Читать книгу Dokter Julene - Ena Murray - Страница 3

Оглавление

1

Dit was nie een van die Godfather se briljantste idees om my Switserland toe te laat kom nie, dink Julene half bitter toe sy in die ouer vrou se kil oë vaskyk. Sy draai haar blik vinnig weg. Maar, in alle redelikheid teenoor die ander vrou, moet Julene erken: dit moet ’n groot skok wees om skielik met ’n buite-egtelike kind uit jou man se verre verlede gekonfronteer te word.

“Wil jy nie saam kliniek toe gaan nie? Jy sal dit interessant vind.”

“Dankie . . . e . . .” Sy swyg. Die woordjie “pa” val nie spontaan op die tong nie. Tot baie onlangs het sy nie ’n pa gehad nie. ’n Oupa wel. Weer keep die een mondhoek effens bitter in. Eintlik het sy nie regtig ’n oupa nie. “Ek sal graag saamgaan.”

“Goed dan. Ons vertrek oor ’n halfuur.”

Julene knik, maak verskoning en gaan na haar kamer. Nie dat sy enigiets te doen het nie. Sy wil net wegkom uit die versmorende atmosfeer. Sy sal die halfuur in haar kamer om wag.

Toe die lang, blonde meisie uit is, ontmoet man en vrou se oë. Die spanning in die atmosfeer raak byna ondraaglik. “Muriël, ek begryp Julene was ’n groter skok vir jou as vir my. Maar probeer asseblief verstaan! Wat kon ek anders doen as om haar te ontvang? Sy is nou eenmaal my kind. Hoe kon ek weier?”

Die vrou kyk weg. Natuurlik sien sy sy kant van die saak in en natuurlik besef sy hy kon niks anders doen as wat hy gedoen het nie. Maar – en dis die bitter pil wat sy moet sluk – dat ’n ander vrou vir Fritz ’n kind in die wêreld gebring het . . . As sy haar eie kinders gehad het, sou dit makliker gewees het om die wilde saad wat haar man jare gelede gesaai het in die familiekring te verwelkom. Maar hul huwelik is kinderloos, en om skielik – ná byna veertig jaar van getroude lewe – te ontdek dat jou man jou dertig jaar gelede verkul het en dat daar boonop ’n kind uit dié verhouding gebore is . . .

“Ek verstaan dat jy kwalik kon weier om haar te ontvang. Soos jy sê – jy is haar pa. Dis net . . . Jy moet van jou kant ook probeer verstaan dat ek nie in jou vreugde kan deel nie.”

Hy laat sak sy kop. “Ek besef dit, Muriël. Ek is jammer.” Albei wonder op hierdie oomblik waaroor hy jammer is. Daar is so baie om oor jammer te wees. Toe hy opkyk, betrap hy haar oë vol vrae op hom. Hy stap nader, kyk haar innig aan. “Waaroor ek die jammerste van alles is, is dat ek jou, hier aan die einde van ons lewe saam, so diep skok en seermaak. Ek kan maar net hoop en bid dat jy dit in jou hart sal vind om my te vergewe. Ek kan jou die versekering gee dit was die enigste keer dat daar ’n ander vrou in my lewe was. En vandag kan ek nie begryp wat op aarde my destyds besiel het nie.”

Haar stem is laag. “Jy moes baie vir haar omgegee het om . . . so ver te gaan om . . .” Haar stem vervaag.

“Ons het Switserland toe vertrek en sy het geheel en al uit my lewe verdwyn. Vir altyd, het ek geglo.”

“Dis een van die dinge wat my baie hinder, Fritz. Ons halsoorkop verhuising na Switserland. Jy het gesê dat jy liewer hierheen wil kom as om langer onder jou broer se onredelike eise te werk. Ek het jou geglo. Ek het gehoor daar was die een of ander struweling tussen jou en Albert oor ’n operasiegeval, maar jy het dit afgemaak as maar net nog een van Albert se bomenslike eise. Julle twee broers is as vyande uitmekaar en dit het nog altyd gehinder, maar ek weet die Meissners is koppige mense en dat die een broer nie vir die ander sal toegee nie. Maar dat jy sonder om ’n oog te knip van die Meissner-kliniek af weg is terwyl jy ’n meisie agterlaat met wie jy ’n intieme verhouding het . . .”

“Muriël, ek het vir geen enkele oomblik gedroom dat sy swanger kan wees nie!”

Haar oë spot kil met hom. “Werklik? Jy is ’n dokter en jy kan dit vir my sê?”

