Читать книгу Môre lê ver - Ena Murray - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

2

Die son sit die volgende oggend reeds taamlik hoog toe Tania, nog in haar kamerjas, op die balkon uitstap.

Sy sien die plaasbakkie aangery kom en dan voor die deur stilhou. Haar pa en die nuwe plaasbestuurder klim uit.

Weer voel sy die vreemde gevoel van teleurstelling en sy weet nie presies wat met haar aan die gang is nie. Toe is die geheimsinnige vreemdeling al die tyd maar net die nuwe plaasbestuurder! Onwillekeurig voel sy weer die warm gloed oor haar wange. Liewe land, hy moes die situasie darem heimlik geniet het ten koste van hulle, dink sy vererg.

Haar pa gewaar haar op die balkon en wuif. “Kom drink saam met ons tee.”

Sy blik vlugtig na die man langs hom, maar hy staan blykbaar baie belangstellend om hom en rondkyk. Sy knik en wuif en spring dan terug die kamer binne, maar toe sy klaar gebad en aangetrek het en buite kom, is dit net haar pa wat nog op die stoep sit. Sy voel ietwat teleurgesteld. Terwyl sy aan die aantrek was, het sy besluit wat haar optrede teenoor die nuwe plaasbestuurder sal wees. Sy sal hom koel uit die hoogte groet en met haar houding goed laat verstaan waar sy plek is. En nou is hy nie eens hier nie!

“Waar is Paps se voorman dan?” vra sy ongeërg en begin vir haar tee skink.

Haar pa frons effens en kyk haar tersluiks aan. Snaaks, hy kry die gevoel dat sy dogter nie van die nuwe man hou nie. “Jy bedoel my nuwe bestuurder?”

Sy begin haar tee roer. “Is daar ’n verskil?”

Hy frons nou dieper. “Jy weet ek hou nie van daardie benaming ‘voorman’ nie, Tania. Rocco Roux is in elk geval ’n volbloed bestuurder. Ek laat die bestuur van die hele plaas net so in sy hande, kwalik ’n voorman se werk.”

Sy frons ook nou, maar ontwyk haar pa se oë. “Is dit so verstandig, Paps? Hy is ’n vreemdeling, al hemel sy getuigskrifte hom hoe hoog op.”

Bertus Erasmus glimlag effens. “Daar is geen getuigskrifte nie.” Hy sien sy dogter se verbaasde blik. “Soos jy so pas gesê het, kan ’n mens nie altyd op getuigskrifte reken nie. As elke getuigskrif wat gegee word die waarheid en niks anders as die volle waarheid vertel nie, is daar nie slegte mense op aarde nie – en ons albei weet dis nie die geval nie. Ek het my nog nooit baie aan getuigskrifte gesteur nie. Hierdie man het bloot net ’n brief aan my geskryf en die bewyse van sy kwalifikasies ingesluit en sy telefoonnommer verstrek indien ek hom sou wou bel. Hy was die enigste onder die talle aansoeke wat ek ontvang het wat geen getuigskrifte en lofliedere oor homself ingesluit het nie. Ek het hom gebel en dadelik van die man se stem gehou.”

“Paps! Maar jy kan nie sommer ’n man in so ’n belangrike pos aanstel net omdat sy stem oor die telefoon jou beïndruk nie!”

Haar pa glimlag. “My liewe kind, ek beroem my op ’n klein bietjie mensekennis en oordeel. As ek dit nie gehad het nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie. My werknemers wat ek in die verlede aangestel het, het ek verkieslik nog altyd volgens my eie persoonlike indrukke aangestel, liewer as om getuigskrifte te lees. Ek het my nog baie selde misgis. Ek is ook oortuig dat ek in hierdie geval nie verkeerd geoordeel het nie. Ons het netnou die plaas so ’n bietjie deurgery en ek is oortuig dat Rocco sy boerdery ken.”

“Dis nie te sê dat hy betroubaar is nie,” hou sy dogter koppig vol, en haar pa se wenkbroue lig.

As dit nie belaglik sou klink nie, sou hy amper wil dink dat Tania doelbewus iets aan die soek is om teen die nuwe plaasbestuurder in te bring. Maar sy ken die man nie eens nie!

