Читать книгу Die ongebore uur - Ena Murray - Страница 4

Оглавление

2

Toe Inge die volgende oggend wakker word, is daar geen teken van Günther nie. Nou eers sien sy hoe die slaapkamer lyk waarin sy haar maagdelikheid verloor het. Hierdie bed moet Günther eens met sy vrou gedeel het . . . Sy gooi die beddegoed van haar af asof sy op iets ongeoorloofs betrap is. Maar dis belaglik, vertel sy haarself. Die vrou is dood. Günther het die volste reg om ’n ander vrou in sy bed te hê. Hy het geen onreg of bedrog teenoor enigeen gepleeg nie. Net so min as wat sy dit gedoen het.

Sy spoel haar gesig in die badkamer af, kyk na haarself in die spieël. Sy ken haar naakte liggaam. Gister en eergister was dit presies dieselfde, vanoggend nie meer nie. Maar sy is nie jammer oor wat gebeur het nie.

Sy glimlag toe sy onder die stort instap. Arme Günther! Hy het van die begin af geen verweer gehad nie. So onervare as wat sy was, is daar in elke vrou die ingebore listigheid wat destyds aan Eva in die Paradys geskenk is en waarteen ’n man eintlik heeltemal weerloos is. ’n Beter tyd vir wat sy wou bereik, kon sy nie gekies het nie. Sy vrou was jare lank siek, nou reeds twee jaar lank dood, en hoewel ’n man van karakter, sterk beginsels en ’n gewete, kon hy die dringende roep van die natuur nie weerstaan toe bevrediging so openlik en vrygewig aan hom gebied is nie.

Terwyl die prikkels van die stortdruppels haar jong liggaam masseer, dink sy terug aan die nag wat verby is. Daar is ’n glimlag om haar mond. Hoewel sy geen vergelykings kan tref nie, voel sy op hierdie oomblik dit was ’n bevredigende nag vir albei. Sy is nie net in die lesingsaal ’n knap student nie. Sy glo hy voel vanoggend net so tevrede soos sy.

Sy stap onder die stort uit, druk eers die halfklam handdoek wat hy voor haar gebruik het teen haar wang voordat sy haar begin afdroog. Die laaste bietjie twyfel het uit haar verdwyn. Günther Meissner is die man wat sy gesoek het. Günther Meissner gaan die man wees.

Sy tref hom op die stoep aan en hul oë ontmoet. Hy kyk egter dadelik weg en sy voel die afsydigheid in hom aan.

“Môre, Günther.” Sy kom teenaan hom staan, haar hand gaan op om sy wang te streel, maar hy gryp haar pols vas voordat sy hom kan aanraak. Sy kake is weer geklem soos die vorige aand toe hy nog met sy gewete in stryd was.

“Inge, jy moet nou gaan.” Sy bly roerloos staan en hy moet weer na haar kyk. “Asseblief.”

Sy kyk hom geskok aan. “Is dit ál wat jy vanoggend vir my kan sê?” Sy sien sy adamsappel beweeg soos hy sluk. “Ons kan later praat, nie nou nie. Kom.”

Hy stap na haar motor, maak die deur oop en met ’n laaste blik op sy strak gesig en ontwykende oë klim sy in en trek weg.

Die dae wat volg, is vir Inge moeilik en onverstaanbaar. Sy weier om te glo dat Günther die soort man is wat ’n meisie se maagdelikheid sal neem en dan sy rug op haar sal keer. Dit pas net nie in die prentjie wat sy van hom gevorm het nie.

Sy sit in die lesingsaal, haar oë bly op hom, maar hy kyk oral behalwe in haar rigting. Die manier waarop hy sy lesings aanbied, is stug, nie soos gewoonlik nie. Die enkele kere dat sy oë hare vang, is daar ’n merkbare verstrakking in sy blik. ’n Week gaan verby waarin sy tob en wonder en dink. Dan besluit sy: só maklik gaan sy hierdie man nie laat loskom nie. Oor vier maande moet sy terug Suid-Afrika toe. Daar is nie tyd of geleentheid om na ’n plaasvervanger te soek nie. Wat meer is, sy wil nie. Günther pas honderd persent in die prentjie wat sy vir die toekoms geskilder het. Sy sal eenvoudig haar trots in haar sak moet steek en met hom moet praat.

