Читать книгу Rabbedoe van Rietkuil - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеOom Fasie neem eers tydsaam plaas en begin nog tydsamer sy pyp stop, tot groot ergernis van die man wat, klaarblyklik gereed vir baklei, voor die lessenaar staan. Maar as Wynand wag dat oom Fasie maar soos in die verlede om vredesontwil die knie sal buig, wag hy verniet. Oom Fasie se brein werk blitsig, al lyk hy so ongeërg en druk doenig met sy pyp. Hy besef maar te goed dat hierdie saak uiters delikate hantering nodig het en dat vanaand die aand is dat hy nié sy knie gaan buig nie.
Die snaakse affêretjie wat vanaand hier op ’n donkiekar aangery gekom het, moet hier bly. Oom Fasie kan die gevoel in hom nie heeltemal verklaar nie, behalwe dat dit darem baie toevallig is dat sy pas nadat hy sy wens teenoor Herman uitgespreek het, hier aankom. En dat sy wel besonders is, is seker!
Oom Fasie glimlag. Hy het nie eintlik so ’n rabbedoe in gedagte gehad toe hy daardie wens uitgespreek het nie, maar hoe meer hy aan die nuwe “voorman” dink, hoe sekerder raak hy dat sy net die meisie is wat hier op Rietkuil nodig is. Behalwe dat sy alles kan doen wat ’n man ook kan doen – oom Fasie grinnik weer … hy sal dit darem graag eers wil sien – is sy die eerste mens wat hy teëkom wat haar so teen Wynand kan verset. En dit moet hy glo, want hy het dit met sy eie ore gehoor. Oom Fasie se grinnik slaan oor in ’n kort laggie. Gits, hy het hom eers kapot geskrik tot hy Wynand se gesig gesien het. Die man het gelyk asof iemand hom met ’n bak yswater in die gesig gegooi het.
Hy knik sy kop ingenome. Sy is die regte vrou vir Rietkuil!
“Daar is niks om oor te lag nie, oom,” klap sy broerskind se ysige stem deur sy ingenome gedagtes en oom Fasie haal tydsaam sy pyp uit sy mond en kyk na die ontstoke gesig.
Sy glimlaggie verdwyn. “Nee, natuurlik nie. Vir mense sonder humorsin is daar nooit iets in die lewe om oor te lag nie. Maar gelukkig het ek mý humorsin behou. Dus, los my uit dat ek lag – of moet ek eers jou verlof kry?”
Die tweede keer binne ’n kort tydjie is Wynand Hechter met sprakeloosheid geslaan. Toe keer sy frons terug, onheilspellender as voorheen. Eintlik kry hy en oom Fasie selde stry en wanneer hulle die slag miskien van mening verskil, geskied dit op ’n mooi manier en word die vrede gou herstel. Maar wat vanaand met oom Fasie aangaan … Hy klink selfs beledigend!
“Oom, ek weet nie waar hierdie skielike houding vandaan kom nie, maar as oom dit grappig vind, lag dan maar. Een ding moet oom egter goed verstaan: ek wil nie ’n vrou vir ’n voorman hê nie. Hierdie vroumens gaan nie hier bly nie.”
“Hm. Sy gaan die wet aan haar kant hê as sy wil moeilikheid maak. Sy het jou aanstellingsbrief in haar sak en jy het nie gespesifiseer dat jy net na ’n man soek nie.”
“Maar dis vanselfsprekend dat dit ’n mansmens moet wees! Ek het nog nooit van ’n voorvrou gehoor nie,” sê Wynand bars. “Ek sal haar môre ’n volle maand se salaris gee en dan moet sy skoert.”
Oom Fasie se pypsteel wys reguit na Wynand. “Die moeilikheid met jou, Wynand, is dat jy tred met die tyd verloor het … vier jaar gelede al. Ja, toe, jy hoef nie so waarskuwend en kil na my te kyk nie. Ek en jy gaan vanaand praat. En as jy nie mans genoeg is om die waarheid aan te hoor nie, sê my net. Dan pak ek ook maar môre op en skoert. Dan is hier ook nie langer plek vir my op Rietkuil nie.”
