Читать книгу Terug na Eden - Ena Murray - Страница 3
1
Оглавление“Daar’s hy, ou grootman.” Die vrou in die wit verpleegstersuniform krap die reeds deurmekaar kuif nog ’n bietjie meer deurmekaar en tel dan die klein seuntjie van die tafel af. “Nou kan jy nog ’n doel of twee gaan aanteken voordat die klok lui.”
“Dankie, tannie suster,” en hy storm deur toe sodat die man wat verskyn het, vinnig moet systap om nie uit die aarde geloop te word nie. Hy kyk die kleintjie ’n oomblik glimlaggend agterna, draai dan weer na die vrou in wit geklee wat besig is om op te ruim en weg te pak noudat die dag se werk afgehandel is. Hopelik altans, want by ’n kinderhuis weet jy nooit wanneer jy weer naald en gare en ontsmettingsmiddel en verbande moet uithaal nie, veral nie met ’n klomp vasberade voetbalspelers van klein Petie se kaliber nie.
Hoe onregverdig lyk die lewe soms, dink sy somber. Hier is ’n klein seuntjie, welgeskape, blakend gesond, besonder intelligent, maar hy is nêrens welkom nie. Hóé onwelkom, het die littekens aan sy klein lyfie bewys dié dag toe hy eindelik ’n veilige hawe in die kinderhuis gevind het. En vanmiddag was sy by ’n ander seuntjie. Vanmiddag het sy afgekyk op die erfgenaam van ’n spogplaas terwyl sy geweet het hy sal nooit lewe om dit eendag in besit te neem nie. ’n Seuntjie wat in die vier kort jaartjies van sy bestaan, behalwe deur die genade van Bo, ook bloot gedra en aan die lewe gehou is deur die liefde en sorg van al die mense van Paradys. Hier in die kinderhuis is Petie maar net een van baie seuntjies uit die groot en onverstaanbare hartseer wêreld waar kinders verwaarloos en mishandel word. En op Paradys is die ongeneeslik siek klein Helgard die middelpunt om wie so baie se lewens die afgelope jare draai – en hy weet dit nie eens nie.
Die man het ongemerk nader gekom en sy skrik merkbaar toe sy hom skielik langs haar gewaar.
“O, Helmut!”
“Ek is jammer. Ek wou jou nie laat skrik nie.”
Sy skud haar kop, probeer glimlag. “Dis nie jou skuld nie. Ek was … ’n bietjie ingedagte.” Dan dwing sy haarself om opgewek te klink. “So ja, nou is elke ding op sy plek tot die volgende voetbalheld aangedraf kom met ’n nerfaf skeen of ’n sny, as die klok hulle nie betyds red nie!”
“En baiekeer is daar sommer ’n onsigbare skeet net om ’n bietjie aandag van hulle tannie suster te kry. Ek weet.”
Sy glimlag half skuldig, klink amper verskonend. “Ek piep hulle nie, regtig nie, Helmut, maar … ag, wat is verkeerd met ’n bietjie liefde en aandag?”
Sy kan die sagtheid in sy oë ontwyk deur anderpad te kyk, maar haar ore kan die teer klank in sy stem nie ignoreer nie. “Daar kan nooit iets mee verkeerd wees nie, en jy weet ek bedoel dit nie so nie. Dis net …”
“Ja?”
“Ek het al begin dink ek moet ook soms middae saam met Petie-hulle kom voetbal speel. Dalk kry ek ook ’n nerfaf skeen of ’n verstuite vinger wat tannie suster, indien nie met verbande nie, dan miskien met ’n soentjie kan gesond maak?”
Sy draai vinnig weg van hom, en al glimlag sy, is daar iets afwerends in haar stem: “Nou is jy verspot.”
“Verspot desperaat, ja. Ek gaan tog een middag die voetbal probeer …”
Sy stap met besliste tred deur toe. “Jy is al gans te oud vir voetbal speel, dominee Weich. Jy sal ’n hospitaalgeval wees as jy so iets durf waag.”
As sy gehoop het dit sal hom op sy plek sit, het sy dit mis.
“Jy is reg. Ek is al gans te oud vir voetbal speel. En ook te oud om nog te lank te wag. Wat moet ek doen?”
“Dit … hang af waarvoor jy wag,” trap sy oop oë in die slaggat.
Sy antwoord kom vinnig: “Ek wag vir ’n vrou wie se hart só oorloop van liefde dat ek nie kan glo daar is nie ook ’n bietjie vir my te spaar nie. Is daar glad nie, Isabé?”
