Читать книгу Rots van Stormbaai - Elza Rademeyer - Страница 4
2
Оглавление“Het jy nog nie opgepak nie?” vra Jessica toe sy veel later weer die kantoor binnekom en die deurmekaar lessenaar sien. “Dit wás al tyd om huis toe te gaan.”
“Heng, ek het nooit besef die tyd het so vinnig aangestap nie,” sê Melanie onthuts toe sy op haar horlosie kyk. “Ek het so oor die verlede gesit en droom dat ek skoon vergeet het van werk. Ek sal van die verslae moet huis toe vat, anders gaan meneer Potgieter môre wonder wat ek die hele dag gedoen het.”
“Sê vir hom dis jou swaer wat jou uit die werk gehou het,” spot Jessica.
“Moenie nog spot nie. My senuwees is skoon gedaan.”
Jessica lag. “Is dit van vrees? Of is jy dalk heimlik verlief op jou swaer? Hy kan ’n aanwins wees. Jy sê mos jou skoonma sê hy’t so ’n kasteel in Constantia en …”
“Moenie simpel wees nie! Al is hy die laaste man op aarde sal ek nie op hom verlief raak nie. Hy’t my nog elke keer soos ’n wurm laat voel. Ná vanaand sal ek seker soos ’n muishond voel.”
“Miskien moet jy die ding ’n slag omkeer en hóm soos een laat voel.”
“En hoe dink jy moet ek dit regkry?”
“Deur die wind uit sy seile te neem. Nooi hom gul binne, help hom om van sy baadjie ontslae te raak, druk hom plat in ’n stoel, jaag vir hom ’n bier in, masseer sy voete, en siedaar! Voor hy hom kon kry, eet hy uit jou hand!”
“Was dit hoe jy Johan Sauerman se hart gesteel het?”
Jessica kyk skielik anderpad. “Is dit nou nodig om my aan hóm te herinner?”
“Ag, jammer, ou maatjie. Ek het gepraat voordat ek gedink het.”
“Toemaar, ek sal darem seker sy ontrouheid oorleef.”
Ook maar goed Jessica het ’n maand of wat gelede van Johan se ontrouheid uitgevind, en hul verlowing verbreek, dink Melanie toe hulle buite die gebou van mekaar afskeid neem. Sy, Melanie, kon dwarsdeur die amper vyf jaar wat die twee verloof was nooit vat aan Johan Sauerman kry nie. Kunsmatig is nie die woord vir hom nie. Aantreklik, vol charisma en skatryk, ja, dié is hy gewis. Maar daar was altyd iets wat nie met sy sjarmante uiterlike strook nie, iets sinisters.
Maar haar gedagtes flits gou weer van Jessica en Johan terug na Louis. Wat gaan sy vir hom sê as hy haar konfronteer oor die skelm besoeke tussen haar en sy ma? Hoe sou hy daarvan uitgevind het? Melanie is so ingedagte dat sy amper verby die huis van Antonie se dagmoeder ry. Maar toe sy en Antonie die woonstel binnegaan, ruk sy haar reg. Die laaste ding wat Louis Walters moet weet, is dat sy bang is vir hom. Toe die deurklokkie stiptelik sesuur lui, stap Melanie doelgerig deur toe.
“Middag, mevrou Walters,” groet hy kortaf voordat hy ongenooid die woonstel binnestap.
“Middag, meneer Walters,” groet sy afsydig terug en staar hom afwagtend aan sonder om vir hom sitplek aan te bied.
Hy strek hom egter doodluiters self op ’n gemakstoel uit en kyk eers krities rond. “Ek sal nie jou tyd verspil nie. Sê my net eers, waar is die kind?”
“Die kind het ’n naam,” wys sy hom ergerlik tereg. “Antonie is in die slaapkamer. Ek het vir hom ’n inkleurboek gegee om hom besig te hou.”
Hy gluur haar priemend aan. “Hoe lank is hierdie skelm ontmoetings tussen jou en my ma al aan die gang?”
Sy lig haar ken en kyk hom uitdagend in die oë. “Van nog voor Antonie se geboorte af.”
“Ek het dit vermoed.”
“Wat het jy op die hart, meneer Walters? Wil jy jou ma verbied om haar kleinkind te sien?”
