?”

Vir wat sukkel die man so met haar? “Ek sal nog sien,” antwoord sy kortaf. Dis een van die stukke van die legkaart waaroor sy nog nie seker is nie.

Voor die kragbord in die motorhuis kom hy tot stilstand. Sy sien dadelik dat daar iets verkeerd is.

“Wat’s dit?” Sy het amper “nou weer” bygevoeg, maar haar gelukkig bedink.

“Hier’s nog ten minste ’n maand se krag gelaai,” sê hy fronsend. “Hoekom sou jou pa so bekommerd gewees het daaroor?”

“Want dis soos hy is.” En dink nou maar daarvan wat jy wil, dink sy terwyl sy hom stip in die oë kyk. Hy kan nie meer agter die donkerbril wegkruip nie.

Hy haal ’n paar koepons uit die klein hempsakkie teen sy hart en trek hulle een na die ander deur die gleuf.

“Dan laai ons maar ekstra krag, as dít is wat hy wil hê. Dis een ding waaroor jy jou definitief nie in die afsienbare toekoms hoef te bekommer nie.”

“Dankie,” sê sy styf. Sy draai om en loop voor hom uit tot by die patiodeur.

“Bel jou pa,” sê hy voordat hy wegdraai en in die bakkie klim.

Hy het dit gister al geweet, dink Simon toe hy wegry met ’n laaste blik op Emma wat agter die glasdeur staan. Die meisiekind is MOEILIKHEID met hoofletters. Nog voordat hy sy eerste koppie koffie behoorlik gesluk het, was haar pa al op sy spoor oor die ooilammetjie wat nie gebel het nie. En al het hy die wêreld se respek vir doktor Smith, was hy sterk in die versoeking om hom daaraan te herinner dat hulle nie ’n babawagterdiens op Pelikaanbaai aanbied nie, selfs nie al is hy bereid om daarvoor te betaal nie. Buitendien is sy darem nie heeltemal ’n kind nie. Daarvoor is haar lyf te goed ontwikkel. Veral bolangs.

Tog lyk sy nie soos die kind van skatryk ouers nie. Ná die blink klere van die vorige dag, weet hy nie wat hy verwag het nie, maar nie die skrapse, uitgewaste klere van vanoggend nie. Sy het hom wragtag aan Aspoester laat dink. Wat is dit met die meisiekind? As dit nie lyk asof sy vir aandete in ’n deftige hotel aangetrek is nie, lyk dit asof sy in armoede verval. Van sandale met hakke en blinkers na uitgetrapte tekkies.

Vererg klik hy met sy tong. Dis simpel om haar met Aspoestertjie te vergelyk. Daar is beslis nie ’n stiefma en twee aaklige stiefsusters in die prentjie nie. Net die gesigs­uitdrukking so asof sy weggegooi is en nou wag vir ’n prins om haar uit ’n lewe van ellende te red. Gelukkig vir haar het sy die gesiggie, die bene en die ander rondings om ’n prins se aandag te trek en te hou. Maar sy sal wrintie bietjie gewig moet aansit en kleur kry.

En dan is daar natuurlik nie eintlik loslopende prinse op Pelikaanbaai nie.

Hy glimlag teen die tyd wat hy voor die kantoor stilhou.

Toe Emma ’n uur later van die strand af terugkom met ’n sak vol skulpe, grom haar maag van die honger. Sonder meer, maak sy ’n blik geroomde mielies oop, gooi dit in ’n sopbord uit, gaan sit op die trappies met ’n lepel en eet elke kriesel op. As haar ma dit kon sien, het sy seker beroerte gekry, dink sy met ’n glimlaggie.

“Jy’s ons prinsessie en ons maak jou groot om eendag met ’n prins te trou,” was een van haar ma se geliefde sêgoed toe sy klein was. Die glimlag word ’n frons. Dis waar die probleem begin het – toe sy nog skaars ’n tiekie en ’n baksteen hoog was en geen idee gehad het watter verwagtinge daar van haar gekoester word nie.

