Читать книгу Droomman aan boord - Elsa Hamersma - Страница 3

1

Оглавление

Die telefoon lui net toe Victoria klaar aangetrek is. Sy kyk eers op die skermpie, maar toe sy sien wie dit is, besluit sy dat sy tog tyd het om ’n paar woorde te praat.

“Ja, Belle?”

“Is dit my vriendin, die brainbox, wat praat?” vra Belle tergend.

“Einste,” lag Victoria.

“En wat dra jy na die cocktail toe?”

Victoria kyk in die spieël voor haar. Die swart rokkie is eenvoudig en pas haar soos ’n handskoen, maar dit skree nie “kyk vir my!” nie. Sy voel tevrede. “My swart rok.”

Daar is ’n lang sug in haar oor. “Ek moes dit geweet het. Te bang jy vestig dalk aandag op jouself. Al het jy die … die whatchamacallit ontwikkel.”

“Die finansiële produk, Belle. Dink daaraan as iets soos sjampoe wat ook ’n produk is. ’n Haarproduk, in laasgenoemde geval. En ek het dit nie alleen ontwikkel nie. Ons werk in ’n span.”

“Hmm. Van hare gepraat, wat het jy met daai bos hare van jou gemaak?”

“In ’n bolla in my nek gedraai. Ek moet professioneel lyk, so moenie jou asem mors om met my daaroor te baklei nie.”

“Nee, ek sal nie. Maar jy het darem seker weer van daai prettige ondergoedjies aan wat jy so graag koop?”

Victoria kyk selfbewus af asof sy die ragfyn swart onderklere sal kan sien. “Ja. Dit gee my bietjie selfvertroue, want ek weet iets wat die kliënte nie weet of kan sien nie.”

“En watter skoene het jy aan?”

“Die Manolo’s.” Daar is genoegdoening in haar stem. Dis vrek mooi skoene en die naam aan die binnekant van die skoen gee haar gemoed sommer ’n hupstootjie.

“Om op daardie naam te trap behoort enige vrou genoeg oemf en vertroue te gee om die VN toe te spreek, sou ek dink. Uit eie ondervinding kan ek natuurlik nie praat nie, want sulke skoene kan ek nie bekostig nie.”

“Dis nie jou styl nie, Belle,” troos Victoria, want sy weet Belle begeer die skoene met ’n seer hart. “Jy hou van bling en krale, hartjies en valle. En meer selfvertroue het jy nie nodig nie.”

“Oukei, oukei! En jy sê die baas het een van die backroom boys aangesê om die praatwerk te doen? Hy gaan jou nie op die verhoog sit om te praat nie?”

“Nee, Belle. Jy weet mos ek doen nie toesprake van verhoë af nie. En hy’s nie ’n backroom boy nie. Hy is een van ons spanlede.”

“Well, you go, girl! Dink aan my wat hier by die huis sit in my gown en slippers, en geniet dit.”

“Asof dit nou moontlik is,” brom sy. Met dié hoor sy die interkom se klokkie lui wat aandui dat haar rygeleentheid in die voorportaal is. “Ek moet gaan. Willie is hier,” sê sy vinnig. “Baai!” Sy druk die telefoon dood voordat sy die gehoorstuk teen die muur optel.

“Ek kom,” roep sy net, vat haar aandhandsakkie in haar hand en gooi ’n stola oor haar skouers. Eintlik is sy dik die duiwel in omdat haar direkte baas gereël het dat sy opgelaai moet word. En dít omdat hy bang is sy daag nie vir die bekendstelling op nie. Dit is ’n mosie van wantroue, het sy vir hom gesê, maar Eric Verhoef was onversetlik. “Ry nou maar dié keer saam met Willie. Omdat ek jou vra,” het hy vriendelik, maar ferm gesê. “Dit sal baie stres van jou én my afhaal.”

“Eric, jy sal my nie laat praat nie, nè?” het sy net weer seker gemaak.

