Читать книгу Wanneer die nuwe dag breek - Ena Murray - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

2

Theuns Beukes sien hoe die kantoordeur agter sy laaste kliënt van die dag toegaan. Dis al tien oor vyf. ’n Oomblik lank bepaal hy nog sy aandag by die lêer voor hom op die lessenaar. Hy soek na ’n nota in sy binnesak en voel die harde oppervlak van ’n foto. Hy haal dit uit en staar lank daarna. Sy gedagtes begin in ’n heeltemal ander rigting koers kry.

Soos hy daar sit, boesem hy dadelik vertroue in, hoewel daar nie juis iets besonders aan sy voorkoms is nie. Hy is een van daardie soort mense wat jy soms met die woorde “lelik maar lieflik” sou kon beskryf. Sy liggaamsbou is net ’n bietjie té grof sodat hy effens lomp voorkom; sy gelaatstrekke net ’n bietjie té groot om mooi genoem te word. Sy hare wat agteroorgekam word, is ’n doodgewone bruin kleur. Hy gee die indruk dat hy ’n sterk man moet wees, wat dan ook in werklikheid die geval is. Sy sagte geaardheid, wat heeltemal buite verhouding tot sy groot liggaamsbou staan, verloën egter gewoonlik sy liggaamlike krag, want skynbaar is hy onbewus daarvan en sal hy geen vlieg skade aandoen nie. Hy is ’n man wat ’n mens sommer dadelik as vriend wil aanvaar. En as jy dit doen, sal jy vind dat jy ’n baie lojale vriend ryker geword het, een op wie jy te alle tye kan vertrou.

Dis juis hierdie sagte geaardheid van hom wat sy vriend, Renier Neethling, soms tot raserny dryf. Hulle is nou al sewe jaar vennote in die prokureursaak op Buffelslaagte, die grootste dorp in die Noordweste. Maar Theuns sal nooit so uitblink in sy professie soos Renier nie. Hy is baie knap in sy werk, maar sy byna teer geaardheid weerhou hom daarvan om sy opponente in die hof aan flarde te skeur soos Renier so maklik en gewoonlik doen. Soms kan Renier byna nie sy lag hou as hy sien hoe jammer Theuns sy teenstanders kry nie, veral wanneer hy sien dat hulle geen kans het om ’n saak te wen nie. Dis nie te sê dat hy enigsins ’n lamsak is nie. O nee! Theuns Beukes ken sy plig en as hy oortuig is daarvan dat hy die regte ding doen, doen hy dit met die wêreld se vasberadenheid, ongeag watter eise dit aan hom persoonlik stel, soos in die geval van Elfie.

Ja, Elfie – die meisie wat hy heimlik bemin, maar die vrou van sy boesemvriend.

Hy onthou nog so goed die dag toe Elfie sy kantoor vir die eerste keer binnegestap en om ’n betrekking gevra het. Vir die eerste keer in sy een en dertig jaar het sy hart begin bokspring. Haar gesiggie was so heeltemal iets besonders dat hy haar byna onbeskaamd aangestaar het. Sy het haarself as Elfie Rousseau bekendgestel en hy het by homself gedink dat sy nie ’n pasliker naam kon gekry het nie, want haar gesiggie het ’n mens dadelik aan kabouters en elfies en feë laat dink. Haar pragtige groen oë was effens langwerpig en nouer in die hoeke; haar neusie fyn en klein; haar mond effens groot, en haar roesbruin krulle het in losbandige lokke oor haar skouers gehang. Maar dit was eintlik haar ore wat sy aandag die meeste getrek het. Hulle het langerige oorbelle gehad en aan die bopunte was hulle net so effens na die langwerpige kant toe. ’n Elfie voorwaar!

Later, toe hulle vriendskap al meer ontwikkel het, het sy hom meer van haar verlede en haar naam vertel. Haar pa het kort voor haar geboorte verongeluk en haar ma is tydens haar geboorte oorlede. Sy is na ’n weeshuis geneem. Hulle het haar haar ma se name gegee, Elfrieda Johanna, maar eintlik lê die oorsprong van die naam Elfie by haar twee spits oortjies. Een van die kleintjies in die weeshuis het die seldsame vorm daarvan opgemerk. “Kyk haar snaakse ore. Hulle het sulke skerp punte, net soos dié van die kabouters en elfies in ons leesboek!” het sy verwonderd opgemerk, en van daardie dag af was die nuwe aankomeling in die weeshuis Elfie.

