Читать книгу Verworpe silwer - Ena Murray - Страница 3
Оглавление1
Hoe nader hulle aan Eloffsdal kom, hoe stiller word dit in die motor. Santie kyk skuins na haar splinternuwe man. Hy gesels nie meer vrolik nie, en die ongeërgdheid wat so deel van hom is, is skielik nie meer so opmerklik nie. Inteendeel. Hy lyk vreemd gespanne.
Sy kyk uit oor die vaal vlaktes van hierdie barre deel van die land. Hulle noem dit Koup. Selfs sy, wat nou vir die eerste keer in hierdie deel kom, kan sien dat dit bitter droog is. Vir haar lyk dit asof daar net klippe op die hardgebakte aarde oor is vir die skape om te vreet.
Sy probeer die skielike spanning wat in die atmosfeer gesluip het, uit die weg ruim.
“Dit lyk vreeslik droog.”
“Ja. Hier is plase wat tot drie jaar laas reën gehad het. Die boere hierlangs kry swaar.”
Weer volg ’n eienaardige stilte en dan soek haar hand na sy knie. “Wat makeer, Louis?” Sy sien hom huiwer, en voel meteens vertwyfeld. Tot dusver was daar nog nie tyd om te dink nie. Van die oomblik dat sy en Louis mekaar ontmoet het, was dit vir haar asof sy haar op ’n mallemeule bevind. Haar blik sak af na haar ringvinger waar ’n skitterblink troupand maar pas vanoggend sy ereplek ingeneem het.
Dan kyk sy op en vra reguit op haar ongekunstelde manier wat verraai hoe jonk sy is – nie net in jare nie, maar ook in lewenservaring: “Is daar iets wat ek moet weet voordat ons op Eloffsdal aankom? Jy het my eintlik nog niks van jouself vertel nie, weet jy? Net dat jy ’n boer is.”
Hy ry skielik stadiger en sy haal verlig asem. Dis ’n pragtige rooi sportmotor en baie indrukwekkend, maar sy het heimlik gesit en asem ophou oor die snelheid waarteen hy ry. Toe sy dit ’n rukkie gelede gewaag het om ’n opmerking daaroor te maak, was sy antwoord op sy bekende, ongeërgde manier: “Ek kan nie sit en kruie op die pad nie.”
“Maar ... hulle sal jou vang! Jy ry baie vinniger as wat toelaatbaar is.”
“Dan betaal ek maar as dit gebeur.”
Sy het geswyg, vir die eerste keer begin wonder hoe ryk die Mockes van Eloffsdal werklik is. Nie dat dit enigsins ’n oorweging was toe hy haar gevra het om met hom te trou nie. Sy het kwalik in daardie rigting gedink. Louis het in die vier weke wat sy hom nou ken, kwistig met geld gewerk. Sy sportmotor getuig ook van duur smaak. Hier agter in haar kop het sy ’n vae prentjie van ’n ouer broer en, soos Louis dit ewe vaag gestel het, ’n “paar sakeondernemings” wat deur die twee broers behartig word. Maar die prentjie is baie onvolledig. Vir die eerste keer dring dit regtig tot haar deur dat sy op pad is na ’n wildvreemde plek saam met so te sê ’n wildvreemdeling.
“Vertel my meer van jou broer. Sy naam is Darius, het jy gesê?”
“Ja. Hy is vyf jaar ouer as ek. Ek hoop nie jy sal omgee nie, maar ons sal eers by hom in die huis moet woon, of ons sal in die hotel moet bly. Ja, miskien moet ons maar dadelik oortrek hotel toe.”
Sy frons verward. “Hoekom? Jy het mos gesê jou broer is nie getroud nie en dat julle die huis deel. As jou broer nie omgee dat ...”
“Dis juis die ding, Santie. Ek moet jou waarsku. Darius is ’n ... moeilike mens om mee klaar te kom.”
Dis nou sý wat aarsel voordat sy sê: “Laat ons maar eers kyk hoe dit gaan. Het hy ... het hy kwaad geklink toe jy hom van ons troue vertel het?”
“Ek kon hom nie in die hande kry nie, en ek wou nie die nuus dat ons getroud is via Sannie Nel by die motorhawe aan hom oordra nie. Die hele Eloffsdal sal dit weet nog voordat hy die boodskap kry. Nee. Ek het haar toe maar net gesê sy moet vir Darius sê ek kom vandag terug.”