“Oom! Watse belaglikheid is dit dié? Dit lyk my die vroumens het oom getoor …”
“Niccietjie het niks te doen met wat ek lankal jeuk om jou te vertel nie. Sy het my maar net die aanknopingspunt gegee, dis al.”
“Niccietjie!” Wynand draai vererg weg.
Oom Fasie gaan kalm voort, die pypsteel nog beskuldigend op Wynand gerig: “Soos ek gesê het, jy het vier jaar gelede al tred verloor met die tyd én met die lewe. Dis ou geskiedenis dat vroumense ook al boer. En góéd boer. Van lankal af gaan meisies landboukollege toe en hier loop hope rond met dieselfde landbougraad agter hul name as jy. Stry!”
Al antwoord wat hy kry, is ’n diep intrek van die asem en toe neem Wynand op die hoek van die lessenaar plaas, kruis sy arms oor sy bors en keer ’n sfinksagtige gesig na oom Fasie.
Oom Fasie skuif so ’n bietjie reg op sy stoel. “Goed. Daardie deel is afgehandel. Daar is geen verskil tussen ’n voorman en ’n voorvrou nie. Albei kan ewe goed wees …”
“Of ewe sleg.”
“Toegegee. Maar jy het ook vier jaar gelede jou redelikheid verloor. ’n Mens beoordeel nie ’n mens summier sonder om hom of haar ’n kans te gee nie. Dis onregverdig! Sover ek kan onthou, het jy die voorwaarde gestel dat die man wat kom die eerste maand as ’n proefmaand moet beskou. Gee haar daardie maand. Dit kan jou mos geen kwaad doen nie?”
“Oom, ek is haastig om met die nuwe lande te begin. Ek is al klaar laat daarmee. Ek wou hulle al onder lusern gehad het en daar is op hierdie oomblik nog nie ’n sooi omgekeer nie. As ek nou nog ’n maand moet mors …”
“Maar wie sê jy gaan dit mors? Jy is in elk geval laat. Waar dink jy gaan jy ’n nuwe voorman binne twee dae uitkrap?”
“Ek weet dit. Maar verduiwels, hoekom het sy aansoek gedoen? Ek het ander aansoeke ook gekry.”
“Juis. En jy het háár aansoek uitgekies,” vryf oom Fasie dit in. “Wynand, dit begin vir my al meer lyk soos ’n bestiering.”
’n Snork klink duidelik hoorbaar op. “Vir my lyk dit eerder asof die duiwel skielik hier losgelaat is.”
Dít ignoreer oom Fasie gerieflikheidshalwe en gaan voort, sy stem ongeërg, maar die ogies stip bokant die pyp: “Ek was só bly toe ek van hierdie voormanplan van jou hoor en toe jy nogal so gou ene in die hande gekry het wat na jou smaak is, want ek wou ’n voorstel gedoen het.”
“Ja?”
“Ja. Ek het so gedink. Ons twee het darem jare laas ’n bietjie vakansie gehad. Jy is alewig te vas met die boerdery om ’n bietjie weg te breek. Maar as jy dan nou iemand hier op Rietkuil het wat jy kan vertrou, kan ons twee mos die einde van die jaar so ’n bietjie weggaan see toe of so.”
Toe frons oom Fasie en sy gesig lyk die ene teleurstelling. Hy kyk vinnig weg van die gesig voor hom wat skielik peinsend saamgetrek het. “O, gits, nee, dit sal seker nie moontlik wees nie. Conrad-hulle kom mos daardie tyd terug. Ai, dis nou half ’n jammerte. Ek het maar net gedink dit sal lekker wees om so ’n bietjie seelug in te kry terwyl hier nou iemand is wat na die plaas kan kyk. Maar dit sal nie deug nie. As jy nou eers weer van voor af moet begin soek na ’n voorman, en jy kry darem op die ou end een, sal die man nog daardie tyd splinternuut wees en ’n mens kan darem nie jou goed aan iemand oorlaat wat jy nie ken nie. En met Conrad-hulle wat ook daardie tyd terugkom … Nee wat, dit sal seker nie deug nie.”