Sy sorg dat sy die laaste student is wat die lesingsaal verlaat en sy huiwer ’n oomblik langs hom, bied hom geleentheid om haar aan te spreek. Maar hy is skielik baie besig, kyk nie eens op nie. Dan stap sy aan en Günther Meissner blaas sy ingehoue asem uit. ’n Duitse swets val gedemp van sy lippe.

Sy stap daardie aand sy huis ongenooid binne. Haar tred is selfversekerd en haar oë uitdagend. Sy stap soos ’n vrou wat weet dat sy goed bewapen is vir die stryd wat voorlê.

Günther draai van die boekrak af om toe sy in die deur verskyn, en sy sien hoe sy liggaam verstyf.

“Günther, ek het jou net een vraag kom vra.” Hy antwoord nie en sy stel dit pront: “Walg ek jou nou?”

Hy lyk eerlik geskok. “Inge, asseblief!”

Sy stap nader, haar oë stip. “Ek weet jy kry die soort man wat, nadat hy ’n vrou geneem het, ’n afkeer van haar kry.”

“Dis nie . . .” protesteer hy vinnig.

“Is dit nie, Günther? Watter ander afleiding kan ek maak?”

“Inge, dis nie . . .” Hy swyg vinnig, sê dan skor: “Inge, moenie!”

“Ek wil die waarheid in jou oë sien. Dis ál wat my sal oortuig. Stoot ek jou nou af, Günther?”

Sy staan reg voor hom, haar bloese oopgeknoop, haar ferm, jong borste braloos ontbloot voor hom.

“In hemelsnaam!” Hy stap vinnig by haar verby en sy stem is bruusk: “Dit het niks te doen met . . . jou of afkeer van jou nie!” Hy swaai terug na haar en kyk weer na haar borste. “Inteendeel! Maar ek het jou ’n groot onreg aangedoen. Ek is tien jaar ouer as jy. Ek moet beter geweet het. Veral omdat jy ’n maagd is . . . was . . . Dit was onvergeeflik van my. Ek het nie net teen jou gesondig nie, maar ook teen jou ouers. Ek het hul pragtige, jong dogter gevat en gebreek.”

“Jy vergeet ék het jou gevra om dit te doen . . . so te sê gesoebat,” sê sy met groot verligting. Dan is dít sy rede! Vir haar is dit geen rede nie. Al wat haar sou oortuig dat sy van hom sal moet afsien, is as hy eerlik erken het dat hy ’n afkeer van haar gekry het. Daar is geen sin in om met haar planne voort te gaan as hy haar fisiek nie meer kan verdra nie, want die fisieke gaan ’n groot en baie belangrike rol in hul toekoms saam speel. Maar nou . . .

Sy glimlag effens, knoop haar bloese weer toe. Günther is werklik in sekere opsigte baie outyds! Maar dis nóg ’n pluspunt vir hom. Hy is nie ’n man wat ’n vrou sommer in die steek sal laat as hy eers verantwoordelikheid aanvaar het nie.

“Günther, jy kyk met verkeerde oë na my. Jy sien my as ’n onskuldige, onkundige, onervare tiener. Ek is amper vyf-en-twintig!”

“Maar jy was presies dit wat jy nou opgenoem het tot . . .”

