Читать книгу Die dae van ons nietigheid - Ena Murray - Страница 4

2

Оглавление

In die maande wat volg, is dit presies wat gebeur. Willem en Lizl baklei soos kat en hond – hoe later hoe kwater.

Wat Lizl nie besef nie, is dat sy nou ’n langtermynpasiënt van dokter Willem Claassen is. Hy het daardie dag onmiddellik besef dat wantroue in haarself, in haar gesonde oordeel, in haar kennis en opleiding, ’n uitstekende dokter stadig maar seker laat verbrokkel. Dit kon hy nie toelaat nie. Dit mag nie met Lizl Landman gebeur nie. Daar was net een soort behandeling wat sou help, wat haar weer vertroue in haarself sou gee: om haar deur en deur reg te bewys.

En daar was net een manier om dit reg te kry: om van haar te verskil. Die jong dokter Willem bevind hom in ’n onbenydenswaardige posisie. Ten spyte van sy minderwaardigheidsgevoel teenoor Lizl, is hy self ’n dokter van bogemiddelde formaat. En nou moet hy dikwels van Lizl ver­skil, teen sy eie beterwete in, sodat sy reg bewys kan word. Dis geen grap nie, nog minder om hierdie rol oortuigend te speel. Natuurlik sorg hy dat hy nooit ’n pasiënt se lewe daardeur in gevaar stel nie. Hy verskil net lank en heftig genoeg van dokter Lizl om haar daarvan te oortuig dat háár diagnose die regte een is. Dan kapituleer hy gewoonlik met ’n ongeërgde optrek van die skouers en sê gedwee: “Jy is reg, dokter Lizl. Reg soos altyd. My fout.”

Wat Willem nie weet nie, is dat hy ’n bron van diepe kommer vir háár word. Feit bly, soos een van hul professore eendag in die lesingsaal uitgewys het, ’n briljante student beteken nog nie ’n briljante dokter nie. Om ’n magdom boekekennis te hê beteken nog nie sukses in die praktyk nie. Dis wanneer daardie kennis prakties toegepas moet word, dat die koring van die kaf geskei word. Dit is dus ’n ontstellende gedagte vir Lizl dat die briljante student – volgens haar eerlike mening – miskien nie in staat is om sy kennis in die praktyk toe te pas nie. Sy weet daar is dokters wat baie goed kan diagnoseer, maar dan soms sukkel om op die regte behandeling te besluit. Daar is ook die uitsonderlike geval waar ’n dokter presies weet wat om te doen as hy net eers kan vasstel wat die pasiënt makeer, maar die regte diagnose is die groot kopseer. Dit is blykbaar die geval met Willem. Sonder dat hy dit besef, begin sy hom beskerm, gee sy soms voor teenoor die personeel en dokters met wie sy saamwerk, dat die regte diagnose dokter Willem se bevinding was, nie hare nie – natuurlik nooit só dat hy dit hoor nie.

Al wat hy weet, en waarvan hy oortuig is toe hulle die einde van hul hospitaaljaar nader, is dat Lizl nie meer veel respek vir hom as medikus kan oorhê nie. Sy het hom darem te veel keer verkeerd bewys. Hoe meer hy haar vertroue in haarself herstel het, hoe meer moes hy haar respek vir hom inboet. Maar daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. As sy moet agterkom dat hy eintlik ’n rol aan die speel was – al het hy dit ook met die beste bedoelinge en uit liefde gedoen – sal sy hom nooit vergewe nie.

Sy word byna hierop betrap teen die einde van die jaar. Daar het ’n uiters moeilike geval ingekom. Willem en Lizl is toevallig albei aan diens en, soos altyd, moes hy haar tweede opinie wees.

Hy stem met haar bevinding saam, maar soos dit nou gewoonte geword het, verskil hy eers van haar. Hierdie keer is dit eintlik maklik, want die simptome is verwarrend. Lizl hou egter voet by stuk en uiteindelik moet Willem maar weer saamstem. Die volgende dag loop sy ’n senior dokter raak. “Meer ervare dokters sou maklik met hierdie geval ’n verkeerde diagnose kon maak, dokter Lizl. Knap gedaan. Baie geluk.”