“Nee, gedane sake het geen keer nie.” Hy staan op, loop deur die vertrek en bekyk die skilderye teen die muur asof hy die waarde daarvan bepaal voordat hy reg voor haar kom staan. “Kyk, ek gaan nie doekies omdraai nie. Soos jy self weet, ken ons twee mekaar nie baie goed nie. En, ja, ek was die duiwel in toe ek uitvind van julle jare lange gekonkel agter my rug. Maar ek het goed daaroor nagedink en …”
“En …?” moedig sy hom uitdagend aan toe hy swyg.
Hy roer sy skouers effens. “My ma was nog altyd behep daarmee om ’n kleinkind te hê. Ek sal nie in haar pad staan of moeilikheid probeer maak nie, maar daar is ’n voorwaarde aan verbonde.”
“Gaan voort.”
“My voorwaarde is dat ons trou.”
Gelukkig is daar ’n muur agter haar, anders het sy voorwaar agteroor geslaan. “Ekskuus?”
“Jy het gehoor wat ek gesê het. Ek maak jou ’n huweliksaanbod sodat Antonie die vastigheid van ’n ouerhuis kan hê. Ook ter wille van my ma se liefde vir hom en ter wille van Antonie se toekoms.” Hy kyk haar stip aan. “Dit beteken nie dat ons in die ware sin van die woord soos man en vrou sal saamleef nie. Maar jy sal ten minste nie langer hoef te werk nie, dus sal jy meer tyd aan jou kind kan bestee.”
’n Onsinnige begeerte om histeries te giggel kom in haar op. “Ek het nog nooit van só iets absurds gehoor nie. Ons noem mekaar nie eens op die naam nie, en jy wil met my trou!”
Hy lig sy skouers. “Dink maar gerus daaroor,” sê hy komkommerkoel. “Onthou, dit gaan oor Antonie se opvoeding en toekoms.”
Melanie kan die man met sy selfversekerde houding in die duur snyerspak net verstom aanstaar. Dan stoot ’n yskoue woede in haar op. “As ek veronderstel is om dankbaar of gevlei te voel, sit jy die pot mis, meneer Walters. Ek kan my kind self en alleen opvoed. Ek stel werklik nie in jou huweliksaansoek belang nie. Hoe gouer jy uit my woonstel trap, hoe beter!”
“Antonie is nou nog klein en weet nie veel van die lewe nie,” gaan hy voort, skynbaar onbewus van haar gramskap. “Maar wanneer hy eersdaags skool toe gaan en besef ander kinders het pa’s, sal hy begin wonder hoekom hy nie een het nie. En hoe ouer hy word, hoe groter gaan jou finansiële verpligtinge raak. Met jou soort salaris sal jy hom nie alles kan gee wat hy nodig gaan kry nie.”
Melanie verwerdig haar nie eens om te antwoord nie, loop net deur toe en maak dit beslis oop. “Gaan nou, asseblief. Jy treiter my humeur vir die soveelste keer. As ek nou uitbars …”
Hy kom tydsaam nader gedrentel tot in die deuropening. “Dink oor my aanbod en laat my so gou moontlik weet wat jy besluit.”
Melanie sluit die deur agter hom, en sak verslae op die rusbank neer. Vanwaar sy skielike besorgdheid oor Antonie? Hy glo dan nie eens dis sy broer se kind nie. Hy’t dan geïnsinueer dis ’n ander man se kind en dat sy net met sy broer getrou het om haar skande toe te smeer!
Die telefoon skril skielik en Melanie aarsel. Maar dit kan nie hý wees nie. Die hysbakdeur het tog so pas agter hom toegegaan, sug sy verlig. Dit is dan ook nie hy nie, maar Louisa.
“Melanie, ek wil jou net waarsku,” val haar skoonma met die deur in die huis. “Louis is terug in die Kaap. En hy’t ons gesien, eergistermiddag by die restaurant. Hy was op pad na my toe om te kom groet, toe sien hy ons die restaurant binnegaan. Ons het so lekker gesels dat ons nie eens agtergekom het die uwe agtervolg ons en gaan sit by ’n tafeltjie agter ’n potplant nie. Ek moes toe maar bieg dat ons mekaar gereeld sien.” Sy gee ’n laggie. “Oee, en was hy briesend! Maar sy houding het handomkeer verander toe hy sien ek steur my nie aan sy woede nie. Vanoggend kom sê hy toe so ewe vir my ons kan maar voortgaan met ons kuiertjies. Hy sal selfs ’n plan maak dat ek Antonie nóg meer gereeld kan sien.”
“Louis was so pas hier by my, Ma.”
“So? En toe?”
“Hy’t my ’n huweliksaanbod gemaak.”
Aan die ander kant trek haar skoonma haar asem in.
