Читать книгу Rots van Stormbaai - Elza Rademeyer - Страница 3

1

Оглавление

“En nou, hoekom lyk jy soos iemand wat ’n spook gesien het?” vra Jessica toe sy teetyd by haar kollega se kantoor inloer.

Melanie Walters knip haar wydgerekte oë ’n paar keer en sug swaarmoedig. “Was dit liewer ’n spook.”

“Wat is fout?”

“Ek het so pas ’n telefoonoproep gehad. Van my springlewendige swaer.”

“Louis Walters?” vra Jessica met ’n ligte fronsie. “Ná soveel jare? Waaroor het hy dié keer met jou skoor gesoek?”

“Hy’s terug in die Kaap en het ’n afspraak gemaak … sesuur by my woonstel. Hy wou nie sê waaroor nie. Dalk het hy snuf in die neus gekry oor sy ma se kuiery by my en Antonie.”

“O. Wel, ek sou sê dis hoog tyd,” sê Jessica toe sy verby die lessenaar loop om by die kabinet in die hoek te kom. “Want waar in jou lewe het jy al daarvan gehoor dat ’n seun sy ma kan belet om by haar skoondogter en kleinkind te kuier? Jou skoonma het seker vir hom gesê dis pure bog.”

“O nee, Louisa sou vir my gesê het as sy sulke planne gehad het. Ons het twee dae gelede saam koffie gedrink. Toe het sy nog gesê sy wonder wanneer Louis weer ’n draai hier in Suid-Afrika kom maak.”

“En nou is hy hier. Wat ek nie kan verstaan nie, is dat ’n ma haar so deur ’n seun kan laat intimideer. Hoeveel jaar is dit nou al vandat hy julle belet om kontak met mekaar te hê?”

“Nog van voor Antonie se geboorte af en hy word een van die dae al ses. Maar Louisa beskou dit nie as intimidasie nie. Die kamma skelm kuiertjies is vir haar pure pret. Sy steur haar glad nie aan Louis se geite en grille nie.”

“Hoekom steur jy jóú dan aan hom?”

“Omdat dit ék is wat elke keer onder sy skeermestong moet deurloop.”

“As ek jy was, het ek hom sommer dadelik na sy peetjie gestuur.”

“Hy’t my te onverhoeds betrap. Ek het dan nie eens geweet hy’s terug in die land nie, nog minder gedink dat hy my werk toe sal bel! In elk geval, Louis Walters is ook nie dié soort mens wat jy sonder meer na sy peetjie kan stuur nie.”

“Maan toe dan,” sê Jessica oor haar skouer. “Dis tog nie jou skuld dat hy nie wil glo Antonie is sy broer se kind nie.”

“Maan toe, of na sy peetjie, is dieselfde ding. Hy sal hom ewe min aan beide steur.”

Toe Jessica die verslag gekry het waarna sy op soek was, kom staan sy voor Melanie. “Ek sal jou sê wat. Dreig hom met die hof. Bloedtoetse kan mos bewys Antonie ís Mark se kind.”

“Ek sterf voordat ek my kind aan bloedtoetse onderwerp om aan Louis Walters iets te bewys!” sê Melanie koppig. “As ek en Mark nie getroud was nie, is dit ’n ander saak. Maar al was dit net twee dae, ons was wettiglik getroud!”

Jessica trek haar skouers op. “Toemaar, een van die dae is jy vir goed ontslae van daardie swaer van jou. Weet hy dat jy hier by die werk bedank het?”

“Nee, hoe sal hy daarvan weet? Tensy Louisa vir hom vertel het ek is van plan om te verhuis. Maar ek twyfel. Sy sal nie sommer my naam voor hom noem nie.”

“Het jy al ander werk gekry?”

“Nee. Ek het mos vir jou gesê ek gaan eers ’n maand of wat lekker vakansie hou voordat ek my weer oor werk begin kwel.”

“Ek wens ek het ook soveel geld soos jy gehad. Dan sou ek presies dieselfde gedoen het.”

“Haai, jy is dan pas terug van verlof! Onthou, ek was nog nooit met verlof sedert Mark se dood nie.”

