Читать книгу Die seewind se lied - Elza Rademeyer - Страница 4

2

Оглавление

Die blondine is vroeg op. Sy staan buite haar tentjie in die vroeë oggendsonnetjie en smeer haar lyf in die eina bikini met sonbrandolie. As sy bewus is van die mans se bewonderende blikke, laat sy dit nie blyk nie. Ook nie dat sy bewus is van die getroude vroue en jong meisies wat haar afgunstig aanstaar nie.

Toe sy haar klaar gesmeer het, gooi sy ’n handdoek langs die tentjie oop. Sy gaan lê op haar maag, steek ’n sigaret aan en bedink die grootste fout van haar lewe. Ses maande gelede het sy haar verlowing aan Wynand Bresler verbreek om halsoorkop met Jan Lategan te trou. Maar sy was net drie maande getroud, toe is Jan in ’n motorongeluk dood. Iets waaroor sy omtrent gejuig het, want sy het gou geleer om hom te haat! Hy het haar soos ’n vark behandel! Die enigste voordeel uit die kortstondige huwelik, is dat sy skatryk geërf het. Maar die geld vergoed nie vir die verlange na Wynand nie.

Sy weet egter haar gewese verloofde sal soos ’n oester toeskulp as hy moet weet sy het doelgerig Mosselbaai toe gekom om hom te kom opsoek sodat sy sy liefde kan terugwen. Sy sal moet maak asof sy hom toevallig raak loop. En daarna sal sy baie subtiel te werk moet gaan om sy vertroue te herwin. Sy teug aan die sigaret en blaas die rook langsaam uit. Miskien is hy steeds lief vir haar. Dalk gaan dit baie makliker wees as wat sy dink om hulle verhouding te hervat.

Wynand is nog in die branders toe hy agterkom Elmien wag nie meer vir hom nie. Hy maak ’n snorkgeluid terwyl hy uit die see gestap kom. Hy hét haar mos opgesom as ’n fortuinsoeker. Tant Mienie sê hulle het haar nooit laat weet van haar seun se troue met Elmien se ma nie. En nou kom sy, ’n hele maand ná die begrafnis, eers hier aan om tant Mienie te kom vertel van haar seun se dood. Dis ’n skande!

Hy frons iesegrimmig. Die vinnige opnoem van die waardevolle meubels in tant Mienie se huis is ’n teken dat Elmien Maritz wel deeglik inventaris opgemaak het. Maar natuurlik, hoekom sal sy anders wees as haar pa? Toe die horlosie uit die handdoek val, grinnik hy sinies. Behalwe dat Elmien Maritz blykbaar net so ’n geldwolf soos haar pa is, onthou hy ook hoe bedorwe sy was. Gewoond om die septer oor almal te swaai.

Maar hierdie keer gaan sy haar rieme styfloop. Hy is nie nou meer ’n skoolseun nie.

Dis goed sy het hom nie herken nie. Hy sal haar nie hier laat wegkom voor sy hom om verskoning gevra het vir die vernedering wat sy en haar pa hom aangedoen het nie. Nie dat hy regtig haatdraend voel oor die episode nie. Maar dit sal hom tog genoegdoening verskaf om haar te laat boet. Die gebeurtenis het verlede nag weer so helder in sy geheue opgeduik asof dit net gister gebeur het, al het daar intussen veertien jaar verloop.

Haar pa was ’n handelaar in outydse meubels en hulle het in die rykmansbuurt van Brakpan gewoon. Sý pa was ’n ambagsman wat weens siekte moes ophou werk. Maar op dertienjarige ouderdom was hy nog nie juis bewus van die groot verskil tussen armoede en rykdom nie. Hy het net geweet dat dit hom diep pynig toe sy ma so hartverskeurend huil die dag toe Elmien se pa met meer as die helfte van hul besittings van hul huis af wegry. Die gevolgtrekking waartoe hy gekom het uit ’n gesprek tussen sy ouers, was dat Elmien se pa hul nood uitgebuit en hopeloos te min betaal het vir die meubels.

