Читать книгу Die uurglas loop leeg - Ena Murray - Страница 3

1

Оглавление

Karien voel hoe haar hartklop versnel toe die motor skielik langs haar stilhou.

“Kan ek jou êrens aflaai?” vra die welbekende stem wat sy tot dusver nog net binne die hospitaalmure gehoor het.

Sy aarsel, weet dat sy tog sal instem, sê dan effens huiwerend: “Dankie, dokter. Dis baie gaaf. Ek is op pad dorp toe vir ’n paar inkopies en my motortjie het besluit hy is vandag met vakansie.”

Hy hou die deur met ’n sjarmante glimlag oop. “Miskien is dit ek wat vooraf met hom gekonkel het.”

“O ja? En hoekom dan so?”

Hy glimlag weer, maar sy oë bestudeer haar ongemerk ernstig. “Ek wag lankal op ’n geleentheid om met jou te gesels.”

“Waaroor?” vra sy, haar stemtoon so professioneel soos wanneer hulle saaldiens doen.

Sy aandag is nou op die pad voor hom. “Sommer net ’n begeerte om die mens agter die kliniese saalsuster te leer ken.” Dan kyk hy vlugtig na haar. “Daar skort tog niks mee nie, of hoe?”

Die rooi liggie flits in haar verstand. Maar sy stry daar­teen. Natuurlik skort daar niks mee om ook ’n vriendskap met hom te sluit nie. Dis mos nie te sê nie … “Nee, dis seker nie teen die hospitaalreëls nie, maar ek is ’n baie oninteressante mens om van nader te leer ken. Ek is maar ’n doodeenvoudige meisie.”

Hy glimlag nou openlik geamuseer. Doodeenvoudig se voet! Afgesien van die besondere gelaatstrekke, raafswart hare en slanke figuur wat ’n verpleegstersuniform na ’n ontwerperskepping laat lyk, is dit juis haar pragtige geaardheid wat ’n mens na haar trek. Anders as die ander verpleegsters, het sy tot dusver nog geen teken getoon dat sy deur sy don Juan-glimlag beïndruk word nie. Sy gaan net haar normale, professionele gang wanneer dokter Arnold Lutz in haar saal verskyn. Maar tog het hy haar al ’n paar keer onverhoeds betrap dat haar oë met ’n vreemde lig op hom gerig is, wat hom laat wonder het … “Laat dit maar aan my oor. Geen mens kan ’n objektiewe opsomming of beskrywing van hom- of haarself gee nie. Jy onderskat jouself. Kyk, feite ken ek reeds: Jy is ’n plattelandse medikus se dogter, het jou verpleegeksamen met vlieënde vaandels afgelê, en staan baie hoog aangeskrewe by ’n ieder en ’n elk in die hospitaal.”

Sy kyk hom verbaas aan. Hy moet navraag oor haar gedoen het, of liewer dan, oor haar gesnuffel het, as hy hierdie feite ken. “Dit bly steeds algemene inligting oor ’n doodgewone mens,” stry sy weer.

“Inteendeel, Karien Saayman, dit spreek boekdele.”

Sy trek haar asem in. Dan ken hy al haar voornaam ook!

“En ek sou graag soms ’n bietjie met daardie mens wou gesels, miskien oor ’n koppie koffie. Ek weet jy het ’n rykdom binne-in jou wat jy ook met my kan deel.”

Hier kom dit! flits die waarskuwingsliggie weer. Maar dit is ’n bietjie laat om dit te erken … ook dat dit ’n fout was om sy aanbod te aanvaar. Sy moes gesê het sy stap sommer vir oefening, of so iets. Sy voel skielik benoud in die klein ruimte wat hulle omsluit. Sy moes nooit ingeklim het nie!

“Jy praat in raaisels, dokter,” sê sy koel. “Ek weet van geen rykdom nie. Die enigste rykdom, as jy dit so kan noem, is dat ek ’n tevrede mens is. Ek het bereik wat ek wou – nie vreeslike hoogtes nie, maar net hoog genoeg vir my om te kan hanteer. Ek is gelukkig in my werk; ek doen wat ek wil doen. Dis vir my genoeg.”

Hy glimlag weer ietwat geamuseer. “Wat ’n gelukkige mens is jy dan inderdaad, Karien Saayman. Geen aspirasies in enige ander rigting nie?”

Sy sluk ongemaklik. “Nee,” sê sy dan amper bot.