Hy draai van haar af weg en sê ná ’n pynlike stilte: “Ek was . . . versigtig.” Hy sug, vee oor sy oë. “Versigtig genoeg, het ek gedink.” Hy kyk vinnig na haar, sien haar neergeslane ooglede en ’n koudheid vat sy hart vas. Hy het skielik ’n dogter ryker geword, maar is hy besig om sy vrou te verloor? Hy spartel met woorde om iets te probeer red van ’n mooi huwelik wat oor byna veertig jaar strek: “Ek weet jy het ’n groot deel van jou respek vir my verloor, my vrou, maar jy behoort darem te weet as ek ’n vermoede gehad het sy was swanger, sou ek haar nie summier in die steek gelaat het nie. Dit móét jy glo!”

“Ek weet nie meer wat om te glo nie.”

“Muriël, jy het die brief gelees wat Albert aan my geskryf het. Daarin erken hy dat Julene se ma hóm wou spreek nadat ek daar weg is, en dat hy geweier het om haar te woord te staan. Sy het nie met my probeer kontak maak toe sy uitgevind het sy verwag nie. Almal het geweet ek is Switserland toe en by watter kliniek ek my bevind. Hoekom het sy dit nie gedoen nie?”

“Dis die probleem met julle Meissners, Fritz. Julle dink dis net die Meissners wat trots het, wat die reg op trots het. Maar ander mense het ook trots. Ek begin al meer simpatie met jou minnares kry. Ek kan verstaan hoekom sy, ten spyte van haar penarie, net maar van die toneel verdwyn het. Eerstens was jy goed tien jaar haar senior. Sy was maar twintig en jy ’n man van twee-en-dertig. Boonop was jy ’n dokter en nogal ’n Meissner – ’n man wat sekerlik veronderstel was om te weet wat hy doen as hy by ’n vrou in die bed klim.”

“Muriël . . .”

“Jammer, Fritz, maar ek praat nou reguit. Jy het gesê jy was versigtig, en met daardie selfde simpele woord het jy haar natuurlik ook oorreed om aan jou eise toe te gee. Jy is ’n dokter. Jy weet wat jy doen. Jy sal versigtig wees. En toe, op ’n dag, is jy net weg. Skoonveld. Toe sy tot die ontdekking kom sy is – ten spyte van al jou versigtigheid – tog swanger en sy by Albert Meissner aanklop, weier hy om haar te ontvang. ’n Jong kind van twintig, swanger . . . en daar is niemand wat haar wil help nie. Niemand tot wie sy haar kan wend nie. Selfs nadat Albert se skokbrief hier aangekom het, het jy steeds geweier om te erken dat jy ’n jong meisie swanger in Suid-Afrika agtergelaat het. Besef jy wat dit aan my gedoen het toe ek lees dat jy destyds ’n verhouding gehad het en dat Albert jou uit die Meissner-kliniek geskop het omdat ’n pasiënt onder jou hande gesterf het terwyl jy aan ’n ander vrou staan en dink het . . .”

“Muriël!” Fritz Meissner is bleek. “Ek glo vandag nog nie dat daardie man as gevolg van mý nalatigheid gesterf het nie,” sê hy skor. “Ek erken my gedagtes het ’n oomblik gedwaal, maar daardie man was in ’n uiters kritieke toestand en ek en die ander dokters het reeds vóór daar met die operasie begin is, getwyfel of Albert hom sou kon deurhaal. Nie eens Albert Meissner kan vandag sê wie verantwoordelik was vir sy dood nie – ek of God. Jare lank het daardie saak baie swaar op my gewete gerus, maar dit is ’n episode wat van my die dokter gemaak het wat ek vandag is. En ook die getroue man wat ek die afgelope jare vir jou was. Jy het reg. Ek het aanvanklik ontken dat ek die vader van ’n kind is, omdat ek tot op daardie oomblik oortuig was dat ek by niemand ’n kind verwek het nie. Maar . . .” en nou is hy weer ten volle ’n Meissner, “die oomblik toe ek gister op die lughawe my oë op Julene lê, het ek geweet: sy is my kind. Sy is ’n Meissner . . . Ek aanvaar haar onvoorwaardelik as my dogter. Wat meer is, sy is ’n dogter om op trots te wees en ek is trots op haar. Ek het haar geweldig gefaal, maar ek sal na my beste vermoë daarvoor probeer vergoed. Ek kan net hoop dat jy my sal ondersteun. Want jy is my vrou en ek is lief vir jou. Ek wil jou nie verloor nie, Muriël. Maar ek kan my dogter ook nie die rug toekeer nie. Dit moet jy verstaan.” Hy tel sy jas op, begin aanstap deur toe.