Hy het besluit hy moet iets doen om veral hul bed terug te koop en soggens voor skool en naweke het hy koerante begin verkoop. Saans het hy van huis tot huis geloop om leë bottels te versamel. Naweke het hy op die ashope geboer op soek na bruikbare goed wat hy weer kon verkoop. Toe hy uiteindelik soveel geld bymekaar gemaak het as wat Elmien se pa vir sy ouers se ou koperbed betaal het, het hy dadelik met die geld in sy broeksak afgesit na Anton Maritz se meubelwinkel.

Hy moes lank by die toonbank wag voordat Elmien se pa hom te woord kon staan. En toe hy uiteindelik sy saak gestel het en die geld uit sy broeksak haal … het Anton Maritz hom uitgelag oor die “belaglike bedrag” waarmee hy die bed wou terugkoop.

Dit was nie die einde van die storie nie. Die volgende dag by die skool het hy vir Elmien gevra om met haar pa te praat. Hy was oortuig daarvan sy sou haar pa se hart sagmaak en kon kwalik slaap van opgewondenheid. In sy geestesoog het hy al die blye verrassing op sy ouers se gesigte gesien wanneer die bed terugkom. Maar toe hy die volgende oggend vir Elmien by die skool se hek inwag, het sy kop in die lug by hom probeer verbyloop. En toe hy haar aan die arm vat, het sy hom toegesnou: “Gee pad van my af! My pa het gesê ek moet my nie met skorriemorries ophou nie!”

“Maar wat van die bed?” wou hy nog weet.

“Die bed is klaar verkoop. Vir tien keer meer as wat jý vir my pa wou gee. En gee nou asseblief pad. Netnou dink my maats ek ken jou!”

Daar is geen haas in hom terwyl hy die trappe van die strand af opklim nie. Elmien sal nog daar by tant Mienie se huis wees. ’n Motor kan nie ry as dit twee pap bande het nie. Hy moes seker maak sy gaan hom nie ontglip nie. Daarom sal hy haar sonder gewetenswroeging op haar plek sit.

Elmien kan haar oë nie glo toe sy by die huis kom en sien twee van haar motor se bande is pap nie. Sommer twéé bande! Sy kyk moedeloos om haar rond. Hoe kon dit gebeur het? Dit moet die vervlakste doringboom se skuld wees!

“Wynand sal jou kan help,” sê tant Mienie toe sy hoor wat gebeur het.

Elmien lek oor haar lippe. “Hy swem nog. Ek wou weg gewees het voor …” Sy voltooi dan maar haar sin gefrustreerd met: “Voor dit te warm word.”

“Weg wees? Waarheen?” vra tant Mienie verbaas,

“Kaap toe.”

“Hoekom so haastig? Ek het gedink jy gaan langer kuier. Jy het nog nie eens ontbyt gehad nie. En ek wou jou nog uitgevra het oor Schalk.”

“Wat wou tante weet van Schalk?” vra Elmien meer ongeduldig as wat sy bedoel het.

“Of hy en jou ma darem gelukkig saam was?”

“Gelukkig! Hy …” Sy swyg toe sy tant Mienie se gesig sien en sluk haar bitsige antwoord terug. Sê dan vaag: “Ja, seker maar.” En toe die tante agterdogtig na haar kyk: “Ek is jammer ek klink so onbeskof, tante. Maar my motor se dinge … Ek wou maar liewer gery het.”

“Ag, hoekom bly jy nie maar tot Kersfees hier by my nie? Jy hoef my nie te betaal nie. Ek is so bang om Kersfees alleen te wees. Dit is die eerste Kersfees wat die oom nie saam met my sal wees nie. Ek huil sommer elke dag as ek daaraan dink. En dan nog my siekte ook,” sê tant Mienie verdrietig.

Elmien se hart vermurwe. “Wat is dan verkeerd?” vra sy besorg.

“Kanker. Die dokters kan niks meer vir my doen nie. Hulle sê dit is al te ver gevorder.”

“Ek is vreeslik jammer om dit te hoor,” sê Elmien verslae. “Het tante pyn?”

“Nee, gelukkig is dit pynloos. En dis nie dat ek daarteen opsien om te sterf nie, maar die alleenheid vang my. Dié dat ek so graag wil hê jy moet langer hier by my kuier.”

