Читать книгу Tweede kans op liefde - Elza Rademeyer - Страница 4
2
ОглавлениеDie volgende oggend sluk hy net gou ’n toebroodjie saam met sy koffie af voordat hy in die pad val plaas toe. By die hek waar die pad teen die steilte opklim na Koppie-alleen, hou hy stil om die hek oop te maak, en laat dwaal sy blik oor die buurplaas waarin die pad van die dorp af doodloop. Groene Weide. Hy kan nie onthou wie daar gewoon het toe hy ’n kind was nie, maar dit is ’n asemrowende mooi prentjie: die statige woning, groen grasperke en rivier met die groot bome op die oewer wat agter die huis verbyloop. Miskien is dít waarvoor Tessa geval het, eerder vir die plaas as vir sy baas. Hoe Koppie-alleen daar gaan uitsien, weet hy nie, maar hy dink nie dit gaan naastenby Groene Weide se gelyke wees nie.
Veral nie as hy so moet sukkel om die verroeste draadhek oop te maak nie. Hy kyk nuuskierig rond toe hy die kruin van die kop bereik en die werf en geboue in sig kom. Die huis wek tog vae herinneringe, maar hy het geen benul van hoe groot die plaas is nie.
Die huurders ontvang hom vriendelik nadat hy verduidelik het wie hy is. “Jou oorlede pa se prokureur het gebel en vir ons gesê jy sal graag jou erfgrond wil kom besigtig,” sê die jong vroutjie met ’n baba op die heup. “Die huis is op die oomblik ’n bietjie deurmekaar, want ons is stadigaan besig om te pak, maar dit staan jou vry om te kom en gaan net waar en soos jy wil.”
“Het julle my pa geken?”
“As jy bedoel of ons hom gesien het, nee. Ons het maar so telefonies met mekaar kennis gemaak en gesels. Ons huur die huis mos, maar net vir drie maande terwyl ons op Goudbaai laat bou. Volgens Siena en Josua, die werkers wat in die huis langs die skuur woon, het jou pa maar min hier gekom.”
Dit neem hom nie lank om deur die huis te loop nie, want dis nie groot nie. ’n Kort gangetjie, twee slaapkamers, ’n sit-eetkamer, badkamer, klein kantoortjie en ’n kombuis, met ’n stoep onder dak. Heeltemal voldoende vir sy behoeftes, want wat wil hy tog met ’n groter huis maak? Dit voel in elk geval soos ’n kasteel in vergelyking met die enkelwoonstelletjie waarin hy op George woon. Die vernaamste is dat Raka die wêreld se vryheid hier op die plaas gaan hê. Die hond sal sy geluk nie kan glo nie.
’n Rukkie later toe hy buitentoe gaan, loop twee werkers hom tegemoet.
“Is meneer straks meneer Dirk se seun?” vra die man en betrag hom nuuskierig.
“Dis korrek, ja. Wie is julle?”
Die man tree vorentoe en reik Mynhard die hand. “Ek is Josua, en dié is my vrou, Siena. Die mense hier van die huis sê meneer Dirk het die plaas aan meneer bemaak?”
“Ja, ek verstaan ook so, maar ek weet nog nie aldag of dit waar is nie. Ek glo julle het my pa beter geken as wat ek hom geken het. Ek was van kleintyd af onder die indruk hy is dood, en het nou die dag eers uitgevind hy is onlangs eers oorlede. Kan julle my meer van hom vertel? Ek sal graag wil weet watter soort mens hy was.”
“Hy was ’n man van min woorde,” sê Siena. “Ons het hom nie baie gesien nie. Hy was streng, maar regverdig, en ’n mens kan sien jy is sy kind. Meneer trek sterk na hom.”
“Hy’t elke maand my salaris by die bank op die dorp inbetaal,” tree Josua ook toe tot die gesprek. “Nooit een keer oorgeslaan nie.”
“Het julle die vrou geken met hy wie hy in later jare getroud was?”
Siena skud haar kop: “Nee. Hy het nooit van ’n vrou of kind gepraat nie. Ons weet eintlik niks van hom nie. Ons het nie eens geweet van meneer voordat die vrou van die huis ons van meneer vertel het nie. Gaan meneer nou hier kom boer?”
