Читать книгу Tweede kans op liefde - Elza Rademeyer - Страница 3
1
ОглавлениеMynhard Malan moet noodgedwonge spoed verminder toe hy die hoofweg verlaat en die stofpad na Goudbaai vat. Seker onlangs kwaai gereën in dié geweste, dink hy toe hy die slote en slaggate sien. Sy gedagtes is egter nie lank daarby nie, want hy kan sy opgewondenheid nouliks in bedwang hou. Nie in sy wildste drome het hy kon dink dat hy eendag die eienaar van ’n plaas sou word nie. Dít boonop die plaas Koppie-alleen waar hy die lewenslig aanskou en die eerste sewe jaar van sy lewe deurgebring het! Daarmee saam ook genoeg geld om die plaas lewensvatbaar te maak. Wat dit alles so ongelooflik maak, is dat hy dit van sy pa geërf het! ’n Pa wat hy geglo het jare gelede reeds oorlede is.
Hy het nooit aan die plaas gedink, of ná sy ma se dood gewonder wat daarvan geword het nie. Seker oor die kinderhuis op George, waar ’n suster van sy ma hom na sy ma se dood gaan aflaai het, so ’n groot aanpassing vir hom was. Veral in die begin toe sy vryheid plotseling ingeperk was. Daar was nie ’n veld waar hy kon gaan rondloop nie. Geen diere nie. Net streng reëls en regulasies. Gelukkig was daar darem ’n kinderlose egpaar wat hulle oor hom ontferm en hom naweke na hul kleinhoewe buite die dorp geneem het. Dáár was hoenders, ganse, twee melkkoeie en ’n hond. Hy het daar en dan besluit hy wil ook eendag ’n boer soos oom Tom word. Totdat hy uitgevind het plase of kleinhoewes val nie uit die lug nie. Jy moet geld hê om so iets te koop.
Om saam met oom Tom aan sy bakkie se enjin te werk, was ook interessant en lekker. Toe word hy maar ’n motorwerktuigkundige.
By tye raak hy nog bang daar is iewers ’n misverstand, of dat hy sommer net droom, al het hy Oos-Londen toe gery om sy oorlede pa se prokureur te gaan spreek, en self Dirk Malan se testament onder oë gehad.
Toe hy Goudbaai bereik, ry hy nóg stadiger om alles om hom in oënskou te neem. Die baai en die hotel daar naby wek wel vae herinneringe. So ook die paar huise langs die stofpad wat deur die dorpie loop na ’n paar kleinhoewes met die naam van Oewersdal, en daarvandaan na Koppie-alleen, asook enkele ander plase. Die mense het destyds van Goudbaai gepraat asof dit ’n dorp is, onthou hy. Seker oor daar ’n kerk, ’n hotel, en ’n paar klein besighede is. Teen die kop agter die hotel merk hy ’n paar spoggerige nuwe huise op. Hulle was definitief nie in sy kinderdae daar nie, so hier is darem ’n bietjie uitbreiding.
Die drie kilometer van Goudbaai na Oewersdal laat hom ook nie toe om vinnig te ry nie. Hy tel die huise toe hy Oewersdal bereik. Hier is agt hoewes. Die huise sit almal langs die pad, en ’n entjie agter die huise vloei die Groenrivier verby wat so halfpad tussen Oewersdal en Goudbaai in die see uitmond.
By die tweede laaste kleinhoewe se hek hou hy stil. Dit is waar sy bestemming vir die langnaweek gaan wees. In Koppie-alleen se huis woon daar nog mense wie se huurtyd eers die einde van die maand verstryk. Sy nuuskierigheid om die plaas te sien, het hom nie toegelaat om tot dan te wag nie. Gelukkig het hy ’n kollega by die werk met ’n oom wat ’n kleinhoewe by Oewersdal besit. Dié oom was egter onlangs in ’n motorongeluk en lê in die hospitaal op George met ’n slegte beenbreuk. Oom Jos was dan ook heel inskiklik dat hy die naweek in sy huis kan bly. Al vergoeding wat hy daarvoor wil hê, is dat hy wat Mynhard is, die gras om die huis moet sny.
Die dae in die hospitaal het oom Jos uitgehonger vir geselskap. Tydens sy besoek het die oom hom onder meer vertel van die weduwee-buurvrou op Oewersdal, Magriet Nel, vir wie hy moet ligloop, en haar beskryf as die wandelende plaaslike koerant. Twee blaaie van verdraaide waarhede en agtien bladsye vol sensasie. Iemand wat hy moet kortvat. Die ander buurvrou is baie gaaf en lief vir kook en bak, so sy bederf hom voortdurend met lekkernye.