Elmien loer onrustig see se kant toe. “Ek dink ek gaan gou die garage bel. Hulle kan my motor se bande mos seker hier kom regmaak?”

“Die garage sal toe wees. Dis mos Sondag vandag.”

“O ja, natuurlik.”

“Kom, dan gaan maak ek vir ons tee. Jou ontbyt staan ook vir jou en wag.”

Elmien besef sy sal sowaar nie kan wegkom voor Wynand terugkom van die see af nie. Sy’t skoon vergeet dis Sondag. Gaan sy nou hier gestrand sit tot die garage môre oopmaak? En wat van tant Mienie se wens dat sy hier moet bly tot Kersfees? Durf sy ’n sterwende mens se wens in die wind slaan?

Wynand hou hom dom en siende blind toe hy voor tant Mienie se huis verbystap na sy huis langsaan. Selfs toe tant Mienie hom nader roep en van Elmien se dilemma vertel, maak hy asof hy niks weet nie.

“Sommer twéé pap bande! Gmf, dis nie iets wat aldag gebeur nie.”

“Nee,” sê tant Mienie. “Dit is nie iets wat aldag gebeur nie. En nou is Elmien nog so haastig om weg te kom voor die son te kwaai raak.”

“Weg te kom waarheen?”

“Kaap toe.”

“Hoekom is sy haastig? Wat jaag haar nou so skielik?”

Elmien kan haar nie langer doof hou nie. Sy voel haar verplig om ook by die deur uit te loer. “Niks jaag my nie, ek wil net in die Kaap kom!”

“Ek verstaan. Dit lyk egter of jou motor besluit het hý wil bly. Hoekom het jy so haastig padgegee daar van die strand af?”

“Ek het ’n weerwolf in die water gewaar.”

“’n Weerwolf in die water?” vra tant Mienie verstom.

“Ja, een wat valse beskuldigings rondslinger en hom verbeel hy’s wie!”

Wynand grinnik hardop. “Ek dag jy’t belowe ons gaan vriende word?”

“Nie met jou nie, dankie.”

“Hoekom nie? Oor ek laat blyk het ek weet wat jy hier kom maak?”

“Jy’s verskriklik verwaand, weet jy?”

“Wat is aan die gang?” vra tant Mienie. “Hoekom baklei julle twee met mekaar?”

“Sy’s kwaad vir haar motor, nou haal sy dit op mý uit,” sê Wynand met ’n grinnik. “Maar moenie bekommerd wees nie, ek sal net ná kerk kom kyk of ek haar kan help. Nou met ek ongelukkig eers gaan stort.”

“Ek het nie jou hulp gevra nie, dankie. Ek sal self regkom.”

“Hoe?”

“Dit traak jou nie hoe nie!”

“Het jy ’n pomp in jou motor?”

“Ek … Natuurlik sal ek een hê. Jy kan mos sien my motor is nog splinternuut!”

“Selfs nuwe motors het nie altyd pompe nie. Kom roep my maar as jy vasdraai.”

Elmien kyk hom half verslae agterna toe hy sonder meer wegstap en sy huis binnegaan. Pleks sy tog maar die minste was en haar mond gehou het. Hoe pomp ’n mens ’n motor se bande op? Om die waarheid te sê, sy weet nie eens of haar motor ’n noodwiel het nie. Hy moet seker een hê, maar sy het dit nog nooit met ’n oog gesien nie.

Toe sy klaar tee gedrink het, begeef sy haar dadelik na haar motor. Sy kry nie die noodwiel nie, ook nie iets wat soos ’n pomp lyk nie. Tant Mienie kom ook later help soek.

“Het jy al die klap agter in jou kattebak opgelig? Party motors se noodwiele word mos daar gebêre. Ander motors s’n sit weer onder die motor se agterstel.”

Wynand glimlag sinies toe hy op pad kerk toe sien hoe Elmien ietwat onvroulik buk om onder haar motor in te loer. Laat sy sukkel! Sy wil haar mos hardekwas hou.

Elmien kry uiteindelik die noodwiel opgespoor, maar besef dat een wiel haar nie gaan help nie. Tog, as sy nou die een wiel omgeruil kan kry, sal die garage môreoggend gouer klaar wees met die ander een.

