Читать книгу Slapende honde miaau nie - Elsabe Steenberg - Страница 6
ОглавлениеSondag 8 Februarie
Sy en Jaco is al naby die park toe Werner hulle inhaal. Met sy kerkklere aan lyk hy nog langer en dunner as by die skool. Wolle begin dadelik blaf en stert swaai tegelyk, en Tjokka grom effens en kyk na Kotie vir ’n bevel. Verleë vryf sy die Sint Bernard se kop, maar besluit dan om haar kwaai te hou. “Lê, Tjokka!” Die hond plaps neer en lyk soos ’n Gomma-Gomma-poef. “Hallo, Werner.” Sy sluk. “Hoe’t jy geweet ek en Jaco is op pad park toe?”
“Julle kom dan elke aand.” Dis al te donker om te sien hoe Werner sy kakebeen vorentoe stoot, maar Kotie weet hy is vies. Dit maak haar van voor af verleë. “Is jy nie al te groot om te kom wipplank ry nie?”
“Ek kom saam met Jaco,” verdedig sy en skud die hare uit haar oë. “Sy ma kan nie nou saam met hom rondrits nie, sy gaan ’n baba hê – en buitendien pas ek hom altyd op as sy ma-hulle iewers heen gaan. Hy’s vir my soos ’n boetie.” Sy aarsel. “Hy wás.”
“Wat bedoel jy?” Sy hoor Werner frons al kan sy dit nie sien nie.
Eers toe Jaco vooruithardloop, antwoord sy. Die laaste weke wil Jaco skaars meer saans saam met haar park toe kom; hy draai net heeltyd om sy ma. Vir ’n kastige ousus is hy nie meer lus nie. “Hy’s jaloers op die baba wat kom.”
Werner kom ’n bietjie nader. Dit laat haar bly voel, maar benoud ook.
Jaco kom terug na hulle toe en kry Wolle eindelik sover om sy bek te hou. “Kotie hou self daarvan om in die park te wees, wê! En ons ry nie op die ou wipplank nie, ons swaai.”
Klein hoender, om te sê! “As ek nie park toe kom nie, moet ek na oom Maurits se kleinhoewe ry om weg te kom van die alewige stad,” mompel sy. “Dit vat meer tyd, en ek kan nie in die aand daarheen ry nie.”
“Daar’s ’n koei,” begin Jaco opgewonde vertel. “Kotie hou –”
“Wil jy iets hê, Werner?” praat Kotie hom dood, want wie behalwe oom Maurits verstaan nou dat mens met ’n Frieskoei kan maats wees?
“My pa het met iemand gepraat wat alles van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe weet.” Werner klink vriendeliker. “Hy sê daar is net ’n naelloop vir dogters onder sestien. Maar jy sal kan deelneem, Kotie, al is jy veertien – jy hol dan vinniger as enige Matriek. Juffrou Schoeman sal jou laat gaan, daar’s nog ’n paar weke tyd en sy rig jou uitstekend af.”
“Ek is nie só goed nie,” keer sy onseker.
“Jy nael soos ’n bokkie, ja?” Hy loop weer verder van haar af. “Jou ma wil graag hê jy moet presteer in atletiek en juffrou Schoeman doen baie moeite. Jy ís goed, Kotie.”
Sy is dankbaar dis donker, sodat Werner nie kan sien hoe verleë sy word nie. “Eintlik gee ek nie om wat my ma …”
“Hoe kan dit wees?” Dit klink asof Werner rêrig wil weet. Sy antwoord nie. As Werner nie by haar is nie, droom sy oor hom en gesels in haar gedagtes, maar dis swaar as hy so naby is. “Sê my, Kotie.”
Dis onmoontlik. Wat sy dink van Ma se valsheid – spoor háár aan net omdat sy self ’n atleet wou gewees het – is haar eie saak.
Werner vra nie verder uit nie. “Mutti wil hê jy moet môremiddag by ons kom koffie drink.”
“Hoekom?” Sy kan die vraag nie betyds keer nie.
“My ma wil jou graag beter leer ken,” sê Werner.
Kotie voel verbaas. “Ek … ek sal môre besluit,” stel sy uit. Mevrou Schultz is so ’n sagte, ronde mens – en Kotie het al gesien hoe druk sy Werner teen haar, sonder om eens skaam te wees. Miskien soen sy en meneer Schultz mekaar soms en is hulle baie kere saam, rêrig sáám. So hoort dit seker met ’n ma en ’n pa.