Hy laat dwaal sy blik oor die twee huise langsaan, en neem aan die kwaai weduwee woon in die kothuisie wat so ’n bietjie dieper in die erf sit. Die ander huis is ’n bietjie groot vir ’n enkellopende weduwee.
Nadat hy sy goedjies afgepak het, loop hy om die huis. Die gras kort ’n goeie sny. Miskien moet hy dit sommer nou doen. Dan kan hy môre die hele dag op Koppie-alleen deurbring. Hy haal die leer af wat teen die hoë muur staan wat die erf van die kothuis skei, en gaan sit dit op die agterstoep sodat dit uit die pad van die grassnyer sal wees.
Sy dors dryf hom egter om eers vir hom ’n bier uit sy yshouer te haal en daarmee op die voorstoep te gaan sit. Hy het kwalik sy sit gekry of hy hoor ’n geskel by die kothuis. Die hoë muur tussen die twee huise verhoed hom om die persoon te sien, maar hy kan die woorde duidelik hoor.
“Kyk net wat het jy weer aangevang, Tobias! As ek my sonde nie ontsien nie, trek ek jou oor my skoot en gee jou ’n allemintige pak slae. Kyk hoe het jy die stoelkussing bemors! Moenie maak asof jy doof is nie. Jy weet goed ek praat met jou!”
Sjoe, oom Jos was reg oor die kwaai buurvrou, dink hy toe die geskel voortgaan. Hy het aangeneem sy sal al ’n ouerige persoon wees, maar haar stem klink nog jonk.
“Thomas, kom uit daar uit die blomme! As jy nie jou kos wil vreet nie, gee ek dit vir Goliat. Hy kry mos nooit genoeg nie! Nee, Jason, dis nie jou kos nie. Vat jou weg, jy is al gans te dik!”
Dit kan nie met mense wees wat sy so raas nie. Meen te sê: vuil pote, dik, vreet! Seker maar troeteldiere, dink hy nog, toe daar skielik pandemonium by die ingangshek in die straat losbars waar twee yslike boerboele mekaar takel.
Dit laat hom op twee gedagtes hink: Sal hy hulle los dat hulle mekaar verskeur, of moet hy poog om hulle uitmekaar te jaag? Vir ’n bloedbad voor die hek is hy voorwaar nie lus nie, so laat hy maar hardloop en die tuinslang gaan haal. Gewoonlik skrik honde en neem die loop as jy hulle natspuit. Gelukkig het hy sy hond by vriende op George gelos, anders sou dié ook nou nog ’n lawaai opgeskop het.
Tessa besef dadelik wat weer aan die gebeur is toe sy die honde se geraas voor die buurman se hek hoor. Bo van haar stoep af het sy die honde in die straat gesien, en sommer geweet daar gaan weer moles kom. Nugter alleen weet wie se honde hulle is, en hoe dit kom dat hulle mekaar elke keer hier op dieselfde plek teëkom en te lyf gaan. Dis nou al die derde keer in een week. Daar is net een manier om hulle uitmekaar te laat spat, en dis deur hulle nat te spuit.
Sy hardloop muur toe, bestyg die leer wat daar staan, en spring. Toe sy sien daar is iemand aan die ander kant, is dit te laat om om te draai. Sy trek klaar deur die lug.
Mynhard is besig om die tuinslang aan die kraan te koppel toe iets hom met ’n allemintige slag teen die agterstewe tref en vorentoe slinger sodat die sterre voor sy oë spat, toe sy kop die muur tref. Vir ’n flitsende oomblik dink hy die skeidsmuur tussen hom en die buurvrou het bo-op hom omgeval, maar toe hoor hy ’n kreungeluid en iets wat klink soos: “O, hel!”
Toe die sterre wyk en sy oë weer kan fokus, is hy nie doodseker of hy sien wat hy sien, en of die kopstamp teen die muur hom laat hallusineer nie, want van iewers uit die hemelruim het ’n meisie gekom, hom skoon van sy voete af geval, en nou lê sy allerhande snaakse geluide en maak neffens hom op die gras.
Op sy vraag of sy seergekry het, uiter sy net ’n roggelende geluid.
Tessa se wind is weggeskrik of uitgeval. Dis die laaste ding wat sy te wagte was toe sy oor die muur gespring het, dat sy bo-op ’n inbreker sou beland! Al waaraan sy kan dink om te doen, is om te maak asof sy sterwend is, want net vanoggend het nuus oor die radio gekom van ’n weduwee wat aangerand is toe sy ’n geraas in haar bure se erf gehoor en ondersoek gaan instel het.
“Wie die duiwel is jy, en waar kom jy vandaan?” hoor sy hom bulder, maar nog voordat sy kans kry om ’n tweede doodsroggel na te boots, hoor sy hoe hy agterdeur se kant toe hardloop.
