Читать книгу Droomman aan boord - Elsa Hamersma - Страница 4
2
ОглавлениеOp die lughawe moet Victoria geduld aan die dag lê om Belle van die adonis weg te kry. “Ek het net gou selfoonnommers met hom uitgeruil,” pruil Belle toe hulle eindelik koers kry doeane toe.
“En dink jy jy gaan hom weer sien?”
“Hoekom nie? Hy’t besigheid kom doen in Hongkong. Oor ’n week is hy terug in die Kaap en wanneer ek weer by die huis is, sal hy my bel.” In ’n kenmerkende gebaar stoot sy haar bolip met haar tong uit. “En as ek niemand op die boot ontmoet met wie ek lus is om ’n entjie op die lang pad aan te durf nie, sal ek hóm bel. Life is short en ek gaan nie geleenthede deur my vingers laat glip nie!”
“Maak net eers seker hy’s nie klaar getroud nie,” maan Victoria. “Kyk bietjie of jy die bordjie sien wat die taxistaanplek aandui.”
“Sjoe, is ek bly alles is nie in Chinees geskryf nie! Sal die taxibestuurder Engels kan verstaan?”
“Hy sal darem die basiese verstaan: Kowloon, Kai Tak Cruise Terminal en Queen Mary.”
“Dankie tog jy’s so slim,” sug Belle langs haar. “Ek sou nie geweet het watter kant toe om die bagasie te kry of niks nie.”
“Jy sou vir die adonis gekry het om jou te help,” antwoord Victoria. Belle het altyd ’n man of mans wat meer as bereid is om die pad vir haar makliker te maak. “Ons moet nog die boot se etikette om ons tasse se handvatsels sit.”
“O, gats! Ek het skoon daarvan vergeet. Wat het ek met myne gemaak?”
“Toemaar. Ek het al ons etikette in my handsak.”
Haar ouers wag hulle in toe die taxi by die boot se terminaal stilhou.
“Ek was só verlig toe ek die SMS kry dat julle op pad is met die taxi, Victoria.” Haar ma druk haar liggies teen haar vas.
“Was tannie ook bang die vliegtuig val?” vra Belle wat nog nooit vantevore oorsee was nie en die vlug as ’n onveilige en gewaagde deel van die reisplan beskou.
“Nee, ek was bang Victoria trek kop uit,” sê haar ma met ’n stywe glimlag, “of dat die vlug te vermoeiend vir haar sou wees, want sy het nog nie al haar krag herwin nie.”
“Ek breek gewoonlik darem nie my woord nie,” sê Victoria met net sulke stywe lippe. “En ek makeer niks nie, Ma. Ek het na die ongeluk bietjie gesukkel met my balans en so aan, maar nou is ek so gesond soos voor die ongeluk.”
“Dit kan dalk so wees, Victoria, maar ek ken jou mos goed. Ek kan sien jy is nog nie jouself nie. Liggaamlik is een ding, maar jy het ’n geestelike knou weg en is pas uit die hospitaal ontslaan …”
“Kom ons los nou al die stories van hospitale,” tree haar pa tussenbeide. “Ons is op die boot om vakansie te hou en nie om elke dag aan die ongeluk herinner te word nie.”
“Halleluja,” sê Belle opgeruimd.
Victoria vang haar ma se oog en kyk vinnig weg. Geestelike knou? Wat beteken dit?
“Is hier baie jong mense aan boord, oom?” wil Belle weet toe hulle na die vertreksaal stap.
“Um,” maak hy keelskoon. “Daar is baie jong mense wat op die skip werk, maar die passasiers lyk vir my in die algemeen na ouer mense. Afgetredenes.”
“Solank daardie afgetredenes nog lood in hulle pype het,” fluister Belle en rol haar oë vir Victoria.
“Seker net stokou mense wat die tyd en die géld het om weke lank leeg te lê,” fluister Victoria terug en rol haar oë met selfs meer mening vir Belle.
“Pappa het wel iemand raakgeloop wat hy ken. Ongelukkig was die arme man in ’n ski-ongeluk en is hy in ’n rolstoel. Sy broer is saam met hom om hom te help. Hulle is jonger mense, meer julle maats as ons s’n.”
“Ag, dis als reg. Ons sal die jong mense uitsnuffel,” glimlag Belle met die vertroue van ’n mooi vrou wat nog nooit sonder bewonderaars was nie.
Hulle tasse word weggeneem. “Hulle check seker nou eers of ons nie goed insmokkel nie,” sê Belle grootoog.
En daarna kry hulle elk ’n sleutelkaart vir hulle onderskeie kajuitdeure.
“Ons is nie op dieselfde dek as julle nie, maar ons sien julle halfsewe in die eetkamer,” groet Victoria se ma. Sy kyk op haar horlosie. “Dis sommer nou-nou. Ons eet in die Britannia Restaurant en julle sal ons tafel se nommer in julle kajuit kry. En onthou om iets moois aan te trek. Die Engelse is nogal formeel. Mans moet baadjies dra, en informele klere word nie geduld nie.”
