Читать книгу Boom bomer boomste - Elsabe Steenberg - Страница 3
Een 1
ОглавлениеEn nou is Oupa siek.
“Kan ek die brief lees, asseblief?” vra Philla.
“Jou ma het mos nou vir jou gesê wat daarin staan,” keer Ouma.
“Maar ek wil dit self lees.”
“Jý wil! Jy wil alles net omdat en hoe jý dit wil!” Ouma word al weer kwaad. “Jy loop van die skool af weg oor jy sommer net nie lus was vir geskiedenis vandag nie; jy’t weer ’n stuk tou om jou rok gebind pleks van ’n ordentlike gordel; en nou wil jy self opsluit ’n brief lees wat nie vir jou bedoel is nie!”
“Mamma?” Sy ignoreer Ouma en hou haar hand uit.
En Ma gee die brief, met ’n verskonende blik na Ouma. Matrone Swiegers van die hospitaal op die bergdorpie Makierie het dit gestuur. Die bejaarde meneer Rossouw, skryf sy met netjiese letters, is in die hospitaal opgeneem ná ’n ernstige aanval van kroonslagaartrombose. Kinders het hom bewusteloos in die bos aangetref – niemand weet natuurlik hoe lank hy onversorg en blootgestel daar gelê het nie, dis ’n wonder dat hy hoegenaamd nog leef. Nou is hy in ’n private kamer in die hospitaal, maar hy maak nie goeie vordering nie, hoofsaaklik omdat hy steeds pogings aanwend om op te staan en weier om die nodige pille en inspuitings te ontvang. As hy nie tot rus kom en hom onderwerp aan die noodsaaklike behandeling nie, kan hy nog ’n week of twee lewe, nie meer nie.
“Ons moet gaan, Ma,” sê Philla gejaagd. “As jy vir Pa laat weet om dadelik ’n bus in die stad te haal terug huis toe, kan ons oor ’n uur of twee ry. Dan is ons vanaand daar.”
Ma kyk na Ouma. Die ou vrou sit groot en bitter op haar stoel. “Ons gaan nie,” sê sy heeltemal beslis. “Dis sy eie skuld dat hy nou daar lê, nes dit sy skuld is dat ek hom gelos het toe ek die ellende nie meer kon uithou nie. Ek het vir hom gesê, daardie dag toe ek ingepak het, dat ek nooit sal terugkom nie. Moet ek nou kruip net omdat hy siek is? Hmf.”
“Dan hoef jy nie te gaan nie.” Philla is al op pad telefoon toe. “Ek gaan Pa bel. Hy is tog Oupa se seun, hy het die reg om te weet …”
“Hy is mý seun!” sê Ouma skerp. “Wat het hy ooit aan sy pa gehad? Daardie leegloper wat nooit in sy lewe ’n ordentlike dag se werk gedoen het nie, wat nie omgegee het dat sy vrou in ’n rokwinkel moet swoeg om hom en sy kind te onderhou nie … Moet ons nou na sy bed toe hardloop asof óns verleë is?”
Philla pluk die knippies uit haar hare. Sy bewe, maar sy weet dat woede nie sal help nie – nie teen Ouma nie. “Hy’t stories geskryf, Ouma,” sê sy so kalm moontlik. “Hoe kon Oupa nou ’n gewone soort werk doen? Hy was nooit gewoon nie.”
“Hmf. Nes jy,” bits Ouma. “Kamma so anderster. Jy word g’n so gebore nie; jy hóú jou anderster net om ordentlike mense te verpes.”
“Hy moes deur sy bos loop.” Sy sien dit voor haar: die raasblaar- en silwerpopuliere waarmee Oupa se oupa ’n bos gemaak het, seker tagtig jaar gelede; en die hoë Chileense populiere en byna ewe hoë seders wat Oupa se ma ’n kwarteeu later om die rand van die bos laat aanplant het. En toe dit Oupa se beurt was, het hy nog ’n paar ander soorte bome ook langs die houthuisie daar in die middel van sy bos, naby die spruit, geplant: ’n witstinkhout om wag te hou oor die lendelam kleinhuisie wat ’n entjie van die houthuis af staan gemaak is, ’n paar ouhoute en ’n appelkoos wat nooit dra nie (maar sy blare!) en twee appels wat wél dra, en ’n den. En daar is die wattelboom wat sommer self opgeskiet het; hoog van tak en slap van stam ’n jaar gelede al, met kokkewiete wat alte graag in die top sit en sing.
