Читать книгу Die tonnel - Ena Murray - Страница 4
2
ОглавлениеMynhardt se hande bewe toe hy uiteindelik voor die moderne woonstelblok stilhou. Daar is ’n woelende, kolkende woede in hom wat tot uitbarsting wil kom. Hy sukkel om die voordeursleutel van sy woonstel in die slot te kry, maar dan gaan die deur onverwags voor hom oop en twee sagte arms gly om sy nek.
“Hallo, my liefling. Waar bly jy dan so laat? Het jy vergeet dat ons vanaand gaan dans?”
Hy stamp die deur agter hom toe en trek ergerlik aan die twee sagte hande agter sy nek.
“Hoe kom jy in my woonstel, Heloïse?”
Sy gee ’n tree agteruit en kyk na hom met ’n frons tussen haar netjies geplukte wenkbroue.
“Jy weet net so goed soos ek dat jý vir my ’n duplikaatsleutel van jou woonstel gegee het.”
“O ja.”
Hy stap by haar verby sonder om weer na haar te kyk en sak moeg op die rusbank neer. Hy leun vooroor en vee met sy hande oor sy gesig.
Heloïse Malan staar hom verbaas aan. Dis die eerste keer dat hy so vreemd optree. Almal ken Mynhardt as die innemendste en hoflikste man wat daar is. Hy is altyd opgewek, die siel van elke partytjie, die heimlike droom van elke vrou. Terwyl sy fronsend na hom staar, besef sy opnuut watter geweldige houvas hierdie man op haar het, en voel byna bang vir die vuur wat sy blote teenwoordigheid in haar laat opvlam. Daar verskyn ’n sagte lig in haar oë toe sy op die armleuning gaan sit en haar vingers deur sy donker hare trek.
“Wat makeer, my skat?”
Haar stem is warm, intiem, haar asem strelend teen sy slaap, maar vandag faal dit om enige emosie behalwe ergernis in hom wakker te maak.
Toe hy nie antwoord nie, vervolg sy koketterig: “Die grys langs jou slape is nou wel baie aantreklik, maar dis ook ’n teken dat jy nou aan trou moet begin dink, anders bly sit jy op die rak!”
Hy spring op en draai met blitsende oë na haar.
“Trou! Is dit dalk ’n huweliksaanbod?” vra hy met ’n gevaarlik sagte stem.
Haar oë rek verskrik.
“Mynhardt! Wat gaan met jou aan? Ek het maar net ’n grap …”
Hy gee ’n smalende laggie.
“O! Ek wou net sê! Wanneer ek die dag besluit om te trou, Heloïse, is ek mans genoeg om sélf die vrawerk te doen. Dit sal miskien goed wees as jy dit in die toekoms sal onthou!”
’n Rooi blos kleur haar wange, maar dan begin haar oë gevaarlik flikker.
“Ek weet nie wat met jou aangaan nie, Mynhardt. Ek sal maar liewer gaan. Ek het nou genoeg beledigings van jou gesluk vir een aand!”
Sy gryp haar handsak en swaai om. Maar nog voordat sy by die deur kan kom, omsirkel sterk arms haar en voel sy sy brandende lippe teen haar nek.
“Vergewe my, Heloïse. Ek is jammer. Ek weet nie wat my makeer om so …”
Daar verskyn ’n triomfantelike glimlaggie om haar mond en sy leun geredelik teen hom aan. Hy tel haar op en dra haar na die rusbank.
“Jy werk te hard, my arme liefling. Vergeet nou vanaand van al die ou probleme. Solank ons twee by mekaar is, is alles mos reg,” fluister sy sag en kyk intiem in sy oë.
Sy mond soek hare in roekelose ongeduld, asof hy op hierdie oomblik werklik van alles wil vergeet. Maar wanneer hy eindelik sy mond van hare wegneem, voel hy leër as ooit tevore. Hy voel hoe sy haar arms styf om sy nek strengel en weet dat sy soen die hartstog soos ’n vuur in haar ontketen het. Maar vanaand wag hy vergeefs dat dit ook in hom moet oplaai. Sy liggaam bly gespanne en ontoegeeflik in haar omhelsing. Hy voel die sagtheid en soepelheid van haar vroulike liggaam teen hom, maar meteens walg die openlike manier hom waarop sy haarself so aan hom opdring.
Met ’n skaars onderdrukte vloek skeur hy hom van haar af weg en spring op. By sy kamerdeur draai hy om en slaag met moeite daarin om te glimlag.