“Ek was nie! Liewe land, dink jy ek het in ’n glaskas grootgeword? Dink jy ek loop met toe oë en ore deur die lewe? Ek weet van alles. Ek het baie gesien, dalk meer as jy. Goed. Ek het dit nie self ervaar nie, maar dit beteken nie dat daar iets met my skort nie. Of dat ek van plan was om my lewe soos ’n maagdelike engel te slyt nie. Ek is van vlees en bloed; soos elke ander vrou het ek ook al gesmag na bevrediging. Dieselfde natuur wat die Skepper in ander vroue geplant het, het Hy ook in my geplant. As dit nie jý was wat my maagdelikheid geneem het nie, sou dit iemand anders gewees het. Die een of ander tyd sou dit met my gebeur het. En op vyf-en-twintig sou ek sê dis ook hoog tyd.”

Hy skud sy kop, gaan sit op die bank, vee met sy hand oor sy kop. “Dit is alles waar wat jy sê, Inge. Maar dit moes nie ék gewees het nie.”

“Hoekom nie? Of . . . of is daar iemand anders?” vra sy onrustig.

“Nee! Ek het jou gesê daar was nog nie weer ’n vrou ná my vrou nie.”

“Of is dit ’n geval dat jy haar nie kan vergeet nie? Nie iemand anders in haar plek kan stel nie?”

“Nee! Allesbehalwe.”

“Wat bedoel jy?”

Hy sug. “Ek en sy was so oud soos jy toe ons getroud is. Vyf-en-twintig. Nie lank daarna nie moes ons uitvind dit werk nie uit nie. Dit was . . . hartstog wat ons by mekaar gebring het, nie ’n diepgaande gevoel wat vir ’n leeftyd moes duur nie. Toe het sy siek geword.” Hy kyk op. “Ek is so bang dis wat met jou gaan gebeur. Een nag van hartstog baar nie ’n leeftyd van huweliksgeluk nie, Inge.” Voordat sy iets kan sê, vervolg hy: “Daar’s veel meer. Ek het afgelei jou lewe wentel om die Meissner-kliniek. Sodra jy hier klaar is, gaan jy terug. Daar is nie plek vir my in jou toekoms nie. Waarom dan met ’n ding voortgaan wat geen toekoms het nie?”

“Daar is plek vir jou, Günther. Die Meissner-kliniek het altyd plek vir ’n goeie dokter.”

“Wat laat jou dink ek is ’n goeie dokter?”

“Die manier waarop jy jou lesings gee. Jou kennis. Jou hele houding. Jy hoort eintlik in die praktyk, nie in ’n lesing­saal nie.”

“Ek het deur omstandighede lektor geword. Weens my vrou se siekte. As praktisyn was ek te veel uithuisig en toe sy siek word . . . sy het tuis gelê, geweier om na ’n terminale inrigting te gaan . . . Ek het maar later die lektorskap aanvaar.” Hy knik. “Ja, ek moet erken. Ek mis die pasiënte, die praktiese sy van die beroep.”

“Nou ja? Dis wat jy kan kry as jy saam met my teruggaan Suid-Afrika toe,” glimlag sy breed, hoewel sy besef sy oor-skry die perke.

Hy frons, kyk haar skerp aan. “Is jy ernstig?”

“Natuurlik is ek. Wil jy nie graag in die Meissner-kliniek gaan werk nie?”

“Maar, Inge . . .” Hy gee ’n kortaf laggie, staan op. “Jy praat asof ek sommer net daar kan instap! Wie sê daar is ’n vakature, en meer nog, wie sê ék is die man wat hulle nodig het ás hulle wel iemand nodig het? Jou ouers . . .”

Sy is glad nie so selfversekerd as wat sy klink nie, maar dit weet hy gelukkig nie. “In die Meissner-kliniek sal ’n dokter met die van Meissner altyd nodig wees.” Sy sien sy frons verdiep en sy vervolg vinnig: “Ek het my ouers reeds van jou vertel.”

Sy oë word waaksaam. “Wát het jy hulle vertel?”

Sy lag skalks na hom op. “Maak dit saak? Feit bly, hulle weet van jou en jy is baie welkom daar, in sowel private as professionele hoedanigheid.”

