Читать книгу Tydlose liefde - Elsa Winckler - Страница 5

1

Оглавление

Dis skemer. Die pad strek eindeloos voor Kalinda uit. Sy kyk stip na die wit strepe op die swart teer wat gedurig langs die motor verdwyn. Sy het so vyf kilometer terug van die deurpad Bloemfontein toe afgedraai en sedertdien het sy nog geen ander motor gesien nie. Daar is ’n krapperigheid agter haar oë en haar kop voel dof. Sy leun vorentoe en stel die lugverkoeler op sy hoogste vlak. Dalk sal dit help om haar wakker te hou.

Die vlug van Toronto af was lank. Baie lank. Oor­klim in Londen, toe afklim en weer opklim in Johannesburg. Lang toue, baie mense. Daar was ’n bespreking vir haar in ’n gastehuis in Kimberley, dalk moes sy maar daar oorgebly het. Maar sy wou haar uiteindelike bestemming vanaand nog bereik. Sy het die gastehuis naby Paardeberg waar sy vir die volgende paar dae gaan oorbly, gebel en laat weet sy kom al vanaand deur. Die eienares was nie daar nie, maar die vriendelike vrou wat die foon beantwoord het, het haar verseker haar kamer is gereed.

Sy is so vies vir haarself. Twee jaar gelede, toe sy van Neil geskei is en Kanada toe is, het sy die verlede hier in Suid-Afrika gelos, en sy het haarself sedertdien daarvan oortuig dat sy heeltemal oor die trauma van daardie aaklige tyd is. Maar toe sy ’n blondekopman tussen die skare op die lughawe in Johannesburg opmerk wat soos Neil lyk, was haar eerste instink om op die vlug te slaan.

Toe die Anglo-Boereoorlogstigting in Kanada, vir wie sy werk, haar vra of sy bereid is om Suid-Afrika toe te kom vir ’n opdrag, het sy nie ’n oomblik getwyfel nie. Neil se emosionele en fisieke mishandeling gedurende hulle kortstondige huwelik is immers iets van die verlede, iets waaraan sy nooit meer dink nie. Sy het selfs sy laaste boodskap wat hy op haar foon gelos het – “Ek sal jou kry. Iewers, as jy dit die minste verwag, sal ek jou kry!” – doelbewus probeer vergeet. Maar nou onthou sy weer die woorde duidelik.

Kalinda vryf teen haar slape, waar ’n hoofpyn begin klop. En nou dínk sy net sy het hom gesien, en sy reageer weer soos ’n verskrikte haas.

Môre is Maandag, en hoe gouer sy doen wat sy moet doen, hoe gouer kan sy weer ’n hele oseaan tussen haar en Suid-Afrika hê. Haar vlugbespreking terug is vir volgende Vrydag. Dit beteken sy het tien volle werksdae om die opdrag van die stigting uit te voer. Dit moet maar genoeg tyd wees.

’n Lang gaap oorval haar en sy skud haar kop in ’n poging om te ontsnap van die slaap wat haar wil-wil toevou. Sy is ten minste nou rustiger. Miskien as sy die radio aansit … Haar vingers druk die knoppies, maar daar is net ’n krakerigheid te hoor. Radio Skoonveld. Sy glimlag. Haar taal smaak bekend. Lanklaas gebruikte klanke vorm sommer so vanself in die holte van haar mond. Sy praat deesdae min Afrikaans.

Haar hande vou stewiger om die stuurwiel. Die plaas waarna sy soek, kan nie meer te ver wees nie. Daar is glo duidelike aanwysborde tot by die plaas, maar tot dusver het sy nog niks gesien nie.

Die motor se bande sing op die teer en sy begin saamneurie. Maar geleidelik begin iets pla. Sy vryf met een hand oor ’n voorarm. Sy’t hoendervleis. Dis dan nou sommer kóúd. Sy frons.

Kalinda haal haar voet van die petrolpedaal af en loer na die temperatuurmeter in die motor se instrumentepaneel. Vyftien grade Celsius. Verbaas kyk sy weer om seker te maak, en in die proses lig sy haar voet van die pedaal af. Sy sou kon sweer die temperatuur is nog laer. Maar dis tog onmoontlik. Dis Februarie. Op die Vrystaatse vlakte. Dit kan nie wees nie. Sou iets met die motor verkeerd wees? Sy moet liewer stilhou en seker maak.

Sy kyk terug na die swart teer voor haar en soek ’n geskikte plek om af te trek. Daar’s ’n lang draai in die pad en haar hande beweeg die stuurwiel liggies. En dan trap sy vinnig rem, sommer so in die middel van die pad. Reg voor haar in die pad staan ’n vrou. Kalinda se hart gee ’n sprong tot in haar keel, haar hande vou stywer om die stuurwiel, die remme skreeu en die motor ruk tot stilstand sentimeters voor die figuur in die pad.