“Skink solank vir ons ’n drankie terwyl ek aantrek. Maak myne maar taamlik sterk.”
Sy swaai haar bene van die rusbank af en staan lui op.
“Is dit nie ’n bietjie roekeloos nie? Dis nog baie vroeg,” sê sy tergend.
“Ek vóél roekeloos!” antwoord hy toe hy die deur toemaak.
Maar hoe hy ook al probeer, kan Mynhardt die aand nie op dreef kom nie. Hy slaan die een drankie na die ander weg, maar selfs dít help nie. Tot die meisies se teleurstelling staan hy die grootste deel van die aand eenkant teen die muur en die hele tyd is daar ’n donker frons tussen sy oë. Toe die orkes die laaste dans begin speel, stap Heloïse na hom toe. Sy is woedend omdat hy die hele aand nog nie met haar gedans het nie en haar feitlik geheel en al geïgnoreer het.
“Ek is jammer as ek jou in jou interessante mymeringe steur, maar dis die laaste dans. Aangesien jy vanaand nog nie een keer met my gedans het nie, sal ek myself maar verneder en jou vir die laaste dans vra,” sê sy snedig en kan skaars haar woede verberg.
Woordeloos neem hy haar in sy arms en kyk skuldig in haar gloeiende oë.
“Ek maak nou al die hele aand verskoning en ek is werklik jammer. Ek weet dat ek die aand vir jou bederf het. Vergewe my maar hierdie keer. Ek sal op ’n ander aand weer vergoed,” sê hy berouvol.
Heloïse bestudeer hom ’n ruk lank in stilte.
“Daar het iets gebeur, Mynhardt. Wil jy my nie maar vertel wat skort nie?” vra sy, dadelik weer gemoedelik.
Hy sug.
“Daar is niks wat jy kan doen nie, maar dankie dat jy belangstel,” antwoord hy vinnig en wens sy wil ophou lastige vrae vra.
Sy kyk hom onseker aan, maar vra dan reguit: “Is dit miskien geldelike probleme?”
Hy kyk haar skerp aan. Het hy miskien Heloïse se intelligensie onderskat?
“Hoekom vra jy so?”
“Ek raai maar net.”
“En ás dit so is, wat kan jy daaraan doen?” vra hy versigtig en hou haar fyn dop.
“Ék sal nie juis iets kan doen nie, maar my pa kan dalk help.”
Mynhardt se oë vernou. Hy is bewus van die feit dat Petrus Malan ’n ryk man is. Maar wat hy óók weet, is dat hy net so suinig is as wat hy ryk is.
“En wat sal die prys wees wat ek vir daardie hulp sal moet betaal?”
Heloïse kyk in sy oë en byt haar onderlip vas. Dan lig sy haar kop uitdagend omhoog. Sy weet dat sy nou alles gaan waag, maar … ’n Mens weet nooit … Sy wil vir Mynhardt Wessels hê en sy sal hom kry, al moet sy dan nou ook van haar pa se geld gebruik maak om haar doel te bereik! Sy is ook nou oortuig daarvan dat Mynhardt werklik in ’n finansiële verknorsing is. As sy haar kaarte reg speel …
“Jy weet dat my pa ’n baie versigtige sakeman is en dat hy nie sommer hier en daar en oral geld sal uitleen nie. Maar …”
Mynhardt hou haar die hele tyd speurend dop en merk haar huiwering. Daar verskyn ’n vreemde lig in sy oë.
“Maar wát, Heloïse?” vra hy gedemp.
“Jy … Hy het ’n hoë dunk van jou en as jy nou nog sy …”
Sy swyg en kyk stip na sy swart strikdas.
“Maar as ek nou nog sy skoonseun ook is, sal hy nie omgee om my met ’n klomp duisend rand te help nie. Dit is wat jy wou sê, nie waar nie?”
Haar lippe bewe.
“Ja, dis wat ek wou sê,” erken sy.
Daar flits ’n byna wrede trek oor sy gesig en hy dans doelbewus in die rigting van die oop glasdeure wat op die terras uitlei. Toe hulle uit die gesigsveld van die dansende pare is, los hy haar en gryp haar aan die skouers. Sy een hand dwing haar ken omhoog en wat sy in sy oë lees, laat haar na asem snak.
“Met ander woorde, jy wil my kóóp vir ’n klomp duisend rand! Ek behoort natuurlik gevlei te voel dat ek darem ’n paar duisend werd is, maar ongelukkig vir jou het jy ’n bietjie te laat begin bie.”