Hy kyk met groter aandag na haar. Sy lyk glad nie stralend gelukkig soos sy behoort te lyk nie. Sy kommer verdiep. Niemand weet hoe hy hom oor hierdie dogter van hom bekommer nie. Sedert sy vrou twee jaar gelede oorlede is, het hy sy bes gedoen om nie te oorbeskermend teenoor haar te wees nie.

Hy het vroeër nooit enige bekommernis oor Tania gehad nie. Hy het geglo dat sy kind reg grootgemaak is en dat sy, ten spyte daarvan dat sy as rykmansdogter grootgeword het, in haar wese opreg en kerngesond was. Dis eers sedert haar ma se dood dat Bertus Erasmus kommer begin ondervind het. Dis nie dat Tania heeltemal ledig is nie. Sy help hom baie met sy korrespondensie en so meer, maar sy is nie gebonde nie, en dis of hy die afgelope twee jaar ’n rusteloosheid by sy kind begin opmerk het. Dis of sy aan die rondval is, aan die rondsoek na iets sonder om dit op ’n bepaalde naam te kan noem.

Daar is byvoorbeeld haar twee vorige verbreekte verlowings. Hy het hom reeds jare gelede, toe sy nog ’n kind was, voorgeneem dat hy haar nooit sal probeer beïnvloed in die keuse van ’n lewensmaat nie. Albei vorige twee kere het hy vaag onrustig gevoel, en dit het later tog geblyk dat sy onrus gegrond was. In albei gevalle het dit duidelik geword dat hierdie jong mans meer belanggestel het in wat hulle uit ’n miljoenêrskoonpa sou kon kry as in wat hulle eintlik aan die dogter het.

Ook hierdie derde verlowing van Tania stem hom nie gelukkig nie, hoewel hy sy bes doen om haar dit nie te laat agterkom nie. Op die oog af is Ewald Serfontein ’n oulike jong man wat, te oordeel na die uiterlike, al ver gekom het vir sy jare. Hy is die eienaar van ’n hele reeks motelle langs die kus, en staan onder sy vriende bekend as die “motelkoning”. Hy het nog nie juis kans gehad om sy aanstaande skoonseun goed te leer ken nie. Daarvoor is hy self, asook Ewald, te bedrywig. Maar tog is daar iets wat al bly hinder.

Hy bekyk weer sy dogter tersluiks. Miskien is dit Tania self wat hom hinder. Hy kan nie van die gevoel ontslae raak dat sy hierdie keer maar net sommer verloof geraak het sonder om werklik verlief te wees nie. Tania se vriendinne, wat hoofsaaklik uit haar skooldae dateer, het die afgelope tyd die een na die ander in die huwelik getree. Hy het ’n nare gevoel dat sy dogter se derde verlowing sommer net plaasgevind het om in pas met die res te bly.

Nie dat Tania nie kan kies en keur nie. Dis miskien juis die probleem. Haar vriendinne, minder ryk en minder aantreklik, het nie so ’n wye keuse gehad nie. Daarom was dit vir hulle makliker, maar sodra jy alles of almal kan kry, word die keuse moeiliker, soms só moeilik dat jy op die ou end geen keuse het nie. Hy is bevrees dis nou wat met sy kind gebeur.

Sy blik dwaal weg oor die oop, ruim grasperke voor hom.

Die indruk is altyd daar dat dit fantasties moet wees om so ’n oorvloed aan besittings te hê. Die indruk bly totdat jy die dag miskien ontdek dat jy een van daardie bevoorregtes is, en dan besef jy dat dit eintlik ’n wanindruk is. Want saam met aardse skatte vermeerder ook die kommer en verantwoordelikheid. Hy het hom dit nooit ten doel gestel om eendag ’n miljoenêr te word nie. Maar die een suksesvolle transaksie het tot ’n ander gelei. Dit het omvangryk geword, later omtrent buite beheer geraak. Dit het vorentoe bly rol, met elke draaislag groter en onstuitbaarder geword. Die ou spreekwoord dat geld geld maak, het vir hom waar geword.

