Читать книгу Bruid uit die vreemde - Ena Murray - Страница 3
1
ОглавлениеDis ’n paar minute oor twaalf, en die nuwe jaar 1683 het pas begin. In die strate van Parys polsslag en krioel dit van dansende en laggende skares wat jolyt maak. Op die oewers van die Seine, wat soos ’n breë blou aar oor Frankryk na die see toe kronkel, klink die vrolike liedere op, maar die water spoel waardig voort. Tog word sy rustigheid effens verstoor wanneer die waters by Rouen verbyvloei en die geraas van die vierende menigtes oorverdowend opklink.
Die aanbreek van die nuwe jaar is met oorgawe gevier. ’n Hele paar jong edelmanne word so onopsigtelik moontlik in goudbeslaande koetse gehelp en van die strate verwyder, maar daar is ’n paar wat hardnekkig op hul waggelende bene bly staan en met swaar tonge protesteer dat hulle nie dronk is nie en nog ’n glasie van die heerlike rooi Franse wyn wil hê.
“Kyk waar jy loop, jou onnosele dronklap!”
Die jong man moet vinnig wegspring voor die twee paar perdehoewe wat wild in die lug kap. Hy kom op sy knieë te lande, maar spring weer ligweg op sy voete.
Die koetsier is beveel om stil te hou, en die gordyntjie voor die venster word weggetrek.
Die jong man stap op sy tyd nader en kyk dan op na die koetsier wat met sy gekrulde wit pruik en rooi satynklere minagtend op hom neerkyk.
“Ek neem aan jy het met iemand anders gepraat toe jy op ’n onnosele dronklap geskree het?” sê-vra hy en sy hand rus op sy pistool in ’n skede aan sy gordel.
Hy hoor ’n sagte snak na asem en draai sy kop in die rigting van die koets. Sy liggaam verstyf van algehele verbasing toe hy die beeldskone vrou sien wat ontsteld by die venster uitleun. In die sagte lig van die lanterns wat vanuit die wynhuis agter hom skyn, vertoon haar vel marmerwit, haar oë diep en geheimsinnig. Dan ruk hy homself reg en buig galant.
“U het gepraat, mademoiselle?”
“Ek … ek is jammer. Is u beseer?” vra sy in ’n hees stem.
“As ek dronk en boonop onnosel was, sou ek definitief verongeluk het. Gelukkig is ek heel nugter. Maar dis ’n gevaarlike spoed om te ry wanneer die strate so vol mense is,” betig hy haar. “Maar ás ek beseer was, wat sou u gedoen het?”
“Ek sou u vergoed het, natuurlik.”
Die vreemdeling antwoord nie dadelik nie, en die jong meisie neem die kans waar om hom ongemerk te beskou. Sy kleredrag is dié van ’n gewone burger, maar tog kan sy nie ’n tikkie bewondering onderdruk nie. Die broek wat van sy kuite af tot in sy middellyf styf om sy liggaam span, vertoon ’n paar welgevormde bene, en intuïtief weet sy dat hierdie man nie van valse middele soos kussinkies gebruik maak om spiere te vertoon, soos so baie van die mans wat sy ken nie. Sy hemp is ongeërg voor oopgeknoop, sodat die grootste gedeelte van sy gespierde borskas ontbloot is.
’n Diep blos spoel oor haar wange toe dit skielik tot haar deurdring dat die jong man nader gekom het en haar ewe takserend bestudeer.
Hy bring sy kop nog nader, en toe sy wil terugsak in die veilige donkerte van die koets, gryp sy hande hare op die raam van die koetsvenster vas en sê hy beskuldigend: “Ek het my knieë nerfaf gestamp, of het u nie gesien nie? Dus dink ek ek het die reg om vergoeding te eis.” Sy tande blink soos hy glimlag.
Sy ruk haar hande onder syne uit en knip haar handsakkie oop. In haar palm blink twee muntstukke. “Ek is jammer, maar dis al wat ek op die oomblik by my het …” Haar stem sterf weg toe hy uitbundig lag.
