Читать книгу Rabbedoe se temmer - Elza Rademeyer - Страница 3

1

Оглавление

Prokureur Jacob Malan ruk van die skrik toe Vicky Webster sy kantoordeur agter haar toeklap dat die gebou se mure tril. Hy hys hom uit sy stoel om haar agterna te sit; om te vra waar haar maniere is, maar dan bedink hy hom en sak sugtend terug op die stoel.

Dit sal tog nie help nie. Sy sal net uitbrei op haar skeltaal: dronkgat, bedrieër, grootste skelm op aarde … Hy kan nie eens al die onwelvoeglike name onthou wat sy hom toegedig het nie. Asof dit sý skuld is dat die geldmatjie skielik onder haar voete uitgeruk is! Meen te sê, die hele dorp het geweet haar oorlede vader was besig om, met permissie gesê, sy agterent te sien. Waar sit die klein helleveeg se oë dan?

Hy staan gebelg op en stap na die boekrak. Toe loer hy vlugtig deur toe, trek die bottel jenewer agter die boeke uit en draai die prop af. Dis mense soos sý wat hom noop om dan en wan ’n ietsie ter versterking van sy senuwees te gebruik, verskoon hy homself toe hy die bottel lig en voor sy mond sit.

Dawid Steenkamp raap sy boeteboekie op en spring só vinnig op dat die stoel tussen die koeltebome reg agteroor slaan toe ’n bloedrooi sportmotor teen ’n duiselingwekkende spoed oor die bult gejaag kom. Hy kan sy geluk nie glo nie. Dis sy eerste dag op die Calitzdorp-pad en hy hét hom! Sommerso op die heel eerste dag by sy nuwe werksplek gaan hy sy staal wys. Dié ou gaan betaal dat hy bars!

Vicky los ’n kragwoord toe sy oor die pypies jaag en ’n verkeersman armswaaiend voor haar in die pad spring. Sy rem dat die bande fluit, mis hom rakelings en laat sak blitssnel haar motor se ruit.

“Wil jy hê ek moet jou vrek ry, jou sot! Wat wil jy hê? As jy my ’n boete wil gee, moet jy dit blerrie gou doen. Ek is haastig!”

Dawid hakkel al van kleintyd af so effens. Senuweeagtigheid vererger dit. Maar toe hy naderstaan, raak hy heeltemal stom. Hy’t in sy lewe nog nooit so ’n mooi meisie gesien nie. Lang, krullerige raafswart hare, die mooiste groen oë, kuiltjies in die wange …

“Wat staan jy my so en aangaap? Gaan jy my skryf of wat?” word sy dromerige gedagtes kortgeknip.

Hy skraap sy keel. “Hoekom is … is … jy so haa- … haastig?”

“Dit het niks met jou uit te waai nie!”

“Jy’t … soos die duiwel gejaag.”

“Vertel my iets wat ek nie weet nie.”

Hy skraap weer sy keel en haal die boeteboekie uit sy hempsak. “U naam, asseblief?”

“Vicky Webster.”

Hy begin skryf. “Vicky … Sê my, jy’s nie dalk oom Thomas … Ek bedoel, oorlede oom Thomas se dogter nie?”

“Die einste. Maak klaar. Ek het nie tyd om te verspil nie!”

“Van die plaas … Riet- … Rietvlei?”

“Ja.”

Hy wil verdrink in haar groen oë, en sluk dat sy adamsappel wip. “Eintlik is ons bure. My pa-hulle bly op Bossieskop, net langsaan. Hy’t die plaas nou so ’n maand of wat gelede van oom Jaap Pretorius-hulle gekoop,” vertel hy. “Ek het gister hier aangekom. Dis vandag my eerste werksdag by die verkeersdepartement hier op die dorp.”

“En wat moet ek nou met dié geskiedenis maak?”

“Ek sê maar net.” Hy gee ’n kuggie en skraap sy moed bymekaar. “Wat doen jy vanaand?”

“Ek gaan my pistool vat en elke siel wat by ons plaas se hek probeer inkom se kop wegblaas, dís wat ek gaan doen!”

Dawid se oë rek. “Jy sal van moord aangekla word.”

“Deur wie? Deur jou?”

“Nee, deur die mense wat op die lyke afkom.”

“Luister, is jy onnosel of probeer jy grappies maak?”

Hy ruk hom reg en skeur sy blik weg uit die blitsende groen oë. “Jy lyk vreeslik ontsteld. As jy my sê wat verkeerd is, kan ek dalk jou boete verminder.”

Sy slaan ongeduldig met haar hand teen die stuurwiel. “Ek sal jou sê wat dit is: dis daardie blerrie skelm prokureur. Hy suip nie net soos ’n vis nie, hy besteel en belieg al wat leef en beef! Nou kom staan en vang jy ook nog onskuldige mense!”

“Regtig? Wat het hy gesteel?”

“Hy’s van plan om al my pa se geld te steel!”

“Maar jou pa is dan dood. Hoe kan hy hom besteel?”

“My pa se boedel, man! Hy probeer my wysmaak my pa was vrot van die skuld. Dat selfs die plaas verkoop sal moet word om die skuld te delg. Hy dink natuurlik oor ek ’n vroumens is, sal hy wegkom met sy storie en skatryk anderkant uitstap. Maar hy maak ’n helse fout. Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Ek gaan hom ry tot binne-in Daantjie se kalwerhok!”