“Wat bedoel jy?” roep sy uit en in die flou lig wat van die dansbaan se kant af skyn, kan hy sien hoe die bloed uit haar gesig wegsypel.
Hy lag bars.
“Dit beteken net een ding, my liewe Heloïse. Van vanaand af is ek klaar met jou. Wat my betref, kan jy en jou pa mét sy geld na die duiwel vlieg!”
Hy swaai van haar af weg en begin hardloop. ’n Paar sekondes later hoor sy hoe sy motor met skreeuende bande wegtrek. Met ’n sidderende sug sak sy op die gras neer. Sy besef dat sy vanaand die grootste flater van haar lewe begaan het. Sy het alles gewaag … en alles verloor!
Waar Mynhardt in dolle vaart deur die strate van die stad jaag, voel dit vir hom asof hy waansinnig aan die lag kan gaan.
“Hemel, is ek dan ’n skaap wat op vendusie is, wat aan die hoogste bieër opgeveil word?” vra hy homself hardop af.
Terwyl Mynhardt sy motor roekeloos die nag laat inskiet, lê Ilse met oopgesperde, brandende oë na die maanverligte kamervenster en staar. Sy dink terug aan haar gesprek met Jakobus Stander. Kort nadat hy haar die inhoud van die testament meegedeel het, het hy vertrek.
“Dink nou goed oor die saak na, my kind. Moenie oorhaastig wees nie. Onthou, jy hoef nie met Mynhardt te trou as jy nie wil nie,” was sy afskeidswoorde.
Gedurende die aand het sy telkens Liza se bekommerde oë op haar gevoel, maar sy het niks aan die getroue ou huishulp vertel nie. Sy wens met haar hele hart dat sy ook hierdie keer, soos in die verlede, haar probleme met haar kon deel, want Liza is al ma wat sy ooit geken het. Maar sy besef dat sy hierdie keer heeltemal alleen staan, dat selfs haar jare lange vertroueling haar hierdie keer nie kan help nie. Haar gedagtes dwaal terug na die verlede en haar oë verdonker.
Vandat sy kan onthou, was daar maar net één persoon op wie se liefde en bystand sy kon reken – Liza. Haar pa was ’n lang, maer vreemdeling uit wie se pad sy moes bly sodat sy hom nie miskien in sy belangrike werk as wetenskaplike sou steur nie. Soms, wanneer sy in sy oë gekyk het, het sy die indruk gekry dat hy nie heeltemal bewus was van wat om hom aangaan nie, asof sy gedagtes met dinge ver bo haar begrip besig was. Dit was maar eers ’n kort rukkie voor sy dood dat hy tot haar verbasing en ontsteltenis soms ’n oomblik by haar in die tuin kom sit het. Meestal het hy haar iets van sy lewe vertel, grepe uit sy verlede, en dit was ook by een van dié geleenthede dat sy die eerste keer Jakobus Stander se naam gehoor het.
Haar ma, of liewer die vrou wat moes deurgaan as haar ma en haar gereeld vertel het dat sy nie haar wérklike ma is nie, wil sy liefs vergeet. Die herinnering aan haar is pynlik en vernederend. Sy sal nooit daardie dag vergeet toe sy haar stiefma aan ’n paar vriendinne hoor sê het nie: “Ja, ek het die stomme bloedjie ook maar jammer gekry en toe maar besluit om met Markus te trou. Maar sy is baie nors van geaardheid, en so onaantreklik. Net die teenoorgestelde van my Mynhardt. Hy is so ’n talentvolle en aantreklike seun, dink julle nie ook so nie? Ek sal nog eendag trots wees op hom, maar die arme Ilse sal seker vir die res van ons lewe soos ’n meulsteen om ons nek hang.”
