Читать книгу Rabbedoe se temmer - Elza Rademeyer - Страница 4

2

Оглавление

Sy sal tant Ellie wys sy is nie soos haar pa nie, neem Vicky haar voor toe sy die draadhek agter haar toemaak en haar blik vir oulaas oor die werf laat gly. Sy sal uitstyg in die lewe. Elke sent wat sy verdien, gaan sy spaar. Kort voor lank kom koop sy Rietvlei onder die Engelsman se bas uit!

Die pad is lank. So nou en dan kom sy agter Jorsie se spoedmeter toon aan dat sy te vinnig ry. Dan verminder sy teësinnig spoed, want nugter weet wat sy gaan maak as Jorsie haar in die steek laat. Dis nie meer die tyd toe sy haar pa kon skakel in noodgevalle en woerts-warts was sy geholpe nie. Maar nou ja, sy sal haar deur niks laat onderkry nie. Buig of bars, sy sal die heel boonste sport bereik! En nie wanneer eendag nie, sommer baie gou!

Die motor het nie lugverkoeling nie. Dis einde November en bloedig warm. Vicky is natgesweet en moeg toe sy uiteindelik by die adres in Plattekloof aankom. Vir ’n wyle bly sy sit om eers die plek in oënskou te neem. Dit lyk nie te sleg nie. Mevrou Maartens se huis is weliswaar nie so groot en modern soos die meeste ander huise in die straat nie, maar dit lyk skoon en netjies.

Sy knap eers vinnig haar grimering op voordat sy voordeur toe stap en die klokkie druk. Die vrou wat die deur kom oopmaak, is nie meer so jonk nie, maar sy lyk ver van twee en negentig af. Die wyse waarop sy vraend bekyk word, sê vir Vicky die vrou weet nie mevrou Maartens verwag haar nie.

“Goeiemiddag,” groet sy dus vriendelik. “Ek is Vicky Webster, mevrou Maartens se nuwe geselskapsdame. Sal u asseblief vir haar sê ek is hier?”

Die vrou frons. “Maar … e … Wag, kom eers binne, dan kan ons gesels.”

Vicky volg die vrou na die sitkamer en neem op ’n stoel plaas toe die vrou aantoon sy moet sit. Sy kruis haar bene en loer vlugtig rond. Antieke meublement en Persiese matte …

“U betrap my nou ’n bietjie onverhoeds,” sê die vrou. “Ek is Sarita, mevrou Maartens se dogter. My moeder het ongelukkig nie kans gehad om vir my te sê dat u op pad is nie.” Sy swyg ’n wyle, ’n hartseer trek op haar gesig. “Ek is jammer ek kon u nie laat weet nie, juffrou Webster, maar my moeder het gisteroggend ’n hewige hartaanval gehad. Sy is gisteraand oorlede.”

Vicky se oë rek. “Oorlede?”

“Ja. Uit die aard van die saak sal u diens dus nie meer benodig word nie.”

Vicky is so verslae dat sy nie weet wat om te sê nie. Gelukkig lui die voordeurklokkie.

Toe Sarita die vertrek verlaat om dit te gaan beantwoord, wonder Vicky onthuts wat haar nou te doen staan. Haar geld is so min, sy sal Calitzdorp kwalik weer haal. En wat sal tant Ellie sê as sy daarheen teruggaan? Wat ’n penarie!

Maar dan word haar gedagtes kortgeknip deur ’n manstem in die voorportaal. “Is Tersia hier?” hoor sy hom vra.

“Nee, sy werk mos nou. Ek weet nie of sy begrafnis toe sal kom nie,” hoor sy Sarita antwoord voordat daar êrens in die huis ’n telefoon begin lui.

“Verskoon my, Wouter,” klink Sarita se stem weer op. “Die telefoon hou my al die hele oggend besig. Gaan solank sitkamer toe, ek is nou daar.”

Toe kom die man die sitkamer binnegestap. En dis so amper of Vicky snak hardop na haar asem. Loshande die aantreklikste man wat sy in haar lewe nog gesien het!

Hy sien haar nie dadelik raak nie. Dog, toe sy blik op haar val, steek hy vas en staar haar verras aan voordat hy glimlag. ’n Glimlag wat haar hart reg agteroor laat tuimel. Toe kom hy nader om voor haar te kom staan.

“Ek is Wouter Hoyt,” sê hy. “En mag ek vra wie jy is?”

“My naam is Vicky Webster.”

“Is jy familie van die Maartense, of net ’n vriendin?”

“Nie een van die twee nie,” sê Vicky, en maan haarself om nie te verdrink in sy mooi bruin kykers nie. “Ek het so pas hier gearriveer as geselskapsdame vir mevrou Maartens. Ek het nie geweet sy is intussen oorlede nie.”

“Waar woon jy?”

“Op Calitzdorp.”

“Gits, dis ver. Wat gaan jy nou doen?”

Sy lig haar skouers. “Ek weet nie. Seker maar terugry Calitzdorp toe.”

