Читать книгу Terug na Eden - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Die paar dae voordat Isabé en Hantie met klein Helgard Kaap toe vertrek, is ’n tyd vol stryd en onuitgesproke gedagtes vir al Paradys se mense. Maar in almal se harte lê daar ook die een groot versugting: Mag alles nie tevergeefs wees nie.

Elise se stryd met haar gewete oor Nols en die feit dat hy nie weet van sy kind en van dié se siekte nie, bly ’n stryd wat sy alleen moet stry, ’n vraag waaroor sy in haarself helderheid moet kry. Toe sy eindelik die motor van die werf af sien wegtrek, is sy nog niks nader aan ’n oplossing nie.

Die dag voor die vertrek lê die dogter van die buurplaas besoek af by die Retiefs. ’n Pligsbesoekie, soos almal weet, maar nietemin word dit waardeer, veral deur Janneman. Mense het in die verlede graag op Paradys gekuier, maar die afgelope jare het dit selde gebeur dat iemand gevoel het om die Retiefs, veral die jonger egpaar, te besoek. Die besoekers het altyd die gevoel gekry hulle is in die pad, dat hulle Hantie hinder in die versorging van haar siek kindjie. Daar het maar min werklike vriende oorgebly, besef Janneman toe hy die hupse stappie van die buurplaas se dogter betrag terwyl sy nader stap. Net San-Marié het bly kom, meesal net vir ’n inloertjie, soos sy dit genoem het, maar nogtans. Dit het nog altyd sy hart goed gedoen om haar vrolike gesiggie te sien. En sy is ’n voorslag-boeredogter daarby. Die man wat haar eendag kry, kan van geluk spreek. Dat sy baiekeer nie eens vir Hantie met ’n oog gesien het wanneer sy inloer nie, het nie vreemd voorgekom nie. Hantie is maar altyd besig met die versorging van klein Helgard. Meesal was dit net Janneman en sy wat ná ’n snikhete, droë Karoodag ’n koue biertjie saam geniet en oor boerdery-aangeleenthede gesels het.

Vanmiddag stap sy egter doelbewus na die kinderkamer waar sy weet sy Hantie sal aantref. Vir ’n oomblik beskou sy in stilte die jong vrou wat besig is met inpak. Daar is seker niks wat ’n mens so aftakel as om vier-en-twintig uur lank dag-in en daguit na ’n sieke om te sien nie. Hantie lyk vanmiddag dubbel haar ouderdom. Maar dis ook haar eie skuld, dink San-Marié in haar enigheid. Sy wou nog nooit iemand naby haar kind toelaat nie. Selfs Isabé het selde die voorreg gehad om vir ’n halfuur na die kleintjie om te sien, ten spyte van die feit dat sy ’n opgeleide verpleegsuster is. Bewonderenswaardige toewyding – maar intussen is sy gestroop van haar jeug en lewensvreugde. Hoe hou Janneman dit uit? kom die vraag vir die hoeveelste keer by San-Marié op, net om vir die hoeveelste keer streng onderdruk te word. Dis met ’n tikkie skuldgevoel in die hart dat sy nader stap en Hantie soen. Maar wat sy sê, bedoel sy opreg.

“Hantie, ek wil hê jy moet weet ek dink aan jou in dié tyd, en dat ek vir jou en klein Helgard sal bid.”

Hantie knik. Sy is so suf dat sy kwalik meer ’n emosie kan voel. “Dankie, San-Marié. Ja, ek en my kind gaan gebede nodig hê.”

Ek en my kind … Sy praat altyd so. Nooit “ons kind” nie. Dis altyd “my kind”.

Ten spyte van die jammerte in die hart verstyf die besoekster se gesig effens. Sy wens sy kan ’n slag hierdie vrou aan die skouers gryp en deeglik skud.

“En Janneman natuurlik ook,” sê sy doelbewus. “Wanneer ry julle? Môreoggend? Ek wil juis vir oom Helgard gaan sê hy moet maar op my nommer druk as …”

“Janneman gaan nie saam nie. Isabé vergesel my. Ja, ons ry môreoggend.”

“Maar … hoekom gaan hy nie saam nie? Ek kan mos maar vir oom Helgard met die voerdery kom help as hy vasbrand.”