Sy was maar sewe jaar oud en nog nie voorheen blootgestel aan die wreedheid van die lewe nie. Sy het haar stoel snikkend weggerol van onder die venster en dit was teen Liza se bors dat sy haar kinderleed uitgestort het. Van daardie dag af het sy so ver moontlik uit haar stiefma se pad gebly. Die wrede woorde het haar nog meer as tevore in haarself laat keer. Wanneer daar gaste in die huis was, het sy soos ’n bang hasie in haar kamer gebly en mettertyd heeltemal afgesonder van die res van die gesin begin lewe. Met hongerige, verlangende oë het sy deur haar kamervenster na haar stiefbroer en sy vriende gestaar terwyl hulle op die groot, groen grasperke voor die huis gespeel het. Later, toe hulle groter was en Mynhardt gedurende universiteitsvakansies meisies huis toe gebring het, is sy direk beveel om uit sy pad te bly, want haar gebrek sou Mynhardt in verleentheid bring. Dit was nie moeilik om te gehoorsaam nie, want teen daardie tyd het haar stiefma gesorg dat sy ’n woonstelletjie aan die een kant van die huis gehad het sodat sy nooit met Mynhardt en sy vriende in aanraking gekom het nie. Soms het sy gedink Mynhardt het heeltemal vergeet dat hy nog ’n stiefsuster het, tot die dag toe sy dit gewaag het om ’n bietjie tussen die blomme te gaan rondry. Sy het byna haar rolstoel omgegooi en sou haarself lelik beseer het, as dit nie was vir Mynhardt wat haar net betyds gevang het nie. Sy het opgekyk na hom en daar het meteens iets snaaks met haar hart gebeur. Sy het hom byna nie herken nie. Sy het haar blik oor hom laat dwaal, oor sy fors gestalte, sy donker, golwende hare, en toe het sy vas in sy donkerbruin, deurdringende oë gekyk.
“Mynhardt!”
Sy was bly om hom weer te sien en die uitroep het spontaan oor haar lippe gekom. Maar toe het sy die twee meisies agter hom gewaar en pynlik gebloos. Sy het haar stoel omgeswaai en dit so vinnig moontlik in die rigting van die huis gestuur, want die vrees vir mense en dat hulle haar sou seermaak, was weer op die voorgrond. Maar sy was nie vinnig genoeg nie en haar hart het ineengekrimp toe sy Mynhardt hoor sê: “Dis my stiefsuster. Julle moet haar maar verskoon. Sy is maar van kleins af so … snaaks.”
Op daardie oomblik het sy hom gehaat. Al die onregverdigheid van die verlede het in haar hart opgestoot en sy het haarself vertel dat sy hom haat. En tog het sy beeld in haar hart bly voortlewe. Sy het dieselfde vreemde gevoel in haar binneste ervaar toe sy hom weer gesien het nadat hy uit die buiteland teruggekeer het. Elke keer daarna moes sy van haar swaargewonne kalmte prysgee wanneer hy in haar teenwoordigheid was. Nie dat hy eintlik aandag aan haar gegee het nie, maar net die noem van sy naam het haar hande onverklaarbaar laat bewe. Sy het aan haarself erken dat sy bang is vir hom, bang vir die vreemde emosies wat hy in haar wakker maak.
Ure van bittere trane en eensaamheid het haar eindelik sover gebring om haar gebrek te aanvaar en daarin te berus, maar vanaand herleef sy weer daardie gevoel van verbittering en frustrasie. Haar hele wese roep uit na daardie dinge wat ’n normale vrou as haar geboortereg beskou – ’n man en kinders van haar eie. En nou het daardie droom nader aan die werklikheid geskuif as wat sy durf hoop het, en tog … Die onmoontlikheid daarvan dring ten volle tot haar deur. As sy net nie verlam was nie … Haar oë rus magteloos, wanhopig op die buitelyne van haar bene wat sigbaar is in die halfskemerte van die kamer. Sy weet dat daardie dinge nie vir haar beskore is nie. Sy roep Mynhardt se beeld in haar gedagtes op soos hy die middag voor haar gestaan het, sy mond honend, sy oë vol afsku. Warm trane brand agter haar ooglede en haastig druk sy haar gesig in die kussing.
Hoekom moet ek verlam wees? Hoekom kan ek nie soos ’n normale vrou wees nie? Leer my tog om te loop! Loop! Loop! roep haar hart wanhopig, opstandig teen haar lot uit terwyl haar vuisies magteloos teen die kussing slaan. Maar terwyl haar trane die kussing vlek, bly die beeld van ’n jong man prominent in haar gedagtes: ’n jong man met donker, golwende hare, en onuitspreeklike veragting wat in sy oë weerkaats.
Twee weke later sit Ilse weer op dieselfde plek onder die groot boom waar sy en Jakobus Stander tee gedrink het. Hierdie keer is daar egter ’n netjiese kanttafeldoek oor die houttafel gegooi. Aan die teegerei is dit duidelik dat sy gaste verwag.
Sy sit baie stil, haar blik vasgenael op die twee groot, versierde ysterhekke. ’n Ruk later ry ’n motor by die oprit op en word kort daarna deur nog een gevolg. Die twee mans klim uit en sluit hulle by mekaar aan. Woordeloos stap hulle na haar toe.