“Hy moes stories skryf,” sê Ma ook, maar onseker.
“Sy ou storietjies,” sê Ouma minagtend. “Hekse, bid jou aan, in die tyd waarin ons lewe, en dwergies! ’n Grootmens wat hom met sulke stuitighede ophou!”
“Dis nie dwergies nie, dis robyne.” Vinnig skakel Philla die bank in die stad. Omdat hy hoof is van die rekenaarafdeling, het Pa sy eie uitbreidingsnommer; gelukkig is hy in sy kantoor.
“Pa.” Skielik moet sy sluk, omdat die woorde in die matrone se brief dieper tot haar deurdring. “Oupa is siek. As Pa vroeër kan terugkom …”
Ouma gryp die gehoorstuk uit haar hand. “Dis onnodig, Thomas. Baie mans kry hartaanvalle sonder om daarvan dood te gaan, en buitendien gaan ons nié, hy kan nie verwag dat ons aangehardloop kom nadat hy my so … Hoe het hy my nie verneder nie!”
Pa antwoord iets.
“Hy was nooit vir jou ’n pa nie,” sê Ouma. En dan: “Goed, goed, ons kan uitvind. Dis in elk geval nie nodig dat jy vroeër terugkom nie. Tot siens.”
Met haar rug nog gedraai bel sy Makierie se sentrale en vra om deurgeskakel te word na die hospitaal. Die gesprek met ’n suster duur nie lank nie. “Hy’s bietjie beter,” sê sy kortaf toe sy aflui. “Nie buite gevaar nie, maar hulle sal laat weet as ons moet kom.”
“Ek dog Ouma wil nie gaan nie?”
“Net as hy nou regtig aan sy einde is: dan wil ek wél gaan.” Ouma tik met haar mes teen die tafel en voel dan of haar bolla nog netjies is. “Ek wil hom één keer mooi van voor tot agter vertel wat hy my alles laat deurmaak het. Dis of hy dit nie weet nie. Vyf-en-veertig jaar saam, en toe ek my goed pak en hom los, het hy nie eens probeer keer nie. Nooit ’n brief nie. Net vir Philla skryf hy om van sy storietjies te vertel; vir mý nooit. Gee nie ’n flenter om nie!”
Ma bring vleis, groenboontjies en ander kos. Vandat Ouma hier woon, kook sy vir middagete, al kom Ma laat eers van die uitgewery af waar sy soggens werk, en al moet Pa se bord tot die aand gebêre word. “Hy’t darem die geld net so aangestuur, tot die laaste sent, toe julle huis verkoop is,” sê Ma.
“Wie’t gesê hy moet ons huis verkoop? Wie’t hom gevra om in daardie krot in die bos te gaan bly asof hy niks beters gewoond is nie? Skep in en eet,” sê sy vir Philla. “Ons moet Helet se kos maar bêre saam met jou pa s’n.”
“Nee.” Sy glip yskas toe, kry twee appels en ’n groot stuk kaas en vlug weg van Ouma se stem: deur die woonkamer, die gang in na haar eie kamer. Sy het ’n manier ontdek om die slot van die binnekant af te wikkel sodat niemand die deur kan oopkry nie behalwe Pa met ’n skroewedraaier, en dis nog lank voordat Pa kom.
Mintig. Verslae kyk sy na die kamer, wat skemerig is met toegetrekte gordyne. Oral staan snuisterye, tot bo-op die gordynkap. Dit ruik na boegoe en lyfpoeier. Hoe kon sy vergeet het dat dit nou Ouma se kamer is – dis al soveel maande dat Ouma hier bly! Gelukkig het sy haar skooltas saamgebring. Sy kry papier en potlood en begin teken. Met die robyne kom sy die laaste jaar of twee al goed reg: klein ronde mannetjies waarvan Oupa skryf, met waaiende hare en vrolike okkerneutronde neuse. Glansrooi is hulle, hier en daar deurskynend, maar sy gebruik nie kleure as sy teken nie, net potlood.
