Читать книгу Verworpe silwer - Ena Murray - Страница 4

Оглавление

2

Santie kyk hom ontsteld aan. Behalwe die nagereg wat sy gemaak het, het sy moeite met die tafel gedoen, en dit sien heel feestelik daar uit. Bet het die spulletjie uit die kombuisdeur staan en beskou, maar wonder bo wonder niks gesê nie. Ná ’n bietjie rondsoek het Santie ’n mooi kanttafeldoek in die buffet se laai gekry. Sy het, in ’n vlaag van dapperheid, van die beste borde uitgehaal en ook die silwerkandelaar van die buffet afgehaal en in die middel van die tafel gesit. Sy het die servette in ’n mooi patroontjie gevou, die messegoed blink gepoleer en ’n lang, smal bak met ’n lae roosrangskikking aan die een kant neergesit. Toe het sy van die fyn langsteelglase afgehaal en een by elke gedekte plek neergesit. Dis háár huweliksmaal, en sy gaan nie deur ’n knorrige man daaruit verkul word nie.

“Wag ons nie vir Louis nie?”

“Jý kan as jy wil, maar ek hou nie van koue kos nie, en ek hou nie daarvan om ná middernag te eet nie.”

Sy kan haar nie meer bedwing nie. “O, jy is ... gemeen, Darius Mocke! Ek is siek en sat vir al jou suggesties! Ek wag vir my man.”

Hy draai by die deur terug. “Ek suggereer niks nie. Ek het vanoggend bloot feite gestel. Ek noem nou weer ’n feit. Jy kan van geluk spreek as jy voor twaalfuur vannag kan eet ... ás daar ooit geëet gaan word. Ek raai jou aan om saam met my te kom eet as jy kos wil hê.”

“Nee dankie, ek ...”

“Het jy al vandag geëet?”

“Nee, maar ...” Vanoggend was sy te opgewonde om te eet. Vanmiddag het sy net ’n koppie tee gedrink ... en sy voel skielik baie honger. Bet se braaiboud met gebakte aartappeltjies het al vroeg vanmiddag haar eetlus begin aanwakker. Sy het nog nooit ’n hele skaapboud so heerlik bruingebraai in ’n ysterpot gesien nie, laat staan nog geproe. Maar ...

’n Hand tussen haar blaaie stoot haar die gang in. “Hou op kinderagtig wees en laat ons gaan eet.”

“Maar Louis ...”

“En ék is siek en sat van die ge-Louis-Louis!” val hy haar snedig in die rede. “Jou Louis dink nie nou aan kos nie. Hy is besig om sy troue saam met sy maters in die hotel se kroeg te vier. Hy sal miskien eers wanneer die kroeg vanaand toemaak, onthou daar is ’n vrou ook in die huweliksprentjie.”

“Dis nie ... Jy jok! Louis sal nie ...”

“Sy motor staan al van vroeg vanmiddag af voor die hotel geparkeer.”

Sy kyk hom met groot oë aan. “Dit kan nie wees nie!”

“Daar is baie dinge wat nie kan of behoort te wees nie maar wat tog so is, mevrou Mocke. Dit is een van hulle dié en jy ... Waarheen gaan jy?”

Sy kyk hom woedend aan, so kwaad soos sy nog nooit in haar lewe was nie. Hoe oud dink hy is sy? Om haar te wil kom wysmaak dat Louis op hul eerste huweliksaand met sy maters sit en fuif in ’n hotelkroeg!

“Ek gaan hotel toe ...”

“Moenie belaglik wees nie!”

“Hoekom nie? Jy sê dan Louis sit in die kroeg en drink. Of is jy dalk bang ek sal agterkom dis ’n spul infame leuens? Jy ...”

“Jy kom eet. Jy gaan nêrens heen nie.”

“Verskoon my, maar jy het die kat aan die stert beet, swaer. Ek is met Louis getroud, nie met jou nie, en daarom het ek nie nodig om bevele ...”