“Dis als so smart,” koer Belle toe hulle in die imposante gang af loop om die hysbak na die vierde vlak te haal. “Ek is mal hieroor. Het jy gehoor, Tori? Ons is in ’n state room.”
Hulle state room is ’n luukse kajuit. By die badkamer verby sien hulle twee enkelbeddens wat langs mekaar staan. ’n Sagte blou bank staan voor die TV en die deur op die ander punt loop uit op ’n balkon. Victoria gaan dadelik uit om die uitsig oor Hongkong te bewonder.
Belle het intussen met ’n gilletjie ’n bottel sjampanje op die tafeltjie ontdek. “Om ons aan boord te verwelkom,” sê sy, lig die bottel uit die ysemmer en begin dadelik om die prop af te wikkel. “Bly net daar, Tori, ek bring vir ons champers.” Die prop skiet af en Belle skink. “Cheers. Op die vakansie van alle vakansies,” sê sy oomblikke later toe sy vir Victoria die glas met borrelende vloeistof aangee. “En daarmee bedoel ek dat ons MVV ’n groot sukses sal wees.”
“Cheers.” Victoria klink die lang glas teen haar vriendin s’n en ignoreer doelbewus die laaste paar woorde. “Het jy al ooit so ’n mooi uitsig gesien?” Sy wys na die hoë geboue van Hongkong oorkant die water. Die laaste sonstrale blink goud in die talle glasvensters en reflekteer in die water.
“Dis pragtig,” sê Belle dromerig. “Kan jy dink as dit nou-nou donker word en die liggies gaan aan? Al wat ons nog kort, is twee mooi mans weerskante van ons. Dan sal hierdie vakansie wees soos ’n droom wat waar word.”
Hulle tasse is laat en uiteindelik moet hulle in hul reisklere navraag gaan doen waar die eetkamer is en soontoe stap. “Tafel 103,” sê Victoria vir die kelner wat hulle galant inwag.
Hulle volg hom tussen die tafels deur totdat sy haar pa se vol bos grys hare sien waar hy hulle staande inwag.
“Hierso!” wuif hy hulle nader. Sy rysige figuur staan die mense agter hom heeltemal toe en eers toe hulle by die tafel kom, merk Victoria skrams die man in die rolstoel skuins agter haar pa op.
“Laat ek julle voorstel aan my dogter, Victoria, en haar vriendin Isabelle,” sê haar pa. “Dis Lukas en Bartho Krüger. Bartho het gaan ski en sleg seergekry. Hy het bietjie op die boot kom rus sodat hy kan herstel na die ongeluk.”
Dit voel vir Victoria of haar hart soos ’n hipersnel hysbak in ’n nanosekonde tot in haar voete sak. Voor haar sit Bartho Krüger, die man wat sy die aand van die ongeluk by die funksie ontmoet het. Hulle gesprek van daardie aand is vaag. Sy onthou net dat sy hom herken het as die man van haar drome, maar dat hy verloof was. Waar hy nou in die rolstoel sit, lyk sy mooi blou oë taamlik onvriendelik en is daar geen sweem van ’n glimlag op sy gesig nie.
Lukas Krüger spring egter op en stap om die tafel om hulle om die beurt hand te gee. “Ek is so bly om te sien hier’s darem ander jong mense op die boot,” sê hy vriendelik.
Belle gaan skielik soos ’n blom oop. Sy glimlag koketterig en gooi haar hare oor haar skouers. Victoria neem Lukas se hand en fokus dan op Bartho. Hy bied nie sy hand nie aan nie, want die gewrig van sy regterhand is verbind en in ’n hangverband om sy nek. Vermoedelik het sy bene die seerste gekry, vandaar die rolstoel.
“Ons het al ontmoet. By die bekendstelling van een van ons finansiële produkte?” Sy hou haar stem gelykmatig en hoop net dat niemand agterkom dat haar hart wel terug is in haar borskas, maar nou soos ’n tamboeryn in haar ore slaan nie.
“Ja. Ek weet.” Sy stem is hees. “Dit was net voordat ons … ek met die skivakansie vertrek het.”
Hy kyk nie na haar nie, maar Victoria glimlag voordat sy pad gee na die ander kant van die tafel. Haar droomman se lyf en sy gees het seergekry. Sy sien die seer in sy oë. In die enkele weke sedert hulle vorige ontmoeting het die lewe hom sleg behandel. Soos vir haar. ’n Eienaardige toeval. Sy is so verdiep in haar gedagtes dat sy amper die stoel mis sit wat Lukas vir haar langs hom uittrek.
Sy kyk vervaard op in sy laggende oë.
“Is jy altyd so ingedagte?” Hy maak seker dat sy mooi sit voordat hy die stoel nader aan die tafel skuif.
“Nee, ek …” Sy het eenvoudig nie ’n antwoord nie. Sy kyk nou vir die eerste keer behoorlik na hom. Sy kan sien dat hulle broers is, maar hy is nie naastenby so aantreklik soos Bartho nie, besluit sy. Sy hare is nie so donker nie en sy oë is eerder rokerig grys as blou. Sy vermoed dat hy ook langer is as Bartho, want sy het opgemerk hy is so lank soos haar pa.