“Sjoe, dis lanklaas, ja. Ek kan amper nie glo Mark is al so lank terug oorlede nie, weet jy. Dit voel vir my soos sommer nou die dag wat ons twee sy restaurant binnegestap het. Maar wag, laat ek liewer aangaan met my werk. Ek het net gou hierdie inligting oor die Joss-saak kom haal.”

Melanie sukkel om aan die gang te kom nadat Jessica by die kantoor uit is. Haar gedagtes bly terugdwaal na die verlede. Dis dan ook nie lank nie, of die hier en nou vervaag tot ’n newelwaas waarvan die vingers haar teruggryp …

Dit was in hul etensuur dat Jessica haar saamgesleep het na die restaurant laer af in die straat. Kort ná haar aanstelling hier by die prokureursfirma, het sy met Jessica bevriend geraak. Soos gewoonlik het haar vriendin die hele tyd geloop en babbel, onder meer oor die “fantastiese” eienaar van die restaurant. Maar haar gedagtes was op ’n ander plek. By haar nuwe werk en by die horde kartondose in die woonstelletjie wat sy nog moet uitpak.

By die restaurant aangekom, het sy sonder om rond te kyk saam met Jessica na ’n tafeltjie toe gestap. Maar nog voordat hulle behoorlik hul sit kon kry, het Jessica omgespring en die restaurant uitgestorm agter ’n man aan wat sy buite in die straat herken het. Sy, Melanie, kon maar net haar kop skud oor haar vriendin se voortvarendheid. Sy sal haar tog so belaglik maak om agter ’n man aan te hardloop, het sy by haarself gesit en dink.

Die volgende oomblik het sy bewus geword van ’n man langs die tafel met ’n notaboekie en pen in die hand. En toe sy opkyk, kon sy nie weer wegkyk nie. Dit was asof die diep donker kykers van die man haar wou insuig in ’n kolkende maalstroom van emosies. Verdwaas het sy in haar verwarde gedagtes rondgetas na woorde wat sin maak. “Ek … e … wag nog vir my vriendin. Sy sal nou-nou hier wees.”

Hy’t effens geglimlag en regoor haar agter die tafeltjie ingeskuif. “Ek het jou nog nie voorheen hier gesien nie?”

“Nee, dis die eerste keer dat ek hier kom.”

“Ek is Mark Walters.” Die diep stem het haar ore laat duisel en haar sinne verder benewel. Hy het sy hand vriendelik na haar uitgesteek.

“Ek is Melanie Botha,” het sy sag, amper huiwerig, gesê en iets soos ’n elektriese skok het deur haar lyf getril by die aanraking van hul hande.

Hy’t ’n klomp vrae gevra. Oor haar werk en dinge. Sy’t vaagweg gewonder hoekom hy haar so uitvra, maar was so intens van sy nabyheid bewus dat dit alles oorheers het. Eers toe Jessica opdaag, het hy opgestaan van die tafel af en hul bestelling in sy notaboekie aangeteken.

Sy kon haar blik nie van hom losskeur toe hy wegstap nie. Haar oë, haar hele wese, het soos ’n videokamera op hom gevries, elke greintjie detail van die man vasgevang in ’n ewige hartbeeld. Niks het haar ontglip nie. Sy gitswart krullerige hare, die span van sy breë skouers onder die wollerige trui en die stewigheid van sy sitvlak in die donker broek …

“Van waar af ken julle twee mekaar?” het Jessica se nuuskierigheid haar teruggebring aarde toe.

“Ons ken mekaar nie.”

“Maar julle het dan so lekker gesels.”

“Hy’t maar net gewag dat jy moes terugkom om te hoor wat ons wil bestel.”

“Hmm, dis nie soos ek Mark Walters ken nie. Hy sou nie om dowe neute gedraal het met die bestelling nie.”

“Wat insinueer jy?”

Jessica het geheimsinnig gegiggel. “Ek insinueer dat hy ’n doel voor oë het. Om die waarheid te sê, ek ruik klaar romanse in die lug. Want die manier waarop hy na jou kyk, daardie smeuling in sy …”

“Jou verbeelding hardloop met jou weg,” het sy Jessica lighartig in die rede geval, maar gevoel hoe sy bloos.

