Читать книгу Boom bomer boomste - Elsabe Steenberg - Страница 4
2
ОглавлениеMens sou nou gereken het Philla moet lank slaap – dit was ná middernag toe sy teruggeklim het deur die venster. Ek moes help om die sif weer op sy plek te kry. As Ma-hulle, en veral Ouma, moet wéét dat sy die skroewe losgedraai het sodat die houtraam net op genade teen die venster leun!
Of sou Pa weet? Hý het vir Philla ’n paar karatehoue geleer so asof hy besef sy mag dit nodig hê op haar omswerwinge. Hy’s stil, maar hy sien baie raak – veral wat Philla betref. Hy praat nie veel met haar nie, en veral nie sy met hom nie, maar hy’s altyd bewus van haar. Gisteraand het hy in ’n stadium hier ingeloer en begin vra: “Waar’s …?” Toe kyk hy na die sif wat eenkant staan en hy maak sy mond vinnig weer toe.
Dit kan natuurlik wees dat hy my geglo het toe ek sê sy slaap, en na haar bed wys waar ek ’n bondel klere ingestop het. Dit het Ouma gekul. Maar ek is nie so seker van Pa nie.
En hier is sy sowaar voor dagbreek weer onder die komberse uit. Toe Ouma “Prys die Heer” (liederewysie) begin sing, sit sy lankal by die vensterbank met ’n skryfblok op die knieë. “Aag,” klik sy oor Ouma wat almal in die huis elke oggend wakker sing terwyl sy haar kamer aan die kant maak. “Ek wens ek kon in Jimmie se kamer geslaap het, dis darem verder van Ouma af.”
Dis snaaks dat Jimmie so beslis was daaroor dat sy kamer moet leeg staan terwyl hy tog net hier en daar ’n naweek kan kom. Seker maar dat hy kan weet dat daar darem iewers nog ’n plek bestaan wat nét syne is. In die kamp slaap hulle klompe bymekaar, daar’s geen privaatheid nie. Ek is wel jammer vir hom, maar dis Philla wat die swaarste kry. Ons twee aard nie lekker so saam in die kamer nie. Ek probeer hard om dit nie te doen nie, maar elke kort-kort baklei ek met haar omdat haar laaie slordig is, omdat sy vergeet om haar bed op te maak, omdat die lessenaar waar ons al twee moet werk, ewig gesaai lê van háár boeke en tekenpapier.
Vandat sy by my moes intrek, toe Ouma van Oupa af weg is, loop sy baie meer rond as eers.
“Skryf jy vir Oupa?” vra ek. Dis nog nie baie lig in die kamer nie en sy sit behoorlik met haar neus op die skryfblok; haar hare val oor haar oë. Sy’s omtrent die enigste meisie in standerd sewe wat nog lang hare het; definitief die enigste wat die goed nie vleg of ordentlik vasmaak nie, maar dit pas haar. Buitendien het sy mooi hare.
“Gaan dit gou pos,” sê sy en trek ’n langbroek en trui sommer oor haar slaapklere aan.
“Oppas dat Ouma jou nie sien nie. Sy sal nou enige oomblik kombuis toe verkas om koffie te maak.”
“Dan liewer deur die venster.” Sy lig die sifraam weg. “As sý nie vir Oupa wil skryf nie, is dit nog nie te sê dat ek dit nie mag doen nie. Hoe moet hy nou voel – alleen in ’n hospitaalkamer!” So vroeg in die oggend is haar oë donkergrys en opstandig.
“Pos vir my ook ’n brief,” vra ek, en kry dit tussen my boeke. Sy ruk haar kop eenkant toe dat die hare wegswaai.
“Vir Jimmie! Hy kom tog die naweek.”
“Ek het dit geskryf voor ons geweet het, maar dit maak ook nie saak nie. Hy’s so honger vir briewe.”
“Lien kan skryf,” sê sy styf.
Ek probeer geduldig wees, maar dis moeilik. “Jy’s so onredelik oor Lien! Jimmie is tog al agtien, hoekom kan hy nie ’n meisie hê nie?”
“Ek en hy was altyd maats. Jy weet dit!”
Ja, ek weet. Speel saam bal, en sien my nie eens huil oor ek graag wil saamspeel nie. Geniet hulle eie spesiale grappies of ek nie bestaan nie, gee vir mekaar lekkers wat hulle by partytjies versteek het. ’n Ruk het hulle glad in geheimtaal met mekaar gepraat – ek het gedog ek word gek. Ek is mos óók Jimmie se suster.
“Nou toe, kry jou loop,” sê ek, en sy frons effens – seker omdat ek so onnodig kribbig klink. Sy klim deur die venster met die ongelooflik lenige bewegings wat mense altyd na haar laat kyk, en skielik is sy weg.