“Staak dit!” Bet laat amper die stomende kastrol in die kombuis val. Hier begin dit! Sy’t mos gesê die duiwel gaan van nou af hier los wees! “Jy gaan nie hotel toe nie, om die eenvoudige rede dat dit ’n klein dorpie is en dat die hele storie môreoggend vóór sonop in elke huis smaaklik opgedis sal word met hoeveel duisend stertjies en aanhangsels daarby. Eloffsdal het al meer as genoeg hul monde uit te spoel gehad oor die Mockes.” Sy oë pen haar teen die vloer vas. “Dit was jóú keuse om te bly. Nou moet jy maar die gevolge daarvan dra. Bet! Is die kos op die tafel?”

“Ja, my grootmeneer.”

“Kom.” Hy kyk haar weer stip aan, en sy stem klink dreigend: “En moenie dat ek jou tafel toe moet dra nie!”

Sy stap soos iemand wat ’n sinverdowende hou oor die kop gekry het voor hom uit, trek ’n stoel uit en gaan sit, kyk strak voor haar op die tafel, maar sien niks van al die mooi dinge raak nie.

Hy bly ’n oomblik huiwer in die deur, sien alles met een oogopslag raak ... en agter die stywe ruggie vertrek sy mond ’n oomblik in ’n wrede grynslag. Daar is iets ironies in sy oë toe hy na ’n ingeboude hoekkas stap en ’n bottel wyn uithaal en oopmaak. Deur dowwe oë sien sy sy hand, sien sy hoe hy die glase vul. Dan sien sy sy hand ’n vuurhoutjie trek, flikker die vyf kerse in die silwerkandelaar die een ná die ander voor haar aan. Die skerp, elektriese lig word uitgedoof ... en die silwereetgerei skitter in die dowwe lig, wat tog nie flou genoeg is om die blink streep op haar wang te verberg nie.

Desperaat klou sy vas aan haar selfrespek. Sy sal nie huil nie! Sy sal hierdie man nie wys hoe ontsteld en seergemaak sy regtig is nie! Sy kyk stip voor haar, maar daardie hand verskyn weer voor haar en die flikkerende kersvlamme. ’n Bord met ’n heerlike, fyn gekerfde stuk braaiboud en twee bakaartappeltjies word voor haar neergesit. Dan kom die hand weer, skep dit eiegeregtig van die bykosse in sodat haar bord goed gevul is toe hy klaar is. Selfs haar kleinbordjie word met slaai gevul. Dan is die hand weer daar, hou dit hierdie keer sy glas na hare uit en sy hoor hom sê: “Ek weet ek is ’n baie swak plaasvervanger ... maar ek is beter as niks. Laat ons drink op ... die toekoms ... wat dit ook al mag inhou.”

Die hand met die glas bly in haar gesigsveld totdat sy eindelik haar hand uitsteek en haar eie glas neem. Hul glase raak teen mekaar, en sy kyk op, en bo-oor die rand ontmoet hul oë. Hulle begin in stilte eet. Hoewel sy aanvanklik swaar sluk, begin dit al makliker gaan, en die glas wyn help om die ergste spanning in haar te verlig. Toe hy skielik normaal en baie doodgewoon begin gesels, voel sy die spanning nog verder afneem.

“Is dit die eerste keer dat jy in hierdie geweste kom?”

“Ja. Ek was nog nooit verder as Kaapstad nie,” erken sy met kinderlike eerlikheid.

“Dis jammer dat jou eerste indruk so swak moet wees. As hierdie wêreld sy reën op die regte tyd kry, lyk dit amper soos ’n tweede Namakwaland in blommetyd. Dis veral die verskillende kleure vygies wat dan kleur verskaf. Nou sien jy hom op sy swakste. Ons het baie lanklaas reën gehad.”

“So het ek opgemerk. Ek het my verstom oor die groot brug wat julle hier oor so ’n smal slootjie het.”

“Jy sal jou verbaas hoe lyk daardie selfde slootjie wanneer ons ons bekende donderstorms kry. Dan loop die ou droë slootjie maklik die volle breedte van die brug.”

“Ek kan dit kwalik glo.”