“Ek het nog nie besluit nie. Ek sal alles eers wil deurkyk, want ek weet nie eens hoe groot die plaas is, en of hier enigiets is waarmee ’n mens kan boer nie.”
“Ek weet waar die grensdrade loop,” sê Josua. “Hier is ’n paar beeste en skape ook. Nie baie nie, maar darem iets wat mens aan die lewe kan hou.”
“Wat van ons?” vra Siena terwyl sy hom in die oë kyk. “Moet ons oppak en trek?”
“Trek? Nee, ek hoop nie julle wil trek nie. Ek gaan mos nooit alleen kan boer nie.”
Josua kug en glimlag breed: “Beter werkers as ons sal meneer nêrens kry nie. Ons ken die plaas van hoek tot kant, en meneer Dirk was nog altyd baie tevrede met hoe ek die bees en skaap versorg.”
Mynhard merk dat Siena se gesig ook lyk asof die son daaroor opkom. “Dan is dit goed,” stel hy hulle gerus. “Ek dink ons gaan lekker saamwerk.”
Josua stap ongenooid saam met hom terwyl hy die plaas bekyk en gee net so ongevraagd sy raad.
Mynhard geniet dit, al kry hy soms lag vir die voorstelle wat hy opper. “Nee,” keer hy naderhand. “Bloudraad werk vir sommige dinge, maar nie vir alles nie. Dit gaan ook nie keer dat die skuur inmekaar tuimel nie. Ek dink ons moet maar ’n nuwe skuur oprig.”
“Dit lyk my meneer het geld?” sê-vra Josua.
“Genoeg om ’n paar verbeteringe aan te bring. Is hier iemand in die omgewing wat bouwerk doen?”
“Meneer kan by Goudbaai se hotel by juffrou Minette gaan verneem na bouers. Sy’t in die omgewing grootgeword en bly nog al die jare hier. Hier is nie ’n enkele mens wat sy nie ken nie.”
Daar is diepe dankbaarheid in Mynhard toe hy later terugkeer na Oewersdal. Hoekom sy pa nooit van hom laat hoor het nie, weet hy nie. Hy sal ook nooit ’n antwoord kry nie. Om te begin is daar min wat hy moet aankoop vir die huis, want dis gemeubileer. Daar is ook ’n trekker in die skuur, implemente, die vee, en daarmee saam het hy ook Josua en Siena as werkers. Dis meer as genoeg vir ’n man wat motors moes heelmaak vir ’n bestaan.
Op pad terug Oewersdal toe, val dit hom by dat hy nog die muurprop op Goudbaai moet gaan koop. Dit laat hom ook onthou dat Josua gesê het hy moet die meisie by die hotel na bouers vra. Twee vlieë met een klap. Hy ry stadig om alles rondom hom in oënskou te neem. Nou en dan kom daar vae herinneringe na vore, soos toe hy verby die afdraaipaadjie na die waterval ry, en by die laerskooltjie op Oewersdal.
Daar is niemand by die ontvangstoonbank van die hotel nie. Hy lui die klokkie wat daar staan, en feitlik oombliklik gaan ’n deur aan die ander kant van die gang oop, en kom ’n vrou soos ’n warrelwind daar uit en kom neem agter die toonbank stelling in. Sy laat bars haar kougomborrel met ’n knalgeluid, maar dit stel haar nie in die minste in die verleentheid nie.
Sy glimlag breed en groet vriendelik: “Goeiemiddag. Jy moet ’n besoeker wees, want ek het jou nog nie voorheen gesien nie. Waarmee kan ek help? Soek jy ’n kamer?”
“Sê net eers, is jou naam Minette?”
“Die einste. Hoe weet jy dit?”
“ ’n Werker van Koppie-alleen het vir my gesê ek kan by jou kom verneem na bouers. Jy ken glo almal in die omgewing.”
“Ja, ek ken al die bouers. Hoekom soek jy ’n bouer?”
“Ek gaan binnekort op Koppie-alleen kom boer, en daar is ’n paar verbeteringe wat ek wil aanbring. Onder meer ’n nuwe skuur laat bou.”
“O. Het jy die plaas gekoop?”
“Nee, geërf, van ’n pa wat ek nie eens geweet het nog bestaan het nie.”