Sy aarsel net ’n oomblik. “Die eer kom eintlik dokter Willem toe, dokter. Dit was sy diagnose.”

“O? Nietemin. Dra my gelukwensing dan aan hom oor.” Die gryskopman kyk haar goedig aan. “Dit gaan vir die raad baie moeilik wees om te besluit aan wie hulle die pos moet aanbied.”

Sy lewer liefs geen kommentaar nie. Dis ook iets wat ’n bron van geheime kommer geword het: die vakature wat ontstaan het vir ’n senior hospitaaldokter. Almal het reeds geweet daar is net twee kandidate. Normaalweg word so ’n pos nie aan sulke junior dokters gegee nie, maar albei jong dokters het hulle in die loop van die jaar deur en deur bewys. Een van hierdie twee gaan beslis die belangrike pos aangebied word.

Natuurlik sal dit ’n baie groot eer wees vir die een wat dit kry. Maar hoekom moet die keuse nou juis weer tussen haar en Willem lê? Kry sý die pos, gaan dit Willem vir ewig van haar verwyder. Geen man se ego sal dit seker kan sluk nie. Hy sal haar junior wees, ondergeskik aan haar. Selfs nie sy liefde sal so iets maklik kan verwerk nie. Nie dat sy meer so seker is dat daar nog ’n tikkie van die ou gevoel vir haar in hom oorgebly het nie. Gedurende hierdie hele jaar het hy nie een keer die geringste teken getoon dat hy hul verhouding wil hervat nie. Hy was nie eens een keer in haar woonstel nie! Buite die hospitaal het hy onwrikbaar ’n aparte lewe van haar bly voer.

En tog … tog het sy die gevoel dat hy nog omgee. Miskien is dit maar wensdenkery aan haar kant, omdat sy hom nog liefhet, dink Lizl mismoedig.

Aan die ander kant is sy menslik genoeg om te erken dat dit vir haar baie sal beteken as sy die gelukkige een is. Die vrou in haar hoop Willem kry dit, maar as dokter weet sy dat sy dit sekerlik verdien. Sy het baie hard gewerk. Soos altyd het sy net haar uiterste bes gelewer. Juis omdat sy geen noemenswaardige privaat lewe gehad het nie, het sy haar volkome aan haar werk gewy. Agter haar rug het die verpleegsters en van haar kollegas haar ou Ysberg genoem – min wetende dat dit vir Lizl geen geheim was nie.

Sy verstaan hoekom die verpleegsters haar so gedoop het. Sy weet sy is soms ’n bietjie streng met hulle, maar sy kan nalatigheid en laksheid net nie verdra nie. Toe sy eendag weer ’n juniortjie kwaai geroskam het, was dit Willem wat, toe die verpleegstertjie in trane padgee, met ’n droë stem en verwytende oë agter haar gekners het: “Ons is nie almal genieë nie, dokter. Jy moet dit soms onthou.”

Sy het hom met kwaai blou oë aangegluur. “Daardie woord is in hoofletters op jou brein gegraveer!”

“En perfeksionisme op joune.”

Teësinnig het sy ook wel verstaan hoekom haar kollegas so geredelik by hierdie benaming ingeval het. Sommige het hul bes gedoen om haar in hul sosiale kring ingetrek te kry, maar sonder sukses. Lizl Landman het nie in ’n sosiale lewe belanggestel nie. Wat hulle nie geweet het nie – en sy het haar ook nie probeer verdedig nie – is dat sy niks daarteen het dat ’n dokter ook soms ontspan en net ’n mens mag wees nie. Maar elke keer wanneer sy êrens heen genooi is, was sy bang sy sou Willem ook daar raakloop en dit nog saam met ’n ander meisie. Sy het nie daarvoor kans gesien nie. Dit sou net seermaak. En as Willem nie daar sou wees nie, sou daar vir haar tog geen glans aan die aand wees nie. Dus … Wanneer sy van diens af was, het sy haar teruggetrek in haar woonstelletjie en haar besig gehou met mediese leesstof en bepeinsing oor die dag se gevalle of die volgende dag se werk. Sy weet Willem het nie ’n kluisenaarsbestaan soos sy gevoer nie, maar het liewer nie probeer vasstel hoe hy sy vrye tyd verwyl nie. Liewer nie … Dis ’n geheime vrees in haar dat hy eendag iemand sal raakloop met wie hy kans sien om die pad te loop; iemand met wie hy nie in gedurige kompetisie gewikkel is nie; iemand wat hom nie minderwaardig laat voel nie.