“Inge . . .” Hy swaai sy hand afwerend. “Jy gaan nou te vinnig. Dit klink asof jy alles al gereël het! Dis my lewe wat jy . . .”

“Ek is nie besig om jou lewe te reël nie, Günther. Ek het my ouers net van jou vertel, gesê dat jy ’n aanwins vir die kliniek sal wees, en dit is my eerlike opinie. Al wat ek besig is om te doen, is om jou ’n doodgewone aanbod te maak: kom saam met my Suid-Afrika toe en kom sluit aan by die span in ons kliniek.” Soos sy dit stel, klink dit regtig onskuldig. Maar sy het hom voorheen ook ’n aanbod gemaak en sedertdien het hy groot gewetenswroeging omdat hy dit aanvaar het. Hy is openlik agterdogtig.

“Is dit ál? ’n Blote saketransaksie?”

Sy skud haar kop, kom stadig nader, knoop haar bloese weer verleidelik oop. Haar hande gly teen sy lapelle op. “Nee,” erken sy eerlik, kyk hom vas in die oë. “Ek het nóg ’n aanbod om te maak. Van persoonlike aard.”

Hy wil terugstaan, maar haar hande strengel agter sy nek ineen. “Inge . . . Maak toe jou bloese!”

“Doen jý dit as dit jou so hinder.” ’n Klein glimlaggie skuil in haar mondhoeke. “Maar dit hinder jou nie werklik nie, nè, Günther?”

’n Kragtige Duitse uitdrukking ontval sy lippe en haar oë rek effens. Dan kan hy tóg moeilik raak . . .

“Ek gaan my nie weer laat verlei nie,” waarsku hy streng.

“Hoekom nie?” vra sy, haar oë op sy mond. “Jy is ’n vry mens. Ek is ’n vry mens. En moet asseblief nie weer ons ouderdomsverskil ophaal nie, want dis nie geldig nie, en jy weet dit. Jy begeer my, Günther. Op hierdie oomblik begeer jy my . . . en ek vir jou. Hoekom nie?”

“Omdat begeerte alleen nie genoeg is nie! Begeerte het my in ’n gemorshuwelik laat beland, soos ek jou vertel het.”

“Daar lê veel meer as begeerte tussen ons twee. Ons is op dieselfde golflengte. Ons stel in dieselfde dinge belang. Ons wil ons lewens aan die mediese wetenskap wy.” Sy kyk ernstig in sy oë. “En om alles te kroon, vloei dieselfde bloed deur ons are . . . gelukkig nie só dik dat dit probleme kan gee nie. Ons móés mekaar leer ken, Günther. Dit was beskik dat professor Müller moes siek word en jy sy plek moes inneem. En nou die aand . . . wat gebeur het, moes gebeur . . . sou gebeur het . . . soos dit weer gaan gebeur . . . al weier jy my nou . . .”

“Jy weet nie van ophou nie, nè, Inge?” vra hy op ’n lae stemtoon, pen haar met sy blik vas en stry teen die magnetisme van die kurwes hier teen sy bors.

“Nee, ek kan ophou as ek weet dis ’n verlore stryd of dis sinloos. Maar ek sal volhou as ek oortuig is dat daar ’n toekoms vir ons is.”

“ ’n Toekoms vir óns?”

“Ja, Günther. Ons twee se paaie loop saam die toekoms in. Daar lê ’n nag tussen ons waarop ons nie ons rug kan keer en elkeen sy eie koers kan inslaan nie.” Haar oë is uitdagend. “Eerlik nou. Jy sal my nooit vergeet nie, Günther . . . al stap ek vandag uit jou lewe uit en sien jy my nooit weer nie. Jy sal my nie vergeet nie . . en ook nie wat tussen ons gebeur het nie. Hoekom my dan uit blote koppigheid wegstoot?”

Sy kan in sy oë lees dat sy gelyk het. Hy sal haar nie vergeet nie en nog minder die nag waarin hy haar maagdelikheid geneem het. Sy vra sag: “Waarteen baklei jy, Günther?”