“Jou pa, was hy Dirk Malan?”
“Ja. Hoe weet jy dit? Het jy hom geken?”
“Nie eintlik nie. Maar as jy sy seun is, moet jou naam mos Mynhard wees?”
“Dis reg, ja. Ek is Mynhard.”
“Goeiste, maar jy het omtrent verander. ’n Man geword! Ek onthou jou as so ’n klein maer seuntjie met knopperige knieë. Ek het eendag by die skool ’n helse pak slae by juffrou Brand gekry oor ek pouse een van jou toebroodjies gegaps het. Dit het vir my net te lekker gelyk.”
“So ons was saam op skool?”
“Ja, maar nie eens ’n volle jaar nie, toe is jou ma mos dood en is jy weg. Miskien onthou jy my bynaam, Sproetjies?”
“Om eerlik te wees, nee.”
“Toe maar, ek het jou ook nie herken nie, en ek is darem seker goed vier jaar ouer as jy. So jy sê jy gaan nou kom boer?”
“Dis die plan, ja. Ek gaan my egter eers volgende maand permanent hier kom vestig. Kan jy my enigiets omtrent my pa vertel?”
“Hy het so ’n paar keer hier in die hotel tuisgegaan, maar was nie spraaksaam nie. Ek het gou agtergekom hy hou nie daarvan ’n mens moet hom uitvra nie.”
“Ek weet nie eens hoe hy gelyk het, of hoekom hy my ma destyds gelos het nie.”
“Jy lyk nogal baie na hom. Dieselfde lengte en dieselfde donker hare. Verder weet ek ook maar niks nie. ’n Kind neem mos nie notisie van grootmensdinge nie. Waar was jy al die jare nadat jy hier weg is?”
Nadat hy haar ingelig het, is dit haar beurt om hom van haar omstandighede te vertel. “My ma is mos dood toe ek nog klein was. My pa was Koen Fiets. Al die jare ’n fiets gery, hom aan alkohol vergryp na my ma se dood, en in sy dronkenskap voor ’n vragmotor beland. Gelukkig was ek darem al in matriek toe hy dood is, en kon die skoolhoof vir my werk hier by die hotel kry. In die begin sommer net as ’n skoonmaker, maar deesdae is ek hier by ontvangs, en wanneer die eienares nie hier is nie, bestuur ek sommer die hotel. Ek werk baie lekker hier.”
“Kan jy my die naam van ’n bouer gee?” vra hy gou toe daar mense by die deur inkom. “Voordat jy besig raak. Ek wil nog ’n paar dingetjies gaan doen.”
Sy krabbel ’n naam en telefoonnommer op ’n stukkie papier en stoot dit voor hom in. “Probeer oom Koot eerste. Hy werk netjies en is nie te duur nie.”
Terug by die huis op Oewersdal, hou hy voor sy hek stil, en klim uit om die klokkie by Tessa se hek te druk, maar dan pak die moedswilligheid hom. Sy sal die muurprop neem en omdraai huis toe. As hy oor die muur klim, nooi sy hom dalk vir koffie. Dit sal nie help om te ontken dat hy skaamteloos nuuskierig is oor wat tussen haar en haar man aan die gang is nie.
Sy is duidelik nie lus om hom binne te nooi toe sy die kombuisdeur oopmaak nie, maar hy skuur eenvoudig langs haar verby en trek vir hom ’n stoel onder die kombuistafel uit.
Vir ’n paar oomblikke bly sy botstil by die deur staan. Dan kyk sy hom vraend aan: “Jy wil seker net die kragprop vir my kom gee?”
Hy maak asof hy haar onsekerheid nie raaksien nie. “Ja, hier is dit. ’n Koppie koffie sal darem nou lekker wees. Die dorp is nogal besig so op ’n Saterdagoggend, weet jy?”
Onthuts stap sy kombuiskas toe om ’n koffiebeker uit te haal. Wat vir ’n soort mens is hy om hom so ongenooid in iemand anders se huis tuis te maak? Sy tel die ketel op, loop daarmee wasbak toe om water in te tap, en probeer hard aan iets dink om te sê, maar kan nie regtig aan iets dink wat nie haar gramskap teenoor mans sal verraai nie.