“Nee. Ek het mos belowe. Ek is goed vertroud met my personeel se sterk en swak punte en ek weet jy is die een wat in die agterkamer die ster is. Net soos wat Rynard weer van die kollig hou. Openbare optredes is sy kos.”

“Dan belowe ek dat ek daar sal wees.”

“Mooi, maar Willie kom jou oplaai.”

“Wow! Jy lyk mooi,” is Willie se eerste woorde toe sy uit die hysbak klim.

“Dankie.”

“My motor is nou nie so grand soos joune nie,” beduie hy praat-praat tot in die straat waar ’n ou Mercedes geparkeer staan.

“Oud, maar lyk my goed opgepas.” In die namiddaglig kan sy sien dat die motor blink asof Willie dit pas gewas en spesiaal gepoleer het.

“Dit was nog my pa s’n,” lig hy haar in. “Ek het dit geërf toe hy laas jaar oorlede is.”

Hulle ry in relatiewe stilte tot by die hotel waar die bekendstelling van hulle nuwe finansiële produk gaan plaasvind. “Ek dink Die Welvaart-versneller gaan goed verkoop,” sê Willie wat met ’n wye draai geparkeer het. “Dis die soort ding wat gaan werk omdat die wisselkoers so opgeneuk is.”

“Ek hoop jy’s reg,” sê sy stram. Die versneller het maande se harde werk geverg. Aangesien dit haar breinkind is, is sy nogal senuweeagtig daaroor.

Die lokaal waar die skemerkelkpartytjie vir die bekendstelling gehou word, is feitlik reeds vol toe hulle instap. “Ken jy die finansiële adviseurs wat die baas genooi het?” vra Willie vir wie dié funksie die eerste van sy soort is.

“Die meeste. Hulle is almal baie goed opgelei en bekwaam, want hulle kliënte is oor die algemeen beter ingelig en kieskeuriger. Hierdie adviseurs is genooi omdat hulle kliënte in die hoër inkomstegroep val, en dit die groep is waarop ons produk gemik is. Die adviseurs moet vanaand oordeel of dit daardie kliënte se spesifieke portefeuljes sal pas.”

“Daar’s die baas,” sê Willie opgewonde. “Joe-hoe,” roep hy en toe Victoria opkyk, sien sy hoe Willie sy arm bokant haar kop in die lug waai. Sy is lus en skop hom op sy skeen omdat hy hulle aankoms met soveel fanfare aankondig. Ten minste die helfte van die mense wat reeds daar is, kyk belangstellend na haar. Of so voel dit vir haar.

“Hier’s julle,” sê hulle baas glimlaggend. “Dankie, Willie.” Hy draai na Victoria toe. “Ontspan, Victoria. Rynard is reg om die PowerPoint-aanbieding te doen en ek sal al die vrae, indien enige, behartig.”

Sy knik outomaties.

“Maar jy moet jou kant bring,” waarsku hy. “Die meeste van die groot banke se adviseurs en die pensioenfondsbestuurders is hier. Ons kan die aanvoorwerk doen, maar jy sal moet help om die produk te verkoop. Dit is per slot van rekening jou breinkind dié.”

In die verbygaan vat sy ’n glasie sjampanje by ’n kelner en teug daaraan. ’n Bietjie alkohol help wanneer sy op haar senuwees is en gee haar daardie ekstra koerasie wat sy nodig het. “It takes the edge off,” sê Belle altyd.

Willie vat haar aan haar elmboog en stuur haar nader aan die verhoog. Sy hou haar lyf eers stram, want hy is haar junior en nie haar date nie. Na ’n oomblik gee sy tog toe. Die man bedoel goed.

Die sjampanje help beslis, want sy is meer ontspanne toe die voorlegging begin. Rynard ken die produk net so goed soos sy en verduidelik in detail wat die voor- en nadele is. Sy is selfs beïndruk toe hy afsluit.

“Ons noem hierdie produk nie verniet Die Welvaart-versneller nie,” sê hy. “Dit is presies wat dit in die huidige mark sal wees.”