“Ek … Helmut, ek het jou gesê ons moet stadig gaan. Ek is … onseker … nog nie gereed vir ’n vaste verhouding nie. Ek het jou gesê jy moet elders ’n moeder vir jou pastorie gaan soek. Ek … is nie die regte vrou daarvoor nie.”
“En ek is weer so seker dat jy só perfek in my pastorie sal inpas dat ek nie eens die moeite gaan doen om verder te soek nie.”
Sy kyk hom met ongelukkige oë aan. “Jy maak dit baie moeilik, Helmut. Jy laat my voel dat ek onder ’n verpligting staan …”
“Wat nie waar is nie, en jy weet dit. Nee, Isabé, daar is hoegenaamd geen verpligting nie, behalwe net teenoor jou eie hart.”
Sy laat haar ooglede vinnig sak. My eie hart … As jy maar weet wat alles in hierdie hart gelê het en nog lê. As sy net die antwoord op hierdie vraag kon kry. Maar hoe? Hoe weet ’n mens met sekerheid dat ’n bepaalde gevoel in jou finaal gesterf het? En hoe kon dit gesterf het as herinnering soms so onverwags en wreed op die onmoontlikste tye skielik weer in jou herlewe, herinnering aan dinge wat jy liefs wil vergeet, dinge wat jy weet jy móét vergeet as daar vorentoe ooit geluk vir jou moet wag.
Maar hoe keer ’n mens ’n herinnering? wonder sy byna wanhopig. Vier jaar … vier jaar lank probeer sy al so hard om wat vir haar gister se mooiste en dierbaarste was, onder die sand van tyd toe te krap. Want tyd, sê hulle, heel alle wonde. Tyd laat oor alles gras groei. Maar voordat daar nog ’n teken van ’n sprietjie gras oor haar gister te sien is, kom die winde van herinnering en waai die sandjies wat sy met sulke biddende hande daaroor gestrooi het weer weg – lê alles weer kaal en helder voor haar oop asof dit maar net pas gebeur het.
’n Hand onder haar ken dwing haar kop omhoog en toe sy na hom opkyk, besef sy sy sal versigtiger moet wees. Hierdie man se oë kyk diep …
“Wat is dit? Wat lê daar binne-in jou waarteen jy so baklei? Wil jy my nie maar daarmee vertrou nie? Asseblief?”
“Dis …” Sy soek desperaat na ’n antwoord, een wat hom van die waarheid sal weglei. Want hoe kan sy hom ooit vertel?
“Dis maar net … Ek was vanmiddag vir ’n heen-en-weertjie Paradys toe. Daar is nou finaal besluit op klein Helgard se operasie en Hantie het gevra of ek haar nie sal vergesel nie. Sy sien nie kans om alleen te gaan nie.”
Erns vervang die vertedering op sy gesig. “Dan gaan die leweroorplanting nou gedoen word? Hier te lande?”
“Ja. Deur dieselfde span wat vroeër reeds ’n leweroorplanting gedoen het. Die kind het net dertig dae daarna geleef, maar daar kom glo ’n dokter van oorsee wat hierdie keer sal opereer. Hy het blykbaar in Amerika en Engeland reeds deeglike kennis oor orgaanoorplantings opgedoen.” Sy skud haar kop, haar eie gedagtes nou ten volle by klein Helgard en die groot beproewing wat in die volgende weke op hom en die mense van Paradys wag.
“O, Helmut, my hart wou breek toe ek vanmiddag op die klein, weerlose liggaampie afkyk en besef wat daar vir hom voorlê. Maar dis al wat sy lewe kan red.” Haar oë kyk pleitend op in syne. “Ek kon nie vir Hantie nee sê nie. Sal jy as voorsitter van die kinderhuisraad asseblief vir my ’n goeie woordjie doen dat ek kan gaan? Ek is seker suster Meyer sal nie omgee om vir ’n tydjie hier waar te neem nie.”
“Natuurlik. Natuurlik, Isabé. Ek sal sorg dat jy die toestemming kry. Wanneer wil hulle opereer?”
“Noudat daar finaal besluit is, so gou moontlik. Jy weet self hulle wou dit nie vroeër waag nie, omdat Helgardjie so swak was. Maar met die genade van Bo en Hantie se onbeskryflike geduld en toewyding is hy nou só dat hulle tog die operasie wil probeer. Moontlik moet ons al volgende week vertrek.”
Hy knik, trek die deur agter hulle op slot en begin saam met haar aanstap na haar woonstelletjie langs die kinderhuiskliniek. “Ek sal dadelik met die ander lede van die raad in aanraking kom en die nodige reëlings tref. Moet jou nie bekommer nie.”