Maar hoewel dit gerieflik is om ’n multimiljoenêr te wees, is dit beslis nie maklik nie. Oor sy sakebelange bekommer hy hom nie veel nie. Hy het net daardie inherente vermoë om te weet wat ’n goeie saketransaksie is. Hy kan aanvoel as ’n ding gesond is en of dit die moeite werd gaan wees. Nee, sy bekommernis is oor sy dogter en dat die aardse skatte wat haar pa versamel het, op die ou end nie geluk nie, maar ongeluk oor haar gaan bring – soos reeds gebeur het.

Twee keer was sy al verloof en moes sy ontdek dat dit eintlik nie om háár gaan nie. Gaan dit ’n derde keer gebeur? Hy sug diep en sy dogter se stem sny deur sy gedagtes.

“En nou, Paps? Waaroor die diep sug?”

Hy kyk na haar kant toe. “Dis oor jou, my kind.”

“Oor mý?”

“Ja. Ek het die gevoel dat jy nie gelukkig is nie. Is jy, Tanie?”

“Maar natuurlik, Paps!”

Sy blik is skerp en ondersoekend. “Dis nie so natuurlik om gelukkig te wees nie, my kind. Die teenoorgestelde is die meeste van die tyd waar. Geluk is nie iets wat vanselfsprekend daar is nie. ’n Mens moet daarvoor werk, opoffer, soms selfs tot by die punt van selfverloëning. Geluk is nie iets wat met geld gekoop kan word nie.” Sy oë pen sy dogter s’n vas. “Nie al my geld kan jou geluk koop nie, Tanie. Solank jy dit net onthou.”

Haar oë is verward. “Ek begryp nie heeltemal ...”

“Ek het al die indruk begin kry, my kind, dat jy dink dat ons besittings ons hoër stel as ander mense.” Hy glimlag skeef. “Eintlik moes ek nooit ’n miljoenêr geword het nie. Ek pas nie in by hierdie groep mense nie.”

“Paps!”

“Dis waar, Tania. Ek is op my gelukkigste tussen gewone mense. Maar jy, my kind, jy het ’n manier om deesdae op mense neer te sien wat minder as ons het.”

“Paps! Ek was nog nooit ’n snob nie!”

“Nee, nie heeltemal snobisties nie, maar die gevaar is groot dat jy een kan word.” Bertus Erasmus is ’n reguit man, en hy huiwer ook nie nou om reguit te praat nie. “Jou optrede teenoor ons nuwe plaasbestuurder, byvoorbeeld. Jy sien neer op die man, en dit staan my nie aan nie, Tania. Dis geen skande om eerlik met jou hande en liggaamskragte ’n bestaan te maak nie.”

“Dis nie ... dis nie waar nie, Paps!” protesteer sy, maar haar oë is ontwykend.

“Ek hoop ek is verkeerd. Ek hoop van harte so, my kind, want ek het probeer om jou die regte waardes in die lewe te leer. ’n Man se bankbalans was nog nooit ’n getuigskrif vir die man self nie. Moet nooit ’n mens oordeel na wat hy besit of nie besit nie, Tania. As jy dink aan jou groep vriende ... Hulle is almal kinders uit ryk huise – geërfde rykdom. Maar daar is baie onder hulle wat, as hulle nie ryk pa’s gehad of ryk geërf het nie en op eie inisiatief en in eie krag die lewe moes aandurf, vandag arm sou gewees het. Ek het hulle deurgekyk. Daar is van hulle wat vandag ’n hand-in-die-tand-bestaan sou gevoer het as dit nie was vir wat agter hulle is nie. Daarom is ek so bevrees vir jou, my kind, dat jy ook sal steun op wat ek besit. As daar vandag iets met my moet gebeur, en met my rykdom ... sal jy in eie krag en karakter vir jou ’n eerbare pad in die lewe kan oopkap?”

Tania sit verslae en luister. Sy het haar pa nog nooit voorheen só hoor praat nie. Sy antwoord fronsend: “Is daar dan ’n moontlikheid ...?”

