Читать книгу Keerkring van die hart - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

“Paps, laat Kas gou vir my die lisensieskyfie teen my motor se ruit sit. En dan wil ek asseblief ’n ou tjekkie hê. Ek wil ’n aandrok vir Saterdagaand kry.”

“Al weer ’n aandrok, kleintjie? Maar het jy dan nie verlede maand …?”

“Ja, Paps, ek weet, maar Saterdagaand is ’n baie spesiale geleentheid. Dis Rob se verjaardagpartytjie, onthou? Ek kan net eenvoudig nie in ’n ou ding gaan nie. Asseblief, Paps!”

Daar uit die hoek voor die liasseerkabinet hoef Kasper Burger nie eens op te kyk om te sien wat sy baas gaan doen nie. Hy hou sy oë stip op die kaarte voor hom terwyl hy sien, sonder om regtig te kyk, hoe Faan Dempers sy tjekboek met ’n toegewende glimlaggie oopmaak en sy pen optel.

“Hoeveel moet dit hierdie keer wees? Jy gaan ’n bietjie kwaai aan, my kind. Jou klererekening kan seker meeding met die koningin van Engeland s’n.”

“O, Paps! Dis nie waar nie! Pa vergroot verskriklik!” Sy lag haar borrelende laggie, gooi die slanke arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen op sy bles. Ook dit sien Kasper Burger sonder om sy kop te draai. Hy hoor haar vervolg in daardie stemtoon waarmee sy, soos ’n ieder en ’n elk op Grasbult al weet, Faan Dempers om haar skraal pinkie draai. “Maak dit nou ’n ou klein grotetjie, dan val ek Paps nie gou weer lastig nie. Toe tog, my ou dierbare, enigste Paps.”

Faan Dempers sug, maar sy hand begin geredelik skryf en dan hou hy die tjek na haar toe uit.

“Nou toe. Hier. En dit moet vir ses maande voldoende wees, hoor?” sê hy kastig streng, maar die teerheid in sy oë verraai hom.

Sy lag en soen hom weer vlugtig op die bles en steek die tjek in haar handsak. Sy is reeds halfpad deur toe, toe sy weer omswaai en vir die eerste keer kyk sy na die man in die hoek.

“Het jy die skyfie al teen die ruit gesit?”

Kas Burger voel iets in hom styfskop. Hy hou sy oë op die kaarte voor hom en hoor hoe haar stem, nou openlik ongeduldig, weer opklink: “Kas! Ek is haastig.”

Hy kyk eindelik op, direk na haar, na die koperrooi hare en die blou-blou oë, en sy opstand verdwyn soos mis voor die son. Hy druk die liasseerkabinet se laai toe, beweeg geredelik na die deur se kant toe. Hier êrens diep agterin hom sê iets hom hy is ’n swaap, ’n lafaard, ’n opregte lamsak om elke keer so geredelik te hardloop wanneer Liesel Dempers net die geringste versoek tot hom rig. Hy ken daardie rympie al uit sy kop. Dis al vier jaar lank wat daardie stemmetjie hom dit elke keer vertel, en hy weet ook presies wat hierop volg. Terwyl hy haar geringste wens uitvoer, sal hy met daardie stemmetjie redeneer: “Kyk, wat kan ek anders doen? Sy is my baas se dogter. Wie is ek om haar teen te gaan, haar ’n slag goed die waarheid te vertel, haar presies te vertel wat ek – en ’n groot deel van Grasbult – van haar dink? Dat sy opgeblase is, gans te groot vir haar skoene, tot in die verdoemenis bedorwe. Hoe kan ek, wat maar ’n vierdejaarklerk by die dorp se bekendste prokureur is, ék, ou Joop Burger se seun, ék, ’n brandarm kerkmuis wat grootgeword het in die onderdorp, vir Grasbult se voorste jong dame vertel dat dit tyd is dat sy haar hooghartige neusie laat sak, dat dit tyd is dat sy moet leer daar bestaan twee woordjies soos asseblief en dankie, dat dit tyd is dat sy moet leer geld en prestige en status is nie alles in die lewe nie?”

O ja, hy ken daardie ou storie uit sy kop. So sal hy staan en redeneer en verskonings aanvoer terwyl hy gelate haar jongste opdrag uitvoer. En wanneer hy aan niks meer kan dink om as verdere verskonings aan te voer nie, sal daardie stemmetjie die laaste woord sê. Hy sê dit altyd. “Jy is en bly ’n sot, Kasparus Burger,” sal hy sê, en hy wat Kas is, sal swyg maar saamstem!

Hy druk die skyfie met ’n finale slag teen die ruit vas en staan dan terug sodat die eienares kan verbykom om agter die stuurwiel in te skuif. Weer flits die blou-blou oë ongeduldig na hom op omdat hy nie dadelik die deur toedruk nie.

“Sê haar nou! Dis ’n ideale geleentheid. Sê haar nou sy is ’n mislike klein snob!” hou die stemmetjie vol, vandag besonder hardkoppig om terug te gaan na sy lêplek om daar te sluimer tot vanaand wanneer hy in die bed lê en hy dan na hartelus sy siel kan treiter.