“Maar dink jy hy sal ontevrede wees? Miskien moes ons eers gewag ...”
“Twak. Ek is nie meer ’n kind nie. Ek gaan beslis nie eers vir hom toestemming vra voordat ek trou nie.”
Sy kyk onseker na die ontevrede gesig langs haar, draai dan haar oë vinnig weg. Sy hoef darem nie te veel ervaring en mensekennis te hê om agter te kom dat die twee broers nie altyd te goed met mekaar oor die weg kom nie. Daar is nou beslis bedenkinge in haar hart oor die vinnige stap wat hulle vanoggend gedoen het. Sy voel skuldig ook. Dis net die twee broers. Dis nie reg of mooi dat hulle sommer gaan trou het sonder dat die ouer broer eers vooraf in kennis gestel is nie. Die regte ding sou eintlik gewees het om Darius eers te kom ontmoet en dan te trou. Maar toe sy dit eenkeer flou geopper het, was Louis baie beslis teen so ’n voorstel gekant.
“Darius is nie my baas nie, Santie. Ek is al vier en twintig.”
Sy kom agter dat Louis nie graag verder oor sy broer wil praat nie, swyg maar liewer en wens dat die lang, warm pad na Eloffsdal moet eindig ...
Haar wens word binne ’n paar minute vervul. Hulle kom oor ’n hoogte en dan lê die dorp voor hulle. Die naam Eloffsdal is met witgekalkte klippe op die oorkantste rantjie uitgespel. Louis ry stadiger toe hulle afdaal na die brug wat soos ’n voordeurmatjie vir die dorp dien. Haar blik beweeg heen en weer van die een kant van die breë teerstraat, wat duidelik die hoofstraat is, na die ander kant en sy lees op ’n motorhawe se muur: Darius Motors. Aan die ander kant lees sy Darius se Kafee en ’n entjie verder af Darius Kleinhandel. Net voordat hulle uit die teerstraat wegswenk, sien sy op die hoek Darius Hardeware.
Hulle hou voor ’n nuwe huis bo teen die rant stil waar ’n mens die hele dorp en die dal waaraan die dorp se naam ontleen is, kan sien. Nie dat dit ’n indrukwekkende uitsig is nie, beslis nie vir haar wat haar lewe lank aan die Boland en sy natuurskoon gewoond is nie. Vir haar, met Kaapstad se agtergrond, lyk dit maar na ’n klein knoetsie huisies wat al langs die hoofstraat en enigste teerpad gerangskik is totdat die straat weer aansluit by die snelweg wat na die Noorde lei.
Die groot, wit brug waaroor hulle so pas gery het, is ’n uitstaande baken van die omgewing. Sy probeer die rivier se kronkelende gang deur die ysterklipkoppies en plat aarde volg, maar verloor dit, want in hierdie wêreld, geknel deur ’n jare lange droogte, kan dit kwalik ’n rivier genoem word ... eerder ’n dorre sandsloot wat saamsmelt met die ewe dorre aarde waaraan dit grens.
’n Mens kan amper wonder waarom so ’n groot, lang brug oor so ’n smal slootjie gebou is. Sy kyk hoër, waar ’n vaal dynserigheid aarde en hemel verenig, en voel asof sy ’n oomblik ’n glimp in die ewigheid kry.
Net Bet is in die kombuis te vinde, en haar oë peul byna uit hul kasse toe sy hoor wie die vreemde vrou is wat kleinmeneer vandag hier aangebring het.
“Ai, grootmeneer gaan kwaad wees,” sê sy onomwonde, en Louis kyk haar vererg aan.
“Niemand het jou opinie gevra nie, Bet. Kyk dat sy tee kry en sorg dat ek ... ons asseblief vanaand ordentlike kos kry.”
“O, asof kleinmeneer nie altyd ordentlike kos uit Bet se kombuis kry nie!”
“Ek gaan gou af dorp toe,” sê hy aan Santie. “Bet sal toesien dat jy geholpe raak met alles.”
Santie knik net en sien hom uitstap. Ja, hoe gouer Darius van hul troue weet, hoe beter. Die huishulp se spontane opmerking het die onrus in haar verdiep.
Bet stap met haar stewige honderd kilogram voor en sê oor haar skouer: “Ek sal julle twee seker in die gastekamer met die dubbelbed moet sit.”