Hy dink sy is dood en gaan die huis beroof, vliet dit deur haar gedagtes. Moet sy hier lê en wag tot hy die huis leeggedra het? Nee, so maklik kan sy dit darem nie vir hom maak nie. Haar oog vang die graaf wat teen die muur staan, en sy spring op, gryp dit, en sit hom agterna.
Dit val Mynhard by die agterdeur is gesluit. Sy selfoon lê op die voorstoep se tafel waar hy gesit en bier drink het. Hy sal moet terug om aan die ander kant van die huis te kom. Hy hoop tog nie haar rug of nek is gebreek nie. En waar hy ’n ambulans of ding gaan kry …
Vir ’n tweede keer is Tessa van haar voete af toe hy haar by die hoek van die huis onderstebo hardloop. Sy is egter blitsvinnig terug op haar voete en raap die graaf op en hou dit voor haar: “Staan waar jy is, of ek vermorsel jou!”
Hy is so verstom dat hy na woorde moet soek. “Wat die duiwel! Wie is jy?”
“Gedink jy gaan wegkom, nè? Roer jou, en jy is ’n lyk!”
“Ek dag jy’s bewusteloos. Hoe kom jy hier? Wie is jy?”
“Dit traak jou nie wie ek is nie. Wat soek jý hier? Nie dat dit saak maak nie, want die polisie is op pad. Ek het hulle klaar gebel, die oomblik toe ek jou gewaar het. Hulle behoort nou enige oomblik op te daag.”
“Die polisie?” vra hy verdwaas. Nie soseer oor wat sy gesê het nie, as oor haar oë. Die mooiste blou oë wat hy in sy lewe nog gesien het, al blits hulle soos vuurtonge.
“Die polisie, ja. So as ek jou kan raad gee, beter jy jou vinnig uit die voete maak, of jy slaap vanaand in die tjoekie.”
“In die tjoekie?” Sy gedagtes is nie mooi by wat sy sê nie, want haar skoonheid slaan hom skoon van sy voete af.
“Die tronk, ja. Dit sal nie help om jou onnosel te hou nie. Dit sal my nie verbaas as jy hoeka ’n ontsnapte misdadiger is nie.”
Hy ruk hom reg en kyk haar ondersoekend aan: “Yl jy? Ek bedoel, hoe voel jy? Het jy jou kop gestamp of iets?”
“Ek makeer niks nie, en ek gee jou nou ’n laaste kans. Maak jou uit die voete, of jy is vanaand terug in die tronk!”
“Wag ’n bietjie. Is daar nie dalk ’n misverstand iewers nie? Wat laat jou dink ek is ’n misdadiger en ’n tronkvoël?”
“Wat anders? Eerbare ordentlike mense steel nie water uit ’n versteekte kraan in mense se tuin wanneer hulle nie tuis is nie.”
“Die mense wat nie tuis is nie, waar is hulle dan?”
“Dit hoef jy nie te weet nie. Ek pas die huis op, en ek sal sorg dat niks gesteel of hier weggedra word nie.”
“So, jy pas die huis op. Wie het jou gevra om die huis op te pas?”
“Dit het niks met jou te doen wie hy is nie.”
“Is dit dalk oom Jos du Preez?”
“Hoe weet jy dit?” vra sy verward, haar braafheid aan die taan, want noudat sy hom bekyk, lyk hy nie soos ’n boef nie. Aan die ander kant moet sy haar nie misgis nie. Boewe kan ook soos ’n Adonis gebou wees en ’n aantreklike gesig hê.
“Omdat oom Jos du Preez die oom van ’n kollega van my is, en ek die naweek in sy huis mag tuisgaan.”
“Hoe … sê jy?”
“Ek het netnou hier aangekom en gaan vir die naweek in oom Jos se huis tuis. Met sy volle toestemming. Al vergoeding wat hy wil hê, is dat ek sy gras moet sny.”
Sy kom agter haar mond het oopgeval en klap dit vinnig toe. “Hoekom het jy nie lankal so gesê nie?”
“Wanneer moes ek? Jy het my nog nie kans gegee om enigiets te sê nie.”
“Bedoel jy … jy gaan hier woon?”
“Vir die langnaweek, ja. Maar waar kom jy vandaan? Hoe het jy hier in die erf beland?”
“Ek bly hier langsaan,” beduie sy na die kothuis anderkant die skeidsmuur. “Ek het oor die muur gespring.”
“O, is dit hoe die ding werk. Ek het vir ’n oomblik of wat gedink jy het uit ’n vliegtuig geval. Boer jy met katte en honde?”