“Komaan, Kas, ek is haastig. Wat is dit vandag met jou?”

Hy druk die deur met ’n taamlike slag toe, staan gedwee terug, voel hoe sy hart ineenkrimp toe hy die ietwat spottende hooghartigheid in haar oë lees. Sy weet! Hy is seker sy weet en sy vind dit amusant! Dan sien hy die oë verkil en dis asof hulle ’n direkte waarskuwing na hom uitstraal: “Hou jou op jou plek, Kas Burger! Ons is nie uit een kraal nie!”

Die rooi motortjie trek weg en skiet in die straat af. Dat sy nog nie vir spoed gevang is nie, is ’n wonderwerk. Of miskien ook nie so ’n wonderwerk nie. Liesel Dempers sal die duiwel van sy vurk berowe deur net te glimlag, en ou Daan Visser, hoofverkeersman van hierdie gebied, het in elk geval ’n swak vir mooi vroumense …

Hy sug, stap terug kantoor toe, merk nie eens op toe hy weer stelling voor die liasseerkabinet inneem dat sy baas nie meer agter sy lessenaar sit nie, maar by die venster staan en peinsend na die straat staar waar sy dogter ’n oomblik gelede verdwyn het. Hy sou, as hy nie so moes staan en worstel om weer sy gedagtes by sy werk terug te kry nie, opmerk dat Faan Dempers nie meer so baie na ’n liefdevolle, trotse pa van die mooiste jong meisie op die dorp lyk nie, maar veel eerder na ’n baie bekommerde pa.

Toe Kas by hom verbykom op pad na sy eie kantoor toe, roep sy stem die jong man tot stilstand.

“Kas …”

“Ja, meneer?”

Hy draai weg van die venster af, kyk die jong man stip aan. ’n Aantreklike seun. Nie mooi nie, maar ’n sterk gesig, karakter in die gelaatstrekke. Nog ’n bietjie seunsagtig, nog maar besig om man te word, maar die eerste belowende tekens is reeds daar.

“Hoe oud is jy nou?”

“Twee-en-twintig, meneer.”

“Liesel was pas agtien.”

’n Ligte fronsie pluk aan die jong man se vaal wenkbroue. Ja, dit weet hy. Sy het verlede jaar matriek geskryf, maar vandat sy maar nog in die laerskool was, is sy al ’n grootmensie. Op agtien het Liesel Dempers lankal haar kinderskoene ontgroei.

Hy kyk fronsend terug. Maar hoekom maak Faan Dempers daarvan melding? Wat het Liesel se ouderdom, wat het Liesel hoegenaamd met hóm te doen?

“Gaan jy ook na Rob se partytjie toe?”

“Ék? Nee, natuurlik … nie. Nee, meneer.”

Nou kyk Faan Dempers weg. Dit was ontaktvol van hom, besef hy. Natuurlik sal Kas Burger nie na Rob Rabe se partytjie toe gaan nie. Hy sal nie genooi wees nie. En al was hy ook genooi, sou hy nie gegaan het nie, vermoed die ervare mensekenner. Kas is nie op dieselfde golflengte as die groep jong mense waarin Rob Rabe en sy dogter beweeg nie. Nie net is hulle nie van dieselfde status nie, maar Kas is nie ’n juis een vir partytjies en sosiale verkeer nie. Eintlik is hy gans te teruggetrokke vir ’n jong man van sy ouderdom.

“Ek verstaan.”

“Hoekom vra meneer?”

Die jong oë is skerp. Faan Dempers kyk weg, kug, stap terug na sy lessenaar toe. Ja, hoekom het hy gevra? Sal hy rondborstig erken dat hy gehoop het Kas sal ook daar wees om ’n soort vaderlike oog oor sy pragtige dogter te hou? Maar hoe kan hy so iets verwag van so ’n jong man? Kas is self nog maar ’n seun, weliswaar gebrei deur ’n harde, arm jeug en boonop blind, soos wat hý blind is, vir sy dogter se foute – want Kas se geheim is lankal nie meer net sý geheim nie. Ook die pa weet wat in die jongmanshart omgaan elke keer dat Liesel, soos vanoggend, by die kantoor ingewaai kom net om gou “’n ou tjekkie” te kom haal …

Hy lees dit elke keer in die jong man se oë, in die manier waarop hy haar geringste wens oorhaastig uitvoer. Arme Kas! En dan kry hy selde eens ’n “dankie” daarvoor. Dit weet die pa ook. Hy het al sy dogter daaroor probeer aanspreek dat selfs “ou Kas”, soos sy graag na hom verwys, geregtig is op beleefdheid en erkentlikheid. Maar elke keer het die fyn handjie ongeërg gewaai: “Ag … Kas! Hy maak my siek met sy verliefde skaapoë.”

“Liesel,” het hy dan teen sy beterwete probeer, wetende dat dit tog nie sou help nie. “Kas is ’n ordentlike jong man …”

“Ek het ook nie gesê hy is nie ordentlik nie. Maar wil Paps hê ek moet ou Joop Burger se seun aanmoedig? As Mamma …”

“Jou ma is in haar graf. Ek sê ook nie jy moet hom aanmoedig nie. Maar net ’n bietjie meer beleef wees en …”

“O, Pa ken nog nie dáárdie soort nie. As ek vir Kas die pinkie gee, gaan hy die hele hand gryp. Nee, dis al manier om hom op ’n afstand te hou.”