Die aand met die musiekuitvoering, onthou jy, Koot-Poot? Ag, jy kon maar aan ’n ander aand ook gedink het, maar na daardie een het jy vreeslik uitgesien. Julle het gaan sit, die saal was al bedompig van die baie mense. Pa het ’n program gekoop en dit vir Ma aangegee; sy het geglimlag en dit by hom gevat.
’n Tannie met uitgeplukte wenkbroue kom sit aan Ma se ander kant. Sy werk ook by die Uitsaaikorporasie soos Ma, net by ’n ander program. Jy en Pa kyk na mekaar.
Eers voel dit nog ’n bietjie lekker om naby Pa te wees. Toe dryf hy ook weg, jy sien dit in sy oë, en die musiek begin. Dis pragtige orkesmusiek wat elke hoekie binnekant vol loop – maar dit kan nie die alleen weg-tjello nie. Ma gesels oor haar werk, Pa dink aan syne, en hulle vergeet van mekaar en van jou.
“Ek vra jou dan weer môre,” groet Werner en stap weg.
Sy en Jaco kom by die een hek wat hierdie tyd van die aand nog oop is. Die opsigter wag spesiaal om toe te sluit tot hulle twee hier was; hy’s ’n kalm oom met verstaanplooie om sy neus. “Dis laat,” jaag hy darem aan en kom leun oor die draad. “Vanaand net ’n kwartier, gehoor?”
“Hoekom?” moet Kotie vra.
Jaco trek haar na die swaaie en Wolle draf saam en gaan staan lagbek reg om hulle dop te hou. Tjokka ploef verby na die glybaan, sukkel met die trappies boontoe en sjaf tot onder. Dan weer om na die trappies.
“Wil jy my stoot of gaan jy self swaai?” Jaco klouter op ’n sitplek. Sy wit hare blink toe die straatligte skielik aanknip; Kotie sien hoe sy boepneusie wikkel.
“Ek sal jou tot by die maan swaai – kyk, daar loer hy oor julle woonstelgebou,” wys sy en begin stoot.
“Dis volmaan!” skree Jaco. Hy lispel effens, want sy twee voortande is weg.
“Nee, patat, dis eers môreaand vol-volmaan,” help sy reg. “Dan is hy tweeduisend keer helderder as Venus.”
“Hoe weet jy?” Hy keer met sy voete, skop stof op en kom tot stilstand. “Leer jy dit in die skool?”
“Werner het vir my van sy boeke oor sterrekunde geleen,” erken sy onwillig. “Hy stel baie belang, en hy’t my aangesteek.”
“Ek wil ook van sterre leer!” Jaco ruk aan die swaai se kettings.
“Volgende jaar as jy skool toe gaan, sal jou juffrou jou eers moet leer spel, o-s os, en laat tel, een en een is twee,” paai Kotie. As hy nou net nie vreeslik kwaad word, soos die laaste tyd dikwels gebeur, en terughol na sy ma nie.
Jaco gly grond toe, val op sy rug en begin trappel met sy bene. “Dan gaan ek nie skool toe nie. Ek wil van sterre en die maan leer, nie ou simpel een en een nie!”
“Dalk moet jy maar liewer volgende jaar by die huis bly en jou boetie of sussie oppas,” probeer sy hom kalmeer.
“Wil nie ’n ou baba in ons woonstel hê nie!” Hy skop na haar. “Sal vir Tjokka kry om hom weg te dra!”
“Tjokka luister net as ék sê hy moet iets doen.” Sy trek hom met moeite orent en stel voor: “Kom ek vertel jou van Blits.”
“Kastige perd! Jy’t g’n ’n perd wat jou maan toe kan vat nie!”
“Maar Jaco, ek het Blits spesiaal uitgedink omdat jý maan-stories wou hoor,” sug sy.
“Wil na Mamma toe gaan!”
“Luister eers. Blits is ’n pikswart dier met ’n klein wit bles, dit weet jy mos al, en as hy in die lug spring met my op sy rug, kom daar towerkrag oor ons, sodat ons nie asem nodig het nie. Dan ry ons verby die gasse wat naby die maan saambondel, ons –”
“Taag!” Hy kry Wolle beet en druk sy gesig woes in die klein hondjie se hare, snuf teen sy maag totdat die Maltese poedeltjie begin tjank. “Ou bangjan – skrik vir als!”
Kotie trek vir Wolle uit sy arms. “Kom maar hier, ou honne. Die basie moor jou, hmmm? My liefste-iefste ou brakkie, jy moenie so hoenders bang wees vir alles nie.”
