Читать книгу Keerkring van die hart - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

In die maande wat volg, is dit asof Kas nog meer in homself gekeer raak, nog ’n bietjie stiller as voorheen. Hy werp homself so volkome in sy werk en regstudie dat sy baas later verplig is om hom daaroor aan te spreek.

“Kas, dis pragtig en goed soos wat jy studeer en werk, maar jy ken mos darem ook die Engelse gesegdetjie: All work and no play … ’n Mens moet altyd balans behou, seun.” Sy stem is vaderlik betigtigend terwyl hy na die skraal jong man kyk, sy oë bekommerd. Dis asof Kas die afgelope maande berserk geraak het. Dis asof hy alles in een dag wil vermag, alles in een jaar wil bereik.

Kas antwoord nie, en hy vervolg: “Hoekom speel jy nie weer hierdie seisoen rugby nie? Die manne voel nie lekker daaroor nie. Ek ook nie. Ons span kan kwalik sonder jou klaarkom.”

Kas glimlag effens. Hy het verwag dat die manne vir Faan Dempers sou aansê om hom oor te haal, maar hy gaan nie kopgee nie. Later, eendag wanneer hy bereik het wat hy wil bereik, sal daar weer tyd wees vir speel. Maar vir hom is speeltyd voorlopig verby. Dis nou werktyd, swoegtyd vir Joop Burger se seun. Laat die Rob Rabes maar speel. Hulle kan dit bekostig. Hy kan nie. Hy skud sy kop.

“Jammer, oom Faan,” sê hy nou stil maar beslis, en spreek sy baas aan soos wat dié ’n paar weke gelede versoek het. “Nie hierdie seisoen nie. Maar u is verniet bekommerd. Ek draf elke oggend en elke aand. Ek bly fiks.”

Oom Faan sug. Hy moes vooraf geweet het. Teen hierdie tyd ken hy Kas Burger al goed genoeg om te weet dat niks en niemand hom sal beweeg van die pad wat hy gekies het nie. En dis ’n harde pad vir so ’n jong man. ’n Pad wat nie net hoë intelligensie, ure lange studie en selfdissipline van hom gaan verg nie, maar ook groot opoffering. Hy het besluit dat hy die einde van die jaar sy finale prokureurseksamen wil aflê – en hy gaan dit ook doen, soos wat Faan Dempers hom ken. Dan sal hy maar pas drie-en-twintig wees. Oom Faan weet dat hy trotser as enigiemand anders sal wees as Kas dit gaan regkry, want veral hierdie afgelope maande nadat Liesel ook weg is, het Kas vir hom die seun geword wat hy nooit gehad het nie. Maar hy wil nie hê dat Kas hom daarvoor moet breek nie. Daar is nog baie tyd. Hy sê dit ook nou.

“Ek weet nie hoekom jy so dringend haastig is nie, Kas. Jy is nog bloedjonk. Stel jou mikpunt liewer vir die einde van aanstaande jaar.”

Maar die jong man skud sy kop, die ken beslis, die oë uitdagend.

“Nee, oom Faan. Ek móét die einde van hierdie jaar klaarmaak.”

Oom Faan beduie met sy hand, gee dan maar met ’n trotse glimlaggie toe. Ai, wat ’n jong man!

Maar toe Kas uit is, versomber sy gesig. Wat is dit wat Kas so dryf? wonder hy vir die hoeveelste keer. Op die oog af is die redes voor die hand liggend, en tog vermoed oom Faan dat daar nog ’n beweegrede is en dat dit miskien die sterkste beweegrede is. Maar dan twyfel hy weer. Nog nie een keer het Kas navraag gedoen oor Liesel sedert sy weg is nie. Aan die begin het hy Kas gereeld die nuus vertel, watter reisplan sy en tant Miemie volg en haar indrukke. Maar Kas het nooit kommentaar te lewer gehad nie en mettertyd het hy nie meer vertel nie. Ook dit het geen reaksie by die jong man uitgelok nie. Liesel se naam is weke gelede tussen hulle genoem.

Oom Joop was nog meer as Faan Dempers in hierdie maande bewus van die byna koorsige gejaagdheid in sy seun. Pa en seun het nog nooit veel vir mekaar te sê gehad nie, maar sedert daardie laatmiddag toe Liesel Dempers op die stoeptrappie van die platdakhuisie verskyn het, het oom Joop ’n fyn studie van sy seun begin maak. Dit was asof die harde, wrede woorde wat in jeugdige onbesonnenheid uitgespreek is, sy hart net so diep getref het as die jong en kwesbare jongmanshart, en dit was asof dit Joop Burger uit ’n diepe dwelmslaap wakker gemaak het. Vir die eerste keer het hy sy seun werklik raakgesien, werklik in hom as mens begin belangstel. Van kleins af het pa en seun op verskillende golflengtes gelewe, by mekaar verby, sonder enige kontak of selfs ’n poging om mekaar te begryp. Maar ook dit het skielik hierdie afgelope maande begin verander, eers van oom Joop se kant af.