Toe ek weer wakker word en haastig opspring omdat dit laat is, lê Philla uitgestrek en slaap, sommer bo-op die komberse en nog geklee in die langbroek en trui. As sy so diep slaap, kry geen aardbewing of sirene haar wakker nie. My moed sink: nou is dit weer een van dáárdie dae. Hoekom moet ék ook alewig die spit afbyt – dis mos nie my skuld dat sy geen normale roetine kan volg nie.
En daar begin dit ook, nog voor ek behoorlik in die eetkamer is. “Waar is Philippa?” vra Ouma, gereed om pap in te skep. So lank is sy nou al by ons, meer as ses maande, en sy weier nog om te aanvaar dat ons nie lief is vir pap nie – nie een van ons nie. Sy glo eenvoudig aan ’n “stewige ontbyt” en klaar. G’n toebroodjies vir saamvat skool toe nie, natuurlik, dis ongesond om tussenin te eet.
“Sy … is maar hier,” sê ek vaag. Ma kyk vinnig na my.
“Philippa-a!” roep Ouma met ’n groot stem. Geen antwoord nie. “Sy gaan nooit betyds klaarkry om die bus te haal nie. Van hierdie laksheid en laatslapery is ek darem nou keelvol!”
“Ek sal gaan kyk,” sê Ma gou. En kom terug met die hulpelose optrek van haar skouers wat sy die afgelope maande aangeleer het. “Sy slaap baie vas.”
“Ek sal haar roep,” sê Ouma onheilspellend en sit die paplepel neer. Net toe kom Pa in, nog besig om sy baadjie aan te trek. Philla word vies as ek dit sê en glo dit glad nie, maar Pa het tog iets van Oupa in hom: ’n trekkie om die mond, sy skraal hande.
“Wag, Moeder,” sê Pa. Maar voor hy of Ouma verder kan besluit oor wie nou eintlik sal gaan, het ek reeds voor hulle uitgehol kamer toe. Ma kom agter my aan. “Sy’t net agt minute om klaar te maak en die bus te haal,” sê sy bekommerd.
“Sy … sy’t ’n slegte nag gehad, Mamma. Miskien moet ons haar liewer los. Ouma het al haar gesang gesing voor sy regtig geslaap het.”
“Ek verstaan nie hoe …” Ma sug. Eintlik som sy dit mooi op: sy verstaan nie. Van die begin af kon sy Philla nie verstaan nie. Probeer, o ja. Nou nog, aanmekaar, maar dit help min. Dis so goed of jy ’n som probeer maak deur op te tel terwyl dit eintlik afgetrek én gedeel én vermenigvuldig moet word.
“Philla?” Sy skud aan haar, eers ligweg en dan woes. “Word nou tog wakker, kind, dis ’n gewone skooldag! Roer jou!”
“Gewoon?” mompel Philla asof sy die woord nog nooit gehoor het nie. “Hmmmmmm.” Sy rol om en slaap verder.
“Ek sal iets bedink,” belowe ek, en ’n oomblik kyk Ma na my sonder die skaduwee van moegheid en spanning wat donkerder geword het in haar oë vandat Ouma by ons woon. Ek slaan my arm om haar.
“Jy’s lief,” sê sy dankbaar. “Moenie self die bus verpas nie.”
Ek skryf ’n haastige nota en druk dit in Philla se hand: Kom suutjies skool toe so gou jy wakker word. Klim deur die venster, ek sluit die deur.
“Waar is sy?” galm Ouma toe ek pas die deur toegetrek en gesluit het.
“Klaar weg, sy was seker nie honger nie.” Haastig glip ek by die voordeur uit en nael die ent bushalte toe.
By die skool kom standerdsewekinders met boodskappe van die een na die ander onderwyser: waar’s Philla? Elke keer rammel ek die rympie af: Sy’s siekerig, sal later kom … jammer … sal verduidelik … sal werk inhaal …
Die vreemde is dit: elke onderwyser wat al ooit vir Philla skoolgehou het of dit nog doen, trek bosse hare uit oor sy so onverskillig of afwesig of parmantig of … ag, ’n honderd dinge … is. Die meeste het haar al kantoor toe gestuur en dan preek die hoof ook langdurig oor haar sondes. En tóg hou hulle van haar en maak die verstommendste toegewings. Miskien weet hulle ook al wat ek ingesien het toe sy nog hier in die eerste standerds van die laerskool was: sy’s net ’n wildsbokkie wat per ongeluk tussen die hokke in ’n dieretuin verdwaal geraak het. Baie het haar al probeer vang en in enige soort hok ingedruk, en as hulle weer kyk, is sy weg. Net so. Nie uit moedswil nie; doodgewoon omdat sy nie anders kán nie.