“Jy’t ’n klein hondjie en ’n groot hond,” wys Jaco op sy vingers, “jy’t ’n klomp duiwe by julle huis. Maar jy’t nie ’n hoender nie en ook nie ’n perd nie.”
“Hoenders is so verskriklik onnosel, man.” Sy troetel die hondjie. “Maar ek het ’n perd, al wil jy nie meer van hom hoor nie. Nou’s hy klaar uitgedink; ek ry baie kere maan toe op hom.”
Blits galop verby die gasse, deur die litosfeer met die maanbewings en tot by die kraters. Ver op die aarde laat ek Mamaia en Pappadoek agter, hulle word klein, hulle maak nie meer saak nie. Nou is dit net ek en die kraters waaroor Blits met geweldige spronge seil. Hier het meteore geval en nou bly die kraters diep en groot in die grond. Komaan, Blits! Jy is my vurige swart perd en ek is Kootja wat vir die kraters lag.
Verby Tycho en Aristarchus en Copernicus.
Geen Mamaia in hierdie bergagtige gebied wat kan vals wees
of ’n Pappadoek wat te besig is om kraters te sien nie.
Draai om, Blits, spring weer reg bo-oor Tycho en skud die rooi gloed van jou hoewe af. Ons bly hier tussen die kraters – of nee, jy kry koers berge toe. Hier is die Kaukasus-gebergte … nou kom die Apennyne … die Jura … Spring oor die maan, net ek en jy kan hier galop! Net ek en jy, en dis wonderlik, ons het niemand nodig nie, hier is dit net ons twee. Ons
is
alleen.
“Vat my terug.” Jaco stoot aan haar. “Hêi, los nou die perd en kom!”
Kotie skud Blits en die maangebergtes van haar af en loop ’n bietjie wankelrig na die glybaan om Tjokka onder in te wag. Hy sal ook ’n nag aanmekaar gly as niemand hom keer nie. “Kom nou, ou grote, ons moet Jaco huis toe neem.”
Die opsigter wag by die hek. “Ook nie bang nie, hè?” Goedig frommel hy Tjokka se ore. “Niemand sal jou lastig val as hierdie beer by jou is nie.”
“Dis hoekom Pa gesê het ek kan hom maar kry,” glimlag sy in die donker. “Nag, Oom. Ek het lekker perd gery.”
“Hû?”
Maar sy hardloop gou verder en sien Jaco by die robot wag. Sy moet –
“Wag ’n bietjie,” keer ’n lyf haar voor. Sy skrik en voel-voel na Tjokka. Wolle begin blaf. “Moenie maak of jy my nie sien nie. Het mekaar tog al baie aande hier gesien, stry?”
“Wat wil jy hê?” Sy hét die mens al dikwels hier onder die tamarisk net buite die park sien sit. Altyd met ’n bottel by haar. Maar dis die eerste keer dat sy praat. Haar stem sleep en die asem wat sy in Kotie se gesig uitblaas, wil haar laat opbring. “Ek het ’n hond hier wat jou sal bespring as jy met my sukkel.”
“Nog ’n klein keffertjie ook,” mompel die vrou. “Jy’s lief vir diere, right? En vir jou boetie? O, jy kan nie stry nie – ek watch julle al lank.”
“Wat wil jy hê?” herhaal sy dreigend.
“Vat hierdie kind,” sê die vrou onverwags en trek iets agter haar rug uit, stoot dit tot teen Kotie. “Ek wil haar nie meer hê nie en ek sien liewer dat jy haar versôre as dat die social haar kom haal. Dán is daar weer hell to pay.”
“Moet ek jou kínd vat?” Verslae kyk sy af op ’n dingetjie wat in ’n groot bloes toegeknoop is en sonder ’n geluid net staan.
“Jy hoor my. Moenie dink ek was cruel met haar nie, te never! As haar pa haar wou rondpluk, het ek haar buite loop neersit. Noudat Jaap vort is, bly sy maar in die kamer. ’n Stil sweetheart, sy – eenkant. Sy soek nie moeilikheid nie.”
“Hoe oud is sy?” Sonder om te weet hoekom, fluister sy.
“Kort duskant twee, sou ek reken.” Woes pluk die vrou Kotie aan die arm. “Ek wil agter Jaap aan, hy sal terugkom as ek hom sê die kind is weg. As sy nog ’n seun was … Maar hy’t die meisiekind nooit gesmaak nie. Ek ook nie, maar ek het haar net ge-ignore, nie geslaat of so nie. Nou wil ek hê jy moet haar vat.”
“Mens gee mos nie ’n kind weg nie!” stik Kotie.