Voordat sy nog haar asem kan terugkry, gaan die passasiersdeur oop en die vrou klim in. En saam met haar ’n amper oorweldigende sitrusgeur, soos suurlemoen­skil.

Te oorbluf om iets te sê, kan Kalinda net staar. Die vrou draai na haar toe. Sy’t gehuil. Haar oë is rooi en haar hande vat en los, vat en los ’n wit kantsakdoekie.

“Are you perhaps going to Paardeberg?” vra sy, en dis asof dit nog kouer word in die motor.

Kalinda probeer praat, maar haar mond is kurkdroog. Iets is baie vreemd.

“Yes, I … Who are you?”

“We should go, I have to find him,” sê die vrou en kyk voor haar.

Kalinda se brein weier om te werk, maar haar hand skakel die motor aan en haar voet trap die versneller sodat hulle vorentoe begin beweeg. Haar hart klop teen ’n onstuimige tempo. Wie is die vrou?

Sy draai haar kop en kyk weer na haar passasier. Skrik verlam haar heeltemal. Haar hande verslap om die stuurwiel. Koue vingers vat-vat aan haar ruggraat. Sy knip haar oë en kyk weer. Daar is niemand daar nie. Net ’n wit kantsakdoekie lê op die sitplek.

Die motortjie beur gevaarlik na die kant van die pad toe. Kalinda ruk haar kop vorentoe en probeer die motor weer in die pad kry. Wat … ? Sy ry nog ’n paar meter terwyl sy probeer sin maak van wat so pas gebeur het, maar dis asof haar breinselle glad nie werk nie. Sy trap weer rem, vinnig. Die motor ruk tot stilstand. Sy sit ’n rukkie doodstil. Haar hande bewe. Sy pluk die deur oop en spring uit.

Buite is dit warm. Februariemaandwarm. Soos dit veronderstel is om te wees. Sy draai in die rondte, soek na die vrouefiguur in die skemer. Dis doodstil. En behalwe vir die doringbome, grassade en bossies, is daar niks en niemand anders sigbaar nie.

Iets kouds beweeg agter teen haar nek en sy draai vinnig om. Sien sy iets verder af in die pad beweeg, of is dit haar verbeelding? Haar hart bons onreëlmatig, haar handpalms is klam. Sy gee ’n tree vorentoe en dan sien sy haar weer. Op die volgende draai staan die vrou.

Kalinda maak haar mond oop om te roep, maar geen geluid kom uit nie. Die vrouefiguur beweeg. Nader aan haar. Kalinda gee ’n tree agtertoe. Steeds kom die vrou nader. Kalinda gee nog ’n paar treë agteruit, haar asem hortend, haar oë vasgenael op die figuur voor in die pad.

Die volgende oomblik is daar motorligte agter haar en sy hoor motorbande skree. Sy ruk om. ’n Motor pyl reg op haar af. Sy weet sy moet beweeg, maar haar voete is vasgegom aan die teer. Iets kouds beweeg oor haar, sy word eenkant toe gepluk en sy val.

Vir ’n oomblik is dit doodstil. Ontsenu, verbouereerd probeer Kalinda orent kom. Sy het op haar hande en knieë beland en oor die teer geskuur. Haar handpalms is seer en haar knieë nerfaf, maar op die oomblik is dit die minste van haar probleme.

Sy hoor ’n motordeur oopgaan en toeklap. Voetstappe kom nader. Haar keel is droog. Sy draai stadig in die rigting van die geluide terwyl sy probeer verstaan wat op aarde gebeur het.

’n Ouerige man kom nader gestap.

“Juffrou?” vra hy. “Is jy orraait?”

Kalinda maak haar mond oop om te praat, maar dis asof haar stem in haar keel vasgesteek het en sy geen klank daarby verby kan kry nie. Sy knik en beduie in die pad af.

“Het jou motor gaan staan?” vra die man weer.

Sy skud haar kop en sluk. Probeer weer praat. “Nee, altans, ek dink nie so nie.” Sy vou haar arms om haar lyf en leun vir ’n oomblik vorentoe. As sy net kan dink, sal iets dalk sin maak.

“Hartjie, wat het gebeur?” hoor sy ’n vrouestem en sy ruk haar kop vervaard op. Maar dis ’n ouerige vrou wat nader gestap kom met ’n bekommerde uitdrukking op haar gesig.

Kalinda staan regop en vee oor haar voorkop. Sy moet gedroom het, dis al verduideliking wat sy het. Die lang vlug van Toronto af het haar nou ingehaal, sy’t half aan die slaap geraak. Dis vlugvoosheid wat haar laat gesigte sien.