Die eerste toenadering was ’n eenvoudige koppie koffie met ’n bewende hand onder die geboë kop ingeskuif om eenuur in die nag. Met verbaasde, moeë oë het Kas opgekyk.

“Drink eers ’n bietjie koffie en laat jou oë ’n paar minute rus, seun. Dan kan jy weer voortgaan,” het hy gesê.

“Dankie, Pa.” Hy het aan sy koffie geproe, toe na die ineengetrekte gestalte op die kant van die bed gekyk. “Hoekom slaap Pa nie?”

Die ou man het selfbewus met sy knopperige hande beduie. Snaaks hoe dinge verander. Kas was maar net Kas in die verlede, maar dis mos al of hy sy eie seun deesdae nie lekker in die oë kan kyk nie, half selfbewus in sy teenwoordigheid voel.

“Nee wat. Ou mense soos ek het nie baie slaap nodig nie. Die lang slaap lê voor.”

Die oë wat na hom gekyk het, was skielik skerp.

“Voel Pa siek?”

“Nee. Nee, natuurlik nie. Die ou rumatiek pla so ’n bietjie, maar ’n mens raak alles gewoond – gelukkig. Nog ’n bietjie koffie?”

“Nee dankie, Pa. Dit was lekker. Dit was net wat ek nodig gehad het. Pa kan nou maar weer gaan lê.”

Hy het stil by die deur uit verdwyn soos hy gekom het, en vir ’n kort oomblik het Kas se gedagtes om hom bly dwaal. Pa … ’n woord. ’n Naam. Vir hom, tot dusver, ’n blote biologiese feit. Elke mens moet ’n pa hê. Hy is noodsaaklik vir jou ontstaan as mens. Maar dit was al. Joop Burger was en is sy pa. So was dit beskik. Bloot net die persoon wat aan hom die lewe gegee het – en dis al. Maar vannag … Hy het gesug, sy pen weer opgeneem. Hy het nie tyd om te wonder hoekom Joop Burger vannag meteens om eenuur nie net sy pa was nie, maar ook ’n vader.

Maar in die nagte wat sou kom, sou die gereelde koppie koffie om eenuur die nag Kas dwing om dieper hieroor te dink; hom dwing om te sien dat Joop Burger nie net bloot ’n pa is nie, maar ook tog ’n vader.

Toe die koppie koffie weer een nag onder sy neus ingeskuif word, draai hy direk na die ou man toe en daar is ’n vreemde warmte in sy stem wat ou Joop nog nooit gehoor het nie.

“Dankie, Pa. Kom drink ’n koppie koffie saam met my.”

Die ou man knik, skuifel terug na die aangrensende kombuisie toe en kom met sy wit bekertjie te voorskyn. Hy neem weer op die kant van die bed plaas, die ooglede neergeslaan, bewus daarvan dat sy seun se oë peinsend op hom rus en weer eens pynlik bewus daarvan dat Kas nie meer ’n kind is nie, maar ’n groot man, sy gelyke, sy meerdere in die meeste opsigte.

Dis ’n rukkie stil terwyl hulle stilswyend aan hulle koffie proe. Kas se oë bly rus op die ou man voor hom, probeer hom sien vir wat hy is, soos hy is – ’n afgetakelde ou man met net ’n pad van mislukkings agter hom en ’n groot niks voor hom. Hy probeer onthou … daardie dae toe hy nog ’n seuntjie was, die droë pap wat wurgend in sy keel bly vassit het, die skaamte vir die gelapte broekie, die skurwe hakskene van die kaal voete in die winter, die dungewaste kombersie oor ’n maer lyfie, die koue, die honger soms, die verskriklike lus vir die lekkers agter die glaskassies in die winkel … en binne-in hierdie keerkring van herinneringe staan hierdie man as sentrale punt, as die as waarom alles draai … Maar vannag het die verbittering meteens stil geraak, is daar eerder ’n weemoed, ’n vreemde hartseer in hom terwyl hy na die man kyk wat sy pa is … wat daardie tyd ook sy pa was. Die prentjie wat hy aldeur met hom saamgedra het, vervaag – die prentjie van ’n besope man wat slingerend die strate afkom, ’n walm in die kamer wanneer hy op die bed neerval, die leë bottels in die vuilgoedblik buite … die prentjie voor hom vannag vang hom vas, verdryf daardie ander beeld uit sy jeugjare en hy sien die spore op die gesig – diep, lelike groewe, die genadelose kerwing van die jare wat geleef is met hulle eie verhaal op die gelaatstrekke gegraveer. Meteens is dit vir die jong oë wat so stip kyk asof hy vreemde groewe op die gesig sien, groewe waarvan hy die verhaal nie ken nie.