“Dis nietemin waar. En gewoonlik gebeur dit veral nadat die reën so lank weggebly het. Dan kom dit weer asof die hemele wil oopskeur. Jy sal dit nog sien gebeur. Die een of ander tyd moet dit weer reën.”

So tussen die gesels deur word nie net die borde leeg nie, maar hoor Darius Mocke alles wat hy wil hoor van die vrou wat sy broer so skielik hier aangebring het en lees hy meer tussen die reëls as wat sy vermoed.

Toe Bet die borde wegneem en ’n bak nagereg voor Santie neersit, gaan die baas van die huis se wenkbroue verbaas omhoog. “Dit was ’n lekker ete, dankie, Bet. Jy het jouself oortref vanaand. En tot nagereg ook. Ek het nie eens geweet jy kan nagereg maak nie.”

“Dis nie ek nie, grootmeneer. Dis die kleinjuffrou.”

Santie voel verleë onder sy blik en sê vinnig: “Jy hoef nie te eet nie. Bet sê jy eet nie poeding nie.”

“Beslis eet ek poeding wanneer ek kry, maar ek kry nooit nie. Skep gerus in, dankie.”

Toe hy sy bakkie vir nog ’n skeppie uithou, voel sy haar hart warm word. Hy is ten minste mens genoeg dat sy dit miskien sal regkry om sy hart in die toekoms met nagereg sag te maak! Maar sy moet erken – hy was eintlik baie gaaf gedurende die ete.

“Sal jy koffie drink?”

“Dankie, ja. Ek sal vir ons ’n likeurtjie daarby skink, en dan gaan geniet ons dit op die stoep.” Hy glimlag skeef – die eerste glimlag wat sy by hom sien. “Ja, ons weet van sulke dinge hier op Eloffsdal. Ons is darem nie heeltemal agterlik nie!”

Sy lag en besef nie dis haar eerste lag sedert sy haar voete op Eloffsdal gesit het nie. “Dis die stadsjapie wat agterlik is. Ek ken nie sulke goed soos likeur saam met koffie nie.”

“Dan is dit my voorreg om die eerste een vir jou te skink en jou te vertel hoe ’n mens ’n likeur reg drink. Ek neem dit solank stoep toe.”

“Ek bring nóú die koffie.”

Dis ’n lieflike aand, en hier bo teen die rantjie roer ’n luggie wat welkome lafenis bring. Die liggies van Eloffsdal skyn aan hul voete, maar daar is geen rumoer soos sy in die stad gewoond is nie. Dis ’n natuurstilte met net ’n gesellige kriekie hier iewers naby in die tuin, en hulle geniet hul koffie en likeur in stilte. Maar nou is die stilte nie gespanne en vol onderstrominge nie. Dis soos ’n salwende balsem op gemoedere wat onstuimig was.

Skuins voor hulle sien sy die flikkerende lig van die dorp se enigste hotel, maar sy swaai haar blik vinnig weg, kyk liewer na die skemerende vlaktes anderkant die wit brug: ’n oop, wye, kaal wêreld wat vir die vreemdeling lelik is, maar in hierdie aandskemering ’n misterieuse skoonheid uitstraal.

Dis ’n rukkie later dat hy die stilte verbreek, en selfs sy stem is gedemp asof hy teësinnig is om die stilte te versteur.

“Ek dink jy moet nou gaan bad en gaan rus. Dit was ’n lang dag vir jou.”

Sy weet dis goeie raad. Dit was ’n lang dag. Daar is nie sin in om langer hier op die stoep te sit en wag nie.

Tog voel dit vir haar sy moet hierdie oomblikke van stilte so lank moontlik uitrek ... want hulle gaan skaars wees ... Sy staan gehoorsaam op, begin die koppies inmekaar skuif. Hy is ook op sy voete, neem die likeurglasies en sit dit op die skinkbord.

“Ek sal dit inneem. Santie ...”

In die skemerlig kyk sy weerloos na hom op. Sy stem is weer gedemp, afsydiger as netnou. “Belowe my een ding. Jy sal jou nie laat ompraat om in die hotel te gaan bly nie. Julle bly hier.”

