Читать книгу Rabbedoe van Rietkuil - Ena Murray - Страница 3
1
Оглавление“Verdeksels! Dit ook nog!”
Die motordeur word met min ontsag vir sy klaarblyklik hoë ouderdom toegeslaan en ’n paar misnoegde groen oë blits op die pap wiel. Met ’n hoorbare gekners van tande begin sy na die domkrag soek. Eindelik diep sy dit op terwyl die wêreld besaai lê met koffers en kartondose. Nou om die ding staan te maak … en haar nare voorgevoel word bewaarheid. Hoe sy ook al probeer, dit wil na geen kant toe beweeg nie.
Met ’n oliebesmeerde hand vee sy die donker krul ongeduldig van haar beswete voorkop weg. Sy blik verwoed na die moordende Karooson en laat haar kop mismoedig sak.
“Nou toe. Jy wat so dapper en kordaat was – wat nou?” praat sy hardop met haarself. Sy kyk om haar rond. Sy bevind haar in die middel van nêrens. Agter haar lê die lang stofpad en voor haar strek dit tot in die oneindigheid uit. Om haar is die stilte van die Karooveld, sy vaal bossies en ysterklippe wat blinkwit in die gloed van die son vertoon.
Mistroostig gaan sit sy op die trappie van die 1934-Ford-sedan en byt hard op haar tande. Nee toe, wie wil nou grens? gesels sy in haar gedagtes voort. Jy sien dan kans vir so baie dinge en nou laat ’n uit-die-oude-doos-domkrag jou hier op moedverloor se vlakte sit en huil. Jy was gewaarsku. Nic het vir jou gesê jy is mal, stapelgek, ’n geval vir ’n psigiater. Maar toe het jy vir alles ’n antwoord gehad, nè? En nou is jy nog skaars van die huis af weg en hier sit jy, koudgesit deur ’n simpele ou domkrag.
“Aag, bly stil!” snou sy die tartende stemmetjie toe en vee die nat strepe van haar wange met driftige bewegings af. “Ek is g’n skaars van die huis af weg nie! Ek ry al van vanoggend af en ek het nog nooit vandag geëet nie, nie nat of droog oor my lippe gehad nie, omdat ek te bang is ek sal nie my bestemming bereik voor dit donker raak nie. En ek kán ’n ou domkrag hanteer, dit moet net nie steeks wees nie,” hou sy koppig vol.
Maar Nic het jou gesê jy kan dit nie op die pad waag met hierdie ou rammelkas nie, hou die stemmetjie vol.
“ ’n Nuwe motor kan ook ’n pap wiel kry,” baklei sy kliphard terug. “Dis nie te sê omdat ou Tjorries uit die jaar toet dateer, dit haar skuld is dat sy ’n pap wiel gekry het nie.”
Ja, maar ou Tjorries se skoene is lankal gedaan. Jy kan bly wees ’n verkeersbeampte het jou nog nie vandag teëgekom nie, anders sou jy nog in die tronk ook beland het, tart die stemmetjie vermakerig.
Die groen oë lyk nou behoorlik dreigend. “Hoor hier, gaan ledig jou ledigheid op ’n ander plek en los my en Tjorries uit. Ons het tot hier gekom sonder jou hulp of kritiek. Gaan terug plaas toe, na Nic toe. Julle twee pas bymekaar, ewe pessimisties en … en … beduiweld.”
“Ekskuus?”
“Ek sê jy kan in jou malle verstand … O!” Sy staar verbysterd in twee grys oë en haar mond val spontaan oop. Weer word ’n stowwerige hand oor die vuil gesig gevee en die groen oë is baie stip. “Waar de duiwel kom jý vandaan?”
“Wie? Ek?”
“Natuurlik jy!” Die welige donkerbruin bokstert swaai wild en haar stem klink openlik vyandig. “Ek sien niemand anders met wie ek kan praat nie.”
Die man se bekommerde frons verdiep merkbaar. Hy wys met ’n vinger in die rigting van Tjorries se onderwêreld. “Jy bedoel … daar lê nie iemand onder haar … hom … dit nie?”
“Nee, en moenie my motor ’n dit noem nie. Sy is …”
“Jy bedoel jy is alleen … heeltemal alleen?”
“Ja. Wat is so snaaks daaraan?”
Nou is die man se gesig heeltemal ernstig, sy oë speurend, sy mond skepties. “Maar met wie het jy so te kere gegaan toe ek hier stilgehou het? Jy het my nie eers gehoor kom nie. Jy het soos ’n mal ding hier gestaan en babbel en arms geswaai en …”
“Ja, ek weet,” val sy hom vinnig in die rede en kan teen wil en dank nie ’n verleë blos keer nie. “Ek het sommer met die duiwel gepraat.”