Hulle sit aan ’n ronde tafel met haar ma aan Victoria se een kant, Lukas aan haar ander kant. Bartho sit skuins oorkant haar in sy rolstoel langs Belle. Dit duur nie lank nie voordat Victoria besef dat sy direk vir Bartho kyk elke keer wanneer sy met Belle praat. Die man langs Belle is soos ’n magneet waarheen haar oë sonder toestemming draai. Sy moet liefs met Lukas of haar ma gesels of bloot afkyk. Dan hoef sy nie in die afsydige, hartseer oë oorkant haar te kyk nie.
“Ek moet bely dat ek aangenaam verras is om twee Afrikaanse jong dames op hierdie been van die vaart te ontmoet.”
Sy glimlag net vir Lukas, want eintlik is sy steeds sprakeloos van skok.
“Van watter bekendstelling het jy en Bartho gepraat? Die een waar julle ontmoet het?”
Dit is makliker om oor werk te praat, kom sy dadelik agter. Dit lei haar gedagtes ook in ander rigtings. Sy verduidelik dus die konsep in meer detail as wat sy normaalweg sou.
“En watter rol het jy gespeel in die hele storie?” vra hy belangstellend.
“As spesialis werk ek saam met ’n hele span om die produk te ontwikkel. Daarna stel ons dit bekend aan die adviseurs wat dit op húl beurt aan hul kliëntebasis verkoop.”
“Dit vereis nogal aansienlike wiskundige kennis, soos ek verstaan. Ek is beïndruk.”
Sy kyk vinnig na hom omdat hy effe verbaas klink. “Ek het in ’n sake- en wiskunderigting geswot.”
“Dan is ek selfs meer beïndruk,” sê hy met ’n warm glimlag.
Die wynkelner en die sommelier neem hulle plekke langs die tafel in en ontlok ’n lang gesprek. Kort daarna bring die kelner die spyskaarte. Hy bly staan en wag om die bestellings te neem en baie gou daarna is hy terug met die eerste borde kos.
“Verskoon my net ’n oomblik,” sê Lukas en staan op. Sorgsaam buk hy by sy broer en sny sy visvoorgereg in kleiner stukkies voordat hy hom ’n vurk in sy hand gee.
“As ek gaan aanstoot gee omdat ek nie self my kos kan sny nie, moet julle nou praat. Ek en Lukas kan reël om alleen eenkant te gaan sit.”
Almal om die tafel sit geskok doodstil oor die bars toon in Bartho se stem. Victoria sien hoe Lukas letterlik verstyf en haastig orent kom.
“Dis nie vir my ’n probleem nie, ou seun,” kom Dirk Verbeek eerste tot verhaal. “Ons kom almal mos die een of ander tyd in ’n posisie waarin ons nie wou gewees het nie.”
“Nee, dit sal my nie pla nie.” Belle glimlag guitig vir hom. “Ek sal jou in die vervolg help om jou kos te sny. Jou broer hoef regtig nie elke keer op te spring om dit te doen nie.”
“Dankie,” brom Bartho nors.
Victoria kyk op haar bord en begin proe-proe eet. Haar eetlus is skielik heeltemal weg. Haar fantasie het nou ’n kinkel gekry wat sy in geen droom voorsien het nie.
“Ek is jammer oor Bartho se uitbarsting,” sê Lukas toe Belle lekker met Bartho gesels.
“Ek verstaan dit volkome.” Victoria is jammer hy toon nie op die oomblik al die mooi eienskappe waaroor sy altyd gedroom het nie, maar sy kan haar darem in sy posisie indink. “Dis mooi van jou om jou broer so by te staan. En baie opofferend om so lank af te vat sodat jy saam met hom op die boot kan wees,” sê sy toe die borde weggeneem word en sy verplig voel om sosiaal te wees. “Ek bedoel, dis ’n lang tyd om van die werk af weg te wees,” korrigeer sy haarself blosend toe sy sien hoe Lukas se wenkbroue verbaas boog.
Sy grys oë vonkel. “Klink dit vir jou asof ek darem te lank gaan leeglê? Ek bedoel, vir ’n sterk jong man?”
“Wel, dit ís ’n lang tyd om vakansie te hou,” sê sy ietwat verskonend. “Ek self voel baie skuldig omdat ek so vroeg in die jaar nie op kantoor is nie.” Sy trek haar skouers op. “Maar, om die waarheid te sê, het my pa my in die vakansie ingeboelie.”
“En hy lyk na so ’n gawe man,” grinnik Lukas.
Sy word ’n antwoord gespaar deur die kelner met die volgende gang wat hy vaardig voor elkeen neersit. Sy waag dit om tersluiks in Bartho se rigting te loer, maar hy sit en kyk hoe Belle sy vleis netjies in klein, eetbare happies sny. Hy lyk definitief nie meer so vies of opgewerk nie. Om die waarheid te sê, lyk hy skielik baie meer ontspanne terwyl hy na Belle kyk en luister na een of ander storietjie wat sy aan die vertelle is terwyl sy sny.