“Ek kan dit nie glo nie, Karien. Jou soort mens kan nooit tevrede wees met ’n stagnante situasie nie. Jy het te veel in jou wat altyd vorentoe en boontoe sal wil beur. Jy is ook ’n vrou. Wat van háár?”

Sy antwoord nie, en sy blik dwaal sydelings. “Is die vrou in jou ook volkome tevrede en vergenoeg met jou lewe soos dit nou is? Voel sy nie afgeskeep nie? Of liewer, heeltemal ontken en onderdruk nie? Of het jy ’n spesiale vriend?”

Sy laaste vraag betrap haar onkant. Haar gewone kalmte is skielik daarmee heen. Vir wat moet die man haar so sielkundig sit en ontleed? Wat het dit met hom te doen wat sy werklik hier diep binne-in voel?

Sy ontmoet sy blik en sê gelykmatig: “Jy sit en spot nou met my.”

Hy bring die motor tot stilstand, draai na haar. “Spot? Spot ek wanneer ek ’n pragtige vrou vra of sy ’n spesiale vriend het? Dis die normaalste en vanselfsprekendste vraag denkbaar, Karien. Het jy ’n verhouding met iemand?”

Sy wil hom daarop wys dat dit niks met hom te doen het nie, maar sy hoor haarself antwoord, en op die koop toe nog skuldig klink daaroor. “Nee. Ek … daar is niemand spesifiek nie. Net vriende.”

Haar blik is afgewend, en sy sien nie die verligting in sy oë nie. Hy lag saggies. “Nou is jy vir my kwaad en dis die laaste ding wat ek wou gehad het moet gebeur.”

“Ek is nie kwaad nie.”

“Bewys dit en kom drink saam met my ’n koppie tee.”

“Ek dink nie … ”

“Asseblief, Karien.” Sy hand lê skielik baie liggies op hare. “Net tien minute. Ek het net tien minute vry, dan moet ek terug by die hospitaal wees.”

Sy kyk hom fronsend aan. “Maar … wat het jy dan in die dorp kom maak?”

Dit is hy wat skielik skuldig lyk en bieg: “Ek het jou sien stap en besluit om jou te vra om saam met my dorp toe te ry.” Hy glimlag skeef en sy oë dans in haar fronsende blik. “Kom ons sê dit was my goeie daad vir die dag!”

“Dokter … ”

“Ons is nou baie ver van die hospitaal af, Karien. My naam is Arnold en ek het ’n broertjie dood aan onnodige formaliteit. Toe. Kom nou. Die tien minute raak al korter. Ek het nou skaars vyf minute oor.”

Haar stem klink styf van ongemak. “Dankie, maar ek durf nie jou tyd langer in beslag neem nie, dokter. Baie dankie vir die vriendelikheid.”

Sy maak die deur beslis oop, klim uit, kyk teen wil en dank terug en lees die onverbloemde teleurstelling in sy oë. Hy lyk soos ’n seuntjie wat ’n onverdiende klap in plaas van ’n beloning gekry het. “Ek is jammer … Arnold, maar regtig … daar is nie genoeg tyd oor nie. Tot siens.”

Sy motor ry by haar verby toe sy op die sypaadjie aanstap sonder om die vaagste benul te hê na watter winkel sy nou eintlik op pad is. Hy is seker nou baie kwaad vir haar, dink Karien skuldig toe die motor om die eerste hoek verdwyn. Hy wou maar net gaaf wees. Wat is dit nou om ’n koppie tee saam te drink? Wat is dit nou … ? As hy net nie getroud was nie.

Sy stap vinnig by die eerste restaurant in, bestel die koppie tee wat sy netnou bedank het. Toe die kelnerin dit voor haar neersit, sit en speel sy ingedagte met die teelepel. Soos dit maar oral in die lewe gaan, het die nuusdraers van die hospitaal baie gou gesorg dat ’n ieder en ’n elk alle moontlike besonderhede ken van die dokter wat drie maande gelede in hul midde verskyn het. Arnold Lutz het sy praktyk op ’n plattelandse dorpie verkoop om hierheen te verhuis waar die nodige geriewe vir sy vrou beskikbaar is. Sy is verlam sedert ’n motorongeluk waarin hulle albei betrokke was. Hy het niks oorgekom nie, maar sy vrou wel. Behalwe ander primêre beserings, het die sekondêre besering van die rug verlamming tot gevolg gehad. Sy ontvang reeds langer as ses maande behandeling by die hospitaal, maar tot dusver sonder veel sukses. Dit is die ware feite, soos hy dit gestel het, oor dokter Arnold Lutz.