“Goeiemiddag, Ilse,” groet Jakobus Stander haar en druk ’n vaderlike soen op haar voorkop.
Ilse kyk dankbaar na hom. Sy weet dat hy deur hierdie gebaar aan haar wil wys dat sy op hom kan reken, wat haar besluit ook al mag wees. Sy waag dit om vinnig na die ander persoon te kyk, maar sy geslote gesig vertel haar niks.
“Goeiemiddag, Ilse.”
“Middag, Mynhardt.” Dan vervolg sy meteens weer senuweeagtig: “Sit gerus. Ek skink eers vir ons tee.”
Jakobus probeer om ’n gesprek aan die gang te sit, maar die lang, swanger stilte stem hom ook neerdrukkend. Later is daar volkome stilte, elkeen se gedagtes worstel met dieselfde probleem.
“Dit sal beter wees as ons nou maar liewer tot die punt kan kom,” sê die prokureur terwyl hy sy leë koppie neersit. “Daar is nog ’n week oor, maar indien julle besluit het om saam te gaan met die eerste deel van die testament, is daar baie dinge wat gereël moet word. ’n Mens kan nie sommer net na ’n landdros toe stap en gaan trou nie. Daar is ’n hele paar vorms wat ingevul moet word en nog ander dinge wat in orde gebring moet word.” Hy swyg en kyk Ilse dan direk aan. “Wat het jy besluit?”
Daar is ’n oomblik lank stilte en sy is bewus van die skerp oë wat op haar gerig is. Maar sy waag dit nie om na Mynhardt se kant toe te kyk nie. Sy lig haar ken op en hoewel haar hande bewe, is haar stem kalm en gelykmatig toe sy antwoord: “Ek is jammer, maar ’n huwelik tussen my en Mynhardt is buite die kwessie.” Sy kyk die prokureur vas aan en ’n vlugtige oomblik sien sy verligting in sy oë. Dan skraap sy al haar moed bymekaar en draai na die stroewe jong man wat langs die prokureur sit. “Jy moet my nie kwalik neem nie, Mynhardt. Dit is nie dat ek iets persoonliks teen jou het nie, maar ’n meisie soos … soos ek kan nie van trou droom nie. Dis tog vanselfsprekend. Pappa het dit miskien goed bedoel, maar …”
Haar stem sterf weg en sy bloos pynlik onder die bestuderende, koue oë van haar stiefbroer.
“En jy, Mynhardt?” vra Jakobus onseker.
“Ek is bereid om met haar te trou.”
Jakobus frons en die twee mans kyk mekaar stip aan. Ilse snak na asem.
“Mynhardt, jy kan dit nie werklik bedoel nie!” roep sy geskok, verward uit.
Hy kyk haar onpersoonlik aan.
“Hoekom nie?” vra hy koel. “Ek wil my onderneming red. Dit is by my die hoofsaak.” Hy staan op. “Dit lyk my nie ons sal vanmiddag eenstemmigheid bereik nie. Ons moet maar die oorblywende week van grasie gebruik om weer oor die saak na te dink.”
Jakobus kyk hom fronsend, ontevrede aan.
“Maar as Ilse klaar besluit het, is …”
Mynhardt se oë vernou.
“Ek het die reg op nog ’n week,” val hy hom in die rede.
Jakobus staan op en kyk die jonger man agterdogtig aan.
“As jy daarop aandring, kan ek nie weier nie, maar Ilse het klaar besluit en ek sien geen rede hoekom die saak nog ’n week langer moet sloer nie.”
Daar verskyn ’n vreemde lig in Mynhardt se oë. Dan glimlag hy meteens vir Ilse.
“Besluite kan soms verander word,” merk hy droog op. “Volgende week, Saterdag, is die tyd verstreke. Ons sal mekaar dus weer Vrydagmiddag hier ontmoet. Baie dankie vir die tee.”
Met ’n kort kopknik verlaat hy hulle.
Daardie aand sit Ilse in die sitkamer. Hoewel haar hande besig is met breiwerk, is haar aandag nie by wat sy doen nie. Herhaaldelik herleef sy die gebeure van die middag, maar hoe sy ook al probeer om Mynhardt se houding en besluit te verstaan, kan sy net nie daarin slaag nie. Sy kan haarself net nie voorstel dat ’n man tot sulke uiterstes sal gaan nie – en dit bloot vir geld! Hý wat in die verlede sy bes gedoen het om sy vriende uit haar pad te hou, wat skaam was om haar as sy suster bekend te stel! Hy wat jare lank saam met haar in een huis gelewe het en nooit die moeite gedoen het om haar op te soek en haar eensame lewe te probeer veraangenaam nie.