Hy kyk haar vir ’n wyle opsommend aan voordat hy wegdraai en op ’n stoel teenoor haar plaasneem. “Jy kan vir ons kom werk?” sê-vra hy dan.

Sy frons. “Wat bedoel jy daarmee?”

“Ek en my broer soek toevallig ook ’n oppasser vir ons ouma. Sy woon by ons in die huis, net so drie huise verder af in die straat.”

“Is jul ouma siek?”

“Nee. Eintlik is sy blakend gesond. Haar verstand is net nie meer wat dit moet wees nie. Ons het ’n oppasser gehad, maar dié het verlede week bedank.”

“Waar is jul ouers dan? Kan julle ma nie na haar omsien nie?”

“Ons ouers is oorlede. Tans pas ek ouma Jennifer op, maar dis nie ’n man se werk nie. Ek gaan in elk geval ná die vakansie terug universiteit toe, dus moet ons dringend ’n oppasser kry.”

“Is jou ouma gevaarlik? Ek bedoel, moet ’n mens versigtig wees vir haar?” vra sy lugtig, en voel hoe haar hart bolmakiesie slaan toe hy lag.

“Nee, nie in die minste nie. Volgens die dokters is dit maar die gewone kindsheid wat sommige ouer persone opdoen as gevolg van verkalkte are. My broer het ’n advertensie in die koerant geplaas, maar tot dusver het ons nog geen reaksie daarop ontvang nie. So hoe lyk dit, stel jy belang? Ons sal jou goed betaal.” Toe noem hy ’n bedrag wat haar oë laat rek.

“Jy kom darem nou skielik op my af.”

“Ek sal jou sê wat: ek gaan stel jou voor aan my ouma, dan kan jy besluit of jy kans sien vir die werk.”

“Goed dan,” stem sy in. “Miskien is dit ’n uitkoms vir my.”

Voordat hulle verder kan gesels, kom Sarita die vertrek binne. “Sal julle tee drink?” wil sy weet.

Toe Wouter haar aanbod van die hand wys, volg Vicky sy voorbeeld, al is sy so dors dat dit voel asof haar tong aan haar verhemelte vaskleef. Hulle verlaat dus saam die huis, en toe Wouter wil weet hoe sy daar gekom het, beduie Vicky skaam na Jorsie wat in die straat staan. “Ek het met daardie motor gekom.”

“Ons huis is so naby, ek het sommer gestap,” sê hy. “Kom, volg jy my maar net met die motor.”

Vicky se bewonderende aandag is só op Wouter toegespits waar hy flink met die sypaadjie langs stap dat sy twee keer amper teen die randsteen vasry. Maar toe sy deur die veiligheidshek van sy woonplek ry, vergeet sy vir ’n wyle van die aantreklike man om die plek in oënskou te neem. ’n Massiewe drieverdiepinghuis, lowergroen grasperke, kleurryke randakkers en oeroue bome wat jou lok om in hul skaduwee skuilte te soek teen die versengende strale van die son. Voorwaar ’n lushof! Hier sal sy maklik kan nesskop.

Net toe hulle die sitkamer binnegaan, lui Wouter se selfoon. Toe hy begin praat, gaan staan Vicky solank voor een van die skilderye, maar sy kan nie anders as om te hoor wat hy sê nie. Blykbaar praat hy met iemand wat hy goed ken.

Die volgende oomblik hoor sy hom sê: “Ek het ’n oplossing gekry vir ons probleem met ouma Jennifer.” Hy luister ’n rukkie en sê dan: “Nee, dis nie iemand wat op die advertensie gereageer het nie. Hierdie meisie sou vir mevrou Maartens kom werk het, maar soos jy weet …” Stilte. “Nee, sy is nie middeljarig nie, maar sy is baie bekwaam.” Weer ’n rukkie stilte. En toe sê Wouter vererg: “Luister, ek gaan nie ’n dag langer na Ouma kyk nie! Dis nie ’n man se werk nie. Tot siens.”

En sommerso in dieselfde asem: “Kom, Vicky. Ouma Jennifer se kamer is op die tweede vloer.”

“Ek neem aan jy het met jou broer gepraat?”

“Ja.”

“Dit wou voorkom of hy nie ingenome is daarmee dat jy iemand wil aanstel om jul ouma op te pas nie?”

Die ergerlike uitdrukking op sy gesig verdwyn. “Ag, Pierre is net vol draadwerk, maar ek steur my nie aan hom nie.”

“Is hy by die werk?”

“Ja. Hy’t ons pa se sakebelange op sy skouers geneem ná ons ouers se dood. Hy sit heeldag lekker daar in sy luukse kantoor terwyl ek agter Ouma en die kinders moet aanhardloop.”

Vicky steek vas. “Kinders?”

“Die tweeling, ja. Hulle is ses jaar oud en gaan volgende jaar skool toe.”

“Hoe lank terug is dit dat jul ouers oorlede is?”

“Ongeveer twee jaar gelede.”