Santie verberg ’n glimlag. Dis duidelik dat Bet al jare hier die septer swaai. Sy volg haar die kamer in en kyk met ’n ander soort bedenking na die dubbelbed. Sy merk dat Bet na haar kyk, voel hoe sy begin rooi word en sê haastig: “Waar het kleinmeneer gewoonlik geslaap?”
“Hierso. ’n Entjie verder die gang af, die kamer met die buitedeur. Sodat hy snags wanneer hy so laat inkom nie vir grootmeneer steur nie.”
Santie se blik dwaal vinnig deur die kamer. Sy sien dat daar plek is vir nog ’n enkelbed en sê vinnig: “Ek dink ons bly net hier. As ons miskien net nog ’n enkelbed hier kan inkry ...”
Sy swyg toe sy Bet se hewige frons sien. “O, jy is van vandag se mense wat nie meer glo aan die dubbelbed nie. Laat ek nou vir jou vertel, kleinjuffrou, dis vandat die dubbelbed uit die mode geraak het dat dinge skeef begin loop het. Dis vandat mans en vroue nie meer saamslaap nie, dat hulle ook nie kan saamloop nie. Ek sê nog – as grootmeneer ’n dubbelbed in hul kamer gehad het, het daar nie moeilikheid gekom nie. Maar nee, dis mos toe mode daardie tyd ook – witgeverfde slaapkamermeubels met twee enkelbeddens. Dis tóé dat dinge skeefgeloop het.” Bet klik haar tong, skud dan maar haar skouers en vervolg: “Nie dat ek dink ’n dubbelbed gaan veel vir jou en kleinmeneer help nie. Dit gaan meer as ’n dubbelbed kos om ...”
Haar skeptiese woorde word kort afgebreek toe daar ’n beweging by die deur is, en albei vroue draai om. ’n Man staan in die deur, en dis vir niemand nodig om Sanet te vertel dat dit Darius Mocke is wat voor haar staan nie.
Dis ’n oomblik baie stil, en dis Bet wat ná ’n vinnige blik na die twee gesigte laat hoor: “Grootmeneer, die kleinmeneer het al weer ’n vreeslike ding gaan aanvang.”
“Is hy terug?”
“Ja, hy’t netnou hier aangekom met ... hierdie meisiekind, en hy sê hy het vanoggend met haar getrou en ...”
“Hy het wat?”
Santie sluk. Dis belaglik dat sy met haar mond vol tande staan en Bet moet verduidelik. Sy voel die oë op haar en haar mond gaan oop.
“Dis heeltemal reg, me ... e ... Ons is vanoggend getroud. Ek is Santie.” Sy gee ’n tree vorentoe, steek haar hand uit soos ’n goed opgevoede kind. “Aange-”
“Laat ons alleen, Bet.”
Bet gehoorsaam dadelik, en Santie doen haar bes om die bejammerende blik in haar donker oë mis te kyk. Sy laat terselfdertyd haar hand terugval na haar sy. Intuïtief trek sy haar skouers meer vierkantig.
“Ek wil net baie seker maak dat ek reg gehoor het. Is jy en my broer, Louis, getroud?”
“Ja.”
“Wanneer?”
“Van ... vanoggend.”
“Waar?”
“In die Kaap ... voor die landdros in Bell-”
“Hoe lank ken julle mekaar?”
“Vier weke.”
“Waar en by wie het julle mekaar ontmoet?”
“Ons het mekaar ... mekaar op die strand leer ken. Ek ... ek het oor ... oor sy voete gestruikel ...” Dit klink vreeslik!
“En toe ken julle mekaar goed genoeg om te trou. Jy vind toe in vier weke alles uit wat nodig is – dat Louis Mocke glad nie ’n slegte finansiële vangs sal wees nie en ...”
“Dis nie waar nie!” Die protes kom spontaan oor haar lippe, maar die mond voor haar smaal.
“Moet my net nie probeer wysmaak jy weet nie dat hy, sodra hy trou, sy erfenis ontvang nie, en moet my net nie probeer vertel dat jy ...”