Dit is ’n rukkie stil terwyl oom Fasie teleurgesteld aan sy pyp suig en onderlangs die peinsende gesig voor hom dophou. Die man dink diep, kan hy sien. Mag hy tog in die regte rigting dink. Dan is daar sommer so ’n lekker kieliegevoel in oom Fasie se maag toe Wynand eindelik praat: “Dis nie so onmoontlik nie, oom. Dis waar. Ons twee het jare laas vakansie gehad. Ek kan nie insien hoekom Conrad-hulle se terugkeer dit in die wiele moet ry nie.”
“O. Nou maar as jy dink dit sal reg wees so … Maar wat van die plaas? Jy sit nog sonder voorman. Wie kyk na Rietkuil?” Wynand is stil en oom Fasie waag dit nog ’n trappie verder: “Daarom het ek gedink, al is sy ’n vroumens en al weet ons sy kan g’n alles doen wat ’n man doen nie, kan sy darem hier oog hou terwyl ons weg is. As hier dan iets breek of gebeur wat sy nie kan behartig nie, kan sy darem vir Herman gaan sê. Ons kan hom maar vra om ook hand by te sit as dit nodig word. Maar dan is hier darem iemand wat die plaas al ken en die werkers aan die gang kan hou. Wanneer ons dan terugkom, kan ons weer praat. Teen daardie tyd sal sy ook al self besef het dat sy ’n groter hap afgebyt het as wat sy kan sluk en sal sy tien teen een self weggaan. Dan is alles op ’n mooi manier afgehandel.”
Wynand se frons is terug en oom Fasie hou asem op. Hierdie broerskind van hom is, behalwe natuurlik onhebbelik koppig, ook flink van verstand. Hy wat Fasie is, moet nie die ding oordryf nie, want dan is dit klaarpraat.
Oom Fasie kyk onskuldig terug in die priemende oë. Tot sy verligting draai die oë weg en Wynand staan op. “Ons praat maar weer later. Ek … weet nie … Nag, oom.”
“Nag, seun.” Oom Fasie kyk hom agterna toe hy uitstap en met die gang langs verdwyn, sy oë peinsend.
’n Goeie seun, dié Wynand, maar ai, so koppig en trots en hardekoejawel. En tog … tog kan hy diep seerkry onder daardie kors, hóé seer weet net oom Fasie wat die afgelope vier jaar saam met hom lewe.
Hy sug en steek sy dooie pyp in sy baadjiesak. Hy het nog gans en al nie klaar gepraat nie. Sy voorneme was om vanaand reguit met Wynand te praat oor Melodie en die dinge van die verlede en die kille, afsydige houding wat hy sedertdien teenoor die lewe en vroumense in die besonder opgebou het. Iemand moet dit eendag vir hom sê en oom Fasie voel hy is die man vir daardie takie. Niemand anders sal dit in elk geval ooit waag nie. En hier is daardie dinge nog altyd ongesê en hy kan nie eens vir Niccietjie die versekering en gerusstelling gaan gee dat sy maar gerus kan slaap nie. Die dekselse Wynand het al weer met hom om die bos gespring.
In haar kamer hoor Nicolette hoe die baas van die plaas gereed maak vir ’n welverdiende nagrus. Sy hoor die geraas van lopende water in die bad en skoene wat hard op die plankvloer neerval.
Haar gesig word nog ernstiger. Dit is alles goed en wel om te sê dat dit nie saak maak nie, dat noudat sy die baas van Rietkuil ontmoet het, sy geen begeerte het om hier aan te bly nie, en so meer, maar hier diep in haar weet sy dit is nie so eenvoudig nie.