Dat daardie dag nog nie aangebreek het nie, kom Lizl ’n week later agter.

Sy is verstom toe sy haar woonsteldeur oopmaak en dis Willem wat voor haar staan. Wat op aarde sou hom vanaand die eerste keer na haar woonstel gebring het?

Willem kyk op haar af – in een opsig was hy haar darem nog altyd voor: hy is ’n hele kop langer as sy! – en sy hartspiere trek weer saam. Die eerste keer in ’n lang tyd sien hy haar sonder doktersjas. Wat ’n pragtige vrou! En wat ’n vermorsing, voeg hy by.

Hy kan die verbasing in haar oë lees en hy kan haar nie verkwalik nie. Is hy dwaas om vanaand hier te staan? vra hy homself af. Is hy soos ’n donkie wat hom elke keer teen dieselfde klip te pletter loop? Maar ná sy gespek met dokter Luddick vanoggend het die ou drome weer tekens van herlewing begin toon, al sterker geword in die loop van die dag totdat sy voete hom vanaand na haar woonsteldeur gedra het ten spyte van sy gesonde verstand se waarskuwings.

Toe dokter Luddick hom ontbied, het hy geweet dit kan net in verband met die vakante pos wees. Hy het hom gelate by sy senior se kantoor aangemeld. Hy het selfs geglimlag, hoewel ietwat grimmig. Natuurlik sal dokter Luddick hom nou sê dat dokter Lizl Landman eerste keuse was, maar dat hy darem ook ’n baie sterk kans gehad het. Trouens, hy en Lizl het kop aan kop geloop, maar op die end het die keuse tog op haar geval. Hy was net ’n kort kop agter haar … soos gewoonlik. Maar dat hy hoop – dis nou dokter Luddick – dat hy, Willem Claassen, volgende jaar sal aanbly.

Maar dis glad nie wat gebeur het nie. Dokter Luddick het met uitgestrekte hand nader geloop en hom gelukgewens. Hy kon sy ore nie glo nie.

“Ekskuus?”

Die ouer man het geglimlag. “Jy het die pos gekry, Willem. Nogmaals geluk.”

“Lizl … dokter Landman?”

“Ja, natuurlik is sy in ag geneem. Sy is ’n uiters bekwame dokter, soos jy self weet … ”

“Bekwamer as ek.” Waarom sou hy nou so iets sê? Hy vertel dan sowaar vir dokter Luddick in soveel woorde dat hy die verkeerde keuse gedoen het. Wat gaan aan met hom? Die verterende gedagtes het bly maal. Maar in sy hart het hy geweet: dis die ou minderwaardigheidsgevoel wat hom so laat optree. Hy het al so gewoond geraak daaraan dat Lizl eerste is, dat hy, noudat sy tweede is, haar in die eerste posisie wil skuif! Genugtig!

“Hoe meet ’n mens bekwaamheid? Hoe weet ’n mens die een man is bekwamer as die ander? Nee, ek dink nie dit was ’n geval van verskil in bekwaamheid wat die deurslag gegee het nie. Trouens, jou diagnose van die Victor-geval het jou net so bekwaam soos dokter Landman bewys.”

“Die Victor-geval? Maar … ”

“Moenie so oorbeskeie wees nie, Willem!” het die ouer dokter goedig maar goedkeurend geglimlag. “Lizl het my self vertel die eer van die regte diagnose kom jou toe. Maar wat ek eintlik wou sê, is dat die deurslaggewende faktor eintlik iets was wat niks met bekwaamheid te doen het nie.”

