Читать книгу Môre lê ver - Ena Murray - Страница 4
ОглавлениеHoofstuk 1
1
Hy kom tot stilstand en bekyk eers die toneel voor hom.
Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat hier nie gewone mense bly nie. Dis ’n miljoenêrswoning wat hier voor hom pryk. Die groot dubbelverdiepinghuis in ’n Spaanse boustyl met sy gietystertraliewerk om die balkon en vensters, die koepeldeure en geboogde mure getuig van geld. Ook die byna oordadige weelde van groot grasperke, ’n groot marmerswembad met wit gietysterlanterns, die gestoffeerde tuinstoele ... alles spel net een woord: geld.
Die man se mond trek grimmig, amper smalend. Dan, met ’n vinnige beweging, buk hy, tel sy tas van die grond af op en stap tydsaam reg op die voordeur af.
Voor die deur kom hy tot stilstand, sit weer die tas neer en druk die voordeurklokkie. Nie dat hy enige hoop het dat dit gehoor sal word nie. Vanuit die oop vensters klink die geluid van dansmusiek op, en na die helder klanke te oordeel, moet dit ’n volbloed orkes wees wat hier binne aan die speel is.
Hy trek sy wenkbroue op en kyk besluiteloos om hom rond. ’n Ongeleë oomblik om te arriveer, beslis. Tog, die datum is reg. Hy is in kennis gestel dat hy hom vandag hier moet aanmeld. Dis weliswaar al aand, maar dis nie sy skuld dat die trein nou eers hier aangekom het nie. En toe was daar ook nie ’n motor om hom by die stasie te kry nie. Met bloot net ’n paar sent in sy sak kon hy nie die luukse van ’n huurmotor bekostig nie. Hy moes maar tot hier ryloop. Gelukkig gaan die groot teerpad net tweehonderd meter verder hier verby.
Sy vinger gaan uit na die klokkie. Dan laat sak hy sy hand en sy vingers vou om die groot deurknop. Hy maak dit oop.
Vir hierdie spesiale geleentheid van vanaand is die groot skuifdeure wat die ruim ingangsportaal van die saalagtige ontvangskamer skei, oopgestoot sodat dit een ontsaglike lokaal vorm. Die gaste wat die naaste aan die voordeur is, kyk verbaas na die man wat so kalm in die deur die gedoente voor hom staan en beskou, tas in die een hand, reënjas oor die ander arm, informeel in kakie geklee.
Maar dis nie eintlik hierdie dinge wat die gaste na hom laat staar nie. Daar is net iets aan die man wat ’n mens onmiddellik boei, iets wat dadelik jou belangstelling prikkel. Miskien is dit die effense smaling om sy lippe, die uitdagende, reguit blik waarmee hy sonder enige selfbewustheid na die gaste kyk. Of miskien is dit die manier waarop hy daar staan: lank, lenig, donker, die skouers vierkantig, die kop opgelig in ’n amper uitdagende houding.
Een van die gaste glimlag openlik geamuseerd. Mag, die man laat ’n mens amper voel asof dit sy plek is dié en dat hy nou onverwags teruggekeer en ’n spul indringers hier betrap het. Hy stap nader.
“Kom binne, meneer. Ek veronderstel u wil vir Tania sien? Kom gerus in. Ek sal gaan kyk of ek haar kry.”
“Nee dankie. Ek wil meneer Erasmus spreek.”
“O! Ek ... ek sal kyk of ek hom in die hande kan kry. Maak u gerus tuis.”
Weer is die effens smalende glimlaggie in die een mondhoek. Die oë spot openlik. “Dankie, meneer, maar ek is nie ’n gas nie ... soos u self seker kan sien. Net ’n werknemer wat ontydig aanmeld vir diens.”
“O ...” Die belangstelling taan onmiddellik by die man in aanddrag en hy draai dadelik om. Sy oog vang met verligting dié van ’n jong meisie wat ook die vreemdeling in die deur opgemerk het en verbaas na hom staar. “Tania ... Daar is iemand by die voordeur wat jou pa wil spreek.”