Ja, hý wil nou met haar trou … Besef hy dat dit vir ’n leeftyd sal wees? Besef hy dat hy haar dan as sy vróú aan die wêreld sal moet bekend stel, dié persoon vir wie daar in die verlede geen tyd of plek in sy lewe was nie? Sien hy werklik kans om alle hoop op huweliksgeluk en kinders van sy eie oorboord te gooi ter wille van ’n paar miserabele rand?
Dis eers toe Mynhardt praat dat sy besef dat sy nie meer alleen is nie.
“Goeienaand, Ilse.”
Met ’n ruk van haar kop kyk sy op en staar hom verbaas aan.
“Ek is nie welkom nie?” sê-vra hy met ’n glimlaggie.
“Natuurlik … natuurlik, Mynhardt! Dit was nog altyd jou huis,” antwoord sy dan ongemaklik.
Hy gaan sit en kyk haar ondersoekend aan.
“Ek het nie vir die huis kom kuier nie,” merk hy op en vra dan skielik: “Hoe oud is jy, Ilse?”
“Negentien, amper twintig,” antwoord sy, verbaas oor sy vraag.
“En ek is vyf-en-dertig. ’n Groot verskil.”
Hy sien dat sy hom wantrouig aankyk en besef dat hy sy kaarte mooi sal moet speel. Te oordeel na die gesprek van vanmiddag is sy geensins onnosel nie. As sy tog maar net nie so ’n kind was nie! dink hy ergerlik. Hy beskou haar krities. Daar is geen spoor van grimering op die onskuldige gesiggie nie en haar groot, blou oë weerspieël alles wat in haar gedagtes omgaan, al doen sy haar bes om dit weg te steek. Hy weet dat sy senuweeagtig voel in sy teenwoordigheid. Meer nog, haar oë vertel hom dat sy bang is vir hom. Hy is verbaas dat daar in hierdie moderne tyd nog ’n meisie soos sy kan wees, ’n meisie wat op twintigjarige ouderdom nog so kinderlik onskuldig en onvolwasse kan wees. Selfs haar liggaam wek die indruk dat sy ’n baie tenger dogtertjie is in plaas van ’n vrou. ’n Oomblik lank kom die beeld van Heloïse Malan voor hom op en hy verwonder hom dat die een vrou se liggaam so uitspattig vol kan wees en die ander s’n so afgeskeep. Hy het nog altyd van ’n meisie gehou met ’n beeldskone gesig en ’n vol, vroulike liggaam, ’n meisie wat die kuns verstaan om die passie in hom te laat ontbrand. Sal dit sy lot wees om vir die res van sy lewe aan hierdie eienaardige kreatuur verbind te wees? Dan frons hy diep. Daar is baie meisies wat enigiets sal gee om met hom getroud te wees, en hierdie … hierdie kind weier beslis om dit te doen!
“Is dít die rede waarom jy nie met my wil trou nie, Ilse?”
“Nee, natuurlik nie! Ouderdom het niks met die saak te doen nie. Ek het jou tog reeds my rede gegee.”
“Dit is geen rede nie. Al sou jy ook geen gebrek gehad het nie, sou daar nie ’n normale huwelik tussen ons kon bestaan nie. Daarvoor is die verskil tussen ons te hemelsbreed. Maar ek sien geen rede hoekom ons dit nie op ’n vriendskaplike basis kan doen nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek gaan heeltemal eerlik met jou wees, Ilse. Ek het daardie geld nodig – dringend nodig. Ek móét dit net eenvoudig in my onderneming behou. Hoekom kan ons nie trou nie? Dit sal my onderneming red, jy sal ’n huis hê en iemand wat vir jou sal sorg tot jou dood. Jy sal nie alleen wees nie. Aangesien daar tog nooit ’n normale huwelikslewe tussen ons kan bestaan nie, hoef jy nie bang te wees dat ek my aan jou sal opdring nie. Ons kan ons lewe voortsit asof daar nie ’n huwelik bestaan nie. Ek sal my gang gaan, en jy joune.”
Hulle kyk mekaar ’n oomblik in stilte aan, en dan vra Ilse: “En wat gebeur as jy die dag iemand ontmoet met wie jy wil trou?”