’n Flits van suiwer jaloesie skiet skielik deur Victoria. Van skooltyd af was geen man bestand teen Belle se natuurlike sjarme nie. En haar lyf het alle mans altyd gaande. Dit het Victoria nog nooit gepla nie, want sy het nog nooit in een van Belle se bewonderaars belanggestel nie. Maar nou sit haar droomman langs Belle, en is Belle besig om te doen wat sy so goed doen. Sy lag in sy oë, fladder haar wimpers, leun oor om beter te hoor wanneer hy praat. Sy kyk na hom asof hy die enigste mens in die wêreld is. Haar hand rus kort-kort vertroulik op sy arm. En Bartho, eers hartseer soos ’n lanferlappie op ’n pak se mou, en toe ergerlik en opstandig, lyk skielik asof die lewe weer vir hom mooi geword het.
Belle weet natuurlik nie dat hy verloof is nie, troos Victoria haarself, maar sy sal haar inlig. Sodra hulle alleen is, sal sy vir Belle mooi van sy verloofde vertel. Maya, onthou sy, was haar naam. Sy wonder net waarom Maya nie saamgekom het nie. Sou dit nie vir Bartho lekkerder gewees het as Maya eerder langs hom gesit en met hom geflankeer het nie?
“Waar is Bartho se verloofde?” vra sy vir Lukas. Die gedagte aan die verloofde is nie ’n lekker een nie.
Hy bly so lank stil dat Victoria wonder of hy haar vraag gehoor het. “Lang storie,” sê hy uiteindelik. “As hy nie permanent in so ’n slegte bui was nie, sou jy hom kon gevra het, maar ek moet jou waarsku dat jy met jou lewe speel as jy dit nou sou doen. Gee hom kans om bietjie te ontspan en dan pols jy hom. Ek hoop jy verstaan dat ek nie regtig oor sy persoonlike sake wil praat nie.”
Sy skeur haar oë met moeite van syne weg toe haar pa ’n opmerking oor die uitsig maak. Dit is asemrowend om oor die water te kyk na die oorkant van die nagdonker hawe waar die ligte nou in al die geboue flonker.
“Hoe voel jy?” vra haar ma saggies toe sy terugdraai. “Jy lyk nie vanaand vir my op jou stukke nie.”
“Ek voel piekfyn.” Victoria sukkel om ’n glimlag op te tower. “Dit was ’n lang vlug en die aanpassing in tyd vang my ’n bietjie. Dis al,” maak sy die eerste die beste verskoning. “Dit het niks met die ongeluk te doen nie.”
“Wel, dit lyk nie asof die vlug of die tydsverskil Belle hoegenaamd affekteer nie.” Haar ma wys met haar oë in Belle se rigting.
“Nee.” Sy kan amper nie kyk hoe Belle die man langs haar begogel nie. “Belle laat haar deur min dinge afsit. En sy is vasbeslote om die bootreis te geniet.” Vir die eerste keer in haar lewe neem sy Belle kwalik omdat sy so sosiaal is en maklik met vreemdes gesels.
“En jy dan? Is jy vasbeslote om dit nié te geniet nie?”
Sy druk liggies haar ma se hand wat op haar bobeen lê. “Gee my bietjie tyd, Ma. Pappa het alles so vinnig gereël dat ek nog nie tot verhaal gekom het nie.”
“Ek sit nou net en wonder of julle twee dames nie lus is om vanaand Hongkong se naglewe te gaan beproef nie? Die boot vaar môreaand uit, so dis ons laaste kans,” sê Lukas in die tydelike stilte.
“Ek sien nie kans nie,” antwoord Bartho dadelik.
“Dit gaan nie ’n probleem veroorsaak nie, Bartho. Die stad is uiters rolstoelvriendelik.”
“Dankie, maar nee dankie.”
“Ek is ook nie lus om vanaand al uit te gaan nie. Dankie, maar gaan julle gerus,” sê Victoria vinnig. As Bartho nie gaan nie, sal dit haar nie baat om op die uitstappie te gaan nie. En haar kop is seer, moet sy erken.
“Ag nee, Tori,” pruil Belle. “Wees ’n sport, man.”
“Jammer, nee,” antwoord sy kortaf en kyk liewer nie in haar ma se rigting nie. “Gaan geniet julle twee dit.”
“Wat gaan jy doen terwyl hulle weg is?” vra haar pa fronsend.
“Uitpak en dan slaap,” sê sy bondig. Dit maak haar gelukkig om te weet dat Bartho veilig op die boot is en dat Belle êrens in die stad met Lukas flankeer.
“Hou tog duim vas dat ons tasse al gekom het,” sê Belle opgewonde toe hulle terugstap na die kajuit toe. “Ek kan nie in hierdie klere na ’n nagklub toe gaan nie.”
“Moes Lukas nie liewer na sy broer gekyk het nie?” vra Victoria, tog suur omdat Belle so vrolik en entoesiasties klink.
“Ek glo nie. Hy het mos nou geëet? En ek’s seker Lukas sal hom help om in gemakliker klere te kom voordat ons die pad vat.” Sy dink ’n oomblikkie na. “Buitendien lyk Bartho nie vir my na die tipe wat deur sy broer opgepas wil word nie. Hy lyk na die sterk, independent tipe, of hoe?”