“Ek is nie van plan om jou enigiets te vertel of te probeer wysmaak nie,” hoor sy haarself tot haar eie verbasing sê. Die man self lyk verbaas oor haar bravade, en sy volg dit vinnig op solank sy nog moedig genoeg voel: “Louis is vier en twintig, sekerlik oud genoeg om self te besluit wanneer hy wil trou. Ek is jammer dat jy hierdie houding inneem, maar ons ís getroud en ...”
“Hoe oud is jy?”
“Twintig.”
“En jy het jou ouers se toestemming vir hierdie huwelik?”
“Nee, want hulle is albei dood, maar ek het my tante s’n by wie ek grootgeword het.”
“Wat is jou van?”
“My van wás Marais.”
“Wat het jy tot nou gedoen?”
“Ek was ’n tikster by ’n prokureursfirma.”
“Waar het jy gewoon?”
Sy pers haar lippe ’n oomblik saam. “By my tante in ’n skakelhuisie, want ons is arm mense.” Sy kyk uitdagend terug. “Maar my tante het my grootgemaak met die idee dat ’n mens jou nie hoef te skaam omdat jy arm is nie. Die feit dat ek met ’n ryk erfgenaam getrou het, is vir my nuus, of jy dit wil glo of nie. Dít was nie my rede hoekom ek met jou broer getrou het nie. Ek het hom ...”
“Spaar my dit, asseblief. Ek het nie tyd vir sentimentele twak nie. Die stukkie nuus wat ek jou netnou vertel het, is maar ’n gedeelte van baie, dit kan ek jou verseker. Ek het heelwat ander nuus vir jou, en dis nie so aangenaam soos die eerste brokkie nie. Jy het met ’n deurbringer, ’n luiaard, ’n dronklap, ’n bakleier, ’n nikswerd en ’n swakkeling gaan trou. Jy sal dit gou genoeg agterkom. As ek jou raad verskuldig is, maak dat jy hier wegkom voordat dit aand word.” Tot haar verbystering gooi hy ’n rol note voor haar op die bed neer. “Daar. Ons het ’n stasie hier. Ek sal ’n motor stuur om jou te kom haal.”
Hy draai in sy spore om en stap weg.
Sy gaan bewend op die bed sit, haar oë vasgenael op die rol note. Sy kan nie glo dat dit gebeur, regtig gebeur het nie! Dit kan nie wees dat sy summier weggejaag is nie! Dit kan nie wees dat hy die waarheid gepraat het nie!
Dis nie soos sy Louis leer ken het nie! Tog ... Bet het ook netnou dinge gesuggereer ... Maar Bet is duidelik ’n bewonderaar van grootmeneer.
’n Skinkbord verskyn in haar gesigsveld, en sy kyk onwillig op, skaam om in die huishulp se oë te kyk. Maar sy kyk op, sien die verwagte simpatie in Bet se oë, en sy voel haar hart krimp.
“Ai, kleinjuffrou, jy moes nooit hierdie perd opgesaal het nie. Dis ’n wilde perd wat jou gaan afgooi, en jy gaan seerkry. Hierdie kleinmeneer ... hy is nie mak nie ...”
Sy kyk die ou mens byna desperaat aan. “Maar ons is klaar getroud, Bet! Ek kan mos nie sommer nou net loop ... soos grootmeneer sê nie!”
“Ek het gedink hy sou dit sê. Ja, ek weet nou nie ... Getroud is getroud. Maar liewer nou loop as later. Kom drink maar jou teetjies. Ou Bet sien sommer ou Bet sal nog baie teetjies vir jou moet aandra. Ai tog! Ai tog!”
Toe Bet al tongklappend terug kombuis toe is, sit Santie steeds radeloos. As Louis net wou huis toe kom ... Waar is hy? Hy het voorgegee hy gaan sy broer oor hul huwelik inlig, maar blykbaar het hy nie. Sy ruk haar reg. Sy durf nie toelaat dat daar agterdog in haar hart teenoor haar man gesaai word nie. Hy is natuurlik dorp toe met daardie doel, maar hy en Darius moes mekaar misgeloop het. Louis is nie wat sy broer hom van beskuldig nie. Sy glo dit nie!