“Dankie. Dís nie my bekommernis nie.” Sy sug, stap haar klein woonstelletjie binne en draai dan weer na hom. “Nog nie een kindjie op wie ’n leweroorplanting gedoen is, het lank gelewe nie. Nie een het nog grootgeword nie.”
Hy knik. “Dit is so, Isabé, maar jy vergeet dat God nie alle mense oor een kam skeer nie. Elke mens, elke lewe op hierdie aarde is vir Hom ’n unieke geval. As ander kindertjies voor Helgardjie gesterf het, beteken dit nie noodwendig dat dit in die Goddelike raadsplan ook vir hóm so beskik is nie.”
“Ja, dis waar, maar …”
“Maar wat?”
“Ek gaan jou nou skok, maar … ek weet nie watter kant toe om te bid nie, Helmut!”
Hy kyk haar vraend aan. “Wat bedoel jy?”
“Ek het dit nog nie teenoor enigeen van Paradys se mense genoem nie, maar ek het reeds agtergekom dat daar wel al breinskade by klein Helgard is. Dis een van die haas onvermydelike gevolge van atresie. Moontlik het die dokters dit ook reeds agtergekom, maar dit liewer vir Hantie-hulle verswyg. Maar nou … al hierdie lyding van vier jaar, nie net syne nie maar ook nog sy ouers en almal s’n met wie sy lewetjie so verstrengel is. En nou nog die groot, riskante operasie … En al is dit ook ’n sukses, om dan te sit met ’n kindjie wat nooit werklik volwaardig mens kan wees nie. Hoe moet ek bid, Helmut?”
Hy knik begrypend, stap nader en neem haar hande in syne. “Laat U wil geskied.”
Lank kyk hulle oë in mekaar. Dan buig hy sy kop en lê vir die eerste keer sy lippe vlugtig, baie vlugtig op hare. “Gee my die krag, goeie Vader, dat ek my deel sal doen wat U vir my in hierdie hartseer situasie afgebaken het. Maar verder vra en bid en smeek ek niks meer as net dat u wil sal geskied nie.”
Sy sluit haar oë en bring sy hande spontaan na haar bewende lippe. “Dankie, Helmut.”
Hy staan terug. “Daar lui die klok en ek moet gaan reëlings tref dat jy kan vry wees wanneer jy moet gaan. Ek wil vanaand ook nog uitry Paradys toe. Kan ek jou kom oplaai?”
Maar sy skud haar kop. “Nee. Ek was vanmiddag daar. Hulle sal vanaand groter behoefte aan jou hê as aan my. Dankie, Helmut. Jy weet nie wat jy in die jaar dat jy hier is vir Paradys se mense beteken het nie.”
“Dis was my voorreg om iets vir hulle te kon doen. Tot siens, Isabé.”
Hy is ’n wonderlike man, dink sy toe die deur agter hom toegaan. Hy sal ’n wonderlike eggenoot wees, ’n wonderlike lewensmaat om aan jou sy te hê … Ag, Here, hoekom kan ek my dan nie losmaak van die verlede nie? Vanaand, netnou, was ek die naaste daaraan om ooit weer ’n man te bemin, só te bemin dat ek vir hom kon ja sê.
’n Meewarige glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. Dominee Helmut Weich weet nie dat hy ’n oomblik gelede die beste kans ooit gestaan het om die jawoord van haar te kry nie. Of miskien het hy dit tog aangevoel, maar dit laat verbygaan. Want dis nie Helmut Weich se aard om ’n situasie uit te buit nie. Hy het geweet dat sy in daardie oomblikke ontsettend behoefte aan hom gehad het. Maar met die wysheid wat lewenservaring en mensekennis meebring, het hy ook seker geweet dat dit nie om hom persoonlik gegaan het nie. Hy wou nie misbruik maak van haar weerloosheid nie.
Indien moontlik styg Isabé se respek vir hierdie man nog hoër, maar sy ken alte goed die verskil tussen liefde en respek …
Toe die leraar later Paradys besoek, sien hy die tekens van geweldige stryd en spanning wat agter die oënskynlike kalmte en vriendelike ontvangs skuil. Die vier jaar wat verby is sedert daar ’n kleinseun vir Paradys gebore is, het nie in hulle klere gaan sit nie.