Haar trots was nog altyd haar ondergang en haar grootste las in die lewe. So het haar pa altyd gesê en so is dit. Haar mond trek wrang. Dit is trots, hoe vreemd en onlogies dit ook al mag klink vir die oningewyde, wat haar laat aansoek doen het vir die betrekking as voorman op Rietkuil. Dit is ’n verterende trots wat haar tot hierdie stap laat oorgaan het ten spyte van haar tweelingbroer se waarskuwings en gepleit. En dit gaan vir daardie trots te veel wees as sy môre moet terugry en erken hy, en andere, was reg.
Daardie trots gaan in die grond en stof lê as sy moet erken dat haar nuwe baas haar summier van sy plaas af gejaag het, hom nie eens die moeite getroos het om haar ’n kans te gee nie. Sy sal moet teruggaan met haar hoed in die hand en voor prokureur Len Beyers gaan staan en erken dat haar ou poginkie om haar en die Bezuidenhouts se trots te red, jammerlik gefaal het. Sy sal moet omdraai en haar kontrei se mense in die oë kyk met die wete dat die Bezuidenhouts se eer in die stof lê, dat sy te swak was om dit te red.
Nee, dit is nie so eenvoudig nie. Sy kan Wynand Hechter se houding nie sommer net ongeërg afmaak nie. Daar is te veel op die spel vir haar. Haar hele menswaardigheid is in gedrang met wat sy haar ten doel gestel het. En was dit nie dat ou Tjorries haar in die steek gelaat het en oom Fasie gekeer het nie, het Wynand Hechter haar binne twee minute ná haar aankoms op die terugpad gehad. Wie dink hy is hy altemit? begin sy weer van voor af stoom optel. Hy is ongetwyfeld een van daardie haatlike mansmense wat dink hy is die koning se hond se stert, tier sy in haar gedagtes voort, die trane van so ewe droog op haar wange.
Toe sy oom Fasie se gestalte skielik in haar kamerdeur sien verskyn, sit sy regop, skakel die bedlampie aan en die ou oom glip vinnig binne en druk die kamerdeur suutjies agter hom toe. Was dit ander omstandighede, sou sy kon lag vir die wyse waarop oom Fasie op sy tone nader sluip, sy vinger waarskuwend voor sy lippe, maar die duiweltjies dansend in die ou oë.
“Sjuut! As Wynand my hier betrap, sit ék môre op die trekpad!”
Sy knik en klap met haar hand op die kant van die bed. “Kom sit, oom. Is daar iets verkeerd?”
Oom Fasie neem plaas en sy oë vernou toe hy haar vlugtig beskou. Sy lyk gans en al nie meer soos ’n rondloper-rabbedoe nie. Ook nie soos ’n skoolmeisie nie. Die tekens van ’n wordende skoonheid is duidelik sigbaar en oom Fasie weet dat as Wynand sy voorvrou nóú moet sien, net mooi niks hom sal beweeg om haar hier te hou nie.
Net ’n oomblik lank is daar ’n bietjie vertwyfeling in oom Fasie se hart. Miskien moet die kind maar liewer terug. Sy is nog bitter jonk en sy ís ’n vrou. Plaaswerk is harde werk en Wynand Hechter ’n harde man met hoë standaarde. Hierdie kind gaan dalk seerkry. Het reeds seergekry … Iets moes haar na Rietkuil gebring het. Dit is ongehoord dat ’n meisie van haar ouderdom as plaasvoorman wil werk. Daar moet ’n goeie rede wees. Haar ouers is dood. En hulle het ’n plaas gehad. Wat het dan nou van die plaas geword? En hoekom moet die dogter van ’n boer met sy eie plaas skielik uitspring en as kneg by ’n ander man werk soek?