Die vae skuldgevoel oor haar reaksie op sy uitnodiging begin vaster vorm aanneem. Sy kan haar voorstel wat hy die afgelope maande moes deurmaak. En hier wil hy maar net ’n koppie tee saam met iemand drink en ’n bietjie gesels. En sy tree op soos … ja, presies soos ’n oujongnooi wat bang is sy word aangerand. Hy kan na dese nie ’n te hoë dunk hê van die suster wie se lof, volgens hom, so deur haar kollegas en seniors besing word nie. Sy het baie kinderagtig opgetree.

Wat daarvan as hy ’n glimlag het wat almal, van die jongste junior tot die mees verstokte suster, betower en verower? Wat daarvan as hy ook deeglik daarvan gebruik maak wanneer dit hom pas? Is dit nie bloot menslik nie? Is dit sy skuld as die verpleegsters se harte allerhande vreemde toertjies begin uithaal wanneer hy glimlag? Hoe kan sy dit teen hom hou dat selfs die suster van die mansaal se hart al vreemde draaie gemaak het?

Maar daar was al praatjies dat hy ’n paar verpleegsters uitgeneem het … hy, ’n getroude man, baklei die waarskuwingsliggies flitsend terug.

Sy frons diep en neem ’n slukkie van haar koue tee. Maar is hierdie feite werklik so erg as wat dit klink? Daar is ’n verhaal agter die feite – ’n man wat eensaam is, miskien nog met ’n swaar skuldgevoel rondloop, ’n man wat maar net soms geselskap wil hê. Dis nie te sê dat hy ’n verhouding aanknoop met elke meisie wat hy uitneem nie. Om die waarheid te sê, dit klink asof hy nooit dieselfde meisie twee keer uitneem nie. Dit kan ook wees omdat hy nie na ’n ongeoorloofde verhouding soek nie, maar bloot na geselskap en begrip. Soos wat hy ook vandag, helder oordag, in ’n vol restaurant oor ’n koppie tee net na geselskap en begrip wou soek, en hom toe teen ’n preutse oujongnooi vasgeloop het wat oënskynlik verwag het om die naaste bosse ingesleep te word!

As hy nie te kwaad vir haar is nie, moet hy haar seker nou in sy hart uitlag … en Karien voel hoe ’n verleë blos in haar nek opkruip.

Daardie aand saam met Hannes Eksteen, die jong boer wat onder die vriende tel na wie sy verwys het in haar gesprek met Arnold Lutz, is sy stil en ingetoë en die jong man se moed wil hom begewe. Hy doen nou al maande sy bes om meer as net ’n vriend vir hierdie verpleegsuster te word, maar hy kon nog nie daarin slaag nie. Sy gevoel vir haar is geen geheim vir Karien nie, en dikwels het sy al gedink sy moet die vriendskap liewer verbreek. Sy kan net nie meer as platoniese vriendskap vir hom voel nie. Maar Hannes klou soos ’n neet. Hy is slim genoeg om hom nie op te dring nie, en omdat sy regtig sy geselskap geniet, stel sy dit maar elke keer uit om hom die trekpas te gee. Sy weet Hannes glo, of hoop, dat hy haar hart eindelik sal wen.

Hy kyk haar teer aan toe hulle ná ’n rolprentvertoning by die verpleegsterstehuis instap.

“Jy lyk moeg en bekommerd, my meisie. Nee, ek sal nie inkom vir koffie nie, dankie. Ek kan sien jy het rus nodig.”

Sy kyk hom dankbaar aan. Voel oor hóm ook skuldig. O, as hy net minder gaaf en begrypend wil wees, sal sy maklik hierdie vriendskap kan verbreek. Maar dis juis sy bedagsaamheid wat Hannes Eksteen bo die ander laat uitstaan. Sy weet dat hy die aand nie soveel kon geniet het nie. Sy kyk verskonend na hom op.

“Ek is jammer, ou Han. Ek was vanaand ’n regte droë stoppel.”

“As alle droë stoppels soos jy moet wees … ” Hy trek haar liggies nader, en sy weet by die geringste beduidenis dat sy nie geneë voel nie, sal hy haar onmiddellik laat gaan. Maar vanaand laat sy toe dat hy haar vas teen hom aantrek, leun selfs uit haar eie teen hom aan. Karien het skielik so ’n behoefte aan ’n begrypende hart, al weet sy nie self mooi wát Hannes nou juis moet begryp nie.