Die koffie stort amper oor die rand van die beker toe sy dit voor hom neerplak.
“Wat van jou?” wil hy weet. “Gaan jy nie saam met my koffie drink nie?”
“Ek is nie dors nie. Hier is die suiker en melk.”
Hy hou hom dom wat haar afkerigheid betref. “Dankie. Dit gaan voorwaar lekker smaak. Ek was gou daar by die hotel op Goudbaai aan om by die dame by ontvangs te gaan verneem na ’n bouer, en sowaar daar is sy toe ’n ou skoolmaat van my. Minette Kruger. Ken jy haar?”
“Ek het al met haar kennis gemaak.”
“Kom sit, hoekom staan jy so rond asof jy nie weet waar die stoele is nie?”
“Ek … moet gaan kyk waar die hondjies is.”
“Wag net dat ek my koffie gou afsluk, dan gaan ek saam. Moet jy gereeld na hulle soek?”
“Ek gaan hulle nie soek nie. Ek moet net kyk of alles nog reg is.”
“Ek hoor hulle nie baklei of tjank nie. Hoe oud is hulle?”
“Nog nie ’n volle twee maande nie.” Sy swyg ’n rukkie. Vra dan: “Was jy al op die plaas, en wat dink jy daarvan?”
“Ja, ek was en het klaar besluit om te kom boer. Dit sal egter eers oor ’n maand kan wees, want ek moet nog by my werk kennis gee. Jy het nou die dag gesê jy ken niemand van die omgewing nie, maar wat van jou man? Behoort Groene Weide aan hom, of het ek verkeerd verstaan?”
“Ja, dit is sy plaas.”
“Hoekom bly jy dan hier en hy daar? Het jul huwelik verbrokkel?”
“Dis dinge wat jou nie aangaan nie. Bemoei jou asseblief met jou eie sake.”
“Hm, dis ’n antwoord wat ek verdien. Ek kry boonop die gevoel jy gaan my hier uitsmyt as ek nie my bas lig en self loop nie. Dankie in elk geval vir die moeite met die koffie. Dit het vorentoe gesmaak.”
Hy hoor hoe sy die agterdeur hard agter hom toeklap, en hy grinnik. Sy het voorwaar nie geskroom om hom op sy plek te sit nie. Dít het hy nou van sy nuuskierige voortvarendheid.
Tessa wring haar hande saam. Sy was ongeskik. Miskien het hy regtig net belanggestel. Per slot van rekening grens Groene Weide aan Koppie-alleen. Sou hulle bure gewees het as …? Nee, dit gee hom nog nie die reg om in haar lewe in te meng, en hom hier te kom tuismaak asof die huis aan hom behoort nie.
Sy tel die beker op om dit onder die kraan uit te spoel, en kom eers agter dis lankal skoon toe die amper kokende water haar hande brand. Haar kennis van mans is beperk, maar sy het in ’n baie kort bestek geleer om nooit as te nimmer weer enige man te vertrou nie. Haar pa was die enigste uitsondering. Haar eerste goeie vriend was Japie. Hulle verhouding was van korte duur. Toe sy nie wou swig vir seks met hom nie, het hy binne ’n maand aan ’n ander meisie verloof geraak. Wouter weer was kamma so onsterflik lief vir haar dat hy sou selfdood pleeg as hy haar nie kan kry nie. ’n Liefde wat so vinnig soos ’n dwarrelwind verdwyn het toe die bekoorlike Sonja, ’n ontkleedanseres, sy pad gekruis het. Gelukkig was haar hart nie gebroke nie, en moes hy maar ’n ander skouer gaan soek om op te huil nadat hy uitgevind het Sonja het ’n gorilla van ’n man!
Toe stap Jaco Verwey haar lewe binne …
Sy slaak onbewustelik ’n sug. Wat daar vorentoe in die lewe op haar wag, sal sy nie weet nie. Haar ma het na haar pa se dood in ’n enkelwoonstelletjie ingetrek. Dis piepklein. Daar is nie plek vir haar nie. Sy sit sonder werk, hier ver weg in die boendoes, en is daarby feitlik platsak. Die belofte van die baas vir wie sy in die stad gewerk het om haar te laat weet indien daar weer ’n pos oopgaan, beteken nie veel nie. Hy is so ’n goeie baas dat almal wat vir hom werk, sal klou aan hul poste.