“Jy jok! Ek bedoel, dis seker nie waar nie?”
“Nee, regtig, Ma.”
Dis ’n rukkie doodstil voordat Louisa se stem weer in haar oor opklink. “Maar ek het dan gedink julle ken mekaar amper nie eens nie?”
“Dit is so. Ons ken mekaar eintlik glad nie.”
Weer doodse stilte. “En wat was jou antwoord?”
“Dis buite die kwessie.”
“Het Louis laat blyk dat hy ’n … wel, ’n gevoel of iets vir jou het?”
“Wat waarvandaan kom? Hy ken my net so sleg as wat ek hom ken. Nee, gevoelens is nie ter sprake nie. Hy’t my duidelik laat verstaan dat dit net ’n huwelik in naam sal wees. Ter wille van Antonie se toekoms en Ma se liefde vir hom. Dít, nadat hy nie eens glo Antonie is Mark se kind nie!”
“Hy’t van mening verander nadat hy Antonie daar in die restaurant gesien het. Hy’t my vertel hoe hy sy gesig bestudeer het – geen mens kan die ooreenkoms tussen Mark en Antonie miskyk nie.”
“So! Hy’t nie ’n woord daarvan teenoor my gerep nie. Maar hoe dit ook al sy, ek stel nie in sy huweliksaanbod belang nie.”
“Miskien moet jy dit tog nie summier verwerp nie. Louis is nie een wat ligtelik besluite neem nie. Ag, ek weet hy kan maar lekker dwars wees, maar daar steek meer goed as kwaad in hom. Onder daardie ysterharde oppervlak skuil eintlik ’n baie sagte hart. En hy sal goed vir jou en Antonie sorg. Jy sal jou nie oor geld hoef …”
“Vergeet dit! Ek en Antonie kom heeltemal goed reg op ons eie.”
“Goed, kom ons vergeet daarvan.” Die ouer vrou sug aan die ander kant. “Maar hierdie ding dat jy jou werk bedank het en uit die stad wil trek … Hoe ver het jy gekom met jou planne? Het jy al ander werk gekry?”
“Nee, nog nie. Maar ek maak oor drie dae klaar en gaan dan eers vakansie hou. Intussen sal ek maar die koerante dophou om te sien waar daar iewers iets opduik.”
“Het jy al besluit waar jy vakansie gaan hou?”
“Nee, nog nie. Ek dink ek gaan sommer net in my motor klim en my aan die neus laat lei.”
“Jy moet my darem op die hoogte hou van jou doen en late. Onthou, dis nie net vir Antonie wat ek lief is nie. Ek het sy ma ook lief – asof sy my eie dogter is.”
Melanie se hart verteder. “Natuurlik sal ek … en baie dankie weer dat Ma my nooit gewantrou het nie. Ma sal nooit besef hoe ek die begrip en bystand waardeer nie. Veral kort ná Mark se dood toe ek agtergekom het ek is swanger.”
“Moet tog maar nie vir Louis te kras oordeel nie. Ek sê so dikwels vir hom sy bitterheid teen die lewe gaan hom niks in die sak bring nie. Dit stoot net mense van hom af weg.”
Sý bitterheid! dink Melanie nadat sy en haar skoonma hul gesprek beëindig het. Sy bitterheid het haar hoeveel slapelose nagte besorg! Hoe lank het dit haar laat glo daar was wel ’n verhouding tussen Mark en Tania. Hoe kan Louisa verwag sy moet vergeet en vergewe asof niks gebeur het nie?
Antonie se vrolike laggie onderbreek haar gedagtes.
“Het jy al die prentjie klaar ingekleur?”
“Nee, Mamma. Maar ek is honger.”
“Kom, ek gaan maak vir ons iets lekker om te eet. Jy weet, dis nog net drie dae dan gaan ons met vakansie, nè.”
“Gaan ons see toe?”
“Wel, ja, ons kan seker maar see toe gaan. Na ’n stranddorpie toe … iewers waar ons twee lekker op die strand kan baljaar. Maar ons sal darem ’n paar dae op Swellendam by tant Anna ook moet gaan kuier. Sy kan mos amper jou ander ouma genoem word.”
“My ander ouma?”
“Ja. Ek was mos nog klein toe my ma-hulle dood is. Sy het my grootgemaak. ’n Mens kan sê sy was my amper-ma. En dan is sy mos jou amper-ouma.”
“Is dit daardie tannie wat so huil?”