Sy sluk swaar. “Maar as dit ... ontwrigting vir jou gaan bring ...”

“Dit sal nie. Ek is al te oud en gesout daarteen. Dit is die enigste plek op Eloffsdal waar jy kan bly.” Sy hande vou skielik om haar skouerknoppe. Sy stemtoon het verdiep. “Ek is jammer ek moes instaan vir my broer, maar ... dit was ’n aangename aand vir my. Dankie.” Hy buk onverwags af, en sy voel sy lippe ’n oomblik teen haar voorkop druk. “Goeienag. En as jy my nodig mag kry ... My kamer is die tweede deur regs in die gang af.”

Met oop oë lê Santie ’n ruk later in die donker en luister. Dis ’n byna geluidlose Karoonag. Dis baie stil ... en baie donker.

Hy het vroeër in die aand gesê hy is beter as niks nie. Hoe dankbaar is sy dat hy vanaand hier was, dat sy nie alleen in die vreemde op haar man moes sit en wag nie. En terwyl sy roerloos lê en wag dat haar man op hul eerste huweliksnag moet huis toe kom, is dit ’n troosvolle wete dat sy nie alleen in hierdie groot, donker huis is nie. ’n Entjie verder af in die gang is daar nog iemand wat saam met haar in die donker asemhaal, iemand op wie sy haar kan beroep as ... as dit nodig is ...

Maar sy begaan ’n fout as sy dink dat Darius Mocke gaan slaap het. Toe ’n motor se ligte eindelik vanuit die dorp die rantjie opstraal, tree hy uit die donkerte.

Toe die motor stilhou, gryp ’n vuis die wit trouhemp van Louis voor die bors in ’n bondel vas en word hy so te sê uit die motor gesleep. Die vuishou tref hom teen die ken en laat hom agteruitsteier, sodat hy na die motor moet gryp om sy balans te behou.

“Ek weet nie of jy ’n vuishou werd is en of ek liewer op jou moet spuug nie.”

“Stadig nou, ouboet. Dis nie regtig só erg nie.”

Santie ruk haar asem in waar sy by die venster staan. Sy het ook die motor gehoor, wou net uitgaan toe sy die twee broers gewaar en sien hoe een se vuis deur die lug swaai. In die lig van die stoeplig kan sy sien hoe die ouer broer oor die jongere troon ... en haar hart begin pyn. Die Louis met wie sy vanoggend getrou het, herken sy skaars. Sy baadjie is los en sy das is af. Sy hare is effens deurmekaar en hy lyk vreemd.

En hy sê dis nie só erg nie ... Dis nie só erg as ’n man sy bruid op hul eerste huweliksaand alleen laat en liewer saam met sy maats gaan fuif nie. Nee, dis nie só erg as die bruidegom half dronk by sy bruid aankom nadat hy haar die hele dag alleen gelaat het nie ...

“Jy weet tog hoe gaan dit, Darius. Die nuus is soos ’n veldbrand deur die dorp, en Jan en Awie-hulle het dit te hore gekom. Dit kon nie hoër of laer nie, ek moes eers ’n ietsie saam met hulle gaan drink ...”

“ ’n Ietsie van vyfuur vanmiddag af tot amper middernag? En die res van die dag het jy jou lyf skaars gehou sodat jou vrou eers die ergste van jou moes afweer. Ek moes van ’n wildvreemde vrou hoor dat my broer vanoggend getroud is. Jy is en bly ’n papperd, en nou skuil jy nog agter ’n skone kind se rokke. Maar ek sal jou daaragter uithaal, my boetie. Jy dink jy is grootman genoeg om te gaan trou het. Van môre af sal jy jou soos een gedra, of ek breek jou nek, verstaan jy?”