Die volgende oomblik ruk hy die koetsdeur oop. “U het my seker verkeerd verstaan, mademoiselle. Ons het nie een keer van geldelike vergoeding gepraat nie!” Voordat sy presies weet wat gebeur, word sy hard teen sy kaal bors aangedruk en deeglik gesoen.
Toe die ontstelde koetsier by die deur verskyn, spring hy laggend aan die ander kant uit.
“Totsiens, o skone! Dankie vir die vergoeding! Ek het dit geniet!” roep hy en verdwyn voor haar verwoede oë tussen die skare.
Maar baie gou verdwyn die glimlag om sy mond, en die geamuseerde lig in sy oë verflou. Sy gelaat raak weer stroef en streng terwyl hy vir hom ’n pad tussen die mense deur baan. Sy gedagtes dwaal terug na die een onderwerp wat al jare lank sy hele lewe oorheers, en die verbitterde trek om sy mond verdiep.
Ver weg van die rumoerige strate, op ’n klip aan die oewer van die Seine, gaan hy sit en laat sy kop in sy hande sak. Vir die eerste keer voel hy hoe die vuur van sy oortuiging hom verlaat; hoe ’n moedeloosheid in hom posvat. Hoe lank al soek hy nie na die feite wat sal bewys dat hy jare gelede op ’n geslepe manier van sy regmatige titel, sy erfenis en honderde duisende frank beroof is nie? Maar die soektog het tot dusver net mooi niks opgelewer nie. Inteendeel! Mense wat hom aan die begin ondersteun het, het die afgelope tyd duidelike tekens van ongemak begin toon – so asof hulle nie meer seker is dat hy gelyk het nie.
Hy spring op en kners op sy tande. Laat die hele wêreld dan maar dink dat dit skone sinsbedrog is om te verklaar dat hy – ’n gewone arbeider – in werklikheid een van die mees invloedryke en gesiene persone in Frankryk behoort te wees. Hy gee nie om nie. Laat hulle maar voortgaan om agter sy rug spottenderwys van hom te praat as “die graaf”. Hy bal sy vuiste. Eendag, ééndag sál hy hulle almal oortuig dat hy geen gewone lid van die gepeupel is nie, maar ’n afstammeling van een van die oudste adellike families in Frankryk.
Hy kyk in die rigting van die bosryke klowe en rante wat hy nou net vaag in die donkerte kan sien. Dáár, waar daardie punt teen die naghemel eindig, daar lê die uitgestrekte landgoed wat sy erfenis sou gewees het as dit nie was vir die gemeenheid van …
Sy gedagtes stol en hy voel hoe sy liggaam met ’n koue woede gevul word, hoe die haat diep en donker in sy binneste gloei. Dan begin hy vinnig aanstap totdat hy later, in sy haas om sy bestemming te bereik, op ’n drafstap oorslaan.
Hoe nader hy aan sy bestemming kom, hoe duideliker raak dit vir hom wat hy moet doen. Hy spoor homself nog vinniger aan. Toe hy eindelik die kruin van die heuwel bereik, staan hy stil en laat sy blik oor die toneel voor hom dwaal. Sy bors hyg terwyl sy oë soekend, besitlik om hom staar. Voor hom, aan die voet van ’n skotige afdraand, lê die ou kasteel waar hy, sy vader en oupa en al die geslagte voor hulle gebore is. Hy voel hoe sy bors swel van trots en sy hand, wat teen die ruwe stam van ’n omgevalle boom rus, liggies bewe. Sy erfenis. Sýne! Dit alles behoort aan hom! Hierdie lieflike landgoed wat deur geslagte heen vir hom opgepas en bewaar is tot … tot dié dag dat sy ouers koelbloedig vermoor is en sy erfenis in vreemde hande geval het. En die moordenaar bly vandag nog hier en kraai koning oor dít wat nie aan hom behoort nie. En hy, die wettige erfgenaam, is ’n armsalige arbeider op die paaie van Frankryk! Hy vee met sy gespierde voorarm oor sy voorkop en probeer om die haat te vergeet en nugter te dink oor die volgende stap wat hy moet neem.