Sy stywe lippe kry skaars die woorde uit terwyl sy liggaam soos ’n laaistok in haar greep bly. “Ek . . . weet nie . . . Ek voel net ek maak misbruik van jou . . .”

“Ek verseker jou jy misbruik my nie. Trou met my, Günther . . . asseblief?”

“Trou?” Sy oë gaan vertwyfeld oor die smekende gesig, so jonk en tog skielik ook so volwasse vrou. “Weet jy wat jy vra? Jy praat van ’n leeftyd.”

“Ek weet. Ek bedoel ’n leeftyd.”

“Inge, jy kan nie so seker wees dis wat jy wil hê nie! Ek weet jy was ’n maagd en dat jy nog nooit ’n ernstige verhouding gehad het nie. Hoe kan jy so seker wees dat ék die man is met wie jy die res van jou lewe wil deel?”

“Ek weet dit net. Ek weet ek wil met jou trou . . . en die moeder van jou kinders wees.” Hul oë haak weer in mekaar en sy prewel: “Asseblief, Günther!”

Bloed en vlees kan net tot ’n sekere punt uithou, selfs al voel dit vir jou jou kop bars oop van die waarskuwings wat jou nugter verstand op jou afskiet . . . soos missiele wat in jou ontplof. Hoekom nie? het sy gevra. Wel . . . hoekom nie? Dit sal ’n verligting wees om hier weg te kom, weg van hierdie huis en sy bitter herinneringe, weg van alles . . . Om ’n lewe saam met ’n meisie soos Inge te begin. Hoekom nie?

Hy gee ’n sug en met ’n kreun gly sy hand onder haar bloese in. Sy word teen hom vasgedruk. Sy mond vang haar wagtende lippe met geweld vas in ’n soen wat haar duidelik vertel dat die toekoms hare en syne is . . . nes sy dit beplan het.

In die maande wat volg voordat sy haar finale eksamen aflê en na Suid-Afrika moet terugkeer, laat Inge niks in haar pad staan om die droom wat haar sedert haar kinderdae aanvuur, tot verwesenliking te laat kom nie. In die proses word die waarheid dikwels erg verkrag. Sy voel skuldig daaroor, maar troos haar gewete met die gedagte dat die doel die middele heilig. Niks mag nou meer verkeerd loop nie!

Dat Günther self ook besig is om sy gewete op allerhande maniere te omseil, weet sy nie. Hy was nog altyd ’n beginselvaste mens en ’n saamblyery het nog nooit sy goedkeuring weggedra nie. Gelukkig sit Inge se ouers in verre Suid-Afrika, en as gevolg van sy oorlede vrou se optrede het sy familie hom afgesterf. Die feit dat ’n student, tien jaar jonger as hy, by hom ingetrek het, het dus nog nie hul ore bereik nie. Maar dit bly aan hom krap, want dié soort ding het ’n manier om op die lappe te kom.

Hy was geskok toe Inge eendag net sê: “Dit maak nie sin dat ek elke nag hier slaap en soggens vroeg terugjaag na my woonstel toe nie. Ek gaan by jou kom intrek, Günther.” Maar hy moes maar nugter aan homself erken: Wat is die verskil as sy hier intrek of net hier slaap? Die een is so verkeerd soos die ander. En so het Inge haar intrek geneem.

Sy het haar ouers laat weet dat sy getrek het en hulle ook laat weet dat sy ’n besondere vriendskap met dié dokter Meissner van wie sy hulle al vertel het, aangeknoop het. Hulle moes dikwels lofsange oor hom oor die telefoon aanhoor en teen dié tyd was hulle reeds bekommerd. Wat haar ma gevrees het, het gebeur. Inge het ’n man in Duitsland raakgeloop wat haar moontlik daar sou hou. Hulle het hul dogter verloor . . . en die Meissner-kliniek sy erfgenaam.

