Читать книгу Bruid uit die vreemde - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

Dit is twee jaar later.

Die ’t Wapen van Alkmaar, die sierlike skip van die Hollands Oos-Indiese Kompanjie onder bevel van die vermaarde Nederlandse kaptein Isaac Goske, lê voor die hawemond van Amsterdam. Dit is gereed om te vertrek op die maande lange reis na die Ooste wat om die suidpunt van die groot, onbekende vasteland van Afrika lei. Die skip sal by die klein nedersetting Kaap de Goede Hoop aandoen vir vars voorrade en dan sy tog voortsit na Batavia in die Verre Ooste.

Kaptein Isaac Goske, geklee in die netjiese en kleurryke mondering van die kapteins van die Kompanjie, staan langs sy stuurman, Kasper van Kortryk, en laat sy blik vir laas oor die kaai dwaal waar ’n menigte mense vergader het om die groot skip vaarwel toe te roep. Grasieus soos ’n swaan swaai die boog weg en kloof deur die eerste golfies. Die lang reis het begin.

In haar kajuit voel die jong meisie die beweging van die skip aan en sy slaak ’n sug van verligting. Eindelik is sy op pad. As die reis tog net voorspoedig is, sal sy binne ’n paar maande haar voete weer op vaste grond hê.

Sy neem ’n ligte sjaal en maak haar kajuitdeur oop. Noudat hulle reeds onomkeerbaar van die kaai weg is, sal sy dit waag om ’n bietjie op dek te gaan. Met haar rug na die land gekeer, staar sy oor die blougroen watermassa voor haar uit. Maar daar is geen blye verwagting in haar hart nie, eerder ’n gevoel van naderende onheil, ’n vae vrees wat sy nie heeltemal kan begryp nie. Wat wag op haar aan die einde van hierdie reis? wonder sy, maar dan word haar gedagtegang meteens onderbreek.

“Ek hoop u is gerieflik in u kajuit, jonge dame.”

Toe sy haar omdraai, gewaar sy die kaptein agter haar. Sy merk die bewondering in sy oë, maar sy is van kleins af gewoond aan die bewondering van die teenoorgestelde geslag. Daarom glimlag sy nou net vaag en antwoord effens styf: “Ja dankie, kaptein.”

Isaac Goske soek naarstiglik na nog iets om te sê, want hy voel onwillig om sulke beeldskone geselskap sommer te verlaat. Hy sien die weelderig-gekrulde hare wat volgens die jongste modegril hoog bo-op haar kop gestapel is, die amandelvormige, besonderse groen oë wat hom onpersoonlik en effens vanuit die hoogte beskou, die donkerrooi, vol mond wat skone beloftes inhou, en die duur hoepelrok wat in baldadige voue vanaf haar slanke middel ontplooi.

As mensekenner weet hy met die eerste oogopslag dat hy hier met ’n verfynde dame te doen het, ’n dame uit die hoogste kringe van Europa, moontlik van adellike afkoms en ’n vrou wat daaraan gewoond is om bewonder te word, bewus van die bekoring wat sy op die teenoorgestelde geslag uitoefen. En een wat dit ver benede haar stand beskou om ’n eenvoudige Kompanjie-kapteintjie intiem te leer ken.

Isaac Goske kug ongemaklik. Gewoonlik steur hy hom nie veel aan die paar passasiers op sy skip nie. Maar hy sal wát wil gee om hierdie skone dame van nader te leer ken. Aan die koel blik wat sy egter op hom gerig hou, lyk dit nie juis of sý belang stel in nadere kennismaking nie. “Ek hoop u geniet die reis,” sê hy hoflik en bloos sowaar toe hy die fyn glimlaggie om haar mond gewaar.

“Dankie.”

Goske frons vererg. Allekragtie! Van wanneer af is hy een wat na woorde moet soek, en dit nogal in die geselskap van so ’n pragstuk! Hy kap sy hakke teen mekaar. “Verskoon my dat ek so nalatig was om myself nie voor te stel nie. Ek is kaptein Isaac Goske, tot u diens – te alle tye,” laat hy met meer selfvertroue hoor en buig galant.

Die jong meisie glimlag nou openlik. “Ek het so vermoed.”