“Kas is nie dáárdie soort nie, my kind. Soos ek hom ken, sal hy hom nooit opdring of indring nie. Jy …”

“Pa is skielik vreeslik danig met hom,” het die ongeduldige stem hom weer kortgeknip. “As ek reg onthou, het Pa saam met Mamma altyd vir my gepreek van wie my klas is, en soort hoort by soort en …”

Dit was sy beurt om haar in die rede te val.

“Ja, ek weet, Liesel. Ag, laat staan tog maar. As jy eendag ouer is, sal jy miskien beter begryp.”

Hy het nie weer met haar probeer redeneer nie, en eers nadat sy uit was, het hy ongemaklik ontdek dat die deur tussen sy kantoor en die aangrensende kantoor nie heeltemal toe was nie. Hy het byna hardop ’n sug geslaak toe Kas ’n oomblik later by die voorste deur ingekom het. Dan was hy gelukkig nie op kantoor nie, het hy gedink. Die jong man se gesig het hom niks vertel nie, ook nie dat hy al enkele minute gelede van die landdroskantoor af terug was en al ’n hele rukkie in die voorste kantoor gewag het dat Liesel uit haar pa se kantoor moes kom nie. Niks in sy stil gesig het sy baas vertel dat hy saam met die tikster na die gesprek geluister het nie.

Hierdie voorval het plaasgevind kort nadat Kas hom by prokureur Dempers ingeskryf het as prokureursklerk. Vier jaar het sedertdien verloop. Die situasie het niks verander nie. Liesel is verlede jaar uit die skool en sy het besluit om eers ’n jaar by die huis te bly voordat sy universiteit toe gaan om ’n kursus in beeldende kuns te volg, want haar ma het haar in haar laaste skooljaar ontval en dit was eintlik ter wille van haar pa dat sy besluit het om eers haar planne vir ’n jaar uit te stel.

Nie dat haar pa veel van haar te sien gekry het nie. Dit was uitsonderlik as sy twee aande van die week tuis was. Faan Dempers het dit maar eers oogluikend toegelaat. Liesel is jonk, het hy gedink en haar uithuisigheid verontskuldig. Dis beter dat sy liewer besig bly, opgaan in die sosiale lewe van die dorp as om, saam met hom, saans met die smart van verlange en hartseer tuis te sit. Maar haar ma is nou al byna ’n jaar oorlede en nog gaan die dolle plesiervaart voort. Dit neem eerder in tempo toe – en Faan Dempers begin bekommerd word. Nie dat hy omgee dat sy dogter genot uit die lewe put en alles uit haar jeug haal nie. Hy misgun haar nie die jonkheidsvreugde van die lente nie. Maar wat hom al hoe meer kwel, is die geselskap waarin sy dit vind.

En dit is die vreemde deel van sy kommer. Rob Rabe en sy groep is die groep waarin sy dogter grootgemaak is. Van kleins af het hy en sy vrou hulle geselskap en vriende fyn gekeur. Die Rabes van Rondom was onder hulle vriende. Hulle, die Rabes en enkele ander gesinne, het ’n geslote kring gevorm – ’n uitverkore, hoogste kring in die dorp se sosiale lewe. Nie dat Faan Dempers ooit in sy hart ’n snob geword het nie. In sy hart het hy die eenvoudige boerseun gebly, maar die vrou met wie hy getrou het en die kring waarin veral sy gesorg het dat hulle beweeg, het noodgedwonge meegebring dat hy daardie boerseun diep in sy hart moes wegsluit. Hy moes meedoen en beantwoord aan die ongeskrewe reëls van daardie besondere kring waarin hy beweeg het.

Baie dikwels, onthou hy nou in hierdie dae van eensaamheid vandat sy lewensmaat hom ontval het, het hy verlang na die eenvoudiger lewe wat hy as seun op Skaars-van-als, die ou familieplaas, geken het. Hoekom dit so is, kan hy self nie juis duidelik verklaar nie en het hy nog nie werklik gaan sit en probeer uitpluis nie, maar hy verlang deesdae al hoe meer na die geselskap van eenvoudige mense – of wat Grasbult se elite as eenvoudig beskou. Hy verlang in sy wese terug na die eenvoudige dinge van die lewe, die eenvoudige waarhede wat hy as seun geken het. In die kring waarin hy al baie jare lank beweeg, word daar nooit oor sulke dinge gesels nie. Daar word baie gesels, ja, maar daar word nooit veel gesê nie – nooit iets wat jy voel tot jou siel deurdring, iets wat jy met jou kan saamneem wanneer jy weer groet nie.