“Dan moet jy vir my my vryheid gee, en ek sal die geld aan jou uitbetaal. Hierdie reëling is natuurlik wederkerig. Indien jy jóú vryheid verlang, belowe ek dat ek dit vir jou sal gee.”
’n Vreemde opwinding roer in Ilse se hart. As sy Mynhardt se vrou kon wees … Die wete dat sy hom liefhet, het die afgelope dae tot haar deurgedring. Dit help nie meer om dit te ontken nie. Maar dan omklem die bittere besef haar: Al sou sy ook instem tot hierdie fantastiese plan, sal sy tog nooit sy vrou wees nie, nie soos sy dit met haar hele hart begeer nie. En dit is duidelik dat Mynhardt hoegenaamd nie as vrou aan haar dink nie. Hy het dit reguit gesê! Dis net die geldelike nood wat hom tot hierdie daad dwing.
“Vertrou jy my dan nie?” vra hy reguit toe sy nie dadelik antwoord nie. “Ilse, ek is seker jy het nog nie só oor die saak gedink nie. Belowe my dat jy jou besluit sal heroorweeg, asseblief,” pleit hy dringend.
Sy huiwer ’n oomblik en sê dan: “Goed, Mynhardt, ek sal weer oor die saak dink.”
“Baie dankie, Ilse. Ek gee jou my woord van eer dat ek nie in jou lewe sal inmeng nie.” Hy staan op. “Kan ek dan maar Donderdagaand weer kom om te hoor wat jy besluit het?”
Sy knik instemmend. Maar in die dae wat volg, is sy jammer dat sy hom dit belowe het. Toe hy Donderdagaand uiteindelik weer vertrek, verberg sy haar gesig in haar hande en snik sag. Hoekom sy huil, verstaan sy self nie. Daardie nag slaap sy byna niks en toe sy die Vrydagmiddag weer op dieselfde plek onder die boom op Jakobus en Mynhardt wag, lyk sy baie bleek en gespanne.
“Nou ja, dis seker die laaste van hierdie gesprekke. Laat ons hoor, Ilse,” val Jakobus dan ook dadelik met die deur in die huis.
’n Oomblik hou Mynhardt se oë hare gevange en dis asof die hipnotiese mag van sy donker, dringende oë die antwoord uit haar dwing.
“Ek het besluit om tog maar met Mynhardt te trou.”
Jakobus staar haar ongelowig aan. “Ilse!” Dan kyk hy na Mynhardt en sê reguit: “Dis jóú werk dié, nè?”
Mynhardt se oë flits gevaarlik.
“Ilse het besluit om met my te trou. Dis wat haar pa ook wou gehad het. U mening is nie van belang nie.”
Daar is ’n waarskuwende noot in sy stem en Jakobus besef dat hy miskien sy perke oorskry het. Maar om hierdie onskuldige kind aan die genade van Mynhardt Wessels oor te laat …
Hy sit agteroor terwyl sy verstand blitsvinnig werk. Om nou ’n rusie met Mynhardt aan die gang te sit, sal Ilse niks help nie. Nee, hy sal maar moet wag totdat hy en sy weer alleen is. Hy staan op en draai na haar toe.
“Daar is nog tot môremiddag tyd, my kind. Dink weer oor die saak na.” Terwyl hy Mynhardt heeltemal ignoreer, stap hy na sy motor.
Dis eers toe sy motor deur die ysterhekke verdwyn dat Mynhardt ontspan en na Ilse kyk. Hy sien dat sy hewig ontsteld is, en die trek om sy mond raak nog meer vasbeslote.
“Baie dankie, Ilse, dat jy jou belofte van gisteraand nagekom het. Maar nou wil ek jou nog ’n guns vra.”
Sy kyk hom met wydgerekte, bang oë aan. Die vrees dat sy verkeerd besluit het, knaag weer aan haar binneste.
“Ek het vanoggend reeds alle reëlings vir ons huwelik getref,” vervolg hy. Hy huiwer. Haar oë is so vreesbevange op hom gerig. Sy is nog so onskuldig … Dan stoot hy die steurende gedagtes met geweld van hom af weg. Hy móét daardie geld behou, en Jakobus Stander is van plan om alles in sy vermoë te doen om dit te verhoed. Dit kan hy sien! “Ek het ook met ’n predikant gereël om ons sommer vanmiddag hier in die huis in die huwelik te kom bevestig.” Sy snak na asem en Mynhardt draai na haar. “Ek het gedink hoe gouer ons alles agter die rug kry, hoe beter. Waarvoor sal ons wag? Dis onnodig om die spanning langer uit te rek. En aangesien jy belowe het om met my te trou …” Hy swyg betekenisvol.