“Hoe weet jy dit? Ek bedoel, ek boer nie met hulle nie.”
“Maar jy het wel katte of honde.”
“Hulle is nie myne nie. Ek pas hulle net op.”
“Is die polisie op die dorp altyd so stadig wanneer hulle uitgeroep word?”
“Wat bedoel jy?”
“Wel, Oewersdal is nie ’n wafferse groot plek nie. As daar iets in hulle steek, moes ons al die geloei van hul sirene gehoor het.”
“Hulle het seker nie sirene nie. Ek bedoel, die polisiestasie is op Goudbaai. Hier op Oewersdal is nie so iets nie.”
“Wel, bel hulle en verduidelik die situasie voordat hulle verniet die drie kilometer hierheen ry. Hier, gebruik sommer my selfoon. Jy ken seker die nommer.”
“Ek het hulle nie regtig gebel nie. Ek wou jou net skrikmaak sodat jy my nie … iets aandoen nie. Ek wou die honde … Wat het van die honde in die straat geword?”
“Ek het nog nie doodskrete gehoor nie, maar kom ons gaan kyk.”
“Ek raak naar wanneer ek bloed sien.”
“Ek is ook nie mal oor hondebloed nie, maar hulle is doodstil. Miskien het hulle opgehou baklei en maats gemaak.”
“Hulle sal nooit maats raak nie. As ek hulle nie die vorige kere natgespuit het nie, het hulle mekaar uitgemoor.”
“So, jy wou die honde natspuit met oom Jos se tuinslang en water.”
“Ja. Dis voor sý hek wat hulle baklei, nie myne nie. My tuinslang is in elk geval in die buitekamer toegesluit. Teen die tyd wat ek dit daar gaan haal en aan ’n kraan gekoppel het, het die honde mekaar al verskeur.”
“Hoe kom jy terug in jou erf?”
“Ek klim terug met die leer wat …” Sy bly onthuts stil toe sy na die kaal muur kyk. “Wat altyd aan hierdie kant gestaan het. Het jy dit weggevat?”
“Ja, ek het. Ek het nie besef hy staan hier sodat oom Jos se buurvrou na willekeur heen en weer tussen die twee eiendomme kan rondklouter nie.”
“Moenie maak asof ek ’n krimineel is nie. Die minste wat oom Jos kon gedoen het, was om my te laat weet hier gaan iemand in sy huis kom bly. Ek gee die gras water, vee die stoepe, sorg dat daar nie rommelpos in sy posbus opgaar nie. Nou is dít die stank wat ek vir dank kry.”
“Ekskuus! Ek het nie bedoel om jou te beledig nie, maar ek hou nie daarvan dat iemand my van misdaad beskuldig en as ’n tronkvoël uitkryt nie.”
“Waar is die leer, of gaan jy vir my die hek oopsluit?”
“Ek kry gou die sleutel, dan gaan sluit ek die hek oop.”
Sjoe, wat ’n gemors, dink Tessa toe hy die huis binnegaan om die sleutel te gaan haal. Glad nie ’n vredeliewende manier om met ’n vriend van jou buurman kennis te maak nie. Maar wat maak dit saak? Hy is ’n man, en geen man is te vertrou nie. Veral nie aantreklike mans nie. Hy moes haar klaar afgeloer het, want hoe weet hy van die katte en honde? Die hondjies is nog klein. Hulle blaf nie so hard dat hy hulle kon gehoor het nie, en die katte miaau net wanneer hulle wil kos hê.
Daar is geen teken van die twee boerboele toe hulle by die hek kom nie. “Wat sou van hulle geword het?” wonder sy hardop.
“Mekaar opgevreet, dis al wat ek kan dink.”
“Ek kan nie glo hulle is weg nie. Die vorige kere sou hulle mekaar vermorsel het as ek nie gekeer het nie.”
“Jy het hulle darem seker deur die hek natgespuit. Dit sou malligheid gewees het om die hek oop te maak.”
“Ek is nie onnosel nie. Lyk ek vir jou blond?”
“Nee, jy het pragtige gitswart hare en baie mooi oë.”
“Buitendien, waar sou ek ’n sleutel vir die hek kry?” ignoreer sy die opmerking.
“Jy bedoel jy klim elke keer oor die muur om die tuin te kom natmaak! Hoekom het oom Jos nie vir jou ’n sleutel gegee nie?”
“Omdat hy nie geweet het hy gaan in die hospitaal beland toe hy hier weg is nie. In elk geval, van nou af sal jy seker die tuin natmaak en die stoepe skoonhou. Ek is bly, want dit spaar my baie tyd.”
“Dankie dat jy dit gedoen het. Voor ek vergeet, my naam is Mynhard Malan.”