“Jy moenie dink jy bluf my nie, Darius. Jy skop ’n vreeslike bohaai op om die aandag af te trek van die eintlike ding. Dis reg. Van môre af sal ons mekaar begin verstaan en sakies in die reine bring. Tot dusver moes ek mos soos een van jou werknemers met ’n simpel salarissie deurkom en van jou bevele ontvang. Maar van môre af is ons gelykes, my ouboet. Van môre af is ek net soveel baas soos jy ... en ek wil my deel hê ... in harde kontant, verstaan jy?”

“Ek ken die bepalings van die testament beter as jy. Ons kan môre verder oor besigheid gesels. Maar vanaand, sê ek vir jou, gesels ons oor die feit dat jy nou ’n getroude man is met ’n vrou teenoor wie jy ’n verantwoordelikheid het.”

“Los jy my vrou uit. Ek sal self vir haar sorg.”

“Soos vandag? Haar heeldag en die helfte van die nag alleen laat en dan dronk by die huis kom? Is dít hoe jy in die toekoms vir jou vrou gaan sorg?”

“Ek is nie dronk nie, en ek het reeds erken dinge het ’n bietjie hand uitgeruk, maar na die duiwel met jou, man! Wie is jy om vir my te kom sê hoe ek my vrou moet behandel? Wat het van joune geword? Waar is ...?”

“Staak dit!” Haar stem klink vreemd streng op, en albei mans swaai om. Sy staan daar in haar nagklere voor hulle, en weer sê die stemmetjie bedaard maar onteenseglik beslis: “Dis genoeg. Dis ná middernag. Kom, Louis.”

Dis doodstil in die kamer solank Louis uittrek en gereed maak vir die nag. Sy lê doodstil in haar bed, staar na niks. Dan buk hy oor haar en sy draai haar gesig werktuiglik weg van sy asem. Hy kom vinnig orent, en sy hoor hom vloek.

“Aag, nou gaan jý dan ook na die duiwel. ’n Mens sou sweer ek het ’n moord gepleeg.”

Hy klim in sy bed, die lig gaan dood, en byna dadelik hoor sy hoe hy liggies begin snork.

Sy draai op haar sy, haar rug na hom en staar met droë oë in die nag. Nee, nie ’n moord in die gewone sin van die woord nie. Maar daar is baie soorte moorde wat ’n mens kan pleeg sonder om direk iemand se lewe te neem. Soos wanneer jy iemand se ideale, iemand se vertroue, iemand se geloof vermoor ...

Dis baie vroeg die volgende oggend, toe die oggendster nog blink aan die oop hemel hang, dat die laken van haar afgetrek word. Sy word uit ’n onrustige slaap gewek, hoor haar naam op sy lippe. Haar arms gaan spontaan om hom en dan onthou sy ... Sy verstyf instinktief, maar die man kom dit blykbaar nie agter nie. Sy wil hom eers wegdruk, maar sy drif en krag is groter as hare, en teen die end aanvaar sy die onvermydelike met ’n dooie gelatenheid. Sy het haar dit so heeltemal anders voorgestel ... so heeltemal anders ... Soos so baie van haar genote, word Santie in een nag ’n vrou ... ’n ontnugterde vrou. Verby is die jongmeisiedae met die ideale en drome. Toe hy haar eindelik alleen laat, is sy ’n vrou wat met strak oë na die realiteite van die lewe kyk.

Haar blik is ontwykend toe hy weer die kamer binnekom van die badkamer af.

“Jy kan maar nog ’n bietjie bly lê. Dis nie nodig dat jy soggens saam met my moet opstaan nie. Bet sorg vir ontbyt.”

Sy wil sê sy is gewoond vroeg opstaan, maar sy gryp na hierdie vergunning. Sy sien nie kans om vanoggend aan tafel te verskyn nie ... Sy kan Darius Mocke nie vanoggend in die oë kyk nie. Dit voel vir haar asof alles wat daar te wete is oor die veelbewoë nag oor haar geskryf staan ... en Darius se skerp oë sal alles raaksien.

Sy klim terug in die bed. “Dankie. Ek dink ek gaan nog so ’n bietjie lê.”

Sy hand is skielik onder haar ken; sy word verplig om in sy oë op te kyk ... en skielik lyk hy weer soos die Louis wat sy geken het.

