Читать книгу Die ongebore uur - Ena Murray - Страница 3

Оглавление

1

“Ek wil graag met Pa en Ma gesels as julle ’n paar minute vir my het.”

Sy het onmiddellik haar ouers se volle aandag. “Natuurlik, Inge. Wat is dit?”

Maar sy kyk eers vraend na haar pa. “Dis tyd vir Pa se aandrondte. Dit kan wag tot ná aandete as Pa nie nou tyd het nie.”

“Ek het nog ’n paar minute as dit nie ’n te lang gesprek gaan wees nie,” antwoord haar pa. Hy frons liggies. Sy dogter lyk baie ernstig.

“Wel, ek noem dit net vinnig. Julle kan dan op julle tyd daaroor dink en ons kan dit later bespreek.”

Elke kyk haar dogter nuuskierig aan. “Liewe land, Inge, dit klink baie geheimsinnig. Uit daarmee!”

Die jong meisie glimlag maar haar oë is effens ontwykend – asof sy nie seker is of dit wat sy gaan kwytraak, byval sal vind nie. “Dis niks dramaties nie, Ma. Ek is net lus om my studie oorsee voort te sit en . . . en ek het gewonder of julle daarmee sal saamstem.”

Daar is ’n oomblik stilte terwyl haar ouers haar verbaas aankyk.

“Oorsee? Hoekom?” wil haar ma verward weet. Sover haar kennis strek, is haar dogter heel gelukkig by die Universiteit van Kaapstad.

“Sommer net. Ek . . . is sommer net lus om dit te doen.”

Haar pa se oë is ondersoekend. Verbeel hy hom of hou Inge iets terug? “Dis nie eintlik ’n antwoord nie, Inge. Dis dus net ’n skielike gier wat binne ’n paar dae weer kan oorwaai.”

“Nee, dit sal nie,” sê sy vinnig, miskien ’n bietjie te vinnig. “Ek speel al lank met die gedagte. Ek het ook intussen navraag gedoen.”

Haar pa se wenkbroue lig. “Dit kan dus gedoen word? Jy kan by ’n oorsese universiteit gaan klaarmaak?”

“Ja. Dis moontlik, hoewel hulle in Duitsland anders as hier by ons te werk gaan.”

“Duitsland? Dan het jy reeds op die land besluit?” Horst Buchner se frons is nou pertinent. Die gier, soos hy dit sien, het reeds verder gevorder as wat hy vermoed het.

“Ja. Ek wil graag Hamburg toe gaan.”

“Hoekom Hamburg? Hoekom nie München nie? München bied jou tog baie meer. Daar is ’n wonderlike kulturele lewe . . . teaters, operas . . .”

“Pa, ek gaan studeer, nie rinkink nie.”

“Maar as jy sulke byvoordele kan kry terwyl jy studeer . . .”

“Pa, maak dit regtig vir Pa saak by watter universiteit ek in Duitsland kwalifiseer?”

Hy kyk sy dogter aan, kry weer die gevoel dat hier meer agter steek as wat op die oog af sigbaar is.

Elke spring vinnig tussenbeide. “Hoe sal dit jou studie affekteer? Dit gaan ’n groot aanpassing van jou verg, my kind. Jy sal baie hard moet werk.”

“Ek gee nie om nie.”

Hulle kyk na haar, wetende dat sy hard kán werk. Oor haar studie is daar geen onsekerheid in die ouerharte nie. Al sou sy ná ’n jaar besef sy het ’n te groot hap afgebyt en terugkeer, sal die ervaring wat sy daar opgedoen het, haar net goed doen. Oor die skielikheid van haar besluit voel hulle egter nie gerus nie.

Inge kyk haar ouers pleitend aan. Hulle mág nie weier, nie! Sy het haar hart daarop gesit om te gaan. Maar hulle wil ’n rede hê . . . Sy weet dat wat sy nou gaan sê nie die rede is hoekom sy skielik ’n dringende behoefte het om haar mediese studie in Duitsland te voltooi nie. Maar dis die enigste aanneemlike rede wat sy nou kan aanvoer.

“Pa . . . Ma . . . asseblief, moenie seergemaak voel nie. Julle was nog altyd dierbare ouers vir my. Dis heerlik om by julle te wees en dis baie gerieflik vir my om uit my ouerhuis te studeer. Maar ek voel net ek wil ’n slag wegkom, op my eie bene staan . . . Ek is twee-en-twintig en ek was nog nooit weg uit die huis nie. Dis nie dat ek van julle wil wegkom nie . . .”

Haar ma se oë verteder met begrip maar tog ook met ’n tikkie weemoed daarin. Het sy en Horst werklik geglo dat hierdie kind van hulle vir altyd en altyd onder hul vleuels sal skuil terwyl sy self vlerke het wat sy wil span? “Ons verstaan, Inge. En jy het ook die volste reg om dit te wil hê. Daar kom ’n tyd dat die klein voëltjie grootword en sy vlerke wil sprei en die nes verlaat,” sê sy met haar oë op haar man se fronsende gesig. “Ons mag haar nie terughou nie, Horst.”

Hy reageer nie hierop nie, sit net ’n arm om sy vrou se skouers, druk haar teen hom vas en soen haar voorkop vlugtig. “Ons praat later weer. Ek moet nou eers kliniek toe.”

Toe hy uit is, ontmoet ma en dogter se oë en haar skuldgevoel laat Inge die aanspreekvorm van haar kleindae gebruik: “Mamma verstaan mos?”