En namate hierdie nuwe, vreemde gewaarwordinge in hom toeneem, neem ook sy kommer oor sy dogter toe. Hierdie pragtige en enigste dogter van hom word ook vasgevang in die web van prestige, status, geld en valse waardes waarin hy haar laat grootword het. Dis met knaende kommer en selfverwyt dat hy opmerk dat sy gedurig na partytjies toe gaan. Saterdag is dit Rob se partytjie, Woensdag is dit Marie se mondigwording, volgende Saterdag is dit weer ’n troue … Dis ’n leë, doellose sirkel waarin sy dogter vasgevang is, en sy koop die een nuwe aandrok ná die ander, en kort-kort wil sy ’n nuwe sportmotor hê.

En die geselskap waarin sy haar kosbare jeugure deurbring … Dis die grootpratery van ’n Rob Rabe, ’n klein wind­lawaai wat van kleins af, nes Liesel, nooit die woordjie nee gehoor het nie. Dis haar vriendinne wat net oor klere en mode­winkels kan gesels, dis ander jong manne wat hulle bes doen om te kyk hoe goed hulle die verkeersmanne kan flous, hoe ver hulle tot op die gevaarstreep kan beweeg sonder om gevang te word. Hulle is die kinders van vooraanstaande mense, maar binne-in, weet Faan Dempers, is die verrotting reeds besig om dit wat kerngesond moet wees, te bederf.

Hulle is nog baie jonk, dink hy. Hulle is nog maar net kinders, al dink hulle hulle is reeds grootmense. Hulle sal regkom. Hulle is maar almal om en by twintig. Hy is verniet bekommerd. Liesel en haar maats is darem tog volgens ’n sekere kode grootgemaak. Hulle sal nie werklik ontrou daaraan raak nie. Dis maar net omdat hulle nog nie verantwoordelikhede moes dra nie.

En dan, onwillekeurig, verskyn sy jong klerk se gesig voor hom – jong Kas Burger, wat deur so baie mense hier op die dorp geminag word, ook deur sy eie dogter, bloot omdat hy ou Joop Burger se seun is, ’n man wat sy lewe lank sy munisipale loon uitgedrink en sy huis verwaarloos het sodat sy vrou met stop- en naaldwerkies en wasgoed was die pot aan die kook moes hou. ’n Man wat eindelik deur siekte en selfaftakeling sy werk en gesondheid verloor het en, sonder hulp van ’n inrigting of enige ander medemens, die stryd teen die drank gewen het en nou, in die laat jare van sy lewe, gebroke na gees en liggaam, van ouderdomspensioen lewe in die platdakhuisie duskant die noodsloot.

Faan Dempers kyk op en sien dat die jong man nog steeds beleef staan en wag by die deur. Hy knip sy oë, dwing sy gedagtes ’n oomblik terug na die hede.

“Dankie, Kas. Ek sal jou roep sodra ek klaar is met hierdie watersaak. Ons kan dit gerus dan ’n bietjie bespreek.”

“Goed, meneer.”

Die deur gaan agter Kas toe en Faan bly daarna staar. Joop Burger se seun – maar beslis nie ’n tweede Joop Burger nie.

Hy onthou die dag nog goed toe die jong Kas, nog in sy matriekjaar, in verslete maar skoon klere voor sy lessenaar gestaan en die wens uitgespreek, eintlik gesmeek het, om hom van die volgende jaar af by hom in die kantoor in te skryf as prokureursklerk. Hy het gehou van wat hy gesien het, en nog meer gehou van wat hy gehoor het, want Grasbult is nie so groot dat die mense nie maar, soos in die meeste gevalle op dorpe, alles van almal geweet het nie. Hy het reeds geweet dat klein Kas van ou Joop elke kwartaal eerste in sy klas gestaan het, dat hy tot dusver wonderlike simbole gehandhaaf het, dat hy ’n goeie verstand het en ’n gebore student is. Dat ou Joop Burger nou so ’n slim kind moet hê … ’n Mens kan wonder waar kom dit vandaan, was die algemene gevoel van die dorpenaars wanneer klein Kas die enkele kere onder bespreking gekom het.

Faan het daardie middag afgestap in die rigting van ou Joop se huisie. Hy het lank daar aan die oorkant van die straat gestaan en daarna gekyk – die viervertrek-platdakhuisie, spierwit afgekalk met ’n lowergroen wingerdstok al om die voordeur gerank. ’n Netjies gesnyde soutboslaning het die klein erfie afgekamp van die langsaan geleë sportterrein van die dorp en hier, weerskante van die voordeur, aan die voorkant van die wingerdstok, het twee roosboompies en ’n paar vilette enkele pers en rooi spatsels teen die wit muur geteken. Dit was baie eenvoudig en armoedig, en tog mooi. In hierdie laat uur van die middag, met die oranje skakerings van ’n plattelandse sonsondergang as agtergrond, het die huisie die hartsnare van die ryk prokureur diep aangegryp en byna weemoed in hom opgetower.

Hy het nader gestap, die houthekkie oopgedruk en toe die skarnier sy klaaggeluidjie uitstuur, het ou Joop in die voordeur verskyn. Die prokureur het die instinktiewe verstrakking van Joop se gesig gesien wat altyd kom as ’n ryk en in­vloedryke man onverwags voor hom verskyn.

“Middag, Joop.”

“Middag, meneer.”