“Luister, Santie, ek is jammer oor gisteraand. Dit was verkeerd van my. Ek moes nie dat Jan-hulle my omgepraat het nie. Wel, ek ... ek is jammer. Alles nou weer reg?”

Wat kan sy anders doen as knik, wat anders as om met bewende lippe sy soen te ontvang? Wat anders kan ’n vrou doen as om ná erkenning van skuld te vergewe ... tot die volgende keer?

Sy val terug teen die kussing toe die kamerdeur agter hom toegaan, knyp haar oë styf toe om die trane terug te pers wat eers in hierdie oggend ná ’n lang nag te voorskyn kom en kreun saggies soos ’n dier wat gewond is. Sy stuit die snikke met haar gebalde vuis teen haar lippe en roep woordeloos: Ag, liewe Heer, help my! Help ons!

In die dae wat volg, lyk dit egter asof Louis se swak gedrag van daardie eerste dag ’n geïsoleerde geval was. In alle eerlikheid moet Santie erken dat hy van sy kant sy bes doen om te vergoed daarvoor, en as daar iets haper aan die jonggetroudes se verhouding, moet sy ook in alle eerlikheid erken dat dit van haar kant af kom.

Sy verag haarself dat sy nie meer met die ou vertroue na hom kan opsien nie en dat sy daardie eerste dag en nag se gebeure nie heeltemal uit haar geheue kan verdryf nie. Sy durf nie toelaat dat een misstap tussen haar en haar man staan en ’n wig tussen hulle indryf nie. Sy doen haar bes om te vergeet wat verby is en slaag blykbaar goed genoeg daarin, want Louis toon geen teken dat daar iets met hul huwelik skort nie.

As die verhouding tussen die jonggetroudes oënskynlik heeltemal herstel is, is dit beslis nie die geval met dié tussen die twee broers nie. Dit verswak verder by die dag, in so ’n mate dat Louis, veertien dae nadat Santie op Eloffsdal aangekom het, met die voorstel kom dat hulle liewer na die hotel moet trek.

“Ek is nie van plan om op Eloffsdal te bly nie. Sodra ek my erfenis gekry het, gaan ons skoert. Ek is siek vir hierdie kleindorpie-mentaliteit. Ons sal dus net tydelik in die hotel wees.”

Santie voel iets in haar styftrek. Daardie eerste aand flits voor haar verby. Sy kan dit nie help nie. Sy het sedert daardie aand ’n intuïtiewe weersin in Eloffsdal se enigste hotel, en nou wil Louis ’n onbepaalde tyd daar gaan woon. Sy onthou ook dat Darius so iets verwag het. Hy het haar daardie eerste aand al daarteen gewaarsku. Hy het toe al verwag dat Louis met so ’n voorstel sou kom, en hier is dit nou.

Sy soek desperaat na ’n grondige rede om dit te weerstaan, terwyl sy weer eens skuldig voel. Dis nie te sê dat as hulle in die hotel woon, hy hom weer in die kroeg te buite sal gaan nie. En tog ... tog weet sy net hulle kan nie in die hotel gaan woon nie. Liewer nie ...

Louis was wonderlik die afgelope twee weke. Weliswaar was hulle selde saans tuis. Hy het haar geneem om sy vriende te ontmoet, en hoewel daar onder hulle wel diegene is van wie sy nie so baie gehou het nie, was daar ook genoeg van wie sy dadelik gehou het. En almal was baie gaaf en gasvry soos net ’n boeregemeenskap kan wees. Ook is daar drankies gedrink, maar Louis het matigheid voor oë gehou, en daar was werklik geen rede vir die onrus wat in haar hart agtergebly het nie.

Darius het nooit saam met hulle uitgegaan nie. Hy is blykbaar nie ’n baie sosiale mens nie. Mense het wel met die grootste respek van hom gepraat, het sy agtergekom, maar hy is ’n eenkantmens, soos Bet dit ’n slag gestel het. Hy verkies blykbaar om saans tuis te bly en tot laatnag aan die onderneming se boeke te werk.