Hy gaan eers by die jong egpaar aan, stap met die vrymoedigheid van ’n jaar se ervaring as hul predikant by die voordeur in, en sy voete vind byna vanself die pad na die slaapkamer waar hy weet hy die wakende moeder sal aantref. Toe hy in die slaapkamerdeur tot stilstand kom, sien hy soos so dikwels tevore die skraal gestalte in bukkende, amper biddende houding langs die bedjie van haar kind. Ten spyte van haar jonkheid is Hantie Retief vir hom die versinnebeelding van die ware moeder. Haar hele lewe, haar daaglikse bestaan, haar elke asemtog draai net om die hulpelose, lydende bondeltjie mens wat die onbesonnenheid van haar jeug in haar lewe gebring het. Elke dag van haar lewe het ’n boetedoening geword. Elke dag bestaan ook uit gebed, gebed wat net om haar kind draai.
Hy draai stil in sy spore om, stap in die rigting van die kombuis, kry die jong pa wat net van buite af inkom.
“Janneman.”
“Dag, dominee.” Daar is ook spore van lyding om hierdie mond en oë, spore wat nie op so ’n jong gesig hoort nie. “Hantie is seker in die kamer.”
“Ek weet, maar ek wil nie nou met haar praat nie. Eers met jou. Ek verstaan van Isabé daar is nou finaal besluit om te opereer.”
“Ja. Bietjie koffie?”
“Ja, dankie.” Helmut neem langs die kombuistafel plaas en toe die koffie klaar geskink is, kom sit Janneman regoor hom. Dis ’n oomblik stil terwyl die jong boer van Paradys ingedagte sy koffie sit en roer en die dominee hom net sit en aankyk. Wat sal ek hóm noem, wonder hy. Die versinnebeelding van die volmaakte eggenoot? Die onselfsugtigste mens wat hy ooit leer ken het? Net een keer, een enkele keer het Janneman die sluiers vir hom gelig, hom al die frustrasies en verydeling laat sien wat in die hart lê. Nie altyd is ’n predikant so gelukkig om op ’n gemeentelid af te kom terwyl hy ’n swak oomblik beleef nie. As dit maar meermale kon gebeur, sou hy van soveel meer nut vir sy gemeente kon wees. Maar mense is mos geneig om net altyd die beste voetjie voor te sit wanneer die predikant by die voordeur instap, en wanneer hy weer vertrek, is hy nog niks wyser nie. Maar daardie namiddag het hy Janneman in die perdestal aangetref waar hy met gebalde vuiste en ’n vertrekte gesig gestaan het, en dit was reeds te laat om weer die masker te laat val toe die predikant langs hom praat.
“Janneman, is daar iets wat ek vir jou kan doen, iets waarmee ek kan help?” het Helmut dadelik gevra.
Toe het dit uitgeborrel uit ’n hart wat al vier jaar lank honger ly: “Ja. Jy kan vir my vrou gaan sê sy het nie net ’n kind nie. Sy het ook ’n man.”
Met daardie enkele woorde is ’n skokkende werklikheid voor Helmut Weich se oë oopgeruk. Vir die eerste keer het hy besef wat die werklike situasie op Paradys is.
Toe het Janneman homself met die selfbeheersing waarin hy hom oor vier jaar geskool het, reggeruk en sy kop weggedraai, skor gesê: “Ek is jammer. Ek bedoel dit nie regtig nie.”
Maar ’n hand het op sy skouer gedruk en ’n stem vol begrip het gesê: “Ek weet presies wat jy bedoel en ek stem saam. Hantie het ook ’n man en iemand moet haar dit laat besef.”
Maar Janneman het sy kop geskud. “Daarvan kan jy maar vergeet. Dit sal geen indruk op haar maak nie. Sy leef, eet en slaap haar kind, en so lank hy lewe, sal dit nie anders wees nie. Jy weet, ek het al gedink … as daardie kind moet sterf … Hantie sal saam met hom sterf, en ek bedoel letterlik sterf. Sy gaan haar dood treur oor hom, want hy is haar hele bestaan, die rede hoekom sý bestaan.”
“Maar sy het jou lief, Janneman. Dis …”
“Het sy? Nee. Hantie het my nog nooit liefgehad nie. Daar is net twee mense wat sy liefhet: my broer en sy kind.” Hy het gegrynslag toe hy die skok in die ander se oë sien. “Jy moet tog al van die skandaal van Paradys êrens in die gemeente gehoor het, dominee!”