Sy voel skielik naar en kan maar net wonder of dit die mielies op haar leë maag is, of die gedagte aan haar ma. Dis nie onmoontlik dat dit bloot fisiek is nie. Gisteroggend was daar die vliegtuigontbyt wat sy skaars kon eet omdat die elmboë van die man regs van haar permanent oor haar bord gehang het. Toe het sy die rooibostee gedrink wat Lizzie gemaak het en daarna die glas rooiwyn. Vanoggend ’n koppie soet koffie. ’n Liquid diet, dink sy skuldig. Dalk moet sy die Land Rover eerder vroeër as later aan die gang kry en kos gaan koop. Lekker bros slaai, vars brood, groente . . . haar mond begin sommer water.

Sy bel haar pa gou voordat sy stort en aantrek. Met haar handsak oor haar skouer, stap sy motorhuis toe, klim agter die stuurwiel in en draai die sleutel.

Doodse stilte begroet haar.

Sy sug en leun agteroor. Nog ’n fiasko. Sy onthou te laat dat die Landie, soos die gekoopte krag, deel was van haar pa se verduidelikings, opdragte, padaanwysings en waarskuwings voor sy weg is. Vaagweg kan sy iets herroep van die battery wat hy altyd ontkoppel, maar dit het natuurlik nie ingesink nie. Na die hoeveelste moet en moenie, onthou dit en onthou dat, het sy eenvoudig opgehou luister. Sy wou nie dink nie, want dan het dit die aaklige ervaring kans gegee om nes te skop.

Met nog ’n lang, uitgerekte sug, klim sy uit die groot voertuig en stap kombuis toe om rubberhandskoene aan te trek. Terug in die motorhuis loop sy twee keer om die Land Rover en gaan staan dan hande in die sye voor die enjinkap. Ten minste weet sy hoe en waar om dit oop te maak en hoe om die kap staan te maak sodat dit nie op haar kop val nie. Maar dis die somtotaal van haar kennis.

Dit val haar skielik by dat haar pa iets gepraat het van negatiewe en positiewe pole, ’n kringloop wat onderbreek is en dat sy die konneksie op die battery moet terugsit en vasdraai. Hoe sy dit moet doen, kan sy egter nie onthou nie. In daardie stadium was sy sonder begrip aan die kop knik.

Sy trek die lae riempiestoeltjie nader wat haar pa saamdra wanneer hy voëls gaan kyk. Dis nie ideaal nie, want dit vou op en die riempies vorm nie ’n stewige basis nie. Sy sal dus op die raamwerk aan die kante moet staan. Dis net om behoorlik tot heel agter te kan loer wat aangaan, besluit sy en klim versigtig op. Die battery kan sy dadelik herken. Teen alle verwagting in sien sy ook gou waar die aansluiting is wat haar pa ontkoppel het. Tentatief druk-druk sy aan die spulletjie en is verbaas toe dit lyk asof die los skakel op die battery pas.

Dit was nie so moeilik nie! Sy klim weer agter die stuurwiel in en draai vol afwagting die sleutel. Doodse stilte. Sy trek die sleutel uit, druk dit terug en draai dit weer. Weer eens is daar net die geklik van die sleutel.

Vies klim sy uit en bestyg die opvoustoeltjie weer met die nodige versigtigheid. Lank staar sy na die binnekant van die viertrek. Daar is niks wat vir haar opsigtelik los lyk nie, maar haar kennis van meganika is power. Daar kan so baie dinge verkeerd wees. Dalk is dit iets simpel, maar hoe sal sy weet? En hoe moet sy dit regkry? Daar is net een genade: Sy sal haar pa weer moet bel.

Sy gryp haar selfoon uit haar handsak, maar voordat sy die groen knoppie druk, bedink sy haar. Dis heeltemal belaglik om Daddy se hulp in te roep. Dalk is dit nóú en hiér waar sy moet begin om selfstandig besluite te neem, en self die probleem op te los.