“Ja?” Sy verstand het alles wat hy so pas gehoor het, probeer verwerk. Lizl het die mense vertel dit was sý diagnose! Hoekom? Hy het wel met haar saamgestem; maar hy het haar soos talle kere tevore eers teengestaan. Nou gee sy voor dit was net sý diagnose.

“Ja. Lizl is ’n pragtige vrou, en nie een van die raad is blind nie, al is ons hare al taamlik grys en yl!” het dokter Luddick geskerts. “Op ’n dag gaan sy wel trou, sy is ’n normale vrou ook, wil kinders hê. Die gewone ding, jy weet? Uit hierdie pos kan ’n man tot bo vorder, en daarom het ons besluit dat ons liewer die pos vir ’n man wil gee. Maar, asseblief, dít vertel jy Lizl nie!”

“Ek het dus die pos gekry omdat ek ’n man is?” het hy verslae gesê-vra, maar dokter Luddick het sy kop geskud.

“O nee, my jong kollega. As daar enigsins ’n keuse van bekwaamheid tussen julle twee was en Lizl was onomwonde as die bekwaamste aangewys, sou sy die pos gekry het, dit verseker ek jou. Maar aangesien daar volgens ons geen sprake van so iets is nie, het jou geslag die deurslag gegee. Dis al.”

Willem was eers stil, het toe nog half verdwaas gesê: “Dankie, dokter. Sal u … sal u my asseblief kans gee om die saak te oordink? Ek sal u môre my finale antwoord gee.”

“Soos jy wil, my jong vriend. Net dít, Willem, daar is min jong dokters wat so ’n wegspringkans gegun word.”

“Dit besef ek terdeë, dokter. Dankie. Dis ’n groot eer. Maar ek sal u môre laat weet of ek dit aanvaar of nie.”

En nou staan hy voor Lizl en wonder of hy nie die grootste flater van sy lewe gaan maak nie. Maar sy het hom reeds binnegenooi en hy is al oor die drumpel. “Dankie.”

“Sit gerus.”

“Dankie.” Hy gaan sit, kyk om hom rond. Haar woonstel toon duidelik dat daar tog darem ’n verskil tussen ’n man en ’n vrou is, al ewenaar hul verstand en vermoëns mekaar. Die woonstel lyk warm en huislik, nie soos syne waar die goed maar net funksioneel neergeplak is om daar te wees nie. “Jou plek lyk goed.”

“Dankie.” Sy probeer haar nuuskierigheid wegsteek. Willem het beslis nie vanaand hierheen gekom om haar met haar woonstel te komplimenteer nie.

“Sal ons iets drink? Koffie of tee? Wat verkies … ?” probeer sy die kort, swanger stilswye oorbrug.

“Nee, dankie. Ek … ek is ’n bietjie haastig.”

“O.”

Stilte. Dan keer sy blik terug na hare en hy vra op die man af: “Hoekom het jy dokter Luddick vertel dat die Victor-diagnose myne was?”

Sy ruk instinktief soos sy skrik, haar hande skielik styf inmekaargestrengel. “Hoekom, Lizl?”

Sy sluk. “Dit was eintlik jou diagnose. As jy nie met my gestry het nie … ”

Skielik speel die ou bekende, vir haar hartroerend bekende, skewe glimlaggie om sy mondhoeke. “Dis darem ’n onlogiese redenasie vir so ’n logiese verstand.”

Verwarring en onsekerheid flits in die blou oë. Sy weet nie wat sy van die situasie moet dink nie. “Dis logies vir my.” Dan glimlag sy ook dapper terug. “Onthou, ek is ’n vrou, en ’n vrou se logika is soms anders as dié van ’n man!”

Nou glimlag hy openlik en hierdie keer misgis sy haar nie. Daar is meteens ’n lig in sy grys oë wat sy nooit gedink het sy weer sou sien nie.

“Vrouelogika word gewoonlik deur die hart beheer, nie deur die verstand nie. Kan dit werklik waar wees, Lizl?”

“Waar? Wat waar?” vra sy en klink hierdie keer regtig so normaal soos ’n doodgewone vroumens dat hy hom moet beheer om nie daar en dan op te spring en haar van die stoel af op te ruk in sy arms in nie.