“Nee, ek is maar net ’n fyn waarnemer.” Die kelner se verskyning het gelukkig ’n einde aan Jessica se lawwigheid gebring. Of wat sy in daardie stadium gedink het pure kletspraatjies is. Jessica lees gans te veel soetsappige liefdesverhale … Maar toe hulle ’n rukkie later voor die kasregister staan, het sy self agterkom Mark se blik rus die hele tyd op haar.

“Dit moet darem lekker wees om so mooi soos jy te wees,” het Jessica op pad terug werk toe verlangend gesug. “Dink net, om al wat man is altyd so oor sy voete te laat val. En dit nogal ’n man soos Mark! Hy is ’n droom, nè?”

“Wel, ja, hy is ’n bietjie anders as die meeste mans wat ek ken,” het sy ietwat traag erken. “Maar jy moet ophou met die dinge dat hy kamtig ’n ogie op my het. ’n Man soos hy sal klaar ’n meisie hê. Ek wil nie my oë uitgekrap hê nie.”

“Ons sal sien of ek reg of verkeerd is. My vroulike intuïsie sê vir my Mark gaan nog voordat die week om is ’n afspraak met jou maak.”

Jessica was reg. Dieselfde aand nog het hy by Melanie se woonstel opgedaag en haar genooi om saam met hom te gaan fliek. Van die prent sou sy later bloedweinig onthou. Maar van hom alles, amper elke asemteug wat hy langs haar gegee het. Die streling van sy vingers oor die bopalm van haar hand, die manier waarop hy kort-kort na haar kant toe geloer het. En die sorgsaamheid waarmee hy sy baadjie oor haar skouers gehang het toe hulle buite kom en ’n snerpend koue windjie deur hulle gesny het.

“Mag ek môreaand weer kom?” wou hy weet toe hulle haar woonsteldeur bereik. “Of is daar iemand wat my bloedneus gaan slaan?”

“Nee, daar is niemand nie,” het sy blosend gesê.

Dit was ’n warrelwind-romanse. Binne ’n week het sy omtrent alles van hom geweet. Dat hy net een ouer broer het, van sy ouers se egskeiding die vorige jaar, dat hy tien jaar ouer is as sy, en nog baie ander dinge.

Hy het ook sy nuutgeboude huis vir haar gaan wys, en wou weet of sy veranderinge wil laat aanbring voordat hulle trou. Wat klaar is, is klaar.

“Goeiste, maar jy is haastig,” het sy gelag. “Ons ken mekaar skaars ’n week, en jy praat al van trou!”

Hy het haar in sy arms geneem en, soos dit vir haar gevoel het, tot binne-in haar siel gekyk.

“Die eerste keer toe ek jou sien, het ek geweet ons is vir mekaar bedoel, Melanie. En jy?”

Sy erns het ’n ongekende rustigheid in haar gebring. “Ek het dit ook so ervaar, ja.”

“Nou hoekom sal ons wag? Ek gaan jou môreaand aan my ma voorstel, en sommer van ons planne vertel.”

“Sy sal seker flou val! Sy ken my van geen kant af nie!”

“Dis wat jý dink,” het hy geglimlag. “Ek het die heel eerste aand van ons ontmoeting al vir haar gesê ek het my droomvrou ontmoet. En een van die dae gaan sy met haar pragtige skoondogter kan spog. Sy weet presies hoe jy lyk … die lang swart hare, fyn postuurtjie, mooi diepgroen oë, pragtige geaardheid.”

“Jy vergroot verskriklik!” het sy gelag.

Haar senuwees was skoon op hol daardie volgende aand op pad na sy ma se huis toe. Sy was oortuig daarvan die vrou gaan foutsoekerig, selfbejammerend en vol fiemies wees. Maar net die teenoorgestelde was waar. Sy was soos Mark. Energiek, ongekompliseerd, gasvry en vriendelik, met dieselfde fyn humorsin as Mark.

“Gaan Ma enige beswaar hê as ek en Melanie binnekort trou?” was die groot vraag toe hulle baie later die aand aanstaltes maak om te vertrek.