“Ja, maar sy sal nie nou meer huil nie. Haar man was pas dood toe ons laas daar was. Sy was net hartseer.”
“Was Mamma hartseer toe Pappa dood is?”
“Ja, baie hartseer. Maar soos die tyd aanstap, raak ’n mens se hartseer minder. Dan huil ’n mens nie meer so baie nie.”
“Gaan ek nooit, nooit, ’n lewende pappa hê nie?”
Dis ’n vraag wat al meer en meer opduik. Melanie kies haar woorde versigtig. “Miskien, eendag. Ons moet net nie haastig raak nie, want dan kies ons dalk ’n verkeerde pappa.”
Die kosmakery help om haar gedagtes in ’n ander rigting te stuur as om oor Louis se huweliksaanbod of Mark se dood te tob. Maar toe Melanie later die aand in die bed klim en haar blik op Mark se foto val, skiet ’n pyn van verlange deur haar hart. As hy net een keer sy seun kon sien … As hy net kon geweet het wat die gevolge was van daardie onvergeetlike twee nagte …
Vroeg die volgende oggend kom maak Jessica ’n draai by haar kantoor, baie nuuskierig oor die afspraak. “Ek het gedink daar steek meer agter Louis se besoeke en uitskellery,” merk sy lakoniek op toe sy hoor van die huweliksaanbod. “Hy’s verlief op jou, man. Hy’s net te skaam of onnosel om dit reguit te sê.”
“Verlief se voet! As jy mý vra, is hy by verwaand verby! Dankie tog, dis nog net twee dae voordat ek en Antonie met vakansie gaan.”
“Sal jy my laat weet waar jy jou bevind?”
“Net op die voorwaarde dat jy nie vir Louis Walters sal sê waar ek is nie.”
Twee dae later is sy en Antonie op die punt om te ry, toe Louis uit die bloute aan die woonsteldeur klop en ewe vriendelik groet: “Goeiemôre, Melanie.”
Dis die eerste keer dat hy haar op haar naam noem. Al die vorige kere was dit ’n onpersoonlike, formele “mevrou Walters”. Sy is nogtans onmiddellik op haar hoede.
“Goeiemôre, meneer Walters. Is daar iets waarmee ek kan help?”
Sy oë dwaal oor haar handsak, en oor Antonie wat netjies aangetrek die vertrek instorm. “Dit lyk vir my julle staan op die punt om iewers heen te ry. Ek is jammer ek het nie ’n afspraak gemaak nie, maar …”
“Ons staan op die punt om te vertrek, ja,” knip sy hom kort. “Wat jy dus te sê het, moet vinnig afgehandel word.”
“Hoe laat gaan jy terug wees? Kan ek dalk vanmiddag met jou kom gesels?”
“Waaroor?”
“Oor my huweliksaanbod van vroeër. Ek besef nou hoe ondiplomaties my optrede was. Dit was nie my bedoeling om jou te skok of in ’n hoek te dryf nie. Ek weet nie mooi hoe om dit te verduidelik nie …”
“Jy hoef nie te verduidelik nie. Ek het dit tog seker duidelik genoeg gestel dat ek nie belangstel in jou huweliksaanbod nie.”
“Ons gaan see toe,” snip Antonie tussenbeide. “En Mamma sê as ons lekker woon daar, kom ons nooit weer terug stad toe nie.”
“Wat beteken dit?” vra Louis fronsend.
“Presies wat Antonie sê. Ons is op die punt om te vertrek.”
“Met verlof?”
“Wel, ja, my plan is om eers ’n paar weke lank vakansie te hou. Ek was sedert Antonie se geboorte nog nooit met verlof nie, so ek dink ek verdien ’n blaaskans.”
“Maar wat bedoel hy met nie weer terugkom stad toe nie?”
“Dit sal afhang van waar ek werk kry.”
“Jy bedoel tog seker nie jy gaan jou werk hier los nie?”
“Ek het gister die laaste dag van my kennismaand gewerk – ek het dit dus nie sommer net gelos om weg te dros nie.”
“Is jy ernstig?”
Hy lyk skielik ’n bietjie ongemaklik. Dit laat haar tot in haar kleintoontjies lekkerkry. “Ja, doodernstig.”
“Waarheen is julle op pad?”
Sy lig haar skouers. “Ek het nog geen idee nie. Ons gaan ry tot by ’n plek waarvan ons hou.”
“Hoekom? Wat het jou gemotiveer om só ’n besluit te neem?”
“Is ek werklik ’n verduideliking aan jou verskuldig?”