Die vrou stamp die dingetjie voor haar eenkant toe dat sy val. “Moet die social haar dan maar kom haal? As Jaap haar dan nie klaar … Dié slag sal hy haar seermaak, ek sal nie kan keer nie.”
Uit ’n koue wat oor haar groei, vra Kotie: “As jy hier gesit het saans … waar was sy dan? Ek het haar nog nooit by jou gesien nie.”
“In die kamer, tog!” Die vrou praat helderder. “Vat haar na jou ma, help jou ma om die kind saam met jou boetie groot te maak. Sy verdien beter, dit dink ek nou al vandat Jaap vort is.” Sy skreeu: “Ek verdien ook beter as om jaarin jaaruit met ’n snotneus opgesaal te sit!”
Jaco het teruggekom en staan van Kotie na die vreemde vrou na die klein kindjie en kyk. “Wat sê die tannie? Hè, Kotie?”
“Sommer.” ’n Harde opwinding laat haar vel prik. “As ek haar vat, kla jy my môre by die polisie aan vir kinderdiefstal.”
“Ek hou my distance van die polisie af, baie dankie. Met Jaap se dinge …” Sy druk haar gesig teen Kotie s’n. “Ek sweer! Van my sal jy nooit weer hoor as jy net die kind vat en jou loop kry nie.”
“Kom nou,” kla Jaco. “Wil na Mamma toe gaan.”
“Ek weet nie …” Sy tel die mensie op en dra haar tot onder ’n lamppaal. Die lig wys ’n soet gesiggie onder taai, krullerige haartjies. Die ogies kyk afgetrokke terug na die mense om haar. Sy’s nie bang soos Wolle nie, net … wat? Gewoond om geïgnoreer te word?
Minute kyk Kotie.
“Ek sal haar afteken as dit jou dan so worry,” por die vrou. “Die social het gesê sy kan aangeneem word as ek afteken. Ek en Jaap is nie gekerk nie, hy’t nie ’n sê oor haar nie. Dis net ek, en ek is nie snaaks nie.”
Tjokka begin aan die kind lek toe Kotie haar neersit. Selfs dit maak haar nie bang nie; sy staan effens terug en dan, baie versigtig, sit sy ’n handjie op die hond se kop.
“Daardie kafee sal papier en ’n skryfding hê.” Die vrou loop weg.
Jaco neul: “Kóm nou!” Dan nuuskierig: “Is dit ’n rêrige babetjie?”
“Dis nie ’n baba nie; sy staan dan al self. Sy kan seker loop ook, al is sy so klein.” Gee pad terwyl jy die kans het, sê iets binne-in haar. En tog wil sy hê die vrou moet terugkom en die saak deurvoer. Sy wil – is dit moontlik? – sy wil hierdie kind hê.
“Kyk.” Uitasem kom die vrou terug en druk ’n vuil stuk papier in Kotie se hand. “Lees dit dat jy kan sien dat ek true en honest die kind vir jou wil gee. Ek vra nie eens geld nie.”
In die lamplig lees Kotie die groot, skewe letters:
ek wil nie die kind sorg sy is JAKOBINA PETS laat die dogter se male haar vat vir groot maak.
G. Pets
“Watter aaklige naam,” gril Kotie.
“Gedog dit sal Jaap troos oor dit sy naam is met ’n -ina agter,” brom die vrou. “Ek loop. Gee haar maar vir ’n social as jou ma-hulle nie kans sien nie.”
Net die tamarisk staan nog daar. Tjokka lek aan die kind; Wolle blaf; Jaco skree.
Onthou jy, Koot-Poot: Werner se ma het vertel dat daar mense is wat hulle kinders verkoop of weggee. Jy het dit nie geglo nie. Nou staan jy waar jy staan, en jy weet glad nie wat om te doen nie.
“Vat jy die babetjie saam?” Ongeduldig pluk Jaco aan haar rok.
“Luister, patat,” kry sy lewe, “hierdie kind is ons twee se geheim, jy moet vir niemand van haar sê nie. Ek moet eers oor alles dink; ek moet alleen dink wat om te doen. Toe, belowe jy sal niks vertel nie.”
“Nie eens vir Mamma nie?” verneem hy.
“Niemand. Hoor hier: as jy jou mond hou, kry jy twee van my lagduifies nes julle in daardie huis gaan woon wat jou pa aan die koop is.”
Sy tel die mensie op. Hoe lig is sy, hoe ver, asof niks haar werklik kan raak nie. Of nee, sy gee maar voor: haar lyfie is boogstyf gespan onder Kotie se hande.