Dawid soek na woorde. Hy weet nie wat om te sê nie, want hy besef skielik dié meisie verkeer onder ’n misverstand wat haar pa se geldsake betref. Meen te sê, hy’t skaars hier geland toe is hy vertel hoe Thomas Webster binne vyf jaar sy eens winsgewende plaas tot niet laat gaan het met sy dobbelary en uitspattige lewenswyse.

“Waar gaan jy geld kry om die boete te betaal? Ek meen, jou oorlede pa se geld en dinge is seker nou gevries.”

Vicky sug. “Los tog net jou ellendige nuuskierigheid en maak klaar. Of ek ry en jy kan duiwel toe vlieg met jou boete en al!”

“Wat is jou adres?”

En toe hy klaar geskryf het: “Ek het jou boete aansienlik verminder. Maar jy gaan vang nie onbesonne dinge aan nie. Kan ek nie liewer vanaand kom kuier nie? My skouers is breed, as jy dalk ’n skouer soek om op te …” Hy praat nog, toe trek sy weg.

Kom kuier, verbeel jou! dink Vicky vies. Miserabele vent met sy gehakkel en harige arms soos ’n gorilla! Wat moet sy met hom maak?

Sy loer skrams na die boetekaartjie op die passasiersitplek. Heng, dis baie geld. Dan sê hy nog hy’t haar boete verminder! Toe loer sy in die truspieël. Hy’t klaar agter die bult verdwyn, so sy kan maar weer voet in die hoek sit.

’n Rukkie later draai sy op die ingewing van die oomblik in die grondpaadjie af na tant Ellie se kleinhoewe. Wat sy daar wil gaan maak, weet sy nie. Daar was nog nooit veel liefde tussen haar en dié eksentrieke suster van haar oorlede moeder nie. Maar miskien kan tant Ellie haar sê hoe sy te werk moet gaan om die skelm prokureur aan die pen te laat ry.

Die ellendige draadhek na die werf is al weer toe. Die vorige keer is sy saam met die hek grond toe, onthou sy. Sy was woedend, maar haar pa het gedink dis snaaks en wou hom ’n papie lag. Dit was die laaste keer dat sy hier op die kleinhoewe was. Maklik meer as ses maande gelede.

Toe sy die huis nader, laat spaander die hoenders na alle kante. Piet, die bokram, hardloop ook weg toe Vicky uit die motor klim en die motordeur met ’n harde slag agter haar toeslaan.

“En nou?” vra tant Ellie van die stoep af, haar hande besmeer met pottebakkersklei. “As jy soos die duiwel hier aangejaag kom?”

“Ek kom van die prokureur af. Weet tante wat sê hy vir my? Hy sê my pa se boedel is bankrot! Daar is glo skuldeisers wat alles gaan vat. Hoe moet ek maak om hom in die tronk te laat stop?”

Tant Ellie was tydsaam die klei van haar hande af en tel ’n handdoek op om dit droog te maak. “Kom ons gaan binnetoe,” sê sy. “Ek dink jy’t ’n koppie koffie nodig sodat jy kan kalm raak.”

“Ek ís kalm. Ek kan net nie verstaan dat my pa so ’n onbetroubare dronkgat aangestel het om sy boedelsake te behartig nie.”

“Jou taal, kind! Het jy hom al dronk gesien?”

“Nee, maar sy hele kantoor stink soos ’n kantien, en almal op die dorp weet hy kyk te diep in die bottel.”

“Kom,” is al wat tant Ellie sê voordat sy die huis binneloop.

“Hy moenie dink ek gaan hom laat wegkom met sy skelmstreke nie,” sê Vicky toe sy agterna trippel. “As hy weer sy oë uitvryf, sit hy met sy agterent binne-in die tronk!”

“Kind, het dit nog nooit by jou opgekom dat Thomas ver bo sy vermoëns geleef het nie?” vra tant Ellie toe sy twee koffiebekers uit die rak haal.

“Wat bedoel tante daarmee?” vra Vicky agterdogtig.

“Ek praat van sy vermorsing van geld die afgelope vyf jaar, ná jou ma se dood. Julle twee wat oorsee rondjakker, die grootskaalse onthale, jou oorle pa se spandabelrigheid wat vroumense betref, selfs hierdie duur sportmotor van jou. Wat dink jy: waar het hy aan al die geld gekom vir dié uitspattighede?”

“Maar ons is welaf! Kyk die plaas waarop ons bly! Die volstruise, resiesperde en al die dinge.”

“Die resiesperde, ja. Hoeveel van hulle is daar nog oor? En watter jaar laas het Thomas een ingeskryf vir ’n resies? Nie een keer ná jou oorlede moeder se dood waarvan ek weet nie. Hoeveel volstruise is daar nog? Nee, Vicky, jy kan maar hiernatoe en daarnatoe, feit is: jou pa het die afgelope vyf jaar nie ’n steek werk gedoen om kop bo water te hou nie. Inteendeel, hy’t dit waarvoor jou ma so hard gewerk het alles uitgemors.”

“Tante!”