“En wat is die situasie as ons wel in dollar uitbetaal word, maar die wisselkoers het gunstig vir ons verander?” kom die eerste vraag uit die gehoor.

Eric neem die mikrofoon en antwoord dadelik glad en oortuigend.

“Strike one,” fluister Willie in Victoria se oor en amper proes sy van die lag. Die sjampanje het beslis haar senuwees doeltreffend gekalmeer.

“En hoe gaan skommelings in die mark dit affekteer?” vra ’n tweede persoon, en Eric antwoord gemaklik en gooi selfs ’n grappie in.

“Strike two,” fluister Willie.

“Kan juffrou Verbeek self vir ons verduidelik wat hierdie produk beter as ander soortgelyke produkte maak, aangesien sy eintlik die produkspesialis is?” vra ’n manstem uit die gehoor en Victoria gooi amper haar laaste druppels sjampanje uit van die skrik.

“Ek sal voorstel dat jy haar na afloop van die aanbieding vra, meneer Krüger. Sy is hier en sal met graagte al jou vrae persoonlik beantwoord.”

Victoria is lus en soen die baas, hoewel sy weet dat sy antwoord vir party mense dalk vreemd voorkom. Sy wonder wat meneer Krüger van haar wil hê. Rynard het net een keer aan die begin haar naam genoem. Hoekom sou meneer Krüger wou hê dat sý moet antwoord?

Die oomblik toe die amptelike voorlegging verby is, vat Victoria nog ’n glas sjampanje by ’n verbygaande kelner. Dit sal die laaste een wees, maar dit help om iets in haar hand vas te hou terwyl sy met kliënte gesels. Amper soos ’n reddingsboei, het sy al gedink, want as sy tyd nodig het om eers te dink oor ’n antwoord, kan sy altyd aan die glas teug om tyd te wen.

Iemand vat aan haar skouer en sy draai om.

“Victoria, kan ek jou voorstel aan Bartho Krüger?” Die baas knip ongesiens vir haar oog. Eric dink natuurlik die man is sommer oorlams om haar spesifiek te wil uitvra. “Bartho, die een en enigste Victoria Verbeek. Soos jy gesê het, is sy ons produkspesialis. Haar agtergrond as aandelehandelaar van valuta-afgeleide produkte maak van haar ’n baie waardevolle lid van ons span. Ek is seker sy sal al jou vrae kan beantwoord.”

Sy draai haar kop en kyk vas in die blouste paar oë wat sy nog gesien het. Selfs blouer as Belle s’n. Sy knip haar eie oë om seker te maak dat sy nie verkeerd gekyk het nie, want voor haar staan – in lewende lywe – die beeld wat sy nog altyd van ’n perfekte droomman gehad het. Vandat sy liefdesverhale in haar vroeë tienerjare begin lees het, visualiseer sy al haar droomman in haar dagdrome en selfs dié in die nag: donker, definitief langer as sy, met pragtige blou oë. ’n Vriendelike man wat haar skans teen die lewe sal wees. Prentjies van hulle twee voor die kansel, saam in hulle knus huisie, elke dag saam met hom, snags langs hom, het in haar kop lewe gekry.

Die laaste paar jaar het sy egter minder en minder tyd gehad om aan dié drome te wy en het sy volwasse geword. Realisme het die plek ingeneem van drome toe sy nugterder na die wêreld begin kyk het. Dit was nie lank voordat sy aanvaar het dat die man waaroor sy so lank gedroom het, eenvoudig nie in die werklike lewe bestaan nie; dat daar ’n oorvloed paddas om haar is wat nie die belofte inhou om in haar spesifieke prins te verander nie.

En nou staan dié man onverwags voor haar en lyk hy presies net soos in haar fantasie. Nee, beter. Sy netjiese donker wenkbroue en die donker wimpers wat die blou oë raam, is mooier as in enige droom. Hy steek sy hand na haar uit en glimlag.

Sy glimlag skitterbly terug en voel hoe haar knieë onder haar knak. Sy hand is groot en koel, en sy handdruk net ferm genoeg.