“Nee, seker nie. Maar wat van Antonie en my ma se hegte band? Jy kan tog nie haar kleinkind van haar vervreem nie?”
“Ons sal kontak behou. Ek het Ma belowe.”
“Luister, ek dink jy tree oorhaastig op. Kom ons bespreek eers die saak deeglik.”
“Daar is niks om te bespreek nie, meneer Walters,” sê Melanie ongeduldig en kyk geensins subtiel op haar horlosie. “Verskoon ons nou, asseblief. Dis reeds heelwat later as wat ek gehoop het om in die pad te val. Kom, Antonie. Dit word laat.”
En tot Louis: “Tot siens, meneer Walters. Ek hoop jy kry spoedig iemand wat wel jou huweliksaanbod sal oorweeg.”
Eers nadat hulle die stad verlaat het en die verkeer minder druk is, speel ’n effense glimlaggie om Melanie se nou aansienlike meer ontspanne gesig. Dit was nogal snaaks om Louis Walters oorbluf te sien, dink sy met genoegdoening. Hy’t seker nie gedink sy sal die moed hê om hom na sy peetjie te stuur nie.
Antonie raak gou verveeld en geïrriteerd. Dis ’n lang, eentonige rit en Melanie kan net nie die regte vakansieplek kry nie. Gelukkig raak hy eindelik ná veel gesanik aan die slaap. Dit gee haar kans om die stranddorpies beter te bekyk. Hermanus, Gansbaai, Quoin Point, en dan skielik ’n paar kilometer verder ’n skewe naambordjie wat aantoon dat dié slinger-stofpaadjie jou by Stormbaai uitbring wanneer jy regs draai. Wat haar dié sleg pad laat kies, weet sy nie. Maar toe sy eindelik, ná vele kronkelinge tussen klowe en hoë kranse deur ’n bordjie bereik met die goeie nuus dat sy nou Stormbaai binnegaan, trek sy verruk haar asem in.
Melanie hou dadelik stil om die skilderagtige prentjie voor haar te bewonder. Die plek het die verkeerde naam gekry, is haar eerste gedagte. As sý ’n naam moes kies, sou dit eerder Rus en Vrede gewees het. Want waar sal jy rustiger kry? ’n Kronkelende rivier met ’n paar witgekalkte huisies op die grasgroen oewers wat jou vriendelik nader wink van onder die hoë bome. Die pad wat jou lok om oor die twee houtbruggies te ry tot waar die bome yler raak om plek te maak vir ’n spierwit sandstrand waar die rivier in die see uitmond. Die blou van die see op die agtergrond … ’n ware paradys!
“Antonie, hoe lyk dié plek vir jou?” vra sy toe sy agterkom hy het orent gekom op die agtersitplek van die motor.
“Is hier ’n see?” wil hy weet terwyl hy vakerig oor sy oë vryf.
“Ja, kyk daar op die agtergrond. Ons kan hom nou nog nie heeltemal sien nie, net so ’n stukkie. Wag maar net totdat ons daar na die riviermonding toe ry.”
Eindelik ry sy stadig verder, skoon verwonderd oor die ongerepte natuurskoon om haar … totdat sy besef daar is geen teken van lewe by die eerste drie huisies te bespeur nie. Die deure en gordyne is alles dig toe. Word van die huisies hoegenaamd bewoon? Daar is ook geen hek of kantoor wat aandui dat dit ’n vakansieoord is nie. Beteken dit sy het verniet hierheen afgedraai?
Nog ’n leë huisie … En toe ’n geboutjie met skewe handgeverfde letters op die dak: Tant Sara se Kontantwinkel. Sy trap dadelik rem toe ’n groot hond vanuit ’n spul gaskanne op die stoep na vore kom. Die winkeldeur staan oop. Toe sy uitklim, kom die hond al gapende nader. Sy wag hom wantrouig in, gereed om terug te spring in die motor as daar moeilikheid kom. Maar hy stel gelukkig meer in haar motor se wiele belang as in haar. Binne-in die geboutjie moet Melanie eers haar oë ’n paar keer knip om te kan sien wat daar in die skemer op haar wag.
“Goeiemiddag,” word sy deur ’n middeljarige vrou van agter die toonbank gegroet. “Waarmee kan ek help?”
“Goeiemiddag. Ek het op die ingewing van die oomblik hierheen afgedraai, gedink dis dalk ’n vakansieoord,” begin sy onseker. “Weet jy of hier dalk van die huisies te huur is?”
“Permanent, of vir hoe lank?”