“Pa … mag ek Pa iets vra?”

“Ja, kind, vra maar.”

Albei weet dit gaan nie ’n gewone vraag wees nie.

“Was dit … baie swaar daardie tyd toe … toe Pa die drank laat staan het?”

Eindelik kyk hy van die wit bekertjie af op.

“Dit was smartlik, Kassie … smartlik.”

“Pa het nooit iets gesê nie. Ek bedoel, nooit gepraat …” Die bekertjie word op die hoek van die tafel neergesit.

“Nee. Daar was niks om te sê nie … niemand om mee te praat nie … Dit was net ek en die smartlikheid …”

Kas knik, wetende dat hy nie werklik begryp nie, nooit werklik sal begryp nie. Net nog ’n ander alkoholis sal weet, hom dit kan voorstel. Hy kyk weer op. Hierdie man het ’n hel vir sy vrou en kind op aarde geskep, maar hy het ook sy eie hel geskep – miskien die grootste hel vir homself, want waar is daar ’n groter hel as om te weet jy het dit vir jouself geskep? ’n Aardse hel is draaglik as jy met die vinger na ’n ander kan wys, maar as die vinger omdraai en na jouself keer … Kas se oë vernou. Hy het netnou vir Joop Burger gesien as ’n man met ’n lang pad van mislukkings agter hom? Dan het hy verkeerd gekyk, besef hy. Daar is wel baie mislukkings, maar ook een oorwinning, van die grootste oorwinnings wat ’n mens op hierdie aarde kan behaal. En hy het dit manalleen behaal sonder hulp van behandeling of inrigtings of selfs die bystand van ’n geliefde of ’n medemens.

Hy glimlag meteens.

“Ek is trots op Pa.”

Die woorde val sag en tog ook oorverdowend in hierdie laat naguur tussen pa en seun, word byna iets tasbaars tussen hulle. Stadig, baie stadig lig die ooglede.

“Kas … Kassie, ek wou nog altyd vir jou sê … ek is jammer …”

“Jammer, Pa?”

“Ja. Ek is jammer die lot het op my geval om jou pa te gewees het. Ek is jammer … vir alles … alles.” Die knopperige vingers swaai in ’n halfsirkel, sluit alles saam in ’n enkele keerkring, prop jare van hartseer en frustrasie, jare van skaamte en skande, dekades van verbittering en byna haat in een eng sirkel in. Dit sluit meer as net die gelapte broek, die skurwe, koue voete, die dun kombersie in. Dit sluit ook die klad in, die stigma om ou Joop van die onderdorp se seun te wees …

“Ek is jammer, seun …”

“Ek is nie … nie meer nie.” Weer is dit of hulle die woorde kan aanraak. Die oë kyk reguit. “Regtig, Pa, ek bedoel dit. Ek erken ek wás, maar … ná vannag nie meer nie. Ek is bly … en dankbaar ek is Joop Burger se seun. Pa … Pa, vertel my asseblief, hoe stry ’n mens teen iets wat groter is as jyself? Vertel my hoe ek moet maak, asseblief.”

Die ou man vra nie vrae nie. Dit is nie nodig nie. Hy weet, al van daardie aand af toe Liesel Dempers sy seun geboë en meteens volwasse agtergelaat het, dat Kas ’n stryd voer … ’n stryd teen iets groter as hyself. Hy knik nou net, staan op, tel die wit bekertjie op, kyk dan af in die smekende oë hier digby hom.

“Jy het die regte resep, Kasman. Harde werk en … die knieë buig. Hard werk en hard bid, seun. Dis die enigste resep wat daar is.”

Dis ’n hele rukkie later dat Kas sy oë weggeskeur kry van die donker deuropening waar sy pa verdwyn het. Dan druk hy sy voorkop teen sy saamgeknelde vingers. Wie op Grasbult sal ooit dink dat ou Joop ook ’n resep het, ’n resep wat so baie van Grasbult se voorstes nie het nie, juis omdat hulle dit nog nooit nodig gehad het nie? As Robert Rabe sy pa was, sou hy vannag miskien vergeefs gepleit het vir ’n resep waarvolgens hy kan handel om ’n persoonlike stryd te stry, om ’n oorwinning oor homself te behaal. Maar dank God hy is Joop Burger se seun. Anders sou hierdie seun nie die resep by sy pa kon kry nie.