“Sies tog,” kry Vicky die tweeling dadelik jammer. “Dit moet erg wees om so sonder ouers groot te word. Het jy nog broers of susters, behalwe die tweeling en jou broer?”

“Die tweeling is nie familie van my nie. Ek en Pierre was ons ouers se enigste kinders. Dis oor hy die oudste is dat hy hom verbeel hy kan oor my baasspeel. En die vroumens met wie hy uitgaan, is nog erger. Sy’t niks tyd vir die tweeling nie, maar Pierre is so mal verlief op haar dat hy te onnosel is om agter te kom sy soek net ’n man met geld.”

So, dan is die tweeling Pierre se kinders, lei Vicky af. Sy vrou is dan seker dood. Of dalk is hy geskei en het hy toesig oor die kinders gekry. Sy kry egter nie tyd om Wouter verder uit te vra nie, want hy steek voor ’n deur vas en klop daaraan.

“Dis ouma Jennifer se kamer,” sê hy toe iemand binne antwoord. “Jou kamer sal die een net hier langsaan wees, en die vertrek agter ons is Pierre se studeerkamer.”

Presies wat sy te wagte was, weet Vicky nie. Dalk ’n ineengekrimpte, maer ou vroutjie met tranerige ogies. Maar allesbehalwe! Hoewel die goed versorgde vrou wat op ’n stoel langs die bed sit nie meer te jonk is nie, lyk sy op en wakker. En só belangstellend toe Wouter hulle aan mekaar voorstel dat Vicky wonder of daar regtig iets met die ouer vrou se verstand skort.

“Vicky … Die naam pas by jou,” sê sy dan ook vriendelik. “Ek is bly Wouter het oplaas ’n meisie soos jy raakgeloop. Jy moet mooi kyk na haar, Wouter.”

“Ouma het dit mis,” sê Wouter laggend. “Vicky is nie my meisie nie. Sy gaan Ouma se oppasser wees.”

“Oppasser! Ek het mos nie ’n oppasser nodig nie.”

“Ek bedoel sy gaan Ouma help met die dinge wat juffrou Jones altyd gedoen het. Ouma se pille gee, en Ouma se hare en –”

“Juffrou Jones … wie is dit?”

“Die vrou wat hier was, wat –”

“Ek ken nie so iemand nie,” val ouma Jennifer hom in die rede.

“Ag, Ouma het seker maar net ’n bietjie vergeet van haar.”

“Waar is Makkie?” wil ouma Jennifer dan weet. “Sy was netnou hier, maar ek weet nie wat van haar geword het nie.”

“Toe maar, sy sal later terugkom,” sê Wouter. “Ons groet eers, Ouma.”

Hy neem Vicky aan die arm om haar by die deur uit te stuur. “Sien jy nou hoe deurmekaar is ouma Jennifer se kop? Dit help nie ek sê vir haar jy is nie my meisie nie, sy glo net wat sy wil. En die Makkie van wie sy praat, is ’n vriendin wat haar so af en toe kom besoek. Maar tannie Makkie kuier by haar kinders in Bloemfontein en was drie maande laas hier.”

Toe draai hy die deur langsaan oop en staan terug sodat sy eerste kan ingaan. “Kom kyk of jy tevrede is met jou kamer.”

Dit kon net sowel haar eie kamer in hul huis op Rietvlei gewees het, dink Vicky by haarself. Lekker ruim, met baie kaste en ’n eie badkamer. Sy loop tot by die venster en sien dat die kamer uitkyk op die voorkant van die erf, oor die tuin en bome – ’n pragtige prentjie.

“Dit lyk goed. Ek sal lekker hier bly, as ek mag.”

“Jy mag. Ons kan netnou jou bagasie gaan haal. Kom ons gaan kyk eers waarmee die tweeling besig is.”

Sy beloer hom ongemerk toe hulle verder stap. Wat ’n beeld van ’n man! Dis nogal snaaks, dié dat hy bruin oë het. Blondekopmense het mos gewoonlik blou of groen oë.

Toe hy skielik na haar kyk, vra sy vinnig: “Hoe oud is jou ouma?” Hy moet liewer nie agterkom wat in haar gedagtes aangaan nie.

“Sewentig.”

Toe draai hy ’n deur oop en neem haar ’n kamer binne waar die tweeling met inkleurboeke op die mat lê. Hulle is duidelik verveeld, kyk skaars op. Maar toe Wouter vir hulle sê Vicky is die nuwe meisie in juffrou Jones se plek, daag daar belangstelling op die gesiggies.

“Die dogtertjie se naam is Carla en die seuntjie is Bennie,” sê Wouter vir haar. “En hierdie mooi tannie se naam is Vicky.”

“Is sy soos juffrou Jones?” vra die seuntjie. “Gaan sy ook so baie met ons raas?”

“Dit gaan afhang van hoe soet of stout julle is,” sê Wouter.

Die dogtertjie betrag Vicky nuuskierig. “Sal jy met ons speel?”