Nie in haar stoutste drome het sy egter kon raai dit is so ’n groot werk om ’n wiel om te ruil nie. Sy raak so warm van die gesukkel dat sy kort-kort eers weer die huis moet invlug om ’n bietjie te gaan afkoel. Toe sy, ná langer as ’n uur se gespook, uiteindelik klaar is met die omruil van die wiel, is sy papnat van die sweet en haar gesig vol swart strepe. En toe, wat sal sy sien! Sommer hier, ’n paar treë van haar af, sit Wynand met uitgestrekte bene heerlik in die skaduwee van ’n koelteboom aan ’n glas skuimende bier en teug, sy blik geamuseerd op haar gerig!

Haar gesonde verstand sê vir haar sy moet hom ignoreer, maar haar humeur wil nie saamspeel nie. Toe sy haar kom kry, staan sy reg voor hom en borrel die woorde sommer net by haar mond uit: “Dis nou tipies van deesdae se mans! Om hulle te sit en vergaap aan ’n meisie wat manswerk doen sonder om hulp aan te bied. Nee, dis mos baie lekkerder om in die koelte te sit en bier te drink as om jou ordentlikheid te betoon en iemand in nood te help! Ek hoop van harte die dorings steek sommer môre al vier jou motor se bande ook vol gate!”

Wynand neem eers rustig ’n slukkie bier. Dan staan hy op en beduie na sy stoel. “Sit ’n rukkie. Jy lyk moeg. Kan ek vir jou ook ’n bier bring?”

Sy kyk hom begogel aan. “Ek wil g’n sit nie! Ek wil net vir jou vertel wat ek van jou dink!”

Hy neem weer op die stoel plaas. “O, is jy nog nie klaar nie? Nou, gaan maar voort?”

Sy besef hy is besig om met haar die gek te skeer, en dit maak haar net nog kwater. “Jy is nes al die mans wat ek ken. Dink mos net aan jou eie gerief. En wanneer julle boonop met ’n glas drank in die hand sit, kan die wêreld om julle vergaan sonder dat julle ’n vinger sal lig om dit te verhoed!”

“Nou reken, nè. En jý is blykbaar tipies vrou. Van die neulerige soort wat floreer daarop om te kyf soos die gedrup van ’n lekkende kraan. Koel af en kom drink ’n bier saam met my. Jy sal tog nie voor môre jou motor padwaardig kry nie. Sit solank op my stoel. Ek sal vir my ’n ander een gaan haal. Van watter soort bier hou jy?”

“Ek wil g’n bier het nie. Ek is nie ’n dronklap nie.”

Hy trek sy skouers op. “Wat van koeldrank?”

“Ek wil ook nie koeldrank hê nie. Ek wil my motor reg hê sodat ek kan ry!”

“Dít sal jy nie vandag regkry nie. Jy sal jou maar moet skik na omstandighede en wag tot die garage môreoggend oopmaak. Gaan was jou gesig en kom sit hier buite in die koelte. Ek sal solank vir jou iets koels gaan haal om te drink.” Hy voeg die daad by die woord sonder om op haar reaksie te wag.

Sy staar hom vies agterna totdat dit haar byval wat hy van haar gesig gesê het. Toe sy in die badkamerspieël kyk, besef sy waarom hy gesê het sy moet haar gesig gaan was. Om van die hitte ontslae te raak, stort sy sommer. En toe sy uit die badkamer kom, oorhandig tant Mienie ’n tang aan haar.

“Wil jy tog nie Wynand se tang vir hom gaan teruggee nie? Netnou soek hy daarna.”

Sy loop teësinnig met die tang na buite en tref hom weer onder die boom aan.

“Ditsem, nou lyk jy spanne beter,” begroet hy haar en wys na ’n glas gemmerbier op die tafel. “Drink. Dit sal help om jou af te koel, van binne én van buite.”

Tot haar konsternasie voel sy hoe haar oë skielik begin brand van … nugter weet wat! Dit sal die kroon span as sy nou in trane moet uitbars! Sy sluk hard. “Dis hierdie ou simpel dorp van julle. Ek moes verby gehou het Kaap toe, dan het ek nie in so ’n gemors beland nie.”