Ons sal hulle wys, Pa, dink hy. Ons sal hulle wys waar ou Joop en sy seun nog eendag gaan kom, Pa. Ons sal háár wys …

Die jaar begin ten einde spoed. Die dag breek aan dat Liesel en haar pa se oujongnooisuster uit die buiteland moet terugkeer. ’n Groot verwelkomingspartytjie word gereël.

“Ek is nie juis lus vir so ’n affêre nie, maar soveel mense het nou al geskimp in daardie rigting dat ek verplig voel om ’n verwelkomingsgeselligheidjie vir Liesel te gee. Jy kom natuurlik ook, Kas.”

“Dankie, oom Faan, maar …”

“Ek gaan nie hierdie keer nee aanvaar nie, Kas,” laat oom Faan onnodig streng hoor. “Ek wil jou graag daar hê. Asse­blief!”

“Dit glo ek, maar dis Liesel se partytjie en sy sal nie ingenome wees met u keuse van gaste nie.” Hy hou sy hand omhoog toe dit lyk of oom Faan heftig wil protesteer. “Asse­blief. Ons laat dit daar. Ek sal daaroor dink.”

Daardie aand sit pa en seun saam om die kombuistafel terwyl hulle aandete geniet. Oom Joop hou sy seun onderlangs dop. Die afgelope twee, drie weke is daar ’n merkbare rusteloosheid in Kas te bespeur en oom Joop dink hy weet wat die rede is. Die datum van Liesel se terugkeer kom nou vinnig nader.

Hy aarsel eers. Daar het die afgelope tyd baie groter vrymoedigheid tussen pa en seun ingetree as wat daar eers was, maar Kas se innerlike was nog altyd net sy eiendom. Hy skink die wit bekertjie weer vol koffie en laat dan ongeërg hoor: “Dit is mos haas tyd dat Liesel Dempers huis toe kom, nie waar nie?”

Die oë bly op die bord voor hom gerig.

“Ja. Sy kom aanstaande week.”

“Hm. Ek verstaan Faan Dempers gaan ’n groot opskop gee ter viering daarvan.”

“Ja.”

“Ek neem aan jy gaan ook?”

Die oë lig nou omhoog, strak, reguit.

“Nee, Pa. Ek gaan nie – en Pa weet dit.”

“Hoekom nie, Kas? Hoekom wil jy nie gaan nie? Skaam? Nog altyd skaam? Ek het gedink dis ’n saak wat jy lankal met jouself uitgemaak het. Of het jy daardie aand vir my gelieg, sommer maar net gepraat?”

Kas frons skerp.

“Waarvan praat Pa? Wat …?”

“Daardie nag, Kas, onthou jy nie? ’n Klompie maande gelede … Jy het daardie nag vir my gesê jy is nie meer skaam omdat … omdat jy my kind is nie. Maar jy het dit nie regtig bedoel nie, nè, Kassie? Jy wou Pa se gevoelens maar net nie kwets nie, want jy is ’n goeie seun. Jy was maar net jammer vir my …”

“Pa!” Hy sluk, sy stem skor. “Pa, ek het dit werklik bedoel! Maar … maar dis nie mý plek daar nie. Verstaan dan tog! Ek … hoort nie daar nie!”

“Hoekom nie? Hoekom hoort Robert Rabe se seun dan daar en jy nie? Die verskil is nie in die seuns nie, nè, Kasman? Dit is in die pa’s. Dis omdat jy ou Joop se seun is dat jy voel jy hoort nie daar nie.” Kas antwoord nie, maar die ou man knik op die vraag in sy oë. “Ja, ek … ek was in die kombuis daardie dag toe sy … toe Liesel hier was. Ek het gehoor, Kassie. Gaan na daardie partytjie toe … ter wille van my, asseblief. Gaan stap daar in, nie as ou Joop van die onderdorp se seun nie, maar as Joop Burger se seun. Gaan wys hulle dat ou Joop nie ’n minderwaardige seun het nie, maar ’n seun op wie elke pa trots kan wees.”

Kas se adamsappel beweeg pynlik op en af.

“Pa, ek … kan nie! Ek wéét ek sal nie welkom wees nie.”

“Vir my, Kasman. Doen dit vir Pa, Kassie.”

“Pa …” Hy sug, vee oor sy oë. “Dit gaan ’n groot gedoente wees. Aanddrag en … so aan. Ek het nie eens die regte klere nie.”

“Ek sal dit vir jou gee. Jy kyk my verniet so ongelowig aan. Ek het genoeg geld vir ’n aandpak vir jou. Ek het klaar seker gemaak.”