Die hekse is moeiliker. As sy die dag vir Kgatala regkry, die hoofheks met haar knopvoete en dun geel bene, sal Oupa haar toelaat om sy boeke te illustreer. Later, met herdrukke, kan sy vir die vroeëre boeke ook tekeninge maak. Maar om die hekse reg te kry sodat jy die boosheid uit hulle kan sien straal – nie net vir Kgatala nie maar ook die ander kgatas wat van die moederheks afstam. Sy verstaan die robyne en die kgatas wat in Oupa se bos woon: sy’t met hulle grootgeword. Miskien is sy dáárom soos Oupa, omdat sy so baie by hom was toe sy klein was, in sy bos waar die voëls altyd sing en waar sy hande beduie en met haar hare speel. O, Oupa het wonderlike hande. In sy vingers lewe stories waaroor kinders dol is, en ritme wat hy uit die boomstamme tokkel.
Saggies begin sy fluit, soos Oupa haar geleer het toe sy nog skaars kon praat. So dikwels was sy by Oupa; kort-kort het hy haar kom haal en met haar koers gekry na sy bos. Ouma was kwaad, natuurlik. Hulle het haar in die mooi huis op die dorp laat staan en bos toe gegaan en snags in die houthuis geslaap. Sy het gehoor hoe hy met die bome praat, of met God. “Dis maar eigelik dieselfde,” het hy gesê. “God het bome gemaak as die kroon van alle natuurdinge; Hy woon in bome. As ek met die bome praat, praat ek heeltyd met Homself ook. Hy is die Boomste Wese, g’n skepsel kan sonder Hom klaarkom nie.”
“En jy is die boomste oupa,” sê Philla saggies, en hoor Helet by die deur.
“Wat soek jy daar binne?” fluister dié dringend.
“Vergeet dis nou Ouma se kamer.”
“Kan jy nie by die venster uitkom nie?”
“Ek kan, maar as ek nou uitklouter, weet almal dis wat ek altyd doen. Ek sal maar eers bly. Laat Ouma in ons kamer slaap, dan werk jy in Jimmie se kamer tot Pa my kom uithaal.”
“Dis nie ék wat omgee nie.” Sy bly ’n rukkie stil en vra toe: “Hoekom moes jy weer vanmôre na die hoof toe gaan?”
“Niks ernstigs nie. Die Afrikaans-juffrou het gesê ons móét die nuwe voorgeskrewe boek wat sy uitgedeel het, met bruinpapier oortrek. Toe vat ek groenes.”
Helet lag gedemp. “Sy sal jou nog leer ken. Tensy jy jou van haar laat tem.”
“En wat soek jy in my kamer?” Ouma. “Sal jy so vriendelik wees om onmiddellik uit te kom? En jou kos te kom eet?”
“Die deur het vasgehaak,” hoor sy Helet verduidelik. “Kom slaap Ouma maar bietjie in ons kamer, dan …”
“Maar hoekom het sy die deur laat vashaak? Hoekom moet sy áltyd dinge doen om ander mense se lewens te versuur?! Dis tog nie nodig om ewig dwars te wees nie! Wag maar, juffroutjie, as jy hier uitkom, sal ons ’n sakie met mekaar te prate hê.”
“Ag, los haar tog maar, Ouma. Mense is nie eenders nie.”
Net Helet sal dit waag om só met Ouma te praat. Ouma hou van Helet.
“Sy’s moedswillig, dis wat sy is. Niemand het die reg om soveel sonde en ergernis te veroorsaak nie, en dit net omdat hulle kastig nie eenders is nie. Waarvoor is daar ’n beskawing met wette as almal dit nie wil gehoorsaam nie? Hoekom moet die wetsgehoorsames ly omdat mense soos sý weier om aan te pas?”
Sy is nie beskaaf nie. Sy is nie wetsgehoorsaam nie. Skielik voel sy bedruk. Al probeer Ma en Helet vir haar skerm, is daar soveel onplesierigheid in die huis vandat Ouma hier bly. Vroeër het dinge weliswaar ook nie juis glad verloop nie. Sy het nooit gehóú van dinge wat glad verloop nie – elke dag dieselfde. Maar moet sy nie probeer aanpas nie? Is sy anders omdat sy anders gebore is, of net uit rebelsheid en omdat Oupa daar groot waarde aan heg dat sy is soos sy is?