Sy stap nader, dieselfde belangstelling in haar oë as in dié van haar gas totdat hy gehoor het waarvoor die man hier is.
“Goeienaand.” Haar blik weifel effens voor syne toe sy in die skerp oë vaskyk. Werklik, dis darem seker nie nodig om haar só uit die hoogte aan te kyk nie! Maar sy vererg haar nie. Tewens, dit prikkel haar belangstelling. Sy het hierdie vreemdeling nog nooit gesien nie. Dit moet ’n onlangse kennis van haar pa wees. Maar wat ’n man! Die vreemde opgewondenheid wat sy ondervind het toe sy opgekyk en hom skielik in die voordeur sien staan het, neem weer van haar besit. Sy kan nie onthou dat sy al ooit met die eerste oogopslag só deur ’n man beïndruk is nie.
Meteens is al die ou twyfel ook weer terug in haar. Sy raak vanaand vir die derde keer verloof. As sy Ewald werklik liefhet, behoort sy geen ander man, veral vanaand, raak te sien nie.
Haar blik gaan na die tas in sy hand en sy glimlag. “Ek sal iemand stuur om jou tas te kom haal. Jy kan intussen aantrek. Kom, ek gaan wys jou ’n kamer.”
“Juffrou ...”
“Ag, noem my gerus Tania. Die aand gaan verby.”
Sy stap vooruit en hy het geen keuse as om haar te volg nie. Menige oog volg hulle terwyl hulle met die groot trap na die boonste verdieping opklim. Veral onder die jonger vroue is daar ’n fluistering. “Wie is hy? Waar kom hy vandaan? Liewe land, as ek Tania was, het ek liewer my strikke vir hóm gespan!”
Sy kom voor ’n deur tot stilstand, glimlag weer na hom op. “Druk net die klokkie as jy iets nodig het. Hier is jou tas. Sien jou netnou.”
Die in wit geklede kelner sit sy tas langs hom neer en hy kyk om hom rond. Ook hier spreek weelde en gerief uit elke hoek. Hy staan ’n oomblik besluiteloos. Dan, asof hy skielik tot ’n besluit gekom het, buk hy af en knip die tas oop.
Toe Tania met die trap afkom, vang haar oog dié van ’n jong meisie en sy stap nader.
“Wie is daardie man wat jy nou net die trap opgeneem het?” wil Elsa Kempen openlik nuuskierig weet.
Tania lag en sy is nie daarvan bewus dat haar opgewondenheid in dié laggie deurskemer nie. “Ek weet nie! Ten minste, ek ken nie sy naam nie. Hy is ’n kennis van Paps.”
“Maar waar kom hy nou so laat vandaan? Het jy hom verwag?”
“Nee. Paps het seker maar vergeet om my van hom te sê.”
Elsa Kempen sien hom eerste aan die bokant van die trap verskyn. Nou, nog meer as netnou, vertoon hy indrukwekkend, nog steeds met daardie skewe grynslaggie in die een mondhoek. Elsa kyk vinnig om haar rond, maar daar is op die oomblik geen teken van Tania of haar verloofde of oom Bertus nie. Sy staan onseker nader na die trap. Sy dwalende blik vang haar oog en hy hom stadig met die trap af na haar toe – soos ’n koning wat met die paleistrap afbeweeg, dink sy effens geamuseerd.
“Goeienaand. Ek is Elsa Kempen.” Hy maak net ’n ligte buiging, byna asof sy ’n onderdaan is, dink sy weer geamuseerd, en gaan vinnig voort: “Ek sal u na oom Bertus toe neem ... as u wil.”
“Dankie, maar daar is geen haas nie.” Hy kom langs haar tot stilstand, laat weer sy blik oor die dansende, rokende, drinkende mense om hom dwaal. “Wie is oom Bertus?”