Van die eerste oomblik dat hulle ontmoet het, was hy wonderlik. Sy onthou hul ontmoeting. Tot op daardie oomblik was haar lewe redelik saai en eentonig. Sy het nie gejok toe sy gesê het sy was ’n tikster by ’n prokureursfirma nie. Maar dit was ’n jaar gelede. Toe val tant Alie en breek haar heup en word ’n invalide. Sy moes haar werk bedank om na haar voog tuis om te sien. Hulle het hul bes gedoen om haar by ’n ouetehuis in te kry, maar daar was ellelange waglyste by elke plek waar hulle aangeklop het. Tant Alie is nie regtig só arm nie, maar die ou tante was nog altyd baie versigtig met geld, wetende dat sy na haarself moet omsien. En dan was daar Santie en dié se toekoms waaraan gedink moes word. In vergelyking met die Mockes, of dan Darius Mocke, sal die Marais’s van die skakelhuisie seker as finansieel ondergemiddeld beskou kan word. Maar daar was genoeg sodat Santie die afgelope jaar na haar tante kon omsien en haar tuis verpleeg, totdat sy sowat twee maande gelede eindelik plek in ’n ouetehuis gekry het.
Santie was besig met ’n welverdiende vakansie voordat sy weer aansoek om werk sou doen toe sy daardie dag op die strand oor Louis Mocke se voete gestruikel het. Sy het juis diep ingedagte geloop en dink aan die jaar wat verby is. Sy is baie lief vir tant Alie en sou enigiets vir haar doen, maar haar lewe was die afgelope jaar in ’n baie klein sirkeltjie vasgevang. Omdat sy nooit wou uitgaan en tant Alie alleen laat nie, het sy haar vriende verloor. Later was dit net sy en haar tante en die eentonige roetine van elke dag. Maar skielik was sy weer vry om jonk te wees en met haar lewe voort te gaan ... en toe struikel sy.
Sy het verleë om verskoning gevra, toegelaat dat hy haar ophelp en toe het hy vir haar ’n roomys gekoop by die roomyskarretjie wat verbygekom het en haar vertel dat roomys baie goed is vir skok! Die eerste keer in ’n lang tyd het sy haar weer in vrolike, jong geselskap bevind, en sy het spontaan gereageer, soos ’n blom wat lank dors gely en skielik weer water geproe het.
Dáár het dit begin. Natuurlik het hy gevra wie sy is en hoeveel kêrels sy het, en laggend en onbekommerd het sy hom alles vertel. En natuurlik het hy haar daardie aand uitgeneem ... was sy die eerste keer in ’n lange jaar weer uit, ook nie sommer net na ’n padkafee toe nie. Nee. Sy het soos ’n prinses gevoel in daardie duur eetplek en soos ’n koningin toe sy saam met hom oor die dansvloer gesweef het.
Van toe af was hulle elke dag saam – en elke aand. Elke dag het sy haar voorgeneem dat sy daardie dag aansoek om werk sou doen ... en daardie dag het nes die voriges onbenut verbygegaan. Drie dae gelede het sy die oggend baie ernstig vir hom gesê dat sy hom daardie dag nie wou sien nie, want sy wou die prokureursfirma waar sy tevore gewerk het, besoek en hoor of hulle haar nie weer sou terugneem nie.
“Hoekom wil jy werk soek? Jy het mos werk,” het hy gesê.
“Wat bedoel jy? Jy weet mos ek het nie ...”
“As my vrou sal jy baie werk hê, glo my.”
Sy het hom vraend aangekyk. “Jy bedoel ...”
“Ja. Ek sal die een of ander tyd moet teruggaan. Daardie ouboet van my kan seker nou al slange vang omdat ek so lank kuier. Maar dis jóú skuld. As ek jou nie ontmoet het nie, sou ek seker al terug gewees het. Maar ek is lus en vat jou saam met my. Nou toe, juffrou Marais, wat sê jy? Wil jy saam met my gaan as my vrou, of wil jy liewer in die prokureur se kantoor gaan werk?”
Haar hart het vinniger geklop. Natuurlik het sy geweet hierdie wonderlike dae kon nie vir ewig aanhou nie. Louis sou die een of ander tyd weer moes weggaan, en sy sou alleen moes agterbly ...
Tant Alie was bekommerd oor die skielikheid van alles en oor die feit dat Santie so ver van haar af sou weggaan, maar Louis het haar verseker dat Eloffsdal ook ’n ouetehuis het en dat hy dit sal regkry om haar sommer gou daarheen oorgeplaas te laat kry. Met hierdie belofte het hy toestemming gekry om met Santie te trou en haar weg te neem.