Vinnig stap Kotie tot by die woonstelgebou waar Jaco bly. Sy staan in die skaduwees en kyk dat die seuntjie veilig aankom en loop dan met lang treë verder. Wolle spring teen haar op en Tjokka stoot hom elke keer weg. Nes hulle is: die klein wolletjie-woeps jaloers, en die grote besorg oor die dingetjie in sy nooi se arms.
Die maan kyk van bokant die geboue af na haar, motors en busse raas verby totdat sy in die systraat indraai waar hulle huis is. Nou is dit stil, net af en toe sjoesj ’n ryding verby. Een keer skree ’n vent iets vir haar en ry ’n oomblik stadiger, maar sy loop nader aan Tjokka, die ou sien seker die hond en verander van rat om dreunend verder te ry.
“Jy beskerm my ook,” sê sy vir die vraggie in haar arms. “Die fietas dink ek is ’n ma of iets, so met ’n kind by my.” Geen roering of geluid nie. Sou die dogtertjie slaap? Het sy dalk uit ervaring geleer om te maak of sy nie daar is nie?
Die baksteenhuis agter die baksteenmuur. “Bly hier,” sê sy vir Tjokka en lê die bondeltjie by sy pote neer, steeds sonder dat die kind reageer. Met Wolle loop sy motorhuis toe. Pa se motor is darem langs Ma s’n; sy kan die hondjie aflaai en die deure toestoot. Die klein swernoot begin vreeslik kef en tjank, nog steeds jaloers, maar sy praat nie met hom nie, gaan net by die kombuisdeur in.
Ma is besig om warm melk in koppies te gooi. Sy kyk vinnig op en Kotie sug omdat sy so mooi is met haar donker hare en oë en haar bekwame hande om die potjie se handvatsel gevou. “Haai.”
“Jy’s baie laat.” Ma roer koffiepoeier by die melk. “Kla Jaco nie as jy hom so lank buite hou nie?”
Sy antwoord nie. Ma weet nie dat Jaco glad nie meer dol is oor speel-in-die-park nie. Hoe moet sy nou vir Ma van daardie kind vertel? As sy nie van kinders hou nie, die een wat sy hét nie juis onthou as sy nie absoluut móét nie?
“As Ma iets naby die straat kry,” begin sy nogtans, “iets wat nogal baie werd is, wat sal Ma daarmee doen?”
“Het jy iets opgetel?” Sy staan nog by die koppies. “Kan ek vir jou ook iets maak om te drink, koffie of Milo?”
“Ek wil net weet, dis al.”
“Dit polisie toe neem.” Ma kry ’n skinkbord. “Dis nogal ’n interessante tema vir ’n gesprek oor my vroueprogram. Ek kan ’n paar mense kry om daaroor gedagtes te wissel, ’n sersant betrek om kommentaar te lewer. Die Woensdag-praatjies oor mikrogolfoonde is juis volgende week klaar en ek sal iets in die plek –”
“Ek wil net weet!” herhaal sy moedeloos en loop.
Pa is in die studeerkamer, selfs op die Sondagaand. Hy glimlag toe sy inkom en hou sy hand na haar uit. “Hallo. Was jy en Jaco weer park toe?”
Maar vir hom kan sy ook nie vertel nie – hy is nie meer die pa op wie se knie sy gery het en wie se hare sy deurmekaar gevroetel het terwyl hy saans eet nie. Die laaste jare is hy so besig met die hoenderse ou doktorsgraad, en met sy werk by die Technikon.
“Wanneer sal Pa klaar wees met daardie ou proefskrif?” moet sy sug.
“Seker nog ’n jaar of twee, Koot. Dan soek ek ’n Geskiedenis-pos by die Universiteit, dalk kry ons ’n huis naby die kampus en alles is sommer beter.”
“Hoekom?” As Pa nog harder moet werk, as Ma aangaan met haar wonderlike radioprogram waarvoor sy elke dag ure by die Uitsaaikorporasie moet wees om alles te organiseer – wát kan beter wees?
“Ander mense bly ook maar besig.” Pa kyk na haar met ’n soort seer in sy oë, asof hy haar hoor dink het.
“Ja, maar …” Werner se ma wat hom teen haar druk, wat lyk of sy die oom partymaal sal soen.
Ma bring die koffie in, knik net effens en sit Pa s’n op die lessenaar voor sy weer uitgaan. Niks is verkeerd in hierdie huis nie, en niks is reg nie. Alles is so vals.
“Bly nog, dan gesels ons ’n bietjie,” nooi Pa toe sy deur toe loop, maar skielik is sy haastig. Sý het daardie kleintjie weggedra, sý moet vir haar sorg.