Die wonderlike oomblik spat in skerwe toe hy skuins omdraai en ’n blonde vrou met baie rondings en klere wat dit adverteer, nader trek: “Maya Venter, my verloofde,” stel hy haar voor.

Victoria sluk droog. “Aangename kennis,” mompel sy en voel hoe haar hart tot in haar skoene sak. Dit is beslis nié vir haar ’n aangename kennismaking nie.

Die lewe kan darem ’n boelie wees as hy tyd het, dink sy, en vat werktuiglik ’n groot sluk sjampanje. Bartho Krüger wat die vergestalting van haar ideale man is, is klaar aan ’n ander vrou verbind. ’n Regte poppie met al die bates wat Victoria nie het nie.

“Bartho sê net baie slim mense kan sulke finansiële langtermynplanne uitdink,” verklaar Maya Venter met ’n soet glimlag vir Victoria. “Hy’s elke keer verbaas wanneer dit ’n vrou is.” Sy draai na haar verloofde toe en druk sy hand. “Bokkie, gesels julle lekker shop, ek gaan bietjie sosialiseer.”

Bartho kyk sy verloofde eers agterna voordat hy na Victoria toe terugdraai. “Ek neem aan jy het my vraag netnou gehoor?”

“Ja.” Victoria haal diep asem. Sy het nie verwag dat iemand wat soos haar droomman lyk, verbaas sal wees dat vroue intelligent kan wees nie. Sy sal eenvoudig nou die teendeel moet bewys. Sy byt op haar tande en konsentreer so hard sy kan. Nou is nie die oomblik om oor die verydeling van haar romantiese droom te dink nie. Sy moet haar werk doen, anders gaan nóg Bartho, nóg haar baas beïndruk wees. Eric Verhoef het nie intussen verdwyn nie, maar staan steeds reg langs haar asof hy wil hoor hoe sy antwoord. En Willie se gesig verraai sy nuuskierigheid.

Sy antwoord na die beste van haar vermoë, maar Bartho val haar kort-kort in die rede met nuwe vrae.

“Victoria het al daardie deel van die vraag beantwoord,” sê Eric een keer, maar Bartho laat hom nie stuit nie.

“As jy jou uitgee om slim te wees, moet jy die vrae kan hanteer,” antwoord hy kortaf.

Dit voel vir Victoria soos ure voordat hy eindelik fronsend om hom begin kyk. “Waar’s Maya?” vra hy asof hulle moet weet.

“Sy het netnou daar anderkant met Roelf Beneke gestaan en praat,” bied Willie hulpvaardig aan.

Sonder om om verskoning te vra of selfs net dankie en totsiens te sê, draai Bartho om en verdwyn – klaarblyklik nie beïndruk dat sy verloofde met ’n aantreklike ouer man staan en gesels nie.

“Ongeskik,” sê Eric. “Dit het vir my gelyk asof hy jou probeer vasvra.”

“Maar hy kon nie, nè?” lag Willie ingenome.

“Dankie dat jy gekeer het toe Bartho Krüger wou hê dat ek oor die mikrofoon moes antwoord, Eric.” Sy ril by die herinnering.

“Dis my plesier, maar Victoria, jy sal jouself ’n guns doen om aan te sluit by iets soos Toastmasters. Jy is so slim, dit sal jou net in ’n nog beter posisie plaas. Jy sal baie ver kan vorder in die maatskappy as jy nie so beskroomd voor ’n gehoor is nie.”

“Ek weet,” antwoord sy sag. Dis seker nie die regte oomblik om vir hom te sê dat sy al daardie paadjie geloop het en dat dit niks gehelp het nie. Iemand anders met goeie bedoelings het die raad gegee dat sy haar moet verbeel die hele gehoor sit kaal voor haar. Dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Kaal mense in rye voor haar is genoeg om haar te laat weghardloop. As enigste kind in ’n streng ouerhuis, kan sy nie onthou dat sy een van haar ouers ooit kaal gesien het nie. ’n Mens ontbloot jouself nie voor ander as jy enigsins selfrespek het nie, sê haar ma graag.