Hy kyk haar wantrouig aan, maar toe hy die glinstering in haar oë sien, glimlag hy terug. “Het u my nie nou al lank genoeg geterg nie, skone jong vrou?” vra hy, self verbaas oor die moed wat hy aan die dag lê.

Sy gee ’n geamuseerde laggie, maar hou haar hand geredelik na hom uit. “Ek is Jacqueline de Savoye,” stel sy haarself bekend.

Soos dit ’n galante man betaam, neem hy haar vingerpunte in sy hand en druk sy lippe saggies daaroor. Dan kom hy vinnig orent en kyk haar skerp aan.

“De Savoye?”

“Ja. Wat makeer? Is daar iets mee verkeerd?” vra sy half geïrriteerd.

“Nee. Nee, natuurlik nie. Die … die van klink net vir my bekend. Ek wonder waar ek dit al vantevore gehoor het …”

“Dis nie onmoontlik dat u dit al gehoor het nie, kaptein. Die van De Savoye behoort aan een van die oudste adellike families in Frankryk,” en die familietrots skemer deur in haar stem.

Kaptein Isaac Goske antwoord nie, maar sy belangstelling neem met rasse skrede toe en nie meer net omdat sy ’n beeldskone jong dame is nie. Hy leun terug teen die houtreling agter hom en vra skynbaar ongeërg: “Gaan u na Batavia?”

“Nee. Kaap de Goede Hoop.”

Sy frons verdiep. “Is daar familie van u?” vra hy en hy hou haar tersluiks dop. Hy maak asof hy haar huiwering nie bemerk nie, maar wag gespanne op haar antwoord.

“Ja. My broer is daar.”

Isaac Goske kyk vinnig weg. “Ek sal nou eers moet gaan. As daar enigiets is wat u nodig het, of waarmee ek kan help, moet u net praat.” Dan salueer hy en stap weg.

In sy kajuit aangekom, gaan hy agter die tafel sit en vou sy hande. Die frons verskyn weer op sy gelaat. “De Savoye …” prewel hy. Jacqueline de Savoye. Uit een van die adellike families van Frankryk op pad na die Kaap de Goede Hoop. Na haar … bróér! ’n Raaiselagtige glimlag verskyn om sy mond. Hoe interessant! Werklik baie interessant!

En op die dek draai Jacqueline terug na die see en haar oë versomber weer. Die beeld van haar vader verskyn voor haar geestesoog en haar naels vreet in die sagte vleis van haar handpalms.

Sy sal dit nooit vergeet nie, daardie nag, twee jaar gelede. Sy en haar vader was alleen tuis. Jacques, haar tweelingbroer, het reeds vroeg die aand saam met een van sy vriende vertrek na Rouen. Sy het hom probeer keer, want dit was Oujaarsaand en sy het geweet dat hy dit tot die uiterste toe sou vier. Maar hy wou nie luister nie. Sy het die ou groot horlosie angstig dopgehou. Dit was later amper halfelf en Jacques was nog nie terug nie. En soos die minute verbygetik het, het sy al hoe meer senuweeagtig geraak, want sy het geweet dat as Jacques die aand beskonke tuis kom, daar weer ’n vreeslike rusie tussen vader en seun sou wees wat dae daarna nog sou aanhou.

Sy het stil opgestaan en die koetsier ontbied. Sy het die koets sonder die De Savoye-wapen bestel en van die een drinklokaal na die ander gery, maar hulle kon Jacques nie vind nie. Sy het geweet dat sy verkeerd doen om hom te probeer opspoor en ongemerk na sy kamer te smokkel. Maar sy wou hom só graag beskerm. Alhoewel hulle ’n tweeling is, het dit nog altyd vir haar gevoel asof sy baie jare ouer as hy is. Ná haar moeder se dood, toe sy maar sewentien was, het sy die bestuur van die ou kasteel oorgeneem en oornag selfstandig en volwasse geraak. Maar Jacques het ’n kind gebly, onvolwasse en onverantwoordelik. Miskien het sy ook skuld daaraan gehad. Sy het hom altyd beskerm, en toe hy reeds ’n jong man was, het sy steeds bly sorg dat Jacques welverdiende straf vryspring. Maar sy was nie blind vir sy foute nie. Sy het geweet dat hy hopeloos te veel drink, maar dan het sy weer verskoning gesoek deur die skuld op sy maats te pak. Hy het ’n lewe van ydelheid en plesier gelei, maar ook daarvoor kon sy allerlei verskonings aanvoer.