“Eendag loop die dogtertjie Gouelokkies alleen deur die bos. Sy sien ’n huisie, en sy besluit om in te gaan. Op die tafel staan drie borde pap reg. Gouelokkies proe aan die pap in die grootste bord, maar dis te warm. Daarna proe sy aan die pap in die middelslagbord, maar dis te koud. Toe proe sy aan die pap in die kleinste bordjie, en dis so lekker dat sy alles opeet!”
“En toe, Oupa, en toe?” Diep vroetel sy haar in sy arms in.
“Jy weet mos wat toe,” pla hy.
“Ja, van die seuntjie-beer se stoel wat lekker gesit het maar toe breek dit, en die beddens in die boonste kamer. Maar vertel hoe sy geslaap het.”
Oupa lag sy lekker hug-hug-laggie. “Toe slaap sy in die kleinste bedjie, en skielik is daar stemme. ’n Seuntjie-beer se stem wat huil oor sy in sý bed lê en slaap. ’n Pa-beer wat raas omdat sy nie hier hoort nie en dadelik moet maak dat sy wegkom. En dan die ma-beer se stem … so ’n vreeslike kwaai stem! Die kwaai stem skree in haar ore dat ’n méns nie in ’n béér se bed mag slaap nie. ‘Uit,’ skree die kwaai stem – die bose stem, die brulstem – ‘uit, uit!’ ”
“’n Kwaai stem soos … net so kwaai soos …”
“Sjuut, kind, wees stil. Toe spring Gouelokkies sommer baie haastig op en hardloop weg. Sy is so deur die slaap dat sy nie weet hoe om onder te kom nie, toe spring sy sommer by die venster uit. Gelukkig was daar gras onder die venster, anders kon sy haar arm of haar been gebreek het. Sy kry wel ’n kneus en twee stampplekke, maar sy spring dadelik op en hardloop die bos in. So ver sy hardloop, hoor sy daardie kwaai stem agter haar aan skree.”
Toe Ouma klaar gebrom het en in die kamer langsaan stil word, lig Philla die sif weg van die venster, maak die ruit oop en wriemel deur. Sy hardloop deur die strate van hulle voorstad. Hier en daar groet iemand of kyk kopskuddend na haar soos sy deur die herfsdag verder hardloop, maar dis nie meer vir hulle snaaks om haar te sien nie. Sy weet niemand sal Ma gaan bel soos toe sy kleiner was nie.
Dis lekker om so te hardloop – ’n boom-ding wat sy in die bos aangeleer het. Oupa sit in die huisie aan ’n robyneboek en skryf, en dan draf sy oor al die paadjies wat ribbokke en hase gemaak het. Hier op die teerstrate, verby netjiese huise, is dit nie so plesierig nie. Gelukkig is dit darem taamlik stil dié tyd van die middag.
Toe sy met baie ompaaie die bushalte bereik, het Pa al afgeklim – sy sien hom ’n blok verder stap. Hy aard nie na Oupa nie – Oupa sê Ouma het hom gepiep toe hy ’n kind was omdat die dogtertjie wat ’n jaar voor hom gebore is, net ’n week oud geword het, en toe is Ouma bang hy kom ook iets oor. Dis dan seker sy wat hom geleer het om sy hare so netjies agteroor te kam en met presiese treë te loop, asof hy nog besig is met syfers en nie dalk per ongeluk op hulle wil trap nie. Of is dit nie Ouma nie? Is hy maar net vanself so, net soos sý vanself ’n hekel het aan gewoon-wees, en soos Ma weer glo aan alles-beplan en eers-dink-voor-jy-doen? Dit maak haar deurmekaar.
“Dag, Pa.”
“O – hallo.” Hy wens seker dit was liewer Helet. “Weer iets van Oupa gehoor?”
“Dit gaan effens beter, maar ek wens ek … ons kon gaan. Kan ons nie maar nie, Pa?”
“Dit sal jou ouma ontstel.” Dit lyk of hy ’n breuk in sy kop uitwerk, of rente bereken; hy praat ’n ruk nie. “Maar as daar ’n verslegting is, sal ons dadelik ry. Ek belowe.”