“Ag, dis nie net oor die droogte nie. Wat sal hy tog heeltyd in die Kaap maak? Hy sal net in die pad voel. Hy kan maar later kom wanneer die operasie verby is.”

“O”. San-Marié groet vinnig, stap uit, ’n diep frons op haar andersins vrolike gelaat. Hoe kan ’n vrou se man in die pad wees wanneer julle die grootste krisis en vuurproef van jul lewe ondervind? Hantie, jy is ’n gek …

“Jou bier gaan laf word as jy langer so fronsend daarna kyk.”

Sy kyk op, sê reguit: “Hantie sê jy gaan nie saam nie. As dit oor die boerdery is … Ek sal oom Helgard kom help tot jy terug is.”

Hy skud sy kop, die oë versluier. “Dankie, maar ek sal maar later gaan, indien nodig. Wat sal ek tog nou daar gaan maak? Eintlik net in die pad wees.”

“Is dit soos jy voel – of is dit vir jou voorgesê?”

Hy frons liggies en antwoord ontwykend: “Maak dit eintlik saak?”

Haar bierglas word hard neergesit en vir die eerste keer sien hy San-Marié kwaad.

“Jy weet, Janneman Retief, soms wonder ek …” Sy sluk ongeoorloofde woorde terug, maar bars dan weer los: “Soms wonder ek wat jy eintlik is – ’n gek of ’n engel.”

“Op dees aarde!” Janneman lyk eerlik verbaas. Hy ken haar nie só nie. “Gek kan ek verstaan, maar waar jy ’n engel in my sien …”

“Nee, jy is reg. Engele vlieg in die hemel rond, loop nie met nommer tien plat pote op die aarde rond nie. Dan is jy ’n gek.”

“San-Marié?”

“Jy maak my soms siek. Amper net so siek as wat Hantie my maak.” Sy sien die onmiddellike verstywing van sy gesig en sê bot: “Goed. Ek het gewaag om jou volmaakte vrou te kritiseer, en nou is jy kwaad. Maar ek sê jou eerlik, ek begin moeg raak daarvoor om julle jammer te kry. Ek begin my nou vervies.”

“Mag ek weet waaroor hierdie tirade gaan? Vir wie is jy kwaad en hoekom?”

Juis die feit dat sy nie kan verduidelik nie, maak haar net meer ontsteld. O, soms is sy lus en skud hóm ook tot sy tande kletter! Die stommerik, kan hy nie sien hoe moeilik hy dit vir háár ook maak nie? Sy spring op, die bier vergete.

“Dit sal nie help om met jou te praat nie. Niemand is so blind soos hy wat hom blind wíl hou nie. Maar jy vergeet een ding: Tyd staan nie stil nie. Elke dag wat verbyrol, is … verby.”

Hy is totaal verdwaas. Hy sou nie kon glo die altyd vrolike, soms amper ligsinnige San-Marié kan so ernstig raak nie. En waarop sou sy sinspeel?

“En op twintig weet jy alles van tyd wat verbyrol af,” probeer hy liggies skerts, maar sy oë beskou haar ernstig.

“En jý het op sewe-en-twintig nog nie hierdie groot feit van die lewe ontdek nie!” kap sy terug.

Nou sit hy ook sy bier neer, kyk die ontstoke patroontjie voor hom verward aan.

“As jy my net kan sê waaroor ons nou eintlik gesels, kan ek dalk saampraat, maar …”

“O, gaan bars.” Sy swaai weg, vorder ’n tree, kom tot stilstand en draai teësinnig terug. “Ek het hierheen gekom om vir jou en Hantie die beste toe te wens, en nou … gaan staan en baklei ek. Ek is jammer. Vergeet wat ek gesê het. Ek moet nou gaan. Tot siens.”