Meteens onthou sy die voorval toe haar koets amper ’n man omgery het, en ’n blos van verontwaardiging kleur weer haar wange by die herinnering aan sy voorbarigheid en onvergeeflike optrede. Sy onthou nog die krag van sy hande op haar skouers en … Sy skud haar kop ongeduldig. Sy was so woedend ná daardie voorval dat sy nog net by een kroeg na Jacques gaan soek het, en toe sy hom nog nie kon vind nie, het sy die koetsier beveel om terug te keer na La Rochelle. En toe sy tuis kom …

Haar gille het deur die ou kasteel weergalm en sy het flou neergesak.

Jacqueline voel hoe die sweet haar handpalms klam maak, en ’n oomblik lank sluit sy haar oë. Sy sidder en trek die sjaal stywer om haar skouers.

As Jacques maar net daar was, dink sy vir die soveelste keer. Maar Jacques het daardie nag spoorloos verdwyn. Hy – en ook Estienne de Savoye … En toe dié naam in haar gedagtes opkom, raak haar mond hard en skiet die groen oë vlamme. Estienne de Savoye!

Hoe haat sy hom nie! Haar mond trek smalend. Haar vader het haar nooit van hom vertel nie, maar Jacques het. ’n Gewone arbeider met die naam De Savoye het haar vader daarvan beskuldig dat hy sy ouers vermoor het om die landgoed in die hande te kry. Estienne het beweer dat hý die ware eienaar van La Rochelle is, en dat hý die graaf De Savoye is – nie haar vader nie. Haar vader het hom uitgedaag om dit te bewys, maar natuurlik kon hy nie. Maar hulle het geweet dat hierdie jong man haar vader haat, en die aand toe sy hom vermoor aangetref het, het sy geweet dat Estienne de Savoye daarvoor verantwoordelik was. Toe Jacques nie opgespoor kon word nie, het sy geweet dat haar broer ook deur die veragtelike man vermoor of ontvoer is.

Sy het alleen agtergebly in die ou kasteel op die vrugbare landgoed. En in die twee jaar wat verby is, het die verdriet oor haar vader en broer vervaag en plek gemaak vir ’n bittere haat jeens die man wat vir haar dubbele verlies verantwoordelik was. Sy was vas oortuig dat Jacques ook vermoor is en sy het ’n eed geneem om haar vader en broer se dood te wreek. Op watter wyse het sy nog nie geweet nie, maar dat sy haar kans sou kry, daarvan was sy oortuig.

En toe, ’n paar weke gelede, het sy ’n brief ontvang – ’n brief van Jacques … Sy het deurmekaar gelag en gehuil toe sy uitvind dat hy nog lewe. Sy kon dit nie glo nie.

Met bewende hande haal sy weer die briefie uit die fluweelsakkie wat met ’n fyn koord om haar pols hang. Sy vou dit oop en lees dit vir die soveelste maal.

Liewe Jacqueline, jy sal seker verbaas wees om van my te hoor. Soos jy kan sien, lewe ek darem nog en is op die oomblik aan die Kaap de Goede Hoop. Ek kan ongelukkig nie breedvoeriger skryf nie, uit vrees dat die brief in verkeerde hande mag val, maar kan jy nie ’n plan maak om hierheen te kom nie? Ek is in die moeilikheid en was vir ’n lang tyd baie siek aan ’n wond. Ek het jou baie nodig, my sussie, so kom tog maar gou!

Asseblief!

Jou broer, Jacques

NS. Pasop vir Estienne de Savoye. Hy is …

Sy bring die brief nader, maar hoe sy ook al probeer, sy kan nie daarin slaag om die laaste paar woorde te ontsyfer nie. Jacques moet baie haastig gewees het toe hy dit geskryf het. Maar sy voel nou meer as ooit oortuig daarvan dat Estienne verantwoordelik was vir haar broer se skielike verdwyning uit Frankryk. En die wond waaraan hy so siek was, is natuurlik ook Estienne se toedoen.