“Moenie vir Ouma sê ek was buite nie,” vra sy gou. “Eintlik sit ek in haar kamer omdat die deur al weer nie wil oop nie. Jy moet my kom verlos.”
“Maar as die deur toe is …”
“Hy is. En ek sit daar binne en wag dat jy moet kom.” Sy hardloop voor hom uit, gaan klim deur die venster, plaas die sif versigtig terug en kry haar potlood. Terwyl sy aan Kgatala se krom neus werk, fluit sy saggies.
Toe Pa die deur oopwikkel met ’n skroewedraaier, staan Ouma in die gang agter hom en wag. “Ek hoop jy het minstens goed gevorder met jou skoolwerk,” sê sy.
“Wel … ek het nie skoolwerk …”
“Nie skoolwerk gedoen nie! Vergeet jy dat jy vanjaar in standerd sewe is? Hier is dit byna al die Aprilvakansie, en jy neem jou werk eenvoudig nie ernstig op nie! Waar dink jy moet dit eindig?”
Sy sê liewer niks. Swyend draai sy terug om haar skoene en sokkies te kry waar sy dit by die bed uitgeskop het. Ouma staan vir haar en wag; Pa het verdwyn.
“Jy moet jou baie vinnig begin gedra,” sê Ouma stil maar gevaarlik. “Ek het met jou ma gepraat, Philippa. As jy nie spoedig gereelder begin werk nie, gaan ek sorg dat jy gedwing word om ’n roetine te volg.”
Die voordeurklokkie lui. Sy glip by Ouma verby om te gaan oopmaak. Dis Lien Fouché, die meisie met wie Jimmie begin uitgaan het kort voor hy weg is leër toe, die meisie wat … Sy skud die wrokkigheid af, maar dit kom terug saam met die hartseer oor Jimmie wat so ver weg is.
“Ek wou net kom sê: ek het ’n brief van Jimmie gehad.”
Dan kry hy tyd om vir háár te skryf! Vir haar, natuurlik ja, maar nie huis toe nie! “Dis seker jou saak.”
Ma kom kyk. “Lien, my liewe kind! Kom binne! Hoe gaan dit? Moeilik om in matriek te wees?”
“Darem nie so erg nie, tannie.” Lien kyk vinnig na haar en praat dan weer met Ma. “Jimmie het laat weet dat hy hierdie naweek kan kom. Een van sy maats wat ook hier in die stad woon, se ouers laai hulle Vrydag in die Kaap op en ry deur hierheen. As julle net miskien ’n vliegtuigkaartjie kan reël vir Sondagmiddag of die nag. Hy moet eers Maandagoggend weer aanmeld.”
Ma se gesig word bewerig – en jonk, oor sy bly is. Ma se vel is lig maar sy het donker hare en oë nes Jimmie en Helet. Sý het grys oë soos Pa, “en jou hare is net jou eie, so met die rooi tint,” het Jimmie eenkeer gesê. Jimmie en sy was altyd maats, vandat sy kan onthou, tot hy die aand kom vertel het dat hy en Lien nou vas uitgaan.
“Dis wonderlik,” sê Ma. “Natuurlik sal ons vir ’n kaartjie sorg. Ai, Lien!” En skielik druk sy Lien teen haar; dis so vervelend dat Philla loop.
“Kom help my met aandete,” sê Helet. “Ons kan sommer eiers maak met gerasperde kaas by. Pa het tog sy middagkos, en Ouma lyk te ontsteld om veel te eet.”
“Oor my.”
“Miskien; maar oor Oupa ook.”
“Is jy getik? Sý’s nie oor Oupa gepla nie.”
Helet breek eiers in ’n bak en kry die klitser. “Dis wat jy dink. Sy hou nog van Oupa, man, en sy’s bekommerd omdat hy die hartaanval gehad het. Sy wil dit net nie wys nie.”
“Nou hoe weet jy dit? Het jy so ’n rasende insig in haar siel?”