Al mens wat sy al ooit kaal gesien het, is Belle, want Belle is soos haar suster.

“Ek dink die aanbieding was baie suksesvol,” sê Eric. “Dit is ’n goeie produk en daarom sal dit goed verkoop.”

“Ons sal eers weet wanneer ons sien hoeveel van die adviseurs se kliënte daarin belê,” antwoord sy redelik. “Kan jy my dalk nou huis toe vat, Willie? Dis seker reg as ek nou huis toe gaan, Eric?”

“Natuurlik.”

“As jy gereed is, is ek reg,” antwoord Willie.

By die motor maak hy weer galant vir haar die deur oop.

Die laataandverkeer is besiger as gewoonlik, maar sy ontspan heeltemal en leun terug teen die sitplek.

“Snaakse ou, daai Bartho Krüger,” sê Willie. “Niemand anders kon by jou uitkom nie, want hy het jou heelaand gemonopoliseer.”

Die motor ruk skielik sidderend soos Willie briek trap. Victoria se lyf du vorentoe tot waar die gordel hard teenkanting bied. Eers op die laaste oomblik sien sy waarom Willie so vinnig gerem het: die taxi wat teen ’n hoë spoed slingerend oor die pad reg van voor op hulle afgejaag kom. Wanhopig draai hy die stuurwiel, maar dis te laat.

Die laaste wat sy hoor, is haar eie stem wat hard, hoog en aanmekaar gil.

“Victoria? Maak oop jou oë.”

Die kalm stem hou aan dat sy haar oë moet oopmaak, al het sy nie baie lus nie. Sy sweef êrens sag en warm waar dit rustig en stil is.

“Tori? Maak oop jou oë!”

Sy dwing haar oë oop. Dit was onmiskenbaar Belle se skril stem en die dringendheid daarin maak haar bang.

“Welkom terug,” sê die kalm stem. Dit behoort aan ’n man in ’n wit oorjas met ’n sagte gesig.

Sy wil antwoord, maar sy kwaak soos ’n eend met asemhalingsprobleme.

“Toemaar. Moet nog nie probeer praat nie.” Hy sit sy hand op haar voorkop en kyk dan weer na haar. “Jy was in ’n ernstige ongeluk en die afgelope paar uur was jy bewusteloos. Jy en jou vriend het albei seergekry, maar niemand is dood nie.”

“Hallo, vriendin. Dis hoog tyd dat jy wakker word. Ek moet huis toe gaan en gaan slaap.” Belle gaap. “Ek sal jou ma en pa net eers gaan roep,” sê sy. “Hulle het geloop toe ek gekom het, om net bietjie koffie in die kafeteria te gaan drink.”

Dit is moeite vir Victoria om haar oë oop te hou. Sonder om verder te wonder oor die motorongeluk en Belle wat wil gaan slaap, gly sy weer weg in ’n diep slaap.

Wanneer sy weer wakker word, is dit haar ouers wat oor haar leun, en hoor sy haar ma se heserige stem: “Jy moet ’n eis instel, Dirk, sommer vandag nog. Daardie taxibestuurder moet betaal vir wat hy aan ons kind gedoen het.”

Sy hoor nie die antwoord nie, want dis makliker om weg te glip in die ongekompliseerde newelwêreld.

Eers ’n dag later word Victoria ontslaan en begin sy daarna voel om ’n geselskap te voer. Van die ongeluk onthou sy niks nie. Die funksie vooraf in die hotel kan sy vaagweg herroep, maar elke keer wanneer sy daaraan dink, word die prentjies in haar geheue darem bietjie helderder.

“Was Willie ook in die hospitaal?” vra sy toe sy uiteindelik onthou dat sy saam met hom in die motor was.

“Ja, maar hy is ook al ontslaan. Hy het sy rug baie seer gemaak, maar die dokters gaan eers kyk of hy sonder ’n operasie kan regkom. Dalk doen fisio en oefeninge die ding,” vertel Belle.

“Is hy terug by die werk?”