Dan sluit sy lippe ferm op mekaar en voel-voel hy na die swaard en pistool aan sy sy. Vanaand, vanaand sal daardie moordenaar en verraaier gedwing word om ’n bekentenis te teken. Hy sal hom met die punt van sy swaard dwing om sy erfenis aan hom terug te gee. Hy gaan nie langer tyd mors om te soek na bewyse nie. Vanaand gaan hy net eenvoudig opeis wat syne is!
Ondersoekend kyk hy om hom heen, maar al teken van lewe is een venster waaruit die lig van helder lampe skyn. Die res van die massiewe kasteel is in donkerte gehul. Versigtig begin hy sy pad tussen die bome deur baan en kom telkens in ’n afwagtende houding tot stilstand, maar die toneel bly kalm en vreedsaam. Hy is nou so naby dat hy die swaar kopergrendels van die groot voordeur in die dowwe lig van ’n flou maan kan sien blink. Hy wag nog ’n oomblik en dan trek sy spiere saam.
Die volgende oomblik skiet hy soos ’n pyl uit ’n boog van agter die digte bosse uit oor die oop kol en smelt dan weer saam met die donker skaduwees en die struike wat tot teenaan die eeue oue klipmure groei. Hy wag gespanne, maar steeds duur die stilte voort. Dan druk hy sy lyf styf teen die muur aan sodat hy die koel oppervlak van die klip teen sy natgeswete rug voel en beweeg geruisloos op die punte van sy tone nader aan die verligte venster. Eindelik bereik hy sy bestemming, maar net toe hy wil inloer, val ’n skaduwee deur die venster na buite en hy ruk sy kop vinnig terug. Hy druk sy lyf so styf moontlik teen die muur aan, elke spier in sy liggaam tril van spanning.
Hy hoor hoe die gordyne verder oopgeskuif word, en nou kan hy duidelik ’n mens se skaduwee in die ligstreep op die grond afgeteken sien. Die geur van pyprook waai in sy neusgate, en hy weet dat die man wat hy so met sy hele hart verfoei, slegs ’n tree of wat van hom af is. Sy vingers klou krampagtig om die uitstaande punte van die klipmuur, en die begeerte om sy hande styf om sy vyand se nek te slaan, is byna oorweldigend. Maar om die man nou dood te maak, sal hóm niks in die sak bring nie. Nee. Voordat hy die moord op sy ouers kan wreek, moet hy eers die man se hand op papier kry, hom dwing om met pen en ink die waarheid te erken.
Meteens word die nagstilte deur aanstormende perdepote verbreek. Hy spits sy ore en sy waaksaamheid verskerp. Hy weet maar te goed dat sy lewe niks werd sal wees indien iemand hom hier gewaar nie.
Dan bars die perd ’n paar treë links van hom deur die bosse en die teuels word so vinnig in die dier se bek teruggeruk dat hy op sy agterpote terugsteier. Maar die ruiter het reeds afgespring en hardloop na die voordeur waar hy ongeduldig teen die massiewe deur hamer. ’n Oomblik later val ’n helder streep lig skuins oor die perd en ruiter wanneer die deur oopswaai en ’n lamp omhoog gehou word.
“Is dit nodig om die deur af te breek?” vra ’n ongeduldige stem.
“Ek het nie verwag dat u moet kom oopmaak nie. Waar is die bediendes dan?” antwoord die jong ruiter parmantig.
“Ek het al die huisbediendes vanaand laat gaan. Dis nie net jy wat Nuwejaar wil vier nie,” antwoord die ou man en kug dan hees: “Kom tog binne en maak die deur toe. Die aandlug is sleg vir my bors.”
Die vreemdeling hoor hoe die grendel weer toeslaan en voetstappe in die rigting van die verligte vertrek opklink.
“Geld! Geld! Van die oggend tot die aand net geld!” dreun die ou man se stem deur die venster. “Dis tyd dat jy begin werk. Dan sal jy uitvind waar geld vandaan kom en dit nie so vryelik verkwis nie!”
Die luistervink se mond trek smalend by die aanhoor van hierdie woorde en hy bring sy oor ’n bietjie nader.
“Ek móét tweeduisend frank hê,” sê die jong ruiter dringend. “Vanaand nog.”
“Hoekom móét? Wat wil jy daarmee maak?”