“O?”
“Ja. Hy het my domkrag gebreek sodat ek nie die pap wiel kan vervang nie.”
“O!” Sy oë vonkel meteens. Vir hom het dit nie na ’n pratery geklink nie. Vir hom het dit eerlik geklink of sy ou Niek na sy eie warmplek toe aan ’t stuur was! Hy kyk vol belangstelling na haar. “Wat is jou naam?”
“Nic.”
“Wat?” Meteens gooi hy sy kop agteroor en skaterlag en dit lyk nie of die kwaai blik van die groen oë hom enigsins hinder nie. “Maar nou verstaan ek ook. Nic en Niek. Jy het maar net met jou naamgenoot gesels!”
“Snaaks. Baie snaaks. En wanneer jy nou klaar jou simpel grappie geniet het … kan jy my ’n domkrag leen? Een wat werk, bedoel ek.”
Hy bedwing sy lagbui, maar sy oë bly vonkel. Hemel, wat ’n stukkie mens! Hy het hom al van ver af sit en verwonder aan die vreemde spektakel voor hom in die pad en toe hy stilhou, kon hy kwalik sy eie oë glo. Doerie jare se Fordjie, klaarblyklik met ’n gekweste agtervoet, het reg in die middel van die pad gestaan en naas dit – naas haar – ’n vroumens wat beduie asof sy besig is om ’n simfoniekonsert te dirigeer. Tog was die hele prentjie so vreemd dat hy nie aan lag gedink het nie. Hy was bekommerd. Die vroumens het vir hom heeltemal van haar trollie af voorgekom.
Hy draai nou gehoorsaam om en gaan haal sy domkrag, maar toe hy ewe goedgemanierd met die omruil van Tjorries se agterskoen wil begin, word hy sonder meer uit die pad gestoot.
“Ek sal dit self doen. Jy sal jou besmeer,” word hy bondig meegedeel en hy vou sy arms en staan tru, wagtend dat die groen oë die een of ander tyd hulpsoekend sal opkyk. Maar hy wag vergeefs. Selfs toe een van die moere hardnekkig weier om los te gaan. Twee verspotte klein voetjies spring boosaardig op die moerslinger en siedaar, ta is los. ’n Paar minute later kry hy sy domkrag terug en word die vuil hande teen mekaar geklap om die stof af te kry en toe word hulle ongeërg teen die langbroek afgevee om twee oliestrepe agter te laat.
“Ditsem! Nou is ek weer reg.” Die eerste keer sien Herman Marais haar glimlag. “Dankie, oom. Hoop ek kan weer eendag vir oom ’n klip uit die pad rol. Nou toe, ou meisie,” gesels sy met Tjorries, “jy moet jou pote nou fyn neersit, hoor? Ek het nie pets en seloesjin nie. Dus moet jy jou gedra of ons twee slaap vannag op die haaivlakte.”
“En dit sal darem nie by twee sulke waardige dames pas nie, nè?” klink ’n sarkastiese stem by die venster op en toe die groen oë syne ontmoet, vervolg hy verontwaardig: “Wat bedoel jy met óóm? Wie is jou oom? Hoe oud is jy altemit?”
“Dit, oom, vra ’n mens nooit vir ’n dame nie, nè, Tjorries? Dink ’n bietjie dat ’n man so skaamteloos kan vra hoe oud ons twee is!”
Die groen oë vonkel, want ou Niek, haar naamgenoot, is voorlopig veilig in die kattebak toegesluit saam met die stukkende domkrag. Hoop die ou blikskater laat haar nou met rus. Sy buk beslis vooroor en, wonder bo wonder, asof sy skaam is vir haar vorige gedrag, tjoi-tjoi Tjorries heel gewillig. Soos die vreemdeling gesê het: Dit sal darem nie by ’n dame van haar ouderdom en status pas om die nag op die haaivlakte deur te bring nie. “Tot siens, oom. En nogmaals dankie, hoor? En onthou van die klip!”
“Los die klippe. Bly jý net uit my pad in die toekoms!” skreeu hy agterna toe sy met so ’n vaart wegtrek dat Tjorries se agterstewe stuitig wip. Glad nie paslik vir so ’n ou vrou nie, dink hy grimmig.
’n Paar minute later is dit Tjorries en haar passasier wat moet hoes toe hul weldoener in ’n vermakerige stofwolk by hulle verbyjaag.