Renier was oorsee met ’n welverdiende vakansie.

“Lekker gekuier?” het hy gevra toe Renier weer op ’n dag die kantoor binnestap.

“O ja! Heerlik! Maar ek is nou weer vuur en vlam om aan die werk te spring. Watter sake ...?”

Die deur het oopgegaan en Elfie het verskyn. Sy het vinnig om verskoning gevra: “O, jammer. Ek het nie geweet ...” Toe het haar stem ook weggeraak.

Theuns het van die een na die ander gekyk en die toekoms voor hom sien afspeel. Net ... hy het nie verwag dat dit liefde met die eerste oogopslag sal wees nie. Elfie kon hy verstaan. Maar die ervare Renier ...

Vir die eerste keer in sy lewe was Theuns nie so bly soos gewoonlik om Renier weer ná ’n lang tyd van afwesigheid te sien nie. Hy het na die aantreklike gesig gekyk en sy hart het tot in sy skoene gesak. Kan ’n mens ’n meisie kwalik neem as sy in die sewende hemel oor Renier raak? Sy swart hare het in donker golwe oor sy mooigevormde kop gevou. Sy Clark Gable-snor was perfek. Sy tande het wit teen sy donker vel afgesteek. Sy vel was lieflik bruin van al die son langs die Franse Riviera. Die ligte somerpak het aan sy atleties geboude liggaam gesit asof hy daarin gegiet was. Sy donkerblou oë het verstar op Elfie vasgehaak.

Theuns was baie verbaas oor Renier se skerp reaksie. Hy het in die verlede al baie gesien hoe sy vriend se oë rek wanneer hy ’n nuwe nooientjie in die oog kry en dan wou hy altyd weet wie dit is. Nou het hy egter heel anders opgetree. Hy het stadig omgedraai sodat hy Elfie vol in die oë kon kyk. Sy blou oë het vernou en ’n dromerige uitdrukking aangeneem. Sy hele lyf het gespanne geword. Nie een het dadelik gepraat nie.

“Dankie, Elfie,” het hy eindelik die stilte verbreek en sy hand na die lêers uitgehou. Asof in ’n droom het sy hom ’n oomblik half onnosel aangekyk en toe die lêers haastig oorhandig. Sonder ’n woord het sy die kantoor vinnig verlaat.

Theuns het die papiere tussen sy vingers gevoel, maar sy blik het onafgebroke op sy vriend se gesig gebly. Renier het nog steeds met ’n strak gelaat gestaar na die deur waardeur Elfie so pas verdwyn het. Toe het hy met ’n stemklank onbekend aan Theuns geprewel: “Elfie!” Theuns het agter die lessenaar neergesak.

Soos die student jare gelede voorspel het, het Renier Neethling hierdie keer werklik verlief geraak. Aan die begin wou Theuns dit nie glo nie. Dit sal weer oorwaai, soos al sy vorige verhoudings sommer net op ’n dag soos mis voor die son verdwyn het. Hy het besef dit sal nodeloos wees om Elfie te waarsku. Sy was van die eerste aanblik af totaal betower, en niks wat hy kon sê, sou ingang vind nie, het hy geweet. Hy sal maar wag tot Renier weer tot sy sinne kom, en dan sal hy, Theuns, die stukke agterna gaan optel.

Maar dit gebeur nie. Dit was Renier wat tot sy kollega en vriend se ontsteltenis van trou begin praat het. Hy kon nie langer stilbly nie.

“Renier, Elfie is nog eintlik ’n onervare kind. Sy weet van die lewe niks af nie. Sy het baie beskermend in die kinderhuis grootgeword. Sy is heeltemal anders as die meisies wat jy in die verlede ...”

Renier het hom nie uitgelag soos wat hy eintlik verwag het nie. Hy het Theuns amper kortaf in die rede geval: “Ek weet sy is anders. Sy is nie net anders nie, sy is uniek. Ek gaan met haar trou, Theuns, sommer binnekort.”

En dis wat gebeur het – twee maande later. Dit was vanselfsprekend dat hulle Theuns gevra het om die bruid in te bring, en toe hy haar voor die kansel aan Renier oorhandig, het hy van sy eie drome afstand gedoen. End van storie.

Maar Theuns, ervare prokureur, moes onthou het dat daar baie stories meestal ná die huweliksdag volg. Eintlik was dit maar die begin van die storie.

Wanneer die nuwe dag breek

Подняться наверх