“Ek gaan nie Pa se geld vat nie …”

“Jy vat dit mos nie. Ek géé dit vir jou. Om die waarheid te sê, sal dit die eerste keer wees dat ek werklik iets vir jou gee. Ek het nog nooit iets vir jou gegee nie, nè? Van kleintyd af het jy nie so iets geken nie. Toe ander seuns fietse, later motorkarre en sulke dinge by hulle pa’s gekry het, het jy niks gekry nie …”

“Asseblief, Pa! Ons … omstandighede was anders …”

“Ja.” Hy sug. “Selfgeskepte omstandighede. Nou toe dan maar, Kassie. Nes jy goeddink. Pa het maar net gemeen … En ek wag lankal op ’n geleentheid om iets vir jou te gee wat vir jou van waarde sal wees. Ek meen, ek sit lankal daardie geldjies weg, bietjie-bietjie elke maand … eintlik gedink ek sal dit vir jou gee wanneer jy jou laaste eksamen skryf. Dan kan jy daarmee doen wat jy wil. Maar toe hoor ek van die opskop en toe het ek maar gedink …”

Daardie nag om eenuur toe die koppie leeg is en oom Joop dit weer neem om terug te vat kombuis toe, kom hy in sy sukkelende spoor tot stilstand toe sy seun se stem opklink.

“Pa …”

“Ja?”

“Ek het gedink … as Pa dit werklik sou kon spaar, sal ek … sal ek graag daardie aandpak-aanbod aanvaar.”

Die ou man glimlag, knik.

“Pa kan dit spaar.” Dan sagter, heelwat sagter: “Dankie, Kasman.”

Kas en oom Faan het nie weer die saak van die partytjie opgehaal nie, maar oom Faan wys openlik sy blydskap daardie aand toe hy meteens die lang, skraal gestalte in sy voordeur sien verskyn. Vir ’n oomblik herken hy hom amper nie. Dan stap hy vinnig nader.

“Kas! Kom binne, kêrel.”

“Naand, oom Faan.”

Dan sak sy blik af na die gesiggie wat meteens hier langs oom Faan se skouer verskyn. Hy buig effens.

“Goeienaand, juffrou Dempers. Welkom terug.”

Sy het hom onmiddellik gewaar toe hy in die voordeur verskyn het en haar eerste gedagte was om te wonder wie dit is. Toe het herkenning gekom en sy het teen haar sin nader beweeg, maar sy ietwat koel verwelkoming, die wyse waarop die grys oë haar krities en opsommend beskou, bring die laaste keer toe hulle mekaar gesien het, helder na haar terug. Haar gesig verstrak en ook haar oë verkoel merkbaar. Sy wend nie ’n poging aan om haar hand uit te steek nie, maar kyk hom met haar óú hooghartigheid aan, hoewel dit vir haar voel asof sy met groter hooghartigheid aangekyk word, byna ’n meerderwaardigheid waarvoor sy haar op die plek bloedig vererg.

“Goeienaand, meneer Burger,” beantwoord sy sy groet met fyn sarkasme. Sy draai dadelik na haar pa. “Paps, gaan ons twee nie die baan open nie? Die jongklomp is al lus vir dans.”

Oom Faan skud sy kop.

“Nee wat, kleinding. My ou litte is al te stram. Laat Kas liewer.”

Sy frons ontevrede en die frons verdiep toe sy opkyk in oë wat meteens uitdagend in hare rus. Dan maak hy weer die buiginkie en antwoord beleef voordat sy nog iets kan sê.

“Dankie vir die eer, juffrou, maar … ek is nie juis ’n danser nie.”

Sy swaai met ’n verergde, hooghartige beweging van die kop om, stap direk op Rob Rabe af waar hy met ’n onbekende meisie staan en gesels. Kas kyk stilswyend, met ’n uitdrukkinglose gesig toe terwyl hulle wegdans. Ander pare begin ook dans en dan hoor hy oom Faan se stem.

“Marlise, kom hier, kind. Ek wil jou voorstel aan Kas, my regterhand en toekomstige vennoot. Kas, dis nou Marlise, ’n ou vriend van my se dogter. Sy het saam met Liesel van die Kaap af gekom.”

Dis ’n mooi donkerkop wat voor Kas staan en oor Rob Rabe se skouer sien Liesel hoe hy Marlise se hand neem. Sy gesig verander meteens en ontspan in ’n glimlag. Hy maak weer ’n buiginkie en Marlise se laggende gesig terwyl hulle begin wegdans, voltooi die prentjie. Net vlugtig, baie vlugtig ontmoet haar oë die grys blik en sy kyk vinnig weg, probeer konsentreer op wat Rob in haar oor fluister.