“Nee, glad nie,” het Louisa gesê. “Ek het genoeg vertroue in jou om te weet jy sal nie ’n verkeerde besluit neem nie.”

Mark het geknipoog. “Wat het ek vir jou gesê? Sal ons dit volgende Saterdag maak?”

“Gaan julle nie wag totdat Louis terug is van oorsee af nie?” het Louisa gevra voor Melanie haar asem kon terugkry.

“Soos ek Louis ken, kan dit dalk eers oor ’n jaar of twee ook wees. Teen daardie tyd kan Ma al ’n ouma wees.”

“Moenie dat dit net by beloftes bly nie,” het Louisa gelag. “Jy weet hoe graag ek ouma wil word.”

Op pad terug na haar woonstel, wou Melanie weet of hy ernstig was oor die volgende Saterdag. “Dis mos darem hopeloos te gou, al het jou ma haar toestemming gegee.”

“Hoekom sê jy dis te gou? Is jy onseker oor jou liefde vir my?”

“Nee, natuurlik nie. Maar wat van reëlings en dinge? Ek moet mos darem ’n rok laat maak, en alles.”

“Jy kan môre vir jou die heel mooiste rok in die stad uitsoek. Ek sal daarvoor betaal. En die onthaal hou ons sommer in die restaurant.”

Daardie aand het hy haar weer laat haal na die restaurant. ’n Paar van sy vriende het ’n draai kom maak, en sy kon bars van trots toe hy haar as sy toekomstige bruid aan hulle voorstel. Nadat die meeste mense daar weg is, het Mark die jongklomp genooi om by hulle aan tafel te kom sit en vir hulle ’n gratis rondte bier bestel. Hulle het oor perdewedrenne aan die gesels geraak. ’n Gesprek waarin sy geen trek gehad het nie, want sy sou kwalik die verskil tussen ’n perd en ’n donkie ken. Al die manne was dit eens dat ’n sekere perd die volgende dag die wedren gaan wen. Net Mark het nie saamgestem nie. Hy’t sy hart op ’n buiteperd gesit.

Die volgende dag het hy haar werk toe gebel en gevra of sy ook iets op die buiteperd wil wed.

“Nee, toggie. Ek weet niks van daardie dinge af nie, man.”

“Ek is ook nie ’n beroepswedder nie, maar ek het ’n gevoel daardie Jack-perd gaan stof in die ander se oë skop. As hy wen, koop ek vir jou die mooiste verloof- en trouring wat jou oë nog aanskou het.”

Toe kom die Jack-perd eerste. Hy’t haar dadelik gebel, en wou ook sommer weet wat die nommer van haar bankrekening is.

“Wat op aarde wil jy daarmee maak?” wou sy weet.

“Ek gaan die wengeld in jou bankrekening deponeer.”

“Hoekom? Dis mos nie ék wat die geld gewen het nie.”

“Omdat ek jou nie gaan toelaat om ná ons troue te werk nie. Dan het jy jou eie geld, sien.”

“Wat is die bedrag nogal?”

Sy antwoord het amper haar asem weggeslaan. “Maar dis ’n enorme bedrag! Jy kan ’n huis daarmee bou. En nog ’n nuwe motor ook koop.”

Hy’t gelag. “Ek hét ’n huis en ’n bykans nuwe motor. Sien jou vanaand.”

Die aand het hy met ’n pragstuk van ’n verloofring en ’n bottel vonkelwyn by haar woonstel opgedaag. Haar laaste bietjie teenkanting teen ’n oorhaastige huwelik het soos mis voor die son verdwyn. Kwalik ’n week later is hulle stilweg in ’n intieme kerkie getroud. Net sy ma was daar, want Louis was steeds oorsee. Verder was dit net Jessica en Johan Sauerman – die man agter wie Jessica die dag by die restaurant aangehardloop het, ’n paar van hul ander kollegas en drie van Mark se vriende.

Mark kon nie iemand kry om langer as twee dae na die restaurant om te sien nie, dus was daar geen sprake van ’n lang wittebrood nie. Net twee onvergeetlike nagte in ’n hotel op ’n plattelandse dorpie was hulle beskore … die enigste twee nagte saam. Want die Maandagmiddag op pad terug stad toe het ’n dronkaard teen hulle vasgejaag. Mark was op slag dood. Sy het wonderbaarlik die dood ontkom en slegs ’n paar snye en skrape opgedoen.