Sy probeer glimlag. “Ek is fine. Ek dink ek het amper aan die slaap geraak. Ek is op pad na ’n gastehuis op die plaas Paardekuil.”

Die man lag en steek sy hand na haar toe uit. “Jy moet juffrou Heyns wees. Zacharias Swiegelaar, en dis my vrou, Madaleen. Jy is op pad na ons plaas toe.”

Die vrou kom glimlaggend nader. “Ons was in Kimberley vandag, maar ek het die boodskap gekry dat jy al vanaand deurkom. Dit maak glad nie saak nie, ons is altyd gereed vir gaste.”

“Dankie, mevrou, ek … ” Kalinda kyk weer in die pad af. Dis nou amper heeltemal donker.

“Het jy nie seergekry nie?” vra die vrou.

Kalinda kyk af na haar hande terwyl sy probeer om so normaal as moontlik op te tree. Dit was mos net ’n droom, dan nie?

“Hartjie? Is jy –?”

“Ek makeer niks nie, mevrou. Dis net my hande, maar ek is fine,” sê sy en vou haar bewende hande om haar arms.

“Nou maar, ry agter my aan, dis nie meer ver nie,” beduie die oom, en hy en sy vrou draai terug na die bakkie toe.

“Dankie, ek maak so,” sê sy, verlig en baie bly dat sy nie weer alleen op die vlakte gaan wees nie. Sy stap terug na haar motor. Haar hande en knieë brand. Sy klim in en sit ’n oomblik doodstil. Sy kyk weer na die sitplek langs haar. Verbeel sy haar of hang die effense reuk van suur­lemoene nog in die lug? Dan was dit nie ’n droom nie. Sy het werklik iemand opgelaai.

Die vrou se sakdoekie het netnou op die sitplek gelê, dan nie? Sy sit die motor se dakliggie aan. Maar daar is nou niks daar nie. Kalinda loer onder en langs die sitplek, maar sien nie ’n sakdoek nie.

Die oom druk sy motor se toeter en beduie dat sy hom moet volg. Met nog ’n vinnige kyk na die sitplek skakel sy haar motor aan. Sy asem ’n diep teug suurstof in. Nee wat, sy het seker maar halfpad aan die slaap geraak.

Hulle hou voor ’n groot plaasopstal stil. Kalinda klim stadig uit haar motor en staar na die groot huis. Dit lyk asof al die ligte aan is. Langs die voetpaadjie wat oor die grasperk tot by die stoep kronkel, is ook ligte aangebring. Dis asof die huis haar groet. Sy probeer ontspan, maar sy is nog heeltemal ontsenu ná die gebeure op die pad.

Sy buk terug in die motor om haar handsak te kry en lag vir haarself. Een ding is seker, sy gaan niemand van haar droom vertel nie. Die mense sal dink sy is van haar sinne beroof. Wie met gesonde verstand sal so ’n simpel storie glo?

Al wat sy nou wil doen, is om alleen te wees sodat sy tot ruste kan kom. En iets op haar hande en knieë sit. Van wat sy in die halfdonker in die motor se lig kon sien, het die velle maar lelik op die teer geskuur.

Die vrou kom nader gestap. “Ons gaan nou eet, jy is welkom om saam te eet. Dis sommer net boerekos, niks ghrênds nie, maar daar is meer as genoeg.” Sy beduie na ’n groepie rondawels wat aan die een kant van die huis staan. “Ek het een van die rondawels vir jou reggemaak, maar kom eers in.”

Kalinda maak haar mond oop om te sê sy wil liewer gaan, maar die tante haak by haar in en begin aanstap na die huis terwyl sy land en sand gesels. Kalinda wil nog teëstribbel, maar haar maag grom en sy lag verleë.

“Ek wil eintlik maar so gou as moontlik bed toe gaan, dit was ’n lang vlug tot hier. Maar ek eet graag saam.”

Nog voordat hulle by die voordeur instap, hoor Kalinda ’n manstem luid skree: “Nee, jou absolute idioot!”

Kalinda se oë rek. Ná twee jaar skrik sy nie meer vir harde manstemme nie, maar sy het lanklaas iemand so hoor bulder.

Die vrou lag en gee haar arm ’n kloppie. “Dis een van ons seunskinders wat so te kere gaan, hartjie, hy kyk seker weer na die een of ander sportprogram op televisie. Jy moenie vir jou aan hom steur nie – hy’s eintlik baie mak, hy lawaai maar net so.”

Hulle stap ’n groot woonvertrek binne. Voor die tele­visie staan ’n man luidkeels en skree, vuiste omhoog.

Die oom gaan staan agter die bank en lag terwyl hy sy kop skud. “Sit nou eers die televisie af, ons het ’n gas,” sê hy.