Sy kom pouse by die skool aan met haar hare heeltemal los, ’n herfsblaar aan haar rok gespeld en ’n pajamakoord (Pa s’n?) om haar middel. Sy’t skoene aan maar nie sokkies nie. Sulke tye maak ek of ek haar nie ken nie; loop sommer ’n koers in. Vas teen Leon wat ook in standerd agt is, maar in ’n ander groep as ek. Hy’t baie lank geword die laaste ruk, ek moet opkyk na hom.
“Hallo,” groet hy. “Jy hou jou skaars.”
Ek kan nie aan ’n antwoord dink nie.
“Daardie sussie van jou darem,” grinnik hy, en oombliklik is ek woedend. Dis goed en wel om so half sentimenteel aan haar te dink as ’n som wat nie opgetel kan word nie, of ’n wildsbokkie, o ja, maar om familie van haar te wees, net ’n jaar ouer as sy, altyd op die verdediging, elke oomblik bevrees vir ’n nuwe skandaal! Kinders is nie onderwysers nie; hulle lag en dryf die spot – hulle spot met mý suster. Ander mense het nie sulke susters nie, hulle s’n is doodgemiddeld en neem musiek en doen hulle skoolwerk getrou en …
“Sy’s ’n frats, maar dis nie mý skuld nie!” snou ek en loop sommer blindweg hek toe. Daar staan roomyskarretjies; ek koop ’n roomys en smyt dit op die grond en trap dit in die aarde in. Ek is kwaad vir Philla wat my verneder soos Oupa altyd vir Ouma verneder het; ek voel sleg omdat ek haar ’n frats genoem het; ek wens ek was enigiemand anders in die wêreld behalwe nou juis ek. Hoe gebeur dit dat elke mens ’n ek is, en juis een besondere ek?
Die klok lui; die periodes gaan hulle gang. Ek het goed gedoen in ’n toets wat die Engels-onderwyser teruggee; ek word geprys oor ’n moeilike wiskundeprobleem wat ons tuis moes doen en wat ek reggekry het; juffrou Murray sê sy verwag ’n biologie-onderskeiding van my in die volgende eksamen. En net toe ek stadigaan begin regkom, is dit weer pouse en dit gons deur die gange: Philla is uit die Afrikaans-juffrou se klas gejaag omdat sy geweier het om die opstel te skryf wat aan almal gegee is.
“Maar hoekom?” vra ek op die bus, later toe ons huis toe ry. “Hoekom skryf jy nie maar die ding as jy weet sy gaan jou vermorsel as jy dit nié doen nie?”
Philla fluit en kyk deur die venster. Sy’t teen hierdie tyd haar skoene ook uitgetrek en die pajamagordel om haar nek geknoop. Ek wens ek het nie by haar kom sit nie. “’n Vakansie op ’n plaas,” lag sy meteens. “Hoeveel van die ouens in ons klas was al op ’n plaas, dink jy? En dan ’n vakansie. Mintig, Helet, as ek dit geskryf het, sou sy die volgende tien jaar daardie opstel vir standerdsewes gegee het!”
“Ja, maar …”
“Iemand moet weier,” sê sy. “Ek sou natuurlik weer na die hoof toe gegaan het, maar hy was besig. Toe staan ek net buite. Daar was die interessantste skaduwees op die mure. Takke van ’n boom wat patrone gemaak het.”
“Jy kán tog wonderbaarlike opstelle skryf.”
“Nie oor ’n vakansie op ’n plaas nie. Nooit vir háár nie. As jy na haar kyk, sien jy al die kommas wat sy reghou om sinne te verdeel, en vir haar móét daar altyd kommas en punte en hoofletters wees.”
“Maar daar moet mos.”
“Hoekom?” Philla het so ’n manier om hoekom te vra dat jy skielik self twyfel aan ’n ding wat jy nog altyd sonder enige probleem as reg aanvaar het.
“Almal gebruik dit tog,” sê ek lamlendig.
“Jy’s soos Ma wat heeldag sit en spelfoute regmaak by die uitgewery. As jy na haar kyk, sien jy onmiddellik se twee elle, en die komma voor want.”
“Philla!” sê ek geskok, en wonder terselfdertyd hoeveel keer op ’n dag iemand haar naam só uitroep. Sy moet dit al gewoond wees. Maar sy lyk tog skaam.
“Ja, ek is aaklig,” sê sy. “Dis haar werk, sy moet dit doen. Dis anders as hierdie juffrou Gilgal.”