“Ek is Tessa.”
“En jou van?”
“Dis nie ter sake nie.”
“O? Nou maar goed, geniet jou naweek,” sê hy nadat hy die hek vir haar oopgesluit het.
“Jy ook.”
Dis eers toe sy voor haar hek vassteek dat Tessa besef sy is uitgesluit, sy het mos nie haar hek se sleutel by haar nie. “Meneer! Mynhard!” roep sy, maar toe sy terugdraf na sy hek toe, is dit net betyds om die voordeur agter hom te sien toegaan. Sy sal haar longe uitskree, dan gaan hy haar nog nie hoor nie.
Vir ’n wyle kyk sy besluiteloos om haar rond. Daar is net een genade, sy sal maar bo-oor die hek moet klim.
Dit val Mynhard by van sy bier wat nog buite op die stoep staan. Seker nou al warm geword met die manewales wat die meisiekind veroorsaak het. Sy is seker een van die kinders van die tannie langsaan. Dit behoort nogal die moeite werd te wees om haar beter te leer ken indien sy nog ongetroud is.
Hy knip sy oë verdwaas toe hy die voordeur oopmaak en sien sy sit bo-op die hek na die kothuis en wieg. Op en af, dan weer vorentoe en agtertoe. Hy wonder eers of sy al haar varkies op hok het, maar kom dan agter sy sit vas. Haar langbroek moes aan ’n draad of iets vasgehaak het.
Tessa wonder hoe op aarde sy haar broek gaan loskry, en vervies haar oombliklik toe Mynhard al proestende van die lag naderkom en vra of hy kan help.
“Ek het niemand se hulp nodig nie, dankie!”
“O, is dit jou gewoonte om so op die hek te ry? Dit kan breek, weet jy. Hekke is nie gemaak vir akrobatiese oefening nie.”
“Ag, gaan bars, man!” Na die duiwel met die broek, besluit Tessa. Sy gaan spring, laat hy dan maar in sy maai in skeur as hy wil! Dog, al wat gebeur, is dat die draad genoeg meegee sodat sy kop onderstebo bly hang, terwyl haar hande net-net die grond raak.
“Mag ek jou nóú help, of moet ek steeds gaan bars?”
“Kry my los!”
“Het jy al die woord asseblief gehoor?”
“Asseblief.”
“Jy klink maar baie teensinnig. Genade, hoe het jy dit reggekry? Is die draad nie deur jou boudvleis ook nie?”
“Moenie simpel wees nie! Sien jy miskien bloed? Haak die draad uit!”
“Dis nie sommer net vir uithaak nie. Dit is dwarsdeur jou broek, die een kant in en die ander kant uit, en dit is nie ’n sagte ou draadjie nie. Die maklikste manier om los te kom, gaan wees om uit jou broek uit te klim.”
“Is jy besimpeld?”
“Hoe lyk iemand wat besimpeld is?”
“Man, kry my los. Die bloed loop in my kop in.”
“Ek hoop die hek gaan die gewig van die twee van ons hou. Die ding kraak al klaar.”
“Wat die duiwel dink jy doen jy?”
“Ek probeer net my arm tussen jou lyf en die hek inkry, vroumens, of wil jy jou doodval wanneer ek die draad uit jou broek trek?”
“Is hy uit?”
“Amper. Nugter weet wat jy aangevang het dat dit jou so vas kon gehaak het. So ja, uit is hy!”
“Dankie tog. Wat vang jy nou aan?”
“Ek hou jou vas, of wil jy hê ek moet jou los sodat jy jou nek breek?”
Tessa se eerste impuls toe haar voete weer op vaste grond staan, is om die huis te probeer haal, maar Magriet Nel se skril stem in die straat anderkant die hek laat haar vassteek.
“Sies, wat ’n skande! Kry jy nie skaam om so openlik met die mansmense te flankeer nie? Sowat van onwelvoeglikheid darem. Het julle jong mense van vandag geen skaamte in julle nie? Dis geen wonder Jaco het jou uit sy huis gesmyt nie!”
Mynhard snap gou dat die gesette tante die kwaai skinderbek moet wees. ’n Vinnige kyk na die meisie langs hom laat hom besef die vrou se geskel het haar gekwets. Sy lyk kompleet soos ’n hond wat ’n onverdiende skop ontvang het.
“Ek is sommer lus en laat plaas ’n berig in die koerant om die mansmense teen jou te waarsku,” tier Magriet Nel voort. “Ek weet nie wie jy is nie, mannetjie, maar wees gewaarsku. Meng jou met die semels en die varke vreet jou op. Moenie sê jy is nie gewaarsku nie!”