Elke glimlag dapper, lê haar handpalm teen die jong wang. “Mamma verstaan, skat. Moenie sleg voel nie. Eintlik moet ek en jou pa baie dankbaar wees dat ons jou twee-en-twintig jaar lank in die huis kon hê. Dis ’n voorreg wat min ouers beskore is. En jy was so ’n wonderlike dogter vir ons . . . en so ’n groot troos. Natuurlik gun ons jou ’n lewe van jou eie. Dis een van die dinge wat ’n ouer in die lewe moet aanvaar – dat jou kind grootword en sy eie pad gaan stap. En geen ouer het die reg om ’n kind daarvan te weerhou nie.”

“Ma!” Inge sluk. O, dié dierbare ma van haar! As sy net weet . . . “Ma praat asof ek vir ewig weggaan en nooit weer huis toe kom nie! Maar niks het eintlik verander nie. Die twee of drie jaar wat ek weg sal wees van die huis is maar net ’n tussenspel. Ek kom terug sodra my studie voltooi is en ek kom in die Meissner-kliniek werk saam met Ma en Pa soos ek van kleins af gesê het ek gaan. Dááraan hoef Ma nooit te twyfel nie.”

Maar terwyl Elke in die kombuis doenig raak met die aandete, is daar onrus in haar hart. Want sy dra eerstehandse kennis van die feit dat die mens sy planne maak en doodseker is dat dit sal uitwerk . . . totdat al daardie planne en sekerheid skielik op ’n dag aan skerwe lê.

Wat as haar enigste kind die man van haar hart daar oorkant ontmoet en nooit weer terugkom nie? Nie dat sy rede het om haar in daardie rigting te bekommer nie. Inge het reeds gewys dat sy ’n koelkop is wat haar aandag aan haar studie wy. Maar dit kan gebeur. Sy is ’n pragtige meisie. Met haar pa se lenige gestalte en haar ma se kopergeel hare en blou oë, is sy ’n imponerende vrou wat beslis ’n aanwins sal wees in die Meissner-kliniek se gange.

O, maar sy gaan haar mis! Sy voel die branding van trane agter haar ooglede en sluk hard. Maar sy durf nie selfsugtig wees nie.

Hulle het Inge lank genoeg in die huis gehad, miskien te styf vasgehou, dink sy skuldig. Veral ná klein Albert se dood was sy die spil waarom die hele huis gedraai het. Inge was die middelpunt van haar en Horst se bestaan, afgesien van hul toewyding aan oupa Albert se kliniek. Miskien is dit juis die rede hoekom Inge skielik hierdie gier ontwikkel het. Sy het gesê sy tob al lank daaroor. Miskien voel hul dogter lankal sy word doodgesmoor en doodgewurg deur haar ouers, veral ná haar boetie se dood. Miskien het dit werklik vir haar nood­saaklik geword om ’n bietjie weg te breek.

Ook haar man tob oor dieselfde kwessie op pad terug huis toe nadat hy sy kliniekrondtes afgehandel het. Hoewel hy en Elke probeer het om Inge nie totaal op te slurp nie, moet hy erken dat hulle drie ’n baie nou sirkel gevorm het ná klein Albert se dood. Toe die twaalfjarige Albert, sy oupagrootjie se oogappel en die vanselfsprekende erfgenaam van die Meissner-kliniek, ná ’n stryd teen klierkanker sterf, het net die sewejarige Inge oorgebly op wie hulle hul liefde en drome kon uitstort. Vir Elke en Horst Buchner sou daar nie weer ’n kind gebore word nie, want Elke is gesteriliseer ná komplikasies met Inge se geboorte. Al die drome en ideale en liefde wat vir klein Albert gekoester was, is na Inge oorgeplaas. Miskien het hulle haar onwetend daaronder versmoor.

Hy tref sy vrou in die kombuis aan en toe hy in haar oë kyk, weet hy presies hoe sy voel.

“Horst, ons mag haar nie terughou nie.”

Hy knik. “Nee, ek besef dit. Ek het ook werklik niks daarop teë nie. Dis net . . .”

Hy soek na die regte woorde en Elke glimlag, lê haar handpalms teen sy bors en sê met begrip: “Ek weet. Jy is bang sy kom nie terug nie. Jy is bang die kliniek gaan haar verloor.”

“Dit kan gebeur.”

“Dit kan, ja, maar sy het my die versekering gegee dat sy terugkom, dat sy beslis terugkom na die Meissner-kliniek toe.”

“Ek hoop sy onthou dit.”

Meer om haar eie vrese te besweer, sê sy: “Ek dink werklik ons bekommer ons oor niks, my man. Van kleins af is sy en klein Albert deur oupa Albert gedril vir die toekoms wat op hulle wag. Onthou jy, hulle was nog nie eens in die skool nie, maar as iemand hulle gevra het wat hulle eendag gaan word, was die antwoord altyd summier: ’n Dokter, natuurlik! Hulle het in die gange van die kliniek grootgeword.” Getemperde hartseer flits vlugtig in die mooi blou oë. “Vir klein Albert was dit nie beskore nie, maar Inge is op pad om haar kinderdrome te bewaarheid. Sy is in murg en been ’n dokter en sy is van plan om eendag aan die hoof van die Meissner-kliniek te staan, net soos haar oupagrootjie haar vertel het dit sal wees. Ek dink nie ons besef aldag watter geweldige houvas die kliniek op haar het nie.”

“Ja. Alles wat sy doen en bereik, wentel om die kliniek en om eendag aan die hoof daarvan te staan. Daaraan twyfel ek nie. Laat ons hoop dat dit nie sy houvas op haar sal verloor wanneer sy haar in die vreemde bevind nie.”