“Jy trek jou jou pasiënte te ernstig aan, Karien. Jy is te veel van ’n gevoelsmens vir hierdie soort werk. Ek het ’n ander betrekking om jou aan te bied.”

Sy glimlag, skud haar kop en onttrek haar uit sy omhelsing, want ’n ander paartjie is ook in aantog deur toe. Laat hom maar glo dat dit een van haar pasiënte se toestand is wat haar vanaand ontstel.

“Eendag gaan ek jou nog op jou woord neem oor daardie ander betrekking en dan sal ons sien hoe ’n jong boer die hasepad kies!” probeer sy skerts.

Maar hy skud sy kop, sê ernstig: “Ek wens met my hele hart jy sal dit nog eendag ernstig oorweeg, Karientjie. Dis ’n aanbod wat pal bly staan. Sal jy dit onthou?”

Sy sug diep. Dis juis wat sy nie wil hê nie! Dan lê sy haar hand ’n oomblik teen sy wang en sê waarderend: “Ek sal onthou, Hannes. Dankie, my vriend. Goeienag.”

Karien is nie haar beheerste, kalm, professionele self toe dokter Arnold Lutz die volgende oggend die mansaal binnestap nie. Inteendeel, sy laat selfs een keer die pasiëntkaart uit haar hande val, en toe hulle albei buk om dit op te tel en mekaar byna omstamp, is sy heeltemal verbouereerd. Wat makeer haar?

“Dankie.” Sy neem die kaart by hom en weier om hom, soos van die begin van die saaldiens af, in die oë te kyk. Maar hy hou die kaart vas en sê gedemp: “Jy kan maar ’n slag vir my kyk, Karien. Ek sal jou nie opeet nie.”

Sy is verplig om haar oë te lig, en toe hy stadig glimlag, het dit ’n bedwelmende uitwerking op haar. Heeltemal onvanpas en ongehoord vir dié saalsuster, vra sy iets wat niks met ’n pasiënt te doen het nie: “Dan … dan is jy nie kwaad vir my nie?”

“Nee. Ek verstaan.”

“Maar jy verstaan nie! Dis nie wat jy dink nie!”

Sy wenkbroue lig en hy tree voor haar in sodat die res van die saal agter sy rug inskuif. “Wat dink ek?”

“Dat … dat ek my soos ’n … ’n ware kinderagtige oujongnooi gedra het … ”

Sy lag klink skielik helder in die saal op en Karien voel hoe sy bloedrooi word.

“Jy is dierbaar! Ons sit hierdie gesprek in jou kantoor voort sodra die saaldiens klaar is. Volgende: meneer Verkuil. Galblaas … ”

Sy volg sy opmerkings en opdragte werktuiglik en het geen ander keuse as om in te stap in haar eie kantoor toe hy beleef opsy staan vir haar om voor te stap nie. Hy verbreek eerste die ongemaklike stilte. Sy stem is ernstig en daar is geen teken van die joviale glimlag nie.

“Jy is ver van ’n oujongnooi af en allermins kinderagtig. Hoe kan ek vir jou kwaad wees oor feite waaraan geen mens iets kan verander nie? Jy het geweier omdat ek ’n getroude man is. Daaraan kan ek minder as ooit tevore iets verander. En daarvoor respekteer ek jou nog net meer. Ek wou maar net soms … net soms ’n bietjie met jou gesels, maar ek begryp dis te veel gevra en ek vra verskoning dat ek jou in ’n verleentheid gestel het. Dis jy wat my moet vergewe.”

Nou voel sy nog skuldiger. Nes sy gedink het! Hy wou maar net ’n luisterende oor gehad het, en sy … “Ek sal graag soms ’n bietjie wil … gesels, Arnold. Ek is jammer oor my kinderagtige gedrag van gister.”

Sy gesig verhelder. “Dan sal jy vanmiddag êrens saam met my iets gaan geniet? Ek bely dat ek reeds jou rooster nagegaan het. Ek weet jy is vir middagete vry.”

Karien glimlag. “Graag, Arnold.”

’n Verpleegster kom verby om die koorskaarte te kom wegpak en hy bring sy stemtoon terug tot op professionele vlak. “Dankie, suster. Dan kyk ons maar hoe dit vanmiddag gaan.” Met ’n glimlaggie wat die junior verpleegster se hart laat ruk, stap hy by die kantoor uit.