“Jy’s verniet so ontsteld. Dis waar. En jy betwyfel verniet Jacob Malan se eerlikheid. Hy mag wel ’n bietjie lief wees vir die bottel, maar hy’s definitief nie ’n skelm nie. Thomas het baie mense om die bos gelei met sy sogenaamde rykdom, maar ek het nog altyd van beter geweet. Maak ’n slag jou oë oop en kyk om jou rond. Kyk hoe verwaarloos lyk die plaas! En Thomas se rondlêery by die casino daar in Mosselbaai, aand na aand. Dis ’n plek wat geld vat daardie, maar min mense stap met geld daar uit.”

“Maar Pa het nooit laat blyk dat hy swaarkry nie!”

Tant Ellie skink die kookwater op die koffiepoeier in die koppies. “Nee, hy sou nie. Hy was nie die soort mens wat sou erken het dit gaan sleg met hom nie. Dié dat hy skuld gemaak het so ver hy gaan.”

Vicky wil haarself wysmaak tant Ellie praat deur haar nek, maar sy kry dit nie heeltemal reg nie. Daar wás dinge omtrent haar pa se sake wat haar ook teen die bors gestuit het. Soos die duur juwele wat hy vir sy vroulike aanhangers gekoop het. En dan het hy skaars met die een vroumens uitgegaan, of hy los haar vir ’n ander.

Sy weet ook die mark vir volstruise is nie meer wat dit vroeër was nie. En haar pa hét van die perde verkoop. Hy’t nog gekla oor hulle hom net ’n appel en ’n ei betaal het vir die perde, en toe sy wou weet hoekom hy hulle dan verkoop, was hy ontwykend. Boonop hét hy baie casino toe gery, amper heelnag daar gebly, en dan tot wie weet watter tyd die volgende dag gelê en slaap.

“Ek weet nie wat jy gaan maak nie,” sê tant Ellie. “Maar jy besef seker jy sal dadelik vir jou ’n werk moet soek.”

“Werk! Waar gaan ek werk kry? Ek het dan net matriek. Pa het gesê dis nie nodig dat ek universiteit toe gaan nie, want meisies trou, en dan het hulle nie boekgeleerdheid nodig nie.”

“Enige mens wat wíl werk, sal werk kry. Anders sal jy vinnig ’n ryk man moet soek.”

“Johny het geld.”

Tant Ellie frons. “Wat hy waar kry? Hy’s dan nog op universiteit.”

“Ja, maar ek bedoel sy ouers is welaf. Hy hét al gevra of ek met hom sal trou sodra sy studies klaar is.”

“As jou kop werk soos ek dink hy werk, moet jy hom laat lees. Ek het dit as ’n grap bedoel toe ek gesê het jy moet ’n ryk man soek. Johny is in elk geval ook nie die regte man vir jou nie.”

“Hoekom nie?”

Tant Ellie gee ’n suggie. “Omdat jy hom morsdood sal leef. Hy’s hopeloos te sag. Net ’n man met ’n ysterhand sal jou kan tem. Een wat gesag inboesem en jou kan kortvat.”

“So dit moet ’n man wees wat my neuk en vloek! Nee, dankie. Dis nie die soort man wat ék wil hê nie.”

Tant Ellie skud maar net haar kop. Sy kan nie anders as om met ’n tikkie jammerte te wonder wat van hierdie bedorwe susterskind van haar gaan word nie. Vicky was van kleins af moeilik. ’n Eiesinnige, wilde rabbedoe wat nie vir die duiwel stuit nie. Die enigste mens wat haar darem so op ’n manier in toom kon hou, was haar ma. Maar ná dié se dood … Thomas het hom min gesteur aan die opvoeding van sy dogter. Hy’t haar net ingestop met materiële dinge en haar toegelaat om haar gang te gaan. Nee, Vicky sal seker maar op die harde manier moet leer die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie.

“Daar sal darem seker iets vir my oor wees wanneer die skuldeisers met die boedel klaar is,” mymer Vicky. “Die skuldeisers kan tog nie alles vat nie!”

“Dit moet ons maar sien. Die plaas is nie veel werd soos hy nou daar uitsien nie. En hierdie duur motor van jou … hy sal seker ook teruggevat word. Nugter alleen weet hoekom jou oorle pa so ’n duur ryding vir jou gekoop het. Jy’s skaars mondig en nog so nat agter die ore dat jy hom tog nie waardeer nie.”

“Dis nie waar nie. Ek kyk mooi na hom.”

“Dit lyk nie vir my so nie. Hoekom was jy hom dan nie? Kyk hoe vol modder is hy.”

“Dit was met Pa se dood … die begrafnis en dinge. Ek het vergeet om hom te laat was. Ken tante die mense wat Bossieskop gekoop het?”

“Ek het hulle nog nie ontmoet nie. Maar soos ek anderdag op die dorp verneem het, is hulle darem nie sulke snobs soos my buurplase se mense nie.”

“Hulle seun het my netnou langs die pad voorgekeer. Hy’s ’n spietkop.”

“Jy bedoel seker ’n verkeerskonstabel? Vir wat het hy jou voorgekeer?”

“Vir spoed. Ek het te vinnig gery. Toe gee hy my ’n helse boete.”

“Hoeveel?” Tant Ellie fluit toe Vicky die bedrag noem. “Nou vir wat het jy so gejaag?”

“Ek was die hel in vir die prokureur.”