Sy kyk hom verbaas aan. “Maar ... maar oom Bertus Erasmus ... die baas van dié plek.”
Die eerste keer hierdie aand glimlag hy, ’n ietwat siniese glimlaggie, maar tog met iets goedigs in sy oë terwyl hy na haar wydgerektes kyk. “Jammer. Natuurlik. Wat gaan op die oomblik hier aan? Is dit die gewone miljoenêrspartytjie of ’n spesiale geleentheid?”
Sy frons weer en probeer haar bes om haar verbasing weg te steek. “Dis Tania se verlowing wat gevier word.” Onmiddellik trek haar eie mond ook effens wrang. “Haar derde.”
“Ekskuus?”
Sy voel hoe sy onder sy skerp blik bloos en laat hare sak. “Dit was onnodig. Ek is jammer.” Teen wil en dank kyk sy weer nuuskierig op. “Maar ... weet u dan nie dis vanaand die verlowingspartytjie nie?”
“Nee. Daar is ook geen rede hoekom ek daarvan moet weet nie.”
“Dan het jy ... nie eintlik partytjie toe gekom nie?”
Weer is haar oë wydgerek en weer glimlag die man skeef. “Nee. Nie eintlik nie. Maar terwyl ek nou hier is ...” Hy keer ’n kelner voor, neem twee glasies vonkelwyn van die skinkbord af, wink met sy wenkbroue. “Kom ons gaan staan daar eenkant. Dan vertel jy my meer van oom Bertus en sy dogter wat vanaand die derde keer verloof raak. Hulle klink ... interessant. Of het jy ’n vriend ...?”
“Nee. Ek het sommer in die bondel gekom. Hier is ... geen spesiale vriend van my nie.” Sy skerp oë kyk vlugtig na haar. Sy ruk haar reg. Die aand is nog lank nie verby nie. Daar lê nog ’n hele paar uur van toneelspel vir haar voor. “Ken jy hulle dan nie?” vra sy versigtig toe hulle eenkant staanplek kry.
“Nie persoonlik nie. Die dogter ... Tania ...”
“O, eintlik is sy baie gaaf,” begin Elsa Kempen vinnig vertel. “Sy kan seker nie help dat haar pa ’n miljoenêr is en dat die mans almal op haar verlief raak nie. Eintlik is sy te bejammer. Jy sien, die vorige kere toe sy verloof was, moes sy uitvind dat die eintlike belangstelling in haar om haar pa se rykdom gegaan het. Nou is sy weer verloof en ...”
“En dis maar net ’n herhaling van die geskiedenis.”
“Ek het dit nie gesê nie.”
“Nee, maar dis baie waarskynlik.”
“Miskien is hy tog lief vir haar. Sy is ’n baie mooi meisie, nie waar nie?”
“Wie?”
“Tania.”
“Ek sal nie kan sê nie.”
“Maar jy het haar tog gesien.”
“Ja, maar nie regtig gekyk nie. Ek stel nie belang in mooi, ledige rykmansdogters nie.”
Agter sy rug versteen Tania Erasmus. Sy was op die punt om by hulle aan te sluit toe sy Elsa se vraag hoor, en sy is vrou en mens genoeg om eers sy antwoord te wou verneem. Nou staan sy besluiteloos, die eerste keer in haar lewe opgesaal met iets waarmee sy nog nie tevore te doen gekry het nie. Gewoonlik word sy deur bewondering en aandag van die teenoorgestelde geslag versmoor. Weliswaar weet sy al ná twee gebroke verlowings dat die belangstelling nie altyd om haar as persoon gaan nie, maar dikwels aangevuur word deur dit wat agter haar staan – die Erasmus-miljoene. Maar vir die eerste keer in haar lewe moet sy hoor dat sy kwalik raakgesien is en dat die rykdom agter haar geensins beïndruk nie. Wie is hierdie man?
Sy swaai terug en voeg haar doelbewus by hulle, hoewel haar glimlag nie meer so oordadig is as aan die begin nie.