“Ja, sy sal met julle speel,” gee Wouter antwoord. “Maar nie nou dadelik nie. Vicky moet eers haar tasse gaan uitpak.”

“En die kinders se ma?” sê-vra Vicky toe hulle weer in die gang kom. “Is sy oorlede?”

“Ja. Het ek jou nie gesê nie? Sy’s twee jaar gelede oorlede. Haar familie wou nie die kinders hê nie, toe het Pierre besluit hulle moet dan maar hier bly.”

Genade ons, watse soort pa is Pierre dan, wonder Vicky by haarself. Dat hy die kinders vir sy oorlede vrou se familie wou gee! ’n Mens gee mos nie jou kinders weg soos hondjies nie! Dis geen wonder Wouter praat so half neerhalend van sy broer nie. Dis dan sulke mooi kinders. Al is hulle ook hóé stout, sou sy dit nooit oor haar hart kon kry om hulle weg te gee as hulle háár kinders was nie.

Aan die bopunt van die trappe kom hulle ’n vrou teë. Sy betrag Vicky fronsend toe Wouter vir haar sê Vicky is die nuwe dame wat na ouma Jennifer gaan omsien.

“Ek het dan gedink meneer Pierre het gesê hy soek ’n middeljarige –”

“Dis nie Pierre wat die aanstelling gedoen het nie, Johanna. Dis ek,” knip Wouter haar kort. “Pierre is nie die enigste persoon wat seggenskap het in hierdie huis nie.”

Johanna se blik rus so kil op Vicky dat sy bly is hulle verspeel nie tyd in die ouer vrou se teenwoordigheid nie. Sy verbeel haar sy kan die vrou se donker oë in haar rug voel boor toe hulle wegstap.

“Johanna is die skoonmaker,” lig Wouter haar in. “As dit van my moes afhang, het ek haar lankal die trekpas gegee. Maar Pierre se meisie het gesorg dat sy die werk hier kry, so teen wil en dank moet ons haar verduur. Jy is seker dors. Kom ons gaan eers kombuis toe voordat ons jou tasse gaan haal, dan stel ek jou aan tannie Miems voor. Sy is ons kok en sy mág maar kos maak. Jy sal vanaand proe wanneer jy by die etenstafel kom.”

Vicky voel dadelik aangetrokke tot die kort, mollige vroutjie met die goedige gesig. Sy word dan ook goedkeurend betrag en hartlik welkom geheet.

“Dis tog goed Pierre het sy gedagte van ’n middeljarige vrou as oppasser vir ouma Jennifer en die kinders laat vaar,” sê sy vir Wouter. “Veral wat die kinders betref. Middeljarige mense weet nie hoe ’n kind se kop werk nie, en het ook nie lus vir hulle nie. Bennie en Carla is oulike kinders. Hierdie ding dat hulle heeldag in die huis moet bly, is nie goed vir hulle nie. Kinders moet buite ook speel.”

“Dit was nie Pierre se idee om Vicky aan te stel nie, dit was myne,” sê Wouter.

“O? En wat het Pierre te sê gehad?”

Wouter lig sy skouers. “Hy’t my netnou gebel, toe het ek hom vertel Vicky is hier. Hy’s mos nie die enigste mens wat besluite kan neem nie. Dis tog my huis ook.”

“Ja, maar …” Tannie Miems bly stil en kyk hom vir ’n wyle onseker aan. Toe wend sy haar tot Vicky en glimlag. “Wat van ’n koppie tee?”

“Dit sal lekker wees,” antwoord Wouter namens Vicky. “Hierdie meisie het ver gery en is seker net so dors soos ek.”

“Moet ek dit vir julle sitkamer toe bring?”

“Nee wat, ons drink dit sommer hier in die kombuis by tannie. Vicky sal nie omgee nie.”

“Goed, kry dan vir julle stoele en sit. Ek skakel dadelik die ketel aan.”

En nadat Wouter haar ingelig het oor sy kennismaking met Vicky: “Nou toe nou, wat ’n toevalligheid. Ek het al begin bekommerd raak oor Pierre se advertensie nog niks opgelewer het nie. Maar dis ook nie vreemd nie, want dis nie enigeen wat bereid is om na ou mense wat nie meer reg wys is om te sien nie. Waar het jy ondervinding opgedoen oor dié soort werk, Vicky?”

Tannie Miems se vraag neem die wind totaal uit Vicky se seile.

“Wel, ek het vir ’n tydjie by ’n tante van my gebly wat nie so gesond was nie,” antwoord sy aarselend, onwillig om te erken sy het geen ondervinding van so iets nie. “Ek het haar opgepas en versorg.”

“En wat het toe van die tante van jou geword?”

“Sy’s dood.”

Gelukkig vra tannie Miems nie verder uit nie. Iets waaroor Vicky bly is, want sy wil nie graag verdere leuens vertel nie.

“Moet ek na die kinders ook omsien?” vra Vicky vir Wouter toe hulle ’n rukkie later die kombuis verlaat.