“Vicky, ek wil nie vir jou preek nie, maar jy sal beslis iets aan jou taalgebruik moet doen. ’n Opgevoede meisie praat nie so nie. Allermins een wat op soek is na werk. Geen mens sal jou werk gee as jy so lelik praat nie. Jou oorle moeder sal in haar graf omdraai!”

“Toe maar, ek wil nie ’n preek hoor nie. Ek is nie in die bui daarvoor nie.”

“Waar gaan jy die geld kry om die boete te betaal?”

Vicky lig haar skouers. “Ek het darem ’n paar rand in my bankrekening. Maar hulle kan wag tot die boedel afgehandel is. Ek is nie haastig nie.”

“Daar lê vir jou swaar tye voor,” sê tant Ellie kopskuddend. “Jy sal gou leer wat die lewe behels wanneer ’n mens vir jouself moet sorg.”

Toe Vicky ’n ruk later oor die motorhek by Rietvlei ry, kyk sy aandagtig rond. Sy skrik vir wat sy sien. Tant Ellie is waaragtig reg. Die plaas ís erg verwaarloos. Die eens netjiese wit pale van die perdekampe se heinings hang skeef. Net hier en daar is een wat wys dat hulle eens op ’n tyd geverf was. Die bosse het al twee die perdekampe so te sê heeltemal ingeneem.

Dis in ’n groot mate haar skuld ook dat die plaas so agteruitgegaan het, dink sy met ’n plotselinge skuldgevoel. Want na haar ma se dood het haar belangstelling in die perde en plaasdinge gekwyn. Die huis was te stil en te leeg sonder haar ma. Sy’t liewers saam met haar pa die buiteland besoek, of vir haar vriendinne gaan kuier.

Hulle huis lyk net so sleg, merk sy op. Enige mens kan sien hy kort verf. Genade ons, waar is die werksmense dan? Kan hulle nie die plek netjies hou nie!

By die bestuurder se huis hou sy stil. “Waar’s jou pa?” vra sy vir die kind wat oor die onderdeur loer.

“Pa is hier binne.”

“Roep hom. Ek wil met hom praat.”

En toe Johannes naderkom: “Waarmee is jy besig? Hoekom lyk die plaas so sleg? Kyk net die perdekampe se heinings. Jy moet dadelik toesien dat dit reggemaak en geverf word. Dieselfde met die huis. Kan jy nie sien dit het verf nodig nie? En die bosse is besig om die lande oor te vat. Moenie dink noudat my pa dood is, kan julle terugsit en niks doen nie!”

“Jammer, juffrou, maar wie gaan my betaal? Meneer Thomas het my twee maande voor hy oorlede is laas betaal. Ek kan nie verniet werk nie. Ek is in elk geval besig om my goedjies te pak. Meneer Schoeman van die buurplaas het gesê ek kan vir hom kom werk. Ek wou juis vir juffrou kom sê my huis sal môre ontruim wees.”

Vicky se mond gaan oop om hom uit te skel, maar dan onderdruk sy haar woede. Wat sal skel help? As hy wil loop, moet hy loop.

“Waar is Karel?”

“Hy’s eergister al weg, juffrou. En Pieter is al twee weke gelede hier weg. Ek meen, wat help dit ons bly hier as ons nie betaal word nie? Ons het vrouens en kinders wat moet eet.”

“Is almal weg? Is hier niemand oor nie?”

“Dis nog net ek, juffrou. Maar soos ek gesê het, ek gaan by meneer Schoeman werk. Hy’s nie ’n man wat sukkel om sy werksmense te betaal nie.”

Vicky ry verslae huis toe. Sake is nóg erger as die prentjie wat tant Ellie geskilder het!

Wat gaan sy doen? Al wat oor is, is sy en die plaas – ’n plaas wat in die weegskaal hang. Wat volgens Jacob Malan verkoop sal moet word om die ellelange lys skuldeisers te betaal.

Toe sy die huis binnegaan, loop sy dadelik studeerkamer toe. Sy trek die lessenaar se laai oop waar haar pa sy tjekboek gehou het. Die bedrae op die teenblaaie slaan haar asem weg. Dit beloop derduisende rande. Sy kyk na die datum op die teenblad van die laaste tjek. Dit was vyf maande gelede: ’n paaiement op haar motor.

Toe sy die tjekboek wil terugsit, val haar blik op ’n spul opgestapelde korrespondensie. Haar skok is groot toe sy sien dis rekeninge. Rekeninge, aanmanings, laaste waarskuwings … Nou verstaan sy sommer ook hoekom haar pa in die laaste maande voor sy dood so weggeskram het wanneer sy hom daaraan herinner het dat hy nog nie haar sakgeld in haar bankrekening inbetaal het nie.

’n Klop aan die kombuisdeur maak dat sy vinnig die papiere terugbondel en die laai toedruk. Dis egter net Klara, Johannes se vrou.

“En nou, as jy aan die deur klop?” vra Vicky verbaas.

“Ek kom net groet.”

“Groet?”

“Ja, juffrou Vicky. Ek kan mos nie agterbly as Johannes vir meneer Schoeman gaan werk nie. Ek is jammer ek moet jou in die steek laat, maar jy sal darem seker gou weer ’n huishulp kry. Daar is darem nog van gisteraand se kos in die yskas wat jy vanaand kan eet. Maar jy sal kruideniersware moet koop. Daar is nie meer veel te ete in die huis nie.”