“Het jy toe reggekom? Ek sien jy het Elsa al ontmoet. Kom dat ek jou aan ’n paar ander mense gaan voorstel. Ons sal wel by Paps uitkom.”
Weer buig hy effens, sy oë merkbaar koel. “Dankie, maar ek het so pas vir Elsa gevra vir ’n dans – as u nie omgee nie, juffrou?”
Hy stel dit as ’n vraag, maar eintlik is dit baie duidelik dat dit hom nie ’n duit skeel of sy omgee of nie. Terselfdertyd neem hy die verbaasde Elsa se glasie uit haar hand, sit dit saam met syne op ’n tafeltjie neer en sê glimlaggend vir haar: “Sal ons?”
Elsa se verbouereerde blik skiet vinnig na Tania se gesig en sy sien die vlugtige verbasing in die mooi oë voordat Tania vinnig met ’n stywe glimlaggie laat hoor: “O nee, dis alles reg. Ons kan maar later ...”
Sy swyg, want hulle is reeds al buite hoorafstand. Langs haar klink ’n stem op.
“Liewe land, Tania, ek soek al hoe lank na jou! ’n Mens sal amper nie sê dis ons twee se verlowing wat vanaand gevier word nie! Ek het jou omtrent nog nie met ’n oog gesien nie. Waar was jy?”
Sy draai vinnig na die man en haak by hom in.
“Hier is so baie gaste om aandag aan te gee, Ewald. Maar ek dink ek was nou min of meer by almal. Kan ons nou ’n slag gaan dans?”
“Natuurlik! Dis wat ek kom vra het! Kom, liefling.” Hulle beweeg na die afgebakende ruimte vir die dansers en hy vra sag by haar oor: “Gelukkig, liefling?”
“Natuurlik.” Sy lê haar kop teen sy skouer. Natuurlik is sy gelukkig. Verspot van haar om skielik te voel – soos Nannie dit sou stel – soos ’n koek wat platgeval het. En dit net omdat daar skielik ’n vreemdeling in die voordeur verskyn het, ’n man wat haar kwalik raakgesien het. Sy lig weer haar kop op. “Ewald ... Ken jy daardie man? Die een wat nou met Elsa dans?”
“Nee. Ek het gewonder wie hy is. Ek het hom netnou met Elsa sien gesels. Is dit nie een van julle bekendes nie?”
“Wel ... e ... seker van Paps. Ek ken hom nie.” Sy frons terwyl sy die paartjie dophou.
Skynbaar salig onbewus van die belangstelling wat hy, nie net onder die ander gaste nie, maar ook by die dogter van die huis en haar splinternuwe verloofde gaande maak, dans die vreemdeling voort met Elsa en sonder dat sy daarvan bewus is, word hy heelwat wyser en sy niks.
“Is jy ook ’n miljoenêrsdogter?”
Sy lag op na hom, onbewus daarvan dat ’n sekere paartjie by hulle verbydans en dat Tania sowel as Ewald se oë skerp op hulle rus.
“O nee! My pa is maar net oom Bertus se bankbestuurder – dis al!”
Hy glimlag goedkeurend op haar af. “Ek is bly om dit te hoor. Ek het begin dink ek het vanaand net tussen miljoenêrs en miljoenêrsdogters verval!”
Sy kyk hom weer nuuskierig aan.
“Dit klink nie asof jy alte erg is oor die baie ryk mense nie.”
Sy wenkbroue lig terwyl sy blik ’n oomblik vaspen in dié van Tania toe hulle verbydans. “Kom ons sê ek verkies die gewone, gemiddelde mens se geselskap.”
Elsa kyk hom belangstellend aan. Hierdie man is baie uitgesproke. As hy dan liewer die gewone mens verkies, hoekom het hy dan vanaand hierheen gekom? Lojaliteit laat haar vinnig sê: “Maar oom Bertus en Tania is eintlik baie gawe mense. Oom Bertus het my nog nooit laat voel ek is benede hom nie.”