Muriël sluk swaar. “Gaan jy probeer om haar in die kliniek aangestel te kry?”

“Ek sal dit aan Julene oorlaat. Sy moet self besluit wat sy met haar toekoms wil doen. Maar as sy voel dat sy graag hier wil werk, sal ek my bes doen.”

Die ultimatum is gestel, besef Muriël Meissner. Jy aanvaar my dogter. Of . . .

Sy staan by die venster toe hulle wegry kliniek toe, voel hoe die verdwasing in haar eerder toeneem as afneem. Sy was saam met Fritz by die kliniek toe afskeid geneem is van een van die senior dokters. Ná die geselligheid is sy na haar man se kantoor terwyl hy gou na ’n pasiënt gaan omsien het. Die pos het op sy lessenaar gelê en sy het dit opgetel. Tot haar verbasing was daar ’n koevert uit Suid-Afrika tussen die mediese korrespondensie.

’n Brief van Albert! Sy het nie daaraan gedink dat sy miskien oortree toe sy die besonder dik brief oopmaak nie. Tussen haar en haar man is geen geheime nie. Die feit dat Albert ná soveel jare van hom laat hoor het, het haar opgewonde gemaak. Sy het nog altyd gewens die verhouding tussen die twee broers moet regkom. Nie een van hulle is meer kuikens nie en die pad graf toe is miskien veel korter as wat hulle dink.

Sy het gaan sit, die brief oopgevou . . . en voor haar oë het ’n verhaal ontvou wat na ’n versinsel geklink het. Net . . . dit was geen storie nie. Albert Meissner is nie ’n man wat stories vertel nie. Sy ken hom. Toe Fritz hom weer by haar voeg, het hy ’n verslae, geskokte vrou aangetref wat net stom die brief na hom uitgehou het om te lees.

’n Meissner is ook maar net ’n mens, en dit is seker mens­lik om te probeer wal gooi wanneer jy met die skokkende feite uit jou verlede gekonfronteer word. Fritz Meissner het skielik baie menslik en baie magteloos gevoel toe hy eindelik van die geskrewe velle af opkyk in sy vrou se oë.

“Ek ontken ten sterkste dat daar ’n kind in die prentjie was,” het hy beslis gesê.

Maar gister op die lughawe het daardie kind na hulle toe aangestap gekom – ’n pragtige, lenige blonde meisie van dertig . . . Net een kyk na die gelaatstrekke het die man gedwing om te erken: Hierdie meisie is wat Albert sê sy is: ’n Meissner. Toe pa en dogter teenoor mekaar staan, was die ooreenkoms só opvallend dat Muriël se hart pynlik saamgetrek het. Al die jare het sy só begeer om vir haar man ’n kind te gee. Vandag staan sy dogter voor hom, maar dis ’n ander vrou se kind.

Die bedenkinge wat Julene in haar omgedra het sedert dokter Albert na haar pa verwys en voorgestel het dat sy Switserland toe moet gaan om hom te ontmoet, het oombliklik verdwyn toe sy voor die vreemde man tot stilstand kom. Sy het ook oombliklik besef dit was ’n fout om te kom – Muriël Meissner se oë het haar dit vertel. Sy is vandag, ’n dag later, selfs oortuig dat dit ’n fout was om hierdie mense net van haar bestaan te vertel. Dit dien geen doel nie. Sy het geen behoefte daaraan om in hierdie stadium van haar lewe ’n pa te hê nie. Sy het al die jare sonder een klaargekom. Wat jy nie ken nie, mis jy nie. Ook Fritz Meissner het geen behoefte om in hierdie laat jare van sy lewe ’n dogter te hê nie. Hy het sy lewe lank nooit ’n kind gehad nie. Wat hy wel gehad het, was ’n gelukkige, rustige huwelik met ’n goeie vrou . . . en dit is nou skielik op die spel met die ontydige verskyning van ’n onbekende dogter. Nog iets waaroor sy skuldig moet voel . . .en daar is reeds so baie waaroor sy skuldig voel.

Dis stil in die motor op pad na die wêreldberoemde kliniek. Haar blik rus op die sneeubedekte Alpe, maar sy sien dit nie regtig raak nie. Is dit haar lewenslot om altyd skuldig te voel? ’n Soort ekskuus-dat-ek-lewe-houding? Want sy moes nie daar gewees het nie. Die blote feit dat sy bestaan, het al soveel mense se lewens ontwrig, al soveel hartseer gebring, soveel skokke vir so baie, het selfs al ’n lewe geëis – haar moeder s’n.