“Hierdie wêreld se boerklonge is anders as dié wat ons ken, Tjorries. As hy enigsins ’n heer was, sou hy agter my gebly het om byderhand te wees ingeval ons dalk weer moeilikheid kry.” Sy gee ’n harde snork. “Om vir my te kom sê ek is ’n naamgenoot van die duiwel. Almal noem my nou wel Nic, maar dis sommer ’n bynaam. Haai, ek het hom nie eens sy naam gevra nie.” Toe glimlag sy weer. “Die óóm het hom darem glad nie geval nie. Dit sal hom leer om vir my – en vir jou – so uit die hoogte aan te kyk!”
Maar sowat ’n uur later word bewys ou Niek het blykbaar net ’n rukkie gedut. Skielik is hy weer op en wakker en met duiwelse genot gooi hy ’n skerp klip reg in die pad sodat ou Tjorries gevaarlik swaai.
“Hokaai, ou mens! Watse gebokspringery is dit op jou oudag?” Maar toe sy uitklim, verdwyn haar glimlag. Sy kyk om haar rond. Nou sit sy sowaar op moedverloor se vlakte. ’n Tweede pap wiel. “Ag nee, Tjorries, wat is dit met jou vandag? Ek het jou gesê ek het nie pets en seloesjin nie.”
En terwyl Tjorries hierdie beskuldigings net swyend staan en aanhoor, groet oom Fasie sy jong buurman gul. “Kom nader, Herman. Ons drink eers koffie. Dankie dat jy die pos gebring het.” Terwyl Herman op een van die stoepstoele plaasneem, kyk oom Fasie gou die pos deur en frons liggies. “Mag, ek was so seker die man sou vandag laat weet het wanneer ons hom kan verwag, maar hier is nou nog niks nie.”
“Man? Watter man, oom?”
“Ons nuwe voorman. Wynand het mos ’n rukkie gelede besluit om een te kry. Dit sal goed wees, want die man werk hom kapot. Ek is dankbaar dat Wynand eindelik sy koppigheid laat staan het en ingewillig het om hulp te kry.”
“Dis goeie nuus, oom Fasie. Dis alles goed en wel om self na alles om te sien, maar soms moet ’n mens kan wegbreek ook. Wynand ontspan nooit. Dit sal hom die wêreld se goed doen.”
“Dankie vir jou bekommernis oor my, maar dis onnodig,” sê ’n stem van die stoeptrap af en Wynand stap nader. “Ek gaan nie ’n voorman kry met die bedoeling om leeg te lê nie. Hier is baie werk wat ek net nie kan baasraak nie. Ek gaan nog net so hard werk soos altyd, en my voorman gaan saam met my werk, dit belowe ek hom. Ek het ’n goeie salaris geadverteer, maar hy gaan elke sent daarvan verdien, dis seker.” Die skerp oë gaan vraend na sy oom. “Het hy vandag iets laat weet? Ek sien hier lê pos.”
“Nee. Niks nie. Miskien bel hy vanaand of môre. Oormôre is die eerste. Dan moet hy begin. Hy sal seker vandag nog van hom laat hoor.”
“Ek hoop so. My hande jeuk om met daardie nuwe lande te begin, maar ek kry net nie tyd daarvoor nie. Enige wetenswaardige nuus op die dorp gehoor, Herman?”
Sy jong buurman glimlag. “Nee, niks snaaks op die dorp nie, maar op pad hierheen wel.”
“Op pad hierheen? Wat bedoel jy?” wil oom Fasie geïnteresseerd weet en Herman skets kortliks die voorval en sluit laggend af: “En toe het sy nog die vermetelheid om my as óóm aan te spreek! Ek kon haar nek omdraai. Sy lyk wel soos ’n skoolmeisie, veral met daardie vuil gesig en oliebesmeerde kuitbroek, maar ek is seker ek kan nie meer as vyf jaar ouer as sy wees nie.”
Oom Fasie lag ook hartlik en vra belangstellend: “Waarheen is sy op pad?”
“Ek het haar nie gevra nie. Seker maar na een van die buurdorpe, maar of sy en haar Tjorries ooit daar gaan uitkom, is ’n ander vraag.”
Hy merk op dat Wynand, soos altyd wanneer vroumense onder bespreking kom, heeltemal onbelangstellend is, en hy gee ’n ander wending aan die gesprek: “Ek het netnou weerlig laag af in die weste sien flits. Dit lyk my ons gaan vanjaar vroeg reën kry. Die afgelope dae se hitte is ook vreemd vir hierdie tyd van die jaar.”
Nou gesels Wynand weer saam. “Ja, hier is donderweer in die lug. Dit sal gaaf wees as ons nou ’n paar buie kan kry. Dan sal die grond reg wees vir die aanvoor van die nuwe lande.”
’n Rukkie gaan die gesprek nog oor boerderybelange en toe staan Herman op.
“Dankie vir die koffie, buurman, maar nou sal ek moet gaan.” Hy steek sy hand uit na Wynand. “Ek hoop jou nuwe man daag betyds op. Tot siens.”