Mynhard onthou wat sy oom Jos gesê het: Vir Magriet Nel moet jy kortvat. “Ag nee,” wend hy hom sonder meer tot die kwaai vrou, “moet nie vir my sê tannie se nuuskierigheid het gemaak dat jy jou kamera in die huis vergeet het nie! Die lekkerste deel van die sports het jy ongelukkig gemis. Dit het ons bo-op die hek beoefen!”
Tessa se oë rek. “Moenie sulke goed sê nie!” fluister-sê sy onthuts.
“Sies! Watse soort man is jy? Lyk my jy het ook nie ’n skaam haar op jou kop nie.”
“Nee wat, deesdae is alles anders as in die ou dae toe mense hul skandes onder komberse en agter die bosse in die veld beoefen het. Ons doen dinge nou sommer openlik.”
Tessa voel asof sy in die aarde kan wegsak. “Is jy gek?”
“Ongelukkig is tannie te oud en te swaar om op die hek te klim, anders het ek jou gewys hoe dit gedoen word!” tart hy ongestoord voort. “Die hek sal ongelukkig nie jou gewig kan dra nie.”
Magriet se bors dein op en af van verontwaardiging. “Jou ongepoetste, ongeskikte skepsel! Oewersdal se mense is ordentlik. Moenie dink ek gaan die saak hier los nie. Hulle moet kennis neem van watse tipe in die omgewing is.”
“Tante moet net gou eers vir jou gaan skoene aantrek. Netnoumaar raak die pad vol duwweltjies en steek dit dwarsdeur daardie dun pantoffels aan jou voete.”
Toe sy met ’n moorddadige kyk in hul rigting huis toe waggel, begin Mynhard lag, so aansteeklik dat Tessa haar lag ook nie kan hou nie.
Hy stap saam tot by die huis se stoep waar daar ’n klomp klein hondjies aan die speel is. Drie katte lê rustig op die stoele en slaap. “Aan wie behoort die diere? Jy het mos gesê jy pas hulle net op.”
“Die hondjies behoort aan die eienaar van Goudbaai se hotel, en die katte aan die eienares van hierdie huis. Die twee tannies is susters en het vir hul kinders in Australië gaan kuier, nou pas ek die huis en diere op. Jy wil nie dalk een van die hondjies koop nie?”
“Mag jy hulle verkoop?”
“Ja, ek mag. Tannie Janie het gesê ek kan die hondjies verkoop vir duisend rand stuk.”
“Duisend rand?”
“Onthou, hulle is Labradors. Goed, hulle is nou nie geregistreer nie, maar hul ma was ’n Labrador en hul pa ook.”
“Dis te hope. Wat het van hul ma en pa geword?”
“ ’n Motor het hul pa doodgery en hul ma is sommer net dood, kort na hul geboorte. Wil jy enetjie hê?”
“Nee, ek het ’n hond. Toevallig ook ’n Labrador. Hy sal nie daarvan hou om sy baas met ander honde te deel nie.”
Sy lig haar skouer. “Ek het maar net gevra.”
“Hoe lank bly jy al hier op Oewersdal?” Hy verbeel hom hy sien dat iets soos waaksaamheid haar mooi blou oë binnesluip.
“Hoekom wil jy weet?”
“Ek vra sommer uit belangstelling.”
“Twee weke.”
“Hoe goed ken jy die mense van die omgewing?”
“Ek ken niemand nie,” sê sy voordat sy in die huis verdwyn.
“Waarvandaan is jy oorspronklik?” vra hy toe sy terugkom met die hek se sleutel.
“Van Kaapstad. En waarvandaan kom jý?”
“Van George. Ek is egter ’n bietjie verder aan op die plaas Koppie-alleen gebore, en is hier om te kom kyk hoe die plaas daar uitsien, of ek kans sien om te kom boer, en of ek liewer my werk as motorwerktuigkundige moet behou. Waar werk jy?”
“Ek … werk nie op die oomblik nie. Het jy planne om Koppie-alleen te koop as jy daarvan hou?”
Nadat hy haar vertel het hoe dit gekom het dat hy nou die eienaar van die plaas is, wil sy weet hoekom hy dan gedink het sy pa is dood.
“Ek was nog baie klein toe ek agtergekom het ek sien my pa nie meer nie. Toe ek my ma oor hom vra, het sy vir my gesê hy is weg, en ek moet vergeet dat ek ooit ’n pa gehad het. My kat het op ’n dag verdwyn, toe kry ek hom dood in die veld. Ek het nogal in die veld gaan soek na my pa, maar kon hom nie kry nie. Niemand het ook weer van hom gepraat nie, so ek het toe maar gedink hy is op ’n ander plek oorlede.”
“Wat het van jou ma geword?”