Wat die verpleegster nie weet nie, is dat haar suster in bevel se hart ’n oomblik lank gaan staan het. Dit is egter die gewone saalsusterstem wat dissipline afdwing wat die jong verpleegster na die aarde terughelp, en haar eie hart weer tot sy ritmiese klop laat terugkeer: “Verpleegster Marais, wanneer jy klaar is met die koorskaarte, wil ek hê jy moet meneer Stander in private kamer tien gereed kry vir die operasiesaal. Hy moet om halftwaalf ingaan. Sorg dat … ” gaan sy voort en sy verbaas haar heimlik hoe ’n mens in staat is om al die regte dinge te doen en te sê terwyl jou verstand in werklikheid glad nie funksioneer nie. Maar hoe sy vir haarself ook al redes opnoem waarom daar geen kwaad in skuil om vanmiddag saam met dokter Lutz te gaan eet nie, is die tergende geflikker van ’n waarskuwingsliggie nie uit te blus nie.

Natuurlik is Karien dankbaar vir sy keuse van eetplek toe hy die motor daardie middag net buite die dorp by die padkafee tot stilstand bring. ’n Oorvol restaurant is seker nie die beste plek om te gesels nie, en dit is hoekom hulle vanmiddag saam gaan eet – sommer net om te gesels.

“Ek is bly ons het hierheen gekom. Dis soveel lekkerder as ’n volgepakte restaurant.”

Hy knik. “Ek het gedink jy sou hiervan hou. My opsomming van jou was nog elke keer in die kol.”

Sy kyk hom betigtend aan. “Jy moet ophou om alles wat ek doen of sê of van hou so te ontleed, dokter … Arnold. Daar kan teleurstellings wag. Geen mens het net goeie eien­skappe nie.”

“Ek sal maar liewer die risiko waag van ’n moontlike en vir my eerlik onwaarskynlike teleurstelling in jou. Tot dusver het ek nog net goeie eienskappe ontdek: ’n bekwame verpleegster, ’n diep gevoelsmens, ’n natuurliefhebber en ’n vrou met die potensiaal om iemand eendag baie gelukkig te maak.”

Sy is dankbaar dat die kelnerin hul kos bring en so vir ’n onderbreking sorg. Terwyl sy haar mes en vurk optel, sê sy: “Ons het nie gekom om oor my te gesels nie, Arnold.”

Hy glimlag. “Maar laat ons maar eers van die goeie praat; van die ongeskonde. Dit is jy ook, is jy nie, Karien? Nog geheel en al ongeskonde.” Toe hy haar verleentheid sien, tel hy sy mes en vurk ook op, vervolg dan op ’n ernstiger stemtoon: “Ja, ons het seker oor my kom gesels. Wat moet ek jou vertel?”

Sy kyk vinnig op. “Daar is nie ’n moet nie. As jy nie voel om te gesels nie … ”

“Maar ek wil. Ek wil met jou gesels. Ek wil jou vertel in watter gemors my lewe ontaard het en dat ek nie weet hoe om daaruit te kom nie.”

Sy knik net en luister stil terwyl hy sy hart oopmaak … oor ’n man en vrou wat lankal weet dat ’n gelukkige huwelik nie vir hulle twee saam moontlik is nie. Van gedurige rusies, agterdog en frustrasie. Van een besondere rusie wat hom uit woede die petrolpedaal te diep laat intrap het en ’n draai in die pad teen ’n hoë snelheid laat aandurf het. Van ’n boom langs die pad, ’n slag en ’n gesplinter van glas … en die senutergende gekraak van metaal wat byna dubbel vou. Van ’n man wat tevergeefs langer as ’n uur die motorwrak met kaal hande probeer oopskeur om ’n vrou, sý vrou, uit daardie opgefrommelde hoop metaal te kan kry. Van noodoperasies en wag en kyk, nog operasies en weer wag en kyk. Dan die finale slotsom: verlamming van die nek af ondertoe. ’n Mooi, jong vrou in die fleur van haar lewe … Maar sterker as wat ’n egband kan bind, is die band van die gewete, die swart boeie van skuld. Hy hét te vinnig bestuur. Sy hét gesê hy moet stadiger ry. Hy hét ’n ongeluk gemaak. Dit wás sy skuld. En nou lê sy verlam en ’n huwelik in naam gaan voort waar daar oorspronklik geen huwelik meer oor was nie.

Jy gaan lê die daaglikse pligsbesoek in haar kamer af, voel die stroom van bitterheid en verwyt wanneer jy binne­stap, lees die veroordeling en die haat in die vertroebelde oë. En jy stap na buite soos ’n dronk mens, bedwelm van die skuld en wanhoop oor jou toekoms.