Victoria byt haar lip vas. So, Belle het reeds besluit dat Bartho die sterk, onafhanklike tipe is? “Ja, maar hoe onafhanklik kan hy wees met al daardie beserings?”
Belle trek haar skouers op. “Haai, vriendin! Gaan jý oukei wees so alleen?”
Tipies Belle. Sy het klaar besluit om te gaan en nou dring die implikasies eers deur. Dit is ’n onaangename gedagte dat sy ook op die reis is om te herstel – net soos Bartho. Eintlik is hulle in dieselfde bootjie, maar sy beserings is net meer sigbaar. “Natuurlik. Ek kan na myself kyk. En ek is nie siek of alleen nie, hoor. My ma en pa is mos iewers op die boot. Dan is daar die een of ander vertoning in die ouditorium ook, het ek gesien. Gimnaste of iets. Dalk sal ek daar gaan inloer as ek nog nie vaak is nie.”
Die tasse het gekom en staan binne-in die kajuit. Met ’n gilletjie van plesier, ruk Belle haar tas oop en soek gou na iets om aan te trek.
Victoria is nie spyt toe sy skaars twintig minute later, na ’n warrelwindtog deur die kajuit, eindelik uitstorm nie.
Belle het haar tas eenvoudig op haar bed omgekeer en die inhoud omgedolwe. Die badkamer se piepklein rakkie het sy blitsvinnig met al haar mooimaakgoed volgepak. Belle weet wat haar prioriteite in die lewe is.
Met ’n innerlike suggie soek Victoria deur die deurmekaar klere op die bed na haar vriendin se nagklere en sit dit onder haar kussing. Nadat sy ’n paar van die kledingstukke wat nie kreukeltraag is nie, uitgehang het, pak sy die res terug in die tas, knip dit toe en druk dit onder die bed in.
Haar eie tas pak sy sistematies uit, bêre haar nagklere ook onder haar kussing en pak al haar toiletgoed uit in die kassie onder die wasbak. Orde is vir haar belangrik. Die kajuit, hoewel luuks, is klein en as alles deurmekaar is, gaan dit nie lekker wees om hier te bly nie. Dieselfde geld vir die boot, besluit sy. Sy gaan gelukkiger voel as sy ’n bietjie verkenningswerk gedoen het en weet waar alles is, want sy hou daarvan om haarself te oriënteer. Hulle is aan boord ’n reusagtige, drywende hotel en ’n mens kan maklik verdwaal.
“Lekker aand wat vir jou voorlê met daardie Belle,” sê Bartho toe Lukas uit die stort gestap kom.
Lukas sien die afguns in sy beseerde broer se oë. “Dit behoort lekker te wees, maar ons sal seker taamlik vroeg al terugkom. Ek is mos nie regtig een vir die naglewe nie,” antwoord hy versigtig.
“Nou waarom het jy dit voorgestel?”
“Om die twee dames se onthalwe. Ek het gedink dat hulle dalk lus sal wees om te gaan.”
“En toe is net een daarvoor te vinde.”
Lukas kyk fronsend na sy broer. Hy was regtig jammer dat Victoria nie saam wou uitgaan nie, want nou is dit net hy en Belle. “Jy was nie baie vriendelik met Victoria nie, Bartho. Wat is dit tog met jou dat jy so ’n afkeer van slim vroue het? Jy is regtig ’n manlike chauvinis, weet jy?”
“Ek dink nie vroumense moet hulle met die finansiële markte en sulke goed bemoei nie,” antwoord hy stuurs. “Soos jy behoort te weet. Ek hou van my vroue sag, bewus van wat hulle rol behoort te wees.”
“Dom, bedoel jy? Soos Maya?” Lukas is dadelik jammer oor die vraag, maar dit het uitgeglip.
“Ja.” Sy stem is bot. “Eintlik soek ek iemand soos Ma. Iemand wat sag en simpatiek is.”
“Ma is simpatiek, maar sy is slim en het goeie opleiding,” antwoord Lukas bedaard. “Sy het jou ongelukkig tot in die afgrond bederf toe jy klein was en nou soek jy iemand wat jou op die hande sal dra.”
“Ek bedoel nie Ma is dom nie,” hou Bartho vol. “Maar sy het nie met Pa gekompeteer nie. Ek wil iemand soos sy hê wat kos maak, by die huis is wanneer ek daar kom, warm en sag in my bed is. En daar’s niks daarmee verkeerd nie.”
Lukas sug. “Jy lewe nog in die tiende eeu, broer. Kom by! Vroue kompeteer vandag op alle vlakke met mans en bewys op die koop toe dat hulle enigiets beter as ’n man kan doen.”
“Ja, hou nou op preek. Vir ’n geswore oujongkêrel het jy heeltemal te veel eiers oor vroumense te lê. Help my nou stort voor jy gaan, ek het dit nodig in hierdie hitte.”
“Ek kry net gou die plastieksakke.”