Die man draai om. Die frons tussen sy oë verdwyn dadelik en laggende blou oë kyk na haar. Sy kan nie anders as om terug te glimlag nie. Hy is definitief nie meer ’n seunskind nie.

“Hierdie onbeskaafde vent is ongelukkig ons s’n, juffrou Heyns. Dis ons seun Lukas,” sê sy pa en gryp hom spelenderwys om die nek.

Met vonkelende oë stap die man op haar af en vou haar hand in syne toe.

“Eina!” roep sy hees en ruk haar hand vinnig uit syne.

Hy staan vinnig terug en lig sy hande apologeties na weerskante. “Skies, wat … ?”

Die tante neem Kalinda se hand versigtig in hare. “Ag, kind, jy het mos op die teer geval en seergekry. Kom sit. Lukas, kry vir ons die noodhulpkissie.”

“Ek gaan haal dit gou.” Lukas verdwyn vinnig in die gang af.

“Lukas is ’n dokter, hy sal gou vir jou kan help. Ou man, hoor by Lizzie of ons so oor ’n halfuur kan eet.”

“Mevrou, moenie moeite doen nie, ek kan self … ”

“Ag, sê maar sommer tannie, hartjie, ons is nie op titels gesteld nie,” sê die ouer vrou terwyl sy Kalinda se hande bekyk. “Ai, my kind. Wat op aarde het gebeur dat jy so geval het? Jy het sleg seergekry.”

“Ek is self nie baie seker nie –”

“Hallo, hallo, wat het ons hier?” onderbreek ’n manstem hulle en Kalinda kyk op.

Sy dink eers dis Lukas, maar toe ysblou oë op haar beland, besef sy dis iemand anders. Heeltemal anders. Dis asof die hele vertrek ineens vol elektrisiteit is. Polsende energie straal uit die man. Haar lugpyp trek toe. Soos Lukas, is hy groot. En aantreklik. Onmoontlik aantreklik. Soos Lukas, het hy swart hare en ruie wenkbroue, maar hy het ’n ongeskeerde gesig en uitgebeitelde wangbene.

Haar reaksie op hom is egter totaal anders. Waar sy vir Lukas kon glimlag, weier haar mondhoeke nou om saam te werk. Haar tong is skielik te groot in haar mond, haar bene is bewerig, en sy is baie bly dat sy sit. Sy kyk vinnig af na haar hand en probeer om normaal asem te haal. Maar dis asof haar hele liggaam skielik nie weet hoe om te funksioneer nie.

“Zach!” roep sy ma bly uit. “Ek het nie geweet jy’s terug nie.” Sy staan op en omhels hom innig. Dan vou sy haar hande om sy gesig. “Wat is fout?” vra sy en frons. “Julle sou mos eers teen die einde van die maand hier gewees het? Hoekom is jy so bleek? Was dit jou asma?”

Hy lag en vou haar hande in syne toe. “Ontspan, daar is nie fout nie. Ek is bleek want ek kom van Antarktika af.” Hy beduie na Kalinda. “Wie’s hierdie mooi girl en wat makeer haar hande?” vra hy en hurk voor haar.

Kalinda hou haar oë op haar hand. ’n Diep muskusreuk omgeef haar.

Die tante kom sit weer langs haar. “Dis juffrou Heyns –”

“Kalinda, my naam is Kalinda,” prewel sy vinnig.

“Goed, Kalinda. Sy’s van Kanada en het vir ’n week by ons plek bespreek. Ek het haar eers môre verwag, maar toe kry ons haar langs die pad. Op haar hande en knieë. Sy moet ons nog vertel wat gebeur het,” terg tant Madaleen goedig.

Zach neem Kalinda se hand in syne en draai dit sodat haar palm na bo is. Toe hy aan haar raak, raak haar asem weg. Sy kyk op na hom. Sy oë is op haar en hy frons.

“Ek was verlede jaar in Kanada,” sê hy en kyk weer na haar hand.

“Hierso,” hoor Kalinda verlig Lukas se stem en trek vinnig haar hand uit Zach s’n.

Zach staan op en Lukas kom hurk langs haar.

“Vertel ons wat gebeur het, Kalinda wat van Kanada af kom maar Afrikaans praat,” vra Zach.

“Ek … ” begin sy, maar besef meteens dat sy nou ’n bietjie ruimte nodig het. Sy voel totaal oorweldig deur wat met haar gebeur het, deur die vriendelike oom en tannie en deur die groot man voor haar se blote teenwoordigheid. Sy staan vinnig op.

“Ek gaan eers badkamer toe,” probeer sy ferm sê, maar selfs sy kan hoor dat haar stemmetjie maar bewerig is. “As jy vir my die salf gee, sal ek dit sommer self op die skrape sit, dankie.”