“Nee, maar ek sal liewer wou weet dat, wat ook al mag gebeur, my kind oor die inherente krag beskik wat haar staande sal hou, beter as wat my aardse besittings dit ooit sal kan doen. Ek het vir Rocco gesê dat hy sy etes saam met ons moet geniet.”

Hy staan op en stap weg en sy kyk hom agterna. Dan spring sy op en trek haar skouers ongeërg agteroor. Ag, Paps is maar net nie vandag in ’n goeie bui nie. Dis al. Sy frons effens. Haar pa is blykbaar baie ingenome met die nuwe plaasbestuurder. Sy wens hy het die man liewer nie gevra om sy etes saam met hulle te geniet nie. Daar is ’n onwilligheid in haar om te veel met hierdie nuwe werknemer te doen te hê. Sy kan die gevoel nie afgeskud kry dat hy beslis nie veel van sy werkgewer se dogter dink nie. Om watter rede, kan sy nie sê nie, maar die gevoel bly.

Ook toe hulle later weer aan die etenstafel ontmoet, is dit sterk op die voorgrond. Gedagtig aan haar pa se prekie van vanoggend, probeer sy vriendelik wees, die man selfs tuis laat voel, sodat hy nie moet voel dat hy in sy meerderes se geselskap is nie. Haar pogings word met ’n koel knik van die kop en ’n enkele blik van die oë beantwoord, en dan word sy heeltemal geïgnoreer. In der waarheid voel dit later vir haar of sy die een is wat nie aan die tafel tuis hoort nie, want die twee mans gesels land en sand oor boerdery, landsake, wêreldsake.

Sy sit fronsend en luister. Hy weet waarvan hy praat, moet sy toegee. Hy is beslis op die hoogte van elke onderwerp wat aangeroer word. Ook het hy vaste menings oor almal en hy stel dit kalm maar beslis. Een keer verskil hy selfs openlik van haar pa, en tot haar ergernis sien sy hoe haar pa bereid is om na sy standpunt te luister en hoe hy blykbaar ook oortuig word.

Sy is verlig toe Ewald onverwags binnestap. Sy het net begin voel dat sy maar kan opstaan en loop. Nóg haar pa nóg die nuwe plaasbestuurder sal dit eens agterkom.

Daarom is haar ontvangs van haar verloofde guller as wat selfs hy verwag het en hy hou haar styf teen hom vas. Dan blik hy na die vreemdeling aan tafel en dis oom Bertus wat hulle bekendstel.

“Dis nou my dogter se verloofde, Ewald Serfontein, en dis Rocco Roux. Kom sit, Ewald. Wil jy nie saam eet nie?”

“Dankie, oom Bertus, ek het klaar geëet.” Sy blik keer terug na die man wat ongeërg voortgaan met sy ete. “Kuier u ’n rukkie hier, meneer Roux?”

Die donker wenkbroue lig. Dan kyk hy op, sy stem kalm. “Nee, meneer Serfontein. Ek werk hier.”

“Werk?”

Tania kan nie verstaan nie, maar sy voel meteens senuweeagtig en verduidelik vinnig: “Dis Paps se nuwe voorm- ... ek bedoel ons nuwe plaasbestuurder.”

“O.” Ewald se belangstelling verdwyn onmiddellik.

Skielik, onverklaarbaar, het daar ’n gespanne atmosfeer om die etenstafel ingesluip. Ewald en haar pa het albei ’n frons tussen die wenkbroue. Dis net Rocco Roux wat daar sit, so kalm soos netnou.

Die twee mans wat so lekker sit en gesels het, se gesels het meteens ook opgedroog. Sy kyk onderlangs na haar pa, sien dat hy fronsend sy koffie roer en voel sommer geïrriteerd. Wat is dit nou skielik met hom? Hoekom kan hy nie voortgaan met gesels soos netnou nie? Dit lyk kompleet asof hy nie lus het om met Ewald te gesels nie!

Sy wend haar tot haar verloofde en vra met ’n breë glimlag: “Is jy op pad êrens heen, of het jy vir my kom kuier?”

“Ek het jou kom haal om saam te ry. Ek wil inspeksie gaan doen by die naaste motel. Ons sal vanaand terug wees.”