Daar is trane op haar wange toe hy stilbly.

Haar hand gaan spontaan na hom uit en hy gryp dit met albei syne vas. “Moenie huil nie. Ek wil nie hê jy moet oor my lewe huil nie. Dis nie een traan van jou werd nie.”

“O, Arnold!”

“Maar kan jy nou verstaan dat ek soms met iemand moet praat?”

“Natuurlik. Natuurlik verstaan ek, Arnold. Ek waardeer dit dat jy my in jou vertroue geneem het. Ek wens net daar was iets wat ek kon doen om te help.”

“Daar is nie, maar jy sal nooit weet wat dit beteken om te weet daar is iemand wat verstaan nie. Dit maak dit soveel … draagliker.”

Dit is vanselfsprekend onmoontlik dat die vriendskap tussen suster Saayman en dokter Lutz onopgemerk by die hospitaalpersoneel sal verbygaan. Nóg Karien nóg Arnold is so naïef om te hoop dat dit nie skinderpraatjies tot gevolg sal hê nie. Dokter Lutz is egter sy glimlaggende self in die hospitaalgange en wanneer hy van ’n gefluister agter sy rug verneem, is hy horende doof.

Karien, hoewel sy weet daar word oor hul vriendskap gefluister, is egter tog naïef genoeg om te glo dat dit nie kwaadwillige praatjies is nie. Die hospitaalpersoneel ken haar immers goed genoeg om te weet sy sal haar nooit skuldig maak aan ’n ongeoorloofde verhouding nie. Sy glo vas dat almal wat hulle soms saam sien dit beskou soos wat dit werklik is – ’n mooi, platoniese vriendskap. Dat die mensdom net nie so ingestel is om altyd na die mooiste te soek nie en beslis baie skepties staan teenoor platoniese vriend­skap – veral tussen so ’n aantreklike dokter en ’n ewe aantreklike verpleegsuster – kom in die eerste weke nie by haar op nie.

Miskien sou sy lankal onraad gemerk het, die sydelingse en soms ongelowige, soms beskuldigende blikke na haar kant gouer opgemerk het, as sy nie in hierdie dae ’n kommer in haar begin ronddra het wat haar aandag na binne gerig het nie.

Dit het so ongemerk gebeur dat sy dit nie dadelik agtergekom het nie: dat hy haar hand soms spontaan vashou wanneer hulle gesels; dat hy haar dan en wan komplimenteer; dat hy soms vir haar ’n bos blomme stuur met net ’n dankie op die kaartjie; dat hy haar al meer opsoek, al meer haar vrye tyd opeis; dat sy behoefte om te gesels oor dié dinge wat so swaar op sy hart druk al meer afneem, sodat hy haar deesdae telkens wanneer sý daarna verwys, stilmaak en sê hy wil liewer nie daaroor praat nie.

Maar toe Arnold haar een aand voor die verpleegsterstehuis aflaai nadat hulle sommer net ’n ent gery het, besef sy dat iets skort, toe hy ietwat ongeduldig laat hoor: “Ek is moeg vir hierdie spul agies, Karien. Liewe land, ’n mens het geen privaatheid nie. Hoekom kry jy nie vir jou ’n woonstel nie?”

“ ’n Woonstel?”

“Ja. Ek weet van een wat dadelik beskikbaar is. Om die waarheid te sê, ek het reeds ’n opsie daarop geneem. Jy kan môre intrek as jy wil.”

“Maar, Arnold … ”

“Ek weier om jou langer hier by die verpleegsterstehuis te ontmoet, Karien. Jy is dit aan ons verskuldig dat ons darem meer privaatheid het. Ek is moeg daarvoor om in die veld met jou te gaan rondry wanneer ek alleen met jou wil wees.”

Net vlugtig flits ’n bekende waarskuwingsliggie weer. Toe stem sy in. Dit is hoog tyd dat sy haarself ’n bietjie weelde gun. Dit is soos Arnold sê: ’n mens het darem nie privaatheid in ’n verpleegsterstehuis nie. Al weet sy daar is niks om haar oor te skaam nie, kan sy die skuldgevoel nie afgeskud kry wanneer sy soms van die ander personeel by die ingang ontmoet nie.

Toe sy deur die sitkamer van die senior personeel stap, kom sy in haar spore tot stilstand, kyk verbaas na die man wat uit ’n leunstoel opstaan en met ’n grimmige gesig op haar afgestap kom.