Vandat sy haar verstand gekry het, was dit net sy en Anna, haar ma se ouer suster na wie sy gevlug het toe sy ontdek sy is swanger en dat die pa net skielik van die aardbol af verdwyn het. Toe sy sterf met haar kind se geboorte het Anna eintlik geen ander keuse gehad as om die baba groot te maak nie. Maar Anna was bitter en sy het wraak gesweer en deur die jare het sy haar planne fyn uitgewerk. Die Meissners het Julene misken, maar sy sou sorg dat die kind haar regmatige plek as ’n Meissner tussen die Meissners inneem.

Anna het gewerk en geswoeg en opgeoffer en Julene het ’n mediese dokter geword. En tipies Meissner: ’n bekwame een. Intussen het die noodlot in Anna se hand gespeel: Albert Meissner word een van die bekendste medici in die land en sy kliniek beroemd ver buite die grense van Suid-Afrika. Hier bou die patriarg, wat baie eerder as ’n despoot bestempel kan word, ’n bekwame span op waarna afgunstige buitestanders verwys as die Meissner-mafia met Albert Meissner as die Godfather aan die hoof daarvan. Maar sy persoonlik lewe is nie so suksesvol nie. Hy het net een seun en dié besluit tot sy pa se grootste ontsteltenis en teleurstelling om ’n balletdanser te word. Albert belet hom die huis en skrap sy naam van die familieregister. In hierdie stadium verwag sy skoondogter reeds sy enigste kleinkind, maar Albert Meissner is te verbitterd om sy besluit te heroorweeg, en sy seun en dié se gesin verdwyn uit sy lewe.

Toe Julene haar doktersgraad verwerf, besluit Anna dis tyd om haar plan in werking te stel. Julene moet op die toneel verskyn as Albert Meissner se lank verlore kleindogter. Hy het geen rede om agterdogtig te wees nie, want Julene het die sterk Meissner-gelaatstrekke geërf. Albert besluit om die verlede te vergeet – sy seun sterf kort ná die begin van sy balletloopbaan in ’n ongeluk – en om sy kleindogter in sy lewe en in die Meissner-kliniek terug te ontvang. Van toe af lei Julene ’n dubbele lewe, gedurig bevrees dat die regte kleindogter sal opdaag en die bedrogspul aan die kaak stel. Sy dryf haarself om aan die hoë standaarde wat haar “oupa” stel, te voldoen.

’n Paar jaar lank gaan dit baie goed. Julene word oral aanvaar as Albert Meissner se enigste kleinkind en erfgenaam. Sy raak verloof aan Horst Buchner, die hoofarts, en die persoon wat daarmee kan spog dat hy die enigste mens op aarde is wat die Godfather se volle vertroue en respek geniet. Die swaarkryjare is verby vir Julene én vir Anna wat intussen Albert Meissner se huishoudster geword het sonder dat hy die vaagste vermoede het van die ware verbintenis tussen die twee vroue.

Maar toe daag die regte kleindogter op en die bedrogspul word oopgevlek. Julene verloor haar verloofde en bieg teenoor die Godfather – nou ’n ou man met ernstige hartprobleme. Hy besluit dis beter om te vergewe as om in verbittering te lewe. Hy het tog aan hierdie vals kleindogter geheg geraak. Anna bly aan as sy huishoudster, want, soos hy sê, as sy regtig gif in sy koffie wou gooi, sou sy dit jare gelede al gedoen het. En Julene, bepaal hy, moet Switserland toe gaan en haar pa leer ken.

Maar dit was ’n fout, besluit Julene opnuut toe hulle voor die indrukwekkende kliniek stilhou. Ek moes nooit gekom het nie.

Haar pa draai na haar voordat hulle uitklim. “Julene . . .” Hy ontmoet haar oë moedig. “Ek weet ek het geen reg om jou enige guns te vra nie. Daarvoor is ek te diep in die skuld by jou. Maar ter wille van Muriël . . . As haar houding aan die begin nie te vriendelik is nie, probeer verstaan, asseblief.”

Julene knik. “Natuurlik verstaan ek. Ek verkwalik haar geensins nie. Ek voel net baie jammer dat ék die oorsaak is van die skok en hartseer. Ek besef nou, noudat ek reeds hier is en dit te laat is, dat dit baie selfsugtig van my was om te kom. Ek is jammer.”

Haar woorde is gloeiende kole op sy hoof. Hy reik spontaan na haar uit, neem haar slanke vingers in syne. Sy stem is skor: “Moenie! Jy het niks om voor jammer te sê nie!”