“Daar is net een van twee dinge wat jy kan doen. Jy kan jou skik na omstandighede en die beste daarvan maak. Of jy kan bly kyf en net jou eie lewe en almal s’n om jou versuur. Ek stel voor jy doen eersgenoemde.”

Sy kyk vinnig weg toe sy voel sy bloos. “Ek is jammer ek het my humeur so verloor, maar die verdekselse motor … Dis die eerste keer dat hy my só in die steek laat!”

“Ag, dit kan met enige motor gebeur,” sê hy ná ’n kort stiltetjie. “Eintlik is jy gelukkig dit het hier in ’n dorp gebeur en nie op die grootpad Kaap toe nie. Ek sal jou môreoggend help. Intussen kan jy gerus ontspan en jou vakansie geniet. Ons kan netnou weer gaan swem as jy lus is. Of nog beter, ek kan ons simpel ou dorpie vir jou gaan wys.”

“Ek hét verskoning gevra oor ek … wel, so vies was dat ek allerhande dinge gesê het!”

Hy lag, en dit vang haar weer onverhoeds soos daar by die see, want dit doen iets aan hom as hy lag. Dit laat hom onweerstaanbaar aantreklik lyk. Sy kyk vinnig anderpad. ’n Aantreklike man is ’n gevaarlike ding. Hulle mors met meisies se gevoelens, en hulle wil alewig hul wil aan jou opdwing.

Hy leun skielik oor na haar en klink sy glas teen hare. “Gesondheid. Ons drink op joune en foeter myne op.”

Sy glimlag, weliswaar teen haar sin, maar darem. Die woord “gesondheid” maak dat sy onthou van tant Mienie se siekte en haar glimlag verdwyn. “Is dit waar dat tant Mienie kanker het?”

Hy kyk ondersoekend na haar gesig voordat hy sy kop knik. “Ja.”

“Sy sê die dokter het gesê sy gaan nie meer lank leef nie?”

“Geen dokter kan vir seker sê hoe lank ’n mens gaan leef nie.”

“Maar hulle kan tog by benadering sê?”

Hy kyk Elmien ineens stip in die oë. “Wil jy graag jou stiefouma dood hê?”

“Moenie laf wees nie! Ek ken haar skaars, hoekom sal ek haar wil dood hê?”

“Dalk om haar erfporsie in te palm.”

“Jy’s siek in jou brein. Ek het jou gesê jy kan maar haar erfporsie kry. Ek het genoeg geld van my eie.”

“Wat jy waar kry?”

“Waarvoor ek werk!”

“Drink jou koeldrank, dan gaan wys ek ons dorp vir jou.”

“Ek stel nie in die dorp belang nie,” sê sy van nuuts af vererg.

“Jy sal, as jy eers sien wat ons alles hier het.”

Sy luister vaag terwyl hy haar begin vertel van hul dorp se museum en warmwaterswembad, maar raak tog gaandeweg meer ontspanne. En toe hul glase leeg is, stap sy agter hom aan na sy huis toe. By sy voordeur steek hy egter vas.

“Ek het skoon vergeet ek het nie ’n motor nie. Ek sal tant Mienie s’n moet leen. Wag jy hier, ek gaan haar gou vra.”

Elmien kyk hom verslae agterna toe hy na tant Mienie se huisie toe stap. Maar natuurlik, wat het sy verwag? ’n Man wat nie werk nie kan tog nie ’n motor bekostig nie. Hy kan seker nie wag dat arme tant Mienie haar laaste asem moet uitblaas nie. Wat ’n grap sal dit nie wees as hy niks van haar erf nie! Dit lyk in elk geval nie of hy genoeg sal kan erf om ’n motor te koop nie. Miskien sal hy dit darem kan doen as tant Mienie al haar besittings én die huis aan hom bemaak. Of het die huis aan Schalk behoort?

’n Bloedrooi sportmotor wat stadig in die straat af gery kom, trek haar aandag. Sy neem nie veel notisie van die bestuurder nie, maar merk darem dat dit ’n vrou met blonde hare is. Sou sy dalk ’n adres soek? wonder Elmien. Maar toe die motor skielik versnel en sy Wynand sien aankom, vergeet sy daarvan.