Sy vee die krummels driftig weg wat een van die katte op die kombuisvloer agtergelaat het nadat hy skelm ’n stuk beskuit van die tafel af gegaps het. Wat haar besiel het om so halsoorkop haar werk te bedank en haar woonstel se huur op te gee, weet nugter. Nog minder weet sy wat haar besiel het om met Jaco Verwey te trou, en hóé sy haar uit die sogenaamde huwelik gaan loskry.
Sondagoggend, toe Mynhard wakker skrik, die slaapkamergordyne wegtrek en sien watter mooi dag dit beloof om te wees, wens hy die oggend wil gou verbygaan sodat hy weer Koppie-alleen toe kan ry. Die huurders het weliswaar gesê hy is enige tyd welkom, maar hy wil nie van hom ’n oorlas maak nie, en het afgespreek om eers so drie-uur se kant weer daar ’n draai te maak.
In die tussentyd sal hy die omgewing maar so ’n bietjie verken.
Sy eerste besoekpunt nadat hy hom aangetrek en ’n bakkie graanvlokkies verorber het, is die Groenrivier se waterval, tussen Groene Weide en Oewersdal. As kind het hy en ’n paar skoolmaatjies eendag gedurende pouse weggeglip daarheen, en hulle met die tyd misgis. Dit het hulle nie net ’n pak slae besorg nie, hulle moes ook na ’n ellelange preek luister oor die gevaar waaraan hulle hulself blootgestel het.
Die waterval word nie baie besoek nie, merk hy dadelik op nadat hy by die afdraaipad ingedraai het. Hy kan hoor hoe die bossies tussen die twee spore sy motor se onderstel skuur, en soms moet hy uitswaai vir boomtakke wat gevaarlik laag oor die pad hang. By die waterval aangekom, vergeet hy egter gou van die slegte pad, want dit is sowaar die moeite werd om daarheen af te draai. Die waterval is nog hoër as wat hy dit uit sy kindertyd onthou, en dit skep ’n skouspelagtige toneel. Langs die waterval kronkel daar ’n voetpaadjie met ’n blaretapyt na bo. Dis toe hy bo kom en sien hoe glad die mosbedekte rotse is dat hy werklik besef wat ’n gevaarlike plek dit is. Veral vir ’n kind wat nie altyd die gevare soos ’n grootmens raaksien nie, want sou jy oor die afgrond na benede stort, val jy jou gewis morsdood. Die waterpoel onder is vlak en rotsagtig, dit sal beslis nie help om jou lewe red nie.
Hy klim versigtig terug, en ry verder na Goudbaai. Daar hou hy op die ingewing van die oomblik voor die hotel stil. Miskien is Minette nie te besig nie. Josua het gesê sy ken omtrent almal in die omgewing, so dit kan net lekker wees om met haar te gesels. Net toe hy die stoeptrappies bestyg, kom Groene Weide se eienaar by die deur uit.
Mynhard se vriendelike “goeiemôre” in die verbygaan word met ’n stywerige kopknik beantwoord voordat Jaco in sy motor klim en wegry.
Minette ontvang hom egter met ’n breë glimlag. “Ek het nou net aan jou gedink.”
“Goeiemôre. Nou wat het jou aan my laat dink?”
“Jou buurman wat jy nou net hier buite op die trappe gekry het, Jaco Verwey? Het jy hom al ontmoet?”
“Nie regtig nie. Net vlugtig gesien. Nou hier, en gister by die hek van sy vrou, Tessa. Sy pas mos mense se katte en honde op daar by tannie Alida se huis, ’n buurvrou van oom Jos in wie se huis ek vir die naweek tuisgaan.”
“So jy het haar al ontmoet?”
“Ja, op ’n taamlik onkonvensionele manier.”
Minette lag nadat hy haar vertel het hoe Tessa hom van sy voete af gespring het. “Ja-nee, dit is nogal ’n ongewone kennismaking. Het sy met jou oor Jaco gepraat? Jou dalk vertel hoekom sy nie meer saam met hom op Groene Weide woon nie?”
“Nee. Ek het die indruk gekry dis nie iets waaroor sy wil praat nie.”