Helet word nie maklik kwaad nie. Sy sal eendag ’n goeie juffrou wees. Dis een rede hoekom Ouma van haar hou: Ouma wou self graag ’n juffrou gewees het, en toe was daar nooit geld dat sy kon gaan leer nie. “Ek weet nie van insig nie,” sê Helet, “ek wéét maar net. As sy dink niemand sien haar nie, pieker sy oor Oupa. Vanmiddag toe ek stilletjies ’n boek in ons kamer wou gaan haal het, kry ek haar wawyd wakker op my bed – en sy slaap altyd smiddae as jy nie fluit of iets nie.”
“Hoekom gaan sy dan nie na hom toe nie?”
Ongeduldig gryp sy die bak met eiers. “Nee, goeie genugtig, gooi minstens bietjie paprika by, en ek sal gaan pietersielie soek om bo-op te sit. Kom ons rooster sommer die brood ook en sny dit in driehoeke en klein vierkante.”
“Ouma sal dalk nie …”
“Te dinges met Ouma! Sy … sy’s nes daardie Kgatala, alewig op die oorlogspad en bo-op ander se tone! Hoekom gaan sy nie terug na Oupa toe en kry klaar nie? Hoekom moet sy ons hier kom rondorder net omdat sy nie meer kans sien om by Oupa te bly nie?”
“Sjuut, hartjie,” sê Ma by die deur. “Ouma het deur die jare uitgehou en verduur, maar iewers het elke mens ’n grens. Die ding dat Oupa geweier het om ’n goeie bedrag geld te aanvaar sodat sy bos omgeskep kan word in ’n woonwapark en voëltuin … dis so mooi geleë …”
“Dis sý bos wat hy nog by sy oupa en sy ma geërf het!” sê Philla heftig. “Hoe kon hy dit loop verruil vir geld?”
“Die geld sou hulle in staat gestel het om ’n kommerlose oudag te hê, iets waarop Ouma gevoel het dat sy geregtig is.”
“Geld vir daardie bos!”
“Of anders kon hy ordentlik onderhandel het met die stadsraad. Om daar agter die bome te skuil met ’n haelgeweer, almal met dood en verwoesting te dreig …”
“Dis sý bos, Mamma! En die bome daarin is geplant nog voordat daar ’n dorp was. Die bos was éérste, geen simpele stadsraad het die reg om dit te probeer onteien nie!”
“Dae met die geweer op die loer asof die stadsraadslede boewe is.” Ma haal ’n pan uit en skakel die ketel aan. “Jy is ook darem al bietjie te groot om so blindelings te glo dat alles wat jou oupa doen, goed en reg is, Philla. Hy’s baie beslis geen heilige nie.”
“Ek weet hy is nie. Maar hy’s die boomste mens wat ek ken! Miskien voel ek soos ek voel oor hom omdat hy my help grootmaak het toe ek so stuitig was om net ’n jaar na Helet gebore te word.” Dadelik is sy spyt. Dis wel jammer dat sy so onbeplan aangekom het, en dit terwyl Ma alles altyd so sorgvuldig probeer reël, maar dis mos darem nie Ma se skuld nie. ’n Ontydige baba gebeur net, dis al. “’Skuus, Ma.”
“Maak klaar dat ons eet,” sê Ma net. “Het iemand gaan brood koop?”
Nou in die najaar word dit vroeër donker. Terwyl sy na die kafee by die winkelsentrum draf, kyk Philla na die bome wat begin verkleur. Die lus om ’n boom te teken, kom sit in haar vingers en dryf haar voete haastiger oor die sypaadjie. Toe sy terug is, help sy vinnig brood rooster en eet tussenin ’n sny of twee, gaps ’n lepelvol eier en laat vat kamer toe.
“Philla!”
Sy teken. Verder oos, in die nuwe voorstad, is baie doringbome. Sy onthou veral een wat ver vooroor gebuig staan, asof hy nuuskierig is oor elke motor wat onder hom verbysnor. Ver weg hoor sy hoe Helet vir Ouma in die gang voorkeer en oorreed om etenstafel toe te gaan en Philla vereers te los; ’n keer roep Ma taamlik dringend, maar later word dit stil. Toe sy klaar geteken het, haal sy die sif weg voor die venster en klouter buitentoe: sy moet weer daardie doringboom en sy makkers gaan groet. Helet sal wel sorg dat die ander nie uitvind sy’s weg nie.