“Sy is twee jaar nadat my pa weg is, oorlede, en ek is toe kinderhuis toe.”
“Waar was jou pa dan al die tyd?”
Hy lig sy skouers. “Al wat die prokureur my kon sê, was dat hy ’n welvarende sakeman in Oos-Londen was, en dat hy weer getroud is met ’n weduwee. Sy is ’n paar maande voor my pa oorlede, en haar dogter kon hy nog nie opspoor nie. Sy toer glo iewers in die buiteland, so sy weet nog nie haar stiefpa is oorlede nie.”
Hulle het al geselsende tot by die hek gevorder, toe Mynhard sien Tessa steek vas en staar verskrik na ’n man wat uit ’n motor klim en nadergestap kom.
Toe dit lyk asof sy die hasepad wil vat huis toe, hou hy haar impulsief aan die arm terug. “Kom ons hoor eers wat hy wil hê. Miskien het hy verdwaal.”
Die man ignoreer Mynhard en wend hom tot Tessa toe hy voor die hek vassteek. “Kan ek netnou ’n draai by jou kom maak wanneer jou besoeker weg is, Tessa-skat? Ek gaan net gou Goudbaai toe, maar behoort binne ’n uur weer hier verby te kom.”
“Nee.”
“Kom nou, Tessa, ons moet praat.”
“Ons het niks om oor te praat nie. Ek het vir jou gesê wat om te doen.”
“Raak nou ’n slag redelik, my skat. Ons kan nie so aangaan nie. Jy moet terugkom Groene Weide toe. Hier is lelike skinderpraatjies wat die rondte doen.”
“Ek steur my nie aan skinderpraatjies nie.”
“Jy sal, as jy weet wat die mense oor jou te sê het.”
“Jy mors jou asem.”
Toe sy sonder meer omdraai en op ’n drafstap afsit huis toe, kyk die man na Mynhard. “Wie is jy?”
Mynhard hou nie van die trant waarop hy dit vra nie, dus stap hy ook nie nader om hom die hand te reik nie. “Mynhard Malan.”
“Van waar ken jy Tessa?”
“Van ’n paar oomblikke gelede af. Ek het pas hier langsaan gearriveer vir die naweek.”
“Ek raai jou aan om Tessa uit te los tensy jy moeilikheid soek.”
Mynhard frons toe die aanstellerige man sy rug op hom keer, in sy motor klim, en met ’n vaart wegtrek. Was dit ’n dreigement?
“Wie is die opdringerige javel? ’n Gewese kêrel?” vra Mynhard toe hy Tessa op die stoeptrappe inhaal.
“Dis my man.”
Hy skrik hom tjoepstil, en kom eers tot verhaal toe sy die voordeur oopmaak. “Ek is jammer. Ek bedoel, dié dat ek so lelik van hom gepraat het.”
“Jy hoef nie jammer te wees nie,” sê sy stomp voordat sy die huis binnegaan en die voordeur feitlik in sy gesig toeklap.
’n Rukkie later, nadat hy die leer aan haar kant van die muur bestyg, en aan die ander kant afgespring het, gaan sit hy weer op die stoep om sy bier klaar te drink. Hy teug langsaam daaraan en wonder oor die insident by die hek. Dit lyk nie of daar veel sprake van liefde by Tessa vir dié Jaco-man van haar is nie. As hy notisie moet neem van alles wat die weduwee kwytgeraak het, wil dit voorkom asof Tessa hom verkul het, en hy haar weggejaag het. Seker dié dat sy in die kothuis bly. Haar skoonheid maak dit seker moeilik om versoekings af te weer, maar as haar man bereid is om haar te vergewe, hoekom sou sy weier om terug na hom toe te gaan?
Dan onthou hy Jaco het gesê sy moet terugkom Groene Weide toe. ’n Grensdraad skei Koppie-alleen en Groene Weide van mekaar; dít onthou hy darem. So, sou hy besluit om te kom boer, beteken dit Jaco gaan sy naaste buurman wees. Snaaks, maar dit is asof dié gedagte hom nie aanstaan nie. Hy hou nou maar eenmaal nie van arrogante mense nie. Maar waarom sal hy oor ander mense se sake tob? Laat hy liewer sy bier klaar drink en die gras loop sny.
Toe hy die gras wil sny, kom hy agter daar is nie ’n kragprop aan die draad van die grassnyer nie. Hy soek die huis en buitekamer deur vir ’n prop, maar kan nêrens een kry nie. Hier is net ’n kafeetjie oorkant die straat, geen ander besighede nie, en soos hy te wagte was, hou die eienaar met sy wilde wit boskaas en woeste baard nie kragproppe aan nie. Dit beteken hy sal moet terugry Goudbaai toe. Tensy een van sy bure solank vir hom een kan leen. Hy kyk in die rigting van Magriet se huis. Dit is hoogs te betwyfel of sy hom na vroeër se episode sal help.