Vicky is nie gewoond aan huil nie. Maar daardie aand huil sy haar aan die slaap. Oor haar pa dood is, oor sy haar in so ’n gemors bevind, en oor sy geen idee het wat van haar gaan word nie.

Die volgende dag is sy dwalende. Dan is sy buite, en dan weer binne die huis. Toe sy honger word, maak sy die yskas se deur oop. Dis leeg. Daar is ’n klein pakkie vleis in die vrieskas, maar sy het nog nooit in haar lewe kos gaargemaak nie. Dit was Klara se werk.

Uiteindelik eet sy maar brood en konfyt, en dwaal dan weer buitentoe. Sy skrik toe sy by die perdekamp kom en sien daar is nog net ses perde oor. En dis duidelik dat hulle brandmaer is. Sy maak die hek oop. Die plaas is groot; iewers sal hulle hopelik iets te vrete kry.

Toe gaan maak sy sommer ook die hekke van die volstruiskampe oop. “Kom maar uit,” nooi sy hulle. “Gaan soek vir julle kos. Ek het niks om vir julle te gee nie.”

Toe sy die huis binnegaan, val die stilte haar op. Sy loop terneergedruk kamer toe. Haar bed lê nog net so wanordelik soos toe sy vroeër hier uit is. Sy sal hom self moet opmaak.

Die aand toe Johny bel en sê hy kom vir die naweek huis toe, wil sy dadelik weet of hy reguit na haar toe gaan kom.

“Nee, ek sal eers ’n bietjie later by jou ’n draai kan maak. Ek moet eers my ouers gaan groet en uitpak. Maar ek is bly jy klink so opgewonde. In die laaste tyd was jy altyd so besig wanneer ek bel dat ek al begin glo het jy gee nie meer vir my om nie.”

“Jong, ek kan nie wag dat jy kom nie. Ek het só baie om jou te vertel!”

Sy bly ’n rukkie langs die telefoon staan nadat die gesprek beëindig is. Dis nie snaaks dat hy dink sy gee nie meer om vir hom nie, gaan dit deur haar gedagtes. Want haar aanvanklike verliefdheid het lankal gekwyn, en sy het hom buitendien nog nooit as trou-potensiaal beskou nie. Hy het baie gewoontes en dingetjies wat haar nie aanstaan nie. Hy is ook nie eens besonder aantreklik nie. Sy hare is te yl, en sy haat die ou donkerraambril wat hy dra. Om die waarheid te sê, sy het al daaraan begin dink om hom af te sê. Maar ná dese sal sy weer moet dink.

Die volgende dag toe sy dorp toe ry om te gaan kos koop, gewaar sy nie die perde of volstruise in die kampe naby die huis nie, dus glo sy hulle wei agter die rant in die vlei. Haar geld is min, maar sy moet kos hê om aan die lewe te bly. Hopelik sal haar pa se boedel vinnig afgehandel word. Dalk is die skuld nie so baie nie, en sal die plaas nie verkoop hoef te word nie. Sy sal wel iemand vind wat vir haar kan boer.

Haar gedagtes is so besig met die benarde posisie waarin sy haar bevind dat sy vinnig moet rem om nie onder ’n trop volstruise in te jaag toe sy oor ’n bult gaan nie. Vervlakste goed! Moet ook nie dink hulle wil padgee nie. As hulle dan voor haar wil bly hardloop tot binne-in die dorp, moet hulle dit maar doen, dink sy by haarself. Sy’s gelukkig nie haastig nie.

’n Entjie verder gewaar sy ’n motor uit die teenoorgestelde rigting naderkom. Miskien sal die onnosel goed nou padgee. Maar nee, hulle hardloop net om die aankomende voertuig, en toe kom hou die motor langs haar stil.

Niemand anders as die verkeersman nie. Wel, hierdie keer kan hy haar beslis nie skryf nie, want sy’t behoorlik gekruip agter die volstruise aan.

“O, dis jy,” sê hy. “Weet jy straks wie se volstruise dit is?”

“Nee, ek het nie die vaagste benul nie.”

“So ’n entjie agtertoe het ek ses perde ook gekry.”

Vicky skrik. “Hoe lyk die perde?”

“So bruinerig.”

“Is dit resiesperde?”

“Ek weet nie hoe lyk resiesperde nie. Lyk hulle anders as gewone perde?”

“Ek wonder of dit nie dalk ons perde is nie.”

“Is julle perde dan weg?”

“Ek het die hek van hul kampe oopgemaak. Die volstruiskamp se hek ook. Maar hulle kan mos nie oor ’n motorhek loop nie, of hoe?”

“Is daar nie dalk ’n stukkende heining waardeur hulle kon gekom het nie?”

“Ek weet nie.”

“Kom ons gaan kyk eers voordat ek hulp ontbied om die diere te laat skut. Ry jy voor, ek sal jou volg.”

Daar ís toe geen dier op die plaas te sien nie, ook nie in die vleiland nie, en ’n groot stuk heining lê plat. Die rigting van die spore laat geen twyfel dat dit straks iemand anders se vee kan wees wat hulle op die pad teëgekom het nie.

Gelukkig is Dawid hulpvaardig. Maar dis laatmiddag voordat al die diere uiteindelik terug is in ’n kamp, en Vicky is moeg en natgesweet van hardloop agter hulle aan.