Wynand weet niks van die bejammerende gevoel wat Elmien jeens hom koester toe hulle ’n ruk later in tant Mienie se afgeleefde ou blou motortjie deur die strate ry nie. Hy gaan wys vir haar die plekke langs die see waar die woonwaens soos sardientjies ingeryg staan en ry daarna deur Bay View voordat hy koers kies Mosselbaai toe.

“Die gebied waar ons nou ry, word Voorbaai genoem,” sê hy vir haar terwyl hulle wag dat die verkeerslig na groen moet oorslaan. “Hierdie gebou links van ons is Langeberg se inmaakfabriek. Hier word produkte soos mielies, erte en bone verwerk en geblik.”

’n Rukkie later wys hy vir haar waar Diasstrand op hul linkerkant lê. Nog verder, De Bakke- en Santosstrand. Hy gaan maak ook ’n draai by Die Punt en wys vir haar die Vlermuisgrot onderkant die ligtoring.

“Ek was op ’n keer op Mosselbaai,” sê Elmien. “Maar al wat ek vaag onthou, is dat ons by die Posboom was waar die bemanning van destyds se skepe vir mekaar boodskappe gelos het.”

“Ja, hy is vandag nog daar. Ek sal hom nou vir jou gaan wys.”

Op pad na die Posboom hou hy egter eers stil om vir haar die hawe en stasie te wys.

“Dis ’n snaakse boot wat daar lê,” beduie Elmien na die langwerpige roesbruin skip waar dit tussen die kaai en Robbe-eiland op die spieëlgladde branders lê.

“Dis ’n olietenkskip. Hier kom baie van hulle. Hulle ver-skeep Mossgas se produkte.”

“Hoekom kom lê hy nie in die hawe nie? Hier is mos plek vir hom.”

“Die produk word sommer daar deur onderwater-pypleidings in hom ingepomp.” Hy kyk na haar en sien hoe sy haar hare agter haar nek lig asof sy met die gebaar koeligheid soek. “Dis warm. Ek dink ek gaan gou vir ons koeldrank koop. Wil jy saamkom, of wag jy hier vir my?”

“As jy nie omgee nie, wag ek hier. Die uitsig is so mooi, ek kan my verkyk.”

“Hou die motor se sleutels by jou,” sê hy vir haar. “Ek sal nie lank wegbly nie, maar dan kan jy darem sit as jy moeg raak.”

Sy kyk hom agterna terwyl hy wegstap. Hy het weliswaar nie ’n wafferse huis nie, hy is werkloos en hy besit nie eens ’n motor nie, maar hy is darem nie heeltemal ’n ghwar nie, want hy is nogal netjies op sy persoon en hy kan selfs gaaf wees as hy wil. Haar blik dwaal terug oor die see. Die water is stil vandag, seker oor die wind die vorige aand weer gaan lê het, dink sy. Dis ’n mooi prentjie voor haar: die see met die wasige blou berge op die agtergrond. Sy het nie gedink Mosselbaai is so ’n pragtige dorp nie. Dit moet heerlik wees om hier te kan woon. Om elke dag die see te kan sien en …

Sy weet nie dat Tom Prinsloo nader kom toe hy die verweerde motortjie herken nie, en skrik haar yskoud toe iemand skielik hier reg agter haar rug praat: “Mirrag, mêrrem. En as mêrrem nou so allenig hier staan?”

“Ek … e … staan sommer,” sê sy lugtig vir die man met die visstok oor sy skouer. Sy mik vir die motor, maar sy sal teenaan hom verby moet loop. Daar is darem baie ander mense en motors in die omtrek, maar sê nou hy haal ’n pistool uit?

“Is mêrrem van die wêreld, of is mêrrem ôk by die holiday?”

“By die holi … Ek bedoel, ja, ek is met vakansie hier.”

“Het mêrrem darem toe geproe hoe smaak ons se sie se vissies?”

“Ja, ek het gisteraand vis geëet.”

“By mêrrem Mienie Schoeman?”