“Maar Tania wel.”
Sy frons en kyk vinnig af. Hierdie man is ook baie skerpsinnig.
“Ek dink nie sy doen dit doelbewus nie. Die gewone meisies kan net nie anders as om minderwaardig teenoor haar te voel nie. Behalwe al die aardse skatte, is sy ook baie mooi, trek sy pragtig aan en is sy in elke opsig ’n baie oulike meisie.”
“En jy is in elke opsig ’n lojale mensie,” sê hy vriendelik.
Elsa laat haar ooglede sak en ’n warmte sprei oor haar hart wat vanaand so swaar in haar lê. Skielik is die aand nie meer so ondraaglik nie, kan sy selfs teenoor Ewald Serfontein glimlag toe hulle weer verbydans. Sy merk die frons tussen sy oë, maar kyk uitdagend terug. Wat kan dit hóm langer skeel met wie sy dans en met wie sy die aand geniet? Hy is nou aan Tania verloof. Sy kyk weer op na haar dansmaat.
“Nee, dis net ’n geval van feite onder die oë sien. Dis iets wat ek die afgelope tyd moes leer – om feite onder die oë te sien.”
Hy knik, sy oë steeds goedig en die hand wat hare vashou, klem ’n bietjie stywer. Sy stem is meteens diep. “Ja. Dis iets wat ons almal die een of ander tyd moet leer, nè? Om feite reg in die oë te kyk en dit te aanvaar.”
Die musiek hou op en hulle keer terug na hul plekkie in die hoek, en die res van die aand geniet die vreemdeling Elsa Kempen se geselskap. Die oë wat hulle dophou, sien dat sy geensins omgee nie. Een keer wou Tania al reguit na haar pa toe stap en hom vra wie die man is, maar haar trots weerhou haar. Nadat sy sy mening oor rykmansdogters gehoor het, stel sy nie belang om te weet wie hierdie man is nie, vertel sy haarself. En tog ... Elke keer betrap sy haar dat sy na ’n bepaalde hoek kyk en dat haar blik hulle volg wanneer hulle op die dansbaan is. Sy betrap haarself ook dat sy al gewonder het of die vreemdeling darem sy maniere sal ken en haar vir ’n dans sal kom vra. Sy is tog dié dame van die aand. Sy voel geïrriteerd. Wel, as hy haar kom vra, sal sy koel weier, hom goed laat verstaan dat sy geensins belangstel om met hom te dans nie. Net ... hierdie goeie voorneme ly skipbreuk, want die vreemdeling toon geen teken dat hy enigsins belangstel om haar te kom vra nie.
Die aand is reeds byna verby en die eerste gaste het reeds begin vertrek. Dis amper met verligting dat sy sien dat die Kempens ook gereed maak om te gaan. Sal die vreemdeling saam met hulle vertrek of ...?
Sy sien dat Elsa hom aan haar ouers voorstel, dat hy saam met hulle uitstap en haar hart ruk in haar keel. Sal hy werklik net so ongeërg as wat hy gekom het, ook weer verdwyn? Dan onthou sy dat sy tas nog bo in die kamer is. Nee. Hy sal dit darem seker kom haal en dan sal hy darem seker moet groet en bedank vir die aand voordat hy gaan. Só onopgevoed kan hy darem nie wees nie!
Sy voel weer die vae, onwillige opwinding in haar aan toe hy weer in die deur verskyn, en sy swaai vinnig weg sodat hy nie miskien die gedagte moet kry dat sy die voordeur dopgehou het nie. Sy hou haar baie doenig met gaste wegsien, maar voel ontstoke toe die man weer houtgerus sy plek in die hoek gaan inneem en die vertrekkende skare met uitdrukkinglose gesig staan en betrag. Hy lyk beslis nie haastig om te gaan nie, en sy kan nie verstaan hoekom hierdie feit haar tegelykertyd vererg en ook vreemd opgewonde laat nie.