Terwyl Lukas sy broer help om te stort, dink hy terug aan aandete saam met die Verbeeks en hul gas. Toe Dirk Verbeek hom en Bartho vroeër die dag raakgeloop het, was sy voorstel dadelik dat hulle moet reël om aan dieselfde tafel in die restaurant te sit. “Hier’s nie baie jong mense op die boot nie,” het hy verduidelik, “en dit sal vir my dogter en haar vriendin lekker wees as julle by ons sit.” Toe die twee dames inkom, het Dirk dadelik opgestaan. Die voorste, blonde een was baie mooi en vol selfvertroue. Sy het haar heupe geswaai en haar pragtige hare oor haar skouers teruggegooi – asof sy op ’n segetog was. Sy weet dat baie oë haar dophou, het hy gedink. Sy moet Dirk se dogter wees. Die skraal, donker enetjie agter haar, was skugterder. Sy het hom aan ’n skigtige bokkie laat dink en toe hy in haar groot, gevoelvolle oë kyk, was die indruk nog sterker.
Groot was sy verrassing toe hy agterkom dat sý die oom se dogter is. Hy het hom die hele aand aan haar smal hande en haar dun gewrigte verkyk. En dan was daar die geur om haar wat hom lus gemaak het om openlik aan haar te ruik.
Dit het hom totaal verstom toe hy hoor waarmee sy haar geld verdien. Hy het eerder verwag dat sy die sekretaresse sou wees of dalk die een wat die funksie waar Bartho was, gereël het. Beslis nie dat sy ’n finansiële ghoeroe is nie.
Omdat hy haar nie kan peil nie, het sy hom uitgeboul. Hy hou van raaisels en wat hy by die eerste ontmoeting gesien het en wat sy hom daarna van haarself vertel het, klop nie lekker nie. Een plus een maak nie twee nie. Gelukkig is hulle vir nog meer as twee weke op dieselfde boot en sal hy haar uiteraard baie sien.
Dalk sal sy gou nie meer so ’n enigma wees nie.
Net jammer dat sy net oë vir Bartho het. Hy het haar goed dopgehou en gesien hoe haar aandag by sy broer gebly het. Waarom dit is, verstaan hy ook nie, want Bartho was blatant ongeskik teenoor haar.
Of is sy die tipe vrou wat daarvan hou dat ’n man haar op haar plek sit? Van dié gedagte hou hy net mooi niks.
Bartho is soms amper grof in sy spraak en optrede. En die ski-ongeluk het dit vererger, want sy broer dra swaar aan die blaam. Dit gaan geduld kos om Bartho weer geestelik en liggaamlik gesond te kry.
Eers ry Victoria met die hysbak tot op die heel boonste dek. By die hysbak is ’n dekplan teen die muur wat aandui wat alles op dié dek te vinde is. By elkeen van dié plekke loer sy in sodat sy ’n idee kan kry van wat daar gebeur. Toe sy alles op die boonste dek bekyk het, klim sy met die trap af na die dek net daaronder en herhaal haar snuffeltog. Stadig maar seker klim sy laer en laer af. Dat mense op so ’n boot kos baie belangrik ag, sien sy gou. Daar is eetkamer op eetkamer en dan nog plekke vir ligte verversings, soos tipiese Britse pubs en teetuine. Die verskillende restaurante bedien ook ’n verskeidenheid kos. Daar is een vir Oosterse geregte, ook vir seekos en kerrie. Kort voor lank spoor sy die planetarium, fliek, biblioteek, gimnasium en hospitaal op.
Daar is genoeg om aan boord te doen, besef sy. As sy en Belle nie dag in en uit op die dek by die swembad wil lê nie, hoef hulle nie een oomblik verveeld te wees nie.
Sy gaap onverwags en besluit om vir oulaas te gaan asemskep op een van die buitedekke. Sy maak eers seker dat sy op die dek is waar hulle kajuit is, en glip dan by die naaste deur uit. Dis warm buite, kom sy verbaas agter, maar natuurlik, die lugverkoeling hou die binnekant konstant koel. Sy leun oor die reling en kyk uit oor die water wat in die soel nag soos klotsende, vloeibare koper lyk danksy die duisende liggies wat daarin weerspieël word.
Mooier kan dit nie.
“Ek dag jy het gesê jy gaan slaap?” Die manstem agter haar is bruusk.
“Ek … ja,” antwoord sy, lam geskrik. Sy het nooit die rolstoel in die skaduwee agter haar gesien nie. “Belle is mos saam met jou broer uit, en toe het ek besluit om bietjie verkenningswerk te doen. Voordat ek gaan slaap,” voeg sy gou by. Sy kan skaars glo dat sy op die reuseskip sowaar weer in Bartho Krüger vasgeloop het.
“Ek haat die lugreëling. Dis ongesond. Dis hoekom ek buitetoe gekom het. En ’n stad soos Hongkong is nie vir my nie. Selfs die mooi weerkaatsing van die liggies is net ’n spieëlbeeld van klatergoud; die kunsmatige lewe wat die inwoners van die stad in wolkekrabbers slyt.”