Die predikant het reguit geantwoord: “Ek weet nie van ’n skandaal nie. Wat ek gehoor het, is dat jou broer Nols weggeloop het toe hy ná jou oupa se dood hoor jý erf Paradys en nie hy nie. Ek weet hy was verloof aan Hantie en dat jy later met haar getroud is toe Nols nie weer sy verskyning gemaak het nie.” Hy laat na om te sê dat die res van die storie was dat hulle, wie die hulle ook al mag wees, later bedenkinge daaroor gekry het of Nols werklik so vinnig padgegee het net omdat hy nie Paradys geërf het nie. Hy het tog immers Ou Werwe gekry. Dit was eers ’n paar maande later toe Janneman met Hantie, toe reeds ver swanger, getroud is dat “hulle” twee en twee bymekaargesit het en by vier uitgekom het, húlle vier: Nols is weg omdat hy ontdek het dat sy jonger broer agter sy rug ’n verhouding met sy verloofde gehad het en dat sy ’n kind by hom verwag. Geen wonder die arme Nols het sommer die pad gevat nie.
“Dan ken jy net die barre feite, dominee – en hulle is nie eens heeltemal waar nie. Gaan sit daar op die hooibaal dat ek jou die storie van Paradys en sy mense vertel.”
Toe, in kortaf, afgekapte sinne het die hartseer verhaal voor Helmut Weich ontplooi.
“En nou is ons daar, dominee,” sê Janneman. “Nou is ons daar. By die leweroorplanting.”
En net soos sy suster enkele ure gelede vervolg hy: “Ek is te bang om te bid, dominee.”
Helmut Weich antwoord nie dadelik nie. Hy het destyds ná Janneman se ontboeseming met Hantie gaan praat, haar daarop gewys dat sy nie net ’n moeder is nie, maar ook ’n vrou. Lank daarna het hy nog gewens dat hy liewer nooit die saak aangeroer het nie. Want haar reaksie het amper nog ’n ramp op Paradys veroorsaak. Eers het sy hom verontwaardig daarop gewys dat sy ’n baie siek kind het wat vier-en-twintig ure van elke dag sy moeder se volle aandag nodig het.
“Maar ek is seker jou skoonouers en ook Isabé, wanneer sy vry is, sal nie omgee om partykeer so vir ’n uur of wat na hom om te sien nie, Hantie?” het hy redelikheid by die hiperpligsgetroue moeder probeer tuisbring, maar sy woorde het onverwags ’n hewige rusie uitgelok.
Dit was asof haar oë verstar.
“Nee, dominee, ek weet waarom dit alles gaan. Ek het dit vroeër of later verwag.”
“Wat bedoel jy?”
“Die Retiefs gebruik u nou om my hier weg te kry – vir my en my kind. Maar dis nie nodig nie. Janneman kon maar net reguit vir my gesê het hy is moeg vir my. Ek sou dadelik geloop het – wat ek buitendien nou gaan doen. Ek en my kind het ’n verleentheid vir Paradys se mense geword, was dit eintlik van die begin af …”
“Hantie, wat praat jy! Daar is nie sprake van so iets nie. Hulle almal het vir jou en klein Helgard innig lief. Jy kan tog nie regtig daaraan twyfel nie?”
Haar gesig was strak, styf, en Helmut se hart het in sy skoene gesink. Hy het dit so goed bedoel, maar het meer kwaad as goed gedoen.
“Dominee, dis nie nodig om valse fronte voor te hou nie. U ken die geskiedenis net so goed soos ek. Janneman kon niks anders doen as om met my te trou nie. Die Retiefs kon niks anders doen as om hulle oor my te ontferm nie. My eie ouers het my uitgeskop, afgeskryf. Ek het nêrens gehad om heen te gaan nie, en ek was swanger van Nols, die seun teenoor wie hulle diep skuldig gevoel het.”
Helmut het sy stem egalig gehou, maar ’n ligte woede het binne-in hom ontvlam. “Soos ék die verhaal ken, het die mense van Paradys nie nodig om hoegenaamd skuldig te voel oor Nols nie, Hantie. Van hulle kant af is hy al die jare oorlaai met liefde en sorg, maar …”
“Maar hulle het hom al die jare bedrieg, hom laat glo dat hy iets is wat hy nie is nie. Destyds kon ek Nols se bitterheid teenoor hulle nie verstaan nie. Vandag begin ek begryp hoekom hy so gevoel het. Maar dis nie Nols wat nou ter sprake is nie. Dis ek, ek en my kind. As u my sal verskoon, dan sal ek begin inpak.”
Ten einde raad moes Helmut van haar wegdraai – sy het reeds ’n tas oop op die bed gehad – en Janneman se hulp gaan soek. Hy kon nie glo dat Hantie so kinderagtig kon optree nie en hy was diep teleurgesteld in die vrou vir wie hy nog net altyd die grootste bewondering en respek gekoester het. Janneman was egter nie juis verbaas of geskok toe die hewig ontstelde predikant hom weer in die stal aantref nie.