Hy het dit tevore nog nie opgemerk nie. Daardie middag het dit hom opgeval – dat die arm man so dikwels sommer net Joop is en die ryk man, veel meer sy junior, meneer. Êrens in sy agterkop het iets hom laat voel dat dit nie eintlik so hoort nie, maar dit was net vir ’n breukdeel van ’n sekonde.

“Klein Kas was by my. Hy wil graag volgende jaar by my kom werk.”

“So sê hy. Wil … wil meneer dalk inkom?”

Die huiwering was daar, en weer het Faan geweet dat dit genadiger is om jou baie haastig te hou, net kortliks te sê wat jy wil sê en dan maar liewer te loop. Dit spaar verleentheid aan beide kante. Dit spaar pynlike ongemak en selfbewustheid vir die gasheer as die onverwagse gas liewer maar nie binnekom nie. Maar Faan het meteens ’n onkeerbare drang ondervind om binne te gaan.

“Dankie, Joop. Ek sal jou nie lank ophou nie.”

Hy het ingegaan, wetende dat daardie woorde maar kon gebly het. Dit was gebruiklik, maar heeltemal onnodig, want Joop Burger het baie tyd – vier-en-twintig uur elke dag om om te sukkel met ’n liggaam wat kromgetrek is van rumatiek en ’n gedagtewêreld waarin hy beslis verdwaal moet raak.

“Wil meneer nie sit nie?”

“Dankie, ja.” Hy het gaan sit en, ook soos gebruiklik, sy blik vlugtig om hom laat dwaal. Daar was iets vreemd bekend vir hom aan die vertrekkie. Die stywe, regop stoele teen die mure het sy hart meteens laat ruk en hy het aandagtiger gekyk, toe meteens ontspan en geglimlag.

“Magtie, Joop, maar hoe laat jy my nou terugverlang plaas toe. My oorlede ma het net sulke stoele in ons spens gehad. Hulle is absoluut identies – tot die patroontjie wat daarop uitgekerf is. En jy het ’n hele stel daarvan!”

Ou Joop het na die stoele gekyk asof hy hulle tóé weer vir die eerste keer in jare raakgesien het. Toe het hy ook geglimlag, en die warmte het in die glansloosheid van sy kykers verskyn.

“Ja, meneer. Dit kom uit my oorlede vrou se voorgeslagte.”

“Hulle is baie werd vandag, hoor?”

“Dit wil so voorkom, meneer. Mevrou Bernstein het my al blink gesoebat vir hulle, maar klein Kas wil niks weet nie.”

“Ja, klein Kas … Jy het ’n baie oulike seun, Joop.”

Die ooglede het geval, die knopperige vingers het onnodig begin vroetel.

“Ja, ’k … so sê hulle. ’n Goeie seun.”

“Hy verdien ’n geleentheid in die lewe, Joop. Ek is bly hy het na my toe gekom. Ek sal hom graag by my in die kantoor wil neem, as jy tevrede is.”

Die kop het net geknik, terwyl albei geweet het dat dit nie werklik van belang was wat Joop wil hê nie, want Joop het sy regte en sy wil aangaande die seun wat laat in sy lewe gekom het, jare gelede al deur ’n bottel se nek afgespoel.

Daar was meteens niks meer om te sê nie. Die stiltetjie het ongemaklik begin word en net toe Faan maar wou opstaan, het Joop weer opgekyk en sy oë was nie meer leeg soos Grasbult hulle maar ken nie.

“Klein Kas … klein Kas verdien iets beters … beter as ek, meneer Dempers. Hy moes liewer jóú seun gewees het …”

Die spontane reaksie in Faan Dempers se hart was op daardie oomblik om volmondig saam te stem, maar toe het iets in hom hom genoop om te swyg … Hy het ’n oomblik stil na die man voor hom gekyk, ’n man wat sy lewe weggesmyt het, maar ’n man met ’n kosbare kleinood in sy besit, ’n briljante seun, en die besef dat hy daardie kleinood nie waardig is nie …

Hy kon Joop nie antwoord nie. Hy het opgestaan en sy hand ’n oomblik spontaan op die een skouer gedruk, toe by die voordeur uitgestap. By die hekkie het hy omgedraai, teruggekyk.

“Sê vir klein Kas ek verwag hom die vyfde Januarie die oggend om agtuur in my kantoor. Wederom, Joop.”

Maar op sy terugpad huis toe het ou Joop se woorde hom bygebly, en in daardie oomblik, met sy kommer oor sy dogter helder in sy hart, het dit weer na hom teruggekeer …

Op daardie oomblik het hy opnuut besef dat God nie ’n fout maak nie. Kas moes juis Joop se seun gewees het, want as Kas Faan Dempers se seun was, sou hy miskien vandag nie dié Kas gewees het wat hy wel is nie. As hy Kas Dempers was, sou hy ’n tweede Liesel, ’n tweede Rob Rabe gewees het. Maar hy is ou Joop se seun, en daarom weet hy wat nee beteken, weet hy dat hy niks agter hom het om hom vorentoe te stoot nie behalwe sy eie deursettingsvermoë en dat daar niks vorentoe wag behalwe wat hy self tot stand sal bring nie. Hy weet nie wat dit beteken om te veel te gou te kry nie. Miskien, is die ontsettende besef op hierdie oomblik, ja, miskien was ou dronk Joop Burger ’n beter pa as Faan Dempers … Of miskien is dit vir sekere kinders beter, veel beter om ’n Joop Burger as pa te hê as ’n Faan Dempers …