Hy is nou knorrig en bitterbek, dit help nie eens sy probeer verskoning maak vir hom nie. Mooi is mooi, kunsmatig of nie, maar niks gaan seker vir hom mooi wees voordat hy weer op sy bene kan staan nie. “Wel, ons het nou vasgestel Hongkong is definitief nie vir jou nie. So, waar sou jy graag wou woon?” vra Victoria met ’n effense laggie. Met nog ’n stekie jaloesie, onthou sy hoe gou Belle hom aan tafel laat ontspan het.
“Waar ek nou woon. In Kaapstad.”
“Daar is ook wolkekrabbers. Veral in die stadskom en by die kus, Seepunt, Bantrybaai, maar ook in die voorstede soos …”
“En jou punt is?”
“Daar is in elke stad wolkekrabbers. Dit beteken nie dat die mense wat daar bly noodwendig ’n kunsmatige lewe slyt nie,” sê sy koel, want sy word ’n bietjie moeg vir sy kortaf sinne. “In elk geval weet ek nie regtig wie en wat as ‘kunsmatig’ kwalifiseer nie.”
“Nee, dit kan ek hoor. Waar bly jý?”
“Ook in Kaapstad.” Hoe vreemd dat die man van haar drome al die jare in dieselfde stad as sy woon en dat die toeval hulle nou in die hawe van Hongkong, van alle plekke, moet saamgooi.
“Wel, dit is vanselfsprekend, want jy werk vir Du Toit en Solms en jy was by hulle aanbieding in Kaapstad betrokke.”
Sy trek haar asem skerp in om hom te vertel dat hy heeltemal te beterweterig klink, maar hy spring haar voor. “En jou ma vertel ook vir almal van haar slim dogter in Kaapstad. Ek het bedoel in watter voorstad? In ’n huis of woonstel?”
Sy is dankbaar vir die skemerdonker op die dek, dankbaar dat hy haar gesigsuitdrukking nie kan sien nie. “Jy’s verduiwels ongeskik. En ek is seker my ma praat nie met elke Jan Rap en sy maat oor my nie.”
“Ek doen besigheid met jou pa en sien jou ma gereeld by sosiale funksies. En ek sê nou vir jou dat sy baie oor jou praat. Dis dié dat ek wou gesien het hoe jy lyk toe ek by julle aanbieding was.”
Haar ore tuit behoorlik. Wáárom praat haar ma met ’n volslae vreemdeling oor haar? Wat het sy nog alles vir ’n terloopse sosiale kennis soos Bartho van haar dogter vertel?
“Jy is kort ná daardie aanbieding weg met vakansie na ’n ski-oord en dis waar jy toe so seergekry het?” verander sy die onderwerp.
“Ja.”
“Hoe?” troef sy hom terug met net een woord.
“Op die gewone manier. Ek het geski, toe ski ek oor ’n afgrond, val sleg, breek my enkel en my gewrig aan die regterkant en my been aan my linkerkant. ’n Gewone ski-ongeluk.” Sy stem drup van sarkasme.
Victoria wil haar eers vererg, maar die kraak in sy stem wat hy nie kon verberg nie, vermurwe haar hart. “Dit moes seker vir jou op die vliegtuig moeilik gewees het. Ek kan amper nie dink …”
“Ek het nie agter tussen die gepeupel gesit nie, as dit is wat jy dink. Ek het met ’n donnerse duur vliegtuigkaartjie gevlieg sodat ek kon lê.”
Sy sluk haar antwoord net betyds terug. “Is dit iets wat jy gereeld doen? Ek bedoel, gaan ski,” voeg sy vinnig ter verduideliking by.
“Vir ’n oomblik het ek regtig gewonder of jy vra of ek my lyf gereeld breek, maar ja. Ek gaan gereeld ski.”
Hy klink soos iemand wat onwetend oor ’n turksvyblaar gestreel het, dink sy. Geïrriteerd, vies vir homself en die wêreld.
“En jou verloofde? Was sy ook saam?”
“Wat gaan nou aan? Is dit ’n verhoor dié?” vra hy bars.
“Ek’s jammer,” prewel sy geskok. Sy het vergeet dat Lukas gesê het dat sy nie oor die verloofde moet praat nie. Eintlik het sy gedink dat sy net nie moes uitvra oor hulle verhouding nie, maar die hele onderwerp is duidelik taboe. Sy moes in elk geval beter geweet het, want hy het met elke antwoord duidelik gemaak dat hy nie lus is om oor homself te praat nie, maar sy was so gulsig om dadelik alles van hom te weet dat sy nie genoeg ag daarop geslaan het nie. Sy verdien die dwars antwoord.
“Ekskuus,” sê hy en vee oor sy gesig. “Kyk, ek wil nie graag oor die ongeluk praat nie en ook nie oor my verloofde nie. Dis alles verby. As jy nie omgee nie, los dit.”
“Ek is die een wat om verskoning moet vra,” sê sy sag. “Ek is self ’n baie private mens en kan verstaan as jy nie daaroor wil praat nie.” Haar hart klop egter dawerend in haar ore. Het sy hom reg verstaan? Dat dit verby is tussen hom en Maya Venter?
“Ons was in ’n groep. My een pêl, eintlik my beste vriend, het agter my aangeski en hy’s dood. Daarom praat ek nie graag daaroor nie. Eintlik wil ek nie eens daaraan dink nie, want die blote gedagte laat my vir ure daarna absoluut ellendig voel.” Sy gesig is in die skaduwee, maar sy stem is grof en ongelukkig.