Nee, hieragter lê ’n hartseerstorie, daarvan is oom Fasie oortuig. En nou wil hy die kind nog dieper in die moeilikheid laat beland. Want dis nie net om Wynand se plaas te help bewerk dat oom Fasie so gretig is dat sy moet bly nie. Hulle sal wel die een of ander tyd ’n voorman kry. Maar dit is juis die feit dat sy ’n meisie is, jonk en mooi en ’n mens met baie durf wat haar man kan staan, wat oom Fasie laat besluit het sy is direk uit die hemel hierheen gestuur. Want Rietkuil en sy baas het so iemand nodig …
Sy lê hom stil en bekyk en die klein vlammetjie van hoop wat in haar ontbrand het toe sy die buitelyne van oom Fasie se boepmagie in haar kamerdeur gesien het, verdwyn weer. Oom Fasie kon ook niks uitgevoer kry nie. Dit is duidelik.
“Toe maar, oom. Ek sal regkom. Herman lyk my nie onaardig nie. Al sal hy nie vir my werk hê nie, sal hy miskien van iemand weet.”
“Nee, kindjie, nee, dis nog glad nie ’n uitgemaakte saak dat jy nie gaan bly nie,” lieg oom Fasie hoopvol. “Jy moet verstaan dat Wynand niks teen jou persoonlik het nie. Dis maar net omdat jy …”
“Omdat ek ’n vroumens is. Hoekom is hy so allergies vir vroumense, of verbeel ek my dit maar?”
Oom Fasie knik. “Nee, jy het reg. Maar dis ’n lang storie en ek sal dit eendag vir jou vertel.”
Eendag sal ek nie hier wees nie, dink Nicolette, maar swyg liewer. Hoe minder sy in elk geval ook van daardie mansmens af weet, hoe beter. Sy stel tog nie belang in sy persoonlike sake nie.
“Dan is dit nou maar tot daarnatoe, oom. Dankie in elk geval dat oom probeer het.” Die groen oë skitter weer. “Ek dink oom se danige Wynand is bang om my ’n kans te gee om te wys waartoe ek in staat is. Ja, ek dink hy is bang ek sal hom die loef afsteek, hom wys ’n vroumens is net so goed, indien nie beter nie, as hy. Hy is bang hy gaan op sy neus kyk.”
Oom Fasie se oë begin ook blink. Mag, hy het nooit aan daardie argument gedink nie! “Miskien het jy reg, meisie. Sowaar, ek dink jy het!” Hy staan op en kyk teer na haar. Hy was nooit getroud nie. Hy het nie kinders nie. Maar Wynand het vir hom die afgelope jare die seun geword wat hy nooit gehad het nie en … as hy kon kies, sou hy ’n dogter soos hierdie dingetjie hier voor hom gekies het. En sy is ook maar alleen op die aarde, nes hy en Wynand.
Dit is vroeg in die oggend op Rietkuil. Die son luier nog agter die ysterkliprantjies, maar daar is reeds groot bedrywigheid op die skemerwerf.
Die emmers skuimende melk staan gereed in die buitekombuis om afgeroom te word. Op die stoof in die kombuis prut die mieliepap al lankal en wag die stuk boerewors in die oond. Twee perde is reeds opgesaal en wag om veld toe te gaan en daar onder op die lusernlande begin die trekker dreun vir die eerste oes van die somer.
Oom Fasie het net sy tweede beker stomende koffie geskink toe Wynand die kombuis binnestap.
“Môre, oom.”
“Môre, seun. Koffie?”
“Dankie.”
Dit klink nie te bemoedigend nie, maar oom Fasie hou hom ongeërg. Hy kon met die eerste oogopslag sien Wynand het nie vanoggend met die beste voet uit die bed geklim nie. Tog … as ’n ding gesê moet word, moet dit gesê word.
“Jy sal moet besluit voor jy veld toe gaan, Wynand. Die kind moet ook haar dinge reël.”
’n Frons keep diep tussen die wenkbroue in. “Ek bly by my besluit.”
“O. Nou ja, dan sal ek haar maar gaan sê. Nie dat sy iets anders verwag het nie. Sy het gisteraand gesê sy weet jy is te bang om haar te laat bly.”
Die koppie kom hard op die piering neer. “Oom, moenie so vroeg in die oggend met my sukkel nie.”