Sy het haar reëlings dadelik begin tref. ’n Vreemde voorgevoel het haar daarvan weerhou om enigeen te vertel waarheen sy gaan. Haar vroulike intuïsie het haar gewaarsku om versigtig te wees, en daarom het sy al die moeite gedoen om liewer in Amsterdam op die skip te klim, dankbaar dat sy Nederlands nogal heel vlot kan praat.

Sy vou die briefie op en sit dit versigtig terug in die fluweelsakkie.

En nou is sy op pad na Jacques, maar dis of iets geheimsinnigs, ’n stemmetjie binne-in haar, haar vreugde demp by die blye vooruitsig om hom weer te sien. Die woorde dans voor haar: Pasop vir Estienne de Savoye! Hoekom is Jacques bang dat sy brief in verkeerde hande sal val? Beteken dit dat Estienne nog steeds op sy spoor is – en miskien op hare ook! Is dít hoekom Jacques haar so uitdruklik teen die man waarsku?

Sy stap stadig terug na haar kajuit. Sy wonder hoe lyk hierdie Estienne de Savoye … Al wat sy van hom weet, is wat Jacques haar vertel het. Miskien … Sy verbleek. Miskien het Jacques nooit eens hierdie brief geskryf nie. Miskien is dit net ’n lokval wat vir haar gestel is! Sy het nooit só daaraan gedink nie!

Sy begin onrustig op en neer stap. Daar is dus nou drie moontlikhede. Nommer een: Jacques het die brief geskryf en het haar werklik nodig. Nommer twee: Estienne het die brief geskryf om haar as lokvink te gebruik om op Jacques se spoor te kom. Nommer drie: Estienne het die brief geskryf om haar weg te lok uit Frankryk met die doel om haar te vermoor sodat hy besitreg van die landgoed in Frankryk kan opeis en die titel as graaf kan aanvaar.

Moontlik staan en wag hy haar nog op die kaai in wanneer ’t Wapen van Alkmaar in Tafelbaai anker gooi!

Meteens voel dit vir haar asof sy in ’n hoek vasgekeer is. Van omdraai en teruggaan is daar geen sprake nie. Dan lig sy haar ken uitdagend en ’n vasberade lig glim in haar groen oë. Hoekom sal sy bang word? Dis die kans waarop sy so lank al wag – om Estienne de Savoye terug te betaal vir al die smart wat hy haar besorg het. Laat hom maar gerus op haar wag. Haar vader se dood sal gewreek word, al is dit die laaste ding wat sy doen. En dit sal Jacques wees wat die graaf De Savoye sal wees en nie hý nie – daarvoor sal sý sorg!

Die weke en maande gaan baie langsaam verby.

Jacqueline steur haar nie veel aan die ander passasiers nie. Hulle vra te veel vrae na haar sin. Waar kom sy vandaan? Waarheen gaan sy? Wat gaan sy daar maak? Sy hou haar dus beslis eenkant, want sy het besluit dat dit verstandiger sal wees as mense so min moontlik van haar af weet. Selfs die kaptein kon nog nie veel vordering maak nie, maar hy troos hom daaraan dat daar nog baie tyd is voordat hulle Kaap de Goede Hoop bereik.

Een aand laat stap Jacqueline weer op na die dek. Dis drukkend warm in haar kajuit, maar toe sy buite kom, vind sy dat dit hier byna onuithoudbaar is. Sy staan effens eenkant en swaai ’n blink waaiertjie heen en weer voor haar gesig. Dan kyk sy op na die maste waar daar ’n ongewone bedrywigheid heers.

Die kaptein gewaar haar en stap haastig nader. “Ek is jammer, maar u moet asseblief na u kajuit teruggaan,” sê hy, en toe sy hom vraend aankyk, beduie hy met sy hand in die rigting van die see. “Kyk hoe swel die branders. ’n Storm is in aantog. Kyk hoe pak die wolke saam. Ons kan reën ook verwag,” verduidelik hy vinnig.

Jacqueline kyk op en gewaar nou eers die swaar, onheilspellende wolke. “Maar daar is dan geen wind nie!” protesteer sy.

Isaac Goske probeer geduldig glimlag. Ai, die liewe vroumense! As hulle tog net nie so baie vrae wil vra nie en net wil doen soos hulle beveel word! Maar toe hy in haar oë afkyk, vergewe hy haar dadelik haar vroulike onnoselheid.