“Dit sal iets baie besonders moet wees wat haar van die Meissner-kliniek sal laat vergeet. Sy is eintlik ’n bietjie behep daarmee. Ons weet dit albei. Onthou jy, op ’n tyd het sy bly karring dat dit ’n sonde is dat die Meissner-naam by oupa Albert uitgesterf het en dat daar nooit weer ’n Meissner aan die hoof van die kliniek sal staan nie. Sy het my soms skuldig laat voel dat ek, toe ek gebore is, nie van die manlike geslag was nie!”

Haar man glimlag. “Ja, ek onthou. Ons moes haar herhaaldelik daarop wys dat as daar nie ’n manlike Meissner gebore is nie, hy nie gebore is nie. Maar sy het daarteen bly skop, bly sê dis nie reg nie, dis nie regverdig nie.”

“Ja. Weet jy wat sy eenkeer vir my gesê het? Dat as klein Albert geleef het, hy sy van na Meissner behoort te verander het.”

Horst frons. “Het sy werklik só sterk daaroor gevoel?”

“Ja. Sy was toe in matriek. Ek het haar daarop gewys dat dit nie sommer net vir naamsverandering is nie. Jy moet ’n goeie rede hê voordat dit toegelaat word, en een van die redes wat nie aanvaar sal word nie, is ydelheid. Sy het haar baie vererg vir my. Sy het my daarop gewys dis nie ydelheid nie, maar ’n tradisie wat behou word, ter wille van oupa Albert behou behoort te word.” Sy hou ’n bak na haar man toe uit. “Sal jy dit vir my inneem tafel toe? Ag, my man, ons hoef nie te vrees dat Inge die Meissner-kliniek sal prysgee nie. Dit loop te dik in haar bloed.”

Dit is ook die een ding waaroor Inge se ouers wel volslae sekerheid kan hê. Hulle sou egter geskok gewees het as hulle kon weet dat hierdie skielike gier van haar wel deeglik met die Meissner-kliniek en sy toekoms te doen het. Hulle sou haar beslis minder goedgelowig op die lughawe afgesien het as hulle kon raai dat hierdie geen gier is nie, maar dat hul dogter met ’n spesifieke doel voor oë na Duitsland vertrek, die voltooiing van haar studie eintlik bysaak.

Inge pas gou aan in die nuwe land. Sy werk van meet af aan baie hard en hou haar ore en oë oop. Haar blik dwaal altyd soekend tussen die duisende studente deur en sy spits haar ore vir ’n sekere van. Sy voel soms bekommerd dat sy die van nog nie op die kampus raakgeloop het nie. Feit is, haar navorsing het getoon dat die Meissners se bakermat Noord-Duitsland is . . .

So gaan agtien maande verby en hoewel sy ’n paar Meissners raakloop, toon verdere navrae dat nie een van hulle aan haar vereistes voldoen nie. Want dit moet ’n besondere Meissner met ’n spesifieke beroep wees . . .

Inge is nie onnosel nie. Sy besef dat sy die dag wanneer haar studie klaar is, dalk onverrigter sake na haar land sal moet terugkeer. Soms vertel haar gesonde verstand, waarvan sy beslis genoeg het, haar dat sy van hierdie obsessie – want dit is wat dit is, en sy het dit ook lankal ruiterlik aan haarself erken – moet afsien. Tog bly daar ’n koppigheid in haar vassteek en kan sy haarself nie verhelp as iets in haar steeds soekend bly nie. Dis daardie koppigheid wat haar dan laat redeneer: hoekom nie? As hy haar geval, én die ideale persoon blyk te wees vir haarself en die kliniek, hoekom nie?

Sy is reeds in haar laaste jaar, toe hy op ’n dag skielik voor haar in die lesingsaal staan. Sy sien die lang, blonde man na die podium stap en haar aandag is dadelik vasgevang.

Toe stel hy homself voor. “Goeiemôre, dames en here. Ek is dokter Meissner. Aangesien professor Müller ongesteld is, sal ek die volgende ses maande sy lesings behartig. Goed, ons val in op bladsy driehonderd-en-tien.”

Haar boek bly ongeopen voor haar lê. Sy sit roerloos, kyk net, bestudeer net, luister net en . . . wonder . . . Toe begin haar hart in haar tamboer.

Meissner. Eindelik staan ’n dokter Meissner voor haar en instink vertel haar hy is die man na wie sy soek. Haar mond voel droog en haar verstand waarsku haar: Stadig, Inge. Hy kan getroud wees. Natuurlik is hy al getroud. Hy moet wees. Sy skat hom so drie-en-dertig. Maar die opgewondenheid in haar wil nie tot bedaring kom nie. Hy mág nie getroud wees nie!

Dis die een lesing waarvan Inge, die konsensieuse student, later sou getuig sy nie ’n woord gehoor of ingeneem het nie. Vir die res van die dag en so ook daardie aand, gebuk oor haar lesings, kos dit uiterste wilskrag om haar aandag by haar studie te bepaal. Hoe kan sy meer oor hom uitvind? Wat kan sy doen dat hulle persoonlik ontmoet? Hoe kan sy dit bewerk dat hy haar raaksien?

Meteens is die voor die hand liggende oplossing voor haar: Sy moet sorg dat sy uitblink in sy vak. As hy vrae te stel het, moet sy sorg dat sy die antwoorde ken en vinnig reageer. En op ’n dag kan sy agterbly ná ’n lesing om ’n vraag oor ’n sekere aspek te vra . . . en dan kan sy so terloops laat val dat hulle miskien uit die ver verlede familie is . . . Dit behoort sy belangstelling te prikkel. As sy hom net sover kan kry om haar raak te sien!

