Читать книгу Wanneer die nuwe dag breek - Ena Murray - Страница 4

Оглавление

Hoofstuk 1

1

“Bulperd! Bulperd! Wie se oulike tjor is dit daardie?”

“Dis mos onnodig om dit te vra. Dis vanselfsprekend Renier Neethling s’n.”

“Al weer? Mag, maar daardie man is darem gelukkig!”

Die twee studente kyk met verlangende oë na die geel sportmotor wat voor ’n kafee geparkeer staan.

“Ja,” sug die een. “Jammer dat ons almal se pa’s nie mynmagnate kon wees nie. Ek wonder darem of ou grootbaas Neethling nie soms in sy graf omdraai as sy enigste seun so rojaal met sy erfgeld aangaan nie.”

“Hmm,” brom sy vriend instemmend. “Vergeet eers sy geld en wie en wat sy pa was, by dit alles het hy nog verstand ook gekry én hy is baie aantreklik.”

“Ja, party mense het ook alles,” sug die een weer.

“Jy weet, ou Jan,” vervolg sy vriend met meer vuur, “ek raak so stadigaan moeg daarvan om net altyd met Renier se oorskiet tevrede te wees. Al wat ’n oulike poppie is, wil doodgaan oor hom en dis eers wanneer hy vir hulle moeg geword het dat ons ander ouens raakgesien word.”

“Ja,” sug Jan, nou nog meer mismoedig.

“Ons moet iets doen, ou Jan.”

“Soos wat?” vra Jan veelbetekenend.

Stilte.

“Hoekom gaan probeer jy nie sommer nou nie? Daar kom hy nou net met Retha Cilliers onder die blad by die kafee uit.” Hy kyk sy maat tergend aan. “Toe, loop sê vir hom jy wil nie weer vir Retha Cilliers as oorskiet hê nie!”

“Aag, gaan b- ...!”

Die twee moet haastig padgee toe die motor vinnig wegtrek. Hulle kry net ’n vinnige blik van Retha wat met groot duifoë in Renier se laggende gesig opkyk.

Jan kreun.

“Jammer, ou swaerie, dit lyk my dis klaar oorskiet!”

Hy merk dat sy vriend nie juis in ’n luim vir terg is nie, en hy lê sy hand berouvol op die mismoedige skouer.

“Toe maar, vriend. Eendag is eendag! Die geluk kan nie vir ewig aan sy kant bly nie. Eendag is eendag, dan gaan Renier Neethling hom lelik vasloop. Hy gaan op ’n meisie verlief raak, werklik verlief raak, en ek hoop van harte dat sy genoeg verstand sal hê om hom in sy kanon te stuur.”

Koos Stander draai om en kyk sy vriend laggend aan.

“Jy is darem ’n ou maat, Jan!” sê hy dankbaar en klop hom op die skouer.

Wanneer die nuwe dag breek

Подняться наверх