“Dat dit jou hart was wat jou dit laat sê het?”

“My … hart?”

“Dan gee jy nog om … ’n bietjie?”

Twee paar oë pen mekaar vas. Eindelik knik sy, haar lippe skielik bewerig. “Ek het nog nooit opgehou omgee nie en … ek het nooit net ’n bietjie vir jou omgegee nie, Willem … ”

Hy sluk en sy adamsappel spring op in sy keel. “Sal jy met my trou, Lizl?”

“Trou? Jy bedoel … tróú?”

“Ja. Regtig. Wettig. Met ring, predikant, die lot. Maar daar is ’n voorwaarde.”

“Ja?”

“Ek wil die vrou trou, nie die dokter nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek dink jy begryp. Jy was nooit onnosel nie,” probeer hy die erns van die oomblik ligter maak.

Hy sien die verstarring van die lieflike gelaat, van die blou oë.

“Jy bedoel … ek moet my mediese loopbaan prysgee en net jou vrou wees? By die huis bly en … ”

“En ’n ma vir ons kinders wees en ’n vrou vir my. Ja. Dis wat ek bedoel, Lizl.”

Dis ’n grafstilte wat volg.

“Hoekom wil jy met my trou, Willem?” Haar stemtoon vertel hom dat hy nie veel hoop moet koester nie.

So egalig en besadig as wat kan kom, antwoord hy: “Omdat ek … ”

“Moet my net nie vertel omdat jy my ook liefhet nie.” Sy trek haar asem swaar, stadig in. “Soos jy pas gesê het: ek was nog nooit só onnosel nie.”

“En as ek jou verseker dit is die rede?”

“Die een en enigste?”

“Watter ander rede kan daar wees? Hoekom sal ek ’n vrou vra om met my te trou as ek haar nie liefhet nie?”

Sy staar strak na hom, en hy weet wat hy gevrees het, gaan gebeur: Dit was ’n groot, ’n báie groot flater om vanaand hierheen te kom.

“Uit jou reaksie lei ek af dat jy my huweliksaanbod van die hand wys. Mag ek weet hoekom?”

“Jou voorwaarde is vir my totaal onaanvaarbaar.”

“Om net my vrou en die ma van ons kinders te wees? Ek verstaan. Is dit omdat jy nie gelukkig kan wees sonder om ook dokter te wees nie? Of het die senior pos iets hiermee te doen?”

“Dit het niks … ”

“Ek dink dit het, dokter Landman. Ek dink dit het alles daarmee te doen. Jy is natuurlik klaar oortuig dat jý die pos gaan kry, en natuurlik kan jy so ’n geleentheid om weer te bewys dat jy beter as ek is, nie onbenut laat verbygaan nie.”

“Willem, dis onregverdig! Dis nie waar nie … ” roep sy geskok uit, en hy staan vinnig op.

“Jammer dat ek jou gepla het, dokter. Goeienag.”

“Willem!” Sy is voor hom by die deur, druk haar rug daarteen vas. “Ek het nie eens aan die pos gedink nie, dit nie eens oorweeg toe ek jou huweliksaanbod gehoor het nie. Maar jý is behep met die pos. Is dit nie eerder waar dat dit by jóú die oorwegende faktor was toe jy besluit het om my skielik vanaand te kom vra om te trou nadat jy my ’n jaar lank as vrou geïgnoreer het nie? Is dit nie so nie, dokter Claassen?”

“Ek dink daar is genoeg gesê … ”

“Jy het, ja. Jý het beslis genoeg gesê. Maar ek het nog nie. Ek moes na jou beskuldigings luister, en nou luister jy na myne.”

“Goed dan. Laat ons dan eens en vir altyd presies weet waar ons met mekaar staan. Ek weet nou dat jy net so min in staat is tot liefde en om ’n vrou vir jou man te wees, as die man in die maan! Jou danige liefde vir my is selfliefde, egoïsme van die ergste graad. Jy mag ’n briljante dokter wees, Lizl Landman, maar ’n vrou sal jy nooit kan wees nie!”