Met hernieude ywer begin sy weer studeer. Veral aan ’n sekere vak gee sy spesiale aandag en die blonde meisie met die blou oë is vinnig om antwoorde te verskaf in die lesingsaal. Die jong lektor kan nie anders as om op te merk met watter intense belangstelling sy elke woord van hom volg nie, en toe sy op ’n dag langs hom huiwer terwyl die lesingsaal leegloop, vind hy dit nie vreemd dat sy nog ’n vraag te stel het nie. Met ’n goedkeurende lig in sy oë gee hy die nodige verduideliking. As al die studente maar so toegewyd was soos hierdie jong dame!

“Verstaan u nou, juffrou . . . e . . .”

“Buchner. O, ja, dokter, baie dankie. Ek is jammer as ek van u tyd geneem het . . .”

“Geensins, juffrou Buchner. Ek is altyd bly om te sien dat my studente vir hulself kan dink en kan redeneer. U is welkom om my te enige tyd te nader as u so voel.”

Hierdie gaping kan sy nie onbenut laat verbygaan nie. “Dankie, dokter. U is baie gaaf.” Sy glimlag in die goedige blik op. “Ek het ’n vermoede dat ons verlangs familie kan wees, as u my sal verskoon dat ek dit ophaal.” Die man kan dalk dink sy word nou voorbarig.

Maar hy dink nie so nie, vra belangstellend: “Werklik? Buchner . . .?”

“Nie van die Buchners se kant af nie. My oupagrootjie was ’n Meissner wat oorspronklik van hierdie gebied gekom het. Hy het as jong kind saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer en later die Meissner-kliniek gestig.”

“Die Meissner-kliniek?” Hy klink verras en sy het nou sy volle aandag.

Daar is onverbloemde trots in haar stem. “Ja. Hy was Albert Meissner. Dan het u al van die Meissner-kliniek in Suid-Afrika gehoor?”

“Maar beslis. Dis baie interessant, juffrou Buchner. Ons Meissners is nie só volop nie, en ons sal seker verlangs familie wees.” Hy glimlag op haar af en sy hoop maar net hy kan nie die wilde bonsing van haar hart hoor nie. Sake vorder . . . “Vandaar u belangstelling in die mediese wetenskap. Ek neem aan u beoog om ook eendag in die beroemde kliniek van u oupagrootjie te werk?”

Sy glimlag selfversekerd. “Sodra my studie hier voltooi is, stap ek by die voordeur in.”

“Gelukkige meisie,” knik hy. “Jy is bevoorreg.”

“Ja. Ek besef dit. My ma is ’n kleindogter van Albert Meissner en sy en my pa is gesamentlik in beheer van die kliniek. Ek sal eendag by hulle oorneem.”

Sy wenkbroue lig effens. “Het u nie broers of susters nie?”

“Nee. Ek is die enigste kind. O, genade, ek is laat vir my volgende lesing. U sal my moet verskoon, asseblief.”

Hy kyk haar peinsend agterna, laat sy blik dan sak. Interes­sant . . .

Terwyl sy haar plek in die volgende lesingsaal inneem, voel Inge baie tevrede met haarself. Sy het hom genoeg gegee om oor na te dink. Sy is seker hy gaan haar die volgende keer eerste nader.

Sy is nie verkeerd nie. Ná sy volgende lesing keer hy haar voor toe sy uitstap.

“O, juffrou Buchner, as u ’n oomblik te spaar het . . .” Toe sy hom bereik, vra hy: “Het u nou dadelik ’n lesing?”

“Nee. Eers vanmiddag weer.”

“In daardie geval . . . Ek het gewonder of u nie ’n koppie koffie saam met my wil gaan drink nie?”

“O, dit sal lekker wees, dankie.”

Hy neem haar nie na die gewone saamdromplek van die studente nie, maar na ’n klein restaurantjie waar hy vir hulle albei koffie bestel en vir haar ook appeltert met room.

Hy glimlag goedig. “Natuurlik moet jy iets eet. ’n Student is altyd honger. Ek weet!”

“Maar wat van jou?” vra sy nou ook op informele toon.

Hy skud sy kop. “Nee, dankie. Daar wag vir my ’n groot middagmaal. Ek kan nie nou iets eet nie. Maar geniet jou appeltert gerus.”

Sy voel haar hart in haar skoene sak. Dan is hy getroud.

Hy sien die verandering op haar gesig onmiddellik. “Wat is verkeerd?”

“O, niks. Niks nie. Dis net . . .” Sy tas wild in haar gedagtes rond. “Ek verlang huis toe vandag.”

“Dan het ek reg bestel. Daar is niks so goed vir verlange as ’n groot stuk roombedekte appeltert nie!”

Sy lag. Hy is regtig gaaf. Jammer die man is getroud . . . Baie jammer . . . Haar gesig versober weer by hierdie gedagte en hy kyk haar begrypend aan. Sy is ver van die huis af, eintlik heeltemal alleen in ’n vreemde land. En sy is nog jonk . . .

“Hoe oud is jy, Inge, as ek mag vra en jou so mag noem?”

“Natuurlik. Ek is nie skaam – of moet ek sê: nóg nie skaam? – vir my ouderdom nie,” terg sy en doen haar bes om oor haar teleurstelling te kom. “Ek is amper vyf-en-twintig.” Sy is oorbewus van die feit dat hy weet wat haar naam is. Dan het hy tog belanggestel, genoeg belanggestel . . . Sy vang haar onderlip vas. Dis jammer, want dis so vergeefs . . .

“En ek mag jou maar Inge noem?”

“Natuurlik.”