Lukas kyk haar geamuseerd aan terwyl hy opstaan. “Nou maar goed,” sê hy en oorhandig twee items. “Maak dit skoon en sit hierdie salf op.”

“Kom, hartjie, ek wys jou waar die badkamer is,” sê tant Madaleen en stap voor haar uit.

Haar hande en knieë voel beter en sy dink sy het nou haar senuwees en emosies min of meer onder beheer. Sy het groot geskrik vir haar eie bleek gesig in die spieël en is dankbaar dat sy haar hare kon kam en haar grimering bietjie kon opknap.

Toe sy by die eetkamerdeur instap, wink die tante haar nader. “Daar’s jy, kom sit hier langs my. Jy sal ook weer mens voel as jy eers bietjie kos inhet.”

Sy stap nader en steek haar hand uit om die stoel uit te trek, maar ’n groot, warm manshand vou bo-oor hare. Vinnig ruk sy haar hand weg en staan weg terwyl Zach vir haar die stoel onder die tafel uittrek.

“Dankie,” prewel sy en gaan sit.

“Ons vat hande,” sê die oom, en die tannie sit haar hand bo-oor Kalinda se arm.

Kalinda maak haar oë toe. ’n Warm hand vou lig om haar ander arm. Sy hou op asemhaal en roer nie. Die tafelgebed is kort maar opreg. Wanneer laas het sy voor ete gedank?

“Kan ek vir jou van die skaapboud inskep, hartjie?” vra die tannie.

Zach lig sy hand en Kalinda blaas haar asem uit. Sy probeer die tinteling wat nog holderstebolder onder haar vel beweeg, ignoreer. “Skaapboud? Regtig? Ek kan nie dink wanneer laas ek dít geëet het nie. Die Kanadese vleis smaak mos nie dieselfde nie. Dankie, ja.”

“ ’n Bietjie wyn inskink?” vra Lukas.

Sy knik en hy vat haar glas. “Vertel ons, wat maak ’n boeremeisie soos jy so ver in die vreemde?”

“Ek werk vir ’n Anglo-Boereoorlogstigting.”

“In Kanada?” vra die oom verbaas.

“Ja, ek weet nie of dit algemene kennis is nie, maar ’n groep Kanadese soldate is destyds gestuur om die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog te help – die Royal Canadian Regiment of Infantry. Die eerste duisend troepe het in Oktober 1899 van Quebec af gevaar, en oor die volgende twee-en-’n-halwe jaar nog oor die seweduisend jong soldate en verpleegsters.”

“Ons weet nogal van die verpleegsters. Ma, is dit dan nie een van hulle –?”

“Laat Kalinda klaar praat, Lukas,” val sy ma hom in die rede. “Ekskuus, hartjie, jy kan maar aangaan. Verskoon die seunskinders, hulle het nie altyd maniere nie.”

Kalinda glimlag en sien uit die hoek van haar oog hoe die oom sy kop skud vir Lukas.

“Daar was Kanadese troepe by die Slag van Paardeberg. Op die Sondag van 18 Februarie 1900 –”

“Bloody Sunday,” sê die oom en Kalinda knik.

“Ja, dit is soos daarna verwys word. Dis die dag waarop die Engelse die meeste soldate verloor het. Een-en-twintig Kanadese is ook op daardie dag dood. Daar is afstammelinge van die soldate wat hier gesterf het wat voel die Kanadese regering moet meer doen om die grafte van hulle gestorwenes te bewaar, en dat meer oor die Kana­dese betrokkenheid by die oorlog sigbaar behoort te wees in museums, ensovoorts. Dis hoekom ek hier is. Ek wil onder meer gaan vasstel wat in die museum by Paardeberg is en of daar enige gedenkstene is en in watter toestand dit is.”

Lukas loer oor sy wynglas na haar toe. “Museum? Jy weet dis net so ’n verlate rooidakgeboutjie op ’n lap rooi grond?”

“Ek het foto’s daarvan gesien en ek het ’n idee van hoe dit lyk. Dis juis deel van my opdrag. Ek wil vasstel wat gedoen kan word om dit te verbeter, en ek wil ook seker maak die Kanadese soldate wat hier oorlede is, word op die een of ander manier vereer. Die hoof van die museum in Bloemfontein het ook laat weet dat daar onlangs bokse met briewe, dokumente en so aan by die museum hier op Paardeberg afgelaai is. Blykbaar deur kleinkinders van mense wat onlangs op ’n plaas hier naby oorlede is. Hulle het dit op die solder gekry.”