“Ja, maar hulle is nie moeilik nie. Jy moet net sorg dat hulle nie baklei nie, betyds in die eet-kamer opdaag, en nie later as sewe-uur saans in die bed kom nie.”

En toe uit die bloute: “Kan jy swem?”

“Ja. Hoekom vra jy?”

“Kom ons gaan haal gou jou tasse, dan gaan swem ons. Hier is ’n swembad aan die agterkant van die huis. Dit sal mos lekker wees om ’n bietjie af te koel, of hoe?”

“Dit sal heerlik wees.”

“Wat op aarde is in al hierdie tasse?” wil Wouter weet toe hulle dit begin uitlaai.

“Klere.”

“Sjoe, Reinette gaan jaloers raak as sy moet weet jy besit só baie klere.”

“Reinette? Wie is dit?”

“Pierre se meisie. Daar is niks waarop sy nie jaloers is nie. Verbeel haar mos niks en niemand is mooier of beter as sy nie. Maar gelukkig is sy in London en kom eers oor drie weke terug.” Hy bly stil en betrag haar ineens aandagtig. “Hoe oud is jy, Vicky?”

“Twee en twintig. Hoekom vra jy?”

“Hm, ek dink ons moet jou so ’n bietjie jonger maak en vir Pierre sê jy’s agtien. Jy lyk in elk geval nie ’n dag ouer as agtien nie.”

“Hoekom moet ons vir hom jok?” vra Vicky verbaas.

“Omdat jy so mooi is. Reinette gaan vrek jaloers wees op jou. Sy weet egter Pierre glo ’n man wat met ’n vrou trou wat vyf jaar jonger as hyself is, moet sy kop laat lees, en sy stem natuurlik volmondig saam met hom. So as daar ’n groot genoeg gaping tussen jou en Pierre se ouderdomme is, sal sy veiliger voel.”

“Hoe oud is jou broer dan?”

“Nege-en-twintig.”

“Maar die verskil in ons ouderdomme is mos in elk geval sewe jaar. Dis meer as vyf jaar.”

“Hoe groter die gaping, hoe beter.”

“Ek kan nie sê ek is nou eers agtien nie. Dit sal beteken ek het hierdie jaar eers klaargemaak met skool.”

“Goed, ons maak dit dan twintig. Gelukkig is Pierre ’n ou met ’n sagte hart. As hy hoor jy het geen ander heenkome nie, sal sy hart gou vermurwe.”

So, Wouter neem sommer aan sy het geen ander heenkome nie, dink Vicky. Jorsie laat hom boonop seker glo sy’s sommer agter ’n bos uitgeskop. Dog, eintlik is hy reg wat die heenkome betref. Want teruggaan na tant Ellie toe wil sy tog nie.

“Die man wat daar die blare hark, is Jimmy, ons tuinier,” onderbreek hy haar gedagtes. “Ek gaan hom roep om te kom help met die dra van die tasse.”

“Wat van my motor?” vra sy toe die tasse almal in die kamer is. “Moet ek hom nie uit die pad gaan trek nie? Hy staan dan reg voor die voordeur.”

“Gee die sleutel vir my. Ek sal hom in die garage agter die huis gaan trek. Dis leeg en niemand kom ooit daar nie.”

Toe hy ’n rukkie later terugkom met die sleutel, kyk hy op sy horlosie en klik spytig sy tong. “Ek het nooit besef dis al so laat nie. Daar gaan nie vir my tyd wees vir swem nie, want ek het oor vyftien minute ’n afspraak wat ek ongelukkig sal móét nakom. Tot my spyt, want ek sou veel eerder my tyd saam met jou wou deurbring. Ouma het ’n puik gedagte geopper toe sy gesê het ek moet mooi na jou kyk.”

Sy woorde en die manier waarop hy na haar kyk, laat Vicky bloos. Sy hoop maar haar stem klink normaal toe sy sê: “Ek is groot genoeg om na myself te kyk. Gaan doen wat jy moet doen. Ek sal solank uitpak.”

“As jy ledig raak, kan jy gaan swem, of met Ouma en die kinders gesels. Sien jou later. ”

Vicky wonder wat haar take in die huis nou regtig behels. Wat sy van kinders en ou mense weet … Maar kop uittrek kan sy nie, want waar moet sy dan heen?

Toe sy klaar uitgepak het, maak sy haar kamerdeur oop om na die kinders se speelkamer te gaan. Maar in die gang loop sy haar vas teen ’n vreemde man. ’n Donkerkopman met net so ’n lelike donkerraambril soos dié van Johny.

Daar plooi ’n yslike frons op sy voorkop toe hy vassteek en bars vra: “Wie is jy?”

“Ek is Vicky Webster, ouma Jennifer se nuwe oppasser. En jy? Werk jy ook hier?”

“Ek wóón hier, juffrou Webster. En u verwys seker na mevrou Uys. Dis soos sy deur die werknemers in hierdie huis aangespreek word.”