Maar hier sit sy nou met ’n bondel note en ’n wagtende motor daar buite om haar stasie toe te neem sodat sy kan teruggaan van waar sy gekom het ...
Bet verskyn grootoog in die deur. “Die man hier buite sê hy moet jou stasie toe kom vat. Grootmeneer het so gesê.”
Sy kyk op, sê met oënskynlike beslistheid en selfversekerdheid wat sy geensins voel nie: “Dankie, Bet, maar gaan sê maar vir die man dit sal nie nodig wees nie.”
“Jy gaan nie weg nie?”
Sy pers haar lippe saam. “Nee. Ek bly.”
Sy volg Bet die gang af, draai regs af by die voorportaal na wat vir haar deur die oop deur soos ’n studeerkamer lyk. Sy stap na die lessenaar, neem ’n koevert uit ’n rakkie, sit die rol note ongetel daarin, plak dit toe en skryf daarop: Jammer, meneer Mocke, maar daar is dinge wat selfs nie eens met geld ongedaan gemaak kan word nie. Een daarvan is my huwelik.
Die res van die dag is dit ’n gewoel en gewerskaf in die groot huis teen die heuweltjie. Bet laat haar maar die omwenteling in haar huishouding, soos sy dit duidelik beskou, welgeval. Dit sal tog maar net vir ’n rukkie wees, is haar oorwoë mening.
’n Enkelbed vanuit ’n ander gastekamer word in Louis se kamer ingedra. Daarna begin sy uitpak, nadat plek in die ingeboude kas gemaak is vir haar paar goedjies. ’n Bruid het seker nog nooit só ’n skamele uitset gehad nie, dink sy meewarig terwyl sy in ’n beknopte ruimtetjie langs Louis se klomp klere haar paar rokkies ophang. Sy het egter so min klere nodig gehad in die tyd toe sy tant Alie opgepas het, en hoewel tant Alie haar ’n klompie geld in die hand gestop het sodat sy vir haar die nodige kon koop vir haar huwelik, het sy dit liewer gespaar en net ’n mooi rok gekoop om in te trou.
Sy probeer haar eie gedagtes ontwyk, maar sy weet: diep in haar hart was dit nie haar spaarsin wat haar gedryf het om nie alles te bestee nie. ’n Mens kan geld dringend nodig kry, en dan moet sy ’n paar rand hê ... Sy bedwing haar gedagtes. Sy is maar vanoggend getroud en behoort haar te skaam dat sy reeds voorsorg tref vir ’n dag wanneer sy hiervandaan sal moet padgee. Dis nou ’n manier om ’n huwelik te begin, betig sy haarself streng. Dis al Bet se donker voorspellings, en natuurlik ook die kwade saad wat Louis se broer gesaai het. Sy durf nie toelaat dat sy deur hulle beïnvloed word nie. Sy en Louis staan aan die begin van hul huwelik en ’n huwelik, is sy geleer, is iets wat hou tot die dood. Haar kennetjie druk vorentoe. Dit sal sy aan Bet en haar grootmeneer bewys.
Sy frons liggies. Louis het nooit veel oor sy broer te vertel gehad nie, maar van Bet se praatjies kon sy aflei dat Darius Mocke eens getroud was en dat sy huwelik misluk het. Is dit waarom hy nie aan “sentimentele twak” glo nie? En is dít wat hom so ’n streng, ongenaakbare houding teenoor die lewe en sy medemens, selfs sy eie bloedbroer, laat inneem? Is ontnugtering en verbittering die oorsaak dat hy so skepties na die lewe en sy broer se huwelik kyk?
As dit die geval is, moet sy Darius Mocke bejammer en het sy geen rede om hom te vrees nie. Dan, te meer, moet sy aan hom bewys dat ’n huwelik kán slaag.
Toe die kamer eindelik na haar sin is, stap sy uit en gaan pluk ’n paar rose. Dit laat die kamer soveel geselliger en huisliker vertoon. Dan neem sy nog ’n potjie en rangskik ’n paar roosknoppe daarin vir die lessenaar in die studeerkamer, en sy wonder watter jaar laas hier blomme in die huis was.