Zach sit sy mes en vurk neer. “Laat ek nou sien of ek jou reg verstaan. Jy’s Afrikaans, maar jy werk in Kanada. Vir die Kanadese. Om hulle kant van die Anglo-Boereoorlog te vertel?”

Kalinda lig haar ken. “Nee, ek wil seker maak dat almal wat hulle lewens verloor het, ook die Kanadese, op die een of ander manier onthou word,” sê sy en vat ’n sluk van haar wyn.

“Skei uit, Zach, los die kind nou uit sodat sy kan eet. Moenie vir jou aan hom steur nie, hartjie. Dié kind van ons werk mos nie eintlik nie – hy speel letterlik heeldag en soek gedurig skoor.”

Lukas klap vir Zach op die blad. “Ja, ek het gedink ons sien jou eers einde Februarie. Hoekom is jy al terug? Waarmee gaan jy jou nou besig hou?” vra hy laggend.

Zach kyk af na sy bord kos. “Wel, ek het toe nie heeltemal klaargemaak nie, en ek het besluit om eers plaas toe te kom. Dis al. Nou het ek genoeg tyd om voor te berei vir die Siberiese Swartys-resies wat middel Maart begin.”

“Wat?” sê sy ma en haar vurk stop halfpad na haar mond toe. Sy laat sak haar hand. “Zach, skat, wanneer is dit nou genoeg?”

Hy glimlag en lig sy glas in die lug.

“Dié kind,” begin sy ma en wys na Zach, “maak te veel geld, nogal met rekenaarspeletjies. Bid jou aan. Sit en dink speletjies uit waaroor die hele wêreld mal raak. En wanneer hy nie daarmee besig is nie, kyk hy hoe hy die noodlot kan tart.” Haar woorde is tergend, maar die glimlag op haar gesig straal haar trots uit.

“Waar was jy?” vra Kalinda.

“In Antarktika. Dit was die viering van Scott en Amundsen se epiese resies presies honderd jaar gelede. Ons het in Januarie verlede jaar begin oefen in Noorweë en die resies het middel Desember begin.”

Lukas skud sy kop. “ ’n Afstand van eenduisend sewe­honderd vier-en-veertig kilometer.” Hy kyk na Zach. “Ek het nie besef jy’t nie klaargemaak nie. Wat het gebeur?”

“Ons … ek het probleme ondervind en ek het besluit om liewer uit te klim en nie die ander terug te hou nie. Ek sal vir jou sê, dis fo– … uhm, skies, Ma, vrek koud. Ek dink nie ek het in my lewe al so koud gekry nie. Gee mens nuwe respek vir die ouens wat dit ’n eeu gelede probeer doen het. Hulle het nie die toerusting gehad wat ons deesdae het nie. Dit is net onmenslik koud.”

“Hoekom?” vra Kalinda.

“Hoekom wat?”

“Hoekom wil jy so iets doen? Is dit nie verskriklik gevaarlik nie?”

Lukas lag. “Dis die hele punt, sien. Hy doen dit want hy kan. Juis omdat dit gevaarlik is.”

Zach antwoord nie, glimlag en eet rustig voort.

Kalinda sit haar mes en vurk neer. “Laat ek nou sien of ek reg verstaan. Jy neem deel aan ’n resies in die koudste plek op aarde, stel jou lewe in gevaar. Sommer net?”

Die oom lag. “Soos hulle in tennis sê: game, set and match, Zach. Hierdie meisiekind is te slim vir jou.”

“Hy ontwerp darem gewoonlik nog ’n speletjie of twee ná so ’n trippie,” sê Lukas en lig sy glas vir sy broer.

Kalinda eet verder, maar sy is intens bewus van Zach se oë wat nou op haar gerig is.

“Vertel ons hoe jy op jou hande en knieë langs die pad beland het?” vra hy. “Ek het al gevra, maar jy het nog nie geantwoord nie.”

Sy kyk vinnig op, maar hy kou rustig sy kos, lyk heel onskuldig.

“Ek weet nie regtig nie. Ek dink ek moet amper aan die slaap geraak het.”

“Dit verduidelik nog nie hoekom jy hande-viervoet op die teer was nie,” hou hy aan.

“Zach, dis nou genoeg. Sy’s moeg. Hartjie, wil jy nog iets eet?” vra die tannie.

“Nee dankie, tannie. As dit nie te veel moeite is nie, wil ek graag maar na my rondawel toe gaan.”

Zach staan dadelik op. “Ek sal –”

“Ek sal haar neem,” sê sy ma ferm en staan op. “Jy sal net verder met die arme kind sukkel. Kom, Kalinda, jy is seker stokflou. Die oom het al jou motor omgetrek soontoe en jou tas uitgelaai, ons stap sommer oor, dis net ’n paar treë.”

“Oulike meisiekind,” sê die oom toe sy vrou en die nuwe­ling wegstap. Zach kyk hulle agterna.