“My naam is Günther.” Sy kyk na hom en hy vervolg toe sy nie dadelik reageer nie: “Ek is seker al oud in jou oë, maar jy mag my maar op my voornaam noem.”

“Hoe oud is jy?” vra sy vrymoedig.

“Op pad vyf-en-dertig toe. Tien jaar ouer as jy.”

“Dit maak nie saak nie.” Sy swyg vinnig. Nee, dit sou nie saak gemaak het as . . .

Hy sit haar stil en bestudeer, vra dan versigtig: “Is die groot verlange huis toe of na ’n spesifieke persoon?”

Sy skud haar kop. “Daar is geen spesifieke persoon nie. Ek is te besig met my studie. Die Meissner-kliniek stel baie hoë eise en die feit dat ek Albert Meissner se agterkleinkind is, verseker my nie vanselfsprekend ’n plek daar nie. Ek moet my as dokter bewys.”

“Maar jy het my laat verstaan dat jy die erfgenaam is.”

“Net as ek my plek vol kan staan. Jy ken nog nie my ouers nie. Ek het dit van kleins af gehoor. Ek moet die amp waardig wees of . . . Daarom het ek tot dusver nie tyd gehad vir ander dinge nie. Ek moet my voorberei vir die toekoms.”

Sy oë is stip. “Dis vir jou baie belangrik, is dit nie? Dat jy eendag aan die hoof van die Meissner-kliniek sal staan?”

“Dit was nog altyd die belangrikste ding in my lewe,” antwoord sy onomwonde. “Jy sal verstaan as jy eers daar was, alles gesien het; die atmosfeer ervaar het, die . . . Dis moeilik om te verduidelik. Jy moet dit self ondervind. In die gange stap. By Albert Meissner se borsbeeld in die ingangsportaal stilstaan . . .”

“Ek gaan jou een aand huis toe nooi sodat ons verder kan gesels. Ek wil graag meer hoor van die Meissners in Suid-Afrika.”

Sy aarsel. Sy voel nie daarna om hierdie man beter te leer ken as hy reeds ’n vrou het nie. Hy dien dan vir haar geen doel nie. Maar hoe kan sy summier weier? Sy het immers eerste die familieverband opgehaal.

Hy sien haar aarseling, vervolg: “Ek verseker jou daar is geen bymotiewe nie.”

Sy voel verleë onder sy spottende blik. Hierdie man is soveel wyser as sy, het soveel meer mense- en lewenskennis as sy. Hy sal seker die stuipe kry as hy moet weet hoekom sy hom in die eerste plek genader het. Sy voel vererg toe sy voel hoe ’n warmte oor haar gesig stoot. Sy protesteer vinnig: “Ek het nie gedink . . . ek bedoel . . .”

Hy lag, lê sy hand oor hare op die tafel. “Toe maar. Ek weet. Ek terg jou maar net ’n bietjie. Ek begryp jou program is seker baie vol. Benewens jou studie, bedoel ek. ’n Meisie soos jy . . .” Sy blik gly oor haar gesig, oor die gedeelte van haar lyf wat sigbaar is. Sy is so mooi en so jonk . . . so ongeskonde! En so onervare! Hy ervaar skielik ’n drang om haar te vat en êrens te gaan wegsteek waar die lewe en sy ontnugtering en gebroke drome haar nie kan bykom nie.

“Natuurlik sou ek graag een aand wou oorkom as dit u pas, dokter.”

Sy wenkbroue lig. “Hoekom skielik weer so formeel? Familie noem mekaar op die voornaam, dan nie?”

Weer voel sy verleë, wens sy uit haar hart hy was nog ’n vrygesel. Hy sou so ideaal by haar plan ingepas het.

Soos ’n soet kind gehoorsaam sy: “Dankie, Günther. Ek sal graag kom.”

“Dis beter. Kom ons reël dit sommer nou. Watter aand pas jou? Vir my is enige aand reg. Kies jy.”

“Vir my ook eintlik.”

“Wel dan? Môreaand?”

“Maar moet jy nie eers by jou vrou uitvind of dit haar pas nie?”

Sy sien sy gesig verstil. Dan kom sy stem egalig: “Ek het nie ’n vrou nie.”

“O.” Sy bid net dat haar groot verligting by die aanhoor van hierdie woorde nie in haar impulsiewe uitroep weerklank vind nie. Dis te goed om waar te wees!

“Dan maak ons dit môreaand. Sal ek jou kom oplaai?”

“Dis nie nodig nie. Ek het ’n motor. Gee my net jou adres.”

Ná hierdie gesprek sukkel Inge om haar volle aandag by haar lesings en studie te bepaal. Veral in die lesingsaal waar Günther Meissner die volgende dag op die podium is, vind sy dit amper onmoontlik om te konsentreer op wat daar gesê word. Want Günther Meissner word van hoek tot kant, van bo tot onder beskou, bestudeer, opgeweeg teen die standaarde wat deur die Meissners aan die suidpunt van Afrika gestel word . . . en elke keer kom hy met vlieënde vaandels daarvan af. Koelkop word elke aspek in oënskou geneem, van nader bekyk en getakseer, net soos ’n boer baie versigtig die stoet­ram op die veiling deurkyk om seker te maak dat hy waarde vir sy geld kry. Sy glimlag effens by haarself. Wat ’n vergelyking! Maar dis eintlik presies wat dit is. Sy is besig om ’n stoetram vir die Meissner-nageslagte uit te soek. Sy is bereid om haarself te gee vir haar ideaal, maar dit moet die moeite werd wees.

“Juffrou Buchner . . .”

Sy knip haar oë vinnig, dwing haar gedagtes terug na die werklikheid. “Ekskuus, dokter?”