Vicky besef dadelik dit was ’n lelike blaps wat sy gemaak het toe sy sien hoe die man se amper pikswart oë staalsplinters deur die brilglase spoeg. Sy moes van beter geweet het as om te dink ’n huiswerker of tuinier sal dié tyd van die dag in ’n netjiese snyerspak in die huis rondloop.

“Jy moet Wouter se broer Pierre wees,” sê sy oorstuur. “Die een wat ’n middeljarige vrou wou aanstel om na ouma Jenni- … ek bedoel, na mevrou Uys om te sien.”

“Dis heeltemal korrek.”

“Wel, ek is nou hier. Wat staan my te doen?”

“Waar is Wouter?”

“Na ’n pêl toe.”

Hy werp ’n vinnige blik op die ooglopend duur horlosie aan sy arm. “Ek het nie tyd om te verkwis nie. Wouter was nie by magte om u aan te stel nie. Ons sal die aangeleentheid later bespreek.”

Vicky vergeet skoon sy was van plan om na die kinders te gaan toe die studeerkamer se deur agter hom toegaan. Sy vlug verskrik terug na haar kamer en druk die deur toe, om vir ’n wyle kortasem daarteen te leun. Wat bedoel hy dat Wouter nie by magte was om haar aan te stel nie? Beteken dit sy sal dadelik haar klere moet inpak en loop?

Toe haar skrik bedaar, gaan sit sy op die bed. Wouter het gesê sy mag hier bly, en bly sal sy bly. As sy ongepoetste broer haar hier wil weghê, sal hy ’n stootskraper moet huur om haar by die hek uit te stoot! Sy slaak ’n suggie toe sy ’n motor hoor en sien dis hy wat by die hek uitry. Dit sal haar kans gee om te dink wat haar te doen staan.

Miskien moet sy ’n strategie beplan wat sal maak dat hy haar nie durf wegjaag nie. Maar wat? Dalk … as sy haar onmisbaar maak. Ten minste is Wouter en tannie Miems klaar aan haar kant. Tannie Miems het duidelik laat blyk sy hou van haar. Seker nie dat dit veel sê nie, want dit wou voorkom asof die tannie ook maar ietwat lugtig is vir Pierre. Die kinders … as sy hulle ook aan haar kant kan kry. En Johanna. Nee, los maar vir Johanna. Dié nors vrou het klaar laat blyk sy sal nie te vinde wees vir vriendskap nie.

Hoe gouer sy die kinders se guns wen, hoe beter, besluit Vicky. Sy trek haar baaikostuum aan en loop by die deur uit om hulle saam te nooi swembad toe. Maar in die gang loop sy Johanna raak. En toe dié op ’n afkerige manier vra of meneer Pierre gesê het sy mag hier aanbly, vererg Vicky haar onmiddellik.

“Ja, hy het. Meer nog, hy’t gesê hy hoop ek kry nie gou trouplanne nie, want hy sal wil hê ek moet hier bly tot die perde horings kry.” Toe loop sy kop in die lug verby die vrou en gaan die kinders se speelkamer binne. “Wat doen julle? Kom saam, dan gaan swem ons.”

Hulle staar haar lank met verbaasde uitdrukkings op die gesiggies aan. Toe sê Bennie oplaas: “Ons mag nie swem nie. Oom Pierre sê ons sal verdrink.”

“Hoekom sê julle vir jul pa oom?” vra sy verbaas. Maar toe hulle haar net grootoog aanstaar en niks sê nie, vervolg sy: “Julle het tog seker swemklere, gaan trek dit gou aan. Julle hoef nie bang te wees julle sal verdrink nie. Ek kan baie goed swem, en ek het toe ek nog op skool was ’n kursus deurloop én seereddingswerk ook gedoen. Ek sal julle leer swem. Toe, kom saam, dit gaan lekker wees.”

Die kinders raak skoon baldadig toe hulle ’n rukkie later deur die hekkie van die swembadomheining stap. “Julle moet mooi na my luister,” sê Vicky toe hulle op die rand van die swembad kom. “Ek kan net een van julle op ’n keer leer. Bennie kan eerste saam met my in die water klim. Terwyl ek hom leer, moet jy mooi kyk wat ons doen en wat ek vir hom sê, hoor, Carla.”

Die meisietjie knik plegtig haar kop. “Ek sal mooi kyk.”

Vicky vind gou uit die twee kinders is gehoorsaam. En tot haar verwondering geniet sy dit om met hulle te verkeer. Hul onskuldige kinderlike opmerkings is soms so snaaks dat sy haar lag nie kan hou nie. Soos toe hulle haar tydens ’n ruspose vertel hoe juffrou Jones gelyk het. Soos hulle haar beskryf, wil dit vir Vicky voorkom asof sy net ’n besem gekort het om ’n heks te wees.

“En oom Wouter?” vra sy. “Hou julle van hom?”

“Ja,” sê Bennie. “Ek hou van hom.”