Dis ’n uur se draf na die nuwe voorstad, maar sy word nie moeg nie. Toe sy oplaas tussen die onbeboude erwe kom, loop Philla stadiger om na die knoetsige silhoeëtte te kyk. Só ’n tekening moet sy ook maak – net vorms, die glimp van stamme, donker takke teen ’n ligter lug. Sy loop oor ’n erf wat nog kant en wal vol bome staan en gly oor die klippe. Soveel klippe! O, as hulle maar hier kon woon waar alles nog wild is; as sy haar eie kamer kon hê! Hier sal dit ’n klein bietjie soos Oupa se bos voel, die bos wat hy tog móés verdedig het teen mense wat dit vir eie gewin wil mak maak …
En nou is Oupa siek.
Ná ’n ruk maak sy haar traag los van die klippe en begin terugdraf. Hier staan reeds ’n hele blok woonstelle; daar anderkant bou hulle ’n skool. Mense is snaakse goed: wil ewig saamhok of ander dwing om saam te hok. Naby die pad wat na hulle voorstad deurloop, kry sy ’n dronk man op die sypaadjie.
“Giep.” Sy gaan sit langs hom. “Gaan jy nie huis toe nie?”
Hy kyk lank na haar voordat hy blykbaar onthou dat dit die meisiekind is wat partymaal met hom gesels. “Moenie my slaan nie,” sê hy soebatterig.
“Aag. Ek het jou net één keer ’n hou gegee.” Hy wou sy arm om haar sit, toe word sy vies en dop hom om met ’n karatehou. Van toe af is hy mak. “Jy’t weer vir Afrika gesuip.”
“Is nie getrek nie; net lekker. Lekker!” skree hy skielik. “Dink jy miskien ek kan dit help as ek voggies nodig het, hè? Dis nou maar soos ek is, sien: lief vir die lekker. Soos ek is, ja.”
“Is mens maar soos jy is?” vra sy ingedagte. “Of word jy soos jy is oor jy wíl wees soos jy is?”
Giep probeer lank om dit uit te sorteer. “Is maar,” sê hy eindelik vaag. “Is soos jy is soos jy is.”
Hulle bly daar sit totdat die maan opkom. “Het nie meer geld nie,” sê Giep treurig en sukkel orent. “Moet seker maar huis toe. Op die stoep slaap as die vrou nie wil oopsluit nie. Jy ook?”
“Ek is mos nie getrek nie; ek kan deur ’n venster klim.”
Op die deurlooppad is die verkeer druk, maar toe sy in ’n woonbuurt afgedraai het, kom daar net nou en dan ’n motor verby. Een hou stil en ry agteruit toe daar nie ander motors aankom nie. ’n Vrou roep: “Haai! Wat soek ’n meisietjie soos jy dié tyd van die nag buite?”
Daar was al vantevore moeilikheid as mense met wakker gewetes haar in die aand teëkom. Sy probeer dus nie verduidelik nie, maar nael ’n vreemde erf in en hurk agter ’n bos. ’n Motordeur klap; die vrou kom op ergerlike hoëhakskoene nader. Nou moet sy oor die heining klouter tot in die volgende erf, dan oor ’n draad na nog ’n huis en ’n kleinerige dwarsstraat. Sy moet haar roer. Netnou kom die polisie.
“Waarheen so haastig, kinta?”
Dis ’n ouerige tannie wat laataand met ’n hele tros kwaai honde gaan stap. Philla het haar al meermale teëgekom; sy streel oor die honde en hulle herken haar blykbaar ook en hou gou op met knor. “Hallo,” groet sy. “Dis lekker buite.”
“Daar kom ’n groot weemoed oor die wêreld in die herfs,” sê die tannie sugtend. “Kom hier, Hektor! Brandaan!”
“Hoekom is mense bang vir die donker?” vra Philla skielik. “Jy ook – sonder jou honde.”
“Gewoonte. Was jý nooit bang nie? Toe jy klein was?”
“Hoekom?”
“Ek weet nie. Mense is maar so.”
“My oupa het my snags wakker gemaak as ek by hom bly, dan vat hy my uit en wys vir my die sterre. Van toe af loop ek graag snags buite rond.”
“Dit kan tog gevaarlik wees, kinta – sonder honde. Daar’s altyd diewe en moordenaars, veral in ’n stad.”