Santie het soms skuldig gevoel wanneer hulle die aand laat inkom en sy hom nog oor die lessenaar gebuig sien. Louis het gepraat dat hy nou net soveel baas is as Darius, maar dit is onteenseglik so dat Darius die man is wat die leeueaandeel op sy skouers dra.

Die verhouding tussen haar en haar swaer is dié van uiterste beleefdheid teenoor mekaar. Sy kan nou kwalik glo dat hy daardie aand so amper gemoedelik met haar gesels het, haar selfs op die voorkop gesoen het.

Deesdae gesels hulle net met mekaar as dit noodsaaklik is, en dis selde meer as om aan tafel iets vir mekaar aan te gee ...

Een aand besluit sy dat sy vir hom koffie sal gaan maak voordat sy en Louis gaan slaap. Soos altyd gebruik hulle die buitedeur wanneer hulle saans inkom, maar op pad badkamer toe het sy die studeerkamerlig steeds sien brand.

Sy sit die koffie langs hom neer. Hy kyk op, sy gesig geslote. “Dankie, dit was nie nodig om moeite te doen nie.”

“Dis geen moeite nie. Jy werk saans baie laat.”

Hy sit terug, vee moeg oor sy oë. “Ja. Ek het geen keuse nie.” Hy staan op, neem sy koffie en gaan staan by die venster, kyk uit op die nagtoneel. “As dit net wil reën ...”

“Ja. Oral waar ons kom, kla die mense maar. Hulle kry swaar.”

“Ja. Almal kry swaar; die besighede ook. Die mense moet bly lewe, al reën dit nie. Hulle moet eet en drink en goed hê om mee te werk, al bly die reën weg. En jy kan nie vir ’n man nee sê omdat hy nog vir jou skuld nie, want jy weet hy sal betaal as hy het, maar hy het nie. Jy weet hy sal jou eendag betaal wanneer die reën gekom het en hy weer ’n inkomste het, maar intussen moet jy hom dra.” Hy sluk sy koffie weg, gee die koppie aan haar terug. “Dis dinge wat jou man nie verstaan nie. Dankie. Dit was lekker.”

Sy neem die koppie, kyk bekommerd na hom op. “Jy bedoel ... Louis se erfenis waarop hy aandring?”

“Ja. As ek hom nou sy deel moet uitbetaal soos hy aandring, moet ek die mense in die middel van ’n knellende droogte dagvaar. Hoe anders kan ek hom in harde kontant betaal soos hy verlang? En watter sin is daarin om mense te dagvaar wat jy weet jou nie kan betaal nie? Al wat sal gebeur, is dat mense bankrot sal raak, maar die geld sal jy nie kry nie. Ek sal van die ondernemings moet verkoop, en wie sal dit koop? Teen watter prys? Solank dit só droog is ...” Hy sug, gaan weer agter die lessenaar sit. “Jammer. Ek het nie bedoel om jou hiermee te belas nie.”

Sy frons. “Ek is bly jy het my gesê. Ek het geen idee hoe sake regtig staan nie. Ek sal met Louis praat. Daar is tog seker nie dringende haas nie. Ons moet eers wag dat dit reën ...”

“En ’n hele ruk daarna. Dit reën nie geld nie. Die boere moet eers op die been kom en dan ... Vergeet daarvan. Louis luister nooit na rede nie. Hy sal ook nie hierdie keer nie.”

Sy kyk hom ongelukkig aan. “Ek sal met hom praat. Hy sal nie onredelik wees nie.”

Daar is ’n grimmige glimlag om sy mondhoeke toe hy na haar opkyk.

“Jy dink omdat dit veertien dae goed gegaan het, dit so sal voortgaan. Moenie jouself bluf nie, Santie. Dit is net ’n verposing.”

Sy swaai vinnig om. O, sy kan hom amper haat wanneer hy só van sy broer praat! En sy haat haarself dat sy hier diep in haar hart wonder of hy nie reg is nie!

Toe sy in die kamer kom, slaap Louis reeds.

Verworpe silwer

Подняться наверх