Sy aarsel ’n oomblik, betrap dan Rocco Roux se blik op haar en sê dadelik: “Dit sal lekker wees! Natuurlik wil ek graag saamry.”

“Nou maar goed. Hoe gouer ons wegkom, hoe gouer is ek klaar. Kan ons maar gaan?”

Sy soen haar pa vlugtig op die kop. Net baie vlugtig gaan haar blik na die ander man. Hoewel sy teësinnig is om dit te doen, sê sy tog, bewus daarvan dat haar pa dit van haar sal verlang: “Tot siens, meneer Roux.”

Toe sy opstaan, het hy beleef op sy voete gekom en hy knik nou weer met sy half koninklike buiginkie. “Tot siens, juffrou Erasmus.”

“Tot siens, oom Bertus, Roux. Kom, skat.”

Toe hulle uit is, sug oom Bertus diep en wink met die hand. “Kom sit. Ons drink nog ’n koppie koffie.” Die ander man neem plaas. Vir ’n rukkie is dit stil aan tafel. “Dis nou die motelkoning, soos hy genoem word. Besit ’n hele reeks motelle al langs die kus op. Skynbaar skatryk.” Die ander man antwoord nie, en Bertus Erasmus kyk hom vas aan. “Wat dink jy van hom?”

Tydsaam word daar eers aan die koffie geproe. “Ek het seker nie die reg om enige mening uit te spreek nie.”

Bertus Erasmus frons diep. “Dan hou jy ook nie van hom nie.” Hy sug weer. “Ek het ’n gevoel dat my dogter se derde verlowing dieselfde pad as die eerste twee gaan loop. Maar ek is nog banger dat die verlowing op ’n huwelik sal uitloop en dat Tania te laat sal besef dat sy ’n derde keer dieselfde fout begaan het. Ek is bekommerd oor my kind, Rocco.” Die twee mans kyk mekaar aan. “Ek het al dikwels gewens ek was ’n doodgemiddelde man en nie ’n miljoenêr nie, ter wille van my dogter. Daar is baie slaggate op die pad van ’n rykmansdogter.”

Die ander man is stil, maar dit hinder Bertus Erasmus nie. Sedert sy vrou twee jaar gelede oorlede is, het hy nie iemand gehad teenoor wie hy werklik sy hart kon oopmaak nie, want die meeste van die tyd is ’n miljoenêr ook ’n eensame mens. Jy is nooit werklik seker hoe diep en eg mense se gevoelens teenoor jou is nie.

Maar snaaks, teenoor hierdie nuwe plaasbestuurder kan hy sy hart oopmaak. Dis asof hulle van die eerste oomblik af mekaar gevind het, en hoewel Rocco Roux nie baie te sê het nie en die meeste van die tyd nog net geluister het, was daar ’n onmiddellik wederkerige gevoel van respek en vriendskap tussen hulle. Bertus Erasmus is ’n fyn mensekenner, en van die eerste oomblik af het hy aangevoel dat hierdie man geen gewone werknemer is nie. Rocco Roux is ’n man met ’n B.Sc-landbougraad. Hy het agtergrond en opvoeding. Die ouer man is oortuig dat hierdie jong man beter gewoond was, maar natuurlik is hy te goedgemanierd om hom direk daarna uit te vra. Wanneer hulle mekaar beter leer ken het, sal hy wel die verhaal hoor.

Intussen is dit ’n verligting om sy probleme teenoor iemand wat begryp, te kan lug. Sy vorige plaasbestuurder was reeds ’n ou man wat ’n rukkie gelede die tuig weens swak gesondheid moes neerlê. Dis heerlik vir Bertus Erasmus om nou weer iemand jonk op die plaas te hê, want hoewel hy lankal gevoel het dat oom Martiens nie meer alles kon bybring nie, kon hy dit ook nie oor sy hart kry om die ou man af te dank nie.