’n Paar uur later, nadat ’n baie bekommerde Liza aandete aan die twee voorgesit het, staan Mynhardt op en stoot sy stoel weer onder die tafel in.
“Ek wil weer eens vir jou dankie sê, Ilse. Ek hoop nie jy sal ooit spyt wees nie. As jy my sal verskoon, ek moet gaan. Ek het ’n afspraak.”
Toe buk hy af en soen haar liggies op die wang. Lank nadat hy vertrek het, sit sy nog so met haar een hand op die plek waar sy lippe gerus het. Haar oë blink oneindig treurig. En so tref Jakobus haar aan. Hy maak ook geen geheim van die doel van sy besoek nie.
“Dis nie my gewoonte om ander mense te beswadder nie, maar in hierdie geval …” Hy sug en sê dan reguit: “Ilse, jy is besig om op ’n afgrond af te stuur en ek durf dit nie toelaat nie. Nee, wag dat ek klaar praat. Ek het in die verlede allerhande lelike dinge van Mynhardt gehoor, en nadat ek vanmiddag hier van julle af weg is, het ek bewyse gaan soek. Die stories wat van hom vertel word, is waar.”
“Watter stories, oom Jakobus?” Daar is vrees in haar oë.
“Hy is jou stiefbroer, my kind, maar, nou ja … Hy het nie ’n te mooi reputasie wat vroue betref nie. Verder ken hy soms nie sy perke met drank nie, en die keuse van sy vriende laat ook veel te wense oor.”
Terwyl hy praat, verbleek Ilse al hoe meer en fluister dan skor: “Is dit die waarheid, oom Jakobus?”
“Ja, my kind. Ek is jammer, Ilse, maar ek was verplig om dit te doen. Jy durf nie met so ’n man trou nie. Jy is nog so onskuldig, weet nog so min van die lewe af.” Hy kyk na haar doodsbleek gelaat en sê vertroostend: “Toe maar, my kind, ek sal self vir Mynhardt sê dat jy nie kans sien om met hom te trou nie.”
“Ek … oom Jakobus, ek kan nie meer terugdraai nie.”
“Wat bedoel jy?” vra hy angstig.
“Ek … ek en Mynhardt is vanmiddag getroud!”
Die aand toe Ilse in die bed lê, dink sy weer aan wat die prokureur haar vertel het. As dit werklik alles waar moet wees! Sy sidder. Jakobus Stander was verskriklik ontsteld nadat sy hom van die huwelik vertel het, maar hy het, net soos sy, besef dat daar nou niks meer aan verander kon word nie.
Sy is nog so ingedagte toe sy die voordeur hoor oopgaan en Mynhardt se voetstappe in die gang hoor afkom. Dis reeds lank ná middernag en die angs verskerp in haar hart toe sy hom voor haar kamerdeur hoor huiwer. Met bewende hande trek sy die beddegoed op tot teen haar ken en staar stip na die deur wat stadig oopswaai. Die kamer is in helder maanlig gebaai, dus kan sy sy gestalte duidelik in die deur sien staan. Sy trek haar asem skerp in toe hy met onseker treë na die bed toe stap. Hy buk oor haar en die drankreuk wat aan hom kleef, walg haar. Dan voel sy sy hande op haar hare en sy maak haar lippe oop om te skree, maar geen geluid wil uit haar toegetrekte keel kom nie.
“Ilsetjie,” fluister hy met ’n swaar tong bokant haar kop. “Goeie, dierbare, ou Ilsetjie! Gee sjommer klompe geld weg!” Hy hik en ’n oomblik lank lyk dit asof hy bo-op haar gaan val, maar hy herwin sy balans net betyds. Sy bewe onder die aanraking van sy hand en hy gee ’n skor laggie. “Isj jy dan bang vir my? Jy hoef nie bang te weesj nie. Ek hou van vrouensj soos Helo … Heloïsje …” Hy knik weer en kyk haar half onseker aan. Dan draai hy om. “Sjlaap lekker, my vrou!” Hy loop-val deur toe. “My vróú!”
Sy smalende, spottende lag bereik haar ore en dan is hy weg. Haar hele liggaam bewe van ontsteltenis terwyl warm trane oor haar wange rol. My eerste huweliksnag! Wat hét my besiel?
En soos ’n tergende refrein eggo haar verwonde hart agterna: Wat hét my besiel …?