Kas het daardie oggend van die vyfde Januarie die kantoor van prokureur Dempers binnegestap en Faan was nog nie een dag spyt nie. Soos sy onderwysers, het Faan gevind dat die jong Kas Burger ’n knap verstand het, vinnig snap en, verbasend vir sy teruggetrokke geaardheid, ’n briljante redenaar is wat sy gedagtes netjies kan formuleer, goed kan oordra en ’n jong man wat by sy standpunt kan staan as hy daarvan oortuig is. ’n Jong man wat eendag, en miskien ook glad nie so ver in die toekoms nie, sy spoor gaan trap. Faan Dempers het in die gewoonte geraak om probleme en hofsake vooraf met Kas te begin bespreek, en hy was telkens verras met die jong man se insig en versiendheid. Dit het al hoe meer gebeur dat Kas ’n punt uitgewys het wat Faan se aandag ontglip het, of wat soms vir hom minder belangrik gelyk het en teen die end, nadat Kas dit uitgewys en ontrafel het, geblyk het ’n sleutelpunt te wees.

Nee, as daar een man op Grasbult was wat Kas Burger se waarde reg geskat het, was dit Faan Dempers, maar in die res van Grasbult se oë is Kas net Joop Burger se seun, en niks meer nie.

Intussen het Liesel begin grootword, ontluik en oopgekelk tot volle vroulike wasdom. Heel aan die begin het dit Faan ietwat geamuseer om die begogeling in die jong Kas se oë te sien wanneer Liesel soms met haar kort skoolrokkie of tennisklere daar by die kantoor ingewaai gekom het. Hy, sowel as Liesel, wat in daardie stadium ’n regte klein snip was, het dit opgemerk, en ook die tikster en ’n paar ander mense van Grasbult. Nie een het hulle veel daaraan gesteur nie. Liesel was pragtig en sy het in elk geval al wat mansmens was op Grasbult betower en om haar pinkie gedraai, hoekom nie ook klein Kas nie? Al was hy Joop Burger se seun, is hy nog ’n mens.

Maar mettertyd het dit Faan nie meer geamuseer nie en het dit, baie duidelik, vir Liesel begin irriteer. Die feit dat hierdie begogeling, soos Liesel katterig en eg vroulik daarna verwys het, nou al vier jaar aanhou, kan nie meer afgemaak word met “Ag, dis ’n stadium wat weer sal verbygaan” nie. As Kas ook ander jong vriendinne gehad het, sou dit nie so opmerklik gewees het nie, maar Kas het nie in een van die talle jong meisies van die Karoodorp belanggestel nie, al was daar genoeg wat stadigaan bereid geraak het om, al is dit net vir ’n fliekaand, te vergeet dat hy ou Joop se seun is.

Nie dat Kas ’n lewe van afsondering gelei het nie. Hy het aktief deelgeneem aan wat die dorp kon bied, en het veral as rugbyspeler uitgeblink. Hy is baie gewild onder die manne en op sy besadigde, stil manier het hy al vir homself ’n pad oopgestoot na vele huise waar hy vroeër as gelaptebroek-seuntjie nie welkom was nie. Maar hy het liewer, wanneer die ander jongklomp partytjies gehou het, oor sy studietake gebuig gesit en die geldjies wat hy kon afknyp, nie aan plesier nie, maar liewer aan regsboeke bestee. Die resultate hiervan is in sy eksamens gesien, uitslae waarmee Faan Dempers trots te koop geloop het en wat ou Joop met beskaamde dankbaarheid in sy hart geberg het.

En so het die tyd aangerol; vier jaar het nou al verloop sedert daardie dag toe die jong Kas hom met platgekamde kuif en sy enigste kerkpak aan vir die eerste dag se werk kom aanmeld het. En in daardie vier jaar het klein Kas van ou Joop nie net vir homself ’n plekkie begin oopskop in die samelewing van Grasbult nie, maar ook beslis ’n besondere plekkie van toegeneentheid in die hart van Faan Dempers. Faan het sy vordering met ’n arendsoog en ’n soort vaderlike trots dopgehou, en soos sy toegeneentheid vir hierdie jong man gegroei het, het sy kommer oor sy dogter al hoe meer begin toeneem. Soos wat hy duidelik kon sien hoe Kas Burger in ’n positiewe, vooruitstrewende rigting die lewe in beweeg, kon hy al hoe duideliker ook sien dat sy dogter in die teenoorgestelde rigting begin ontplooi. En nie net sy nie, maar die oorgrote meerderheid van die groep, van die elite-kring waarin sy beweeg het. Waar Kas ’n verterende ambisie in hom omgedra het, kon sy baas niks daarvan in Liesel en haar vriende bemerk nie.