“Dis nie nodig om jou so te ontstel nie, dominee,” het hy gesê. “Sy het jou woorde doelbewus verkeerd opgeneem. Ek dink sy wil weggaan. Sy soek net ’n sterk genoeg rede daarvoor.”
Sy woorde het Helmut nog verder geskok. “Janneman, moenie jy nou ook onsinnighede begin kwytraak nie! Hoe sal Hantie van jou af wil weggaan? Sy is verlore sonder jou, sy én haar kind.”
“Dis nie die eerste keer dat sy inpak nie, dominee. Dit sal seker ook nie die laaste keer wees nie.” Hy het gesug terwyl hy in die ander man se ongelowige oë gekyk het. “Dis die waarheid, maar net u weet dit nou. Ek het dit nooit vir my ouers vertel nie. Die eerste keer toe sy ingepak het, was toe ek ook met haar wou praat. Sy het my woorde ook doelbewus verkeerd verstaan. Sy het toe ook beweer sy weet sy en haar kind is ’n oorlas en verleentheid vir my en my ouers. Sy wou toe ook weggaan, waarheen weet nugter.”
“Maar jy kon haar tog toe oortuig dis nie so nie, want sy het gebly.”
’n Bitterheid het op die sterk jong gesig gelê. “Nee, dominee. Ek het haar nie oortuig nie, want netnou het jy self gehoor sy dink nog steeds so. Nee. Ek het afpersing gebruik.”
“Afpersing?”
“Ja. Ek het haar goed laat verstaan as sy wil loop, kan sy loop, maar ek is die wettige voog van haar kind en hy gaan nêrens nie. As sy loop, loop sy sonder haar kind.” Daar was ’n kortaf, bitter laggie. Die oë het byna spottend na die dominee gekyk. “Dit was nog altyd my troefkaart en dit het nog altyd gewerk. Dit sal nou weer.”
Hy het by die predikant verbygestap, met vaste tred aangestap huis toe, maar net toe hy die stoep opstap, het sy pa in die voordeur verskyn.
“Wat gaan hier binne aan, Janneman? Hoekom is Hantie aan die inpak? Sy sê sy gaan weg, sy en klein Helgard. Jy wil haar nie meer hê nie. Wat de duiwel is hier aan die gang?”
“Daar kom dominee Weich aan, Pa. Gaan hoor maar by hom.”
“Ek wil ’n antwoord van jou hê. Jý is haar man!”
“Is ek? Dis nuus vir my.”
“Janneman!”
“Moet Pa nie so ontstel nie. Hantie gaan nêrens nie. En ook nie klein Helgard nie.”
En Hantie hét gebly. Dominee Weich het wyslik besluit om nie weer hierdie delikate saak aan te roer nie, en Janneman het net stiller en stiller geword. So het die maande die een ná die ander verbygerol tot waar Helmut nou teenoor Janneman by die kombuistafel sit en die jonger man se eerlike belydenis moet aanhoor dat hy nie weet na watter kant toe om te bid nie.
Geskok is die Godsman nie. Hy weet uit watter soort hart daardie woorde kom. Hy begryp.
Sy stem is baie stil. “Daar is maar net een manier om te bid, Janneman. Dis die gebed wat Jesus gebid het toe Hy in doodsangs in Getsemane geworstel het: Nie soos Ek wil nie, maar laat u wil geskied, Vader.
Janneman se kop sak ver vooroor. Sy stem is gedemp toe hy weer praat: “Ja. Dis seker al gebed wat oorgebly het, dominee.” Toe kyk hy op. “Ma het gevra jy moet ’n draai by haar ook maak voordat jy teruggaan dorp toe.”
Toe hy ’n rukkie later die ander huis op Paradys se werf binnestap, wag Helgard en Elise reeds op hom. Hy kan sommer dadelik aanvoel dat hulle sy hulp nodig het, vra dan ook sommer op die man af: “Kan ek help, tannie Elise, oom Helgard?”
Dis Helgard wat antwoord: “My vrou het jou hulp nodig, dominee.”
Elise Retief kyk haar man pleitend aan. “O, Helgard, asseblief, jy kan nie nou nog so hardvogtig wees nie. Hier staar die dood ons almal in die oë met klein Helgard, en jy bly jou hart verhard.”
“As my hart verhard is, my vrou, is dit nie deur eie toedoen nie. Sal julle my asseblief verskoon?”