“Jy is pragtiger as ooit. Ek het my doodverlang na jou, meisie.”

Sy glimlag effens, maar haar oë is somber. Is dit waar? wonder sy. Al hierdie maande wat sy weg was, het sy bly wonder of dit wat Kas haar pa vertel het, waar was van Rob. Dan verdwyn die twyfel meteens. Die feit dat Rob vanaand sonder ’n spesifieke meisie na haar partytjie gekom het en baie duidelik in haar afwesigheid nie ’n vaste meisie in haar plek aangeskaf het nie, is bewys genoeg dat dit net ’n swartsmeerdery van Kas was.

Uit die hoek van haar oog herken sy haar vriendin hier langs haar en sy leun vir ’n oomblik met haar kop teen Rob se skouer, kyk na hom op en glimlag.

“Ek het gedink jy sou my vergeet het, Rob.”

Hy glimlag in haar oë af en sy arm span stywer om haar. Vlugtig, met die vernuf van ’n ervare man, miskien gans te ervare vir sy jare, druk Rob sy lippe teen haar voorkop.

“Ons kan weer die drade optel waar ons dit maande gelede moes knip, meisie, kan ons nie?”

Sy weet Marlise en haar dansmaat dans hier dig teen haar, en haar glimlag is onnodig breed en tegemoetkomend toe sy antwoord, ’n bietjie te hard vir die intimiteit van dié soort gesprek.

“Natuurlik, Rob. Ses maande oorsee het niks aan my verander nie. Niks.”

“Gaaf, meisie. Gaaf.” Hy swaai haar meteens in ’n wilde rondomtalie en haar laggie klink oor die ander pare uit. Uit die een hoek, waar hy in geselskap van Rob se ouers sit, kyk Faan Dempers met ’n glimlag op, ’n glimlag wat effens verstrak toe hy sien met wie sy dogter so vrolik is. Byna hulpsoekend gaan sy blik na die paar langsaan, maar Kas is diep geïnteresseerd in wat die mooi meisie in sy arms te sê het en het blykbaar nie eens die verspottigheid van die ander twee agtergekom nie.

Die res van die aand bly oom Faan se oë donker met versluierde kommer. Dis of Liesel met byna koorsagtige uitgelatenheid deelneem aan die plesierigheid, en dis net sy en Rob. Sy dans kwalik met iemand anders. En wat oom Faan op ’n vreemde manier ook kwel, is die feit dat sy aanstaande vennoot, soos hy klaar besluit het, net oë vir Marlise Joubert het en dat dié twee beslis die aand saam geniet en baie vir mekaar te sê het. Daar is ’n magteloosheid in oom Faan toe hy en die twee meisies eindelik ure later alleen in die groot sitkamer van Hartelus agterbly.

“O, dit was ’n wonderlike aand, oom Faan. Baie dankie,” lag Marlise. “As ek geweet het hierdie vaal Karoo het sulke gawe jong mans, het ek lankal kom kuier!”

Oom Faan se glimlaggie is effens stram, maar sy oë goedig. Marlise is ’n dierbare, spontane kind, die dogter van ’n jare lange prokureursvriend in die Kaap.

Liesel kyk haar lig fronsend aan.

“Ag, dit het dan vir my gelyk asof jy die hele aand met ou Kas opgeskeep was. Ek het gewonder of jy ooit die partytjie geniet.”

Marlise kyk haar vriendin grootogig aan. Dan lag sy hartlik.

“Liewe mens, dis juis Kas wat my aand gemaak het! Hy was die oulikste man op die partytjie. Nie eens jou Rob, met alle respek, kom naby hom nie.”

“Jy is verspot! Daar is geen vergelyking nie!” antwoord Liesel skerp, maar Marlise kyk kalm terug.

“Toe maar, ons sal nie daaroor stry nie. Elkeen na sy smaak. Sê my, het hy ’n meisie, ’n vaste meisie, bedoel ek?”

“Nee, natuurlik nie!”

Marlise frons ook nou liggies.

“Wat is so natuurlik aan daardie feit? Dis vir my bra onnatuurlik dat ’n man soos hy nie ’n sleepsel vroumense agter hom sal aanhê nie.”

Oom Faan tree vinnig tussenbeide, en daar is geen glimlag op sy gesig nie.

“Ek dink Kas kan maklik ’n sleepsel vroumense, soos jy dit stel, agter hom aanhê, maar hy is besig met sy finale eksamen en het die afgelope vier jaar baie hard gestudeer. Hy gun homself nie die tyd vir sulke dinge nie. Ek moes hom soebat om vanaand hierheen te kom.”