Hy dink nou veral aan jong Rob Rabe. Robert Rabe se seun het nie nodig om juis ambisie te hê nie. Sy pa het reeds alles, of byna alles, vir hom bereik. Hulle is van die rykstes in Grasbult se distrik. Rondom, die Rabes se modelplaas net vyf kilometer buite Grasbult, is reeds tot volle kapasiteit bewerk en ontwikkel. Al wat Rob sal moet doen, is om dit wat reeds bereik is, in orde en in stand te hou. Natuurlik is daar altyd die moontlikheid van uitbreiding. Grond kan gekoop word waarop nog meer modelplase tot stand gebring kan word. Maar ou Robert is ’n verstandige man en daarby nog ’n perfeksionis ook. Op Rondom lê die spreekwoordelike klip nie uit sy plek nie, en daarom dat hy nie verder uitbrei as die een groot modelplaas nie, omdat hy besef dat ’n man net sóveel kan behartig en nie meer nie. Maar of die jong Rob ’n waardige opvolger vir sy pa sal wees, betwyfel Faan. Ook as enigste kind tot in die afgrond bederf, lyk dit nie of hy hom baie bekommer oor die toekoms en die verantwoordelikhede wat so ’n erfenis eendag op sy skouers gaan laai nie. Wel is dit wonderlik om eendag ’n erfenis soos Rondom te kan ontvang, maar dit bring ook groot verantwoordelikhede mee – en Faan Dempers betwyfel dit sterk of dáárdie skouers dié verantwoordelikheid kan dra.

En daar is deesdae ’n besondere verhouding tussen Liesel en Rob Rabe. Hy weet nie of hy baie daarvan hou nie. Op die oog af is Rob nou die mees gesogte man op Grasbult, maar hier diep in Faan Dempers se hart lê die twyfel. Hy weet nie … hy weet nie of Rob Rabe ’n waardige erfgenaam vir Rondom en, vir hom persoonlik van meer belang, ’n waardige man vir sy vrou sal wees nie. Daar is tekens, nou nog baie vaag, miskien selfs baie misleidend in hierdie vroeë jeugstadium, dat Rob Rabe maar taamlik onverantwoordelik is. Daar is ’n onrus in Faan Dempers en ’n heimlike wens dat hierdie vriendskap tussen Rob en Liesel mettertyd liewer moet oorwaai.

Nie dat ’n vriendskap tussen Rob en Liesel iets nuuts is nie. Hulle het saam grootgeword. Die ouers aan beide kante is deur al die jare intieme huisvriende. Maar dis tog vir Faan asof daar die afgelope tyd iets meer intiems in die vriend­skap tussen die twee jong mense ingesluip het, en hy behoort eintlik verbaas te wees dat hy teenstand hierteen in sy hart ervaar. Of is Kas miskien die oorsaak dat hy deesdae so krities teenoor Liesel se vriende staan? wonder hy meteens. Hy het nie miskien in die gewoonte verval om elke jong man wat sy voete oor die drumpel van Hartelus sit, te meet aan die jong Kas Burger, te weeg naas ou Joop van die onderdorp se seun nie? En weet hy nie in sy hart na watter kant toe die weegskaal sak nie?

Dis ’n hele ruk later dat Kas opstaan en die dokumente bymekaarmaak. Hy en sy senior het die watersaak klaar bespreek. Maar Faan se stem hou hom terug.

“Net ’n oomblik, Kas. Sit. Daar is iets …”

Kas gaan sit, kyk reguit terug.

“Ja, meneer?”

Faan aarsel, maar kyk dan op.

“Ek wil jou iets vra, en wat hier gesê word, bly natuurlik net tussen ons. Dis in verband met Rob Rabe en die kring waarin my dogter beweeg.” Hy sien onmiddellik die waaksaamheid in die jong man se oë, die verstilling in die mondhoeke, en hy weet instinktief dat sy agterdog gegrond is. Rob is nie die man wat hy voorgee om te wees nie.

“Ek wil weet watter soort man hy werklik is, Kas. Voor my en Liesel sit hy natuurlik sy beste voetjie voor. Ek het die gevoel ek ken hom nie werklik nie, al ken ek hom eintlik van sy babadae af. Ek weet jy beweeg nie in dieselfde kring nie, maar julle jong mense praat tog onder mekaar, hoor dinge waarvan ons ouer mense nooit hoor nie.”

Daar is duidelike onwilligheid in die jong stem toe Kas eindelik antwoord.

“Miskien moet u liewer hierdie vrae vir iemand anders vra, meneer. Ek … is nie die aangewese persoon om u te sê nie. Vra liewer …”

“Maar jy is, Kas. Niemand anders sal my die waarheid vertel nie. Almal sal wegskram. Ek kan net vir jou vra. Liesel is my enigste kind, Kas. Ek is bekommerd, baie bekommerd. Liesel is in die verkeerde rigting aan ’t beweeg en ek weet nie eintlik hoe ek haar moet keer nie, want ek het haar op daardie pad gehelp.” Hy sug terwyl hy hierdie eerlike belydenis doen, kyk dan weer op, en meteens is hy en die jong man voor hom gelykes, kan Faan Dempers sy hart oopmaak teenoor ou Joop se seun soos wat hy dit nie teenoor sy intiemste vriend kan doen nie. Hulle gesels lank, baie langer as ’n rukkie gelede oor die watersaak, en baie ernstiger, want vir albei is hierdie gesprek van groot belang, en albei weet dat dit om Liesel gaan … Liesel wat vir hulle albei so baie beteken.