“Baie, baie, baie mooi bene,” mymer Lukas, en Zach draai net betyds sy kop om te sien hoe Lukas amper kwylend die meisiekind agternakyk.

Zach kyk verbaas en half geïrriteerd na sy broer. “Ja? En van wanneer af sien jy weer vroumense se bene raak? Het jy nie girls vir ewig en altyd afgesweer ná … wat was haar naam nou weer?”

Lukas se glimlag verdwyn. “Cecile.”

“Ek onthou vir haar. So ’n blonde enetjie wat jy hier aangebring het,” sê sy pa. “Ek het gehou van haar. Wat het nou weer gebeur? Hier kom so baie meisiekinders kuier, ek kan nie tred hou nie.”

Lukas wys met sy vinger na Zach. “Zach is die een wat die lang stringe girls het, Pa, die een met die drie-dates-en-dis-verby-reël. Vir my was daar Cecile. En toe is sy weg en wat ook al tussen ons was, is verby. Dis dit.”

Zach voel soos ’n luis. Hy onthou hoe teen die grond sy broer destyds was. “Lukas, ek is jammer. Ek –”

“Dis orraait. Ek sal dit maak.” Lukas kyk op en sy oë vonkel weer. “Maar dit beteken nie ek kan nie ’n mooi been raaksien nie.”

Zach tel sy glas op en glimlag. Hy gaan hom nie laat uitlok nie. Hy weet presies hoe mooi haar bene is. Dat sy broer dit ook raaksien, daarvan hou hy nie baie nie. En hy weet nie regtig hoekom dit hom pla nie.

Vroumense hou van altyd af vir hom ’n bekoring in. Hy hou van hulle. Hy verstaan hulle nie altyd nie, maar hy hou van hulle. ’n Slanke nek, ’n mooi been, ’n wilgerlatlyf, ’n ronder lyf, dit maak nie saak nie. Hy word elke keer betower. Hy kan hom verkyk aan die manier waarop ’n ken gelig word, hare oor ’n skouer gegooi word, wimpers teen ’n sagte wang fladder. Hulle ruik lekker, hulle voel lekker, hulle soen lekker, en ja, hulle vry lekker. Watter volbloed man kan ’n vrou weerstaan?

Hel, hy hou van vroumense. Van baie vroumense. Daarom die “reël”, soos Lukas daarna verwys. Dis nie asof hy dit so beplan wanneer hy ’n meisie begin uitneem nie. Dis net, ná drie dates is hy gewoonlik gereed om aan te beweeg. Is die opwinding weg, is hy … wel, verveeld. Hy het lankal besluit dat die Westerse idee van ewige trou belowe aan een persoon heeltemal belaglik en onuitvoerbaar is. Hoekom jou aan een girl vasmaak as daar so baie mooi, sexy meisies rondloop?

Die enetjie van oor die waters interesseer hom. Sy’s mooi, vrek mooi. Maar hy hou nie van die hol kol wat hy skielik op sy maag gekry het toe hy haar sien nie. En die vuishou van begeerte wat direk daarop gevolg het, het hom heeltemal onkant betrap. En toe moes hy net aan haar vat en toe is sy mond droog, sy hande dom.

Hy kan nie onthou dat hy al ooit so op ’n vrou gereageer het nie. Hy wat gewoonlik so gladdebek is, het glad nie geweet wat om te sê nie. Dalk was hy te lank weg uit die beskawing. Of die longontsteking wat hy in Antarktika opgedoen het, het hom meer aangetas as wat hy gedink het.

En genadiglik is sy nie lank hier nie. Wat kan nou in tien dae gebeur? Hy moet hom maar skaars hou. Buiten­dien, hy moet eintlik by sy blyplek in Clifton uitkom. Hy het reëlings wat hy moet tref en die Kaapse naglewe roep hom.

Die rondawel is ruim en luuks toegerus. Kalinda kyk vinnig in die sitkamergedeelte rond. “Alles is so keurig gedoen, tannie. Ek gaan lekker bly.”

“Dankie, kind. Ek hou van mooi goed en geniet dit om gereeld die plekke oor te doen. Tot die oom se frustrasie, natuurlik. Is jy seker jy het nie nog iets nodig nie?” Sy stap na die voordeur.

“Nee, baie dankie. Ek dink ek sal soos ’n klip slaap vanaand. Ek kan nou voel hoe moeg ek is.”

By die deur draai die tannie om. “Ek wil nog weet wat regtig vandag daar op die pad gebeur het, maar jy’s moeg. Môre is nog ’n dag.”

Kalinda haal een skouer op en glimlag effens. Die mense sal dink sy is heeltemal van haar trollie af. “Ek moet aan die slaap geraak het, ek weet nie eintlik nie.”