Daar kom geen antwoord op sy vraag nie.
Dan sug die ou man diep. “Toe maar, jy hoef my nie te vertel nie. Dis natuurlik weer dobbelskuld.”
Stilte. Dan beweeg daar voetstappe in die rigting van die venster en sy stem kom helder na die vreemdeling wat geïnteresseerd staan en luister.
“Wel, ek gaan jou nie weer help nie. Jy het my geduld nou een keer te veel beproef. Jou lewe bestaan net uit drank, dobbel en vroue. Jy het jou laaste kans gehad. Wat geld betref, is ek klaar met jou. Goeienag. Ek voel nie te gesond nie.”
Die voetstappe klink weer op en ’n deur word oopgemaak. Maar dan verstil dit meteens toe die jong man uitroep: “Jy sál my die geld gee!”
Sy nuuskierigheid kry nou die oorhand, en versigtig loer die vreemdeling om die hoek van die venster na binne.
Die jong ruiter staan met sy rug na hom gekeer en in sy hand blink ’n pistool dof in die lamplig. ’n Paar tree verder staan die ou man, sy oë uitdagend op die jong man voor hom gerig.
“Jy is ’n dwaas. Sit neer daardie speelding.”
Maar die jong man gee ’n tree nader en lig die vuurwapen met ’n bewende hand omhoog. “Ek speel nie. Ek eis tweeduisend frank – onmiddellik!”
Die ou man glimlag meewarig. “Jy bly ’n kind ten spyte van jou grootmenshoudinkies. Jy dink tog seker nie dat ek vir jou dreigement sal skrik nie. Skiet, as jy nie te lafhartig is nie, maar van mý sal jy geen geld weer ontvang nie.”
Die ou man draai om en ’n skoot knal deur die vertrek. ’n Stonde lank staan hy stil. Dan syg hy stadig grondwaarts. Twee paar oë staar geskok, ongelowig na die grusame toneel. Dan kom daar meteens lewe in die jong ruiter. Hy spring na die deur en voordat die vreemdeling dit reg besef, dawer die perdepote oor die oop kol en verdwyn tussen die bosse. ’n Swaar stilte sak oor die ou kasteel neer.
Fronsend staar die vreemdeling voor hom op die grond. Stadig dring dit tot hom deur dat al sy planne verydel is. Hy loer weer deur die venster. Die persoon wat die sleutel was tot die oplossing van sy probleem, lê op sy gesig terwyl die donkerrooi vlek op sy weelderige satynkamerjas al groter word.
Rats lig hy hom op die vensterbank en spring die vertrek binne. Versigtig hardloop hy nader en keer die liggaam om, maar toe hy in die starende oë kyk, weet hy dat die koeël sy werk deeglik gedoen het. Hy vloek saggies en staan op. Stadig laat hy sy blik deur die vertrek dwaal. Sy oog word getrek deur die swaar lessenaar wat in die hoek staan. Hy stap vinnig daarheen en trek die een laai ná die ander oop sonder om te vind waarna hy soek. Eindelik sak hy met ’n sug op ’n stoel neer. Wat nou?
Dan spring hy vervaard op en lig sy kop. Hy is seker hy het die geluid van aanrollende wiele gehoor. Na ’n paar oomblikke kan hy die gestamp van die koetswiele duidelik hoor en met ’n laaste blik op die stil figuur, spring hy op die vensterbank en verdwyn in die nag.
“Wat makeer jou? Jy lyk soos die dood.”
“Ek … ek het hom geskiet …”
“Geskiet? Waarvan praat jy, man?”
Die jong man lek oor sy droë lippe. “Ek het hom die geld gevra en hy het … hy wou dit nie gee nie. Toe … toe skiet ek hom …”
“Wát?” Daar heers ’n onheilspellende stilte. Dan bars dit uit: “Jou gek! Was jy dan van jou sinne beroof?”
Die jong man gryp sy vriend aan die arm. “Jy moet help. Jy móét! Ek moet vlug. Ek …”
“Kalmeer, man! Is jy seker hy is dood?”