Oom Fasie lag goedig. “Nee, Wynand, ek sê maar net wat sy gesê het. Jy weet hoe is vroumense. Kan kastig alles doen wat ons kan doen en is danig onafhanklik en so aan, maar op die ou end moet hulle maar erken ons is hul meerdere. Die klein snip! Sy sê sowaar vir my sy sal jou die loef afsteek met boerdery. Jy is te bang om met haar te kompeteer! Ek het maar net gelag en my kop geskud. Dis een ding om ’n ding te sê, maar sy sal darem lelik op haar neus kyk as sy met jóú moet kragte meet. Maar soos ek sê, ek het haar liewer nie geantwoord nie.”
“Bang!” ’n Stoel skraap op die plankvloer. “Bang vir so ’n klein … Waar is sy?”
Oom Fasie lag alte lekker. “Waar dink jy? Nog in droomland, ons flukse klein boertjie. Ook maar goed sy sal haar stellings nie hoef te bewys nie.”
“Dis wat sý dink!”
Dit was kort voor hanekraai dat Nicolette eers regtig ingesluimer het en sy word ru uit hierdie slaap gewek. Die gordyne word voor die venster weggeruk net toe die eerste skerp strale van die son oor die rantjies loer. Toe staan die baas van Rietkuil stewig op sy voete langs die bed geplant, hande in die sye. “Het jy gekom om te boer of om jou te lê en uitslaap?”
Sy knip haar oë en sit regop. “Ek … ekskuus?”
“Ek ry oor vyf minute veld toe. Dan moet jy op die werf wees om jou bevele te kry … en om jou ontwil hoop ek jy kan darem perdry.”
Nog al knipogend sien sy hoe hy hom omswaai en weer verdwyn. Sy probeer haar verstand na nugterheid terugruk. Oor vyf minute … oor vyf minute moet sy haar bevele kry …
Asof ’n bom skielik onder haar ontplof het, skiet sy uit die bed. Nagklere word afgepluk en dieselfde klere van gister word nader geruk. Daar is nie nou tyd vir skoon klere in die tas soek nie. Oor vyf minute moet sy haar bevele kry. Drie hale met die borsel en sy het klaar hare gekam, glip die rekkie oor. Sonder om in die spieël te kyk, is sy gereed.
Sy is reeds op pad kombuis toe, toe iets haar byval, en sy vlieg vinnig by die badkamer in. ’n Voorvinger word voor die tandepastabuis gehou en sy borsel sommer so haar tande en spat haar gesig skoon. Dan hardloop sy die gang af. Die baas van Rietkuil staan reeds by sy perd toe sy nuwe voorvrou voor hom op aandag kom. Oom Fasie se pyp hang vergete in sy mond.
’n Paar koel oë skiet vinnig oor haar. “Die groot kamp se skaap moet almal bymekaargemaak word. Die getalle is in die boek op die lessenaar. Die lammers moet gesny word. Oom Fasie en Simon sal saamgaan.” Hy spring op sy perd, kom by haar verby en kyk dan weer af. “Simon mag nie sny nie. Hy het ’n slegte hand.”
Haar en oom Fasie se oë ontmoet toe die ruiter met die paadjie langs verdwyn. Toe grinnik die oom.
“Dit sal bars gaan vandag, voorvrou! Hy het jou die grootste kamp gegee om bymekaar te maak en te merk. Die son sal vanaand vir ons ondergaan.”
Sy glimlag terug. “Ek is nie bang nie …”
Maar toe die skemer oor die Karoovlakte begin toesak, moet sy met alle mag teen die trane van uitputting stry. Die bees, tier sy swyend in haar hart toe sy eindelik langs oom Fasie in die bakkie inskuif. Dis g’n kamp wat sy vandag moes deurwerk nie. Dis so groot soos ’n hele plaas!