“Wag eers.” Hy spring op. “Wag eers, San-Marié. Ek wil graag hoor wat jy …”

Maar sy steur haar nie aan sy woorde nie, stap vinnig die stoep af na haar perd toe en die manier waarop sy so te sê van Paradys se werf af wegjaag, vertel hom dat sy steeds ontstoke is. Hy gee ’n ligte suggie en draai terug na sy bier, grinnik effens terwyl hy oor die rand van die glas in die verskiet staar. San-Marié hoef hom niks te kom vertel van dae wat verbyrol nie. Dae, weke, maande, jare … vier jare het al vir hom verbygerol, leë, frustrerende, nuttelose jare in baie opsigte. As hy dink aan die jare wat voorlê, kan hy hom dit nie anders voorstel nie. Net nog meer frustrasie, eensaamheid, nutteloosheid. En hy kan niks daaraan doen nie. Niks – want hy het homself vier jaar gelede in ’n web vasgespin waaruit hy nooit weer sal kan ontsnap nie, altans op geen eerbare wyse nie. Maar is daar dan geen beloning vir die man wat eerbaar probeer leef nie? wonder hy met ’n bitterheid in hom.

Hy is reeds in die bed toe Hantie daardie aand soos gewoonlik ná hom kom inkruip.

“Slaap hy?”

“Ja.”

Hulle lê langs mekaar, soos gewoonlik, elkeen op sy kant van die bed. Dit word stil. Hy onderdruk die begeerte om na haar te draai, haar teen hom vas te trek. Hy is al te dikwels in die verlede met flou verskonings weggedruk. Hy draai sy kop stadig, kyk net na haar, sien wat San-Marié se oë vandag gesien het. Sy arme Hantie! Sy is besig om te vergaan onder ’n te swaar vrag.

“Hantie …”

Versigtig strek hy ’n hand na haar uit. “Ek sal saamgaan as jy wil hê ek moet saamgaan, as jy my nodig het.”

Haar oë bly strak voor haar kyk. “Nee. Ek sal hierdie ding self deursien. Dis nie nodig dat jy …”

“Maar ek wil jou bystaan. Ek wil nie hê jy moet alleen hierdeur gaan nie.”

Maar die kop skud weer. “Dit is my verantwoordelikheid hierdie.”

“Toe ek die dag met jou getrou het, het ek dit ook mý verantwoordelikheid gemaak. Maar jy het my nog al die jare uitgesluit waar dit klein Helgard aangaan. Hy was nog net altyd jóú kind. Jy het nog nooit toegelaat dat hy ook mý kind word nie, óns kind. Ook nou weer. Jý gaan, ek moet bly.” Hy sien haar kop sywaarts op die kussing draai, weg van hom, en skielik lê San-Marié se woorde op sy lippe: “Tyd staan nie stil nie, my vrou. Elke dag wat verbyrol, is verby. So is vier jaar al verby. Wanneer gaan daar ’n keerpunt kom? Gaan daar ooit ’n keerpunt kom?”

Die kop draai terug, die oë soek syne, die maer gesiggie bleek, gespanne. “Die keerpunt is op ons, Janneman. Ek weet ons kan nie so aangaan nie, maar dis nie meer lank nie. Hou nog ’n rukkie uit, asseblief … ’n klein rukkie.”

Hy verbleek ook merkbaar, te bang om te vra wat sy presies met daardie woorde bedoel. Dan is dit sy wat haar skielik teen hom vaswerp, hom krampagtig vashou, skor met traannat lippe styf teen sy nek fluister: “Moenie ons vergeet nie, Janneman!”

Hy vou sy arms om haar, druk haar styf vas. “Hoe sal ek julle dan vergeet? Julle is myne.”

Hy sê hierdie woorde omdat hy dit so graag wil glo, hoewel hy diep in die hart weet die teendeel is waar. Hulle was nog nooit werklik syne nie. Maar in hierdie uur is sy vrou die naaste aan vrou wees vir hom as wat sy ooit was. Daarom neem hy wat hierdie nag hom bied, wetende dat dit môre net ’n illusie sal wees. Maar in hierdie oomblikke wys Hantie hom die eerste keer dat daar tog ’n afhanklikheid is, dat sy tog, in watter geringe mate ook al, behoefte aan hom het.

Verrassend word hierdie nag van spanning en vrese ook ’n nag van liefde. Janneman probeer nie delf na die rede waarom Hantie juis in hierdie nag haar so spontaan en volslae aan hom gee nie. Vir hom wat nog altyd net gewoond was aan krummels, word hierdie ure soos ’n onverwagse feesmaal.