Dit moet verskriklik wees om so iets oor te kom, dink Victoria. Haar eie motorongeluk en die paar dae in die hospitaal is niks in vergelyking met wat met Bartho gebeur het nie.
Ontsteld sak sy op haar hurke langs die rolstoel neer om reguit in sy gesig te kyk. Ongelukkig kan sy sy oë nie sien nie, want die lig is te sleg. “Ek is so jammer. Direk na daardie aanbieding van die maatskappy, dieselfde aand nog, was ek in ’n motorongeluk betrokke en ek probeer ook om die hele insident te vergeet. Ek verstaan maar te goed dat daar gebeure is waaraan mens nie wil dink nie, wat nog daaroor praat.”
“Dis gaaf as iemand darem verstaan.” Die kraak is nog steeds in sy stem. “As ek nooit in my lewe weer daaroor hoef te dink of praat nie, sal dit heeltemal te gou wees. Dis verby. Ek moet nou net daaroor kom.”
“Ek dink nogal so iets vat tyd. Ongelukkig is ons nie geprogrammeer om ons gedagtes in lêers te sit en weg te pak nie. Maar dalk is ek pessimisties. Dalk het jy die vermoë om dit te doen?”
“Jy wil ook nie daaroor praat nie?”
“Nee. Mense wil heeltyd weet of ek oukei is, en dit maak my ongemaklik.”
’n Stilte volg, maar dit pla nie.
“Jy laat my beter voel. Seker omdat ek besef dat ek nie al een is wat issues het nie. Dis gaaf om te weet dat jy ook nie verder aan my sal karring nie,” sê hy naderhand. “Dis vir my ’n kruis om mooiweerspraatjies met mense te maak terwyl ek die hele tyd skerm dat hulle my tog nie uitvra nie.”
Sy kyk ’n paar oomblikke weg oor die dek. “Dit sal vir my ook lekker wees om te weet daar is iemand aan boord met wie ek kan gesels sonder om die hele tyd vir die vrae te koes. Daar is min goed so vervelig soos om kort-kort aan minder aangename tye in jou lewe herinner te word.”
“As my gewrig nie verbind was nie, kon ons handgegee het,” antwoord hy en tot haar verligting klink dit of daar ’n glimlag in sy stem is, “maar ek moet erken dat ek versigtig is om my seer hand vir iemand aan te bied.”
“Dit is ’n groot jammerte.” Sy bedoel dit. Sy sou graag wou weet of die aanraking van sy hand haar hart in hoogste versnelling sal gooi. Sy lees altyd in liefdesverhale dat daar ’n vonk spring tussen die held en die heldin en dat dit die teken is dat hul lywe op fisieke vlak al weet wat hul breine logies nog nie weet nie.
“Ek wonder of Lukas en jou mooi vriendin die aand geniet.”
“Natuurlik sal hulle.” Sy is jammer dat hy oor Belle moes praat. Sy het deur hulle hele gesprek nie een keer aan haar gedink nie.
“Is sy enkellopend? Ek bedoel, het sy iemand spesiaal in haar lewe?”
Sy wens regtig hy het nie oor Belle en haar mansvriende uitgevra nie, want dit beteken dat hy in Belle belangstel. “Nee. Sy is nie in ’n verhouding met iemand nie.” Sy wens sy kon gejok het.
“Dis nogal snaaks. Vroue soos sy loop gewoonlik nie los nie.”
“Sy het niemand spesiaal in haar lewe nie, maar dit beteken nie dat sy elke aand in sak en as alleen sit nie.”
Hy sê niks daarop nie.
“Ek is nou moeg. Ek moet in die bed kom,” sê sy naderhand. Al wil sy dit nie erken nie en ook nie daaroor praat nie, het die ligte hoofpyn nou erger geword. En die trant van die gesprek het haar moeg gemaak. Veral die stukkie oor Belle …
“Ek ook,” kom sy stem uit die donker.
Moet sy vra of sy hom kan terugstoot? Nee, hy laat nie eens sy broer toe om hom te help nie. Dis nogal indrukwekkend dat hy so met net die een hand regkom. “Nag, dan,” groet sy en stap terug in die rigting van haar en Belle se kajuit.
Op die laaste oomblik besluit sy om tog te gaan kyk wat in die teater aangaan. Sy staan ’n paar minute net binne die deur en kyk, maar die Chinese akrobate wat op die verhoog is, beïndruk haar geensins nie. Die steekpyn in haar kop word by die oomblik erger en toe sy weer ’n lang gaap moet onderdruk, besluit sy dat die bed die regte plek vir haar is.
Haar laaste gedagte voordat sy aan die slaap raak, is dat sy darem ’n soort verstandhouding met Bartho opgebou het. Al is dit net om te gesels sonder om in mekaar se verlede te delf. Sy is taamlik seker dat daar iets tussen hom en Maya gebeur het en dat die verlowing verby is. Rede om te juig.
As hy net nie so uitgevra het oor Belle nie. Rede om bedruk te voel.