Sy leun agteroor en sluit haar oë terwyl oom Fasie met die slegte veldpaadjie aansukkel met Simon en die twee perde agterna. Daar is nie ’n vesel in haar liggaam wat nie pyn nie en sy moet keer om nie hardop te kreun wanneer die bakkie stampend oor die dwarswalle gaan nie.
Sy het maande laas perdgery. Sy het so te sê op ’n perd se rug grootgeword en is beskou as die knapste vroueruiter van die kontrei waar sy gebore en getoë is. Maar haar lewe was so ontwrig sedert haar pa se dood dat daar nie tyd was vir perdry nie. Sy kan aan die geskaaf van die growwe materiaal van haar langbroek voel dat sommige dele beslis sonder vel is. Daar is twee kolle wat brand asof vuurkole daarteen gedruk word.
Verder is sy so honger dat sy gerus ’n os kan opeet. Sy het gisteraand laas geëet. In hul haastigheid om die baas van Rietkuil se bevele stiptelik uit te voer sodat hy geen rede tot kritiek kan hê nie, het nog sy of oom Fasie daaraan gedink om kos, of selfs net ’n bietjie koffie, saam te vat nie. Boonop voel sy taai en vuil en besmeer en is vir die honderdste keer spyt dat Wynand Hechter nie maar liewer by sy eerste besluit gebly het en haar die trekpas gegee het nie. Dan sou sy nie nodig gehad het om nou so ’n lyding te verduur nie.
Oom Fasie is ook stil. Hy voel self gedaan. Nugter weet hoe die stukkie mens hier langs hom moet voel. Hy het met die bakkie na die groot kamp gery en maar net heeldag staan en kyk hoe sy werk, want van boerdery weet hy nie veel nie. Hy was ’n onderwyser op sy dae. Verder laat sy ou bene nie toe dat hy rondspring agter speenoud lammers nie.
Maar hierdie klein rabbedoe wat nou so vuil en gedaan langs hom sit, sit van vanoggend ligdag af in die saal, het eers die hele kamp bymekaargemaak, en moes toe lammers vang en sny tot die son weer gesak het. En daar was geen blaaskans nie, anders sou hulle nooit klaargekry het nie. Hoewel hy die hele tyd staan en kyk het, weet hy nie hoe daardie twee handjies deur al die werk gekom het nie. Nietemin, dis gedoen en wat meer is, die getalle klop met Wynand se getalleboekie. Hoe bitter dit ook al gegaan het, hy sal geen kritiek op sy voorvrou te lewer hê nie.
Maar dat dit amper haar lewe gekos het, is duidelik vir die twee mans wat rustig op die voorstoep van Rietkuil se opstal sit toe die bakkie eindelik op die werf stilhou en die insittendes uitklim. Vir albei mans is dit duidelik dat veral een beswaarlik kan beweeg en Herman frons liggies.
“Watter kamp het jy gesê het sy vandag gedoen?”
Daar is ’n skewe glimlaggie in die een mondhoek terwyl die stip oë elke pynigende tree dophou. “Die groot kamp.”
Herman frons nou openlik en sy blik is beskuldigend. “Ek gee nie om dat jy haar probeer afskrik nie. Ek sal haar met vreugde ontvang. Maar dis nie nodig om haar te probeer doodmaak nie.”
Koel oë draai na hom. “Ek betaal haar ’n groot salaris en sy gaan werk daarvoor. En moenie jy ook broeis raak nie. Oom Fasie is al erg genoeg.”
“Ja, maar … deksels, Wynand, sy is darem ’n mens van vlees en bloed.”
“Ja. En sy het gesê alles wat ek kan doen, kan sy ook doen en beter. Ek het daardie kamp al tientalle kere in my lewe alleen deurgewerk … en ek is ook van vlees en bloed.”
“Ek wonder,” brom Herman ontevrede en staan vinnig op toe die gestaltetjie al sukkelend met stywe bene die stoeptrap opklim. “Hallo, meisie.” Sy oë is sag toe hy op die verwese gesig met die bloedspatsels afkyk en hy verwens sy vriend innerlik. Hy en Wynand het nog nooit onenigheid gehad nie, maar daar is altyd ’n eerste keer. “Kom, ek help jou,” bied hy simpatiek aan en buk om haar die laaste treetjies op te tel en te dra, maar ’n bloedstollende gil laat hom in ’n half gebukkende houding versteen.