Lank daarna, toe hy hom versigtig losmaak van ’n diep slapende Hantie, staan hy op en stap suutjies na die klein bedjie in die hoek, kyk in die flou lig van die maan af op die bondeltjie mens voor hom. Dis eers dan dat hy die gebed bid wat Helmut Weich gesê het die enigste gebed is wat in hierdie omstandighede gebid kan word: “O, Hemelvader, net soos U wil. Amen.”

Isabé was daardie middag besig om haar pligte oor te dra aan suster Meyer wat haar plek sou inneem solank sy weg is. Daarna het sy die laaste goedjies in haar woonstel bymekaargesit, en dominee Weich het kom groet.

Sy was amper spyt toe sy hom in die deur sien verskyn, hoewel sy hom verwag het. Benewens die baie dinge aangaande klein Helgard se siekte wat maar gedurig in die hart roer en kolk, is daar nou nog iets wat onverhoeds haar gemoed ontstel. Sy het eerlik nie gedink dat dit nog so ’n hewige reaksie in haar sou wakker maak nie. Sy het haar tassie oopgemaak op soek na haar identiteitsboekie wat sy natuurlik liewer moet saamneem, toe sy op die aandenking afkom wat al jare lank onaangeraak onder die klomp ander papiere en dokumente lê.

Toe sy dit oopvou, het sy vir die eerste keer weer daarvan onthou – en die geleentheid wat daarmee saamgegaan het. Dis ’n spyskaart van ’n baie gewilde Indiese restourant in Durban.

Terwyl sy weer die lys van eksotiese Indiese geregte daarop sien, het herinneringe aan daardie aand haar oorspoel. Dit was die eerste aand dat hulle saam gaan eet het. Dit sou die enigste aand wees – net ’n blykie van waardering jeens sy bekwame operasiesuster. Beslis niks meer nie. Maar toe het ander aande gevolg …

Sy het byna oorhaastig die spyskaart teruggeprop onder die ander papiere en gewens ’n mens kon herinneringe ook so maklik wegbondel. Toe staan Helmut Weich skielik in die deur en sy besadigde stem vra: “Nog besig om in te pak?”

“Nee. Nee, ek het nou alles.” Sy voel nie lus om hom te vra om te sit nie, maar dis duidelik dat hy nie van plan is om dadelik te groet en te gaan nie en sy kan nie anders nie.

Hy gaan egter nie sit nie. Hy stap nader, draai haar na hom waar sy onnodig goedjies op die rak regdruk. “Isabé …”

“Nie nou nie, Helmut, asseblief!” Sy kán nie nou met hom gesels oor ’n moontlike toekoms terwyl gister weer so helder in haar leef nie.

“Ek kan nie anders nie. Ek het skielik so ’n onrustige gevoel oor jou gekry, so asof … asof jy môre heeltemal uit my lewe gaan padgee. Jy sal terugkom, sal jy nie?”

Sy kyk hom verbaas aan. “Natuurlik kom ek terug. Hoe sal ek dan nie? Dis net ’n kort rukkie, Helmut. Net tot ek Hantie deur die ergste bygestaan het. My betrekking wag …”

“Én ek. Ek ook, Isabé. Sal jy dit onthou?” Wat kan sy anders doen as knik? “En in die tyd dat jy weg is, sal jy dink oor ons … ons toekoms saam?”

Sy draai onder sy hande weg, soek na iets om hierdie vraag te omseil, hoor haarself vra: “Helmut, mag ek jou iets baie persoonliks vra? Jy hoef nie te antwoord as jy nie wil nie.”

Hy glimlag effens. “Vra maar. Ek sal jou eerlik antwoord, wat jy ook al wil weet.”

Sy aarsel. Sy wil dit nie regtig vra nie. Sy wil nie regtig weet nie. Hy kan miskien die belangstelling verkeerd vertolk. Maar dan vra sy tog: “Hoekom is jy nie al getroud nie? Jy was al twee-en-dertig.”

Sy glimlag word breër. “Is dit een van die dinge wat jou so hinder? Dan kan ek jou gerusstel. Daar is geen donker geheim aan verbonde nie. Kom sit, dan vertel ek jou.”