Sleepvoet stap sy terug sitkamer toe en val in een van die stoele neer. Vir seker is sy nie die eerste persoon op Pelikaanbaai wat motorprobleme ontwikkel het nie. Dit kan wees dat van die personeellede opgelei is om die voertuie op die reservaat te onderhou en reg te maak. Dan is hulp net ’n oproep ver.

Haar entoesiasme verdamp toe sy onthou Lizzie gaan die telefoon beantwoord. Dit hoef nie ’n probleem te wees nie, troos sy haarself. Lizzie hoef nie antwoorde te verskaf nie. Sy moet haar bloot deurskakel na Tim Morrison toe. Of Simon as daar geen ander genade is nie.

Toe Lizzie die telefoon in die kantoor beantwoord, sê sy dus dadelik: “Ek het motormoeilikheid. Kan jy my asseblief na meneer Morrison deurskakel?”

“Hy is nie nou hier nie.”

“Sit my dan deur na meneer Sutherland.”

“Hy’s ook nie hier nie.”

Emma voel hoe haar ore warm word – nooit ’n goeie teken nie. “Kan jy dalk vir hulle ’n boodskap gee?”

“Watse boodskap?”

Lizzie is óf baie dom, óf uiters moedswillig. “Dat ek motormoeilikheid het. Ek kan nie my pa se Land Rover aan die gang kry nie,” verduidelik sy verder terwyl sy haar oë hemelwaarts gooi.

“Ek dink jy moet liewer die garage se mense laat kom.”

“Het jy ’n nommer vir die naaste motorhawe?” vra Emma terwyl sy konsentreer om beleefd te bly.

“Nee, maar Simon of oom Tim sal dit hê. Maar hulle –”

“Is nie nou daar nie,” voltooi sy die sin. “Lizzie, vra asseblief die nommer wanneer een van hulle terugkom en laat my weet.”

“Sal so maak.”

Emma wonder hoe betroubaar dié antwoord is en besluit om weer na ’n uur of wat te bel net om seker te maak dat Lizzie nie van haar vergeet nie. Die gedagte om nog ’n dag sonder behoorlike kos klaar te kom is nie lekker nie.

Sy stap op en af terwyl sy wag dat die uur verbygaan voordat sy weer vir Lizzie kan bel of, wonder bo wonder, Lizzie háár sal bel. Sy kook water vir tee en besluit dan dat sy nie kans sien vir kondensmelktee nie. Rusteloos pak sy die klere wat sy saamgebring het in haar kas uit en gooi dié wat gestryk moet word op ’n hopie. Toe sy op haar horlosie kyk, is daar steeds nog net ’n halfuur verby.

Deksels en derduiwels. Sy stap terug motorhuis toe, maak die dubbeldeur oop en skakel die elektriese lig aan sodat daar genoeg lig is. Toe klim sy vir die derde keer op die stoeltjie en tuur na die enjin.

Daar is ’n magdom drade en pype. Almal lyk ewe belangrik. Sy vroetel aan sommige van die konneksies en stamp aan die battery. Dié keer het sy nie die handskoene aangetrek nie en is haar vingers gou vuil en olierig. “Dekselse ou Landie,” brom sy onderlangs. Haar pa moes dit lankal vervang het, maar was seker weer te suinig.

“Kan ek help?” vra ’n growwe manstem agter haar.

Emma skrik, trap na die middel van die stoeltjie en haar voet gly dwarsdeur die yl riempies. In ’n poging om haar balans te herwin, gryp sy vervaard in die lug na ondersteuning. Net die enjinkap is bokant haar, maar sy gryp te laag en toe is dit te laat. Met ’n dowwe plof maak sy met die harde sementvloer kennis, die stoeltjie netjies om haar een voet gevou.

“Eina!” mompel sy, maar haar stem verdwyn toe twee sterk arms onder haar inskuif, haar optel en saggies op haar voete neersit.

“Het jy seergekry?” vra ’n besorgde stem terwyl hy haar voet uit die stoeltjie wikkel. “Jou enkel? Is dit seer?”

“Nee. Ek skree gewoonlik ‘eina’ wanneer ek lekker kry,” sê sy terwyl sy haar sitvlak afstof. “Dis jóú skuld dat ek geval het!”