“Ek ook,” sê Carla. “Ek hou net nie van al die meisies wat hy hiernatoe bring nie.”

“Bring hy baie meisies hierheen?” vra Vicky nuuskierig.

Carla begin op haar vingertjies tel. Sy stop by vier. “Hulle swem en dan soen hy hulle.”

Dis nie wat Vicky graag wou hoor nie. “Hou julle van tannie Miems?” vis sy verder om nie die kinders te laat agterkom sy is teleurgesteld nie.

“Ja, baie. Tannie Miems gee ons partykeer lekkers en koekies en dinge.”

“En wat dink julle van tannie Johanna?”

Die gesiggies val. “Ek is bang vir haar,” bieg Carla.

“Ek ook,” sê Bennie. “En sy vertel alles wat ons doen. Dan kry ons raas.”

Vicky brand om hulle oor hul pa ook uit te vra, maar sy besluit daarteen. Netnoumaar gaan verklik hulle haar by hom. Dan het hy net nog meer rede om haar weg te jaag.

“Nou ja, kom, Carla. Dis nou weer jou beurt om te swem. En daarna gaan ons stort en aantrek.”

“Ons moet gou maak,” sê die dogtertjie toe hulle na ’n tydjie uit die swembad klim. “As ons laat is vir ete gaan ons raas kry.”

Die tyd het inderdaad aangestap, merk Vicky toe sy op haar horlosie kyk. “Nou toe, kom ons draf huis toe.”

Sy het dan ook net die kinders se hare en haar eie drooggeblaas toe die etensklokkie lui. “Gaan julle twee solank eetkamer toe,” sê sy. “Ek gaan gou vir ouma Jennifer haal.”

“Waar woon jy?” vra ouma Jennifer op pad na die eetkamer.

“Ek kom van Calitzdorp se wêreld af. Ek het op ’n plaas tussen Calitzdorp en Ladismith grootgeword.”

“Calitzdorp,” mymer ouma Jennifer. “Daar was ’n warmbad naby die dorp. Is dit nog daar?”

“Ja,” sê Vicky verwonderd. “Hoe weet u daarvan?”

“Ek het op ’n plaas daar naby grootgeword. My oorlede vader het met volstruise geboer.” En sommerso in dieselfde asem: “Ek is honger. Ek was maande laas in die eetkamer.”

“Toe maar, u gaan nou lekker eet. Kyk hoe baie bakke is hier op die tafel.”

Tot Vicky se verbasing is net die kinders in die eetkamer. Sy help ouma Jennifer om langs die tafel plaas te neem, en toe gaan sy eers kombuis toe om by tannie Miems te verneem of hulle vir Wouter en Pierre moet wag voordat hulle eet.

“Nee, julle kan maar eet,” sê tannie Miems. “Wouter loop seker nog rond, en van Pierre se kom en gaan weet ’n mens nooit. Ek bêre maar sy kos in die louoond as hy nie opdaag nie.”

“Pierre was so twee uur gelede hier.”

“O?”

“Ja, maar hy’t weer gery. Hy was gou daar by sy studeerkamer in. Miskien het hy net iets kom haal.”

“Hy’t seker weer iets vergeet. Soms is hy net so kort van gedagte soos ouma Jennifer.”

Vicky glimlag. “Ja, sy sê netnou vir my sy het maande laas geëet.”

“Ek hoop jy kan haar reg hanteer. Juffrou Jones het nie die slag gehad om met haar te werk nie. Sy was te ongeduldig; sy kon nie verstaan dat ouma Jennifer se verstand nie meer normaal werk nie.”

“Ás ek hier gaan wees om na haar om te sien.”

“Hoe meen jy nou?” vra tannie Miems.

“Wel, Pierre het nie ingenome gelyk met my teenwoordigheid toe ek hom vanmiddag in die gang raakgeloop het nie. Hy’t my baie duidelik laat verstaan dat Wouter nie by magte was om my aan te stel nie.”

“Ek weet nou nie eintlik wat ek jou daarop moet antwoord nie. As jy middeljarig of lelik was, sou dit seker nie ’n probleem gewees het nie.”

“Wat bedoel tannie daarmee?”

“Nee, ek dink sommer aan Pierre se meisie. Reinette duld nie kompetisie nie. As sy moet sien hoe mooi en jonk jy is … Ag, maar sy’s oorsee en kom darem eers oor drie weke terug. Pierre sal jou nie sommer verjaag nie. Hy’t ’n sagte hart vir mense sonder ’n heenkome.”

“O, hier is jy!” word hul geselsie deur Wouter vanuit die middeldeur onderbreek. “Ek het gewonder wat van jou geword het toe ek sien dis net Ouma en die kinders wat daar langs die tafel sit.”

“Ek het by tannie Miems kom hoor waar jy en Pierre dan is.”

“Ek weet nie waar Pierre is nie, maar hier is ek. Kom ons gaan eet.”