Daar is ’n fyn glimlaggie in sy oë, maar sy stemtoon is formeel: “Ek het u gevra . . . Toe maar. Maar gee tog aandag, asseblief! Ek herhaal wat ek pas gesê het . . .”

Toe sy die lesingsaal verlaat, is hy kort agter haar en hoor sy sy gedempte vraag: “Alles nog reg vir vanaand?”

Sy knik, stap aan en wens die lang dag wil verbygaan.

Daardie middag bank sy ’n lesing en troos haarself daaraan dat dit die eerste keer in haar akademiese loopbaan is dat sy so iets doen. Sy sal die aantekeninge by een van die ander studente kry. Sy gaan winkels toe en dit kos soek om die regte rok te kry. Toe sy haarself daardie aand in die spieël betrag, voel sy steeds onseker. Is dit nou die regte rok vir die geleentheid? Hy het haar bloot genooi om hul familiegeskiedenis te bespreek. Tog het haar keuse op hierdie rok geval omdat sy wil hê dat hy haar moet raaksien as vrou, nie as die mediese student wat hy elke dag in die lesingsaal sien nie. Dis ’n pragtige rok, en eintlik gans te duur vir ’n student se sak. Dis die sagste blou met eenvoudige, klassieke lyne en ’n los bostuk wat oopskuif om die vroulike rondings subtiel ten toon te stel. Sy maak die bostuk los en laat dit oor haar skouers na agter gly. Dis nie die soort rok wat sy al ooit vir haar gekoop het nie, wat sy al ooit gedink het om aan te skaf nie. Dis te . . .e . . . onthullend. Selfs nou voel sy ongemaklik terwyl sy na haarself kyk. Sy kan haar voorstel wat haar má sou kwytraak as sy haar nou moes sien! Maar dan . . . dis ’n belangrike aand vanaand, van die uiterste belang. Vanaand sal háár toekoms en dié van vele ander bepaal. Sy erken aan haarself, hoewel met ’n tikkie vrees en skuldgevoel, dat sy vanaand daarop uit is om ’n man doelbewus te verlei. Die vrees in haar is dat sy dit nie sal regkry nie, want haar amoreuse ervaring is maar baie gering. Die skuldgevoel is omdat sy ’n goeie man, want dit glo sy ís Günther Meissner, doelbewus gaan gebruik om ’n spesifieke plan in aksie te stel, ’n lewensplan waarvan hy nie bewus is nie, maar waarin hy ’n onontbeerlike skakel is.

Sy kry sy huis maklik aan die buitewyke van Hamburg. Haar motor het net stilgehou toe hy by die voordeur uitstap. Soos sy verwag het, is hy niks anders geklee as in die lesing­saal nie. Hy het beslis net bedoel dat hulle ’n bietjie oor die familie sal gesels. Sy gee voor dat sy nie sy verbasing sien toe sy uitklim en sy blik op haar val nie.

“Ek het jou plek sommer maklik gekry. Goeienaand.”

“Dis gaaf. Kom binne.” Hy lei haar na die sitkamer en dis of hy dit teësinnig moet sê: “Jy lyk baie . . . pragtig.”

Sy glimlag na hom op, voel meteens selfversekerd. Günther is ’n gawe man. Sy sien kans om die pad wat sy vir hulle uitgestippel het, saam met hom te stap. Die Meissner-kliniek en die nagedagtenis van Albert Meissner is dit oor en oor werd.

“Dankie. Ek het eintlik nie geweet wat vanaand se afspraak presies behels nie en het toe maar besluit om liewer veilig te speel. Veronderstel jy het nog ander deftige gaste genooi en ek kom hier aan met ’n langbroek en los bloese!”

“Ook daarin lyk jy pragtig,” is sy galante antwoord. Hy laat na om haar daaraan te herinner dat hy uitdruklik gesê het hy wil maar net meer van die Meissners te wete kom.

“Kan ek jou iets te drinke aanbied? Iets lig? Ek het sterker ook.”

“Dankie. As jy miskien ’n sjerrie het?”

Haar blik dwaal deur die vertrek terwyl hy besig is om die drankies te skink en sy vra reguit: “Bly jy alleen hier?”

“Ja.”

“Maar iemand sorg darem seker vir jou. Jy het in die restaurant gepraat van ’n groot maaltyd wat op jou wag?”

“Ja. Ek het ’n middeljarige dame wat soggens inkom en die huis versorg en dan sommer vir my kook ook.”

“O, dis gaaf. Hoe lank het jy al hierdie huis?” Sy is knaend, maar sy moet eenvoudig alles omtrent hierdie man uitvind. Haar pa sal alles wil weet wanneer hy van Günther vertel word . . .

Gesundheit!” Hulle klink glasies en hy neem oorkant haar plaas, antwoord dan asof hy liewer oor iets anders sou wou gesels: “Al ’n hele tyd. Amper tien jaar.”

“Dan het jy sommer dadelik huis opgesit toe jy klaar gestudeer het?” vra sy verbaas. Voeg laggend by: “Dis min mediese studente wat dit sommer kan bekostig. In elk geval nie op hierdie skaal nie.” Haar blik dwaal weer deur die vertrek. Dis smaakvol en duur gemeubileer. “Jy het goeie smaak,” voeg sy by.

Sy oë is op die glasie in sy hand gerig. “Dit is my vrou se smaak . . . en ook haar meubels wat sy van haar ouers geërf het.”

Die skok lê in haar oë. “Maar jy het dan gesê jy het nie ’n vrou nie!”

“Nie meer nie. Sy is twee jaar gelede dood.”