Dis ’n diep bekommerde ma wat haar dogter trompop takel toe hulle weer oor die telefoon gesels.

“Inge, hoekom dié skielike trekkery so kort voordat jy klaarmaak?”

Haar dogter besef dat ’n mens net tot op ’n punt met leuens kan vorder en dan moet die waarheid maar uit. Miskien is dit ook beter so. Hoe gouer haar ma-hulle weet wat die situasie is en hulle daarop voorberei om ’n skoonseun saam met hul dogter van oorsee af terug te verwelkom, hoe beter.

“Dis Günther se adres, Ma. Ek bly hier by hom.”

Die stilte wat volg, laat geen twyfel by Inge hoe geskok haar ma is nie. “Jy . . . bly saam met ’n man?”

“Ma, asseblief, dit is ’n alledaagse verskynsel. Dis nie meer snaaks nie. Baie meer mense bly deesdae saam as wat hulle trou. Dis beter so. Maar ek en Günther gaan trou. Ma hoef Ma dus nie te bekommer nie.”

Die een skok volg die ander op. Elke is byna spraakloos aan die ander kant. “Julle gaan tróú? Het dit al só ver gevorder?”

“Ja, Ma. Ons gaan trou.”

“Dan . . . gaan jy in Duitsland bly?” Elke sluit haar oë. Dan het dit gebeur!

“Nee, Ma. Ek bring hom saam Suid-Afrika toe. Sê vir Pa hy moet solank vir hom ’n pos skep in die kliniek. Hy hoef nie bang te wees nie. Ek waarborg dat hy ’n uitstekende aanwins vir ons sal wees.”

“Maar, Inge . . .”

“Mamma, sê groete vir Pa. En hou vir my duim vas vir die eksamen, hoor? Ek is lief vir julle en ek verlang my dood na julle. Tatta.”

Elke is nog in ’n dwaal toe Horst by die huis kom. Hy sien sommer dadelik daar is fout. “Wat is dit? Het jy toe met Inge gepraat?”

“Ja.” Sy gaan sit. Horst gaan ontplof!

Horst Buchner frons en die skielike onrus in hom laat sy stem streng klink: “Wel? Wat is dit? Is sy siek? Of . . .?”

“Nee. Sy is verlief,” sê sy dan, min wetend hoe ver van die waarheid af dié stelling is. Maar as ’n meisie by ’n man intrek, moet sy tog verlief wees, dan nie?

“So het ons reeds begin vermoed. Wat verder?” Toe sy vrou nog aarsel, vra hy met ’n skerp blik: “Het sy verduidelik hoekom sy so op die nippertjie moes gaan staan en trek?”

“Ja.” Dit moet uit, wat ook al gaan volg. “Sy het by Günther Meissner ingetrek – in sy huis.”

’n Kort stilte. “Sy het . . . wát?”

“Horst . . .” Die moeder se oë pleit. “Ek weet dit is net so ’n groot skok vir jou as wat dit vir my was. Maar . . . ons kind is nie anders of beter as ander mense se kinders nie. Ander mense se kinders doen dit; hoekom nie ons s’n nie? Soos sy gesê het – en ons weet dit – dit is iets alledaags. Dis nie meer snaaks nie. Dit word algemeen aanvaar. Niemand knip meer ’n oog daaroor nie.”

“Jy praat dit goed?”

Sy kyk pleitend op in sy geskokte oë, want sy is ’n ma en ’n ma sal haar kind tot die uiterste toe beskerm, al is dit ’n stout kind.

“Natuurlik nie! Maar aangesien hulle gaan trou . . .”

“O, hulle gaan trou? Goed dat sy ons darem in kennis stel. Iets om voor dankbaar te wees. Darem beter as dat sy ons op ’n dag laat weet sy is getroud.”

Sy sarkasme maak nie seer nie. Sy weet hoe haar man op hierdie oomblik in sy binneste voel. Sy voel dieselfde. Hy moet van sy woede en teleurstelling ontslae raak.