Buite lê Tjokka styf langs die lyfie in die verspot groot bloes. Daar is steeds geen roering of geluid nie, maar sy sien ’n handjie oor Tjokka se kop lê …
Laat sy net eers gou na die duiwe gaan kyk en hulle groet. Sy het hulle met haar sakgeld gekoop, al het Ma beswaar gehad. Pa het die hok laat maak, seker maar bly dis duiwe en nie nog ’n hond nie.
Die Australiese lagduifies sit opgepof op die stokke en beweeg nie toe sy met hulle praat nie. Sy maak seker dat hulle genoeg water het vir môreoggend en vul die voerbak met saad. Daardie dingetjie by Tjokka is ook ’n soort voëltjie, dink sy meteens – maar verwaarloos, in ’n kamer ingehok behalwe as sy buite neergesit word dat die pa haar nie moet seermaak nie.
Aan ’n kamer gedink: die kind kan mos in hul buitekamer bly! Kotie hou van die plek. Baiemaal gaan sy sommer daar lees of na bandjies luister, dis vriendelik en stil. Daar’s ’n toilet en ’n wasbak ook. Kort-kort onthou Ma dat sy dit wil verhuur – Oupa se meubels is nog daarin – maar dan vergeet sy weer.
Gou die sleutel in die gang tussen die ander gaan soek. In die linnekamer vat sy lakens en ’n kussing sodat sy die nag in die buitekamer kan slaap. Sommer in die donker gaan gooi sy dit op die bed, loop uit en wonder: wat nog? Moet die mensie dalk iets eet en drink?
Melk in ’n bekertjie; ’n toebroodjie met konfyt op.
“Is jy honger?” Ma se stem laat haar so skrik dat sy die broodmes laat neerkletter. Ma het ’n kamerjas aan en daar is iets witterigs aan haar gesig gesmeer. Só lyk sy minder soos die bekende mevrou Magda Verreyn, aanbiedster van die immergroen vroueprogram Leef en leer waarna die dames elke weeksoggend gretig … Te hoender!
“Net lus vir iets,” mompel sy.
“Wat van ’n bietjie kaas daarop?” Ma haal ’n pakkie met gerasperde kaas uit die yskas.
“Nee, ek … of gee maar. Dankie.” Sy druk die toebroodjie in haar roksak en vlug.
Sy bly ’n ruk in haar slaapkamer staan. Daardie uitvaagsel, G. Pets. Om haar eie kind weg te gee! En wat moet nou gebeur? As Werner maar hier was, as sy met hom oor die kleintjie kon praat. Nee, sy weet ook nie. Partymaal is sy skaam vir hom. Hou sy rêrig van hom? Hy is tog al in standerd nege.
’n Rukkie later sluip sy terug kombuis toe. Sonder om die lig aan te skakel, kry sy die bekertjie melk wat sy vroeër ingeskink het en dra dit versigtig buitekamer toe. Ag, sy het ’n flits vergeet; sy kan tog nie die elektriese lig aanskakel nie. Toe sy weer terugkom, skuif sy die gordyne dig en laat dan ’n kolletjie lig deur die kamer spring.
Die meubels het eers in Oupa-hulle se huis gestaan; dis al wat hy oorgehou het ná Ouma se dood. Laaikas en bed en spieëltafel wat so oud is dat die blad geskif lyk. Oupa was al siek toe hy by hulle kom bly het, en hy het gewoonlik vergeet wie Kotie is. En tog was dit vir haar lekker om te weet hy’s hier. Pa en Ma het met hom gepraat en met mekaar ook – dis of hulle almal meer saamgehoort het as vroeër of daarna.
Sy glip by die deur uit en gaan skep die bondeltjie langs Tjokka op. Die hond loop saam buitekamer toe asof hy alles verstaan wat gebeur. Die maan is so helder dat sy weer die gordyne oopmaak en die flits afskakel.
Versigtig lê sy die dogtertjie op ’n laken op die bed neer en bekyk haar noukeurig. Die bloes is met ’n groot haakspeld om die dun nekkie vasgesteek; dis al wat die dogtertjie aanhet. Lyfie, arms en bene, alles is benerig van maerte. Maar die gesiggie is werklik mooi; die klein mondjie vol en die oë groot en blink.
“Sou jy by jou blyplek ander klere ook gehad het?” praat sy saggies en speld die lelike kledingstuk los. “Kyk, ek skeur ’n stuk van die laken af … so … en draai jou daarin toe. Môre sal ek jou bad en jou hare was. Ek wonder watter kleur is jou hare en oë?”