Inge leun teen die kussing terug en sit haar glasie met lam vingers neer. Haar hart het byna gaan staan! Dan is hy ’n wewenaar. “Wat het dan gebeur?”

“Sy het siek geraak en teen die end was die diagnose leukemie.”

“Was daar kinders?” vra sy gedemp, gespanne. Kinders sal haar planne kompliseer.

“Nee.”

Sy laat sak haar ooglede vinnig om haar verligting weg te steek, soek na iets pasliks om te sê. “Ja, die lewe werk nie altyd uit soos jy dit beplan nie, nè?”

“Nee. Dit werk selde so uit.” Hy staan vinnig op. “Inge, sal jy my ’n paar minute verskoon dat ek my net gaan verklee, asseblief?”

“Hoekom?” vra sy verbaas.

“Ek gaan vir ons plek bespreek en dan gaan eet ons uit.”

Sy frons. Dis nie wat sy beplan het nie. Sy wil nie in ’n vol restaurant met hom sit nie. Sy wil alleen met hom wees . . .“Günther, jy moet asseblief nie verplig voel om my uit te neem . . .”

“Dis nie dit nie. Ek is net skielik nie meer lus vir die huis nie. Verskoon my net ’n oomblik. Ek is gou terug. Kan ek jou intussen nog ’n sjerrie aanbied?”

“Nee, dankie.”

Sy hoor hom in die vertrek langsaan ’n tafel vir twee bespreek en dan is sy alleen. Sy frons. Daar het skielik ’n verandering by hom ingetree toe daar oor sy vrou gepraat is. Sou net die verwysing na haar hom ná twee jaar nog so ontstel? Of is daar ’n ander rede hoekom hy nou skielik amper uit sy huis wil vlug?

Sy kyk tevrede na hom toe hy weer verskyn. In meer formele drag doen hy die Meissners eer aan. Weer bekyk sy hom asof hy ’n artikel op ’n veiling is en besluit hy sal ’n goeie koop wees.

Ten spyte van die feit dat hulle hulle tussen ’n klomp mense bevind, geniet sy die ete saam met hom baie. En hoewel die gesprek grootliks oor familie gaan en dit nie juis die ideale bydrae lewer tot die doelwitte wat sy vir die aand gestel het nie, gee sy nie om nie. “Dus was daar twee broers. Günther Meissner het hier in Duitsland gebly en Albert Meissner het Suid-Afrika toe verhuis. En so het die familie in twee verskillende rigtings beweeg en van mekaar vervreemd geraak oor die jare.”

Sy knik, haar oë peinsend op die glasie voor haar. “En Albert Meissner se kant van die familie het nou uitgesterf. Dis net Günther Meissner wie se naam sal voortbestaan. Jy sê daar is baie manlike Meissners aan jou kant van die familie wat die naam sal kan voortdra?”

“Ja.” Sy blik rus op die gesiggie wat skielik so somber vertoon en meer om haar op te vrolik as wat hy dit regtig bedoel, sê hy: “Wil jy nie dans nie? Ek is nie ’n watwonderse danser nie, het dit jare laas gedoen, maar ons kan probeer as jy my sal verskoon as ek miskien op jou tone trap.”

Sy kyk op, wend ’n daadwerklike poging aan om die swartgalligheid af te skud. “Hoekom nie? Ek is ook nie ’n danige danser nie. Dis nie eintlik een van my tydverdrywe nie. Maar ons kan probeer.”

Sy is kwalik bewus van hom terwyl hulle dans, haar gedagtes met holruggeryde dinge besig. Dis ’n sonde dat Albert Meissner se naam moet uitsterf. Albert Meissner verdien ’n nageslag wat altyd met trots na hom sal kan verwys, wat die naam Albert Meissner vir geslagte wat kom, sal voortdra. Dit durf nie gebeur nie! ’n Albert Meissner moet eenvoudig geskep word en sy is die enigste een wat dit moontlik kan maak.

Haar oë kyk strak teen sy baadjielapel vas en sy is nie bewus daarvan dat die gesig bokant haar kop ’n ewe strak uitdrukking dra nie. Maar sy gedagtes is nie so ver verwyder van die onmiddellike as hare nie. Inteendeel. Toe die dans tot ’n einde kom, lei hy haar terug na die tafel en kondig aan dat dit seker tyd is om te gaan aangesien môre nog ’n gewone werkdag vir hulle albei is.

Nie een van die twee vind dit blykbaar vreemd dat hulle op pad terug niks vir mekaar te sê het nie. Albei is te diep in eie gedagtes versonke, heimlik dankbaar dat die ander een nie probeer geselsies aanknoop nie.

Toe hulle voor die huis stilhou, vra sy: “Het jy nie familiefoto’s nie? Ek sou graag die res van die familie wou sien.”

Hy aarsel. Dit sal beter wees as sy liewer nou gaan, maar hy antwoord: “Ja. Ek het baie foto’s. Ek sal jou op ’n ander keer wys. Dis nou al baie laat . . .”

Sy moet baie onnosel wees om nie die skimp te vang nie, maar sy hou haar skielik dikvellig. “Dis nog nie só laat nie. Ek sal dit graag vanaand nog wil sien.”

Hy het geen keuse nie. Hy moet haar weer na binne lei, en toe sy met die twee albums op haar skoot sit, sê hy: “Die meeste is maar uit my jeugjare en studentedae en jy sal dit seker vervelig vind. Daar is hier en daar ’n familiefoto. Hier, byvoorbeeld. Dis my ma en pa.”

“Is jy die enigste kind?”

“Ja, maar ek het ’n klomp neefs en niggies. Wag, hier is hulle.”