“Ek stap saam,” laat oom Fasie hoor terwyl Wynand in die rigting van die stalle verdwyn.
Herman loer vlugtig na die ou oom langs hom en vra dan reguit: “Is daar iets verkeerd, oom Fasie? Oom lyk bekommerd.”
“Ja, Herman, hoe sal ek nou sê … Dis maar ’n moeilike saak. Jy ken die ou geskiedenis, dus kan ek jou maar sê dat daar verlede week ’n brief van Conrad gekom het. Hy en Melodie kom die einde van die jaar terug.”
Herman frons liggies. “Maar, oom, julle het tog geweet hulle sou die een of ander tyd terugkom. Conrad is net oor om te gaan spesialiseer. Hulle was nie van plan om hulle in Londen te vestig nie.”
“Ja, ek weet, maar terwyl die see tussen hulle en Wynand was, was alles wat gebeur het, ook ver weg, half onwerklik. Noudat dit ’n uitgemaakte saak is dat hulle die einde van die jaar terugkom, is dit of die verlede en sy dinge weer van voor af vars is en … seermaak.”
Herman kyk die oom skerp aan. Hy is wel vier jaar jonger as Wynand, maar hulle is groot vriende. “Oom bedoel Wynand is nou nog ontsteld; dat hy nog altyd veronreg en seergemaak voel?”
“Hoe sal ek weet, Herman? Jy ken hom so goed as wat ek hom ken. ’n Mens weet mos nooit met Wynand nie. Hy praat mos nie oor daardie dinge nie, nie eens met my nie. Hy klap net toe. Toe ek destyds, toe die ding gebeur het, met hom wou praat, het hy my net kortaf gesê dat hy die saak nie wil bespreek nie. En dit was uit en gedaan.
“Tot op hierdie oomblik het hy nog nooit sy hart teenoor enige mens ligter gemaak nie. Wanneer hier ’n brief van Conrad kom, skeur hy dit oop, lees dit en gee dit dan sonder enige kommentaar aan my. Hy het ook verlede week toe die brief kom waarin Conrad sê dat alles nou finaal gereël is vir hul terugkeer, nie ’n enkele woord gesê nie. Maar wat ek wel opgemerk het, is dat hy sedert daardie dag rusteloser is.”
Herman sug. “Ja, ’n mens kan dit miskien verstaan. Dit sal die eerste keer wees dat hulle mekaar weer sien. ’n Mens wil amper wens dat Conrad hom maar liewer in die buiteland moet vestig. Maar … hulle is broers; hulle sal mekaar nie vir die res van hul lewens kan vermy nie.”
“Ja.” Oom Fasie sug ook. “Snaaks, ek is nie so bekommerd oor die ontmoeting tussen Wynand en Conrad nie. Maar dié tussen Wynand en Melodie …”
Herman frons diep. “Dink oom werklik dat Wynand nog ná al hierdie jare …?”
Oom Fasie kan maar net weer sy kop skud. “Ek weet nie, Herman. Maar as jy na sy optrede moet oordeel … wat kan jy anders dink? Wynand steur hom nie aan vroumense nie. Ná Melodie was daar nooit weer iemand nie. O, hy neem so dan en wan ’n bietjie deel aan die sosiale bedrywighede van die dorp, maar meestal moet jy en ander hom eers behoorlik soebat om hom daar te kry. Jy sal miskien nie so goed onthou nie, want jy was destyds op landboukollege, maar Wynand en Melodie was ’n baie gesogte paartjie die jaar wat hulle verloof was en hier het nie iets aangegaan nie of hulle was die voorbokke.”
“Ja, ek onthou. En nou is Wynand amper ’n kluisenaar. Darem nie heeltemal so erg nie, maar erg genóég, veral as jy onthou watter soort mens hy was. Dis darem maar ’n wrede ding as jou broer jou verloofde afrokkel.”
“Ja, Herman, maar ek is nie seker dat Conrad al die skuld moet kry nie. Maar ten spyte van alles glo ek nog in my hart dit was alles ten goede. Melodie pas baie beter by Conrad as by Wynand. Sy is g’n boervrou nie.”
“Nietemin, oom. Die liefde kyk nie na daardie dinge nie. En Wynand was altyd ’n bietjie anders as ons outjies. Hy was wel ’n paar standerds voor my, maar ek weet sy maats het al talle skoolkyse agter die rug gehad, toe het Wynand nog nie met een meisie vas uitgegaan nie. Hy het ook altyd gesê hy verstaan ons manne nie – die een dag siek van verliefdheid en die volgende dag is alles oor. Ek het altyd gewag vir die dag dat Wynand verlief sou raak, want ek het geweet dit sou vir altyd wees. En toe moes dit ongelukkig Melodie wees.”