“Nie as mens goeie oë en vinnige voete het nie. En ek kan myself verdedig.” Die tannie gaan by ’n straathoek staan en roep die honde. Philla sug. “Nou gaan jy ook weer terug huis toe.”
“Jy nie?”
“Miskien. Tot siens.”
Maar sy gaan nie huis toe nie; sy kry koers na ’n kwekery en wurm deur ’n spleet tussen die heining en die hek. Dis lank gelede dat sy hier was en die verruklike klein bonsai van mevrou Hagerer gesien het. ’n Klein seder nogal, die geurigste en trotsste boom-met-naalde wat daar bestaan – Dawid het dan al in die Bybel gaande geraak oor die seders van die Libanon! ’n Hond begin woedend blaf toe sy aanstap na die deel van die tuin waar mevrou Hagerer haar bonsai-boompies bêre.
Byna onmiddellik gaan die buitelig aan en mevrou Hagerer storm by die huis uit met ’n pistool in die hand. “Wie’s daar? Praat of ek skiet!”
“Ek het vir die seder kom kuier!” roep sy terug.
“Die bonsai?” Mevrou Hagerer kom nader en lig met haar sterk flits op Philla. “O, dis jy. Watter tyd van die nag om te kom kuier.”
“Is dit al baie laat?”
“Nogal.” Sleutels rinkel. “Kom kyk. Ek het intussen met nog ’n paar bonsai-boompies begin. ’n Tamarisk, onder andere, en ’n soetdoring.”
In die afgekampte onderdak-deel van die tuin staan dosyne boompies in blikke. Alles ruik vars; dis of ’n lewende groen damp uit die blare kom. “O, sy stammetjie het dikker geword! En jy het hom in ’n ander houer gesit.”
“Ek het weer bietjie gesnoei aan sy wortels, ja, en sy takke gevorm met stukkies draad. Lyk hy nou vir jou te dun bo?”
“O nee, hy’s pragtig – soos ’n kers wat wag om aangesteek te word.”
“As mens ’n gebed kon sien, sou dit soos hierdie klein seder gelyk het,” sê mevrou Hagerer saggies.
“Ek wens …” begin Philla, en bly weer vinnig stil.
“Wat dan?”
“Nee, toe maar.” Mevrou Hagerer sal dit nooit oorweeg om die boompie te verkoop nie – nie vir honderd rand nie, of selfs duisend. Daar’s dinge wat nie kan verkoop word nie, en ’n volmaakte bonsai-seder wat iemand sewe jaar al versorg, waarvan sy van tyd tot tyd die wortels uiters versigtig knip, die takkies vorm, oorplantings doen na ’n volgende houer, duime vasknyp as dit lyk of die snoeisessie dié keer te drasties was … Nee.
“Kom huis toe, dan drink ons iets.”
In die ruim kombuis wag hulle dat die melk moet kook. Mevrou Hagerer is ’n lang vrou met groot, benerige hande en ’n wye mond. Sy dra ’n mansbroek en ’n stokou trui; haar donker oë ondersoek Philla sonder nuuskierigheid. “En vannag loop jy weer op wilde paaie?”
“Ek hou van wilde paaie.”
“Ja.” Sy staan op en sit koppies reg, meet kakao af.
“Is dit verkeerd?” vra Philla skielik. “Mense … my ouma … dink ek is net moedswillig. Kán mens anders wees as wat jy is?”
Hulle sit en proe aan die warm vloeistof. “Jou oupa het jou tussen bome grootgemaak, het jy al vir my gesê.”
“Ja, maar is dit daarom … is dit net omdat hý …”
“Dit sal jy self moet uitvind,” sê mevrou Hagerer saaklik.
“Oupa is siek,” sê sy. En skielik kan sy dit nie meer wegstoot nie: die wete van Oupa wat weggevat is uit sy bos en in ’n hospitaal lê; Oupa alleen tussen vreemde mense wat net bekommerd is oor sy hart en nie oor sy gees wat bome nodig het nie; háár oupa wat ’n bomer mens is as enigiemand anders wat sy ken en wat miskien, oor ’n week of twee … nie meer …
Sy druk haar gesig in haar hande.