“Kom sit hier langs my en vertel my wie is wie,” nooi sy ongeërg. Sy luister met een oor terwyl sy die hand bestudeer wat voor haar op die album lê. Die fyn hande van ’n dokter . . . Hy is die regte man . . . Ongemerk gaan haar hand na haar midderif.

“. . . en dis Hanz, Dieter se broer en . . .” Sy voel die bostuk van haar skouers afgly, sien sy hand op die blad ruk. “En hierdie meisie is hul suster . . .”

“Sy is mooi. Wie is hierdie een?”

“Dis . . .” Sy kyk vraend op na hom, betrap sy blik glad nie naby die foto’s voor hulle nie. Hy behoort ’n goeie uitsig te hê op wat sy bedoel hy moet sien.

“Ons kan op ’n ander dag die foto’s verder bestudeer. Dis al laat. Ons moet gaan slaap.” Sy stem klink kortaf, sy lippe is styf.

“Ek is nog glad nie vaak nie. Is jy?” vra Inge en hou die aartjie dop wat langs sy slaap klop.

“Ons moet gaan slááp, Inge.” Dit klink soos ’n bevel, maar hy beweeg nie.

Sy kyk nou reguit na hom, leun nader. “Moet ons?” Sy blik breek weg van die vroulike rondings, sak in haar oë af. “Wil jy régtig nou gaan slaap?”

Sy hoor hom sy asem intrek. “Inge, jy . . . speel met vuur. Jy is nog te jonk . . .”

“Is ek?” Haar kop rus byna teen sy boarm.

Hy frons hewig. “Maar jy weet nog niks van . . . hierdie dinge af nie. Kom, ons moet gaan.”

Skielik lê haar kop vas teen sy skouer, kyk die blou oë na hom op, voel hy hoe sy hand teen haar kaal vel gedruk word. “Dan is dit tyd dat ek begin leer, nie waar nie?” Die sagte mond hier teenaan sy ken glimlag verleë, soebat: “Ek wil graag leer, Günther.”

Sy hoor hoe hy sluk. Sy lippe stry nog, maar sy hand bly waar sy dit gesit het. “Inge, ek het jare laas ’n vrou in my arms gehad. Ek wil nie van jou onskuld en onkunde misbruik maak nie, maar ek is net ’n mens. Laat ons nou loop.”

Maar haar linkerhand beweeg reeds teen sy wang op, streel oor sy oor, gly stadig, sensueel agter om sy nek. “Maar dis ék wat vra. Hoe kan jy dan misbruik maak? Ek wil graag leer . . . maar van jóú leer.”

Die drukking van haar hand teen sy agterkop laat hom meegee. Hulle oë is enkele sentimeter van mekaar. “Hoekom ek? Ek is jare ouer as jy?”

“Miskien is dit een van die redes. Ek vertrou jou.” Sy lig haar lippe na syne op, vra op ’n fluistertoon: “Moet daar ’n rede wees? Kan ons dit nie net saam geniet nie?” Haar lippe streel syne rakelings. “Hoekom nie, Günther?”

“Inge, nee!” Dis ’n uitroep gevul met selfkastyding. “Ek wil jou nie skend nie!”

“My skend deur van my ’n vrou te maak?” Sy trek effens terug, maar hou haar hand teen sy agterkop. “Ek het al gewonder, as ek so om my kyk, of ek nie dalk die enigste maagd aan Hamburg se universiteit is nie.”

Sy gesigspiere speel soos selfbeheersing en begeerte teen mekaar stry. “Is jy ’n maagd? Dan durf ek nog minder . . .”

Sy verslap plotseling haar greep, laat haar hand op haar skoot sak. “Ek sien. Jy stel nie belang in ’n onkundige maagd nie . . .”

“Dis nie waar nie!” Sy stem klink amper sissend. “Maar ek kan dit nie aan jou doen nie . . . jou ouers doen nie . . .”

Sy gee ’n sagte sug, laat haar ooglede sak. “Toe maar, Günther. Ek verstaan. Jy verkies jou vroue meer ervare en . . .”

Sy hande gryp haar skouers vas. “Dis nie waar nie! Daar was nog nooit ’n vrou ná my vrou se dood nie. Ook nie in die lang tyd wat sy siek was nie.”

Sy knik. “Ek glo jou. Dan is dit maar net dat ek nie die soort vrou is wat jou kan . . . bekoor nie. Ek wens dit was anders. Ek sou liewer van jóú wou leer wat daar alles te leer is.” Sy trek die skouerstuk terug oor haar skouers en haar bewende vingers soek na die hakie wat haar weer in ’n kuise, elegante dame moet verander. Maar voordat sy dit kan vashaak, is sy hand by, stoot hy die los stuk weg en die volgende oomblik lê sy lippe teen haar sagte vel. Bokant sy kop glimlag Inge oorwinnend, laat dan haar kop sak en druk haar lippe teen sy kop terwyl sy hom sonder protes toelaat om sy ontdekkingstog voort te sit. Toe sy lippe hare oopbreek, wonder sy of dit nou die passie is waarvan sy al so baie gehoor en gelees het en nog nooit self ondervind het nie . . . ’n mengsel van vrees en opwinding. Toe voel sy hoe sy een arm onder haar dye indruk en sy opgetel word. Hy dra haar dieper die huis in en sy is gereed om oor die drumpel van vrouwees te stap. Hierdie nag gaan ook vir haar ’n ontdekkingsreis wees . . . ’n ontdekkingsreis van Günther Meissner. En dit móét ’n sukses wees . . . want daar is veel meer op die spel as wat haar minnaar ooit van sou kon droom . . .

Die ongebore uur

Подняться наверх