Die kind bewe asof sy baie koud kry. Kotie vryf die lyfie, wat nog hard bly soos ’n broodbord. “Ek wonder of iemand al ooit spesiaal met jou gepraat het? Daardie Pets-mens het jou niks, niks gegee nie. Jou alleen gelos as sy by die park kom sit en suip. En jou naam – jeg, Jakobina!”
Selfs die naam laat die kind glad nie reageer nie. Sy’s seker nooit aangespreek nie. Wel, dis een goeie ding: sy kan nou ’n beter naam kry.
Terwyl sy nog aanhou om die ruggie te vryf, grawe Kotie met haar ander hand die toebroodjie uit haar sak en hou dit by die geslote lippies. Skielik steun die dingetjie, draai haar kop woes eenkant toe en begin ruk asof sy aan die doodgaan is.
“Ma!”
By die deur val sy oor Tjokka. Hy spring bo-op die kind en begin haar lek, sommer oral.
Toe sy haar weer kom kry, het sy die mensie opgeraap en wieg sy haar, met Tjokka wat styf teen hulle lê en nog af en toe ’n sydelingse lek gee. Wieg … waar kom sy daaraan? By die gesiggie, wat in die maanlig nog vertrek lyk van ’n soort bang, fluister sy: “Ek lief jou. Jy hoef niks te eet as jy nie wil nie. Daardie vrou het jou seker gedwing … Alles sal regkom, jy’s nou myne …”
Die lyfie word slap. Haal sy nog asem? Is sy net flou, of … “Tjokka, wat moet ek doen!”
Radeloos sit sy en sus, totdat sy besef dat die laken om die kleintjie nat is. Nog ’n stuk laken moet afgeskeur word.
Toe sy weer met die kind op haar skoot sit, vou dié inmekaar en soek met haar handjie om haar rond. Kotie verstaan dat dit Tjokka is na wie sy soek. Dankbaar lê sy die hopie langs die groot hond neer en gaan self ook langs hulle inskuif.
Maar as die dogtertjie hulp nodig het? Sy het dalk stuipe gehad, of het dit nog – hoe sal sy weet? Sy sal Ma moet gaan inlig, haar mooi vertel wat gebeur het, die vrou se stuk papier vir haar wys.
Toe sy in die woonkamer kom waar Ma met ’n boek sit, maak onwilligheid haar keel dik. As Ma die polisie laat weet en hulle spoor die vrou op, laat haar die kind terugneem … Ma sal dit doen – optelding of weggeemeisietjie om ’t ewe, sy’t geen erg aan kinders nie.
“Seblief, Ma, ek wil ’n boetie hê!” Jy pluk aan Ma se rok.
“Ag nee, Kotie, nie weer daardie ou storie nie. Ek het mos gesê dis onmoontlik. Jy is groot genoeg om te verstaan as ek vir jou sê ek kán nie vir jou ’n boetie gee nie.”
Jy huil en gaan lê plat op die mat. “Almal het boeties, ek wil ook een hê! Hoekom kry ander mammas babetjies en net Ma nie?”
“Ek het jóú tog gekry,” sê Ma vies. “Staan nou op, dan gaan kyk jy of ons kapokkie al ’n eier gelê het.”
Op jou sesjaaroudbene hardloop jy hoenderhok toe, voel ’n eiertjie onder die kapokhennetjie, gryp dit en hol terug huis toe. So hard jy kan, gooi jy die eier neer en dit breek, die geel mors en jy trap daarin, jy spring daarop totdat Ma jou aan die arm wegsleep en begin piets.
“Nog honger?” vra Ma en kyk op.
“Natuurlik nie. Maar daar is iets wat ek moet …”
“Wat is dit?” vra Ma ongeduldig.
“Toe maar.” Nors loop sy boekrak toe.
“Sê tog wat jy soek, Kotie!” Ma se stem eis ’n antwoord.
Nou word Kotie self kwaad. “Wat maak dit tog saak! Hoekom pla dit Ma wat ek soek?”
“Ek kan dalk help, dis al.” Ag hoender, nou’s Ma weer seergemaak – en sý voel skuldig.
“Sommer iets oor bang,” mompel sy. “Hoe mens ’n kleintjie afleer om bang te wees.”
“Huishoudkunde-taak?” Ma staan op en kom trek ’n dik boek tussen die ander uit. “Dit klink te sielkundig vir standerdsewes. Hierin sal jy in elk geval iets kry.”
Verwonderd vat sy die boek. “Hoekom het Ma dit aangeskaf?”