“Moenie aan my raak nie! Moenie vat nie!”
“Maar … Meisie, wat makeer? Het jy seergekry?”
Ysige, gloeiende oë kyk na die man wat rustig sy bier na sy mond bring. “Nee, ek makeer niks nie, behalwe dat ek nie velle het nie. Vat weg jou hand! Ek sê mos dis rou daar.”
Herman laat sy hand soos ’n warm patat sak en die patroontjie beweeg hinke-pinke vorentoe en vat die bierglas voor Wynand se lippe weg. Stil kyk die drie mans toe terwyl sy die glas so te sê met een teug ledig en dit dan hard op die tafeltjie neersit. Sy vee haar mond met die agterkant van haar hand af en sê: “Die getalle klop. Daar is niks verkeerd nie en al die lammers is gesny.”
Haar baas knik net en moet haar dan vinnig vang toe sy met ’n snaakse draaibeweging omkantel. Haar oë is so groot soos pierings hier digby Wynand se gesig. “Wat … makeer nou … met my?”
“Ek dink jy is dronk. ’n Mens sluk nie drank met een teug op ’n leë maag af nie.”
Die groen oë wil kwaai kyk, maar dit is al of hulle uit fokus is.
Toe tel die baas van Rietkuil sy bekwame voorvrou op en beveel kortaf: “Lê stil. Ek sal versigtig wees om nie te vat waar dit rou is nie.” In haar kamer word sy versigtig op die bed neergesit.
“Ek sal salf bring.” Sy lê nog met toe oë toe hy weer verskyn en hulle vlieg vervaard oop toe hy droog sê: “As jy ’n voorman was, kon ek jou nou help en die salf aansit, maar …”
“Nee! Gee hier!” Sy gryp die potjie salf uit sy hande en probeer so waardig moontlik orent kom. “Ek sal regkom … dankie.”
Sy het regtig te seer om te kyk hoe lyk haar nuwe baas wanneer hy die slag breed glimlag. Al waarvan sy bewus is, is dat sy haar broek, wat al op twee plekke vaskleef aan haar rou vleis, sal moet afkry.
’n Ruk later staan ’n teleurgestelde Herman op en groet. “Sê maar vir haar ek het haar motor gebring. Dit staan in die waenhuis. Dit lyk my nie sy gaan weer te voorskyn kom nie. Ook geen wonder nie,” voeg hy skimpend by, maar dit rol soos water van ’n eend se rug af.
“Ek sal haar sê, dankie, Herman,” laat oom Fasie hoor, ook vanaand opmerklik koel teenoor die baas van die plaas. “Die arme dingetjie het sommer dadelik aan die slaap geraak, vertel ou Griet my. Sy het vir haar kos geneem en toe gehelp om in die bed te kom.”
“Goed, oom Fasie. Nag, oom.” Dan, half onwillig: “Nag, Wynand.”
“Nag, buurman.”
Oom Fasie sug toe Herman wegtrek en draai dan om. “Griet wag met aandete, Wynand. Ons moet maar gaan eet, want ek wil ook gaan lê. Dit was ’n lang dag. Jy kon Herman maar gevra het om te bly vir ete.”
“Ja, ek kon, maar twéé kinderoppassers is seker onnodig. Ek wil nie eet nie. Nag, oom.” Die groot gestalte verdwyn in die aanddonkerte.
Oom Fasie gee ’n verontwaardigde snork. In sy gedagtes voeg hy by: Ek wens jou gewete ry jou bloots!
Maar lank nadat oom Fasie ook in droomland is, dwaal die baas van Rietkuil nog rond, word een pyp na die ander opgesteek en is dit ’n grimmige maar vasberade man wat eindelik bedwaarts keer.