“Ja, seun. So is die ou lewe maar. ’n Mens sal dit nooit verstaan nie. As ek so aan my eie lewe terugdink, is Wynand s’n maar net ’n duplikaat van myne. Ek het ook op die verkeerde meisie verlief geraak, onherroeplik verlief geraak. Ek was ook soos Wynand. Ek kon ook nooit sommer verlief raak nie, maar toe dit wel die dag gebeur, was dit met liggaam, siel en verstand. Maar sy was ook die verkeerde meisie en … hier staan ek vandag – ’n oujongkêrel, my lewe agter my met net eensaamheid om te wys.
“Ek is so bang Wynand gaan dieselfde fout as ek begaan – sy hart toesluit net omdat een vroumens sy liefde nie waardig was nie. Ek wens hier wil sommer ’n besonderse vroumens uit die lug val wat Wynand se vertroue sal herstel en hom kan leer dat ’n mens weer kan liefhê en weer kan vertrou.”
Herman glimlag, maar die kommer wil ook nie uit sy oë wyk nie. “Dis ’n bietjie baie gevra, oom, maar ek sal graag dieselfde wil sien gebeur. Net … besonderse vroumense val nie sommer soos manna uit die lug nie. Hulle is maar dun gesaai.”
Dit is reeds skerp skemer toe Herman met sy motor by die stalle verbyry en vir oulaas vir Wynand wuif wat net op pad terug huis toe is. Die motorligte is reeds aangeskakel. Net toe hy om die draai wil gaan, moet hy vinnig rem trap en skerp na links swenk om nie die donkies te tref nie. Dit is egter nie van skrik dat hy ’n oomblik lank roerloos agter sy wiel bly sit nie. Toe spring hy uit en terselfdertyd klink Wynand se voetstappe agter hom op. Uit die hoek van sy oog sien hy oom Fasie ook vinnig aangewikkel kom om die spektakel wat helder in die motor se ligbaan te sien is, van nader te kom beskou.
“Hemel! Dis jy!”
Soos ’n paar uur gelede, kyk die onstuimige groen oë weer opstandig in Herman s’n. Met kniekoppe tot by haar ken opgetrek, sit sy op die hoek van die lendelam donkiekar met ’n string kleingoed neffens haar. Maar hoewel sy besmeer en beteuterd lyk, wys sy gou dat daar niks met haar gees skort nie. Sy lig haar ken parmantig.
“Wat is so snaaks? Het jy nog nooit donkiekar gery nie?”
“Ja, maar …” Toe gooi Herman sy kop agteroor en skaterlag. “Wil jy vir my sê die ou dame het besluit sy wil vannag op die vlakte slaap? Maar sy kan aangerand word!”
Wynand kyk hom vererg aan en sê bedaard: “Is daar nog ’n ou dame ook? Juffrou, waar het jou motor gaan staan?”
Herman proes, maar sluk dit weg toe Wynand hom openlik ontevrede aankyk. “Jy verstaan nie, Wynand. Jy het nie geluister toe ek julle vanmiddag vertel het nie. Die ou dame is ’n 1934-Fordjie met die baie beskrywende naam van Tjorries.” Hy kyk met vonkelende oë na die bondeltjie mens op die hoek van die donkiekar. “O ja! Daar was mos nog ’n passasier ook! Of het hy agtergebly om die ou dame te beskerm?”
“Aag, gaan na die duiwel, man! Tjorries het nóg ’n pap wiel gekry – wat my natuurlik glad nie verbaas nie. Dis verskriklik soos hierdie paaie lyk! Dis ’n skande, om dit sag te stel. Die skerp klippe lê …”
“Hokaai! Moenie met mý baklei nie,” keer Herman laggend, sy hande afwerend voor die blitsende oë. Hy wys met sy duim. “Hier is die man wat jy moet pak. Hy is op die raad, nie ek nie.”
Haar oë vlieg na die ander man, maar vreemd, dit is of haar sêgoed skielik opdroog. Sy kyk vinnig weg en oom Fasie stap haastig nader.
“Kom, niggie, dat ek jou afhelp.” Sy kreun hardop toe haar voet grondvat en die ou oom kyk bekommerd na die vuil gesig waarop hy duidelik die spore van ou trane kan sien.
“Wat makeer? Het jy nie dalk die motor omgegooi nie?”