“Ek is nie verniet al ’n paar jaar lank kaptein vir die Hollands Oos-Indiese Kompanjie nie, mademoiselle. Ek ken die see soos ek my moeder nie ken nie. U kan maar na u kajuit gaan en wag dat die storm losbars.”

Oor haar skouer sien sy hoe die ander passasiers haastig deur ’n paar matrose met die trappies afgebondel word na hulle kajuite, maar sy voel onwillig om ook te gehoorsaam.

“Ek sal teruggaan wanneer die storm begin, kaptein.”

Die man frons vererg. Beeldskoon of nou nie beeldskoon nie, maar hy is die kaptein van hierdie skip en sy bevele word gehoorsaam. “Dan is dit ongelukkig my plig om u te beveel om na u kajuit terug te keer,” sê hy met stywe lippe.

Indien hy Jacqueline beter geken het, sou hy geweet het dat dit ’n totaal verkeerde houding is om teenoor haar in te neem.

“Gaan beveel jou matrose, kaptein Goske. Maar ék ontvang van niemand bevele nie!”

“Maar, mademoiselle! Wees tog redelik en verstaan …” roep hy nou openlik ongeduldig uit.

Meteens begin die skip onrustig skommel, en sy hoor hoe die takelwerk kraak. Sy besef nou dat Isaac Goske gelyk het, maar haar kenmerkende koppigheid weerhou haar van inskiklikheid en sy steek haar ken beslis uit. “Ek weier,” sê sy.

Hy kyk haar met blitsende oë aan. “Dan laat u my geen ander keuse as om u daarheen te dra nie, mademoiselle De Savoye,” sê hy en buk vinnig af.

Sy het dit nie verwag nie, en die volgende oomblik gooi hy haar sonder meer oor sy skouer en begin aanstap. ’n Geskater uit baie kele styg op en sy kners op haar tande, maar besef dat sy magteloos is. Deur te spartel, sal sy haarself net meer verneder, maar toe Isaac Goske haar eindelik op haar voete terugplaas, is sy nie in staat om te praat nie. Haar vlammende groen oë vertel hom egter genoeg en hy besef met leedwese dat hy sy kanse by hierdie vurige Franse mademoiselle vir goed bederf het.

“Hoe durf jy!” kry sy dit eindelik stotterend uit, maar voor die kaptein nog sy mond kan oopmaak om homself te verweer, is daar ’n oorweldigende suising en die volgende oomblik gryp hulle wild in die lug toe die skip skerp oorhel. Sonder ’n verdere woord verlaat hy die kajuit, en Jacqueline is verplig om haar woede te vergeet en al haar aandag daaraan te gee om op haar voete te bly.

Die nag wat volg, sal Jacqueline nooit vergeet nie. Dis asof al die elemente meteens teen hulle gedraai het. Die wind loei en kerm en telkens kreun en kraak die geteisterde houtwerk teen die moorddadige aanslae van die hoë branders. Die see raas en grom soos ’n verwoede monster en die reën sak soos ’n digte kombers oor ’t Wapen van Alkmaar toe.

Dit voel vir haar asof sy van haar sinne wil raak in die verstikkende kajuit. Sy besef meteens hoe dit moet voel om vasgekeer te wees en die dood in die gesig te staar met die wete dat daar geen uitkomkans is nie. Op hande en knieë kruip sy na die deur, maar elke keer laat ’n hernude aanslag van die branders haar terugrol tot in die verste hoek. Later gee sy dit maar gewonne en laat toe dat die skip haar na willekeur heen en weer slinger. Hoe lank dit so aanhou, kan sy later nie sê nie, maar mettertyd bedaar die wilde rukke en skommeling en slaag sy daarin om moeisaam na haar slaapbank te kruip. Haar hele liggaam is pynlik gekneus, en haar kop raak skaars die kussing of sy sink in ’n uitgeputte slaap weg.