“Dankie! En jy, Willem Claassen, het hierdie keer regtig my intelligensie onderskat. ’n Mens hoef ook nie eens regtig slim te wees om dwarsdeur hierdie danige huweliksaanbod van jou te sien nie. Met my uit die pad, veilig agter die kospotte in jou droomhuisie, is jy verseker van die pos. Maar om darem iemand te vra om met jou te trou net om haar uit die pad te kry, net om jou eie ego te streel … ”

Twee hande vat om haar middellyf, lig haar van die vloer af op, sit haar netjies eenkant neer.

“Nag, dokter Landman.” Halfpad deur die deur draai hy skuins terug. “Geluk met jou aanstelling. Ek is seker jy sal ’n groot sukses daarvan maak.”

“Hoe weet jy ek het die aanstelling gekry?” wil sy woedend weet.

“Natuurlik het jy. Hoe anders? Jy sal môre hoor.”

Toe sy haar woonsteldeur agter haar toedruk, is die woede skielik weg, is dit net die seer wat oorbly. Dit kom nie eens by haar op dat sy hom miskien verkeerd geoordeel het nie. Sy kan nie verkeerd wees nie. Die onmoontlike voorwaarde wat saam met sy huweliksaanbod gegaan het, vertel tog die volle waarheid. Willem het haar vanaand kom vra om met hom te trou om haar uit te skakel, en nie net vir die senior pos nie, maar vir die res van sy lewe. Geen kompetisie meer van Lizl Landman nie. Sy sit veilig tuis en kook kos en maak kleintjies groot … en natuurlik sou hy sorg dat daar elke nege maande een is sodat sy so besig bly dat sy nooit weer aan iets anders sou kon dink as vuil doeke en fopspene nie. O!

Dokter Luddick klink verbaas toe hy die stem aan die ander kant van die telefoon herken.

“Nee, ek is nog nie in die bed nie. Nee, jy hinder nie. Kan ek help, Willem?”

“Miskien moes ek u dit liewer persoonlik kom sê het, dokter, maar hoe gouer u van my besluit hoor, hoe beter. Ek wil u en die ander betrokkenes baie hartlik bedank vir die eer en die vertroue in my, maar ek sien nie my weg oop om die aanstelling te aanvaar nie. U kan dokter Landman maar laat weet dat sy aangestel is.”

“Willem, ek … weet nie wat om te sê nie … Ek hoop jy het die saak baie goed oordink. Wil jy nie maar nog weer … ?”

“Ek het klaar gedink, dokter, en ek het finaal besluit. Ek wil graag iets voorstel, as u my die vermetelheid sal vergewe.”

“Ja? Seker. Wat is dit?”

“Ek wil voorstel dat dokter Landman nie moet weet dat die pos eerste vir my aangebied is nie. Dit kan dalk krap, u verstaan? Geen mens wil graag weet jy was tweede keuse nie, al gaan dit ook bloot net om jou geslag. En aangesien sy hier gaan aanbly en ek padgee … ”

“Ag, nee, Willem!”

“Ek is bevrees so, dokter. Ek het reeds ander planne oorweeg voordat hierdie senior pos in die gedrang gekom het. Soos ek sê, laat dokter Landman maar dink sy was die eerste en enigste keuse. Wat maak dit tog saak, dan nie? Goeie­nag, dokter. Jammer dat ek so laat gesteur het.”

Dokter Luddick sit ’n rukkie peinsend agter sy lessenaar. Willem Claassen het gelyk. Aangesien hy glad nie in die pos belangstel nie, is daar geen rede hoegenaamd dat Lizl Landman moet weet dat iemand anders eerste die pos aangebied is nie. Soos hy tereg uitgewys het, kan dit dalk krap en toekomstige verhoudinge vertroebel … en vroumense is maar van nature krapperige goed. Nee, Lizl hoef nie te weet nie. Sy hand reik na die telefoon. Daar is ook geen rede hoekom sy nie vanaand al die goeie nuus kan verneem nie. Sy was tog die enigste alternatief.