“Ja.” Sy aarsel. Sy sal álles moet vertel. “Maar jy is verniet bang sy gaan nou in Duitsland bly. Sy sê sy kom terug en . . . sy bring hom saam.”

“Om wat hier te kom maak?”

“Sy . . . sê . . . sy het gehoop . . .” stel sy dit meer taktvol, “dat jy hom in die kliniek sal inneem. Volgens haar sal hy ’n aanwins vir die kliniek wees.”

Die vermetelheid van die jeug laat ’n ouer dikwels woorde kwytraak wat hy normaalweg nooit gebruik nie.

“Horst!” Sy vrou kyk hom geskok aan.

Hy skud sy kop. “Jammer, Elke, maar . . . wie de duiwel dink sy is sy? Klaar hoof van die kliniek? Sy stuur net bevele van oorsee . . sy bring ’n man saam en hy moet in die kliniek aangestel word!”

Elke se ooglede val. Ja, kinders se optrede is soms só voorbarig en domastrant dat ’n mens sou sweer dis hulle wat hul ouers gebring het tot waar hulle vandag is, en nie omgekeerd nie. Sy prewel amper die woorde: “Sy het gewonder of jy nie vir hom maar ’n pos kan skep nie.”

Horst keer net betyds ’n tweede kragwoord. “Ons het geen vakature nie! Jy weet dit! En daar is geen behoefte aan ’n spesiale pos nie, in watter rigting ook al.”

Weer pleit die oë. “Sy glo regtig hy is bekwaam.”

“In daardie geval . . . die land is vol hospitale en klinieke en siek mense. Laat hy vir homself werk kry.”

Vrees dat sy haar kind vir altyd gaan verloor, laat Elke uitroep: “Jy verstaan nie, Horst! In daardie geval kan hy besluit om in Duitsland te bly. Inge sal nie terugkom nie. Ons gaan ons enigste kind verloor! Sy gaan ’n vreemdeling vir ons word! En wat van die kliniek? Moet dit dan eendag in vreemde hande val?”

Hy besef die nugterheid van haar redenasie, maar hy gaan hom nie laat afdreig nie. “Met ander woorde, my vrou, hulle hou ’n pistool teen ons koppe: Doen wat ons vra of . . .” Hy kyk na sy vrou, weet hy kan haar dit nie aandoen nie, maar . . . “Elke, ek gaan my nie van ’n snuiter wat nog nie eens dokter voor haar naam kan skryf nie, en ’n wildvreemde man, laat intimideer en afpers nie!”

Maar sy veg terug. “Jy moet darem ’n bietjie krediet gee vir Inge se oordeel, Horst. Sy is nie onnosel nie. Sy sal goed weet met watter soort man sy by die huis aankom. En dan . . .Hy is ’n Meissner. Dit sê miskien ook iets.”

Haar man snork. “ ’n Van beteken niks nie, Elke. Dis die man wat tel. Daar loop nie net goeie en briljante Meissners op aarde rond nie. Daar sal die swartskape ook wees. En hierdie Meissner vertrou ek nie. ’n Man van vyf-en-dertig wat ’n student verlei om by hom in te trek terwyl sy reg grootgemaak is en wéét dit is nie goed te praat nie . . . ’n Man wat bereid is om agter ’n kind tien jaar jonger as hy aan te hardloop na ’n vreemde land en daar op haar en haar ouers se nekke te kom lê . . .”

“Jy oordryf, Horst! Hy wil hier kom werk . . .”

“Hoekom het hy nie ’n praktyk nie? As hy so briljant is as wat Inge wil voorgee, behoort hy al in ’n gevestigde praktyk te gestaan het en nie tyd te gehad het om ander mense se dogters te verlei nie!” Dit word stil nadat sy bulderende stem weggesterf het en dan skud hy sy kop. “Jammer, my vrou. Ek baklei nie met jou nie. Dis . . . ek kan net nie glo wat ek gehoor het nie! Inge . . . sy het so opgegaan in haar drome oor die kliniek, was so verslaaf aan haar studie dat sy nog nooit eens ’n vaste vriend gehad het nie. En nou . . . nou bly sy sommer saam met ’n man en . . . stel eise aan haar ouers wat ek byna nie kan glo kom van haar af nie.”