“Jy is moeg. Gaan bad lekker. Ontbyt is van so agtuur af. Ons kan dan verder gesels. En as ek reg onthou, gaan jy aandetes ook by ons neem … ”

“Ja dankie, tannie. Ek sal oor die middaguur heel waar­skynlik iewers anders wees, maar ek behoort teen die aand terug te wees vir ete. Indien ek te laat is, maak dit nie saak nie, ek sal –”

“Dan sal ek vir jou uitskep en die bord hier kom los. Ons maak gewoonlik maar so. Nou toe, lekker slaap.”

“Weet jy hoe frustreer jy my!” skree Neil en gryp die stuk chilli-pizza uit die boks.

Hy gryp haar agter die kop vas en druk die stuk pizza in haar mond. “Toe, eet! Jy’t dit mos gekoop, so vreet dit op!” skree hy in haar oor en hy druk die stuk pizza nog dieper in haar mond in.

Sy probeer sluk teen die trane en wil naar word van die skerp smaak. Ja, sy het die pizza gekoop, omdat hy van baie sterk kos hou – sy kan dit glad nie eet nie en hy weet dit. Sy’t gedink sy doen ’n slag die regte ding.

“Lekker, nè? Jy’s so useless, jy kan nie eens ’n pizza koop nie,” pers hy tussen sy lippe deur.

Sy stik en hy stamp haar van die stoel af. Voordat sy kan opstaan, het hy haar weer agter die kop beet en smeer hy die pizza oor haar gesig.

En heeltyd skel hy, vloek hy haar totdat die trane agter in haar keel stol en die wanhopige kreet in haar binneste vries.

Met ’n snik skrik Kalinda wakker en sit regop in haar bed. Sy sit vinnig die bedliggie aan. Diep asemteug in, en uit. Sy probeer haar asemhaling reguleer. Neil is nie hier nie, hy kan haar nie weer seermaak nie, sy is geskei van hom. Twee jaar lank al. Sy raak rustiger.

Sy lag op ’n halwe snik. Dis die eerste keer in ’n baie lang tyd dat sy weer ’n nagmerrie het oor daardie ver­skriklike twee jaar in haar lewe. Aan die begin was sy dae lank ontsteld ná so ’n nagmerrie. Maar sy het nie kans gesien vir sit en derms uitryg by ’n sielkundige nie en het die aakligheid eenvoudig met ’n ysere wil uit haar kop probeer sit. As sy nie daaraan dink nie, kan dit haar nie hinder nie, was haar motto.

Geleidelik het die nagmerries minder en minder geword, totdat sy weer rustig kon slaap. Die blondekopman wat sy gesien het, het haar seker weer aan daardie tyd laat dink. Dis hoekom sy nou weer ’n nagmerrie gekry het.

Suurlemoene. Sy ruik suurlemoene. Soos wat sy vroeër in haar motor geruik het. Kalinda lig haar kop. ’n Lamheid sak oor haar. En dis nou skielik koud. Yskoud. Sy vat-vat met dom vingers aan die kombers en trek dit op tot teen haar ken. En dan sien sy haar. By die venster. Die vrou wat sy vroeër opgelaai het. Haar oë swem in trane en haar vingers draai die wit kantsakdoekie om en om.

Skrik laat stol Kalinda se bloed. Haar asem, wat rukkerig oor haar lippe spoel, maak wit wolkies voor haar gesig. Sy sit doodstil en haal amper nie asem nie. Sy knyp haarself. Jip, sy’s wakker. Wat beteken sy het nie vanmiddag aan die slaap geraak agter die stuurwiel nie.

Sy knip haar oë en toe sy hulle weer opmaak, is die vrou weg. Vir ’n paar sekondes sit sy asof gevries, maar dan spring sy uit die bed en hardloop na die venster. Haar oë gly soekend oor die maanverligte vlakte. Maar sy sien geen beweging nie. Dis net baie, baie stil.

Iets kouds gly langs haar ruggraat af en sy ruk om. Die bedliggie verlig die hele kamer. Daar is niks vreemds agter haar nie. Sy stap stadig bed toe en klim in. Dit moet haar verbeelding wees, sy is seker maar oormoeg, en oorstuur ná die nagmerrie. Sy skuif stadig teen die kussings af terwyl haar oë weer na die venster toe gly. Dié keer gewaar sy niks nie.

Kalinda kyk op haar horlosie. Dis tien minute oor twee. Die nag is nog lank. Sy sal nog ’n rukkie so lê en dan maar begin werk. Maar die bedliggie bly aan, dis vir seker.

Haar oë val toe. Iets omtrent die vrou pla haar.

Tydlose liefde

Подняться наверх