Toe haar telefoon lui, haas sy haar daarheen met bonsende hart, terwyl sy haarself maan dat sy nou regtig haar verstandelike vermoëns in twyfel moet begin trek. Willem sal nie bel en om verskoning vra nie. Hy sal nie bel en sê hulle moet die saak kalm en nugter uitredeneer nie. Hy sal nie … “Ja? Lizl Landman wat praat.” Sy staan doodstil en luister, maar die opgewondenheid en blydskap wat sy verwag het daar sou wees, bly uit. Haar stem klink amper formeel toe sy die goeie man bedank vir die wonderlike nuus, en dan vra sy: “Ag, dokter, sê my net … Weet Willem … dokter Claassen dat ek die aanstelling gekry het?”

“Ja, Lizl. Hy weet reeds.”

“Dankie, dokter. Goeienag.”

Nes sy gedink het! Hy het reeds geweet toe hy vanaand hier ingestap het met die kastige behoefte om met haar te trou. O, Willem! Hoe kón jy?

Toe sy haar die volgende oggend gereed maak om aan diens te gaan, staar sy ’n oomblik terug na haar eie spieëlbeeld. Willem het gesê sy is net ’n dokter, nie ’n vrou nie. Goed dan. Dan is sy van nou af net ’n dokter. En aangesien sy net dit kan wees, volgens hom, sal sy ’n goeie een wees, die beste.

Met vaste tred stap sy die hospitaal binne.

In die loop van die dag word sy van alle kante gelukgewens met haar senior aanstelling, en sy erken dit met koele waardigheid. As enigiemand verwag het om dokter Lizl Landman stralend van opgewondenheid te sien, word hulle teleurgestel. Sy is en bly net die bekwame dokter wat sy gister ook was. Selfs nie op hierdie groot dag sien sy enigiets oor die hoof nie, tot ’n paar verpleegsters se spyt. Selfs ’n kollega loop op ’n slag deur en dokter Willem glimlag simpatiek.

“Sokkies optrek, kollega! Jul nuwe senior gaan julle vasvat!”

“Ag, hemel, as sy tog net minder perfek was! Wat praat jy van óns senior? Sy’s joune ook.”

“Nee, maat. Sy is niks van my nie, dank die gode.”

“Wat bedoel jy?”

“Ek gaan padgee voordat ek soos ’n wurm voel en naderhand een is.”

“Dokter Claassen … O, hier is jy … ” Sy kom in die deur tot stilstand. “Ek wag vir daardie bloedmonster wat jy sou bring.”

“Jammer, dokter Landman. Dis binne vyf minute gereed.”

“Haai, dokter Lizl, het jy gehoor? Van ou Willem, bedoel ek.”

“Nee, dokter Ferreira. Wat van … dokter Claassen?”

“Hy gaan weg. Waarheen gaan jy, Willem?”

Haar blik draai koel na die aangesprokene en sy vra ook op besadigde toon met skynbelangstelling: “Regtig, dokter? Wanneer het jy so besluit? Gisteraand?”

Hy ontmoet haar oë waterpas. “Eintlik nie, dokter. Ek speel al lank met twee alternatiewe. Omstandighede het dit egter vir my maklik gemaak om ’n finale besluit te neem.”

“Ek begryp. Mag ek vra wat die ander alternatief is?”

“O, ek dink nie dit sal jou goedkeuring wegdra nie. Maar, nou ja,” en hy glimlag teenoor Dave Ferreira, “ons kan nie almal senior poste hê of Chris Barnards wees nie, kan ons? Daar moet maar doodgewone dokters vir ipekonders en skete ook wees.”

Sy kyk hom strak aan. “Ek sou eerder dink dat jy dan liewer verder sou gaan studeer.”

“Nee, dokter Landman. Ek gaan nie verder studeer nie. My ouma het altyd gesê die mens se geleerdheid dryf hom tot raserny … en ek dink my ouma was reg. Jy sien, ek wil graag mens bly ook.”

Die blou oë flits vererg. Willem is regtig openlik aan die skoorsoek! As hy nie hier gaan aanbly nie, móét hy net verder gaan studeer! Wat wil hy dan anders doen? “Jy dink dis nie goed om jou kennis te vermeerder en jouself nog verder te bekwaam nie? Ek verbeel my jy het eenkeer gepraat van verder studeer en in ’n spesifieke rigting spesialiseer.”