Bet vertel haar dat die mansmense nooit middae huis toe kom vir ete nie, maar dat hulle saans hul hoofmaaltyd geniet. Dis gewoonlik ook maar net die grootbaas van die huis wat aan tafel sit. Louis, lei Santie af, is selde saans tuis. En ook begryplik, dink sy. Hy is ’n jong mens, en hy sal aangenamer geselskap gaan soek as dié van sy broer wat blykbaar altyd krities teenoor hom staan.
Sy besef sy sal Bet baie taktvol moet benader. Sy swaai nou al so lank die septer hier en sal seker nie genoeë neem met die inmengery van ’n vreemde vrou nie.
“Gee jy om as ek ’n nagereggie vir vanaand se ete maak? Dis een waarvan kleinmeneer baie hou,” sê sy.
Bet frons. “Grootmeneer eet nooit poeding nie ...”
Santie besef sy sal haar man nou moet staan. Sy bevind haar in ’n moeilike situasie. Dit is Darius se huis, en Bet is Darius se huishoudster. Maar sy is nou deel van hierdie huishouding, en Bet sal maar net aan haar ook ’n hoekie moet afstaan.
“Ek wil dit vir kleinmeneer maak. Ek weet hy eet dit graag.”
Bet skud haar skouers. Laat die kleinjuffrou maar aangaan. Sy sal sien haar moeites is tevergeefs. As sy darem dink ’n trouring verander ’n man oornag, is daar nog baie vir haar om te leer. Nietemin, ’n nagereggie sal nie sleg smaak nie.
Santie ondersoek ook die res van die huis, en vind dit netjies, baie goed gemeubileer, maar styf en koud. Sy sou graag op ’n paar plekke die meubels wou verskuif en veranderings aanbring wat dit baie huisliker en warmer sal laat lyk, maar laat dit liewer daar. Sy is met Louis getroud, nie met Darius nie.
Dan gaan stap sy deur die tuin. Daar is oorwegend roosbome en struike. In hierdie harde wêreld van droogte, waterskaarste en ’n skroeiende son is ’n fyntuin seker moeilik om in stand te hou. Sy laat weer haar blik oor die dorp onderkant haar dwaal. Louis bly lank weg ... Hy moes natuurlik sommer onmiddellik inval toe hy sy gesig gewys het. Hy het mos lank genoeg vakansie gehou, het die ouer broer seker geredeneer.
Dit word vyfuur ... halfses ... Sy kyk opgewonde deur die venster toe sy ’n motor hoor, trek haar dadelik terug toe sy sien dis nie Louis s’n nie. Sy gaan sit opgeskeep met haarself op die een bed se kant, voel vererg dat sy nie die moed het om uit te stap en haar swaer kalm en selfversekerd te groet nie. Maar miskien moet sy hom eers kans gee dat hy by sy lessenaar kom ...
As Louis net wou kom ... Ten spyte van haar vasberadenheid om Darius Mocke nie toe te laat om haar te intimideer nie, voel sy senuagtig om alleen in sy geselskap te wees.
Sy voel die spanningsknop op die krop van haar maag. Elke oomblik verwag sy dat Bet haar sal kom roep.
Dan staan sy vinnig op. Dis nou twak. Sy is nie ’n kind nie. Sy is ’n getroude vrou.
Kop omhoog stap sy in die gang uit, reguit op die studeerkamer af. Hy sit en werk by sy lessenaar, en sy kom in die deur tot stilstand.
“Goeienaand.”
Hy kyk op, sy gesig en oë onpeilbaar. Sy sluk. Hy kan ten minste beleef wees.
“Wanneer verwag jy Louis tuis?”
“Wanneer ek hom sien.”
Sy voel haar humeur opvlam. Hy is byna openlik onbeskof teenoor haar. Sy kyk hom koel aan. “Het jy hom soveel werk gegee dat hy nie eens die eerste aand wat hy getroud is op ’n redelike tyd huis toe kan kom nie?” Dis nie wat sy wou sê nie. Sy wil ’n konfrontasie met hierdie man tot elke prys vermy. Maar sy is ook net ’n mens, en sy hele houding lok woorde uit haar mond wat sy nie bedoel om te uiter nie.
“Ek het jou man vandag nog nie met ’n oog gesien nie, mevrou Mocke; laat staan nog hom in die werk kon steek.”
Sy kyk hom openlik ongelowig aan, en hy staan stadig van agter die lessenaar op. “Wanneer, of liewer ás jy hom vanaand te sien kry, vra hom gerus. Sê vir Bet sy moet opskep.”