Sy skram nou weg. Sy weet maar te goed dat sy nou slapende honde wakker gemaak het. “Ek is jammer. Dit het niks met my te doen nie. Wat in jou verlede gebeur het, is uitsluitlik jou saak. Ek vra om verskoning …”

Maar weer lag hy, trek haar aan die hand tot sy langs hom op die bank sit.

“Liewe mens, moenie so ongemaklik lyk nie! Ek is bly jy het gevra. Ek wou en moes jou al vroeër vertel het. Soos ek gesê het, daar is geen donker geheime in my verlede nie.” Toe word sy stem ernstiger: “Daar wás ’n meisie. Ek was werklik baie lief vir haar. Sy was ’n hele jaar jonger as ek, en toe ek klaar was met my teologiese studie, het sy nog omtrent drie jaar oor gehad om háár kursus te voltooi. Ek was reeds amper agt-en-twintig toe ons eers verloof geraak het. Sy wou nie dadelik trou nie. Wou darem eers ’n jaar of twee haar kennis benut voordat sy pastoriemoeder word. Maar toe die twee jaar verby is, het sy my vertel sy sien nie kans om ’n predikantsvrou te word nie. Sy is nie in die wieg gelê daarvoor nie, soos sy dit gestel het. Ek besef vandag sy sal nooit as ’n predikantsvrou deug nie.”

“En jy dink ék sal?”

Hy neem haar hand. “Ja, maar moet my nie verkeerd verstaan nie. As jy nou dink ek was die afgelope vier jaar doelbewus op soek na ’n vrou wat vir die amp as pastoriemoeder geskik is en dat ek jou op grond daarvan gekies het, dink jy verkeerd. Die afgelope jare het ek glad nie vrou gesoek nie. My gemeentesusters het wel,” glimlag hy. “Maar ek nie. Ek het net geglo God sal self die regte maat op die regte tyd na my toe bring. Die dag toe ek die eerste keer die kinderhuis besoek het en die suster daar ontmoet het, het ek net geweet: Hier is sy. Hier is my maat wat Hy vir my bedoel het. Isabé, ek het jou lief, waaragtig, opreg lief. Glo my, asseblief.”

“En die ander meisie … ?”

Hy kyk haar nog steeds eerlik aan. “Sy is net ’n mooi herinnering. Ek kan net mooi dinge van haar onthou, en ek is veral baie dankbaar teenoor haar dat sy destyds so eerlik was.”

“Maar jy het gesê jy het haar werklik baie liefgehad …”

“Ja. Destyds. Nie vandag meer nie.”

“Vergaan … liefde dan werklik so gou … so heeltemal?” Daar is iets pleitends in haar oë.

“Net as jy dit toelaat. Maar as jy daaraan bly vaskleef …” Hy aarsel ’n oomblik, vra dan reguit: “Is dit hoekom jy my nie ’n antwoord kan gee nie, Isabé? Omdat jy bly vaskleef aan ’n liefde wat nie meer bestaansreg het nie?” Hy sien die skrik in haar oë, weet dat sy vermoedens juis is. “Ek probeer nie in jou verlede delf nie, my liefste. Ek gaan jou nie eens vra hoekom ’n vrou soos jy op vier-en-dertig ook nog nie getroud is nie. Net hierdie een vraag: Sal jy my onthou solank jy weg is en onthou dat ek jou liefhet en dat ek jou my vrou wil maak?”

Sy kan net knik, wetende dat hierdie man vandag ’n kykie in die skuilhoeke van haar hart gekry het waar sy self dit nie maklik waag om te kyk nie. Sy hoor sy stem hier langs haar voortgaan, stil, rustig maar tog ook met ’n vasberade klank daarin.

“Die tyd gaan so gou verby, Isabé. Ek is twee-en-dertig, jy vier-en-dertig. Ons het minder tyd as ander jonger mense om die geluk van ’n huwelik en kinders te kan smaak. Ons durf nie langer met tyd speel nie, my liefste. Asseblief, wanneer jy terugkom, moet ons tot ’n besluit kom.”

Kinders … Vier jaar gelede is daar ook van kinders gepraat. En toe was alles verby. Vier jaar gelede … Dis lank …

Sy lig haar kop.