Sy oë kyk koel terug. “Jy moes jou seker maar verbeel het, dokter.” Sy oë tart haar om hom te weerspreek, terwyl albei terugdink en onthou. Hulle was nog studente en het groot drome gedroom … van eendag wanneer hulle miskien vennote sou kon wees … gespesialiseer het in rigtings wat mekaar sou aanvul … Dit was drome.

“Vir sommige mense, die briljantes, is dit goed om te gaan spesialiseer. Maar die gewone man moet hom liewer besig hou met gewone dinge. Sodra hy buite sy veld en vermoëns beweeg, kyk hy so maklik teen sy neus vas, nie waar nie?”

Sy is nie bereid om langer met hom te skermutsel nie. “Die vyf minute is om en ek het nog nie die bloedmonsters nie, dokter. Asseblief!”

“Dis binne die volgende vyf minute gereed, dokter.”

Hy kyk haar met ’n kil glimlaggie agterna en Dave Ferreira waag dit om te sê: “Dit sou vir ons almal makliker gewees het as dit liewer jy was wat die pos gekry het.”

“Nee, dankie. Ek gun haar dit van harte.”

“Jy het nog nie gesê waarheen jy gaan nie.”

Hy glimlag stram. “Tot vyf minute gelede het ek self nie geweet nie, vriend. Maar nou weet ek. Ek sal jou oor tien minute sê, as jy so gaaf sal wees om gou vir ons die bloedmonster te kry waarop die dame so aandring, asseblief.”

Ondanks haar vaste voorneme dat niks wat Willem Claassen aangaan haar in die toekoms sal raak nie, bly hy in haar agterkop vir die res van die dag. Eintlik was sy nie verbaas om te hoor hy wil weggaan nie. Ná wat gebeur het, sou dit seker vir hom onmoontlik wees om aan te bly, en onder haar te werk. Sy het net vanselfsprekend aanvaar dat hy nou verder sal gaan leer, en sy was honderd persent ten gunste daarvan. Miskien sal hulle op hierdie manier ’n oplossing vir hul skynbaar onoorkomelike probleem kry: As Willem in ’n spesifieke rigting spesialiseer, sal hy voel hy is ten minste in een rigting haar meerdere. Miskien sal hulle dan tot ’n vergelyk kan kom, het haar ongehoorsame hart kliphard saamgesels.

Sy staan met dokter Luddick en gesels toe Willem in die gang by hulle verbykom. Dokter Luddick roep hom nader.

“Willem, ons gaan Saterdagaand ’n klein etetjie vir Lizl gee ter viering van haar aanstelling. Jy kom natuurlik ook?”

Lizl kyk die ouer dokter ontevrede aan en moet dan op Willem se antwoord wag: “Dankie vir die uitnodiging, dokter, maar ek is bevrees dis vir my onmoontlik. Ek vertrek reeds Vrydag sodra ek van diens af kom.”

“Vertrek?” Die woordjie glip onverhoeds oor haar lippe.

Willem antwoord met opgetrekte wenkbroue: “Ja, dokter. Vrydagmiddag is my hospitaaljaar verby. Ek gaan my onmiddellik by my nuwe vennoot aansluit.”

“Vennoot?” Sy begin vir haarself na ’n papegaai klink. “Watter vennoot? Waar?”

“Ek dink nie jy sal belangstel nie, dokter Landman. Dis ’n rigting waarin jy nog nooit belanggestel het nie. Trouens, ek dink jy het niks anders as minagting daarvoor nie.”

Sy voel hoe die ontsteltenis hoër in haar klim. “Ek het nog nooit minagting vir enigiets aangaande die mediese wetenskap gehad nie!”

“Nee. Maar jy het nie juis ’n hoë dunk van ’n kleindorpse mediese praktisyn nie.”

“Jy gaan … ? Willem, jy kan nie!” kom dit spontaan.

“Nie? Wie gaan my keer? Jy?”

Die dae van ons nietigheid

Подняться наверх