Ouma Jennifer hou dadelik haar bord na Vicky uit toe hulle die eetkamer binnegaan. “Skep vir my van alles in. Ek is honger.”

Sy is nog daarmee besig toe Pierre die eetkamer binnekom. Hy neem die stoel by die kop van die tafel in en staar vir ’n oomblik stip na ouma Jennifer voordat hy hom tot Vicky wend. “Wat maak mevrou Uys hier aan die tafel?”

Vicky kyk verbaas na hom. “Sy’t kom eet. Hoekom vra u?”

Sy kop draai na Wouter. “Het jy nie die huisreëls aan juffrou Webster uitgespel nie?”

“Nog nie kans gehad nie, ou broer,” sê Wouter ongeërg. “Ek het ander dinge te doen gehad. Maar wat maak dit saak as Ouma vanaand saam met ons eet? Reinette is mos nie hier om weer naar te raak as Ouma per ongeluk haar kunstande oor die kosbakke uitnies nie.”

Vicky voel hoe sy op haar stoel rys van onthutsing. Dog, tot haar verbasing is daar geen uitbarsting van Pierre se kant nie. Hy gluur net in Wouter se rigting voordat hy sy eetgerei optel.

Die ete verloop in stilte. Net Wouter en ouma Jennifer lyk op hul gemak. Dit lyk of die kinders te bang is om te praat. So anders as wat sy grootgeword het, dink Vicky by haarself. Want etenstyd was altyd hul geselstyd. En ten minste het haar pa haar gegroet wanneer hy vir die hele dag uithuisig was. Nie soos Pierre wat geen notisie van sy kinders neem nie.

“Calitzdorp, sny vir my die vleis,” sê ouma Jennifer skielik. “Ek kry dit nie geëet nie.”

Nadat Vicky die vleis gesny het, kom sy agter Pierre kyk na haar.

“Hoekom noem mevrou Uys u Calitzdorp?” wil hy weet.

“Ek het haar vertel ek kom daarvandaan, nou verwar sy my naam met dié van die dorp.”

“Woon u ouers daar?”

“Nee, my ouers is oorlede. My ma so vyf jaar gelede, en my pa vier maande gelede.”

“Het u enige ander familie daar?”

“Nee, meneer Hoyt,” jok sy seepglad, gedagtig aan Wouter en tannie Miems se woorde oor sy sagte hart vir mense sonder ’n heenkome.

“Waar woon u naaste familie?”

“Ek het nie familie nie. Ek was my ouers se enigste kind. My pa was ook ’n enigste kind, en my ma het net een ongetroude suster gehad.”

“Het u enige vorige werkondervinding?”

“Ek het my ma se ongetroude suster opgepas. Sy was sewentig en kinds as gevolg van verkalkte are.”

“Is sy oorlede?”

Vicky knik haar kop en hoop dié leuen sal haar vergewe word. Tant Ellie sal gewis ’n oorval kry as sy moet verneem sy is dood. Boonop is sy die laaste mens wat opgepas hoef te word. Gelukkig vra Pierre nie verder uit nie.

Maar hy is voor die ander klaar en toe hy opstaan, wend hy hom tot Wouter. “Ek wil jou en juffrou Webster om agtuur in my studeerkamer spreek.”

“Goed, ons maak so,” sê Wouter met dieselfde ongeërgdheid van vroeër. En nadat Pierre uitgeloop het: “Kom ons om, so kom ons om.”

“Jy moenie nog grappies maak nie. My senuwees is gedaan! Jou broer is glad nie te vinde daarvoor dat ek hier werk nie.”

“Ag, as hy vol nonsens is, sal ek hom op sy plek sit. Gaan versorg jy gou vir Ouma. Onthou om haar pille te gee. Dis in die kas aan die bopunt van die gang van jul kamers. Die aanwysings is op die botteltjies. Ek sal na die kinders omsien. Toe, moenie so beangs lyk nie. Dit kan nie erger as kopaf nie.”

“Ek sal verkies om my kop te behou.”

Vicky kry nie tyd vir tob oor wat Pierre te sê gaan hê nie, want om ouma Jennifer in die bed te kry is nie so maklik nie. Dit gee ’n hele soektog af om die ouer vrou se nagklere op te spoor en haar sover te kry om in die bed te klim.

Toe Vicky eindelik met haar klaar is, merk sy daar is darem nog twee minute oor. Maar toe val dit haar by van die pille. Sy pluk die deur oop en storm uit in die gang, vas teen Pierre, wat juis op daardie oomblik verbyloop.

“Jammer,” mompel sy haastig ’n verskoning. En te bang om na sy gesig te kyk, trippel sy vinnig in die gang af om by die kas te kom waar die pille gebêre word. Eers toe sy daar kom, loer sy terug en sien dat hy besig is om sy klere reg te trek. Nog iets wat teen haar gaan tel, flits dit deur haar gedagtes.

Tog draal sy opsetlik voor die kas totdat sy die deur van die studeerkamer hoor toegaan.

Rabbedoe se temmer

Подняться наверх