“Goed, Helmut. Wanneer ek van die Kaap terugkom, sal ek jou my finale antwoord gee. Solank jy besef dit kan ook miskien nee wees.”

’n Oomblik kyk hulle mekaar stil aan, dan knik hy. “Goed. Ek verstaan.”

Toe Isabé op Paradys aankom, kry sy haar pa in die studeerkamer.

“Waar is die ander mense?”

“Ma is na Janneman-hulle toe om te gaan kyk of sy kan help met die inpakkery. Jy is laat.”

“Ja. Ek was redelik vroeg klaar, maar toe kom die dominee daar aan.”

Helgard kyk sy dogter stip aan. “Klink my die dominee lê heelwat besoek af by die kinderhuis se woonstel vir die verpleegster.”

Sy ontwyk nie haar pa se oë nie. Tussen hierdie twee is daar geen geheime nie. Isabé weet haar pa terg nie maar net nie.

“Ja. Hy wil met my trou,” antwoord sy reguit.

Helgard knik. “En jy wil nie.”

“Ek het nie gesê …”

“Jy hoef dit nie te sê nie. As dit nie so was nie, sou jy tog ja gesê het.”

’n Kort stilte. Dan, huiwerig om weer aan ou wonde te krap, antwoord sy: “Dis ’n bietjie moeilik, Pa.”

“Net as jy dit moeilik maak, Isabé. Wíl maak.”

“Pa! Pa weet wat ek bedoel.”

Hy swyg eers, keer die vraag wat spontaan na sy lippe kom. Nee, hy wil nie weet of hierdie pragtige dogter van hom haar dan nie kon losmaak van gister en al die hartseer wat dit ingehou het nie. Liewer nie. Hy vra dan maar liewer ’n ander vraag: “Is jy bang dominee Weich sal uitvind van … vier jaar gelede?”

Die ooglede beweeg asof êrens ’n pynlike hou toegedien is. “Nee, Pa. Ek is nie bekommerd dat hy op straat êrens iets sal hoor nie. Maar hy moet weet.”

“Hoekom moet hy weet?”

Sy kyk hom byna geïrriteerd aan. “Natuurlik moet hy weet! Hy moet weet met watter soort vrou hy gaan trou. Hy het my van sy verlede vertel, hoekom hy nou nog ongetroud is. Daar is geen donker geheim in sy verlede nie,” en sy glimlag wrang. “Maar dis seker nie meer as reg dat hy van mý donker geheim weet voordat ons trou nie … as hy dan nog wíl trou, bygesê.”

Helgard is eers stil. Isabé wil bieg. So baie mense voel hulle verplig om te bieg en verongeluk sodoende alle kanse op moontlike geluk. Bieg knak so baie lewens so onnodig. Hy weet.

“My kind, jy hoef nooit weer enige raad van my te aanvaar nie, maar die raad wat ek jou nou gaan gee … asseblief, neem dit aan! Moenie bieg nie. Laat die verlede met rus. Dit het niks met jou en Helmut se toekoms saam uit te waai nie.”

Sy lyk amper geskok. “Pa bedoel ek moet met ’n leuen …?”

“Leuen? Watse leuen? Daar word nie gelieg nie. Hy is darem seker nie onnosel nie. Hy moet tog kan raai daar was die een of ander tyd ’n man in jou lewe …”

“Hy weet dit reeds. Maar dis al. Dat ek wel vroeër ’n verhouding gehad het.”

“En dis nie nodig dat hy iets meer weet nie.” Hy leun dringend vorentoe. “Isabé, my kind, luister vir Pa, asseblief. Wat is daar werklik om te bieg? Die grootste wat jy voor Helmut sou moes bely, sou wees dat jy nie meer ’n maagd is nie. En jy het my verseker dat dit wel die geval is.”

“Dit is ook so.”

“Nou dan? Ek dink jy gaan onvergeeflik selfsugtig wees as jy hom die besonderhede van vier jaar gelde vertel.” Sy oë pen haar vas. “Want jy gaan dit nie regkry dat hy jou dan minder liefhet nie. Al wat jy gaan bereik, is dat jy hom, en jouself, onnodige seerkry op die hals haal. Jy gaan hom net skok. Maar skok maak nie liefde dood nie, my kind. Dit laat net ’n letsel op die hart wat kon gebly het. Bieg is ’n goeie ding, maar dis net toelaatbaar as jy nie ander onskuldige mense daardeur seermaak nie. As dit ander gaan kwets, ander se sielevrede benadeel, moet dit bly.”