Die begrafnis het asof in ’n waas by haar verbygegaan. Sy kon nie glo dis Mark wat in die kis lê nie. Mark wat in die dieptes van die aarde weggebêre word nie. Op ’n keer het Mark se ma langs haar kom staan. Daar was ’n man saam met haar. ’n Man met ’n somber gesig en koue oë. “Dis Mark se broer, Louis,” het sy Louisa hoor sê. Maar sy verskyning en verdwyning was ewe vaag. Sy het geglo sy is ook dood, soos Mark. Dat sy iewers in ’n tussentydse wêreld sweef, en dat hulle oor ’n dag of wat weer by mekaar sou uitkom.

Twee weke ná Mark se begrafnis het haar woonsteldeur se klokkie gelui. Toe sy die deur oopmaak, het dieselfde man met die somber gesig en kil oë voor haar gestaan. Sy’t hom kwalik binnegenooi, of hy wou weet watter metodes sy ingespan het om Mark te oorreed om met haar te trou.

Melanie was geskok deur sy brutale houding, maar het probeer om dit nie te wys nie. “Metodes? Die enigste rede waarom ek met hom getrou het, was omdat ons lief was vir mekaar.”

“Liefde!” Hy’t deur sy neus gesnork. “Geen mens met verstand sal van liefde praat ná ’n blitsromanse van net twee weke nie. Hoekom erken jy nie liewer daar was ander redes vir dié skielike huwelik nie?”

Sy was so oorbluf om ’n woord uit te kry. “Het Mark jou vertel van Tania?” het hy skielik gevra.

“Tania?” Sy het onwillekeurig gefrons. “Mark het nooit haar naam teenoor my genoem nie.”

Sy mondhoeke het afwaarts gesmaal. “Nee, ek glo hy sou jou nie van haar vertel het nie. Maar dit maak jou nie minder skuldig aan haar toestand nie. Want elke meisie met verstand sou geweet het om ’n man van Mark se ouderdom uit te vra oor sy vorige verhoudings voordat sy hom probeer inkatrol.”

Haar kop het gedraai. “Tania … Wie is sy? En van watter toestand praat jy?”

“Ek praat van die meisie met wie Mark kwalik ’n maand gelede nog op trou gestaan het. Sy is in so ’n toestand van skok oor Mark se heengaan en die feit dat hy boonop intussen met iemand anders getroud is, dat ’n senu-ineenstorting haar in die hospitaal laat beland het.”

Melanie het soos ’n wasbeeld gevoel – leweloos, bloedloos. Sou haar geheue aangetas wees? Maar die naam was heeltemal onbekend.

Louis was lankal by die deur uit, toe het sy nog asof versteen bly staan, met net die enkele naam wat soos ’n spintol in haar verstand bly draai het. Sy insinuasie oor Tania se toestand het haar nie gekwel nie. Maar dat Mark Tania se naam teenoor haar verswyg het … Dit het haar dae lank in ’n dwaal gehad, selfs laat twyfel aan Mark. Hoe goed het sy om eintlik geken? Sy’t dit selfs oorweeg om Tania te gaan opsoek, maar sy was te bang om dinge te hoor wat sy nié wou hoor nie.

’n Maand of wat daarna het Louisa Mark se testament met haar kom bespreek. ’n Saak wat nie in die kort rukkie wat sy en Mark mekaar geken het ter sprake gekom het nie.

“Ek is die enigste persoon wat in sy testament benoem is,” het Louisa gesê. “Maar ek glo as hy nie so skielik van ons weggeruk is nie, sou hy dit verander het. Sy besittings en geld kom jou toe, dus sal ons die saak moet uitklaar.”

Hulle het lank oor die testament gesels. Gestry selfs. Louisa kon nie glo dat sy, Melanie, nie van Mark se besittings of geld wou opeis nie. “Is jy dan self só welaf?” het sy gevra.