“Hannes! Wat maak jy hier?”

“Vir jou gewag.”

“Maar … maar dis al baie laat! Skort daar iets? Het iets gebeur?” vra sy bekommerd en bestudeer hom ’n oomblik met ’n professionele oog.

“Ek weet dis laat. Ek sit en wag al hier van sewe-uur af en dit was nou pas middernag. Ja, Karien. Daar skort iets. Daar het iets gebeur – nie met my nie, maar met jou.”

“Ek … begryp nie.”

“My meisie wat nog altyd so vas op koers was se kompas het begin kantel. Sy is van koers af … en iemand moet dit vir haar sê, want sy stuur direk op die rotse van selfvernietiging af. Daardie persoon is ongelukkig ek. Kom.”

“Hannes, maar … ”

“Kom. Ons gaan in my motor gesels. Hier is geen privaat­heid nie.”

Sy volg hom fronsend, klim gehoorsaam in, wag totdat hy langs haar inskuif en laat hoor: “Ja, ek gaan binnekort in ’n woonstel intrek. ’n Mens is nooit privaat hier nie.”

Sy gesig is ’n donker vlek, sy stem steeds vreemd grimmig toe hy sê: “En mag ek raai dat dit dokter Lutz is wat vir jou die woonstel gekry het?”

“Ja. Dis reg. Hoe het jy geweet?”

“Geraai, liewe Karien. Soos wat die res van die hospitaal ook môre sal raai dat Lutz jou al sover het dat jy in ’n woonstel van hom gaan bly.”

Dit is asof sy met ’n bak yswater reg in die gesig gegooi word. “Hannes … Hannes, ek hou nie van die manier waarop jy dit stel nie.”

“En ek hou nie van die manier waarop jy alles oorboord gooi vir daardie man nie.”

“Hannes!”

“Ek hou niks van die gedagte dat jy Lutz se houvrou is of gaan word nie.”

Doodse stilte heers skielik in die motor. Maar toe haar hand instinktief reik na die deurhandvatsel, word sy teruggehou. “Ek gaan nie verskoning vra vir wat ek gesê het nie, Karien. Weet jy hoe gons hierdie hospitaal en verpleegsterstehuis van stories oor jou en Lutz?”

Haar gesig is ’n witbleek vlek in die lig van die straatlig. “Ek weet dis onwaar en dat ek niks het om my oor te skaam nie. Laat hulle sê wat hulle wil. En baie dankie vir jou lojaliteit en vertroue in my, Hannes. Ek dink nie ek en jy het iets verder vir mekaar te sê nie, nie vanaand of ooit weer nie. Goeienag.”

Maar dit is nie so maklik om die naakte feite te ignoreer nie. Haar verskonings vir haarself wil nie meer geloofwaardig klink nie. En ’n lang en pynlik selfbewuste dag in die saal en hospitaalgange volg. Die skille het skielik van haar oë geval. Nou sien sy alles raak … en sy word yskoud binne­kant. Dieselfde koue is nog in haar toe sy daardie middag saam met Arnold na die aangebode woonstel gaan kyk, en dié keer kan sy die skokkende besef nie ignoreer nie. Dit is van hoek tot kant gemeubileer en sy hou haar oë afgewend terwyl sy praat: “Verhuur hulle dan die woonstelle gemeubileer? Dis … baie luuks.”

“Nee. Ek het sommer eiereg gebruik en dit klaar vir jou gemeubileer. Ek wou vir jou ’n heerlike nessie hier skep.” Hy kyk haar fronsend aan. “Skort iets? Hou jy nie van my smaak nie? Dan kan jy verander soos jy wil.”

“Wat jy eintlik bedoel, Arnold, is dat jy vir jouself hier ’n heerlike nessie vir owerspel en wellus geskep het. As ek dit nie aanvaar nie, sal daar wel iemand anders wees wat die betrekking sal aanvaar.”

“Karien!”

“Dis die feite, is dit nie? Dankie, Arnold, maar ek soek nie ’n ander betrekking nie.”

“Karien, luister na my. Nee. Jy sál na my luister! Goed. Ek het alles hier so beplan vir jou en vir my, om hier saam gelukkig te wees.”

“Hoe kan ’n mens gelukkig wees met gesteelde goed?”

“Karien, ek kan, want dis al manier waarop ek geluk kan vind – deur dit te steel, soos jy dit stel. Ek is ’n man, Karien. Ek is ’n normale man en ek het jou lief … ”

“Is dit liefde of begeerte?”