Sy kyk na hom op en vir die eerste keer roer daar iets in haar hart. Sy knik net stom, weet nie wat om te sê nie.

“Het jy enige toekomsplanne? Hier is ’n pos oop as jy miskien belangstel. Albert het ’n onverbeterlike rapport oor jou as medikus gegee.”

Sy glimlag effens, verlang skielik so na die beduiwelde ou man dat sy trane agter haar ooglede voel prik. “Liewe Oupa. Ek verdien dit nie.”

“Oupa?”

“Ja.” Soos net ’n Meissner reguit en vas kan terugkyk al weet sy sy het gefouteer, kyk sy hom vas in die oë. “Ek het oom Albert Oupa genoem toe ek my as sy kleindogter voorgedoen het. Dis moeilik om van die gewoonte ontslae te raak. Ek moet nog leer om nie aan hom as my oupa te dink nie.”

Soos wat jy nog sal moet leer om vir my pa te sê, dink hy. “Hou my aanbod in gedagte, Julene. Hierdie kliniek is een van die bestes ter wêreld. Jy kan baie goeie ervaring hier opdoen.”

“Die Meissner-kliniek tel ook onder die bestes,” sê sy en hy kan die verlange en trots in haar stem hoor.

“Was jy gelukkig daar?”

“As medikus, ja. As mens bitter ongelukkig vanweë die vals rol wat ek moes speel.”

“Dit was nie jou skuld nie. Anna . . .”

Maar weer toon sy dat sy nie verniet ’n Meissner is nie. ’n Meissner kan sy pak slae vat . . .

“Die feit dat Anna verkeerde drome gedroom het, ver­skoon my nie. Ek was ’n volwasse mens en ’n volwaardige afgestudeerde dokter toe ons met die bedrogspul begin het. Vir Anna is daar dalk nog verskoning. Vir my nie.” Sy skud haar kop, erken eerlik: “As ek nou so terugdink, kan ek nie dink waar my verstand was nie! Ek kan net nie glo dat ek so ’n dwaas kon gewees het nie!”

Die vingers wat hy steeds vashou, word stywer vasgevat. “Ek weet. Ek weet presies hoe jy voel, my kind. Ek het myself dieselfde vraag afgevra nadat ek Albert se brief gelees het. Wat het my destyds besiel om ’n verhouding met ’n bloedjong meisie aan te knoop? Waar was my verstand?”

Hul oë ontmoet en hulle kyk mekaar stil aan. Dan glimlag sy. “ ’n Geval van aardjie na haar vaartjie dus?”

Hy glimlag skeef terug. “Ek hoop nie dis al wat jy van my geërf het nie, my kind – my dwaasheid.”

“Nee. Daar is ander dinge waarvoor ek vandag baie dankbaar is . . . soos om ’n goeie dokter te wees. As ek dan hierdie aarde moet bewandel . . . as dit so beplan was, dan . . .” Sy kyk hom skielik gul aan en die woorde kom maklik oor haar lippe: “Dan is ek bly jý is die man wat my moes verwek, Pa. Want dit is en bly ’n voorreg om ’n Meissner te wees . . . al is ons, of party van ons, soms ook dwase.”

“My kind . . .” Hy bring haar hand na sy mond en soen dit. Hy voel hoe sy borskas swel. “Dankie, Julene. Ek is trots op my dogter. Kom. Kom dat ek jou aan my kollegas gaan voorstel.”

“As jou dogter? Maar sal dit nie ’n vreeslike geskinder afgee nie?”

Hy lag, lyk skielik jare jonger. “Wat daarvan? Miskien is dit weer een van my dwase oomblikke, maar ek is lus om dit van die dak van die kliniek te verkondig! Kyk! Kyk hierdie pragtige dogter van my!”

Julene voel effens geamuseerd toe haar bekendstelling nie juis reaksie by die res van die personeel uitlok nie. Dis anders hier as by die Meissner-kliniek. Dáár is almal deel van die familie. Almal weet alles van almal af. Sy is byna dadelik ná haar ontmaskering daar weg, maar sy kan haar goed voorstel hoe die hele kliniek gegons het van die skokkende gebeure: Julene Meissner is nié Albert Meissner se kleindogter nie, maar die buite-egtelike kind van sy jonger broer, Fritz! Die verspotte trolliejoggie met die boksterte is eintlik die ware kleindogter en daar skuil inderdaad ’n gekwalifiseerde dokter agter die vermomming. En dat Horst Buchner met láásgenoemde gaan trou . . . O, sy glo die Meissner-kliniek se personeel sal nog lank nie uitgepraat raak nie!