Sy het nie vir haar skoonma vertel van die perdewedrengeld nie. “Ek het genoeg om van te leef, en ek is jonk en sterk genoeg om vir myself te sorg. Sy nalatenskap kom Ma toe, nie vir my nie.”

Die testamentkwessie is egter eers uitgestryk nadat sy tog ingewillig het om die bedrag geld as geskenk te aanvaar waarvoor Mark se huis verkoop sou word. Sy was egter nie naastenby so bly oor die geld as oor die vriendskap tussen haar en haar skoonma nie. Want ná Louis se besoek en beskuldigings het sy vas geglo hy sou sy ma ook teen haar laat draai.

Terwyl hulle tee gedrink het, het sy Louisa uitgevra oor Tania en Mark se verbintenis.

“Louis het vir my gesê hulle het op trou gestaan. Maar Mark het my niks daarvan vertel nie.”

“Op trou gestaan! Nou waar sou Louis aan daardie storie kom? Mark kon haar dan nie voor sy oë verdra nie!”

“Volgens Louis het Tania ’n senu-ineenstorting gekry toe sy van Mark se dood en huwelik gehoor het.”

“Waar het jy dan vir Louis gesien?”

“Hy was hier by my woonstel, twee weke ná Mark se begrafnis.”

“O,” het Louisa verbaas gesê. “Wel, dit kon net jaloesie gewees het wat hom dit laat sê het. Hy en Tania was mos verloof. Maar nadat sy Mark eendag daar by my huis ontmoet het, het sy skoon van haar verstand af geraak. Ek het eers gedink sy probeer maar net vir Louis jaloers maak. Maar later het sy so openlik jag gemaak op Mark dat hy nie meer geweet het watter kant toe nie.”

“Is Ma seker daar was nie ’n verhouding tussen haar en Mark nie? Louis het dan so oortuig geklink.”

“Nee, daar was beslis geen sprake van ’n verhouding nie. In elk geval nie van Mark se kant af nie. Sy was ’n eienaardige meisie … Sy kón dalk vir Louis gesê het Mark is verlief op haar. Maar ek verseker jou Mark wou niks met haar te doen hê nie, nie eens nadat sy die verlowing tussen haar en Louis verbreek het nie.”

Met Mark se naam in ere herstel, kon sy weer asemhaal, al was haar verlange na hom so intens dat sy nagte omgehuil het. Daar was spoedig ’n hegte band van vriendskap tussen haar en Louisa. Sy was dan ook die eerste mens vir wie sy van haar swangerskap vertel het toe sy twee maande ná Mark se dood agterkom daar is ’n baba op pad. Louisa was in die wolke! So verheug dat sy dit dadelik vir Louis gaan vertel het, want die volgende dag was hy weer voor haar deur.

“Ek hoor jy is swanger?”

“Dis reg, ja.”

“Wie se kind is dit?”

“Wat bedoel jy?”

“Jy wil seker baie graag hê ek moet glo dis Mark se kind. Maar dít sal jy eers moet bewys!” Hy’t smalend gegrim. “Moenie dink ek is soos my ma, wat jou slim deurdagte plannetjies vir soetkoek opeet nie. Jy kan die geld vir Mark se huis, wat my ma so goedgunstiglik aan jou geskenk het, gebruik om jou buite-egtelike kind groot te maak, maar ek belet jou om weer met my ma in aanraking te kom. Jy en jou kind sit nie jul voete naby haar nie!”

Voor sy nog haar asem kon terugkry, het hy omgedraai en geloop. Louisa het haar later vertel dat hy met dieselfde storie by haar aangekom het. Nie dat haar skoonma haar daaraan gesteur het nie. Sy het Louis se dreigement as ’n groot grap beskou. Louisa was dan ook van Antonie se geboorte af gek na die kind wat Mark se gelaatstrekke en eienskappe so sprekend weerspieël.

Met Louis Walters was sy nooit weer in aanraking nie. Hy was meer in Amerika as in Suid-Afrika. Wanneer hy hier gekom het, was dit net vir ’n paar dae. Sulke tye het sy en Louisa liewer weggebly van mekaar. En nou, ’n rukkie gelede, hierdie telefoonoproep …

Rots van Stormbaai

Подняться наверх