Maar hierdie jong man het nog inisiatief, kan nog sien waar verbeter kan word, waar reggeruk kan word. Meer nog, hy het nou weer iemand met wie hy kan praat. Daarom het sy aanstaande skoonseun onwetend nog ’n swart kruisie teenoor sy naam gekry toe hy Rocco kortaf as Roux gegroet het. Toe Ewald onder die indruk was dat Rocco ’n gas in die huis is, het hy hom as meneer Roux aangespreek, maar toe hy hoor hy is maar net ’n werknemer, toe word hy sommer net Roux, en Bertus Erasmus het hom in sy hart geskaam vir die ryk man.

Hy kyk nou na die stil, sterk gesig hier langs hom en sê reguit: “Ek is jammer oor Ewald se gedrag netnou, Rocco.”

Die donker oë flits omhoog en sy mond word grimmig. “Ek het geleer om daardie soort ding te vat van wie dit kom. Moet u nie ontstel nie.”

“Maar ek ontstel my daaroor! Dis die man aan wie my dogter verloof is vir wie ek my so moet skaam,” laat die ouer man driftig hoor en staan op. “Kom ons gaan kyk na die onderste kampe. Ek sal graag jou mening daaroor wil hoor. Ek beoog om die kampe kleiner te laat sny, maar ek wil eers hoor wat jy daarvan dink.”

Rocco staan op. “Ons kan maar gaan, maar het u nie gesê u moet vanmiddag in stad toe vir sake nie?”

Die ouer man wuif met die hand. “Ek het besluit dit kan wag tot môre. Ek is nie vandag lus vir mense en geldstories nie.”

Tania sit en staar voor haar uit en Ewald kyk haar skuins aan.

“Jy is besonder stil, skat. Iets verkeerd?”

Sy aarsel, liewer lus om stil te bly, maar sy kon aan haar pa se oë sien dat Ewald hom volgende keer gaan vasloop as hy hom weer só gedra.

“Nee, nie juis nie, net ...”

“Net wat?” Hy frons ook nou. “Dis al vir my asof jy sedert gisteraand al verder van my af beweeg, pleks van nader, Tania. Wat is dit met jou? Het ek iets verkeerd gedoen of ...?”

Sy vererg haar op die plek, juis omdat sy in ’n mate skuldig voel. Sy weet nie wat met haar aangaan sedert gisteraand nie. Dis of almal haar irriteer.

“Ek wil jou net waarsku dat Paps nie hierdie soort gedrag sal duld nie, Ewald. Jy kon meer beleef gewees het.”

Hy lyk eerlik verbaas. “Waarvan praat jy? Wanneer was ek onbeleef?”

Haar blou oë blits na hom op. “As jy dit nie self weet nie, sal dit nie juis help dat ek jou daarop wys nie, sal dit?”

Hy frons ook nou vererg. “Liewe land, Tania! Is dit nou nodig? Teenoor wie was ek onbeleef?”

“Teenoor ons nuwe plaasbestuurder.”

Hy lyk verbysterd. “Is dit waaroor die bohaai gaan – oor die plaasbestuurder?”

Sy pers haar lippe opmekaar, maar voel tog ook ’n bietjie belaglik. Gister, eergister sou sy dieselfde houding as Ewald ingeneem het, maar sedert haar pa se prekie, het sy begin gevoelig raak vir hierdie dinge. Sy kyk hom nou koel aan.

“Ja, en as jy in my pa se goeie boekies wil bly, sal jy jou in die toekoms meer beleef en minder neerhalend teenoor sy werknemers moet gedra.”

“Liewe aarde, Tania! Ek wou nie doelbewus onbeleef wees nie, maar hy is net ’n plaasbestuurder! Verwag jy en jou pa dat ek elke werknemer van julle soos ’n absoluut gelyke moet behandel? Moet ek hom volgende keer om die hals val?”

“Moenie verspot wees nie, Ewald. Dis net ... Paps self is altyd uiters beleef teenoor sy minderes en hy verwag dit ook van ander. Hy sê elke mens het sy selfrespek en trots, of jy arm of ryk is.”

“Goed. Toegegee, maar dis nie nodig om hulle om die hals te val nie!”

“Niemand het gepraat van om die hals val nie!” Sy voel nou regtig vererg en geïrriteer en is jammer dat sy ooit saamgekom het.