Daar is ’n beduidenis van lag om Simon se mondhoeke. “Jy maak jou klere vol ghries,” sê hy.

“Deksels en derduiwels!” swets sy. Daar is swart kolle op haar broek waar haar hande gevat het en dit maak haar nog kwater. “Vir wat bekruip jy my so?”

Die groen oë lag nou openlik vir haar. “Ek het ’n boodskap van Lizzie gekry om jou te kom help, en jou nie te laat wag nie, want jy hou niks daarvan om te wag nie. Die motorhuis se deur staan wawyd oop en ek het ingestap om te kom kyk wat die probleem is.”

“Ek kon ’n hartaanval gekry het van die skok. Gelukkig is dit net my elmboog wat seergekry het.”

“Laat ek sien?” Hy steek sy hand na haar uit. Al die lag het verdwyn en hy kyk met besorgde oë na haar.

“Nee! Moenie aan my raak nie.” Die seer elmboog is erg genoeg. Sy het regtig nie boonop sy lang vingers op haar vel nodig nie. Dit sal alles net erger maak.

“Dit lyk asof dit nerfaf is. Moet ek jou nie help om dit te ontsmet en ’n pleister op te plak nie?” vra hy simpatiek.

“Maak die Land Rover reg as jy wil help,” sê sy voor sy omdraai en kombuis toe strompel. Al weet sy dis onwaar, voel dit al vir haar asof hy allerhande onsedelike voorstelle maak.

Haar elmboog is skaars nerfaf, sien sy toe sy mooi kyk. Niks om oor huis toe te skryf nie. Dit bloei nie eens regtig nie. Dit was net so verskriklik seer toe die benerige punt die sementvloer getref het. Sy was haar hande deeglik en trek vinnig ’n ander broek aan.

Die dreuning wat skielik uit die motorhuis kom, bring ’n bietjie vreugde. Ten minste is die Landie aan die loop!

“Hoe klink dit?” vra hy oomblikke later toe hy haar sien inkom. “Ek het die enjin aan gelos sodat dit bietjie kan luier.”

“Wat het jy gedoen?”

“Nie veel nie. Enjins is maar soos vroue, sê hulle. As jy hulle reg hanteer, kan jy baie vermag.” Sy ooghoeke frommel. Hy moes homself bedink het, want hy gaan gou aan. “Ek het bloot die skroewe styf vasgedraai sodat dit ’n beter konneksie maak.”

“Ek sien. Dankie,” mompel sy agterna. Sy het amper vergeet om die man te bedank. “Gaan dit veilig wees om Darling toe te ry?”

“Dit kan die battery net goed doen,” sê hy.

“Verskoon my dan, asseblief?” sê sy so waardig soos sy kan.

“Met plesier,” antwoord hy net so formeel.

Buite staan Simon en kyk hoe sy uit die motorhuis tru, die deur van ’n afstand toemaak en dan met die pad langs wegry. Daar het hy dit nou, dink hy. Sy maak nie net die lewe vir hom moeilik nie, sy reageer soos ’n tierkat wanneer hy haar probeer help.

Hy was nogal vies toe Tim hom gevra het om te kom kyk wat met die voertuig verkeerd is. Dit was op die punt van sy tong om te sê dat hy nie as ’n werktuigkundige ingenieur aangestel is nie, maar toe bedink hy hom, want Tim is sy vriend. As dit nie was dat hy hom die pos op Pelikaanbaai aangebied het nie, was hy in die pekel. Gelukkig was dit net ’n kleinigheidjie om die Land Rover weer aan die gang te kry.

Hy sien hoe die groot voertuig weer oorkant teen die bult op verskyn op die laaste stuk pad hek toe en, gerusgestel, stap hy om die huis na sy eie rytuig toe. Aspoester het beslis skerp naels, dink hy. Maar nou het sy hopelik alles wat sy nodig het en met die wiele aan die gang, sal hy sweerlik minder van haar sien.

Emma se eerste keuse

Подняться наверх