Elmien gaap hom aan, haar vrees skoon vergete. “Ken jy haar?”

Sy kop knik. “Nie heeltemal so goed as vir haar se seun nie, maar darem.”

“Watter seun?” vra Elmien vinnig.

“Mister Schalk. Hy’t mos vir my geleer vis vang. Jare gelede! Maar die vis willie vandag bytie. Ek had my lyn daar by die kaai in, maar dis ’n houpless kys.”

Elmien se nuuskierigheid is geprikkel. “Hoe oud was die … e … mister Schalk toe jy hom geken het?”

Tom haal sy pet af en krap sy kop. “Seker so vyftien, sestien, daar rond.”

“Was hy … Ek bedoel, watter soort mens was hy? Het hy baie gejok en so aan, of …?”

Tom lag. “Hy was baie slim, vo trieks. Hy’t gewiet hoe om die vissies te laat byt.”

Elmien sal hom graag verder wil uitvra, maar sy is bang om te eie met hom te raak. Sy weet ook nie mooi hoe om van hom ontslae te raak nie. Dis duidelik dat hy nie haastig is om te loop nie.

“Daardie wit sementblokke wat daar onder lê, wat is dit?” vra sy dus en beduie in die rigting van die hawe.

“O, daar regs van die jettie? Dis mos die dolosse. Daar’s baie praatjies, solat ek ôk nie mooi weet wat hulle daarmee gaan makie. Pirty mense sê hulle gaan die jettie regmaak omdat hy ytmekaar wil val. Anner mense sê hulle gaan hom verder die see inbou solat die groot skyte ôk die hawe kan binnekom. Maar daar’s ôk stories dat hulle die Hartenbosrivier gaan uitbunker tot by die stinkdamme. ’n Man sal sieker maar nie die waarheid hoor voorlat hulle ’n begin maak met die verannerlike dinge nie. Ma sê vir my, van waar is mêrrem nou eigentlik?”

“Ek kom van Brakpan af.”

“So, mêrrem is wat hulle sê ’n Vaalpens. Dan ken mêrrem siekie nie van armoede nie. Hulle sê mos vir my die Transvalers het baie sjeld.”

Nou gaan hy seker begin bedel, dink Elmien by haarself. Maar hy sug net en sit sy visstok oor op sy ander skouer.

“Mêrrem moet goed wees vir die ou mêrrem. Gister, toe ek onthou wie sy is, toe dink ek by myselwers: Tom Prinsloo, mêrrem Mienie gaan dit nie meer lank makie.” Hy lig sy pet. “Dra tog maar my groetnis vir haar mie. Tot siens, mêrrempie.”

Elmien voel verlig toe hy loop, maar kyk hom tog spytig agterna. As sy nie so bang was vir hom nie, kon sy hom verder uitgevra het. Daar is so baie dinge wat vir haar duister is omtrent die man op wie haar ma so halsoorkop verlief geraak het. Dit laat haar onthou dat sy haar ma sal moet bel. Wat gaan haar ma sê as sy hoor Schalk se ma lewe nog? Hoekom het Schalk vir hulle vertel sy ouers is dood?

Sy gee ’n suggie. Dat haar ma darem so dwaas kon wees! Sy het haar tog herhaaldelik gewaarsku dat sy eers meer omtrent die sjarmante gladdebek te wete moet kom. Maar nou ja, haar ma wou nie luister nie. En nou sit hulle met die gebakte pere. Skuldeisers wat van alle kante toeslaan, polisie-navrae oor sy bewegings en nog die begrafniskoste boonop.

Toe Wynand om die hoek van ’n gebou kom, verlustig sy haar ’n oomblik lank in die vitaliteit wat hy uitstraal. Dalk moet sy meer op die mooi in die lewe konsentreer en ’n bietjie van Schalk se dinge vergeet. Sy ís immers met vakansie.

Wynand frons liggies toe hy sien hoe Elmien hom tegemoet geloop kom. Sy moenie so fraai staan en lyk nie. Hy’s klaar met mooi meisies. Met alle meisies, dink hy vererg. Vir wat foeter sy hart so om te wil bollemakiesie slaan!

Die seewind se lied

Подняться наверх