Sy kyk hom met ’n sprank van hoop aan, vra egter steeds onseker: “Is Pa seker dis die beste? Pa is ook ’n man. Sou Pa dit so verkies het dat my ma nooit gebieg het nie?”

En ook nie jou stiefma nie, sê hy stil in die hart. “Ja, Isabé. Dis goed jy noem hierdie voorbeeld. Kyk al die ellende wat uit haar bieg voortgespruit het. Sou dit nie maar beter gewees het as sy liewer nie daardie brief geskryf het waarin sy vertel het Nols is nie my kind nie? Dit het net hartseer meegebring. Niemand het daardeur ’n beter mens geword nie. Nêrens het dit ons inniger saamgebind nie. Inteendeel. Ons gaan nog vir baie jare bieggeld betaal. As dit maar met klinkende munt kon wees, maar meesal is die prys wat vir daardie soort belydenis betaal word, die trane en smart van die onskuldige partye in die storie. Moenie, my kind. Gister is verby. Dis verbý, Isabé!”

Sy knik, staan op. Haar pa het reg. Gister is verby, en sy moet dit ook nou so aanvaar. Helmut het gesê ’n liefde wat nie bestaansreg het nie, word net brandend en lewend gehou omdat jy dit so wil hou. En sy is moeg om aan gister vasgeketting te wees. Want die jare gaan verby en daarmee saam die kans op geluk. Sy stap om die lessenaar, sit haar arms om haar pa se nek, druk hom vas.

“Dankie, my ou Pappa. Ek is so lief vir jou.”

Sy arms druk haar styf vas. “En ek vir jou, Isabétjie. Pa sal so graag wil sien dat daar vir jou ook iets moois en wonderliks in die toekoms wag.”

Sy soen hom op die voorkop, kyk met teer oë in syne af. “Ek begin glo dat so iets dalk moontlik is, Pa. Ek het hom beloof ek sal hom my antwoord gee wanneer ek terugkom.”

Met vaderliefde wat ’n mistigheid in die oë bring, kyk hy haar agterna toe sy uitstap. Sy is sy enigste dogter en lê hom so baie na aan die hart, maar vier jaar gelede het sy byna sy hart gebreek. Dit was ’n donker tyd in Paradys se geskiedenis – in meer as een opsig. Maar die son het weer deurgebreek. Tydelik, altans.

Sy blik dwaal af na die tabelle voor hom. Mag God gee dat die reën ook weer uit die wolke sal losbreek. Hy het so selfversekerd geklink toe hy Janneman daarvan probeer oortuig het dat alles reg is en dat hy sal sorg dat dit reg bly, maar net hy weet omstandighede is nie so belowend soos hy wou voorgee nie. Ontsettend hoë bedrae is die afgelope vier jaar aan mediese koste bestee. Hantie se hotelkoste wat noodwendig daarmee saamgeval het, vervoer heen en weer Kaap toe en talle ander dinge wat klein Helgard se siekte meegebring het, het fenomenale kontantbedrae uit die vol koffers van Paradys laat stroom. Nie dat daar vir een oomblik aan gedink is nie, want geld was nie hier van belang nie. Die koste van die hospitaal en die operasie sal die koste wat reeds aangegaan is, ver oorskry, maar ook dit maak nie saak nie, as dit net klein Helgard se lewe kan red en sy lyding kan verlig. Dit maak nie saak as die gordel vir die eerste keer in die heugenis van die Retiefs se lewe op Paradys baie styf getrek sal moet word nie. As dit net nie tevergeefs sal wees nie. As God net die reën sal stuur.

Hy staan op en gaan staan by die venster, kyk uit na ’n wolklose, sterbesaaide naghemel, fluisterpraat met homself, met Iemand: “Ons kan nie nou ’n droogte vat nie. Daar is nie geld vir voer nie. Here, asseblief, stuur die reën!”

Terug na Eden

Подняться наверх