Ewald en sy ouers verskyn ook langs haar en hy laat sy arm om haar glip. “Liefling, ek sal ook nou moet gaan. Moeder-hulle het saam met my gekom en dis al reeds baie laat. Gee jy om?”
“Natuurlik nie. Ek verstaan.” Sy groet haar aanstaande skoonmense en dan trek Ewald haar styf in sy arms in. Haar pa en Ewald se ouers is stadig aan die aanstap na buite en dis die natuurlikste ding onder die son vir ’n man om sy verloofde ordentlik te wil nag sê. Ewald is skynbaar onder die indruk dat al die gaste al uit is, maar Tania is intens bewus van die man wat nog doodluiters in sy hoekie staan en hulle onbeskaamd bly aankyk. Vreemd, maar sy voel ook nie lus om Ewald se aandag daarop te vestig dat daar nog ’n gas in die groot saal oorgebly het nie. Sy rem terug. Haar verloofde kyk skerp op haar af.
“Wat is dit, Tania? Jy is al die hele aand half teruggetrokke. Is jy al klaar jammer dat jy aan my verloof geraak het?”
“Nee, natuurlik nie, Ewald!” Haar stem is skerper as wat sy dit wou hê, en sy gaan vinnig voort: “Dis maar net ... Ek voel ’n bietjie moeg.”
“Moeg?” Hy lyk eerlik verbaas. “Liewe aarde, my meisie, maar ... jy kon aand vir aand so te kere gaan en het nog nooit tekens van moegheid getoon nie! Wat is dit dan?”
“Ewald, asseblief!” Dan, asof sy haar moet inspan, laat sy haar arms om sy nek gly en soen hom vinnig op die lippe. “Jou ouers wag.”
Hy sug, kyk haar nog ’n keer onseker aan en staan dan terug. “Nou goed. Sien jou môre. Ek sal die een of ander tyd hier kom inloer. Lekker slaap, liefling.”
Sy knik net en daar is werklike verligting in haar om hom te sien gaan. Sy was op die punt om hom te sê dat sy dink hulle het ’n fout begaan om vanaand verloof te raak! Wat makeer haar?
Sy draai om, wil eers maak asof sy nie die man in die hoek raaksien nie, maar dan, soos hoeveel keer vanaand, gaan haar blik in daardie rigting.
“O!” Sy doen haar bes om voor te gee dat sy hom nou eers opmerk en stap nader, dwing ’n onbeduidende glimlag na haar lippe. “Ek is jammer. Ek het u nie gesien nie.” Hy antwoord nie, staan haar net en aankyk, en sy voel meteens verskriklik selfbewus. “Wil ... wil u nie nog ’n oomblikkie sit nie?”
“Nee dankie. Ek wag vir u pa. U kan maar gaan slaap.”
Sy kyk hom vinnig, vererg aan. Waar kom hy daaraan om haar sommer kamer toe te stuur? Haar oë flits, maar sy klou aan haar glimlaggie vas.
“O, daar is geen haas nie. Ek is nie moeg nie.” Sy sien sy een wenkbrou omhoog trek en voel hoe die rooi gloed teen haar hals opstyg. Hy het beslis gehoor wat sy aan haar verloofde gesê het! Toe was sy te moeg om hom eens behoorlik nag te sê!
“Verskoon my, asseblief. Ek wil net my tas gaan kry.” Hy stap ook dadelik aan na die trap, en sy kyk hom fronsend agterna. Dis so duidelik soos daglig dat hy nie gretig is om in haar geselskap te wees nie, maar hy kon die hele aand baie gesellig in die bankbestuurder se dogter se geselskap verkeer!
Sy byt haar onderlip vas. Ag, laat hom na sy peetjie gaan! Tog bly sy staan en kyk verlig na haar pa toe hy binnestap. Sy arm gly om haar skouers en hy glimlag op haar af.