Daardie aand het pa en dogter ’n ope gesprek, ’n gesprek wat later byna in ’n rusie ontaard. Enersyds is daar Faan Dempers se beslistheid om sy dogter te probeer red van die duidelike afgrond wat hy voor haar sien gaap. Andersyds is daar die opstand en verset van die jeugdige Liesel wat byna vir die eerste keer in haar lewe teengegaan word en voorskrifte kry.

“Dis ’n sieklike geskinder. Ek glo nie hierdie stories nie. Rob het hom nog altyd goed gedra waar ek by was.”

“Ja, dit glo ek, hoop ek, altans, maar hy is nie dieselfde man wanneer jou en my en sy pa se rug gedraai is nie. Ek erken dat my bronne van inligting uitdruklik gesê het dat dit stories is wat rondgaan, maar die lewe het my geleer, Liesel, dat stories selde heeltemal losgemaak kan word van die waarheid. Êrens is daar altyd ’n stukkie waarheid in ’n geskinder, en net daardie tikkie is genoeg vir my.”

“Wie is Pa se bronne van inligting?”

“Dit is nie van belang nie …”

“Ja, dit is. Is dit Kas Burger? Kan Paps dan nie sommer weet dat hy Rob doelbewus by jou sal beswadder nie?”

“Kas is nie daardie soort man nie, Liesel. En ek wil jou waarsku – nie een enkele woord van ons gesprek vanaand aan Rob of sy ouers nie.”

“Hoekom nie?” Sy staan uitdagend voor hom. “Hoekom nie vir Rob en Kas bymekaarbring en laat Kas sy bewyse aan hom voorlê nie? Hoekom ’n man sommer verdoem op grond van wat ou Joop Burger se seun oor hom te sê het?”

“Kas het nie kwaadgepraat nie, Liesel. Ek moes hom so te sê dwing om my hierdie dinge te vertel. Ek moes by iemand vasstel of my vermoedens korrek is. Ek is lankal bekommerd, my kind, veral ook oor jou. Ek wil meer doel en rigting in jou lewe sien. Ek waardeer dit dat jy tuis gebly het ná Ma se dood, maar … die lewe gaan voort. Jou lewe moet nou weer rigting kry. Ek gaan jou en tant Miemie oorsee stuur. Daarna, wanneer jy terug is, moet jy jou inskryf vir daardie kursus aan die universiteit en volgende jaar gaan jy universiteit toe.”

Iets in haar pa se stem, sy hele houding, vertel Liesel dat sy hom nie meer so maklik soos altyd om haar pinkie gedraai gaan kry nie. Nie vanaand nie. Dis ’n vreemde, streng pa wat voor haar staan en haar woede teenoor Kas Burger neem buite verhouding toe.

“En as ek weier?”

“Dis nie vir jou om te weier nie, Liesel.” Sy wenkbroue flikker waarskuwend en hy hoor weer die jong Kas sê: “Ek sou haar so ver as moontlik van Rob Rabe af weggehou het, meneer. As sy my dogter was, sou ek haar oorsee gestuur het, haar dwing as dit nie anders kan nie. Sy is nog onmondig.” Hy herhaal nou daardie woorde.

“Jy is nog onmondig. Tot dusver het ek jou vrylik jou gang laat gaan, Liesel. Nie meer nie. Van nou af maak jy soos ek sê. Ek gaan nou vir tant Miemie bel en sodra ons dit gereël kan kry, vertrek julle.”

Hy draai om en stap uit. Liesel storm voordeur toe, spring in haar motor en eers toe sy voor die platdakhuisie in die onderdorp stilhou, besef sy waarheen sy gery het. Sy loop hom by die voordeur raak en nog nooit was haar oë vir Kas Burger so blou as in hierdie stormagtige oomblikke nie. Toe sy eindelik klaar is, het hy nog geen woord ter selfverdediging gesê nie. Alles binne-in haar het uitgeborrel sonder voorbehoud totdat sy eindelik stil geraak het soos ’n dam wat leeggeloop het. Toe draai sy om en sy blik volg haar na die motor, sien hoe sy wegtrek, en binne-in hom loop die dam van opstand vol met strome van verbittering wat soos stormwaters op die keerwalle van sy hart afstorm. As hy net nie Joop Burger se seun was nie … As hy net nie ou Joop van die onderdorp se seun was nie! En toe sy vuiste gebal teen die kosyn tot ruste kom, met sy voorkop hard teen die hout gedruk, draai sy pa om en verdwyn by die agterdeur uit, stap uit op die werf sonder om iets raak te sien.

Hy het haar nie weer gesien nie. Maande sou verloop voordat Kas Burger weer in daardie blou oë sou afkyk en die veragting daarin sou lees. Sy het in die daaropvolgende week nie weer in die kantoor verskyn nie en ’n week later, die Saterdagaand toe Rob Rabe se verjaardagpartytjie in die groot wolskuur van Rondom gehou is, was sy in die vliegtuig op pad Europa toe.

Keerkring van die hart

Подняться наверх