Sy skud haar kop en maak haar stram rug reguit. “Nee, oom, regtig nie. Dis net …”
“Nee, oom Fasie, motor omgooi sou sy nie, al wou sy ook. Daardie bejaarde ou dame van haar kan nog kwalik twintig kilometer per uur haal …”
“Herman, bly jy nou stil en hou op om haar so te terg,” berispe oom Fasie kastig streng, maar met ’n glimlag om die mondhoeke. Mag, waar sou die meisiekind aan ’n 1934-Fordjie gekom het? Hy wens hy kan hom … haar te siene kry. Op sy dae het hy self so een gehad en wás hy windmakerig!
“Nee, oom, sien,” verduidelik sy met ’n dwars blik na Herman, “toe kom dié ou man op sy donkiekar verby en ek vra of ek nie kan saamry nie. En hier is ek. Ons het darem eers vir Tjorries uit die pad gestoot.” Die groen oë blink bekommerd. “Hulle sal haar mos nie regtig aanrand … ag, ek bedoel, iets aandoen nie, nè, oom? Sal sy veilig wees tot môre wanneer ons haar kan gaan haal?”
“Natuurlik, niggie. Herman praat sommer kaf. Jy is nou in ’n ordentlike kontrei. Niemand sal iets aan haar doen nie en ek sal haar self môreoggend gaan regsien … ag, ek bedoel, gaan haal.”
“Net ’n oomblik.” Sy is verplig om die derde man in die oë te kyk, want hy spreek haar direk aan. “As jou eindbestemming nie te ver is nie, juffrou, kan ons help om jou daar te kry. Of jy kan jou mense bel en verwittig dat jy teenspoed gehad het. Waarheen was jy op pad?”
Sy frons liggies … “Nêrens nie. Ag, ek bedoel ek is waar ek wou wees. Dit is mos Rietkuil dié, dan nie? Oom is seker Hechter, nie waar nie?” Sy praat met oom Fasie en maak asof Wynand nie bestaan nie.
“Ja, sus, ek is Hechter en dit is Rietkuil dié, maar … hoe’t jy gesê? Was jy op pad hiérheen?”
“Ja. Ek het nie laat weet ek kom vanaand nie, maar oom-hulle het my tog verwag. Ek moet dan oormôre begin.”
“Hoe sê?” Oom Fasie krap sy agterkop dat sy velhoed windskeef oor sy een oor hang. “Sussie, nee maar hier is seker ’n fout. Hoe meen jy nou – ons verwag jou?”
Die ander twee mans se oë is ook skerp en toe is dit of daar meteens ’n lig vir een van hulle opgaan. Breed glimlaggend laat hy hoor: “Maar, oom Fasie, natuurlik verwag jy haar. Oom het netnou gesê oom wens hier wil ’n vroumens uit die blou lug val en … Maar oom onthou tog waaroor ons netnou gesels het, nie waar nie?” hou Herman guitig vol, die duiwels dansend in sy oë. “Nou ja, hier is sy, hier reg voor oom!”
“Ag, Herman, man, hou nou op met jou stuitigheid! Ek verstaan niks hiervan nie. Wat sal die meisiekind hier op Rietkuil kom soek en dan nog sê dat ons haar verwag …” Toe val oom Fasie se mond oop en hy kyk verbaas na Herman. “Jy bedoel … bedoel …” Sy stem laat hom in die steek en sy knopperige wysvinger swaai vraend na die klein mensie hier teen sy boepmagie. Hy staan so ’n tree agteruit. “Kind, wat is jou naam?”
Herman spring haar weer voor, maar dié keer rus sy oë op die stil gestalte skuins voor hom. “Ek het julle mos al vanmiddag gesê. Haar naam is Nic, en sy gesels met haar naamgenoot. Ek het julle tog vertel, maar julle wou my nie glo nie!”
“Herman, staak hierdie lawwigheid. Juffrou, wie is jy?” klap Wynand Hechter se stem meteens tussen hulle en die klein lyfie ruk.
Sy wend haar tot oom Fasie. “Oom is seker die baas van Rietkuil, nè?”
“Oom Fasie is nie die baas van Rietkuil nie. Ék is. Nou … wie ís jy, juffrou?”
Sy kyk verslae op na die streng gesig wat nou reg voor haar in die ligbaan verskyn het. Vir oom Fasie het sy kans gesien. Sy is seker sy sou hom kon hanteer. Maar hierdie man … “Nou ja, ek is … is …”
Herman sien dat sake begin skeefloop en hy tree vinnig nader. Sy glimlag het verdwyn. As dit is soos hy skielik dink dit is, het ou Niek en al sy trawante saam met die donkiekar hier aangekom. Vanaand is hier moeilikheid op Rietkuil se werf!
“Jy is die nuwe voorman, nie waar nie?”