“Ek sou sê dit was ’n groot sukses. Gelukkig, my kind?”
Sy lê haar kop vinnig teen sy bors. “Ja. Ja, natuurlik, Paps. Baie dankie vir die wonderlike partytjie.”
“Solank jy net gelukkig is, Tanie. Dis al wat ek vra. Nou wel, kom ons gaan rus. Dis al oggend.”
Hy swyg toe hy saam met sy dogter die man aan die bopunt van die trap sien, tas in die hand, reënjas oor die ander arm. Sy hoor haar pa saggies hier teen haar voorkop vra: “Wie is dié man, Tania?”
Sy skud haar kop, probeer haar verbasing verberg. “Ek weet nie, Paps. Ek het gedink dis iemand wat jy genooi het,” fluister sy saggies terug.
Bertus Erasmus frons liggies, skielik bewus daarvan dat hier iets ongerymds is. Hy het die man al vroeër in die aand opgemerk, maar toe hy sien dat hy by Elsa Kempen is, het hy maar aanvaar dat dit haar metgesel vir die aand was. Die Kempens en al die ander gaste het reeds vertrek, maar hy staan nog aan die bopunt van die trap en kyk op hulle af asof hy verwag dat húlle nou moet gaan.
Toe die vreemdeling stadig met die trap begin afklim, stap Bertus Erasmus nader en hulle ontmoet mekaar by die onderpunt. Die vreemdeling gooi die reënjas oor na die ander arm en hou sy hand uit.
“Goeienaand, meneer Erasmus. Ek is Roux – Rocco Roux.”
“Aangename kennis, meneer Roux.” Dis duidelik dat die gasheer niks wyser is nie en ’n effense glimlag ruk weer aan die vreemdeling se mondhoeke.
Iets soos vermaak blink in sy oë toe hy sê: “Ek is jammer dat ek op so ’n ongeleë tyd hier aangeland het, maar die trein was laat en toe moes ek nog tot hier ’n geleentheid soek.” Sy blik gaan glinsterend na die blonde meisie. “U dogter was egter so vriendelik en gasvry om my te nooi om aan die partytjie deel te neem. Baie dankie, juffrou. As u my nou sal wys waar ek moet heen, sal ek u nie langer ophou nie.”
“Waar u ...?” Die ou man frons, en dan is dit of daar meteens ’n lig vir hom opgaan. “Jy bedoel jy is ...?”
Die donker kop buig effens. “Ja, meneer. Ek is die nuwe plaasbestuurder.” Weer, vlugtig, pen sy oë in Tania se verbysterde bloues vas. “Wie het u dan gedink is ek?”
Bertus Erasmus lag. “Liewe land, nee, ek het nie die vaagste benul gehad nie! Ek het heeltemal vergeet dat jy vandag sou aankom.” Hy frons effens. “Maar het hulle jou nie by die stasie gekry nie?” Hy draai na sy dogter. “Tania, ek het jou mos gesê dat daar ’n motor vandag stasie toe gestuur moes word ...”
“Ek ... e ... ek is jammer, Paps. Dit het my heeltemal ontgaan.”
“Ek is jammer, meneer Roux ...”
“Alles reg. As u my nou my woonplek sal wys, sal ek u nie langer ophou nie.”
“Sekerlik. Dis ’n woonstelletjie aan die agterkant van die huis. Ek hoop jy sal dit gerieflik vind.”
Tania sien weer die effens smalende trek om die lippe, maar sy stem is egalig en niksbeduidend toe hy antwoord: “Ek is seker ek sal. Dankie.” ’n Oomblik kyk hy haar vas aan en buig dan effens spottend. “Goeienag, juffrou.”
Sy sien hom saam met haar pa uitstap en die verslaentheid in haar neem toe. Dan gryp sy haar rok vas en hardloop met die trap op terwyl sy nie weet of sy histeries aan die lag of histeries aan die huil moet gaan nie.