“Wil jy nie vanaand saam met my op Oudtshoorn gaan fliek nie?” vra Dawid toe sy hom bedank vir sy hulp.

“Nee, dankie. My vriend kom netnou kuier.” Sy kyk op haar horlosie. “Gits, jy sal my moet verskoon. Ek moet gaan stort.”

“ ’n Ander aand dalk? Of hoe ernstig is jy en jou vriend?”

“Ons gaan trou.” Sy gesig val merkbaar.

“O. Nou maar stort dan maar lekker. Tot siens.”

Sommer met Johny se intrapslag kom Vicky agter daar is fout. Sy gesig is strak, sy soen vlugtig en sy blik ontwykend. Hulle is dan ook kwalik in die sitkamer of sy wil weet wat aangaan. “Iets hinder jou, ek kan dit sien.”

Hy gee ’n suggie. “Ja, dit sal nie help om dit te ontken nie. Dis … my ouers.”

“Is hulle siek of iets?”

“Nee, dis …”

“Dis wat?” vra sy toe hy swyg.

“Hulle wil hê ek moet my vriendskap met jou verbreek.”

Vicky se oë rek. “Hoekom? Het hulle ’n ander meisie vir jou in die oog?”

“Nee. Dis oor jou pa se bankrotskap. Hulle reken jy is nou benede ons stand.”

Sy staar hom vir ’n wyle stomverbaas aan. Toe ruk sy vererg die ringetjie wat hy met hul matriekafskeid vir haar gegee het van haar vinger af.

“Snobs! Nou verstaan ek wat tant Ellie bedoel het toe sy van die buurplase se snobs gepraat het! Vat jou ring en loop. En mag julle verstik in jul snobisme!”

“Vicky, bedaar! Ek is nie van plan om my aan my ouers te steur nie. Ek bedoel, ons sal net ’n bietjie versigtiger moet wees, mekaar dalk ’n bietjie minder moet sien tot my studies klaar is. Daarna kan –”

“Bly stil en trap!”

“Moenie onredelik wees nie.”

Sy vlieg orent en beduie na die deur. “Skoert, of ek smyt jou eiehandig by die deur uit!”

Toe sy motor wegtrek, vee sy verwoed die trane uit haar oë. Sy sal nie tjank nie. Sy sal waaragtig nie tjank nie! Laat hy maan toe vlieg met sy ouers en al!

Die volgende weke is soos een lang nagmerrie. Dis balju’s en hofbevele en voornemende kopers wat die plaas kom besigtig … Hulle vat voor die voet. Skel, soebat en smeek help niks. Elke dag moet Vicky toesien hoe hulle die huis en plaas stroop, tot daar feitlik niks oor is nie.

Uit jammerte, of wat ook al, mag sy die ou plaasbakkie hou waarmee Johannes gery het. Dis net so ’n wrak soos tant Ellie se motor uit die jaar toet. Vicky skaam haar bykans morsdood wanneer sy dorp toe moet ry om noodsaaklike dinge te gaan doen. Soos om die bietjie meubels en goed wat oorgebly het aan ’n tweedehandse meubelhandelaar te gaan verkwansel sodat sy geld kan hê vir brandstof en kos.

Toe kom raap ’n Engelsman die plaas ook op vir ’n appel en ’n ei, en bied ewe hulpvaardig aan om een van die werkershuise vir haar reg te maak sodat sy blyplek kan hê. Só laag het sy nog nie gedaal nie! Dan aanvaar sy liewer tant Ellie se uitnodiging om by haar op die kleinhoewe te gaan bly totdat daar vir haar ’n heenkome is.

’n Week nadat sy haar intrek by tant Ellie geneem het, skrik sy soms nog in die nag wakker en verbeel haar alles was net ’n aaklige droom. Maar wanneer sy haar oë oopmaak en die maanstrale sien wat deur die smal venstertjie van die spaarkamer val, weet sy dis veel erger as ’n nagmerrie. Sy wat alles gehad het, het nou niks. En om by tant Ellie te bly, is allesbehalwe lekker. Sy is niks anders as ’n slaaf nie. Vicky, doen dit … Vicky, doen dat … Kyk waar sit die son al, wanneer staan jy op?

Elke aand moet sy weglê-hoenders se neste soek. Hulle lê eiers net waar hulle wil. In die bosse, onder tant Ellie se verroeste ou motor, in die bouvallige stal … En die bloemen bok! Jy sal sweer hulle is familie, dink sy ergerlik toe hy teen haar kom druk om te kyk waar sy die eiers uit ’n nes haal.

“Voertsek, jou stinkende ding!” snou sy hom toe, maar hy blêr net en swaai sy stertjie asof hy dink dis uit pure liefde dat sy so op hom skree.

Dis dié dinge wat maak dat sy sommer instem om saam met Dawid op Oudtshoorn te gaan fliek toe hy haar op ’n dag bel. Maar die aand loop op ’n totale mislukking uit. Dawid is gans te vryerig en vatterig na haar sin. Verder hakkel, stotter en sweet hy só dat sy dankbaar is toe die aand om is.

En toe wil hy nog boonop weet of hy haar kan nag soen toe hulle by die voordeur kom.

“Nee, ek deel nie links en regs soene uit nie. Maar dankie vir die fliek.”