Hier is dit heeltemal anders. Die personeel bestaan uit ’n span baie bekwame, geniale medici wat uit alle uithoeke van die aarde hier saamgetrek is. Die persoonlike element ontbreek – daar is nie werklik belangstelling in jou as mens nie. Daar was wel hier en daar ’n verbaasde wenkbrou, want niemand was bewus daarvan dat Fritz Meissner, jare lank reeds ’n senior en die afgelope jaar net in konsulterende hoedanigheid hier werksaam, ’n kind het nie. Maar as hy dan op ’n dag skielik met ’n dogter te voorskyn kom . . . wat daarvan?

Julene geniet dit om saam met haar pa die pasiënte te besoek, hoewel dit die heimwee na die Meissner-kliniek in haar verskerp. Horst Buchner én die Godfather het haar verseker dat haar plek oop is in die Meissner-kliniek en dat sy enige dag kan terugkeer daarheen. Dit is ook wat sy met haar hele hart wens om te doen, maar goed weet sy nie kan doen nie. Almal weet van haar bedrog en sy het sekerlik hul respek verloor. Haar strengheid in die kliniek – wat hulle as hooghartigheid aangesien het – ontlok nou seker baie leedvermaak. Wie sal vermoed dat dit eintlik ’n skerm was om te keer dat mense té na aan haar kom en dalk haar ware identiteit ontdek? Nee, ’n dokter wat nie die personeel se respek afdwing nie, kan nie ’n goeie dokter wees nie. En dit is al wat daar in die lewe vir haar oorgebly het: om ’n goeie dokter te wees. Haar hele toekoms sal sy daaraan wy, maar wáár sy ’n goeie dokter gaan wees, weet sy nie. Hier beslis nie. Sy moet uit haar pa en Muriël se lewens padgee sodat hulle in vrede met hul huwelik kan voortgaan.

“En hier is Oda, ons Turkse pasiënt,” hoor sy haar pa se stem tot haar deurdring en sy dwing haar gedagtes terug na die hede. “Dit is my dogter, Julene, ook ’n baie knap dokter.”

Daar is lewendige belangstelling in die oë van die fyn, donker meisie in die bed. “Merhaba!” roep sy spontaan uit.

Fritz Meissner glimlag. “Dit beteken hallo!” verduidelik hy.

“Jy is pragtig! Ek wens Kadri kan jou sien! Werk jy ook hier?” vra sy op goeie Engels.

“Nee,” glimlag Julene. “Ek kuier net. Hoe gaan dit?” vra sy beleef.

“Dit gaan goed, dankie. U baba sal kan sê wanneer ek weer honderd persent is.”

“My . . . baba?” Julene en haar pa kyk mekaar vlugtig aan. Oda lag. “Ja. U pa. Dis wat ’n pa op Turks is . . . baba.” Sy kyk vraend na haar dokter op. “U het gesê u sal vandag sê wanneer ek kan huis toe gaan.”

“Ek sal dit nog met dokter Rudman bespreek, maar ek sien geen rede hoekom jy nie eersdaags kan gaan nie, op voorwaarde natuurlik dat jy voortgaan met die behandeling vir jou rug. Ons sal met ’n dokter in Istanboel moet reël.” Verduidelikend vervolg hy teenoor Julene: “Hierdie dametjie het ’n baie onaangename ervaring gehad. Sy was hier vir ’n ski-vakansie en die ski-hyser het ontspoor. Gelukkig het hulle nie geval nie, maar haar rug het ’n paar goeie stampe weg. Dit kon dus baie erger gewees het. Sy vorder goed, maar sy sal nog ’n ruk lank terapeutiese behandeling moet kry en veral baie getrou moet wees met haar oefeninge,” laat hy waarskuwend teenoor die pasiënt hoor.

Oda lyk ’n oomblik lank peinsend en dan helder haar gesig op. “Hoekom stuur u nie iemand saam met my wat sal toesien dat ek al die bevele stiptelik uitvoer nie?” Haar blik pen Julene skielik vas. “Ja. Ek dink dis ’n blink plan! Hoekom kom jý nie saam met my Turkye toe nie? Jy is ’n dokter, jy is met vakansie . . . Dán kan jy sommer sien hoe my land lyk en jy sal boonop uitstekend vergoed word. Kadri kan betaal.”

“Nee, ek . . .”