“Ja. Ek is.” Sy vermy die blik van die groot man hier voor haar en kyk hulpsoekend van Herman na oom Fasie. “Maar julle het tog geweet ek kom. Oom het my aangestel en …”
“Nie ek nie. O, hemel, nee, gelukkig was dit nie ek nie, want dan sou ek iets vinnigers as ’n donkiekar moes soek om hier weg te kom. Nee, sussie, nee, dis nie ék wat jou aangestel het nie. Dis hierdie man.”
Meteens dawer Rietkuil se werf soos oom Fasie lag, en al lyk die ander man se gesig soos ’n granietblok, kan hy nie ophou nie. “Wynand, en jy kry vir ons so wraggies in die stilligheid ’n voorvrou pleks van ’n voorman!”
“Dis geen grap nie.” Die donker oë blits in die groenes. “Ek het geen vroumens aangestel nie. Ek is nie mal nie.”
Van kleins af het sy geleer dat aanval die beste verweer is. Sy pluk haar skouers agteroor en kry haarself twee sentimeter langer gerek. “Nou ja, ek is ook nie mal nie. Hier in my hempsak staan swart op wit dat ek deur ene W. Hechter as voorman op die plaas Rietkuil aangestel is en dat ek op die eerste met my diens hier moet begin, geteken op die soveelste dag van die dit-se-datse maand van hierdie jaar … de lot. Nou – wie is mal?”
Oom Fasie se mond hang al weer oop en daar is verbysterde bewondering in Herman se oë.
“Ek gee nie om wat daar geskryf of geteken staan nie. Dis belaglik! Ek wil ’n voorman hê … nie ’n voorvróú nie!”
“Die aansoekvorm het geen vereistes gestel wat geslag betref nie. Daar is net gevra of die applikant ’n rybewys het, of die persoon kennis van boerdery het, sowel prakties as teoreties, en …”
“Ek weet wat ek gevra het, juffrou! Maar ek soek ’n mán wat kan werk, harde werk kan doen en …”
“Ek kan alles doen wat ’n man kan doen … en miskien nog beter ook. Ek het op ’n plaas grootgeword en ek het saam met my pa geboer, lammers gemerk, trekker gery, die wol mark toe geneem, skaap gedoseer, ons plaaspad geskraap … alles! Daar is niks wat jý kan doen wat ek nie ook kan doen nie.”
Oom Fasie se mond klap toe. ’n Man sê seker nie reguit vir ’n meisie sy lieg nie, al is sy bitter jonk en het sy vuil stofstrepe oor die gesig, maar vir hom lyk dit eerder asof sy gebad en in die bed gesit behoort te word met ’n teddiebeer in haar arms.
“Hoekom het jy dan nie by jou pa gebly nie?” kom die verontwaardigde teenvraag.
Haar kop sak skielik vooroor en die skouers verloor hul uitdagende houding. “My pa is ’n paar maande gelede … dood.”
Stilte. Nou is daar nêrens meer geamuseerdheid te sien nie. Herman en oom Fasie kyk onbeholpe na mekaar en hoewel die verontwaardiging nog in die swart oë gloei, is die baas van Rietkuil ook ’n oomblik stil. Oom Fasie sluk. Sy keel is droog en hy gryp na die eerste ding waaraan hy kan dink.
“Kom ons stap huis toe. Aandete is gereed. Ons kan tog nie heelnag hier staan en redekawel nie. Kom, Herman.”
“Nee, dankie, oom. Ek sou baie graag wou,” en hy bedoel dit, “maar ek sal nou moet huis toe gaan.” Hy gee die een klein skouer vlugtig ’n bemoedigende drukkie. “Ek sal môreoggend vroeg vir Tjorries gaan haal, ek belowe jou. En moenie sommer wegry nie. My plaas is net die volgende een. Kom daar aan. Ek kan jou dalk help. Nag, mense.”
Oom Fasie kyk hom ontevrede agterna. Herman moet nou nie dinge nog meer kom deurmekaarkrap nie. Met ’n arm om die skraal skouertjies lei hy haar by die voordeur in terwyl Wynand, klaarblyklik woedend, die ou man met die donkiekar staanplek vir die nag aanwys en toe aanstryk huis toe met die enkele koffertjie wat sy voorlopig op die donkiekar saamgebring het.
Toe sy ’n rukkie later aan tafel verskyn, lyk oom Fasie eers ingenome, dan ontevrede. Besmeer met stof en haas onherkenbaar, het sy ’n beter kans gehad om môreaand die son hier te sien sak.
Maar met ’n skoongewaste gesig, lipstiffie aan en die donker hare los om haar skouers, lyk sy nóg minder na ’n “voorvrou”. Pleks dat sy liewer daardie potsierlike bokstert agter haar kop gehou het en minder moeite met die lipstiffie gedoen het, dink oom Fasie spytig. Hy merk onderlangs op dat Wynand haar net een kyk gee en toe met ’n nog grimmiger gesigsuitdrukking kortaf die seën vra. Daarna kyk hy nooit weer van sy bord af op nie en laat dit aan oom Fasie oor om verder uit te snuffel.