“Wanneer kan ek weer kom kuier?”

“Sodra Noag se ark gevind is.” Toe klap sy die voordeur tussen hulle toe.

“Vicky, kom ’n bietjie hier,” hoor sy tant Ellie vanuit die kombuis roep.

Sy’s verbaas dat die tante nog wakker is, want gewoonlik gaan slaap sy saans saam met die hoenders. Toe sy die kombuis binnegaan, sit tant Ellie langs die tafel met ’n koerant voor haar oopgesprei.

“Ek het vir jou werk gekry. Oom Jors van Volmoed het ’n draai hier kom maak en die koerant vir my saamgebring.”

“Werk?”

“Ja. Ek het dadelik gebel toe ek die advertensie hier in die koerant sien.”

Vicky laat gly haar blik vinnig oor die kleindrukadvertensie waar tant Ellie met haar vinger wys. “Wat beteken dit?” vra sy onbegrypend.

“Mevrou Maartens is haastig dat jy moet begin. Ek het vir haar gesê jy sal Maandagmiddag daar wees.”

“Begin met wat?” vra Vicky verbyster. “Praat tante van hierdie advertensie? Van die bejaarde vrou wat ’n geselskapsdame …”

“Dis net hy,” sê tant Ellie rustig. “Mevrou Maartens sê haar kinders bly ver en hulle wil nie hê sy moet langer so alleen bly nie, want sy’s al amper negentig jaar oud en haar hart is nie meer wat dit was nie. Sy soek iemand wat haar kan help as sy straks in die nag siek raak.”

“Dis nie vir my nie!” sê Vicky onthuts. “Sy soek ’n verpleegster.”

“Sy is nie siek nie. Dis net vir die wis en onwis. Sy soek eintlik net iemand wat haar eensaamheid sal verdryf.”

Vicky kyk weer na die advertensie, maar daar is net ’n telefoonnommer. “Waar bly sy?”

“In Plattekloof.”

“In die Kaap! Weet tante hoe ver is dit?”

“Wat daarvan? Wees dankbaar jy’t die werk gekry. Jy kan tog nie die res van jou lewe op mý nek lê nie.”

“O, is dít hoe die wind waai! Tante wil my so gou as moontlik hier weg hê omdat ek jou geld kos,” sê Vicky gebelg. “Nee, maar dan is dit reg so. Ek sal dadelik waai. Ek wil vir niemand op aarde ’n oorlas wees nie.”

Dog, toe sy die volgende oggend dorp toe wil ry om haar laaste spaargeldjies te gaan trek vir brandstof Kaap toe, blaas die bakkie net ’n paar swart rookdampe deur sy uitlaatstelsel voordat hy met ’n knalgeluid vrek. En verdomp of die masjien weer wil loop.

Tant Ellie kom later nadergestap van die stoep af. “Hou op om so te karring met die aansitter,” sê sy vir Vicky. “Netnoumaar is die battery ook pap.”

Vicky klim uit en klap vies die deur agter haar toe. “Wat nou? Hoe gaan ek hom by die garage kry?”

“Ken jy nie iemand wat hier na hom kan kom kyk nie?”

“Nee, almal kyk my mos deesdae met die nek aan. Ek is mos nou te arm en te eenvoudig om raakgesien te word.”

“Bitterheid en selfbejammering gaan jou nêrens bring nie. Bel vir Dawid. Hy sal kan sê wat die fout is.”

“Waar kom tante daaraan dat hy sal weet wat aangaan? Hy’s onnosel verby!”

“Waar kom jy daaraan dat hy onnosel is? Vir my lyk hy na ’n baie ordentlike, opgevoede man. En toe hy jou kom oplaai het vir fliek, het hy genoem dat dit ’n stokperdjie van hom is om in sy vrye tyd aan voertuie se masjinerie te werk. Toe, loop bel hom.”

Kwalik ’n uur later maak Dawid dan ook sy opwagting nadat Vicky hom teësinnig gebel het.

Maar dis nie lank nie, of hy klap die masjienkap toe om met iets soos bejammering na haar te kyk. “Jy kan hierdie bakkie maar afskryf. Hy’t bearings geslaan.”

“Wat beteken dit?”

“Dit beteken hy sal ’n nuwe enjin moet kry. Maar dis nie al nie. Sy bande is so glad soos seep, sy uitlaatstelsel is vol gate, en hy’s so geroes dat dit ’n nuwe bakkie se geld sal kos om hom weer op die pad te kry.”

“Nou wat gaan ek doen? Ek moet Maandag in die Kaap wees!”

“Wat moet jy daar gaan maak?”

“Ek gaan daar werk.”

“Vir altyd?”

“Hoe moet ek weet vir hoe lank ek daar gaan wees! Seker ten minste tot die prokureur eendag klaar is met die boedel.”

“O. E … wat van jou kêrel? Kan hy jou nie vat nie?”

“Ek het nie meer ’n kêrel nie. Hy’t my gelos toe hy hoor van my pa se skuld.”

Hy glimlag ineens breed. “Ek moet Maandag werk, maar ek sal hoor of ek kan af kry, dan vat ek jou.”

“Nee, los maar. Ek sal wel ’n plan bedink. Wat skuld ek jou vir dié dat jy na die bakkie kom kyk het?”