Maar daar is geen keer aan die Turkse dame nie. “Kadri besit groot teeplantasies aan die Swart See by Rize en dis pragtige wêreld! Bosryke klowe, digte plantasies, helder bergstrome . . . O, dis ’n aardse paradys! Of ons kan sy seiljag neem en teen die Mediterreense kuslyn af vaar – ons kan al die interessante baaitjies en hawetjies aandoen. Kadri het ’n privaat eiland in die Golf van Antalya waar ons ’n dag of wat kan oorbly as ons moeg word vir die bootlewe en . . .”

“Stadig, Oda!” probeer Julene die woordevloed keer. “Dit klink alles baie gaaf en wonderlik, maar dis nie moontlik nie.”

“Hoekom nie?”

Julene aarsel, kyk na haar pa, en hoewel hy nie ’n woord sê nie, lees sy die vraag in sy oë ook: Hoekom nie?

“Dis net . . . Dankie vir die aanbod, maar ek kan dit nie aanvaar nie.” Sy draai dadelik weg deur toe.

Haar pa snap die wenk en begin ook deur toe beweeg terwyl hy sê: “Ek sal met dokter Rudman praat en hy sal jou kom sê wanneer jy huis toe kan gaan.”

Maar Oda se oë bly op Julene gerig: “Dink weer daaroor, asseblief! Jy gaan ’n wonderlike, kostelose vakansie kry en ek beloof jou, jy sal nie moeite met my hê nie! Asseblief, dink weer daaroor!”

Julene knik net en met ’n klein glimlaggie verdwyn sy vinnig die gang in. Dis stil tussen pa en dogter terwyl hulle langs mekaar die gang af stap.

“Ek het nie geweet jy is ook ’n ortopedis nie, Pa. Ek was net bewus van die narkotiseur,” sê Julene later met ’n skuins blik na haar pa.

Hy skud sy kop glimlaggend. “Ek is nie ’n ortopedis nie. Maar ek het baie ervaring opgedoen hier in Switserland. Soos jy weet, is Switserland die ski-mekka van die wêreld. Deur die jare het ek daagliks met die gevolge van ski-ongelukke te doen gekry. Oda was baie gelukkig, hoor!” Hy bespreek haar geval met Julene en sluit af: “Ek sou werklik graag wou sien dat sy in bekwame hande oorgegee word, anders kan sy later in haar lewe probleme ondervind. Sy is nog baie jonk, moet nog kinders in die wêreld bring.”

“Dan is dié Kadri haar man?”

“Nee. Sy is nie getroud nie. Ek weet eintlik nie presies wie Kadri is nie. Hy was glo pas ná die ongeluk hier, maar ek het hom nie te sien gekry nie. Rudman het hom ontmoet. Soos ek kan aflei, is hy die hoof van die huis of die familie, maar hoe dié twee skakel, weet ek nie. Sy is ’n baie gawe kind.”

“Ja. En baie impulsief ook.”

Hy glimlag net. Hy wil liewer geen opinie lug oor die aanbod nie, want hy wil nie hê Julene moet die idee kry hy wil haar nie hier hê nie, hoewel hy dink sy sal ’n dwaas wees om so ’n geleentheid deur haar vingers te laat glip. Min mense kry die kans om Turkye kosteloos te besoek, en sy behoort die kans aan te gryp om hierdie wêrelddeel ’n bietjie te verken.

Hoewel Julene nie daaroor praat nie, bly die impulsiewe aanbod van die Turkse meisie haar hardnekkig by. So ook haar vraag: Hoekom nie? Julene kan aan geen geldige rede dink hoekom nie. Oda is ’n beskaafde, opgevoede meisie. Haar grimering, haar nagklere, die feit dat sy op ’n ski-vakansie was en in so ’n duur kliniek opgeneem is, vertel (sonder dat Oda dit self so pertinent hoef te gestel het) dat geld geen probleem is nie. Sy hoef dus nie te vrees dat sy dalk in ’n krotbuurt sal beland nie. Afgesien van ’n baie romantiese vakansie tussen groen teeplantasies en digte woude en ’n pasella seil­jagtog op die Middellandse See, sal sy boonop betaal word om dit te geniet. Werklik ’n unieke kans.

Dis maar net haar versigtigheid (wat al tweede natuur geword het) wat haar die aanbod summier van die hand laat wys het. Omdat sy self in die verlede ander mense ’n rat voor die oë gedraai het, was sy nog altyd waaksaam dat iemand dit nie met háár doen nie. Want dis die straf van die mens wat bedrog pleeg: jy kan ander ook nie vertrou nie, erken Julene selfkastydend aan haarself.