Hy stap ook sommer dadelik uit en Elise skud haar kop weemoedig. “Hy is so ’n dierbare mens, dominee. Maar in hierdie een opsig … Hy kan Nols net nie vergewe dat hy so totaal van ons weggebreek het nie.”
Helmut knik. Ja, hy weet. Ook met oom Helgard het hy al probeer praat, maar ook met hom het dit geen vrugte afgewerp nie.
“Dis nie om myself nie, dominee, verstaan goed,” was die ouer man se verweer. “Dit gaan om wat Nols my vrou aangedoen het. Ná hoeveel jare huil sy nog oor hom, verlang sy na hom, bid sy elke dag getrou dat hy sal terugkom.”
“Gaan dit werklik net om tannie Elise, oom?”
Net vir ’n oomblik het die oë weggeswaai, toe het Helgard hom weer byna uitdagend aangekyk.
“Nee. Dit gaan ook om wat hy Janneman aangedoen het. Jy dink nou dis om die kind, om klein Helgard, maar dis nie dit nie, dominee. Dit gaan daarom dat sy jonger broer pa moes staan vir die kind wat hý verwek het, en so ’n gemors van Janneman se lewe gemaak het. Janneman probeer baie hard om die ware feite weg te steek, maar ek is nie blind nie, dominee. Ek sien wat my seun deurmaak. Hy het in dieselfde hel beland waarin ek destyds was toe ek ook vir ’n ander man se kind pa moes staan. My seun het nie ’n vrou nie, dominee, en ek dink jy weet dit.”
Wat kon hy anders doen as knik? “Ja, oom. Ek weet dit en ek het met Hantie probeer praat, maar jy weet self wat die gevolg was. Hantie wou haar kind vat en loop.”
“Ja, ek weet. Ek wonder nogal waarheen wou sy gaan. Seker na Babel toe, agter Nols aan. Nee, dominee. Jy hoef my nie te sê dis verkeerd en ’n Christen moenie so voel nie. Ek is bitter, bitter teenoor Nols en ek kan dit nie verhelp nie. En moenie vir my daaroor preek nie, want g’n preek van watter predikant ook al sal daardie bitterheid uit my uithaal nie.”
“Nee, oom Helgard. Jy’s reg. Geen predikant kan dit vermag nie. Maar Gód kan. Net Hy alleen.”
Helgard Retief het swaar gesug, swaar gesluk. “Jy’s reg, dominee. Net God alleen. Mag Hy my genadig wees, maar … mag Hy veral vir Janneman genadig wees. My kind kry swaar … en ek kan daar niks aan doen nie. Ek kan net toekyk en voorgee ek sien niks raak nie. Dis die swaarste van alles.”
Verder as dit het hulle nie gekom nie.
Helmut wend hom nou na die ouer vrou en vra met deernis: “Wat hinder, tannie Elise?”
Sy skud die kop, veg teen die trane. “Maar weer Nols, dominee. En my gewete wat my, sedert daar finaal besluit is om te opereer, dag en nag rondjaag.”
“Tannie se gewete?”
“Ja. As klein Helgard moet sterf … Nols weet nog nie eens van sy bestaan nie. Is dit reg en regverdig dat Nols ’n seun het en dat die kind sterf sonder dat die man wat hom verwek het, ooit eens van sy bestaan bewus was. Ís dit, dominee?”
Sy oë sak. Dis ’n moeilike vraag … moeilik …
Hy hoor haar voortgaan: “Al was jy ook hoe sleg, al het jy ook watter fout in die lewe begaan … jou kind is jou kind … deel van jou. En Nols is nie regtig so sleg soos dit voorkom nie, dominee. Ek weet. Ek het hom grootgemaak. Hy was maar so sewe, agt jaar oud toe hy my seuntjie geword het. Ek weet diep in hom het Nols ’n goeie hart. Wat in hom verkeerd gegaan het en hom laat doen het wat hy gedoen het, weet ek nie, maar … Nols sal sy kind erken en wil ken as hy van sy bestaan moet weet. Hy is nie al een wat foute gemaak het nie. Ons, ek en Helgard, het ook. Dit was verkeerd om hom nooit die volle waarheid te vertel nie. Dit wás. Ek weet dit nou. Die vraag lê in my hart: Wie het teenoor wie die ergste misdryf – ons omdat ons hom nooit vertel het nie, of hy wat ons verlaat het?”
Helmut knik. “Dis ’n groot hartseer feit van die lewe daardie, tannie Elise … dat my foute dikwels die oorsaak is van ander se verkeerde optrede.”