Miskien sal Tessa eerder bereid wees. Per slot van rekening het hy haar darem tot hulp gekom toe sy soos ’n voël aan die hek gehang het.
“Hoekom laat jy ’n mens so skrik?” vra sy toe sy die agterdeur oopmaak nadat hy geklop het.
“Hoekom het jy geskrik? Jy kon mos geraai het dis ek, jou hek is dan gesluit.”
“Ek het gedink … Ag, toe maar. Wat wil jy hê?”
“Ek het kom hoor of jy nie dalk vir my ’n kragprop het nie. Die een wat aan die draad kom wat jy in die kragpunt by die muur indruk. Ek wil die gras hier langsaan sny, maar die grassnyer se draad het nie ’n prop nie.”
“Is dit jou manier om by jou bure te bedel?”
Haar onbeskofte vraag vang hom ietwat onkant, maar hy besluit om liewer die vrede te bewaar as om ’n bohaai daaroor op te skop. “Eintlik bedoel ek leen. En om jou vraag te beantwoord, nee, ek is nie ’n bedelaar nie. Ek was net nie lus om nou Goudbaai toe te ry vir ’n kragprop nie. Jammer ek het jou gepla.”
“Wag,” keer sy toe hy omdraai om te loop. “Ek dink daar is ’n prop in die buitekamer. Onthou net, dit behoort nie aan my nie, dit is tannie Alida se goed, so jy sal dit moet teruggee.”
“Ek leen nie goeters wat ek nie van plan is om terug te gee nie.”
“Kom saam, ek kry dit gou vir jou.”
Dit is donker in die pakkamer. Die enigste lig is dié wat by die deur inkom. Sy loop na ’n kas en maak die deur oop. “Ek dink dis waar ek hom gesien het. Kyk of jy hom kry, my oë wil nog nie fokus nie.”
Hy staan nader, en toe sien hulle die prop tegelykertyd raak. Albei steek ’n hand uit om dit op te tel, en toe Tessa haar kom kry, klem haar hand om sy hand, pleks van om die prop. Sy ruk dit onmiddellik terug, maar nie gou genoeg nie, want die volgende oomblik wil hy weet of dit haar gewoonte is om in die skemer aan mans se hande te vat.
“Is jy besimpeld?”
“Ek gaan voorwaar begin glo ek is besimpeld soos jy daarop hamer. ’n Misdadiger, inbreker, bedelaar en besimpeld. Ek wonder wat ek nog alles genoem gaan word!”
“Hoe het jy hier gekom?” wil sy weet toe hulle weer buite kom.
“Met die leer opgeklim.”
“Jy moet die leer wegvat teen die muur.”
“Hoekom? Dis mos baie gouer as wanneer ek die klokkie by jou hek moet druk en wag dat jy dit kom oopsluit.”
“Jy hoef nie weer hier te kom nie.”
“Nou hoe moet ek die prop by jou terugkry?”
“Jy kan dit oor die muur gooi.”
“En as jou grasperk nat is, en hy kry water, dan is dit my skuld.”
“Vir wat sal hy water kry?”
“Dit kan reën, of teen die muur beland, dan is dit flenters.”
“Jy kan die leer nogtans nie daar los nie. Ek het netnou gesien jy is oor die straat kafee toe en jy het jou hek wawyd oop gelos. Netnoumaar kom … iemand daar in en …” Sy swyg skielik. “Ek bedoel, enigiemand kan daar inkom en met die leer opklim hier na my toe. ’n Boef of so.”
“Die enigiemand of boef van wie jy praat, is dit dalk jou man?” gooi hy ’n klip in die bos.
“Ek hoop jy kom reg met die prop,” omseil sy die vraag voordat sy terugtree en die kombuisdeur weereens sonder ontsag tussen hulle toeklap.
Snaaks, dink hy toe hy terug is in sy erf, hoe gelukkig party mense is om so mooi te wees en sulke besonderse mooi oë te hê. As hy eendag ’n vrou vat, sal hy maar soek na een met minder mooi oë en hare, anders beland hy dalk in dieselfde bootjie as haar man.
Dit is al skemer toe hy klaar is met die sny van die gras. Hy maak vir hom iets om te eet, en gaan klim vroeg in die bed, maar is so opgewonde oor die vooruitsig om Koppie-alleen die volgende dag te gaan bekyk dat hy nie dadelik aan die slaap raak nie. Die testament bepaal dat hy die plaas met alles wat daarop is erf.
Dit kan enigiets van oorvloed tot baie min wees.