Uit Oda se oogpunt beskou, kan sy al meer verstaan hoekom sy die aanbod gedoen het. Wanneer sy teruggaan, sal sy gebonde wees aan die plek waar die dokter is wat haar behandel. Natuurlik sal dit veel aangenamer wees om die dokter oral met jou saam te neem. As geld nie ’n kwessie is nie – “Kadri sal betaal” – hoekom dan nie, veral as die dokter vry is om dit te kan doen?

Miskien is hierdie aanbod ’n bestiering, wil sy al meer begin dink. Dis net tydelik en sal vir Muriël tyd gee om aan die gedagte gewoond te raak dat sy skielik ’n stiefdogter ryker geword het. Dit sal haar self ook kans gee om perspektief te kry en te besluit oor haar toekoms. Terselfdertyd sal dit haar die kans gee om ’n land wat sy nooit gedroom het om te sien nie, te besoek – en dit op ene Kadri se koste. Hoekom nie?

Met die gevoel dat sy tog ’n bietjie impulsief optree – iets wat nie deel van haar samestelling is nie – lig sy haar pa die volgende oggend oor haar besluit in toe hulle op pad is kliniek toe. Vanoggend het sy self gevra of sy weer kan saamgaan.

“Ek hoop nie jy voel ek het skaars hier aangeland en wil nou weer weg nie. Dis nie dit nie, Pa.”

“Ek verstaan, Julene. En ek is bly jy gaan. Dis ’n wonder­like geleentheid wat ek jou van harte gun. Daar is tyd genoeg om daarná besluite te neem. Ek glo ook jy verdien ’n vakansie. Albert het jou ’n hardwerkende, konsensieuse dokter genoem.”

Sy knik, glimlag effens. “Ek moet sê, noudat ek besluit het, begin ek daarna uitsien. Ek het nooit werklik vakansie gehad terwyl ek aan die Meissner-kliniek verbonde was nie. Ek wou nêrens anders wees as net daar nie.” In haar hart voeg sy by: En ek was ook te bang die regte kleindogter daag in my afwesigheid op. “Ek hoop net Oda se aanbod staan nog. Miskien sal dié Kadri nie daarvan hou nie. Hy is immers die een wat moet betaal.”

By die kliniek aangekom, stap sy direk na Oda se kamer, stoot die deur oop en steek vas in haar spore. Omdat sy ’n dokter is, is sy nie daaraan gewoond om aan pasiënte se deure te klop nie. Daar is egter reeds iemand by Oda. ’n Dokter, na sy wit jas te oordeel. Sy wonder of Oda ’n terugslag ondervind het. Maar die volgende oomblik sien sy hoe hy die pasiënt optrek in sy arms, hoe Oda se arms om sy nek gaan en is daar ook ’n snik hoorbaar toe hy sy kop oor die rooi lippe buig. Baie versigtig trek Julene weer die deur aan en stap in die gang af.

Sy voel nie juis geskok of ontstig oor wat sy gesien het nie. Dis baie algemeen dat vroue soms verlief raak op hul dokters of hulle verbeel hulle is verlief. Miskien is dit waar dat die dokter hom skuldig maak aan onprofessionele gedrag. Maar . . . as albei vry mense is, en hulle niemand te na kom met die soenery nie, hoekom nie? Sy glimlag by haarself.

Sy gee die amoreuse paartjie genoeg tyd, en toe sy weer by die kamer kom, staan die deur oop en lê ’n baie sedige meisie met groot oë teen die kussings. Die onskuld self, dink Julene geamuseerd. Die somberheid op die gesiggie helder egter onmiddellik op toe sy gewaar wie haar volgende besoeker is.

Merhaba!”

Ewe kontant groet Julene ook in Turks: “Merhaba! Hoe vra ’n mens in jou taal hoe dit gaan?”

Nasilsiniz?”

“Wel dan . . . nasilsiniz?”

“Iyi.”

“En dit beteken?”

“Goed. En dit sal sommer nog beter gaan as jy my vertel jy aanvaar my aanbod van gister.”

“Dan gaan dit baie iyi met jou, want ek het jou kom sê ek aanvaar jou aanbod.” Sy hou haar hand omhoog toe dit lyk asof Oda uit die bed gaan spring van blydskap. “Maar wie sê Kadri – wie hy ook al mag wees – sal daarvoor te vinde wees? Ek verwag eerlik nie vergoeding nie, Oda, miskien net my reiskoste. Maar jy het gesê Kadri is die een wat sal moet betaal. Wie is hy?”

“Hy sal nie omgee om te betaal nie, Julene. Hy rol in die geld, regtig.”

“Maar wie is hy?” hou Julene vol.

“Hy is my aanstaande,” antwoord sy, sonder entoesiasme.

Dokter Julene

Подняться наверх