Gesellig, asof die storm van die vorige nag net ’n aaklige droom was, klots die brandertjies teen die skip aan. Deurstraal met asemrowende skakerings van pers, blou en ligroos skiet die strale van die opkomende son deur die enkele loshangende miswolke op die kim en kleur die rustig deinende see tot ’n diep blougroen. Soos ’n soldaat wat trots en oorwinnend uit die stryd getree het, met die seile wat bol in die ligte windjie, ploeg ’t Wapen van Alkmaar se voorstewe diep vore deur die ewig roerende waters.

Meteens klink daar ’n stem uit die kraaines op: “Ho … laaaaaa!”

Kaptein Isaac Goske kyk op en die wag in die kraaines wys met sy hand in ’n suidoostelike rigting.

“Skip op die gesigseinder!” roep hy weer deur bakgemaakte hande en die stuurman oorhandig die verkyker aan sy kaptein.

Swyend staar hy oor die see uit. Dan sê hy: “Hou maar reguit aan, Kasper. As ons eers nader is, sal ek besluit. Dit lyk soos ’n skip wat op ’n rif geloop het.”

“Goed, kaptein. Dit was darem ’n geweldige storm gewees,” laat die stuurman hoor, sy hande seker en vas op die groot wiel voor hom.

“Ja. Ons skip het hom mooi gedra.” Hy kyk Kasper goedkeurend aan. “En die stuurman ook.”

Kasper kyk dankbaar na hom. “Dankie, kaptein. Ek het maar net my plig gedoen,” laat hy ietwat verleë hoor.

Die kaptein bring weer die verkyker na sy oë. “Maar juis daarom het dieselfde lot as daardie skip ons nie getref nie. Omdat elkeen sy plig gedoen het! Ek voel trots op my skip en op my bemanning!”

Die ’t Wapen van Alkmaar nader die ander skip nou vinnig, en toe hy regoor die gestrande skip kom, word die bevel gegee dat die anker neergelaat word.

“Ons kan nie waag om nader te gaan nie. Die kus is hierlangs baie rotsagtig,” verduidelik Goske en roep dan: “Laat sak ’n boot. Ek wil gaan kyk.” Hy bring weer die verkyker omhoog en sy liggaam ruk. “My magtig! Laat al die reddingsbote sak. En maak gou!” Hy draai weer na Kasper. “Dis ’n Nederlandse skip. Dit lyk amper na die Soetemeer.”

Dan hardloop hy vinnig na die reling en sak met die touleer af in een van die dobberende bootjies.

In haar kajuit word Jacqueline wakker. Sy slaak ’n sug van verligting toe sy die egalige skommeling van die skip aanvoel en die daglig by die patryspoort sien inspoel. Dan dring dit meteens tot haar deur dat die skip stil lê. Sy spring haastig op. Deur die patryspoort gewaar sy die klomp reddingsbootjies ’n paar honderd tree van die skip af, en sy draai ontsteld om. Is die ’t Wapen van Alkmaar besig om te sink? Maar toe sy haar kajuitdeur oopmaak, hoor sy die ware toedrag van sake. Verlig keer sy terug na haar slaapbank en sak daarop neer. Haar kop klop en pyn asof dit wil oopbars, en haar hele liggaam is teer van al die kneusplekke. Sy sluit weer haar oë.

’n Rukkie later word sy deur ’n ontstelde vrouestem gewek.

“O, wat sal ek doen? Wat sal van my word?” hoor sy die stem in Nederlands sê.

Jacqueline frons. Die stem kom uit die kajuit langs hare, en aangesien haar patryspoort oop is, kan sy elke woord duidelik hoor.

“Ag, mevrou Jansen,” hoor sy ’n ander stem antwoord, “moenie u so ontstel nie. U kan tog nie help dat … dat Marie …”

Die stem sterf weg en sy kan ’n sagte snik hoor.

“Jy kan maklik praat, Anna van den Bergh!” sê die eerste stem kwaai. “Dis nie jý wat die verantwoordelikheid dra nie. Dis ek! Dis ék wat by die goewerneur verslag sal moet doen hoekom daar net sewe meisies is en nie agt nie.”

“Maar, mevrou,” protesteer ’n ander stem, “die goewerneur kan u tog nie vir die storm verantwoordelik hou nie!”

“Nee, nie vir die storm nie, maar dat ek toegelaat het dat Marie van der Weyde verdrink, ja,” is die kermende antwoord. “O, wat sal ek doen?”