“Soebat?” Liesel se oë flits op na haar pa. “Vir wat het Paps hom gesoebat? Hy kon maar gebly het. Dit sou niks aan my partytjie gedoen het nie. Ons sou heeltemal goed sonder hom klaargekom het.”

Oom Faan frons nou skerp op sy dogter af en ook haar vriendin kyk haar verbaas aan. Liesel is byna openlik vyandig in haar houding teenoor Kas Burger. Dit kom beslis ’n bietjie vreemd voor, veral omdat sy hom vanaand vir die eerste keer ná maande weer gesien het. Marlise spring oom Faan voor en laat gemaak opgewek hoor: “Wel, aan my sou dit beslis ’n verskil gemaak het. Ek is baie bly oom het hom gesoebat, oom Faan. Mag ek môre kom tee drink in die kantoor?”

Oom Faan knik, probeer ook glimlag.

“Natuurlik – as jy koek saambring. Kas hou van sjokolade­koek.”

Marlise haak by hom in en hulle begin aanstap gang toe.

“Sjokoladekoek sal daar wees – ek belowe! Hulle sê mos die pad na ’n man se hart loop deur sy maag, dan nie?”

Liesel hoor hulle lag en die ergernis neem in haar toe. Marlise is verspot. Sy hoop regtig nie sy gaan haar goedkoop maak voor Kas Burger nie. Sy kan haar gerus môre ’n bietjie deur die dorp neem en terloops wys waar Kas woon. Dit behoort haar oë oop te maak.

Maar ook hierin spring Marlise haar voor. Die volgende oggend, toe oom Faan met die trappie afstap op pad kantoor toe, tref hy sy dogter se vriendin in die blomtuin aan, besig om blomme te pluk.

“Môre, oom Faan. Ek het sommer eie reg gebruik en begin blomme pluk vir die huis. Ek hoop nie oom is kwaad nie?”

“Nee, natuurlik nie, kind. Gaan gerus voort. Maar ek het gedink jy slaap nog.”

“Liesel slaap nog maar ek is al vroeg wakker. Ek wil netnou ’n bietjie deur die dorp stap. Ek brand om dit te sien. Dis ’n pragtige plekkie. Klein, maar intiem, en dit het soveel atmosfeer.”

Oom Faan se oë is warm. Die pad na sý hart loop beslis deur Grasbult. Vir baie stedelinge is Grasbult, wanneer hulle met die snelweg na die Noorde hier verbykom, ’n simpel klein dorpie, en baie wonder hoe enige mens by sy volle verstand uit vrye keuse op so ’n ou plekkie kan woon. Maar vir oom Faan en die ander Grasbulters wat hier uit sy stofaarde gebore en getoë is, is Grasbult ’n klein hawe van rus, ’n klein oase in ’n wêreld wat verleer het wat rustigheid en kalmte is. Op Grasbult is die dolle gejaag van die moderne lewe, die geweldige spanning, iets vreemds. Op Grasbult haas jy jou langsaam, en op die ou end, het oom Faan al agtergekom, kry hulle meer uitgevoer as daardie man wie se lewe van soggens vroeg tot saans laat in die malle rondomtalie van die stadslewe vasgevang is.

Hy glimlag nou breed vir haar.

“Onthou die sjokoladekoek!” sê hy voordat hy in die motor klim.

“O, dít sal ek beslis nie vergeet nie!” roep sy en wuif tot siens.

Marlise rangskik eers die blomme en sit oral bakke vol in die huis rond terwyl sy saggies neurie. Wanneer laas het sy so gelukkig … en so opgewonde gevoel? Sy is ’n stadskind, en dis die eerste keer dat sy op Grasbult kom kuier, hoewel die Demperse en Jouberts al jare lank vriende is en Liesel al dikwels met skoolvakansies by haar in die stad kom kuier het. Maar sy het nog nooit sinnigheid gehad om ’n vakansie hier op Grasbult te kom deurbring nie. Vanoggend kan sy haarself skop daaroor.

En amper het sy hierdie keer ook nie gekom nie. Dit was net Liesel se gekerm wat haar eindelik maar laat toegee het om vir ’n week saam te kom. En vanoggend, net maar twee dae ná haar aankoms, wens sy sy kon die week na jare uitrek. Sy hou van Grasbult en sy mense. Die dorp self is nie meer vir haar ’n vaal ou dorpie soos sy dit altyd in haar gedagtes geskets het nie. Dis nou ’n klein stukkie paradys waar jy soggens vroeg wakker word met duisende voëls se gesang in jou ore, en saans voordat jy in droomland wegsink, die kriekies hoor skree en die paddatjies hoor roep en selfs ’n uil êrens in een van die bome ’n geheimsinnige hoe-hoe laat hoor. Dis ’n dorpie waar jy by elke hekkie waar jy verbygaan vriendelik gegroet word, vreemdeling of nie; ’n plek waar jy sommer ná bekendstelling op die voornaam genoem word, ’n plek met gawe mense, aardse mense van wie sy hou. Ja, sy hou sommer baie van hierdie wêreld en sy mense … en sommer baie, baie van Kas Burger.