“Ek weet nie. Ek dink so …”
“Dit maak ook nie saak nie. Al lewe hy ook, jy sal moet vlug.” Hy kyk na die bleek gesig. “Jy het alles pragtig verbrou. Maar dit nou daar gelaat. Ons moet spore maak. Kom!”
“Kaptein …”
Kaptein Isaac Goske kyk ongeduldig op van die kaart wat voor hom op die tafel lê. Sy oë rek toe hy die gehawende gestalte voor hom gewaar.
“Wat de duiwel … Wie is jy? En hoe kom jy op my skip?”
Hoewel sy klere geskeur is en sy baard lank, ontgaan die stewige bors en breë skouers nie die kaptein se skerp oë nie, en toe hy in die oop, eerlike gesig opkyk, voel hy sommer aan dat hier iets verkeerds aan die gang is. Hy is nog meer verras toe die gehawende vreemdeling hom beleef in keurige Frans aanspreek.
“Ek moet verskoning vra dat ek u kajuit so ongenooid binnekom, maar …”
“Maar wat?” Isaac Goske stap om die tafel. Hoewel hy geensins kort is nie, is hy verplig om na die ongenooide gas op te kyk. Jare lange ondervinding met alle soorte mense vertel hom dat ’n ontwikkelde en intelligente persoon voor hom staan, en sy belangstelling word teen sy sin geprikkel. Nietemin is sy stem ongenaakbaar en streng toe hy vervolg: “Na regte hoef ek jou nie eens uit te vra nie. Weet jy wat met verstekelinge en drosters gebeur?”
Hy hou die man voor hom fyn dop en ’n tikkie van sy belangstelling skemer deur in sy oë toe hy die skewe glimlag om die bebaarde mond gewaar.
“Ja, kaptein. Hulle word gekielhaal, nie waar nie?”
“Heeltemal korrek. En is jy nie bang nie?”
Die glimlag raak breër. “Wat wil u hê moet ek daarop antwoord, kaptein?”
Kaptein Goske tel ’n sigaar van sy tafel af op en sê ernstig: “Kyk, vreemdeling, wie jy ook al is, jy moet nou gou praat. Ek is nie juis bekend vir my groot geduld nie.”
“Maar wel om u redelikheid en regverdigheid, kaptein.”
Isaac Goske kyk stip deur die sigaarrook. “Jy wil vir my iets sê. Nou sê dit en kry klaar,” sê hy kortaf en gaan weer agter die tafel sit.
“Goed, kaptein. Ek gaan al my kaarte op die tafel gooi. U is al een wat my kan help. Ek het geen ander uitweg nie.”
“En sê nou ek laat jou terugskeep na waar jy vandaan kom?”
“Daardie kans sal ek maar moet waag, kaptein.”
Die twee mans som mekaar in stilte op.
“Goed, vreemdeling. Laat ek hoor.”
’n Uur later word die stuurman na die kapteinskajuit ontbied. Sy oë rek toe hy die vreemdeling langs sy kaptein gewaar.
“Liewe genugtig, kaptein! Waar kom u aan hóm?”
“Toe nou, Kasper. Van nuuskierigheid is die see vol en die skepe leeg. Die branders het hom nou net hier ingespoel. Vat hom saam en probeer vir hom ordentlike klere kry. Tot by die Kaap de Goede Hoop is hy jou stuurjonge. Gee hom al die werk waarvoor jy lus het en moenie sy spiere spaar nie.”
“Goed, kaptein,” en Kasper kyk sy nuwe stuurjonge met glinsterende oë aan.
Kaptein Goske draai terug na die vreemdeling. “As ek geen klagte van jou kry gedurende die reis nie, sal ek voldoen aan jou versoek wanneer ons Kaap de Goede Hoop bereik. Anders word jy gekielhaal en aan die goewerneur uitgelewer wanneer ons daar aankom. Reg?”
“Reg, kaptein,” aanvaar die vreemdeling die uitdaging.
“Hoe heet jy, maat?” vra Kasper.
Die twee mans kyk mekaar vinnig aan. Dan lag die kaptein hartlik. “Sy naam, Kasper? Sy naam is … e … Guillaumè … e … le Clercq!”
Die vreemdeling glimlag tevrede. “Ja. Ek is Guillaumè le Clercq!”