“Dalk kan u self haar plek inneem,” kom dit spottend van ’n derde persoon.

“Wat? Wat bedoel jy, Maria?”

“Hoekom gaan ú nie as die agtste bruid nie?”

“Wat! Jou onopgevoede weeshuiskind! Hoe durf jy so ’n voorbarige voorstel aan ’n respektabele weduwee maak?”

“Wel, u moet agt bruide aan die goewerneur lewer. Hier is net sewe. Waar gaan u die agtste een vandaan kry as u nie self …”

Jacqueline trek haar asem skerp in. ’n Wonderlike plan skiet haar by die aanhoor van hierdie woorde te binne. Hoekom nie? Sy kan mos altyd weer ’n plan maak as sy net eers in die Kaap is. Haar hande bewe van opwinding.

Sy hoor die deur langsaan oopgaan en maak hare op ’n skrefie oop. Ja. Dis mevrou Jansen. Net toe die dame by haar deur verbykom, maak sy dit heeltemal oop.

“Mevrou, sal u nie asseblief ’n oomblikkie binnekom nie? Ek het gehoor in watter penarie u is, en ek dink ek sal u kan help.”

Die ou dame knyp haar bril ’n bietjie vaster op haar neus terwyl sy die deftige jong meisie van kop tot tone beskou. “Wie is jy?” vra sy agterdogtig.

“Maak dit saak wie ek is? Ek kan u uit die moeilikheid help. Is dit nie genoeg nie?”

Die ou vrou stap onseker binne, en Jacqueline maak die deur en patryspoort versigtig toe.

“En hoe kan jy my help?” vra die ouer dame skepties, haar blik meewarig op Jacqueline se weelderige rok.

Jacqueline neem reg voor haar plaas en kyk haar vas in die oë. “Laat ons mekaar eers goed verstaan, mevrou. Soos ek kon uitmaak, is u verantwoordelik vir agt meisies wat op pad na Kaap de Goede Hoop, nie waar nie?”

Die vrou strengel haar vingers senuweeagtig inmekaar. “Ja. Dis agt weesmeisies uit Nederland wat as bruide vir die vryburgers aan die Kaap de Goede Hoop bedoel is.” Haar stem raak weer skril van ontsteltenis. “En toe kom die storm op, en vanoggend, toe ek die meisies weer bymekaar kry, word Marie van der Weyde vermis. Ons kon haar nêrens vind nie. Sy moet verdrink het. Ek weet nie wat …”

“Wag nou, mevrou. Moenie u so ontstel nie,” sê Jacqueline kalmerend. “Dis baie jammer dat dit gebeur het, maar niemand sal u vir die ongeluk verantwoordelik hou nie.”

“Ja, maar die goewerneur gaan baie ontevrede wees. Dis die laaste bruide wat na die Kaap gestuur word. Hulle betaal my baie goed om die meisies te vergesel, maar nou weet ek nie.”

“Kyk, mevrou, ek sal u help as u my help,” sê Jacqueline vinnig.

“Ek jóú help?” vra die ou dame verbaas.

“Ja. Ek is ook op pad na die Kaap de Goede Hoop, maar ek het ’n baie goeie rede hoekom ek dit nie bekend wil laat raak nie. Ek is bereid om u baie goed te betaal indien u my in die verdrinkte meisie se plek sal neem, en my as Marie van der Weyde, die weesmeisie uit Nederland, aan die Kaap voorstel.”

“Maar …”

“Hoekom nie, mevrou?” Jacqueline leun dringend nader. “U verloor niks nie. Inteendeel. U sal agt bruide lewer soos u belowe het, en u word nog deur my vergoed ook.”

“Ja, maar … maar sê nou maar die goewerneur vind uit? En wat van die kaptein van dié skip? Wat sal hy dink as u sommer van die toneel verdwyn?” maak die ou dame beswaar.

“Moenie daaroor bekommerd wees nie. As Marie van der Weyde verlede nag tydens die storm oorboord geval en verdink het, kon dieselfde mos met my ook gebeur het, nie waar nie? As ek die klere van ’n weesmeisie aanhet en ek haal hierdie pruik af, sal niemand my ooit herken nie. Asseblief, mevrou!” pleit sy gretig.

Bruid uit die vreemde

Подняться наверх