“Sy het dit nie geëis nie, Horst. Sy het gevra.”

“Gevra, ja. Maar met ’n swaard in die hand.” Hy sug, vee oor sy oë. “Ons laat dit eers daar. Oor hierdie saak sal eers goed gedink moet word.”

En gebid word, voeg sy stilswyend by toe haar blik hom die vertrek uit volg. Want Elke, soos so baie ouers, bevind haar skielik in die bekende magtelose situasie, dié oomblik dat jy as ouer kragteloos staan – en al wat dan oorbly, is om te bid.

Soos dit ook maar meesal gebeur wanneer daar wrywing in ’n gesin ontstaan, is dit die moeder wat as buffer tussen haar man en ’n dwars kind moet dien om te keer dat daar nie ’n hele breukspul ontstaan nie. Dis sy wat haar bes doen om haar man te kalmeer en van oorhaastige optrede te weerhou – en aan die ander kant moet sy met ’n koppige, klaarblyklik dolverliefde dogter probeer redeneer.

Sy draai ook nie doekies om toe sy Inge weer bel nie. “Jy moet begryp, Inge, dat ek en jou pa baie ontsteld en ongelukkig voel. Dit is nie ons manier van lewe nie, my kind, en ons het jou dit ook so probeer leer, maak nie saak wat vir die wêreld aanvaarbaar is of nie.”

’n Diepe skuldgevoel vat Inge ’n oomblik lank vas. Ja. Sy weet haar ouers moet diep geskok in haar wees, en sy kan haar voorstel wat veral haar pa kwytgeraak het. Maar wat hulle nie weet nie, is dat sy dit ook vir hulle doen. Dat hierdie geval nie ’n gewone saamblyery is nie. Dat sy, ten spyte van die hoë morele kode waarvolgens sy grootgeword het, hierdie ding móés doen. Al wat sy dus kan sê, is: “Ja, Ma, ek weet en ek is jammer. Maar dit is nou so.”

Dit is nou so. Elke Buchner sluit haar oë. Sy en Horst sal dit so moet aanvaar. Maar Inge sal ook van haar kant moet aanvaar dat daar ’n toe deur van dit-is-nou-so voor háár staan. “Maar dit is nou ook so dat ons Günther nie in die kliniek kan neem nie, Inge. Daar is net nie nou ’n pos oop nie. Jy is binnekort terug en jy moet ook ’n pos kry. En al sou daar skielik ’n opening ontstaan, is die vraag of Günther dit sal kan vul. Jy weet ek en jou pa probeer om in elke rigting ’n gespesialiseerde man te hê. Jou Günther mag bekwaam wees, maar het hy gespesialiseer?”

“Nee, Ma. Hy was ’n algemene praktisyn voordat hy die lektorskap aanvaar het.”

“In daardie geval, my kind, stel ek voor dat hy hom eers in ’n spesifieke rigting bekwaam en dan kan ons weer praat.”

“Nee, Ma. Daar is nie tyd nie. Günther kan in Suid-Afrika kom spesialiseer as dit dan so ’n vereiste is, maar hy kom saam met my terug.”

Elke voel haar hart ruk. “Wat . . . wat bedoel jy . . . daar is nie tyd nie? Inge . . .?”

“Ma, moet asseblief nie nou op hol gaan oor niks nie. Nee. Al wat ek daarmee bedoel, is dat ek oor twee maande huis toe kom en ek kom nie sonder Günther nie. As hy dan nie welkom is nie, bly ek hier by hom, maar dis een feit wat julle asseblief moet aanvaar: Günther is deel van my toekoms.”

Die ongebore uur

Подняться наверх