“Wat is jou naam regtig, kind?”
“My doopnaam is Nicolette, maar g’n mens noem my ooit so nie. Almal noem my maar sommer Nic en klaar.”
“Het jy darem ander familie?” wil oom Fasie simpatiek weet, en sy gee geredelik die verlangde inligting, oënskynlik onbewus van die suur gesig aan haar linkerkant.
“Ja, oom. Ek het ’n boetie. Hy leer nog. My ma is ook lankal oorlede.”
“O? En is dit hoekom jy … wil werk?” vra oom Fasie versigtig. Sy knik en hap ’n groot hap uit die sny brood voor haar. Sy het gisteraand laas geëet.
“Ja. Sien oom, ná Pappa se dood en alles … Soos ek reeds gesê het, my boetie moet nog leer en … nou ja, ek moet eenvoudig uitspring, dis al. Ek ken nie ander werk nie. Ek weet net hoe om te boer. Daarom moet ek so ’n soort werk soek. Ek was maar al die jare Pappa se regterhand op die plaas. Maar nou …”
“Toe maar, kindjie, ons sal wel ’n plan maak. Foei tog, dan is jy heeltemal wees en nog met ’n klein boetie om voor te sorg ook! Ai! Ai! Die lewe werk darem ook maar hard met party mense. Jy is self dan maar nog ’n kind.”
Oom Fasie ignoreer die waarskuwende blik wat na sy kant toe gewerp word en Nic antwoord: “Ek is darem al twintig, oom. En ek ken harde werk,” voeg sy uitdagend by. “In elk geval, ek sal maar môre by Herman aanry – dis mos sy naam, nè? – en hoor wat hy wil voorstel. Ek móét net eenvoudig êrens werk kry.”
Vir die eerste keer lig Wynand sy kop. “Herman is ongetroud en woon alleen op Hardekraaltjie. Hy het ook nie ’n voorman nodig nie. Sy grond is nie só groot nie.”
Onskuldige oë kyk na hom. “O, maar in daardie geval kan ek dalk vir hom huishou. Ek kan darem so op ’n manier eiers kook en … so aan.”
Oom Fasie lyk hewig ontsteld oor dié gedagte, maar Wynand spring hom voor en sê kortaf: “Laat ons dank.” Daarna skuif hy sy stoel agteruit en sê met ’n stem wat geen teenpraat duld nie: “Ek veronderstel jy is moeg en sal vroeg wil gaan slaap. Geruste nag, juffrou.” By die deur draai hy om, sy stem waarskuwend: “Oom Fasie, daar is iets wat ek met oom wil bespreek. Sal ons kantoor toe gaan?”
Hy bly daar staan soos ’n militêre wag tot oom Fasie baie onwillig voor hom uitstap na die klein vertrekkie aan die onderpunt van die gang wat as die kantoor bekend staan en waar Wynand al sy boekwerk doen. Die deur word stewig agter hulle toegedruk en in die kombuis laat Nicolette Bezuidenhout haar ken mismoedig op haar handpalms sak. Nic het jou gewaarsku, is die stemmetjie skielik weer daar. Hy het gesê die man sal jou aan jou hare van sy plaaswerf af gooi, maar toe het jy hoeveel antwoorde gereed gehad.
Nou ja, haar doodgooi-antwoord het sy reeds gegee: Wynand Hechter het nie spesifiek na die applikant se geslag gevra nie. Hy mag nie net omdat sy ’n vroumens is sy woord verbreek nie, darem nie voor hy haar eers die geleentheid gegee het om te wys wat in haar steek nie. Was dit nie dat ou Tjorries êrens op die haaivlakte met ’n pap wiel staan nie, sou hy jou nie eens vanaand onder sy dak laat slaap nie.
Sy spring op, mismoedigheid vlak op die gesig, en die groen oë is skielik vol trane. Maar met die ou strydlustigheid veg sy terug: “Ag, gaan na die warmplek en vat sommer vir Wynand Hechter saam. Ek sal julle wys. Ek sal by daardie man gaan boer en julle van Rietkuil afboer! Ek sal … ek sal …” Sy storm na die kamer wat haar aangewys is en klap die deur sonder ontsag toe sodat die slag in die gang weergalm.
In die kantoortjie val Wynand sy oom beslis in die rede: “Oom, daar is geen sprake daarvan dat sy hier kan bly nie. Sy is ’n vroumens en boonop beduiweld ook. Ek sê nee, beslis nie!”