“Nee, ek glo nie. Die arme man verduur baie pyn, en ek dink nie hy kan lank sit of staan nie. Sulke goed vat tyd, sê almal.”

“Arme Willie. Ek sal maar so gou moontlik teruggaan.”

Belle kyk skewekop na haar. “Weet jy dat die dokter meen dit gaan ’n hele rukkie duur voordat jy regkom? Dat jy ’n klein bietjie bloeding op die brein opgedoen het? Nie so erg dat hulle moes opereer nie. Dié soort bloeding verdwyn gewoonlik gou, sê die dokter, maar jy sal nie dadelik kan teruggaan werk toe nie. Jou pa het in elk geval ook ander planne vir jou,” voeg sy met ’n laggie by.

“Wat bedoel jy?”

“Nee, ek sê niks. Laat hy maar vir jou sy plannetjies kom vertel.”

Die vliegtuig is iewers oor die wye oseaan toe Victoria wakker word en orent probeer sit – nie die maklikste taak nie, want die sitplek voor haar lê amper op haar skoot, en Belle weer op haar skouer.

“Belle, word wakker,” sê sy dringend en stoot haar vriendin orent.

Belle kreun en val na die ander kant toe – teen die aantreklike adonis wat langs haar rustig, hande op die maag gevou, sit en slaap. Soos gewoonlik het Belle, die aardsflerrie, die jackpot geslaan met haar reisgenoot.

Toe Victoria se pa ’n week gelede die vliegtuigkaartjies gekoop het, kon hy net twee sitplekke langs mekaar in die middelblok van die vliegtuig kry. Aan Belle se regterhand sit ’n mooie man; aan Victoria se linkerhand sit ’n verkrimpte Chinese vroutjie wat nie ’n woord Engels (of Afrikaans, natuurlik) verstaan nie. Sy knik haar kop en glimlag net sodat haar skreefogies heeltemal verdwyn wanneer Victoria met haar praat. Wanneer Victoria badkamer toe wil gaan, moet sy gebare maak wat haar soos ’n totale idioot laat voel en Belle laat lag.

Gats. Sy kan Belle nie so los nie, dink sy skuldig. As Belle nou moet wakker word en besef sy gebruik die sexy man se boarm as kussing, gaan sy dalk skaam kry. Of dalk nie? Dalk slaap hy ook nie so vas soos hy voorgee nie en geniet hy elke oomblik wat Belle se blonde krulle oor sy borskas val.

“Belle,” sê sy harder en ruk haar terug. Sy kan nie toelaat dat haar vriendin haar so aan die mooi man opdring nie. Selfs nie al is sy ’n flerrie van formaat nie.

“Wassit?” vra Belle terwyl sy met haar hand oor haar mond vee. “Voel jy sleg?”

“Nee. Sit regop. Jy lê op die man langs jou.”

“Ten minste het ek geslaap! Nou’s ek wakker.”

“Dis goed, want ek moet met jou praat. Ons moes nie na my pa geluister het nie. Dis ’n fout. ’n Heeltemal idiotiese idee.”

“Waar val jy nou uit?” vra Belle met ’n lang gaap. “Watse fout?”

“Dis ’n fout om net … net ons werk te los en vir meer as twee weke vakansie te gaan hou. Sommer so, nadat ek al ’n hele tien dae siekverlof gehad het. En jy, dalk sal jy nie genoeg geld maak dié maand om jou verpligtinge na te kom nie?”

“Ek dink nie dis ’n fout nie,” gaap Belle agter haar hand. “Ek dink dis baie nice van jou pa om ons gratis en verniet te laat vlieg om hulle op die Queen Mary in Hongkong te gaan join. In my lewe sal ek nooit self so ’n vakansie kan bekostig nie, want dis te bliksies duur. En wat laat jou dink ek gaan nie genoeg geld maak as Tania vir ’n paar weke alleen die salon run nie? Sy weet presies wat om te doen en wanneer.” Sy gaap weer, dié keer hoorbaar. “En onthou, die idee is dat jy rus en oor die motorongeluk kom.”