“Vir ’n paar dae. Dalk ’n week of so?”
“Ja, ons sal jou seker kan help. Maar jy sal vir meneer Retief moet vra. Die leë huisies behoort almal aan hom. En jy sal vooruit moet betaal. Hier kom soms mense wat sê hulle sal môre betaal, en as ons ons oë uitvee, het hulle in die middel van die nag pad gevat sonder om ’n sent uit te haal!”
“Waar kan ek met meneer Retief in aanraking kom?”
“Jy behoort hom by sy huis te kry. Sover ek weet, is hy nie vanoggend met die boot uit see toe nie.”
“Waar woon hy?”
“Wag, laat ek jou daar van buite af beduie.” En sommer so half in dieselfde asem tot die hond wat die winkel binnekom: “Voertsek, Boel. Vir wat foeter jy alewig onder ’n mens se voete in? Hy’s ook niks anders as ’n Russiese waghond nie. Rus hy nie, wag hy vir kos.” En toe hulle buite kom: “Jy ry tot by die see waar die pad vurk, en dan draai jy regs om die koppe tot … Wag, lyk my daar kom hy juis nou aangery. Seker om ou Jors se gaskan te kom laai. Maar sê my, waar kom jy dan vandaan?”
“Van Kaapstad af.”
“En die kind daar in die motor?”
“Dis my seuntjie.”
“Nou war is jou man dan?”
“Hy’s oorlede.”
“So! Wat is jou naam?”
“Ek is Melanie Walters, en my seuntjie se naam is Antonie.”
“Nou ja, ek is Sara Niewoudt. Jy kan maar sommer sê tant Sara. Dis hoe almal hier my noem.”
Melanie neem nie veel notisie van die man in die oorpak wat uit sy bakkie klim en na hulle toe aangeloop kom nie. Toe hy by hulle vassteek en tant Sara hom as Lafras Retief bekend stel, sê sy egter verras: “Lafras! My hond se naam was ook Lafras.” Eers toe kyk sy op, en val dit haar op dat hy ’n besonder aantreklike en manlike gesig het. Maar die frons op sy voorkop en die manier waarop hy na haar kyk, spreek nie van vriendelikheid nie. Wel, dit was seker ’n ontaktvolle, onnadenkende opmerking! “Ek meen, dit was jare gelede, toe ek nog klein was,” stamel sy oorstuur. En toe hy haar bly aanstaar: “Dit was in elk geval nie ék wat die naam vir hom gegee het nie. Hy’t klaar die naam gehad toe ek hom present gekry het.”
Sy gesig vertrek nie ’n spier nie. “Waarmee kan ek help?”
“Ek wil ’n huisie huur as ek kan … of mag.”
“Vir hoe lank?” wil hy weet.
“Dit hang af van hoe lekker ek kuier. Dalk vir ’n week, of langer.”
“Jy wil seker ’n gemeubileerde huisie hê?”
“Wel, ja. Ek het nie meubels saamgebring nie. Net beddegoed en so aan.”
“Daar is net twee huisies om van te kies. Klim solank in die bakkie. Ek laai net gou ’n gaskan, dan neem ek jou daarheen.”
“Moet ek nie sommer agter jou aanry nie?”
“Dis onnodig, want jy moet terugkom om hier by tant Sara te kom betaal.”
“Kan my seuntjie ook saamry?”
“Ja, natuurlik.” En tot die ander vrou: “Tant Sara, hier is tant Kotie se lysie. Kry solank haar goedjies reg, ek sal dit netnou kom haal.”
“Het ou Jors geld saamgestuur vir die gas?” vra tant Sara.
“Nee. Hy’t gesê hy sal maandeinde kom regmaak.”
“Gmf! ’n Mens sal sweer ek kan van maandeindes leef! Wonder wat sal hy maak as ek die dag nie meer hier is nie.”
Toe Lafras in die bakkie klim, nadat sy en Antonie klaar hul sit gekry het, val dit haar op hoe hy vlugtig opsommend na die kind kyk, ’n ligte fronsie tussen sy wenkbroue. “Is dit jou kind?”
“Ja. Sy naam is Antonie.”
“En jou man? Waar is hy?”
“Oorlede.”
“O.”
Hulle ry in stilte totdat hy net voor die tweede houtbruggie regs swenk na die twee huisies daar naby mekaar. “Jy kan kies in watter een jy wil tuisgaan,” sê hy en diep ’n bondel sleutels uit die paneelkissie. “Kom kyk watter een wil jy hê.”