“Dit klink so,” hou hy bot vol. “Ek sien hy eet saam met julle aan tafel ook. En gisteraand het ek hom onder die gaste gewaar. Ek veronderstel dat, wanneer ons in die toekoms êrens heen gaan, ons hom sal moet saamvra.”

“Jy is nou kinderagtig,” sê sy boos. Die onrus vat weer in haar pos. Het sy hierdie man werklik lief en is sy werklik bereid om die res van haar lewe met hom te slyt? “Rocco eet saam met ons omdat hy ongetroud is en dit sal belaglik wees as ek en Paps alleen in die huis eet en daar eenkant in sy woonstel vir hom gekook moet word. En gisteraand ... wel ... Hy het hier aangekom terwyl die partytjie aan die gang was en ek kon kwalik vir hom sê hy moet wag tot die partytjie verby is, kon ek?”

“Jy kon hom sy woonstel laat wys het deur een van die kelners. Ek merk op julle is al op voornaamterme.”

Sy trek haar asem vinnig in. Dit sal darem belaglik wees om die dag ná die verlowing al rusie te maak – en dit oor haar pa se nuwe plaasbestuurder!

“Ons is nié by voorname nie. Regtig, Ewald, as jy so voortgaan, sal ek begin dink jy is jaloers op die man!”

“Tania!” Ook hy trek sy asem diep in. Nee wag, dit sal nie deug om sake te verbrou en dit oor ’n ou plaasbestuurdertjie nie. “Jou opmerking is so belaglik dat ek nie daarop sal antwoord nie. Kom ons vergeet nou van meneer Roux. Die hele affêre is belaglik, om die minste daarvan te sê.”

Sy swyg ook hierna en hulle ry in stilte verder. Dis of hulle skielik niks het om oor te gesels nie. Tania voel weer die beklemming op haar toesak. Sy ken Ewald nog glad nie so lank nie. Sy weet dat hy as die motelkoning bekend staan, dat hy baie goed dans, dat hy hou van partytjies en rondreis, dat hy ... Sy frons. Wat nog? Hy trek baie byderwets aan. Hy ry met ’n peperduur sportmotor, hy speel goed tennis en ... dis eintlik al!

Sy kyk hom tersluiks aan. Hy is aantreklik, baie gewild, maar is hierdie dinge wat sy nou vir haarself opgenoem het, werklik al wat sy van die man verlang met wie sy wil gaan trou? Sy byt haar onderlip vas.

Maar sy is reeds verloof aan hom! Was sy vir ’n derde keer te oorhaastig? Moes sy nie nog ’n rukkie gewag het nie, Ewald eers ’n bietjie beter leer ken het nie? Tog ... Aan die begin was sy seker dat sy hierdie keer die regte besluit geneem het. Dis van gisteraand af dat sy werklik begin twyfel het. Maar hoekom gisteraand? Dit was dan hul verlowingsaand!

Skielik sien sy ’n man voor haar geestesoog verskyn, geklee in sportdrag, sy oë koel dwalend oor die gaste waar hy in die voordeur staan.

Hoekom het hierdie man juis nóú hierheen gekom? Maar wat maak dit saak? vra sy haarself driftig af. Wat het die verskyning van ’n wildvreemde plaasbestuurder met haar persoonlike sake te doen? Hoe kan dit haar persoonlike lewe raak?

Tog, toe sy daardie aand weer terug is in haar kamer – die dag en aand wat verby is ’n totale mislukking – wens sy uit haar hart dat Rocco Roux liewer wil teruggaan van waar hy gekom het. Dis sedert hy hier aangekom het dat hy op ’n onverklaarbare wyse alles kom ontstig het. En dis belaglik, soos Ewald ook gesê het.

Sy klim in die bed en skakel die muurlampie af. Net môre sal sy haarself onder hande neem en haar regruk. Hierdie snaakse bui waarin sy skielik verval het, moet nou end kry. Rocco Roux is ’n doodgewone plaasvoorman en die uitdrukking in daardie koel oë van hom kan haar regtig nie skeel nie. Môre sal sy hom op sy plek in die prentjie plaas – op die agtergrond, waar ’n plaasvoorman hoort.

Môre lê ver

Подняться наверх