’n Rukkie later stap Marlise luierend onder die bome deur en kies sommer ’n koers terwyl sy belangstellend alles om haar bekyk, en dit wat vreemd en nuut is, van naderby gaan beskou. Eerlank is sy aan die kant van die dorp en lê die sportterrein met nog net een platdakhuisie daarnaas voor haar. Sy wil net omdraai en terugstap sodat sy Kas se sjokoladekoek kan gaan bak, toe sy hom gewaar.

Oom Joop is besig om ’n halsstarrige haan in die hok te probeer kry. Hy is onbewus daarvan dat hy ’n toeskouer het en, in sy onmag met die rumatiekbene om die ratse haan in ’n hoek te dryf, vertel hy hom ook in geen onsekere taal wat hy met hom sal doen as hy hom in die hande kry nie, die ditse ding! ’n Hartlike skaterlag agter hom laat hom wip soos hy skrik en dan verleë omdraai.

“Lyk my daardie haan is nog net vir een ding goed, oom, en dis om heerlik bruin te braai in sy eie vet met lekker bruingebakte aartappeltjies om hom.”

“Dit kan jy weer sê, meisie. Dis net wat met hom gaan gebeur as ek hom in die hande kry!” beaam oom Joop pootuit en vee die sweet met ’n kakiesakdoek uit sy oë.

Weer lag Marlise spontaan, die lewensvreugde borrelend in haar.

“Ek sal oom help, maar op een voorwaarde – ek word ook vir die dis genooi. Top?”

“Top!”

Oom Joop staan terug en nou is dit sy beurt om te lag totdat die trane rol. Die meisie lyk gehawend toe sy eindelik trots tussen die drade en bosse orent kom, die rooi haan stewig vasgevat, haar oë skitterend.

“Hy het my laat sukkel, oom, maar ek het hom. Waar moet ek nou met hom heen?”

Oom Joop skuifel vinnig nader.

“Hier, meisie. Sit hom in hierdie draadhokkie en môre waai sy kop.”

“Wanneer eet ons hom – môremiddag?”

“Top!”

“Niks hou my môremiddag hier weg nie! Ek het hard gewerk vir daardie stukkie kos! Ek sal nou eers moet loop, oom. Tot môremiddag, hoor?”

“Tot siens, meisiekind. Kom seker. Jy is baie welkom.” Laggend en onbewus van haar geskraapte knieë en die feit dat dit lyk asof sy deur ’n warrelwind opgetel en êrens neergegooi is, stap Marlise terug huis toe. Sy sal haar moet roer as sy daardie koek betyds gebak wil kry sodat sy dit nog voor teetyd kan versier.

Liesel tref haar ’n rukkie later in die kombuis aan, druk besig. “Wat maak jy?”

“Ek bak koek. Nee, gaan sit op ’n ander plek, jy is in my pad,” beveel sy sommer eiegeregtig en Liesel gaan plak haar aan die oorkant op ’n stoel neer. Sy frons.

“Marlise, jy gaan tog nie so verspot wees om regtig ’n sjokoladekoek vir Kas Burger te bak nie.”

Marlise kyk op en vee met ’n meelhand haar kuif uit die oë. As skoolmeisies was sy en Liesel groot maats, maar sy is nie meer so seker of sy nog soveel van haar eertydse vriendin hou noudat hulle jong meisies geword het nie.

“Ja, ek gaan.”

“Jy kan nie ernstig wees nie!”

“Natuurlik is ek. Liesel, ek is ’n jaar ouer as jy, nè? En jy weet ook ek het baie mansvriende. Maar Kas is anders. Kas was vir my iets … iets spesiaals vandat ek hom die eerste oomblik gewaar het.”

Liesel lyk openlik geskok.

“Maar jy ken hom nie! Jy weet nie wie en wat hy is, waar hy uitkom nie, waar …”

“Ek hoef nie te weet nie – nie regtig nie. Alles wat ek wil weet of hoef te weet, kan ek in Kas self sien. Liesel, ek kan jou dit maar sê, want daar is tog geen gevaar dat ek miskien op jóú tone sal trap nie: ek is verlief op Kas Burger. Ek is vir die eerste keer werklik verlief en ek gaan my uiterste bes doen om hom beïndruk te kry, al sê jou pa hy het nie tyd vir ons geslag nie.”

Keerkring van die hart

Подняться наверх