“Gillaume.”
“Sy laat die kommas in gelid staan, en dan marsjeer die hoofletters verby en wee die een wat uit pas is. Oupa skryf nie só nie. As hy voel die een stuk van die sin moet in ’n aparte reël staan, dan doen hy dit. As hy twee ordinêre sinne wil laat rym soos in ’n gedig, laat hy hom nie keer nie. As Kgatala vloek, doen sy dit altyd met twéé hoofletters.”
“En as hy vir jou briewe skryf?”
Die son kom op in haar oë en maak hulle byna blou. “En ek vir hom,” sê sy net en begin weer fluit, sommer kliphard. Sy kan verskriklik mooi fluit, met die rykste note en die suiwerste klanke wat op hierdie aarde bestaan. Nog net een mens het ek verrukliker hoor fluit as sy, en dis Oupa. Twee haltes van die huis af spring sy op. “Bring my tas, Helet; ek klim hier af en draf verder.”
Dus kom sy ná my by die huis, fluitend totdat sy Ouma se gesig sien. “Een van jou onderwyseresse het geskakel,” sê Ouma met ’n stem soos die engel Gabriël s’n. “Sy – nee, ek gaan dit nie herhaal nie, jy weet alles goed genoeg. Gister het ek vir jou gesê jy moet jou vinnig begin gedra. Onthou?”
Philla kyk vraend na Ma, wat hulpeloos agter haar bord gekookte kos sit.
“Kom eet,” sê Ouma. “Daarna gaan trek jy ordentlik aan en ons gaan die hoof spreek in verband met plek aan etenstafel in die koshuis, en in die studiesaal weeksdagmiddae.”
“Plek?” vra Philla onnosel.
“Ek het met die onderwyseres wat gebel het daaroor gepraat. Sy reken ook dis ’n goeie plan om jou smiddae onder toesig te laat studeer. Daarna kan jy korfbal oefen – Maandae, Dinsdae en Donderdae – sy sê daar is oefenpale naby die bane waar die spanne speel. Dan is jy dus óók onder die oë.”
’n Soort angs druk meteens my bors inmekaar: só iets durf niemand aan Philla doen nie. Sy kan nie smiddae ook in ’n program ingedwing word nie … Praat van ’n wildsbok in ’n klein hokkie!
“Eet nou,” beveel Ouma, maar nie een van ons eet nie.
“Ek het jou oupa sien verwilder,” sê Ouma ná ’n ruk asof sy verskoning soek. “Toe ek hom moes gedwing het om ’n eerbare werk te aanvaar en sy brood soos ander mense in die sweet van sy aangesig te verdien, was ek te saf. Voor my oë het hy versleg tot ’n leeglêer. Dit moenie met jóú ook gebeur nie, Philippa. Glo my, dis om jou eie beswil dat ek wil hê jy moet aan ’n vaste roetine gewoond raak. Die gereelde studietyd sal jou werk ten goede kom, en die korfbaloefeninge sal jou gou in ’n span laat beland. Met jou vinnige bene sal jy ’n aanwins wees, al moet ek dit self sê.”
En dan moet sy Saterdae gaan wedstryde speel. Sing-sing in ’n bus iewers heen tussen ’n jillende troep meisiekinders. Sý!
Philla staan op en loop weg – suutjies, sonder ’n woord. Sy sit in ’n bondeltjie op haar bed toe ek in ons kamer kom. Naderhand verskyn Ouma, opgetof met handsak en vars gekamde bolla, en sê Philla moet klaarmaak dat hulle kan gaan reëlings tref. Philla roer nie. Later raas Ouma; toe loop sy driftig die huis uit en ry alleen weg. Ná ’n uur of wat kom sy terug. Sy sing “Prys die Heer” (liederewysie).
Oplaas, toe ek dit glad nie meer kan verduur nie, gaan sit ek by haar op die bed. “Jy sal g’n in die koshuis gaan studeer nie, man. Ook nie korfbal speel nie. Tensy hulle jou oor my lewelose karkas baan toe sleep.”
Daar kom ’n bietjie kleur in haar gesig.
“Kom sitkamer toe, dan speel ek vir jou iets op die klavier.” Dit het haar al vantevore laat bedaar as sy onstuimig is.
Dit werk weer. Nie dadelik nie, maar teen die derde, vierde stuk wat ek speel – die Prelude van Bach – gooi sy haar hare agteroor en strek haar lang arms bokant haar kop uit. Sy vloek meteens, hartgrondig soos ’n gesoute matroos, en toe lag sy.
“Natuurlik sal ek nie,” sê sy en hardloop weg – uit by die voordeur, dwarsoor die grasperk, die straat in, die dag in.