“Ek moes tog weet hoe om jou groot te maak.” Ma klink weer ongeduldig.
“Wonder hoekom,” brom sy. “Dis tog Pa en Agnes wat na my gekyk het.”
“Omdat ek baie besig was met ’n nuwe program by die radio!” raas Ma. “Later, toe dit begin beter gaan het, wou jy van mý niks weet nie!”
“Wat het láter gehelp?” verwyt sy, en skrik vir haar vermetelheid.
Ma antwoord nie, kyk net vinnig na haar met ergernis in haar oë – of dalk iets anders, Kotie weet nie.
“Wil vir Pa iets vra.” Sy maak dat sy wegkom.
Daar is nie rêrig iets om te vra nie. Sy soek in die rak agter Pa se kop na die groen boek waaruit hy altyd vir haar stories gelees het toe sy klein was. Die blaaie is al voos gevat, maar dit maak nie saak nie – dis haar en Pa se boek, was vandat sy haarself ken. Sy gaan vir die dogtertjie hieruit stories lees, al verstaan sy nog niks. Net om dit te hoor, om te weet dit word spesiaal vir háár gelees, moet vir haar iets beteken.
Miskien kan sy tóg vir Pa van die kind vertel, en Pa kan vir Ma …
“Hoe gaan dit deesdae met jou skrywery?” vra Pa.
“Ag, ek skryf nie juis nie.” Pa het vir haar ’n pragtige lêer gekoop met los velle papier daarin wat sy kan gebruik vir skryfwerk. Hy het agtergekom dat sy soms gediggies neerkrap en wou dit selfs lees, maar dit wou sy nie hê nie. Watse kastige belangstelling is dit ook, dit het niks met hom of Ma te doen nie.
“Jy moet aangaan daarmee,” moedig Pa aan. “Jy het talent. Jou punte in Afrikaans wys dit.”
“Ja, Pa. Nag, Pa.”
Sap. Sy moet ’n bekertjie lemoensap saam met die groen boek buitekamer toe vat. As die kleintjie nie melk wil drink nie, is sy dalk lus vir ’n koeldrankie. Dalk het sy nog nooit geproe hoe so iets smaak nie, dan kan sy ook nie daarteen reageer nie.
Tjokka lê nog langs die dogtertjie toe sy teruggaan. Die kind lyk so voëltjieklein dat Kotie haar opraap en woes teen haar druk. Dit laat die stuk laken afval. Nou ja, die ding was in elk geval weer nat.
“Jy moet van my leer hou,” fluister sy teen die maer nekkie. “Kyk, hier is vir jou sap.”
Sy kantel die beker effens teen die toegeklemde lippies, sodat van die geel vloeistof teen die kennetjie afdrup. Die punt van ’n tongetjie wys en lek versigtig. ’n Slukkie word uit die beker geneem. Dit laat die kleintjie stik, maar haar lyfie kry nie weer rukkings nie en sy gly los en gaan plat lê. Nou ja, ’n sluk is darem beter as niks.
Toe sy weer ’n stuk laken om die kleintjie gevou het en met haar in die arms sit, sê Kotie: “Jy moet nóú ’n naam kry wat by jou pas. Sonder naam kan jy mos nie mens wees nie, hmmm?”
Lank sit sy so op die bed, sommer in die maanlig. Die Sint Bernard slaap met sy kop op haar bene. Dofweg hoor sy Wolle nog af en toe tjank. Sy moet wonder: wat van môre? Sy kan mos nie skool toe gaan en hierdie asempie net so los nie. Vir Ma-hulle vertel? Vroegoggend is hulle altyd haastig werk toe.
Agnes moet maar tot die middag sorg. Sy’t self kinders, sy’t vir haar wat Kotie is, grootgemaak. Tjokka sal haar help.
Die maan … Waar is jy, Blits?
Ons vlieg by die sterre en die maan verby, ver weg van Mamaia en Pappadoek. Dan duik ons terug tot op die maan. Ek is bly; ek wil net vinnig na die berge gaan kyk, na dié aan die kant wat weggedraai is van die aarde, sodat niemand dit ooit sien nie.
Maar nee! Hard kap ek Blits met my hakskene dat hy moet koers kry aarde toe, af … af … Ek is Kootja en ek moet teruggaan – vinnig, vinnig terug na die kleine vir wie ek moet sorg. Gou, Blits!
Sy ruk wakker, lê die dogtertjie langs haar op die bed neer en weet skielik so helder asof die maan tot binne-in haar skyn: die kind se naam is Tama. Sy is onder ’n tamarisk aan haar gegee.