“Niks. Kan ek vir jou kom kuier daar in die Kaap?”

“Nee.”

“Hoekom nie?”

“Sommer nie.”

Hy kyk op sy horlosie en trap ongemaklik rond. “Ek sal moet ry. Eintlik is ek op diens en as hulle uitvind ek is nie op die pad nie, kan ek in die moeilikheid kom.”

“Nou ja toe, ry dan.”

“Jy sal darem iets vir die bakkie kan kry as jy hom skrootwerf toe vat.”

“Dan moet ek hom seker op ’n kruiwa laai en stoot tot daar. Nee, los maar. Ek sal regkom.”

Toe Vicky moedeloos die nuus van die bakkie aan tant Ellie oordra, sê dié ewe kalm: “Ek het ’n vermoede gehad daar is groot fout, en het toe maar besluit om Jorsie vir jou te gee. Dis net werk om elke dag sy masjien vir ’n ruk te laat loop sodat sy binnegoed nie vas roes nie. Ek raak buitendien te oud vir rondry. Maar ek waarsku jou, as jy hom nie mooi oppas nie, vat ek hom terug.”

“Jorsie … Tante bedoel ek moet met daardie jaar-toet-motor van tante Kaap toe ry!”

“Hy’s meer betroubaar as wat die bakkie was. Sorg net dat jy nie sy masjien ooreis nie. Jy ry niks vinniger as honderd kilometer ’n uur met hom nie. En voor jy ry, moet jy hom was. Hy sal baie beter lyk as hy skoon is.”

Daardie nag slaap Vicky omtrent glad nie. Sy’t al die spreekwoord “Hoogmoed kom tot ’n val” gehoor. Nou ken sy die betekenis daarvan. Nie dat sy haarself al ooit as hoogmoedig geag het nie, maar dis min of meer dieselfde ding wat met haar gebeur het. Die een oomblik was die toekoms nog blink en belowend, nou is dit vaal en verdoemend. Sy’t gedartel deur die lewe, nou strompel sy voort sonder hoop op enige toekoms.

Wat gaan die mense van haar dink as sy in so ’n ou stuk tjor daar in die Kaap aankom? En wat op aarde weet sy van ou mense met hartkwale? Die heel ergste: sê nou tant Ellie se voorspelling is reg en daar is niks geld oor wanneer die skuldeisers klaar is met hul eise nie? Sal sy dan vir die res van haar lewe met ou mense moet gesels om aan die lewe te bly?

Dat dit so ’n groot werk is om ’n motor te was, het Vicky nie kon dink nie. Boonop stamp Piet die emmer water twee keer om. Sy is seker dis van pure moedswilligheid oor sy hom die vorige aand in die murasie van die ou stal gaan toesluit het sodat sy ongesteurd die eiers kon uithaal.

En beter lyk is min! Die motor se duike en stampe is eintlik net nog meer sigbaar. So ook die twee groot roeskolle waar die hekpaal die verf afgeskraap het. Tant Ellie was nooit ’n wafferse bestuurder nie.

Maandagoggend toe sy moet ry, stap tant Ellie saam buitentoe.

“Nou is jy gereed om die eerste sport van die leer te klim,” sê sy. “Sorg dat jy bo kom. As jou ma dit kon regkry, kan jy ook. Moenie soos jou pa maak en van bo af ondertoe klim nie.”

Daarmee druk sy ’n paar note in Vicky se hand. “Gelukkig gaan jy geen onkoste met verblyf en dinge hê nie. Mevrou Maartens het gesê jy slaap en eet by haar in die huis. So gebruik hierdie geld om vir jou ’n spaarrekening te open. Jy sal verbaas wees om te sien hoe gou kry ’n mens iets bymekaar as jy nie jou geld vermors op onnodige dinge nie.”

“Dankie, tante. Hopelik sal ek eendag vir tante ook ’n klip uit die pad kan rol. Sodra ek daartoe in staat is, sal ek die geld teruggee. En baie dankie ook vir die afgelope tyd se huisvesting.” Sy laat haar blik oor die werf dwaal, en ervaar skielik iets wat soos hartseer voel. “Ek hoop die henne lê goed, en dat Piet nie die pad sal vat nie.”

Tant Ellie pink ook onverwags ’n traan weg. “Mooi ry, en moenie mevrou Maartens se adres verloor nie.”

“Hoe ’n soort mens was my ma, tant Ellie?” vra Vicky, traag om te ry.

“Jy’t haar mos geken. Jy was dan al sewentien toe sy dood is.”

“Ek weet, ja. Maar na wie aard ek? Na haar of na my pa?”

“As ek moet sê, het jy iets van albei in jou. Maar jou rabbedoestreke en gekruide taal kom definitief nie van jou ma af nie. Sy was ’n verfynde dame. Tog kon sy op haar punte staan. Sonder haar sou jou oorlede pa van die begin af tot mislukking gedoem gewees het. Jou pa het die plaas by sy ouers geërf, maar as dit nie vir jou ma was nie, sou Rietvlei nooit die spogplaas geword het waarop jy grootgeword het nie. Die toekoms sal leer of jy jou ma se staal in jou het, en of jy ook sommer net deur die lewe gaan ploeter soos jou pa. En nou moet jy ry, dit word laat.”

Rabbedoe se temmer

Подняться наверх