“Daar doen allerhande stories oor haar die rondte, maar jy moenie glo wat die mense jou vertel nie.”
“Watse stories?”
Minette werskaf met ’n paar papiere op die toonbank. “Nee, jong, ek wil nie veel sê nie, want Jaco is ’n gerekende man hier in die omgewing. Stinkryk en bemind en gelief onder die inwoners. Hy doen dan sulke goeie opheffingswerk onder die minderbevoorregtes, om nie te praat van die beeste en skape wat hy elke jaar vir die kerkbasaar skenk nie. So ook vir elke funksie op die dorp. Die mense het groot bewondering vir hom.”
“Dit klink nie asof jý bewondering vir hom het nie?”
“Ek het nie, maar kom ons laat dit liewer daar. Het jy kom boek vir middagete?”
“Bedien julle dan middagetes aan buitestanders ook?”
“Net Sondagmiddae. Bestellings moet eintlik voor nege in wees, maar ek kan jou nog laat deurglip. Daar is twee vleissoorte, drie groentes en nagereg ingesluit in die prys.”
“Teen daardie prys, en op grond van die kos se geure hier van die kombuis se kant af, kom ek beslis hier eet,” sê hy nadat sy die prys genoem het. “Sê net hoe laat ek hier moet wees.”
Van die hotel af ry hy na ’n adres op Goudbaai wat volgens Minette dié van die oudste inwoners is. Dalk sal hulle vir hom iets van sy ouers kan vertel. Die mense ontvang hom hartlik nadat hy hom aan hulle voorgestel het, maar dit word gou vir hom duidelik dat hulle ook nie veel weet nie. Hulle het maar net gehoor die boer van Koppie-alleen het sy vrou en kind sommer so soort van oornag verlaat, maar hulle weet nie waaroor dit gegaan het nie.
Terwyl hy later sy ete by die hotel nuttig, kom sluit Minette by hom aan. “Om terug te kom tot ons gesprek van vroeër,” sê sy vir hom, “hier loop stories rond dat Tessa vir Jaco verkul het, maar dit is nie waar nie. Die man met wie sy kastig op Goudbaai se strand geflankeer het, was hier in die hotel tuis. Hy is ’n ou skoolvriend van haar. Hulle het mekaar op die strand raakgeloop en mekaar gesoengroet. ’n Sekere iemand het dit gesien en ’n skinderstorie daarvan loop maak.
“Pieter het ’n nag hier geslaap en my self vertel van hul ontmoeting op die strand, en hoe verras en bly hulle was om mekaar te sien. Daar was nie sprake van romanse tussen hulle nie.”
“Wie het dan die skinderstorie versprei?”
“Charlotte Basson. Jy sien, sy en Jaco het seker vir maklik drie jaar lank ’n liefdesverhouding gehad, en ek sê ‘gehad’ tussen aanhalingstekens.”
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Omdat ek dink dinge tussen hulle het nog nie tot ’n einde gekom nie. Nee, wag, ek praat te veel. Die dag toe ek hier by die hotel begin werk het, moes ek tannie Janie belowe ek sal nie uit die hotel praat nie. Ek wil nie my job kwytraak nie. Glo my maar net as ek sê Tessa het beslis nie vir Jaco verkul nie.”
“Ek het uit Jaco se gesprek met haar afgelei dat hy haar graag op Groene Weide wil terughê. Sy het hom egter duidelik laat verstaan sy sal nie teruggaan nie. Dink jy sy het uitgevind van iets tussen hom en Charlotte?”
“Dis heel moontlik, maar …”
“Jy wou sê?” vra hy toe sy skielik swyg.
“Daar is ander dinge ook wat my laat wonder oor … Nee, wag, moenie my uitlok nie.”
Toe snuif sy die lug en spring op. “O, aarde, iemand het die kastrol met die pampoen op die stoof vergeet. Wag hier, ek is nou terug.”
Met haar terugkeer daag daar egter gaste op aan wie sy moet aandag gee, en daarmee klaar, kom roep ’n werker haar kombuis toe. Hy moet dus maar aanvaar dat sy nie tyd vir verdere gesels het nie. Al wat gebeur het, is dat sy nuuskierigheid oor Tessa eintlik net nog meer geprikkel is.