Hy lag kortaf, bitter. “Wat is liefde? Wat is begeerte? Is daar werklik ’n verskil? As jy liefhet, begeer jy vanselfsprekend. En as jy begeer, moet daar tog ’n gevoel wees waarop dit gegrond is. Hoe sal jy weet, Karien? Of weet jy? Kan jy werklik op hierdie oomblik sweer dat jy nog nooit iets meer as die geoorloofde vir my in jou hart voel roer het nie? Sal jy my toelaat om jou te soen, regtig te soen?”

“Nee!”

“Is jy bang ek sal daarmee bewys dat wat in my hart lê ook in joune lê? Jy begeer my soos ek jou begeer, Karien!”

“Dis nie … ”

Maar hy gryp haar skielik vas, soen haar die eerste keer met die volle drang en begeerte wat al van daardie eerste ontmoeting af in hom brand, en hy voel hoe sy meegee in sy arms.

“Karien! Karien! Moenie ’n klein dwaas wees nie! Ons kan so gelukkig wees! Wat maak dit saak wat die wêreld sê? Wat maak dit tog saak?”

Die aarde wentel om haar. In haar verstand duisel dit. Iemand … iemand het van ’n kantelende kompas gepraat … van rotse van selfvernietiging.

“Nee, Arnold!”

Hy moet haar laat gaan toe sy haar so beslis teësit, en sy stem is bitter: “Dan verstaan jy regtig nie. Het maar net al die tyd so voorgegee. Jy begryp nie dat ek … ek … ”

“Ek begryp, Arnold. Ek begryp dat jy kan liefhê waar jy nie mag nie, dat jy ’n man is en dit net menslik is dat jy begeer. Maar wat jý nie begryp nie, is dat ek niemand se houvrou kan wees nie, nie eens al het ek die man werklik lief nie. Sal jy my asseblief nou terugneem?”

Voor die verpleegsterstehuis hou hy stil, vra skor: “En nou? Wat nou?”

“Dis die end, Arnold. Ek gaan my bedanking indien.”

Hy kyk haar vinnig aan. “En wat dan?”

“Dan gaan ek weg. Ek is jammer. In plaas van om jou te help, het ek jou lewe net meer deurmekaargekrap.”

Om nie die aandag nog verder op haar te vestig nie, is Karien verplig om Hannes die volgende aand in die sit­kamer te ontvang.

Die nuus van haar bedanking het soos ’n veldbrand deur die hospitaal versprei en Hannes het wel sy inligtingsbronne wat hom hiervan verwittig het.

“Ek het jou gesê ons het niks verder vir mekaar te sê nie, Hannes.”

“Jy het bedank.”

“Ja.”

“Waarheen gaan jy?”

Die eerste keer in haar lewe hoor sy ’n bitter toon in haar stem toe sy sê: “Weg – nié na dokter Lutz se woonstel toe nie. Heeltemal weg.”

“Trou met my, Karien. Asseblief!”

Dit ruk haar, en sy kan hom net aanstaar, dan skor sê: “Jy kan nie regtig ernstig wees nie!”

“Ek is. Ek het jou lief. Trou met my.”

“Terwyl jy glo … ”

“Nee. Nie regtig nie. Maar ek was seergemaak en, ja, jaloers en … Vergewe my, asseblief.”

“Daar is niks om te vergewe nie, Han.” Sy draai vinnig weg, is dankbaar dat die sitkamer vir ’n wonder nie vol ander besoekers is nie. Want dan sal almal kan sien hoe skuldig sy voel … Skuldig, want op daardie oomblik toe Arnold haar vasgegryp het in sy arms, het sy geweet dat sy haarself al die tyd gebluf het, dat sy wel op hom verlief is, en dat sy hom wel begeer!

Sy voel Hannes se hande huiwerig oor haar skouerknoppe vou. “Asseblief, Karien. Jy gaan nie weg nie. Trou liewer met my.”

Sy draai stadig onder sy greep om, kyk met hartseer oë na hom op, haar mond bewend in ’n doelbewuste glimlag. “Ek het jou al tevore gewaarsku dat ek jou eendag ernstig gaan opneem … ”

“Maak daardie eendag vanaand, Karien, asseblief … en sê ja.”

Sy trek haar asem in. “Ja, Hannes. Ja, ek sal met jou trou.”

Die uurglas loop leeg

Подняться наверх