“En bitterheid baar bitterheid. Nols is bitter teenoor ons, en nou is sy pa ook teenoor hom verbitterd.” Haar oë kyk hom smekend aan. “Dominee, ek is so bang ons, ek en Helgard, en hierdie keer Janneman, gaan weer ’n fout begaan deur Nols nie van sy kind te vertel nie en hom nie te laat weet wat klein Helgardjie se omstandighede is en van die lewensgevaarlike operasie wat vir hom voorlê nie. Wat as Nols hierdie dinge agterna moet uitvind? As hy dan moet dink Paradys se mense het onvergeeflik teenoor hom gesondig, weet ek nie of ek hom dit sal kan kwalik neem nie. Wat moet ek doen?”
Weer ’n moeilike vraag wat die predikant nie sommer kan beantwoord nie. “Ek sal eers hieroor moet dink, tannie Elise. Dink en bid. Ek sal eers leiding van Bo moet vra, want besef u watter geweldige implikasies dit vir almal kan inhou as Nols in hierdie stadium moet hoor hy het ’n kind?”
“Ek weet. Ek besef dit. Dit kan die grootste ongelukkigheid en hartseer vir ons almal inhou. En tog … hier diep in my hart knaag dit, besef ek Nols móét weet. Iemand moet dit vir hom vertel.”
Terwyl die dominee sy bystand aan sy vrou binne die huis gee, koers Helgard sommer ’n rigting in oor die werf, sien ’n silhoeët teen ’n koppie afgeëts staan, wend dan sy skrede daarheen. Sonder ’n woord neem hy langs Janneman op ’n ysterklip plaas, en ’n oomblik is dit stil tussen pa en seun.
“Dis droog.”
“Ja.”
“Ek het my netnou verbeel ek het ’n effense weerlig daar teen die kim gesien.”
“Nee, Pa. Dis wensdenkery. Daar’s niks. Daar is geen teken van reën nie.”
Stilte.
“Pa …”
“Hm?” ’n Suig aan die pyp.
“Die koste loop hoog. Hierdie afgelope vier jaar het die dokterskoste en Hantie se besoeke met die kleintjie aan die spesialis in die stad baie geld gevra. Dink Pa nie ek … ek moet maar eers vir my ’n werkie êrens probeer kry …”
“Is jy dan nou heeltemal laf? Ons is mos nie in die knyp nie, man! Watse twak …”
“Nee, ons is nie, maar ons is op pad daarheen.”
“Jy vergroot.” Hy beduie met die pyp. “Ons kort net reën.”
“Ons kort meer as reën om hierdie operasie te kan betaal. Ons kort ’n Babel se goud.”
Die atmosfeer is oombliklik elektries gelaai. Die woord Babel word nie voor Helgard Retief genoem nie.
“Moenie my kwaad maak nie, Janneman! Wat de duiwel bedoel jy met daardie woorde? Dat ons …?”
“Niks, Pa. Niks! Ek het maar sommer net gesê. Maar Pa weet wat ek bedoel. ’n Leweroorplanting kos derduisende rande wat ons …”
“Wat ons hét.”
“Maar daarna sal ons niks hê nie. Ons gaan geen kapitaal oorhou om …”
“Ons sal nog ons grond hê, seun.”
“Pa! Asseblief, ek verstaan hoe Pa voel, maar ons moet nou ons verstand gebruik. Waarmee gaan ons aangaan met boer as daar nie geld is nie? En wat as die droogte langer duur? Ons moes reeds begin voer en …”
“Ons sal regkom, Janneman. Ons sal regkom, seun. Daaroor bekommer ek my nie.” Hy sug diep, klop die reeds dooie pyp teen die kant van die klip uit. “As die operasie net sal help om klein Helgard se lewe te red. Geld is nie van belang nie.” Hy beduie met die hand na benede sodat Janneman saam met hom afkyk na die begraafplaas aan die voet van die koppie. “Wat beteken geld as jy eers dáár lê? So min soos die stof waarvan jy weer deel geword het.”
“Maar hulle wat nie daar lê nie, het wel geld nodig om te kan lewe. Pa, dit gaan nie om mý nie. Ek dink aan Ma en Pa en Hantie as dinge moet skeefloop.”
“Ek weet. Maar dinge sal nie skeefloop nie.” Hy staan op, druk ’n oomblik ’n hand swaar op die jonger man se skouer. “Moet jou nie bekommer nie, my seun. Pa sal sorg dat dinge reg gaan. Daar ry die dominee nou. Kom ons gaan huis toe.”