Victoria val terug teen die sitplek. “Ek weet, maar ek was nou ook nie só ernstig beseer nie. Harsingskudding en bietjie bloeding op die brein. Dis al. Dit was regtig nie nodig dat my pa so oorreageer en my op verpligte rus plaas nie.”

“Ek weet,” antwoord Belle. “Jy sou verkies het om die naweek bietjie te rus en Maandag terug op kantoor te gewees het. Sterk en verantwoordelik, dis jy. Ek …” en sy wuif teatraal met haar hand, “vat elke geskenkie wat enige goeie fee my kant toe gooi.”

Dit is waar, dink Victoria. Belle is aanpasbaar en altyd reg vir enigiets. Sy wat Victoria is, verkies dat dinge beplan word en streng volgens die boek gebeur.

“My pa is nie ’n fee nie, en ek moes nie toegelaat het dat julle my ompraat nie,” hou sy nogtans hardkoppig vol.

Belle trek haar skouers op. “As jý nie gekom het nie, kon ék nie gekom het nie. Jy behoort nie so te worry nie. Ek het gedink jy het die T-shirt vir daai een gekry toe jy tien was.”

Victoria krimp inmekaar. “Ek het.” Hulle oë ontmoet vir ’n oomblik en Victoria se gedagtes dwaal terug oor die jare.

“Vergeet nou al die treurige stories en relax. By the way, ek het jou pa gevra of ek jou dag en nag moet oppas. Soos in jou skaduwee wees?”

“En? Wat het hy gesê?”

“Hy het gesê ek kan kom en gaan soos ek wil. Ek is nie jou oppasser nie. Hulle wou net nie hê jy moet dalk lonely raak nie.”

“Dankie tog daarvoor,” lag Victoria.

“Ek was bly toe hy sê ek hoef nie jou stertjie te wees nie, want anders het hulle dalk ook beplan om ons heeltyd met valkoë dop te hou. En dit sal nie vir my werk nie, want, for your information only, ek beskou hierdie vakansie as ’n MVV.”

“’n Wát?”

“MVV. Manvangvaart.”

“Liewe genade, Belle, wat gaan met jou aan?” Victoria ken haar vriendin al meer as twintig jaar, maar nou gaap sy haar oopmond aan. “Bedoel jy soos in vang om te trou? Mens vang nie die tipe man waarmee jy kan trou op ’n boot nie.”

“Tori! Waar val jy nou uit? Trouman? MVV beteken nie noodwendig trou nie, maar as ek pret het met iemand op die boot en hy wil my teen wil en dank hê, permanent of lank-tydelik, is daar geen rede waarom hy nie die regte tipe kan wees nie.”

“Ek lees dat vakansieromanses nie werk nie. Nie eens lank-tydelik nie.”

“So what? Ek is single, en jy is single, en op daai boot moet daar seker dosyne mans wees wat alleen is maar die lewe wil geniet. Vergeet van al die troubles by die huis en ontspan vir ’n verandering. Ek is seker dat selfs jou ma en pa jou sal aanpor om bietjie te jól. Dis hoekom hulle so baie vir die vakansie betaal het.”

Daarmee draai sy haar rug op Victoria en druk haar kop weer feitlik teen die aantreklike man se skouer.

Dit bly maar snaaks dat sy en Belle soveel jare al sulke goeie vriende is, met dié dat hulle direkte teenoorgesteldes is, dink Victoria toe sy haar kop teen die sitplek laat terugsak. Belle is eenhonderd persent oop vir alles wat die lewe haar kant toe gooi. Sy, aan die ander kant, wil beslis eers sien wat haar kant toe kom voordat sy dit aanvaar. As sy enige beheer daaroor gehad het, sou daar nie ’n motorongeluk of ’n skeepsvakansie gewees het nie. Dit was nie deel van haar beplanning nie.

Dalk moet sy Belle se raad dié keer volg en net ontspan. Dis gedane sake.

Droomman aan boord

Подняться наверх